Monday, October 24, 2011

Die Evangelie van Johannes - 09 (Die Vader het GEGEE!)

1.     SKRIFLESING: 
Joh.3:1-21 ~ Daar was ’n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ’n lid van die Joodse Raad. 2Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ’n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”  3Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”  4Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”  5Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 6Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”  9Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?”  10En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? 11Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie. 12Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? 13Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens. 14Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, 15sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.  16“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”   

2.     INLEIDING:
In ons gelese gedeelte vind ons die hele kwessie van wedergeboorte.  Johannes benader hierdie lewensbelangrike onderwerp aan die hand van ’n gesprek wat tussen Jesus en Nikodemus gevoer is.  Eerstens fokus Johannes ons aandag op die wanbegrip t.o.v. redding waaronder Nikodemus verkeer.  Daarna verduidelik Jesus aan Nikodemus wat die wedergeboorte behels en laastens kry ons ’n kykie in Nikodemus se nuutgevonde begrip van God en wat die wedergeboorte behels.

3.    WEDERGEBOORTE – VERWARRING (vv.1-13):
Ons het verlede week gesien dat Jesus in Jerusalem was vir die Paasfees.  Een van die mense wat na Jesus gekom het gedurende daardie tyd, was ’n man met die naam van Nikodemus.  Hy was ’n belangrike Jood, omdat hy ’n Fariseër en lid van die Joodse Raad (of te wel die Sanhedrin) was.  Hy het oor deeglike kennis van God se Wet beskik en hy was uiteraard ’n toegewyde godsdienstige man.  Ons sal hom nog twee maal ontmoet en elke keer is dit wanneer Jesus Hom nodig het (7:50-52 en 19:39-40).  Hy kom in die nag na Jesus toe, waarskynlik omdat hy bang is dat sy mede-Jode hom sal sien, of omdat hy graag baie tyd op hande wou hê om ’n behoorlike in-diepte-gesprek met Jesus te kon hê.  Daar is mense wat sê dat die taal wat Johannes hier gebruik, simbolies van aard is, omdat dit gaan oor iemand wat in die duisternis was en uiteindelik na die Lig gekom het.  Ons kan egter nie so met die Woord omgaan, deur alles te wil allegoriseer nie.

Nikodemus moes baie beïndruk gewees het met Jesus, want hy noem Hom enersyds "Rabbi" en "Leermeester" en andersyds verwys hy na Jesus se indrukwekkende wonderwerke.

U sal egter onthou dat ek verlede week gesê het, dat baie mense in Jesus geglo het (eintlik moet ons sê:  aan Jesus geglo het), nie op grond van wie Hy was nie, maar op grond van dit wat Hy gedoen het en dat Jesus Homself op grond hiervan, nie aan hulle toevertrou het nie, want hulle wou net ’n aardse koning gehad het – ’n leier wat hulle van Romeinse onderdrukking kon bevry.  Nikodemus was een van hierdie "ongelowige-gelowiges", maar tog!  Hy wonder tog!  Hy wonder tog of Jesus nie tog dalk die Messias, die Seun van God is nie, want hy sê dat iemand wat hierdie wondertekens kan doen, van God móét wees.  Punt is – Nikodemus wil meer van Jesus weet.  

Nog iets interessants wat vir ons in v.2 na vore kom, is die feit dat Nikodemus sê ~ Rabbi, ons weet...  Ons – hy moes dus namens ander Fariseërs ook gespreek het – Fariseërs wat soos hy voel – Is dit nie dalk tog die Messias hierdie nie? 

Jesus speel egter nie speletjies met Nikodemus nie en Hy sê koelkop reguit vir hierdie Fariseër, dat hy indien hy vir Jesus Leermeester noem, moet hy nou baie mooi luister, want hy verstaan nie mooi nie.  Jesus sê reguit vir hom, dat hy wedergeboorte kortkom – wedergeboorte wat net die Heilige Gees kan bewerkstellig (sien Titus 3:5-7). 

Jesus sê dus vir Nikodemus dat hy wat Nikodemus is, nie op grond van sy "Joodskap", of sy Fariseërskap, gered kan word nie, maar soos wat Paulus dit in Gal.6:15 stel ~ Of ’n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ’n nuwe mens is.

Kom ons kyk net weer presies wat Jesus vir Nikodemus gesê het in v.3 ~ Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.  Die woord "opnuut" is in die Grieks, ἄνωθεν (anothen) en in die Grieks het dit ’n dubbelsinnige betekenis.  Die woord kan aan die een kant, "opnuut" of "weer" beteken, óf aan die ander kant kan dit "van bo" beteken.  Nikodemus verstaan Jesus se gebruik van hierdie woord op die eersgenoemde manier ~ Nikodemus, jy moet weer ’n keer gebore word.  Terwyl Jesus die tweede betekenis bedoel het, nl. ~ Nikodemus jy moet van bo gebore word.  Juis hier lê Nikodemus se probleem – hy verstaan Jesus verkeerd, want hy dink dat wat Jesus sê, onsinnig is – hoe kan ’n volwasse man dan tog weer terug keer na sy "moederskoot"!  Jesus laat Hom egter nie van stryk bring nie en Hy herhaal weer wat Hy pas vir Nikodemus gesê het, met ’n effense wysiging in woordgebruik, deurdat Hy die woord "van bo" of te wel "opnuut", vervang met "water" en "Gees" ~ Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie.

Daar word baie bespiegel oor wat Jesus werklik hier bedoel het.  Met die uitdrukking "Gees" kan daar min twyfel bestaan – Jesus verwys hier na die Heilige Gees, want direk nadat Jesus Nikodemus weer geantwoord het, praat Hyself van die Heilige Gees wanneer Hy in vv.6-8 sê ~ Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”  Jesus sê dus vir Nikodemus, dat die mens slegs deur die werking van die Heilige Gees weergebore kan word.

Wat die uitdrukking "water" betref wat Jesus hier gebruik, is die mees aanvaarbare verklaring dat "water" hier verwys na presies dieselfde as "Gees".  Kom ek verduidelik dit:  In die Rabbynse geskrifte word daar verwys na water of reën, of dou, of ’n druppel, wanneer daar verwys word na manlike semen.  Dit gaan dus hier om die verwekking van lewe en omdat die woord "water" hier saam met die "Gees" gebruik word, dui dit op nuwe lewe wat geskep word deur die Gees – dit dui dus op geestelike wedergeboorte.  Om dus te sê dat iemand uit water en Gees gebore (moet) word, is dus presies dieselfde as om te sê dat iemand deur die Gees wederbaar moet word.   Ons moet onthou dat Nikodemus gewoond was daaraan om op hierdie wyse te praat en daarom het hy Jesus onmiddellik verstaan, alhoewel nog nie geweet het hoe dit "werk", of hoe dit gebeur nie.

Jesus verduidelik verder aan hom hoe dit gebeur, deur die proses met die wind te vergelyk – ’n mens hoef nie te weet waar die wind vandaan kom, of waarheen dit waai nie en die feit dat jy die wind teen jou liggaam voel is ook nie afhanklik daarvan of jy kan verklaar hoe dit "werk" nie.  Nee, die wind waai waar hy wil; wanneer hy wil en hoe hy wil.  Dit is presies hoe die Heilige Gees ook werk.  Jy hoef nie alles t.o.v. die Heilige Gees te kan verklaar, voor Hy met jou begin werk nie.  Jy moet jouself net in afhanklikheid en geloof tot beskikking stel van die Gees.

Nikodemus sê egter steeds dat hy nie verstaan nie.  Jesus is amper sarkasties in sy reaksie wanneer Hy sê ~ Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie?  Nikodemus, jy wat andere leer van die geestelike en jy weet nie – jy verstaan nie?  Dit is baie duidelik dat die leermeester van die volk nie die mees elementêre kennis t.o.v. die weg na saligheid ken nie.

Nikodemus beskik oor al die kennis van die Ou Testament en hy weet wat Johannes die Doper alles oor Jesus gesê het.  Hy het gehoor wat Jesus alles gepreek het tot nou en hy het selfs van Jesus se wonderwerke gesien, of ten minste daarvan gehoor – en tog verstaan hy nie; tog glo hy nie.

Wanneer Jesus Hom die keer antwoord, gebruik Hy vir ’n derde keer in hierdie gesprek die uitdrukking ~ Dit verseker Ek jou  (vv.3 en 5.  In die O.A.V. staan daar ~ Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou).  Jesus sê dus vir Hom, dat hy wat Nikodemus is, al hierdie dinge ken, gehoor en gesien het en steeds verstaan hy nie.  Daarom dat Jesus sê ~ ....en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie.  Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? (vv.11-12).

Jesus maak dit in v.13 baie duidelik dat Hy met gesag praat en dat Hy met gesag mág praat, want Hy was in die hemel en Hy het uit die hemel gekom, omdat Hy die Seun van die mens is.  Hy weet dus waarvan Hy praat omdat Hy teenwoordig was in die hemel, toe God die besluit geneem het om Hom wat Jesus is, na die wêreld te stuur ten einde die sonde van die mensdom op Hom te neem.

4.    WEDERGEBOORTE – VERDUIDELIKING (vv.5-8; 14-15):
Jesus gee egter nie moed op met Nikodemus nie en Hy gaan voort deur vir hom die wonderlike weg tot saligheid te verduidelik. 

Onthou, Jesus het begin deur vir Nikodemus ’n fisiese voorbeeld te gee van hoe iemand wederbaar kan word, toe Hy gesê het dat dit net deur die Heilige Gees se ingrepe moontlik is – uit water en die gees. (vv.5-7).

Daarna het Hy vir hom m.b.v. ’n voorbeeld uit die natuur verduidelik dat die Heilige Gees soos die wind te werk gaan wanneer Hy iemand wederbaar – net soos wat ons nie weet waar die wind vandaan kom nie, net so kan ons nie die werking van die Heilige Gees in wedergeboorte verstaan nie.

Jesus gaan egter nou verder in vv.14-15 deur aan Nikodemus ’n Bybelse voorbeeld te gee en Hy doen dit deur ’n bekende verhaal uit die geskiedenis van Israel aan Nikodemus voor te hou.  Hy vertel vir hom van die koperslang soos verwoord in Num.21:4-9.  Destyds was die Israeliete geteister deur giftige slange wat God gestuur het, omdat die volk ongeduldig met God en Moses geraak het en hulle God en Moses verwyt het.  Moses het opdrag van God ontvang om ’n koperslang op ’n paal te sit en diegene wat na die slang kyk sou in werklikheid ’n nuwe kans gekry het op lewe.

Jesus sê nou hier in v.14b, ...net so moet die Seun van die mens verhoog word.

Wat bedoel Jesus met hierdie verhaal van die koperslang en die feit dat Hy sê dat ook Hy, net so "verhoog" moet word?  Hy wil daardeur vir Nikodemus sê dat Hy wat Jesus is, op dieselfde wyse "aan ’n paal" opgelig moet word (die kruis) en dat almal wat na Hom sal kyk, gered sal word, m.a.w. om Jesus se woorde in v.15 te gebruik ~ ...sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.  Sonder die kruis van Jesus, is verlossing; is wedergeboorte; is ’n ewige lewe dus nie moontlik nie.

Ons sien dus dat in beide die verhaal van die koperslang en dit wat Jesus by implikasie sê van Sy eie kruisiging, dood die gevolg van sonde is.  Die Israeliete sondig deur te kla en te verwyt – hulle sterf deurdat giftige slange hulle pik.  Die mensdom sondig en daarom moet hulle ook sterf – ’n ewige dood weg van God in die hel.

Daar kom egter redding vir die volk Israel in die vorm van die koperslang en elkeen wat na die koperslang kyk ontvang lewe. 

Omdat Jesus die mense wat uiteindelik in Hom sal glo se sonde geheel en al op Hom neem, moet Hy sterf aan die kruis en elkeen wat "na Hom kyk" (m.a.w. in Hom glo) ontvang ook die lewe – die ewige lewe, soos wat Jesus in v.15 dan ook sê.

5.    WEDERGEBOORTE – VERVOLMAKING (16-21):
In v.16 sien ons dat die enigste rede waarom God daarin belangstel om ’n sondige wêreld nog ’n kans te gee, is omdat Hy die wêreld liefhet.  God die Vader kom dus vorendag met ’n laaste kans vir die mensdom om die ewige lewe te kan ontvang, deur ’n volmaakte plan vir wedergeboorte van stapel te stuur.

Hoe gebeur dit?  Daar is twee Persone betrokke by die mens se wedergeboorte.  God die Vader gaan eerstens oor tot aksie, deur Sy enigste Seun te gee.  Hier, soos in vv.14 en 18 sien ons dat Jesus uniek is en dat daar niemand anders soos Hy is nie – Hy is van God – Hy is self God.  Omdat Hy dan self God is, is Hy heilig en sonder sonde – vlekloos en derhalwe die enigste wat ’n volmaak aanvaarbare offer aan God kan bring.  Hierdie behoort vir ons ’n baie duidelike bewys te wees van hoe ernstig God die Vader werklik oor Sy kinders voel.

God is dus die skepper of outeur van ’n verloregaande wêreld se redding, deurdat Hy, gedring deur Sy liefde, ’n middel daarstel om versoening te bewerkstellig tussen Hom en die mensdom wat hul rug op Hom gedraai het en vasgevang is in hul sonde en derhalwe verlore is.  Die inisiatief kom dus van Hom, want in geen mens bestaan die wil of die begeerte om hom na God te draai nie – dit is waarskynlik die toppunt van genade – God reik uit na die mens en nie andersom nie, trouens, nooit andersom nie!

Jesus is egter ook bereid om Sy lewe af te lê vir ’n verloregaande wêreld en so word Hy die middel of die Middelaar deur wie die mensdom (uitverkorenes) gered kan word.  Jesus het self in Joh.10:11 gesê ~ Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. 

Soos wat die koperslang in die woestyn lewe aan die Israeliete wat daarna gekyk het, geskenk het, so skenk die Vader die ewige lewe/wedergeboorte/redding aan elkeen wat hul oë in geloof op die gekruisigde EN verrese Jesus Christus vestig.

Dit is belangrik om op hierdie stadium dit te benadruk, dat die kruis nié die simbool van Jesus se liefde vir ons is, soos so baie mense glo nie. Nee, die kruis is simbool van God die Vader se liefde vir ons. Die bekende woorde van Paulus in Gal.2:20 bevestig hierdie feit vir ons ~ ...en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.  Redding en wedergeboorte spruit dus voort vanuit God die Vader se liefde vir ons.  Hierdie liefde van die Vader was duur vir Hom, want Hy moes Sy Seun aan die dood afstaan, sodat ons gered kon word.  Jesus se kruisdood vestig ons aandag dus op die Vader se liefde vir ons.

Wat is die kruks – die hart van die Evangelie?  Dit is nié "God is liefde nie", maar "God het só lief gehad, dat Hy gegee het...".

In v.17 kom Johannes nou en hy verskaf aan ons die doel met Jesus, die Seun van God, se sending na hierdie wêreld en ons sien dat daar ’n tweeledige doel is, nl. dat nié is om sondaars te veroordeel nie.  In v.17a sê Johannes ~ God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie.  As ons egter Skrif met Skrif vergelyk, vind ons in Joh.9:39, bykans die teenoorgestelde van wat hier in v.17 staan ~ En Jesus sê: Tot ’n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom (O.A.V.).  Hoe moet ons hierdie oënskynlike teenstrydigheid verstaan?  Ons moet verstaan dat redding, tog oordeel impliseer.  Met ander woorde, indien iemand nie gered word nie, gaan hy geoordeel word.  Jesus het gekom om redding te bring, maar die feit dat redding beskikbaar is vir almal wat glo, impliseer dus veroordeling vir die wat nie glo nie.  Hierdie is ’n harde realiteit en Johannes wil nie hê dat hierdie feit by ons verby moet gaan nie. Hierdie is m.a.w. twee kante van een en dieselfde muntstuk. 

Wat Johannes dus vir ons hier in v.17a wil sê, beklemtoon hy in v.17b, wanneer hy sê ~ maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word...  Die primêre doel met Christus se koms na hierdie wêreld was dus om te red – dít is waarop die fokus moet val, alhoewel die teenoorgestelde, nl. oordeel vir ongelowiges, nie hiermee "van die tafel gevee" word nie.

In v.18 beklemtoon Johannes die belangrikheid van geloof in die reddingsproses – hy sê ~ Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie...  Jesus het dus vir sondaars gesterf, maar dit bring nie outomaties redding nie, want as dít die enigste voorwaarde vir wedergeboorte van mense was, sou alle mense gered wees.  Johannes stel dit egter baie duidelik dat niemand gered sal word, as hy nie glo nie.  Dit is presies hier waar die "skape van die bokke geskei" word.  Jesus sterf, maar almal glo nie en daarom word almal nie gered nie, maar slegs diegene wat glo. Wat gebeur met iemand wat nie glo nie?  Vers 18b ~ So iemand is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.  ’n Ongelowige veroordeel homself dus!

Gepraat van "skape en bokke" – Johannes verduidelik in die laaste verse van hierdie gedeelte, wat die gevolge is vir diegene wat glo in Christus en diegene wat Hom verwerp.  Hy sê dat, ten spyte van die feit dat Jesus (in hierdie geval die Lig) na die wêreld gekom het, kies die mens steeds om eerder die duisternis lief te hê en derhalwe nié in Christus te glo nie.  Sulke mense wil nie in die Lig wandel nie, want dan word hulle duistere en sondige dade onder die soeklik geplaas vir almal rondom hulle om te sien en sal hulle die gevolge van hul verkeerde dade moet dra.

Gelowiges daarenteen, wandel volgens die waarheid  en soek die Lig op, omdat dit enersyds nie ’n bedreiging vir hulle is nie, want wanneer hulle in die Lig is, sien almal hulle dade van gehoorsaamheid aan God.  Dit beteken dat almal sal kan sien wat hulle doen.  Hulle sal nie konkel of kul nie.  Hulle sal in gehoorsaamheid aan God doen wat Hy vra. 

Daarom geliefdes, is jou lewe; jou spreke en jou denke, eintlik ’n barometer van jou verhouding met God?
 
6.    AFSLUITING:
Is Nikodemus ooit aan die einde gered?  Ons kan waarskynlik so ’n afleiding maak! Joh.19:39 ~ Nikodemus, wat ’n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ’n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. 40Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.  41By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. 42Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was. Nikodemus bring olies en salf die liggaam van Jesus en help verder vir Josef van Arimatea, om Jesus te ruste te lê.

Hierdie wonderlike gesprek tussen Nikodemus en Jesus moet altyd vooropstaan in ons gedagtes, want dit herinner my daaraan om voortdurend eer aan God te bring vir Sy genade – vir die genade dat Hy oorgegaan het tot aksie om Sy Seun te stuur ten einde versoening te kom bewerkstellig tussen my en Hom.  Ons moet Hom voortdurend dank vir die genade van geloof wat Hy aan onsgeskenk het.  Ons moet Hom voortdurend eer déúr ons lewe, omdat Hý die inisiatief geneem het om ons te red.  Mag dit ook die boodskap wees wat in ons harte leef en wat ons met ’n verloregaande wêreld wil deel, nl. dat God nie sy Seun na die wêreld gestuur (het) om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.  Verder ook, dat ...wie in Hom glo, nie veroordeel (sal word) nie.  Daarmee saam móét ons egter ook ’n verloregaande wêreld waarsku, deur vir hulle te sê dat diegene ...wie nie glo nie, reeds veroordeel (is) omdat (hulle) nie in die enigste Seun van God glo nie (vv.17-18).


Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 23 Oktober September 2011