Sunday, April 24, 2011

DIE FEESTYE VAN GOD SE VOLK ~ 04 (Die 1ste Feesseisoen – Die Pasga)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.     INLEIDING:
Ons kom vandag by die laaste van die drie feeste in die volk Israel se Feeskalender.  Soos wat u nou reeds agter gekom het, het ons van agteraf, vorentoe gewerk, m.a.w. ons het eers na die derde fees gekyk, nl. "Die Loofhuttefees", met sy drie subfeeste, nl. "Die Fees van die Basuine", "Die Groot Versoendag" en "Die Loofhuttefees". Verlede week het ons na die tweede fees gekyk, nl. "Die Pinksterfees".  Vanoggend gaan ons na die eerste feesseisoen kyk, nl. "Die Pasga".  "Die Pasga" staan ook bekend as die "Seisoen van Vrymaking" en die "Seisoen van Vreugde" en beide hierdie benaminge hou verband met die Hebreërs se verlossing uit Egipte gedurende die maand Nissan (Maart-April).

Die Pasga as eerste feesseisoen is ook onderverdeel in drie subfeeste, nl. "Die Pasga"; "Die Fees van die Ongesuurde Brode" en "Die Fees van Eerstelinge".  Die laaste twee sal ons D.V. volgende Sondag behandel.

2.     SKRIFLESING:
Eks.12:1-14, 43-48 ~ In Egipte het die Here vir Moses en Aäron gesê: 2“Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand; dit moet die eerste maand van die jaar word. 3Sê vir die hele gemeente van Israel: Elkeen moet sorg dat hy op die tiende van hierdie maand ’n lam vir sy gesin het, vir elke huisgesin een. 4As ’n huisgesin te klein is vir ’n lam, kan ’n man en sy naaste buurman dit onder mekaar verdeel volgens die getal persone. Julle moet die lam deel volgens elkeen se behoefte. 5Dit moet ’n jaaroud rammetjie wees, sonder liggaamsgebrek, ’n skaap of ’n bok. 6Julle moet hom goed oppas tot die veertiende van hierdie maand, en dan moet die hele gemeente van Israel teen laat middag slag. 7Julle moet van die bloed smeer aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis waar julle die lam gaan eet. 8Nog dieselfde nag moet julle die vleis eet. Julle moet dit gebraai eet, saam met ongesuurde brood en bitter kruie. 9Julle moet dit nie rou of in water gekook eet nie, maar oor die vuur gebraai, met kop, pootjies, binnegoed en al. 10Julle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie. As daar die volgende môre tog iets oor is, moet julle dit verbrand. 11Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die Paasfees van die Here. 12“Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here! 13Die bloed aan die huise waarin julle is, sal ’n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie. 14“Hierdie dag moet vir julle ’n gedenkdag wees. Julle moet dit as ’n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit ’n vaste instelling wees wat hulle moet vier.  Ook vv.43-48 ~ Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Dit is die voorskrifte in verband met die Paasfees: geen nie-Israeliet mag daarvan eet nie; 44’n slaaf wat deur iemand gekoop is, mag eers daarvan eet nadat hy besny is; 45geen bywoner of huurling mag daarvan eet nie. 46Dit moet geëet word in die huis waarvoor dit bedoel is. Van die vleis mag niks buitentoe geneem word nie. Geen been van die Paaslam mag gebreek word nie. 47Die hele gemeente van Israel is verplig om die fees te vier. 48Die vreemdeling wat jou beskerming geniet en die Paasfees van die Here wil vier, moet besny word, hy en al die mans en seuns by hom. Dan eers is hy soos ’n gebore Israeliet en kan hy daaraan deelneem. Iemand wat nie besny is nie, mag nie daarvan eet nie.

3.     DIE PASGA:
In hierdie gedeelte lees ons van die instelling van die Pasga en hierdie gebeurtenis in Egipte, is vir my persoonlik sekerlik dié belangrikste gebeurtenis in die ganse Ou Testament, omdat dit die verlossing van die gelowige, so pragtig uitbeeld.

Elke man moes op die tiende dag van die maand Nissan (Maart-April) ’n lam sonder gebrek vir sy huisgesin neem (vv.3-5).  Hierna moes die lam vir vyf dae bewaar word, waartydens daar baie seker gemaak word, dat hy sonder gebrek was (v.6).
Op die veertiende Nissan moes hierdie lam by die huis se deurpos geslag word – verkieslik om 3 uur in die middag, sodat dit teen 18:00 (die aanvang van die 15de dag) geëet kon word (v.6).  Die bloed moes opgevang word en aan die bo-kant en aan beide kante van die deur se kosyn, aangebring word – die hele deurkosyn was dus bedek met bloed (v.7).

Die huisgesin moes nou binne-in die huis gewees het, ten einde beskerming te geniet teen die Doodsengel wat deur die land sou trek en al die eersgeborenes sou tref met die dood.   Die Doodsengel sou dus by elke huis verbygaan waar daar bloed aan die deurkosyne was – vandaar die Engelse benaming van "pass-over" (v.13).

Terwyl die man van die huis, die lam voorberei het, mag hy geen been van die lam gebreek het nie (v.46) en ten einde die lam te braai volgens die voorskrifte, moes die lam op ’n spit geplaas word, sodat die lam oopgevlek (oopgesprei) kon wees.  Of ’n mens, soos so baie ander, regtig hieraan enige waarde moet heg, betwyfel ek ten sterkste, maar dit is tog interessant om te weet dat die spit in die vorm van ’n kruis was, ten einde die lam oop te spalk en te braai.  Nadat die lam klaar gebraai was, moes die hele lam deur die familie opgeëet word – hulle mag niks gebêre het vir die volgende dag nie (vv.8-10).

’n Laaste voorwaarde rondom die Pasga, was dat geen mens wat nie besny was, aan die Pasga kon deelneem nie (v.48).  Besnydenis was die uiterlike teken dat die persoon in God se verbond ingesluit is – daar was dus ’n bloedverbond gesluit.  Indien hy dus besny was, was hy geregtig op die voordele van die verbond.

Baie jare later, nadat die tempel in Jerusalem gebou was, het die mans die lammers na die tempel gebring en daar geslag, i.p.v. by hulle eie deurposte.  Nog later het die Leviete, lammers geteel in Jerusalem en hulle dan tydens die Pasga verkoop aan diegene wat na Jerusalem gekom het vir die fees.

Die Pasga was ’n tyd van groot vreugde, aanbidding en lof aan God.  Die Leviete het die feesgangers gelei in die sing van o.a. die psalms van Dawid (bv. Ps.113 en -118).  Hierdie singery is begelei deur talle musiekinstrumente, soos trompette, harpe, fluite, tamboeryne, simbale, ens.

4.     CHRISTUS SE VERVULLING VAN DIE PASGA:
Die heel wonderlikste aspek egter van die Pasga, was hoe dat Jesus Christus vir ons hierdie fees vervul het.  In Joh.12:1 sien ons dat Jesus na Betanië gegaan het en ons lees in Joh.12:12-13 ~ Die volgende dag het die groot menigte mense wat na die fees toe gekom het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom. 13Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep: “Prys Hom!  Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en:  “Die Koning van Israel!” Jesus se intog in Jerusalem vind op die tiende dag van Nissan plaas.

Terwyl Jesus in Jerusalem was, het die godsdienstige leiers van die Jode, Jesus ondervra ten einde die skare se uitroepe en aansprake dat Jesus die koning van die Jode is, te ondersoek.  Uiteindelik het hulle Jesus aan Pontius Pilatus oorhandig vir uitspraak, waarop Pilatus in Joh.19:4 gesê het ~ Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.  Jesus was onskuldig – Hy was sonder gebrek (nes die Paaslam).  Maar tog word Jesus op die 14de Nissan (na 5 dae se deeglike ondersoek) gekruisig – net soos die Pasgalam word ook Jesus om 09:00 gekruisig en sterf Hy om 3 uur in die middag!

Die bloed van die lam wat gevloei het en aan die deurposte aangebring was, kon slegs die volk se sonde bedek en hulle teen ’n fisiese dood beskerm.  Die Paaslam van God, Jesus Christus daarenteen, neem die sonde heeltemal weg en red die betrokkenes van ’n geestelike dood.  Ons lees in 1Pet.1:18-21 die volgende ~ Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. 20Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom. 21Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.  Jesus het Homself dus oorgegee om gedood te word t.w.v. van ons sonde.

Ons het gesien dat die Paaslam se bene nie gebreek mag word nie.  Wanneer ons na Jesus se kruisiging en die gebeure rondom ’n misdadiger se kruisiging in daardie dae kyk, sal ons sien dat ’n gekruisigde se bene altyd, net onder die knieë gebreek is deur dit met ’n ysterstaaf af te slaan.  Dit is gedoen om die sterwensproses te verhaas, ten einde seker te maak dat die misdadiger voor 18:00 sou sterf, want die Jode het geglo dat daar ’n vloek oor die land sou kom as ’n gekruisigde na 18:00 nog sou lewe.

Die wonder met Jesus se kruisiging was egter dat nie een van Sy bene gebreek is nie – Joh.19:31-33 ~ Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die Sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie Sabbatdag was ’n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie.

Jesus het Sy doen en late so gereël dat Hy gedurende die Fees van die Pasga in Jerusalem sou wees – dit sou ooreenstem met die uitkies, die voorbereiding en die slag van die Paaslam.  Hy het dit spesifiek so gedoen, sodat die Jode daartoe in staat sou wees om te kon sien en verstaan Wie Jesus werklik was, nl. hulle Paaslam – hulle Messias!  Jesus was dus bestem om gekruisig te word op die presiese dag en uur waarop die Jode hulle Paaslammers vir nagenoeg 1 500 jaar lank al, geslag en voorberei het. 

Jesus se kruisiging op dieselfde dag en uur as die Paaslammers is reeds deur Jesaja in Jes.53 voorspel en tog het die meeste Jode die vervulling van hierdie Messiaanse profesie nie raakgesien nie.

5.     TOEPASSING:                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                            
Net soos met die Hebreërs in Egipte, kom klop die doodsengel ook aan ons deure en as die bloed van die Paaslam nie aan ons deurkosyne geverf is nie, sal ons sekerlik sterf, soos wat elkeen in Egipte wat nie deur die Paaslam se bloed beskerm was nie, gesterf het.

Omdat ons, soos wat Paulus in Rom.3:23 en 6:23 gesê het, ...almal gesondig (het), en (daarom) nie deel (het) aan die heerlikheid van God nie (3:23), moet ons weet dat die  ...loon wat die sonde gee, die dood (is) (6:23a).  Wat Paulus dus hier sê, is dat ons almal in sonde ontvang en gebore word en daarom is ons in die spreekwoordelike "huise sonder bloed aan die kosyne" – ons almal was dus geestelik dood.  Ons het dus almal die bloed van die Paaslam nodig om die geestelike dood vry te spring.  Paulus sê egter verder in Rom.6:23b dat die Paaslam se bloed ook vir ons beskikbaar was om teen ons deurkosyne te verf, toe hy gesê het ~ ...die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.  God die Vader het vir ons ’n uitweg gegee – 1Joh.1:7 ~ Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.  Jesus Christus, ons Paaslam se bloed het vir ons gevloei en is ons gereinig van al ons sonde.  Ons hoef die dood nie meer te vrees nie, want ons Paaslam het die mag van die dood verbreek, toe Hy uit die dood opgestaan het.

Wat ’n wonderlike en bemoedigende Woord is hierdie nie!  As ons Jesus Christus as ons Paaslam aanneem, ontvang ons vrywaring van God se oordeel en gaan die "doodsengel by ons huis verby", want ...    God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word (Rom.5:8-9).


Ons het in Eks.12:48 ook gesien dat geen persoon aan die Pasga kon deelneem, as hy nie besny was nie.   Wanneer ons na Deut.10:16 kyk, sien ons dat God eintlik in iets veel meer as die fisiese besnydenis belangstel en dit is die besnydenis van die hart ~ Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie (O.A.V.).  In Joh.3:1-7 noem Jesus hierdie besnydenis van de hart, die wedergeboorte ~ Daar was ’n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ’n lid van die Joodse Raad. 2Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ’n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.” 3Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” 4Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?” 5Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 6Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie.              

In die geval van die Hebreërs (of die Jode), was die besnydenis dus eintlik net ’n simbool van die ware geestelike besnydenis.  Wanneer ons weergebore is en derhalwe die Gees van God ontvang het, het ons volgens Paulus in Fil. 3:3, die ware besnydenis ontvang.  Dit is dus van kardinale belang dat jy vir jouself die vraag sal afvra, of jy waarlik van hart besny is; of jy weergebore is; of jy vrede met God het? 

Indien jy wel weergebore is en jou hart besny is, is dit ook nodig dat jy hierdie heuglike waarheid sal gedenk deur die Nagmaal gereeld te gebruik, want die Nagmaal is ’n herinneringsmaal – ’n maal waartydens ons herinner word aan die ware Paaslam wat vir ons geslag en geoffer is.

Wanneer ons die Nagmaal gebruik en ons eet die brood, moet ons in gedagte hou, dat die brood ’n teken daarvan is, dat Jesus se liggaam waaragtig aan die kruis geoffer is vir ons.  Met die eet van die brood, word ons daaraan herinner, dat net soos wat ons lewe put uit die eet van die brood, daar ook ewige lewe aan ons verskaf is deur Christus wat Sy liggaam geoffer het vir ons. 

Net so is die wyn/druiwesap ook teken van Jesus se bloed wat gestort is aan die kruis en ons daardeur volkome vrygekoop het van die ewige dood in die hel. 

Daar is egter ook ’n derde aspek verbonde aan die Nagmaal:  Net soos wat die Hebreërs as gesin en as volk, saam die Paasmaal geniet het, net so geniet ons as gesin (as kerkfamilie) ook die Nagmaal saam, ten einde ons onderlinge verbondenheid aan mekaar te betoon.  Daarom moet ons as gelowiges wat wederbaar is deur die volmaakte soendood van die volmaakte Paaslam, Jesus Christus, ook die brood eet en die wyn drink uit dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het aan die kruis.  Wanneer ons dan nou die Nagmaal saam geniet – kom ons doen dit dan saam in opgewondenheid en uit dankbaarheid en in herinnering aan Jesus Christus ons Paaslam.

DIE FEESTYE VAN GOD SE VOLK
Die Eerste Feesseisoen (Pasga)
1.    Die Pasga
2.    Die Fees van die Ongesuurde Brode
3.    Die Fees van die Eerstelinge

Die Tweede Feesseisoen (Pinkster)

Die Derde Feesseisoen (Loofhuttefees)
1.    Die Fees van die Basuine
2.    Die Groot Versoendag
3.    Die Loofhuttefees


1.     Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 24 April  2011

Sunday, April 17, 2011

Openbaring Ontsluit - 33 (Die Merk van die Dier)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.     INLEIDING:
Wanneer ons praat van die "Merk van die Dier", of beter bekend as die "Merk van die Bees" (hierdie is eintlik ’n direkte vertaling), dan praat ons van waarskynlik een van die mees kontroversiële gedeeltes in Openbaring, indien nie in die ganse Woord van God nie.

2.     VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
·           Openb.13:16-17 ~ Hy verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te dra 17en laat niemand toe om te koop of te verkoop nie, behalwe die mense wat die merk het. Die merk is die naam van die dier of die getal van sy naamOm enige moontlike onduidelikheid uit te skakel, moet ons dit van die begin af duidelik stel dat hierdie "merk", die merk van die Eerste Dier was, ten einde die draers van die merk te identifiseer met en hulle daardeur te dwing om hulle aan die Eerste Dier te onderwerp.  Daar word ten minste nog vyf keer van hierdie merk in Openbaring gepraat (Openb.14:9, 11; 16:2, 20; 20:4).

Wat presies is hierdie merk van die Dier?  Daarvoor sal ons ’n bietjie in die Woord moet gaan rondblaai en na verskillende merke gaan kyk.

Ons lees die eerste keer van ’n merk, of teken in Gen.4:15 ~ Maar die Here sê vir hom: “Nee! Wie vir Kain vermoor, sal sewe maal gestraf word.” Toe gee die Here vir Kain ’n teken sodat niemand wat hom raakloop, hom sou doodmaak nieGod het hierdie teken aan Kain gegee ten einde te verhoed dat enige iemand anders Kaïn se lewe sou neem.  Ons weet nie of hierdie ’n sigbare teken was of nie.  Dit is moontlik dat dit ’n fisiese teken was, maar dit wat ons verder van merktekens in die Woord weet, is dat dit onwaarskynlik is dat hierdie merkteken, ’n fisiese- of sigbare teken was.

’n Ander baie bekende verwysing vind ons in Eseg.9:3b-6 ~  Die Here het na die man geroep met die linneklere aan en die skrywersakkie aan sy gordel 4en vir hom gesê: “Gaan deur die stad, deur Jerusalem, en maak ’n merk op die voorkoppe van almal wat sug en kla oor al die afskuwelike dinge wat in die stad gebeur.” 5Ek het gehoor die Here sê vir die ander manne: “Gaan agter hom aan deur die stad en slaan dood! Moenie verskoon nie, moenie jammer kry nie! 6Maak dood en roei uit die oumense, die jongmanne en jong vroue, die kinders en vrouens; moet net nie raak aan dié wat die merk het nie. Begin by my heiligdom!” Hulle het toe begin met die ou manne voor die tempelIn hierdie gedeelte het God Sy volk gemerk ten einde hulle te bewaar teen oordeel.  Hierdie was beslis nie ’n fisiese teken nie, maar wel ’n geestelike teken of merk.

Nog ’n voorbeeld waarvan ons al gehoor het in ons studie van Openbaring, vind ons in Openb.7:1-8 ~ Ek het ook ’n ander engel van die ooste af sien kom met die seël van die lewende God. Hy het met ’n harde stem geroep na die vier engele aan wie mag gegee is om die land en die see te tref, 3en het vir hulle gesê: “Moenie die land en die see en die bome tref nie. Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe merk met die seël (vv.2-3).  Soos ons reeds vantevore gesien het, was hierdie ook net ’n geestelike identifisering van God se kinders voor die vernietiging van Jerusalem.

Ons sien verder in v.16 dat die merk van die Dier, op die regterhand of op die voorkop gedra moes word.  Die betekenis hiervan kom veral in Deut.6:6-8 vir ons baie mooi na vore ~ Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. 7Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. 8Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ’n merk op jou voorkop wees

God het nie letterlik van die Jode verwag om heel dag met dele van die Wet, vasgebind aan hulle hande rond te loop, of om die Wet op hul voorkoppe vas te maak nie – alhoewel sommige Jode dit wel letterlik gedoen het (selfs vandag nog) en wel in die vorm van ’n klein leer dosie wat met riempies om die gewrigte of op die voorkop vasgemaak is.  Dit wat God werklik bedoel het met hierdie opdrag, was eintlik dat die Jode die Wet moes bevestig in hul gemoed (kop) en dat hulle ywerig in hulle gehoorsaamheid aan die Wet moes wees (hand).

Om dus op te som:  ’n Bybelse merkteken het die persoon wat die merkteken ontvang, met die persoon wat dit gee, geïdentifiseer.  Kaïn was deur God gemerk en sodoende het hy onder God se beskerming verkeer.  Die mense van Eseg.9 was gemerk en het God se beskerming geniet en dieselfde geld vir die 144 000 van Jerusalem in Openb.7.  Wanneer iemand dus toelaat dat hy die merkteken van die Dier ontvang, impliseer dit dus dat hy homself identifiseer met en onderwerp aan die Dier.  Om dus op die voorhoof, of op die hand gemerk te wees impliseer dus erkenning, onderwerping en gehoorsaamheid aan die ontvanger se kant en eienaarskap van die Dier se kant en in die proses word so ’n persoon, vyand van God.

Enige persoon wat die merkteken van die Dier gedra het, het daardeur, sy lojaliteit en onderwerping aan Rome betoon – dit was ongehoord vir ’n Jood om dit te gedoen het en tog het hulle dit gedoen en die rede waarom so baie Jode dit gedoen het, was niks anders as kompromie nie.  Want die straf vir iemand wat geweier het om trou aan Rome te sweer, was dat hy nie kon koop of verkoop nie (v.17).  Dit was ’n geweldige straf, maar dit was ’n straf wat die vroeë gelowiges gewillig was om te verduur – t.w.v. Christus!  Behalwe vir die straf wat die gelowiges ontvang het, vir hul weiering om hulle te onderwerp aan Rome,  was hulle verder ook verwerp en verag deur almal.  Baie gelowiges het alles in die proses verloor.

Dít wat met die gelowiges gedurende die eerste eeu gebeur het was egter nie uniek nie.  Ons weet dat Moslems wat wederbaar word en Christus voortaan navolg, presies dieselfde pad loop – algehele verwerping deur die Moslem gemeenskap, asook hulle eie familie.  Daar is ook talle regerings in ons dag waar geen godsdiensvryheid toegelaat word nie en waar Christene fel vervolg word.

Ons sien dus dat die profesie van die merkteken se vervulling nie in die toekoms lê nie, maar dat dit reeds in die verlede vervul is en tog, al hoef ons nie bekommerd daaroor te wees dat ons sal moet keer om nie die merkteken van die Dier te neem nie, moet ons voortdurend bedag wees op ons lojaliteit en getrouheid aan Jesus Christus ~ En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Rom.12:1-2).

·           Openb.13:18 ~ Hier is wysheid nodig. Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer, want dit is ’n mens se getal. Sy getal is ses honderd ses en sestig.

Ons het al vantevore gekyk na die Dier se nommer en op wie dit dui, nl. Nero (sien "Openbaring Ontsluit – nr.22" van 7 Feb.2010:   http://diewaarheidmaakvry.blogspot.com/2010/02/bybelstudie-deur-kobus-van-der-walt.html)

Ter wille daarvan om ons geheue te verfris, net weer die volgende:  Wanneer die naam van Nero Caesar in Hebreeuse letters geskryf word (daar was geen klinkers in die Hebreeuse taal nie), nl.: NRWN QSR, dan vind ons die volgende:
N
=
50
R
=
200
W
=
6
N
=
50
Q
=
100
S
=
60
R
=
200
Totaal:
=
666

Wanneer ’n mens egter Nero (of enige iemand anders) wil koppel aan die getal “666”, is daar ’n paar dinge wat in gedagte gehou moet word:
- N.a.v. Openb.13:8b. Moet die “naamnommer 666”, dié van ’n man wees.
- Die naam sal moet pas by ’n boosaardige, goddelose, ens. man – Openb.13:5,7 ~ Die dier is toegelaat om verskriklike dinge te sê en te laster en om twee en veertig maande lank gesag uit te oefen.... Aan hom is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; en daar is gesag aan hom gegee oor elke stam, volk, taal en nasie.
- N.a.v. Openb.13:2,7 moet hierdie man ook ’n politieke figuur wees wat oor geweldige gesag beskik – Openb.13:2,7 ~ Die dier wat ek gesien het, het soos ’n luiperd gelyk. Sy pote was soos dié van ’n beer en sy bek soos dié van ’n leeu. Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee.... Aan hom is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; en daar is gesag aan hom gegee oor elke stam, volk, taal en nasie.
- Die naam moet van ’n man wees wat in Johannes se tyd geleef het (sien: “Openbaring Ontsluit # 20 - Postmillennialisme en die Datering van Openbaring”, deur dieselfde skrywer – Dit kan gevind word by: http://diewaarheidmaakvry.blogspot.com/2010/01/bybelstudie-oor-openbaring-deur-kobus.html).
- Die naam moet van iemand wees wat relevant was vir die eerste eeu se gelowiges en dan spesifiek diegene aan wie Johannes geskryf het.

Sonder om veel dieper in te gaan op allerlei ander ongegronde moontlikhede, sien ons dat Nero perfek aan bg. voorwaardes voldoen – en geen ander mens nie, want bo en behalwe al die voorwaardes hierbo genoem, pas Nero se naam perfek in die “naamnommer”.

As ons bg. in gedagte hou, verstaan ons ook waarom Johannes in v.18 sê dat dit moontlik is vir diegene met verstand, om uit te werk wie die draer van die getal 666 is.  Ook is dit ondenkbaar dat enige gelowige van die eerste eeu wat met wysheid en verstand bedeeld was (en daar was tog baie) by die naam van die huidige Pous, of Obama, of wie ook al sou uitkom – dit moes iemand gewees het wat aan hulle bekend was.

Hierdie nommer wat dus onteenseglik aan Nero behoort het, is verdere bewys dat die profesie van Openbaring reeds grootliks gedurende die eerste eeu vervul is. 

Waarom het Johannes hierdie naam in geheime kode geskryf en meer nog, waarom in Hebreeus?  Ons het daarna ook reeds gekyk en gesien dat dit was omdat hy nie sy medegelowiges wou bloot stel, deur hulle so openlik teen Nero te waarsku nie, want dit sou net die vervolging teen die gelowiges laat toeneem het.  Verder was dit ook nie so vreemd gewees om Hebreeuse woorde in Grieks te gebruik nie, want dit was immers ’n bekende taal vir die meeste gelowiges (dink maar net hoe ons deesdae Afrikaans vermeng met Engels!).  Johannes het bv. vroeër in Openbaring die Hebreeuse woord "Abaddon" gebruik om na Satan et verwys (Openb.9:11).  So is die woorde "Amen", "Armageddon", ens. ook Hebreeuse woorde (en selfs ons gebruik dit steeds vandag).  Dit word ook algemeen deur teoloë aanvaar dat Johannes in Hebreeus gedink het, maar in Grieks geskryf het. 

Dit is dus duidelik dat Rome, o.l.v. Nero die Eerste Dier van Openbaring was en dat die Judaïste, Rome se skoothondjie was.

3.    ’n LAASTE GEDAGTE:
Indien hierdie dinge reeds gedurende die eerste eeu plaasgevind het, is dit relevant om te vra wat se waarde hierdie kennis vir ons in hou ons huidige konteks in.  Veral ook as ons dan weet dat hierdie dinge hulleself nie in die toekoms gaan herhaal nie?  Wanneer ons so ’n vraag vra, moet ons in dieselfde asem vra of die Israeliete se uittog uit Egipte vir ons enige waarde inhou; of die Feeste van die Israeliete enige betekenis vir ons inhou, ens?  En die antwoord is tog sekerlik "ja"!  Ons moet onthou dat alle dele uit die Skrif vir ons waarde en betekenis inhou – ook Ou Testamentiese gedeeltes en ook reeds vervulde Nuwe Testamentiese gedeeltes.  Ons moet onthou dat die ganse Skrif Gees-geïnspireerd is en daarom die moeite werd is om te lees, maar die heel belangrikste:  Alle Skrif wys heen na God die Vader, wie ons dien.  Ons kan moed hou en oorwin in enige omstandighede, want Jesus Christus het reeds die oorwinning behaal oor die Dier, maar ook oor ons vyand die satan!  Hy is tog immers Here!


Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 17 April 2011

DIE FEESTYE VAN GOD SE VOLK ~ 03 (Die 2de Feesseisoen – Die Pinksterfees)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.     INLEIDING:
Verlede week het ons gesien dat die Israeliete na ’n 24 uur lange vasdag tydens die Loofhuttefees, vergifnis vir hul sonde onvang het, nadat die Hoë Priester versoening vir die volk se sonde gedoen het in die Allerheiligste, asook die wegstuur van die sondebok in die woestyn in en nou staan hulle op die drumpel van ’n nuwe begin in hulle verhouding met God. 

Ons moet egter ’n paar maande terug beweeg, om presies te wees, vier maande terug na die sesde maand, of te wel die maand Sivan wat tussen Mei en Junie val.  Hierdie is ook die maand waartydens die koringoes afgehandel is.  Gedurende die maand Sivan, vind die tweede Feesseisoen plaas, nl. die Pinksterfees – ook bekend as die Fees van die Weke (Hebreeus = Sjevu'ot; Engels = "The Feast of the Weeks/Harvest").

2.     SKRIFLESING:
Lev.23:15-21 ~ Van die dag ná die sabbat af, die dag waarop julle die are as beweegoffer vir die Here aanbied, moet julle sewe volle weke tel. 16Die dag ná die sewende sabbat, op die vyftigste dag, moet julle vir die Here ’n graanoffer bring uit die pas geoeste graan. 17Elke gesin moet twee brode vir ’n beweegoffer na die heiligdom toe bring. Dit moet van drie kilogram meel met suurdeeg gebak wees en is ’n gawe aan die Here uit die eerste opbrengs van die oes. 18Behalwe al die brode moet daar ook sewe jaaroud lammers sonder liggaamsgebrek, ’n jong bul en twee ramme gebring word. Hulle moet as brandoffers aan die Here gebring word met die graanoffer en die drankoffers wat daarby behoort. Dit is ’n offer wat deur My, die Here, aanvaar word. 19Julle moet ook ’n bokram as sondeoffer bring en twee jaaroud lammers as maaltydoffer. 20Die priester moet die twee lammers saam met die brode uit die eerste opbrengs van die oes as beweegoffer vir die Here aanbied. Dit is ’n gewyde gawe aan die Here en dit kom die priesters toe. 21Op hierdie dag moet julle ’n gewyde byeenkoms hou. Niemand mag dan werk nie. Dit moet vir altyd ’n vaste instelling wees, waar julle of julle nageslag ook al woon. 22“Wanneer julle julle lande oes, moet julle nie die  wenakkers afoes of die are wat bly lê, optel nie. Julle moet dit los vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God.

3.     DIE FEES VAN DIE WEKE:
Hierdie fees duur sewe weke lank en soos ons uit ons Skrifgedeelte gesien het, moet verskeie offers gedurende hierdie tyd gebring word, waarvan die belangrikste, die Beweegoffer was (v.20).  Hierdie offer moes gemaak word van fynmeel met suurdeeg – die enigste keer dat brood met suurdeeg aan God geoffer word.  Dit moes deeglik gesif word om enige moontlike growwigheid te verwyder.  Hierdie offer was ook ’n dankoffer, want dit het weereens die volk se afhanklikheid vir hulle daaglikse brood van die Here beklemtoon.

Later, toe die Jode versprei was oor die wêreld, het die Pinksterfees sy primêre doel as Oesfees verloor, want in "die Diaspora" (die Jode in die Verstrooïïng) was daar baie min Jode wat betrokke was in boerdery en was daar dus nie veel rede tot feesviering vir die oes wat van die lande af gekom het nie.

Die Jode beweer dat God die Wet aan Moses gedurende hierdie Pinksterfees gegee het en hulle staaf hulle beweringe op grond van noukeurige berekenings.  Ons lees in Eks.19:1 dat die Jode in die woestyn Sinaï opgedaag het gedurende die derde maand ("Sivan") en moontlik op die derde dag.  Drie dae later op die sesde "Sivan", het God op Sinaï, die Wet aan Moses gegee (v.11).  Hierdie tyd het dan ook onder die volk bekend gestaan as "Die Seisoen van die gee van die Wet".  Hierdie geleentheid kan dus gesien word as die ontstaan van die Judaïsme (die Joodse geloof), omdat die Judaïsme hoofsaaklik wentel om die Wet van Moses.

Ons sien hier in ons gelese teks, dat daar sprake is van twee brode.  Die eerste brood het die volk van God verteenwoordig, terwyl die tweede brood verteenwoordigend was van die heidene (Eng. = "gentiles").  Waarom is hier ’n tweede brood in die offerproses gebruik?  So vroeg as Sinaï het God al vir die volk Israel laat verstaan dat hulle nie die alleenreg op God het nie en dat God ook heidene onder Sy genadeverbond insluit.  Die Jode was egter blind vir hierdie faset van God se genade – soveel so dat selfs die Jode wat Christene geword het gedurende die eerste eeu na Christus, gesukkel het om hierdie feit in die gesig te staar, daarom dat God in Hand.10 en 11 aan Petrus verskyn het en aan hom ’n gesig gewys het (die doek wat uit die hemel neergelaat en opgetrek is), nl. dat die heidene ook ’n plek in die Koninkryk van God het en dat hy wat Petrus is, asook die ander Apostels, hul bediening en verkondiging van die Woord moet uitbrei na die heidene en dat die opdrag in Matt.28:19-20, nl. ~ Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het, nie net op die Jode van toepassing was nie, maar op alle mense – ook die heidene.

Terwyl Moses die Wet van God ontvang het en die Joodse godsdiens (Judaïsme) gebore is, het iets tragies onder die volk plaasgevind.  Toe Moses van die Berg af terugkeer, het hy gevind dat die volk afvallig geraak het en dat hulle ’n goue kalf gemaak en aanbid het en terselfdertyd het hulle ’n uitspattige fees gevier – hulle rig dus ’n heidense beeld op om as plaasvervanger vir God te dien.  Op daardie dag het 3 000 Israeliete gesterf as gevolg van hul beeldaanbidding (Eks.32:28) – hierdie getal is baie belangrik om te onthou, want ons sal netnou weer na hierdie getal verwys.

Nog ’n interessante ritueel rondom hierdie fees, is dat die Jode (tot vandag toe nog), tydens die fees, die verhaal van Rut voorlees.  Hulle doen dit om ’n paar redes.  Eerstens vorm hierdie verhaal ’n pragtige agtergrond vir die oestyd wat in die maand Sivan plaasvind, want  Rut het ook die oes beleef en dit is dus ’n baie geskikte verhaal vir die oestyd.  Tweedens vertel hierdie verhaal ook van Rut die heidense vrou, wat die God van Israel leer ken en liefkry het, deur Naomi haar skoonmoeder, wat ’n Jodin was.  Die Jode sien dus uit na die dag wanneer Jood en heiden, God saam sal dien en  aanbid deur middel van die Messias-Verlosser.  Verder trou Boas, wat ’n "tipe-Christus" is, met die heidense vrou Rut om daardeur ook die heidene in te sluit by die "heilige lyn" wat uiteindelik tot by Christus sal lei – Rut, die heidense vrou, word nie net ingesluit in die nageslag van Abraham, Isak en Jakob nie, maar word ook voorgeslag van Dawid en uiteindelik Jesus Christus die Verlosser – en tog verstaan die Jode dit nie – tot vandag toe nie!

Tydens hierdie Fees van die Weke, word daar ook sewe skaaprammetjies sonder gebrek geoffer, asook ’n jong bul en twee ramme.  Ten einde die volk se afhanklikheid van God te demonstreer, moes die twee brode en die twee lammers as "Beweegoffer" aan die priester gegee word om geoffer te word.  Hierdie Beweegoffer is so genoem omdat die priester dele van die offervleis en graan wat geoffer moet word, in die lug "waai" (heen en weer beweeg – Eks.29:24, 26, 27; Lev.7:20-34; 8:27; 9:21; 10:14,15, ens.) as toewydingsimbool teenoor God.  Dit word dus ’n aanneemlike offer vir God, omdat Hy die offer aanvaar en daarop die voedsel wat geoes is seën en ook die volk se sondes vergewe.  Nog ’n rede waarom die priester die vleis en graan rondbeweeg, is dat die volk kan sien dat die vleis en graan geoffer word.  Die oorblywende vleis en graan kom die priesters toe as voedsel.

Behalwe dat niemand moes werk op die dag wat die offers gebring is nie, moes elke boer ook nog die wenakkers (daardie gedeelte aan die punt van die land, waar die osse omdraai) se graan op die lande gelos het, sodat die armes en die vreemdelinge daardie are kon optel vir hulleself.  Dit is dan ook hier op die wenakkers dat Boas vir Rut raakgesien het.

Met hierdie opdragte ten opsigte van die "Beweegoffer" en die wenakkers, is daar deur die volk ook voorsien in die priesters, armes en vreemdelinge se materiële behoeftes.

4.     CHRISTUS VERVUL DIE FEES VAN DIE WEKE:
Hoe het Jesus hierdie fees vervul?  In Joh.12:23-24 sê Jesus ~ Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. 24Dít verseker Ek julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in.  Jesus praat hier van Homself as ’n menslike koringkorrel wat gaan sterf vir die sondes van die wêreld.  Soos ons reeds verlede week gehoor het, was Jesus volkome geregverdig (sonder sonde en in ’n volmaak heilige verhouding met God) en juis omdat Hy volmaak en sonder sonde was, het die dood en die hel geen houvas op Hom gehad nie (Openb.1:18).  Die wonderlike is verder dat Jesus as Eersteling uit die dood opgewek is ("die Fees van die Eerstelinge" waarby ons D.V. volgende Sondag sal uitkom) en presies vyftig dae na Sy opstanding, is die Heilige Gees uitgestort – dit is presies op dieselfde tyd dat die Jode in Jerusalem byeen was vir die Pinksterfees, of te wel die Fees van die Weke!

Ons lees in Hand.2:1-8 die volgende ~ Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen. 5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het ’n groot skare saamgedrom.  En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 

Die uitstorting van die Heilige Gees het op presies dieselfde dag plaasgevind waarop die Jode die twee brode geoffer het.  Op daardie dag het 3 000 Jode onder die prediking van Petrus tot bekering gekom!  In plaas van die 3 000 wat sterf in die woestyn a.g.v. hulle sonde, red die Here nou 3 000 op hierdie selfde gedenkdag! 

Ons het ook gesien dat hierdie gebeure in Sinaï die geboorte van die Judaïsme was, maar hier op Pinksterdag, terwyl Petrus preek, vind die geboorte van die Nuwe Verbond en daarmee saam die geboorte van die Nuwe Testamentiese kerk plaas!  Die Ou Verbond met al sy feeste en seremonies is afgesluit.  Die Judaïsme wat gebaseer is op die Wet van Moses word vervang met ’n godsdiens wat gebaseer is op Christus Jesus se soendood en God die Vader se genadeverbond.

Die vervulling van die Beweegoffer waar twee brode heen en weer beweeg is en wat beide die Jode en die heidene verteenwoordig het, vind ons in die samevoeging van beide Joodse gelowige en heidense gelowige, deur die Heilige Gees in die Bruid van Christus - die Nuwe Testamentiese Kerk.  

Iets waarna ek netnou verwys het, was die feit dat hierdie twee brode nie ongesuurde brode was nie, maar brode met suurdeeg.  Die betekenis hiervan is natuurlik dat die kerk nie onbesproke is nie, trouens dit is vol sonde.  Ons sien dit in Lev.2:11 ~ Geen graanoffer wat vir die Here aangebied word, mag suurdeeg in hê nie. Julle mag geen suurdeeg of heuning verbrand as ’n vuuroffer vir die Here nie.  Die Nuwe Testamentiese kerk sal ook nie sonder sonde wees, tot en met Christus se wederkoms nie (Ef.5:27).

In die Ou Testamentiese Fees van die Weke, is daar tesame met die brode wat geoffer was, ook verskeie vleisoffers gebring en hierdie offers is almal vervul deur die offer wat Christus aan die kruis gebring het.

As Jesus nie gekruisig was en weer opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel nie, sou die Heilge Gees nie uitgestort gewees het nie.

Kom ons blaai na Hebr.10:1-18 en dan sien ons hoe Christus hierdie feeste vervul het ~ Die wet van Moses is slegs ’n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie ’n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vrymaak nie. 2As dié wat offers bring, eens en vir altyd gereinig en nie meer van sondes bewus was nie, sou hulle immers opgehou het om offers te bring. 3Maar nou herinner die offers juis jaar na jaar aan die sondes, 4omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem. 5Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: “Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het. 6Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie! 7Toe het Ek gesê: Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil te doen. In die boekrol is dit van My geskrywe.” 8Eers sê Hy: “Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,” hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. 9Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers af om ’n ander offer in die plek daarvan te stel. 10Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd. 11Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. 12Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. 14Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak. 15Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy: 16“Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here.  Ek sal hulle my wette in die hart gee, in hulle verstand sal Ek dit skrywe.” 17Dan sê Hy verder: “Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.” 18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.

5.     Toepassing:
Ons het gesien dat daar allerlei rituele plaasgevind het tydens die Pinksterfees – daar was o.a. die Beweegoffer van die Toonbrode; daar was vleis en bloed en vastye, ens.  Jesus Christus het egter gekom en al hierdie rituele vervul deur Sy volmaakte offer wat Hy eens en vir altyd gebring het.  Ons hoef nie meer al hierdie feeste te vier nie en nog minder hoef ons al hierdie rituele te onderhou –  Christus het ook dít alles vir ons vervul en vereenvoudig, deur hierdie rituele te verplaas met twee sakramente, nl. die nagmaal en die doop.  Die vraag is egter of ons dit waardeer – of ons werklik dankbaar teenoor Christus is vir die feit dat Hy hierdie feeste en rituele vir ons vereenvoudig het?

Hoe kan ons die waarhede van die Pinksterfees in ons eie lewe toepas?  God begeer dat ons Jesus Christus moet ken – waarlik ken.  Nie net sal ken as gekruisigde Lam van God wat vir ons sonde gesterf het nie, maar ook as die Lewende Verheerlikte Here.

Die Israeliete het nie ingesien dat die Koninkryk van God ook vir die heidene bedoel is nie – is ons vandag net so blind en net so ongehoorsaam as dit kom by ongelowiges?  God wil gewone mense soos ons gebruik om Sy Koninkryk met ywer te verkondig.  Ons kan egter nie God se Koninkryk proklameer as ons nie oor ’n grondige kennis van God beskik en met nuwe toewyding en geesdrif volgelinge van Jesus Christus is nie!


1.     Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 17 April  2011