Sunday, April 10, 2011

DIE FEESTYE VAN GOD SE VOLK ~ 02 (“Die 3de Feesseisoen – Die Groot Versoendag en Die Loofhuttefees”)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.     INLEIDING:
Ons het verlede Sondag na die Loofhuttefees begin kyk en dan spesifiek na die Fees van die Basuine/Trompette (Lev.23:23-25; “Feast of the Trumpets”) wat op die eerste dag van die derde feesseisoen plaasgevind het.  Hierdie was ’n tyd waar elke individu ervaar het dat hy voor die regterstoel van God gestaan het en derhalwe vergifnis en reiniging by God gesoek het. In teenstelling met die ander twee hoof feeste wat vreugdevol was, was die eerste twee sekondêre feeste van hierdie derde hoof fees, ’n tyd van diep en intense selfondersoek, soos wat dit enige mens betaam wanneer hy in die teenwoordigheid van die Almagtige Regter en Heerser van die heelal verskyn ten einde te smeek dat die Regter sy lewe sal spaar.  Die blaas van die basuin/horing was dus ‘n oproep tot sondebesef en –belydenis. 

Die Fees van die Basuine het egter nie net oor veroordeling en sondebelydenis gegaan nie, want wat sou van die volk geword het sonder vergifinis – wat sal van ons word, as daar geen versoening bewerkstellig word tussen God en ons nie?  Nee, die Fees van die Basuine het die volk ook herinner aan die volgende fees wat op die tiende dag van die derde fees sou begin, nl. die Groot Versoendag (Lev.23:26-32; “Day of Atonement”), waartydens God se genade oor die volk uitgestort word en die volk, God se genade en vergifnis ervaar.

Ons sal ook na die derde sekondêre fees van die derde Feesseisoen kyk, nl. die Loofhuttefees.

2.     SKRIFLESING:
Lev.23:27-32 ~ Op die tiende van die sewende maand is dit die versoendag. Julle moet dan ’n gewyde byeenkoms hou, en julle moet vas en aan die Here offers bring. 28 Niemand mag op dié dag werk nie, want dit is die versoendag waarop daar vir julle versoening gedoen word by die Here julle God. 29 Enigiemand wat nie vas op hierdie dag nie, moet van sy volksgenote afgesny word 30 en Ek sal elkeen wat op hierdie dag werk, om die lewe bring. 31 Julle mag geen werk doen nie.  Hierdie dag moet vir altyd ’n vaste instelling wees, waar julle of julle nageslag ook al woon. 32 Dit moet vir julle ’n plegtige rusdag wees waarop julle vas. Julle moet rus van sononder af op die negende van die maand tot sononder op die tiende.

3.     DIE GROOT VERSOENDAG:
Soos reeds gesê vind die Groot Versoendag op die tiende dag van die sewende maand plaas, nadat die Fees van die Basuine gevier is.  Van al die die Joodse godsdienstige en heilige geleenthede, is hierdie fees die ernstigste en somberste van almal.  Dit staan ook bekend as die "Sabat van alle Sabatte".  Hierdie was ʼn dag waartydens versoening met God en reiniging van sonde vir oud en jonk verkry word.  Hierdie was ’n 24 uur lange vasdag – van sononder op die negende dag van die maand "Tishri", tot sononder op die tiende dag van die maand.  Tydens hierdie vastydperk, mag daar nie nat of droog oor die volk se lippe gegaan het nie (net baie siek persone en kinders onder 13 was uitgesluit van hierdie vas)

Hierdie fees staan in die Hebreeus bekend as Yom Kippur en dit beteken “om te bedek”, of “losprys”, of “soengeld”.  Tydens die Groot Versoendag, gaan die Hoëpriester tot agter die voorhangsel in die Allerheiligste van die Tempel.  Hier bring hy eers ’n offer om versoening en vergifnis te verkry vir homself en sy gesin, waarna hy die bloed van een van twee bokke wat betrokke is by die proses, op die genadetroon sprinkel.  Deur hierdie ritueel, doen die Hoëpriester versoening vir die sonde van die volk (lees gerus Lev.16 vir meer detail)

Die laaste ritueel wat die Hoëpriester verrig het, was om sy hande op simboliese wyse op die kop te lê van die ander bok wat betrokke is by die fees (die sonde van die volk is simbolies op die bok geplaas) en dan hierdie bok die woestyn in te jaag waar hy ’n sekere dood gaan sterf, ten einde die volk se sonde op simboliese wyse weg te neem.

Enige persoon wat nie berou oor sy sonde sou hê nie, sou sekerlik sterf.  Hulle het verder geglo dat die finale dag van rekenskap ook op die Versoendag sou val en op daardie dag sou diegene wat nie berou oor hulle sonde het nie, finaal in die hel gewerp word.

4.     CHRISTUS VERVUL DIE GROOT VERSOENDAG:
Volgens die Wet was daar geen versoening en vergifnis, sonder bloed nie en die Hebreërskrywer sê presies dieselfde in Hebr.9:22 ~ Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.

Wat is die verskil tussen die aardse Hoë Priesters en Christus?
·           Eerstens was die Hoë Priesterlike reinigingseremonies totaal onnodig met Christus se soenoffer, want Hy was reeds rein en sonder sonde (Ps.110:1).  Hy het Homself as offer aan God opgedra, maar nie omdat Hy sondig en daarom onrein was nie – Hy was vlekkeloos.
·           Tweedes het Aäron se seuns, op gond van hul biologiese erfenis, hul amp van priesterskap ontvang.  Christus daarenteen het as Hoë Priester na die aarde gekom, op grond van die Vader se belofte soos vervat in Ps.110:4 ~ Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek.
·           In die derde plek is Christus se Hoë Priesterskap permanent van aard.  Ps 110:4b is baie duidelik daaroor ~ Jy sal altyd priester wees....

Ons as gelowiges is nie afhanklik van ’n aardse priester wat self vol sonde is nie – nee, ons het Jesus Christus as Hoë Priester wat eens en vir altyd die volmaakte soenoffer aan die kruis gebring het.  Diegene van ons wat in Christus Jesus ingeplant is, is vir goed verlos van die erfsonde wat ons by geboorte, in Adam ontvang het.

Die feit dat God Sy Seun na die aarde gestuur het, met die belofte dat Hy vir altyd Priester sal wees, verleen aan ons as gelowiges, permanente en ononderbroke toegang tot die Vader deur ons Voorspraak Jesus Christus – God het hierdie waarheid belowe deurdat Hy ’n eed afgelê het wat Hy as God nie kan of ooit sal herroep nie!

Daar is egter nog iets wat fenomenale implikasies vir ons inhou en dit is dat hierdie Ou Testamentiese offerandes onder die Ou Verbond, deur Christus afgehandel is – vervul is.

Ons weet dat alle mense (ons ingesluit), onder die toorn van God gebore word a.g.v. die erfsonde – die Woord is baie duidelik oor hierdie feit.  Géén mens word salig gebore nie – niemand nie!  Ons kan maar net na die Skrif kyk om hierdie feit te bevestig ~ ...Die hele wêreld is strafwaardig voor God  (Rom.3:19)Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het... ...Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense (Rom.5:12, 18a).

Daar is egter (soos altyd) Goeie Nuus in die Woord van God en in hierdie geval vind ons dit o.a. in Rom.3:21-22 ~ Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree.  Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22 maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.  In Mark.10:45 lees ons ~ Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.  Christus het gekom om in die plek van die offerlam, die volmaakte en finale (afgehandelde) offer te bring.  Hy het dus plaasvervangend opgetree.  God se toorn teen die mens se sonde is op Golgota, op Christus geplaas.  Jesus is dus gedring deur Sy liefde om al die nodige te doen vir jou en my redding.  Hy het God se verskriklike oordele, wat ons verdien het, volledig namens ons gedra en sodoende vergifnis en aanneming as kind van God, asook die ewige heerlikheid as erfenis bewerkstellig.  Dit alles het Christus ons Hoë Priester van die nuwe verbond, gedoen – eens en vir altyd en hoef ons nooit meer op ’n jaarlikse grondslag soos die Israeliete van ouds (en die Jode vandag nog), die Groot Versoendag te vier nie – Cristus het dit op Golgota vir ons afgehandel.  Ons praat in die teologie van hierdie proses as “volkome versoening”. 

Om hierdie waarheid te verstaan en vir jouself toe te eien, is van die uiterste belang, want as jy dit nie doen nie, sal jy voortdurend in vertwyfeling wees oor jou redding.  Ons moet besef dat ons die ewige verdoemenis verdien het, MAAR soos Jesja dit pragtig stel in Jes.53:4-5, 10, Christus ons Hoë Priester, het ...óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra.  Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word.  5Oor ons oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom. ...10Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel; om hom die pyn te laat ly.  As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.  As ware mens het Christus ons plek onder God se toorn ingeneem.  Hy het dus die dood ondergaan waarvoor ons bestem was – liggaamlik en geestelik.  Dit is waarom Hy uitgeroep het:   My God, My God, waarom het U My verlaat? (Mark.15:34).  Hierdie is ons vaste fondasie van ons vryspraak en kwytskelding in terme van die Wet.

Ons moet ten alle tye besef dat ware geloof en redding, buite onsself plaasvind; sonder ons inmenging; sonder ons keuse.  Redding en vergifnis – in kort, regverdigmakling, is iets wat buite jou en my plaasvind.  Heiligmaking is dus iets wat voortspruit uit regverdigmaking – dit is die vrug wat volg op redding en wedergeboorte – dit is en sal nooit ʼn voorwaarde vir redding wees nie – goeie werke is net dankbaarheidswerke wat Heilige Gees-gedrewe is, want selfs dit kan ons nie uit onsself doen nie.

Wat moes die Israeliete in die woestyn gedoen het, toe hulle gekonfronteer was met hulle sonde en hulle deur giftige slange gepik is as straf?  Num.21:8-9 ~ ...en die Here het vir Moses gesê: “Maak ‘n   beeld van ‘n   giftige slang en sit dit op ‘n   paal. Elkeen wat gepik is en daarna opkyk, sal lewe.” 9Moses het toe ’n koperslang gemaak en dit op ’n paal gesit. As iemand wat deur ’n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef.  Hulle moes net opkyk na die koperslang op die paal.  Jesus het hierdie selfde beeld gebruik toe Hy na Sy komende kruisiging verwys het ~ Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, 15sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê. 16“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie (Joh.3:14-18).  Geloof is dus om jou oë op Christus Jesus vasgenael te hou.

God se verlossing is dus toeganklik vir almal en as ek sê amal, bedoel ek almal.  Dit maak nie saak wie jy is of hoe ʼn groot sondaar jy is nie.  Dit maak ook nie saak wat se sonde jy in die verlede begaan het nie – verlossing is ook vir jou bedoel.  Al wat jy moet doen, is om te besef dat jy bankrot is en saam met dit, na Jesus Christus te kyk.  Jy hoef dus niks te doen nie!  Jy moet net in afwagting kyk!  Jesus beklemtoon hierdie feit in Matt.5:33 wanneer Hy sê ~ Salig is die geestelike bedelaars, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

5.     DIE LOOFHUTTEFEES:
Kom ons kyk ook na die Loofhuttefees.  Ons vind die opdrag om die Loofhuttefees (Hebreeus: Sukkot; Eng. = Feast of Tabernacles) te vier in Lev.23:33-36, asook Lev.23:39-43 ~ Die Here het vir Moses gesê: 34“Sê vir die Israeliete: Van die vyftiende van die sewende maand af moet julle sewe dae lank die huttefees vier tot eer van die Here. 35Op die eerste dag van die fees moet julle ’n   gewyde byeenkoms hou. Niemand mag dan werk nie. 36Sewe dae lank moet julle offers aan die Here bring.  Op die agste dag moet julle weer ’n gewyde byeenkoms hou en offers aan die Here bring. Dit moet ’n besondere feesdag wees. Niemand mag dan werk nie.  Hierdie fees het gepaard gegaan met die finale insameling van die oes.

Lev.23:39-43 ~ Julle moet dus op die vyftiende van die sewende maand wanneer julle die vrugte-oes insamel, sewe dae lank die fees van die Here vier.  Die eerste en die agste dag moet rusdae wees. 40Op die eerste dag moet julle sitrusvrugte neem saam met palmblare en takke van digte bome en rivierwilgers, en dan moet julle sewe dae lank met vreugde feesvier by die heiligdom van die Here julle God. 41Julle moet hierdie fees van die Here elke jaar sewe dae lank vier.  Dit moet ’n vaste instelling wees vir julle nageslag.  Julle moet dit in die sewende maand vier. 42Sewe dae lank moet julle in hutte woon, alle gebore Israeliete moet dan in hutte woon. 43Die doel daarmee is dat julle nageslag moet weet dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipte laat trek het. Ek is die Here julle God.

Volgens Num.29, moes daar gedurende hierdie Loofhuttefees, ’n totaal van 70 bulle, -ramme en -bokke geoffer word.

Hierdie fees was gekenmerk deur groot vreugde, want die oes was van die lande af en die mense kon nou rus van hulle arbeid.  Die Hebreërs het van oral na Jerusalem gekom en hulle tiendes en offerandes na die Tempel gebring.  Dit was die tyd dat die skatkis van die Tempel oopgemaak is en dit opnuut weer gevul is met geskenke wat die volk gebring het.  Die Hebreërs het van die begin af geleer dat hulle nooit meer as die Here kon gee nie (“you can never outgive the Lord”).  Die Loofhuttefees het ook die godsdienstige seisoen afgesluit en verteenwoordig dit die voltooide of afgehandelde werk van God.

Behalwe vir die sterk landboukundige karakter wat die Loofhuttefees gehad het, was dit ook ’n herinnering aan God se magtige redding van Sy volk uit Egipte en hulle 40 jaar omswerwinge in die woestyn toe hulle in tente en hutte gewoon het.  Israel moes nooit hierdie 40 jaar vergeet het nie, want dit het hulle herinner aan hulle voorgeslagte se ongehoorsaamheid aan God.  Die gedagte aan die tydelike hutte wat met takke gebou was, was ook om hulle daaraan te herinner dat hulle lewe hier op aarde tydelik van aard is en dat God vir hulle in die toekoms, ʼn ewige tuiste en -rus gaan gee.

Abaraham het reeds hierdie rus in God gekoester ~ Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ’n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.  Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is (Hebr.11:9-10).

Voor ons kyk na hoe Christus die Loofhuttefees vervul het, is daar nog twee laaste rituele waarna ons net kortliks moet kyk, nl. die “uitstorting van die water “ en die “verligting van die Tempel”:
·           Op die laaste dag van die fees is daar water uitgegooi in ʼn bak by die voet van die altaar in die Tempel.  Op daardie
dag gaan die volk se gebede in die besonder oor God se verlossing deur die komende Messias.  Hierdie ritueel het twee betekenisse gehad:
-       Fisiese betekenis:  Hulle het aan die begin van die winterreënvalseisoen gestaan en hulle het ʼn spesiale dankoffer gebring vir die reën wat God vir hulle gaan stuur.
-       Die geestelike betekenis het daarin gelê dat dit na die komende Messias gewys het, wat vir hulle die Lewende Water van Sy Gees sou gee.
·           Die “verligting van die Tempel”:  Tienduisende feesgangers het elkeen  gedurende die aand met brandende fakkels in die omgewing van die Tempel byeengekom.  Die ganse stad was vir kilometers ver verlig.  Ook hierdie gebeure het beide ʼn fisiese en geestelike betekenis gehad:
-       Fisiese betekenis:  Baie sonskyn was nodig saam met die reën vir ʼn gunstige reënseisoen.  Die Jode het God dus byvoorbaat gedank vir die sonskyn wat Hy sou gee.
-       Die geestelike betekenis het daarin gelê dat hulle God as die Ware Lig erken het – die Ware Lig wat geestelike lig en lewe aan hulle deur die Messias sou gee.

6.     CHRISTUS VERVUL DIE LOOFHUTTEFEES:
Jesus het uit gehoorsaamheid aan die Wet ook hierdie fees in Jerusalem bygewoon, maar net voor die water by die altaar uitgegiet is, het Hy die volgende in Joh.7:37-39 gesê ~ As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! 38Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” 39Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.  Ons hoef nie meer te smag na die komende Messias nie – soos wat die volk van God met versugting vooruit gekyk het na die koms van die Verlosser, kan ons met dankbaarheid terugkyk na die Verlosser wat reeds gekom het en hoe Hy deur Sy soendood vir ons, ook hierdie fees vervul het.

In Joh.8:12 sê Jesus ~ Ek is die lig vir die wêreld.  Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.  Jesus het dit ondubbelsinnig gestel dat Hy die Messias is wat gekom het en dat Hy derhalwe ook al die rituele van die Loofhuttefees vervul het.  Hy het gekom om die geestelike dors te les en vir hulle geestelike lig en lewe te gee.  Hoe tragies is dit nie, dat die Jode nogtans die ware Messias, Jesus Christus verwerp het nie!  Hule het Hom om twee redes verwerp:
·           Hulle het hulle tradisies en rituele hoër geag as Jesus self.
·           Tweedens was hulle meer geïnteresseerd in wat God vir hulle polities kon doen (verlossing van die Romeinse juk), as geestelik.

Die gevolg van hierdie halstarrigheid en blindheid van hulle, het tot gevolg gehad dat hulle verlossing en geestelike bevryding in Christus Jesus misgeloop het.

Ons as gelowiges het rus vir ons siele gevind in Christus, maar ons het ook reeds die vas en seker belofte van ’n  ewige hemelse rus ontvang.  Ons moet net hierdie rus waarlik in ontvangs neem en die Hebreërskrywer verduidelik aan ons, hoe dit gedoen moet word ~ Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, 8moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het. 9Daar het hulle My op die proef gestel en uitgetart, hoewel hulle veertig jaar lank gesien het wat Ek vir hulle gedoen het. 10Daarom het Ek ’n afkeer van hierdie geslag gekry en gesê:  Met hulle hart is hulle gedurig op ’n dwaalspoor, hulle wou my paaie nie leer ken nie.’ 11Toe het Ek in my toorn ’n eed afgelê:  In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie (Hebr.3:7-11).

Dit was God se begeerte om die Hebreërs in die Beloofde Land in te lei – die land van rus, maar ’n hele geslag het dit nie gemaak nie.  Hulle het gesterf in die woestyn omdat hulle ongelowig en ongehoorsaam was en in die proses, hulle harte verhard het teenoor God.  Die Hebreërskrywer waarsku ons teen ’n soortgelyke gesindheid ~  Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ’n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. 13Maar solank daar nog ’n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. 14Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.  15Daarom word daar gesê:  “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het (Hebr.3:12-15).

Die Hebreërskrywer se vermaning eindig egter nie hiermee nie – hy gaan voort in vv.16-19 deur te sê ~ Wie was dit dan wat gehoor het en tog in opstand gekom het?  Was dit nie hulle almal wat onder leiding van Moses uit Egipte ("Egipte" = die Bybelse simbool vir hierdie wêreldsisteem) getrek het nie? 17En van wie het God veertig jaar lank ’n afkeer gehad?  Was dit nie van hulle wat gesondig het en wie se dooie liggame in die woestyn agtergebly het nie? 18Oor wie anders as dié wat ongehoorsaam was, het Hy ’n eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie? 19Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie

7.     AFSLUITING:
Net soos die Hebreërs van ouds, sal ons nie God se rus ervaar en geniet as ons nie met Hom wandel in geloof, liefdevolle vertroue en gehoorsaamheid nie.  God wil dat ons nou Sy rus betree, deur ’n daaglikse, toegewyde lewe.


DIE FEESTYE VAN GOD SE VOLK
Die Eerste Feesseisoen (Die Pasga)
1.    Die Pasga
2.    Die Fees van die Ongesuurde Brode
3.    Die Fees van die Eerstelinge

Die Tweede Feesseisoen (Pinkster)

Die Derde Feesseisoen (Loofhuttefees)
1.    Die Fees van die Basuine
2.    Die Groot Versoendag
3.    Die Loofhuttefees


1.     Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 10 April  2011