Sunday, November 21, 2010

Paulus se Brief aan die Filippense - 01 (Paulus se Gebed)

1. AGTERGROND:

Ons gaan D.V. vir die volgende paar weke na Paulus se brief aan die Filippense kyk. Hierdie brief is een van dertien briewe wat Paulus geskryf het en hierdie brief is een van vier briewe wat bekend staan as sy “gevangeskapbriewe” (die ander drie is Efesiërs, Kolossense en Filemon). Paulus rig hierdie brief van hom aan ’n gemeente in die provinsie van Masedonië en wel in die dorp Filippi. Filippi is geleë aan die noordekant van die huidige Griekeland. Die antieke naam vir Filippi was Crenides wat “fonteine” beteken en was dan ook bekend vir sy verskeie fonteine wat daar in die berg waarop die stad gebou was, ontspring het.

Ons het ook reeds gesien dat die stad se inwoners hoofsaaklik uit Romeine bestaan het en dat daar bitter min Jode in die stad was – trouens, daar was waarskynlik minder as tien Joodse mans in die dorp en daarom was daar nie ’n sinagoge waar die Jode kon aanbid nie en dit het tot gevolg gehad dat die vrouens sommer langs die rivier bymekaar gekom het om te bid (die minimum getal mans wat benodig was om ’n sinagoge te kon bou, was 10 mans).

Hierdie brief staan allerweë bekend as Paulus se “blydskapsbrief”, omdat die gemeente in Filippi vir hom moed gegee het vir die toekoms, maar ook omdat dit die ware Christelike blydskap beklemtoon het. Nie minder nie as sestien keer skryf Paulus van blydskap en verblyding en hierdie boodskap van blydskap vind sy hoogtepunt in 4:4 wanneer Paulus hierdie bekende woorde neerskryf, nl.~ Verbly julle altyd in die Here ek herhaal: Verbly julle! (O.A.V.).

Paulus het, soos die meeste van die ander apostels, vreugde én oorvloed beleef, maar terselfdertyd ook uiterste vorme van beproewing en armoede, maar steeds sê hy Verbly julle altyd.... Trouens, Paulus skryf hierdie blydskapsbrief van hom, vanuit die tronk! Paulus het onder alle omstandighede hom verbly in die Here en sy vreugde het hy daarin gevind, deur hom in te span om Christus te ken en die krag van Sy opstanding te ondervind, al beteken dit dan ook dat hy deel moet hê aan Christus se lyding (3:10).

Die gemeente in Filippi het reeds tydens Paulus se tweede sendingreis tot stand gekom en was die eerste gemeente op Europese bodem. Dit is ook hier waar Paulus vir Lidia die handelaar in pers wolprodukte, ontmoet het. Ons lees in Hand.16:20-24 van Paulus en sy medewerker, Silas se beproewing in Filippi en hoe hulle in hegtenis geneem is; lyfstraf ontvang het en uiteindelik in die tronk gegooi is omdat hulle kwansuis wet en orde in gedrang gebring het. Dit is egter ook hier dat God hulle red uit die tronk deur ’n aardbewing te stuur en hul boeie van hul afgeval het en die tronkbewaarder in die proses tot bekering gekom het.

Ten tyde van die skrywe (60-61n.C.) van hierdie brief, verkeer Paulus onder huisarres in Rome. Die gelowiges in Filippi het ’n besondere verhouding met Paulus gehad en daarom stuur hulle saam met Epafroditos (4:15; 2Kor.11:9) ’n finansiële bydrae en nuus vanuit die gemeente aan hom. Epafroditos het ’n tyd lank by Paulus gebly maar verlang naderhand só huis toe (2:26-27), dat hy afskeid van Paulus neem. Paulus stuur hierdie blydskapsbrief saam met Epafroditos na Filippi (die ander gevangeskapbriewe is waarskynlik deur Tigikus na hul onderskeie bestemmings geneem).

In hierdie brief word ’n paar dinge vermeld:

· Eerstens bedank Paulus hulle vir hulle ruim finansiële bydrae (4:10, 18).

· Hy sê hoe dit met hom gaan en dat hy blydskap ervaar ten spyte van sy huisarres en dat sy lesers in hierdie blydskap moet deel (1:12-26).

· Hy gee verdere geestelike leiding aan hulle vir die praktiese uitlewing van hulle Christenskap (1:27-2:18; 3:1-4:9).

· Laastens oorreed hy die Filippense om Epafroditos terug te ontvang, want hulle het verwag dat hy Paulus langer moes ondersteun en van hulp wees (2:25-30).

2. SKRIFLESING:

Fil.1:1-11 ~ Van Paulus en Timoteus, dienaars van Christus Jesus. Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens. 2 Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! 3 Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. 4 In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, 5 omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. 6 Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. 7 Dit is ook heeltemal reg dat ek so oor julle almal dink, omdat julle my na aan die hart lê. Julle deel immers almal saam met my in die genade wat God my gee, sowel in my gevangenskap as in my verdediging van die evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan. 8 God is my getuie, Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart. 9 Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10 sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11 en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.

3. INLEIDING:

In hierdie inleidende gedeelte van Paulus se brief, vind ons ’n aangrypende gebed wat hy vir die gemeente in Filippi bid en ons sal na hierdie gebed onder vier opskrifte kyk, nl.:

· Vir wie Paulus bid.

· Hoe hy bid.

· Waarom hy bid.

· Wat hy bid.

4. VIR WIE BID PAULUS?

Paulus begin sy brief op die tipiese wyse waarop briewe destyds geskryf is, nl. om te sê van wie die brief kom – in hierdie geval, van homself en Timoteus wat by hom was – en dan het die skrywer ook die ontvangers van die brief vermeld en in hierdie geval was dit die uitverkore gelowiges, asook die herders en die diakens van die gemeente in Filippi.

In hierdie openingsverse van die brief is daar veel meer vir ons verskuil as wat op die oog af blyk. Onthou, Paulus is onder huisarres, maar nogtans is sy getroue dissipel by name Timoteus by hom, asook die verteenwoordiger van sy “liefling-gemeente”, nl. Epafroditos. Hierdie scenario behoort ons as gelowiges diep aan te spreek, want hier het ons ’n situasie waar ’n broer in die Here Jesus in nood en moeilike omstandighede verkeer, maar steeds verlaat en versaak sy broers in die Here hom nie – hulle staan hom by en hulle ondersteun hom in sy nood. Ons moet ons ook voortdurend afvra hoe ons, ons broers en susters wat beproewing ervaar, kan ondersteun en bemoedig? Ons moet egter ook in gedagte hou dat Paulus se twee vriende by hom was – hulle was in sy teenwoordigheid om hom ín sy omstandighede te ondersteun – nie daar ver nie. En die wat nie self daar kon wees nie – hulle stuur vir Paulus ’n geskenk en ’n verteenwoordiger.

Hierdie openingswoorde van Paulus openbaar egter nóg ’n paar waarhede aan ons. Eerstens skryf hy hierdie brief aan almal wat deur Jesus Christus aan God behoort. In die oorspronklike teks staan daar eintlik dat hierdie gelowiges, “heiliges” is. Die NKJV en die NAV stel dit pragtig en korrek wanneer dit sê ~ ...all the saints in Christ Jesus, of die heiliges in Christus Jesus. Die feit dat hierdie gelowiges ook heiliges genoem word impliseer nie dat hulle besondere gelowiges is wat ’n ent verhewe is bo ons en ander gelowiges nie. Nee, hierdie titel kom ons en elke ander gelowige ook toe – ons is inderdaad “heiliges” en dit beteken dat ons deur die soendood van Jesus Christus, reeds heilig verklaar is deur die Vader. Dit impliseer egter óók, dat ons as heiliges ons ook daarop sal toelê om heilige lewens te lei – ons sal met alles in ons, ons toespits op heiligmaking in ons lewe.

Die woord heilig (agioV = hagios) beteken om afgesonder te word. Jesus sê in Joh.17:19 (OAV) ~ En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees. Jesus sê dus hier dat Hy Homself opsy gesit en afgesonder het om redding aan ons te verskaf. Dit impliseer dus verder, dat ons deur God afgesonder is deur die redding wat ons van Christus ontvang het, om ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom (te wees en), ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig (1Pet.2:9). God het ons dus opsygesit vir Homself – ons geheilig en afgesonder – vir Hom.

Tweedens rig Paulus ook hierdie brief aan die ouderlinge en die diakens in die gemeente. Met hierdie geadresseerdes sien ons dus ook dat daar alreeds van die vroegste tye van die kerk reeds ouderlinge en diakens in die kerk werksaam was – trouens die Dooi See Rolle wat voor 70 n.C. geskryf is, maak reeds melding van hierdie ampsdraers in die kerk. Die feit dat Paulus hierdie brief ook rig aan die gelowiges, en die woordjie “met” die ouderlinge en diakens, dui op die samewerking wat daar tussen leiers en lidmate geheers het – daar was dus nie sprake van ’n eensydige optrede en aksie en werk nie – nie nét die leierskap, sonder deelname van die lidmate nie. Ook nie nét die lidmate, sonder die leieskap nie. Daar was dus samewerking en lidmate het “ingekoop” in die gemeente – hulle het eienaarskap aanvaar vir hulle gemeente!

Paulus moes baie keer aan sy geliefde gemeente in Filippi gedink het – van die eerste keer toe hy die klompie vroue daar langs die rivier gekry het en hy kort daarna vir Lidia gedoop het. Nog later kry hy te doen met die slawemeisie wat ’n waarsêer-gees in haar gehad het. Dan was daar Silas wat saam met Paulus gekasty was en wat ’n leier in die gemeente was.

Paulus se verbintenis met die gemeente het oor ’n lang tydperk gekom en elke keer as Paulus dink aan hierdie gemeente, het hy gebid en het hy God gedank vir die genade en geestelike seën wat God oor hulle as gemeente uitgestort het (v.1). Paulus het die mens se hart baie goed geken en hy het geweet dat daar niks goeds in enige mens is wat God kan behaag nie. Paulus was egter ook bekend met God se genade en daarom is hy so dankbaar en opgewonde oor God se genade in die redding van sy dierbare vriende in Filippi en daarvoor dank hy God.

Paulus is hier besig om vir sy lesers en daarom ook vir ons, ’n pragtige en subtiele les te leer oor die formaat van ons gebede. Paulus begin sy gebed met danksegging en lofprysing. Geen omstandigheid; geen gevangenisskap kan hom daarvan weerhou om heel eerste eer aan God te bring nie! Ten spyte van ons omstandighede – hoe seer ook al; hoe duister ook al; hoe uitsigloos ook al; hoe pynlik ook al – niks behoort, kan en mag ons ooit daarvan weerhou om God te loof en te prys en te dank vir Sy genade wat Hy oorvloedig in ons lewe uitstort nie, want geen situasie in ons lewe kan vergelyk word met God se reddingsgenade nie! En ten spyte van al die ander moontlike negatiewes in my lewe, is daar soveel ander dinge wat God in Sy groot barmhartigheid aan ons skenk, sonder dat ons dit hoegenaamd verdien!

Paulus sê egter ook dat hy elke keer bid wanneer hy aan sy vriende dink (v.3). Ons moet ook elke keer wanneer ons aan ons vriende – ons broers en susters – dink, vir hulle bid. Dit is nie toevallig dat hul name en beelde in ons gedagtes opkom nie – ek glo van harte dat dit die Heilige Gees is wat diesulkes op ons harte lê en daarom wil Hy hê dat ons vir hulle moet bid wanneer ons aan hulle dink.

Let verder daarop dat Paulus in v.3 bid en sê ~ Ek dank my God. Hy sê my God. Ware danksegging en lofprysing begin dus by ’n persoonlike verhouding met Hom en word net in stand gehou en verder versterk deur die band wat daar bestaan tussen my en ...Christus wat in my lewe... (en) wat Sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê (Gal.2:20).

5. HOE BID PAULUS?

Ons lees in v.4 ~ In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal. Die vraag wat ons hier vir onsself moet afvra is, “hoe bid Paulus vir die gemeente in Filippi?” Hy verskaf self die antwoord: Hy bid met ’n hart vol vreugde. Paulus gee deur hierdie opmerking aan ons ’n kykie in sy heilige wandel met die Here. Ten spyte van sy besige lewe het hy steeds tyd en máák hy tyd om vir sy broers en susters te bid. En let op, dat hy sê dat hy vir almal bid – hy slaan niemand oor nie – almal!

Hy bid egter nie net vir almal, elke keer wanneer hy aan hulle dink nie, maar hy doen dit ook met blydskap en vreugde. Blydskap is een van die vrugte van die Heilige Gees en dit is die Heilige Gees wat hom dryf om vir andere te bid en daarom doen hy dit met blydskap.

Kom u agter watter wonderlike en voorbeeldige verhouding daar tussen Paulus en God bestaan? Ongeag sy omstandighede, gaan dit altyd oor Christus Jesus, want sy “alles” – sy verlede, sy hede en sy toekoms, word deur God aan Hom uit genade geskenk en hierdie intieme wandel en afhanklikheid van God word in vreugde volvoer. En só ’n intieme wandel met God, het nóg meer vreugde tot gevolg!

6. WAAROM BID PAULUS?

Ons het reeds gesien dat Paulus vir sy broers en susters bid, omdat hy hom verheug oor God se genade in hul lewens en omdat die Heilige Gees hulle op sy hart druk. Daar is egter nog ’n rede waarom hy vir hulle bid en ons vind die antwoord in v.5 ~ ... omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. Die feit dat hierdie gemeente nie alles net oorgelaat het aan die bediening van Paulus nie, maar dat hulle met entoesiasme saamgewerk het met Paulus, het nog dieper onderlinge verhoudinge tot gevolg gehad.

Paulus kon daarop staatmaak dat die gemeentelede met ywer en entoesiasme saam met hom daaraan gewerk het om die Evangelieboodskap uit te dra – dit blyk duidelik die geval te wees as ons o.a. ook na Fil.4:3 kyk ~ Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens van die evangelie, net soos Klemens ook en my ander medewerkers, wie se name in die boek van die lewe staan.

Hierdie samewerking aan die verkondiging van die Evangelie het egter ook ’n ander faset en dit kom duideliker na vore in ander vertalings en wel ook in die OAV ~ ...In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, 5oor julle gemeenskap aan die evangelie van die eerste dag af tot nou toe. Dit gaan dus ook daaroor dat hierdie gemeente saam erns gemaak het met die Woord van God. Hand.2:42 sê vir ons (en ek lees voor uit die NASB omdat dit so pragtig daarin gestel word) ~ They were continually devoting themselves to the apostles’ teaching and to fellowship, to the breaking of bread and to prayer. Hierdie gemeente was dus “uitverkoop-ernstig” oor die Woord van God; die prediking; gemeenskap van die gelowiges; die sakramente en die gebed – ’n voorbeeld van ware kerkwees. Kerkwees en alles wat daarmee gepaard gaan, het dus absoluut voorop gestaan in hierdie gelowiges se lewe – alle ander dinge het tweede viool gespeel.

7. WAT BID PAULUS?

Ten slotte wil ek hê dat ons sal kyk na wat Paulus vir sy broers en susters in Filippi bid.

· Eerstens sien ons in v.6 dat hy bid ... dat God, wat die goeie werk in (hulle) begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. Hierdie vers is waarskynlik dié mees bemoedigende teksvers in die ganse Bybel, want hierdie vers is die “basis-vers” vir die leerstuk oor die volharding van gelowiges (die “P” van die Engelse akroniem “TULIP” – sien verlede week se preek – 14 Nov.2010).

Ons as mense pak só dikwels dinge aan, net om dit na ’n rukkie maar te laat vaar – dink aan oefenapparate wat ten duurste aangekoop word. Dink aan nuwejaarsvoornemens, ens. God is egter nie so nie – Hy begin nooit iets wat Hy nie deurvoer nie – Nooit nie! Jesus het self in Joh.10:27-29 die volgende gesê ~ My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. 28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29 Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.

Hier in Fil.1:6 gaan dit egter oor meer as bloot net die volharding van die gelowiges, want Paulus sê dat God ’n “goeie werk” in die gelowiges begin het. Wat is hierdie “goeie werk”? Ons vind die antwoord baie duidelik hier in 1:6, maar Rom.8:29 is nog duidelik daaroor ~ Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. God se doel met ons uitverkiesing is dus dat ons in hierdie lewe gelykvormig sal word aan Jesus Christus. En ons kan net gelykvormig word aan Christus en groei in heiligmaking, as ons ten volle op Christus vertrou vir ons geestelike groei en heiligmaking.

Dit is dan presies ook wat Paulus bid, nl. dat die gelowiges sal leer om op Christus te vertrou vir hul heiligmaking en hulle kan volkome op Hom vertrou hiervoor, want wanneer God ’n werk begin, handel Hy dit volmaak af.

· Tweedens bid Paulus in v.9 en 10, dat hulle gevul sal word met liefde. Hy bid egter dat hulle gevul mag word met oorvloedige liefde, maar ook met onderskeidende liefde. Om te beskik oor onderskeidende liefde is om te onderskei tussen dít wat reg en verkeerd is en jou “hart te verloor” op dit wat reg is.

Laastens bid Paulus in v.11 dat die gemeente in Filippense, die vrug van die wedergeboorte sal dra. Wat Paulus dus hier sê, is dat die gelowiges se wedergeboorte nooit maar net "kopkennis en –oortuiging” mag wees nie, maar dit moet uitloop op vrug. Die wêreld moet dus nie net hoor van ons wedergeboorte nie – hulle moet dit eerstens en laastens in en deur ons lewe sien – hulle moet dit ervaar. En wat meer is, hierdie vrug moet meer en meer word. Joh.15:1-2 sê ~ Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2 Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Hierdie groeiproses gaan gewoonlik gepaard met seerkry – die snoeiproses – maar hou moed, daar gaan meer vrug aan die einde van die dag wees!

Sunday, November 14, 2010

Die Eerste Brief van Petrus - 18 (Onweerstaanbare Genade)

1. SKRIFLESING:

1Pet.5:10-14 ~ 10God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. 11Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen. 12Silvanus, wat na my mening ’n getroue broer is, het vir my hierdie kort briefie aan julle op skrif gestel. Ek het geskrywe om julle te bemoedig en julle te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan hierin vas! 13Die gemeente in Babilon, ’n uitverkore gemeente net soos julle, asook Markus, my seun, stuur vir julle groete. 14Groet mekaar met ’n soen van Christelike liefde. Vrede vir julle almal wat in Christus is! 

2. INLEIDING:

Ons het verlede week reeds begin kyk na Petrus se afsluitingswoorde in hierdie eerste brief van hom en hy sê dan nou ten slotte in v.10 ~ God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.

Petrus sê dus in geen onduidelike taal dat God dié Een is wat genade uitdeel en hierdie genade wat Hy gee, lei uiteindelik tot ons saligheid, wanneer ons, soos hy dit stel, in Christus Jesus, deel sal kry aan Sy ewige heerlikheid. Dit is so pragtig in ooreenstemming met die vyf punte van die “Leerstuk van Genade” (of die “5 Punte van Calvinisme”) en dan spesifiek met die vierde punt, nl. onweerstaanbare genade, of soos ons al in die verlede gesien het, die “I” van die Engelse akroniem “TULIP” wat ’n samevatting is van die vyf punte van die “Leerstuk van Genade”. Hierdie punte, net ter wille daarvan dat ons, ons geheue weer kan opskerp, is:

T = “Total Depravity” (Radikale Verdorwenheid);

U = “Unconditional Election” (Onweerstaanbare Uitverkiesing);

L = “Limited Atonemet” (Toegspitste Versoening);

I = “Irisistable Grace” (Onweerstaanbre Genade) en

P = “Perseverance of the Saints” (Volharding van die Heiliges).

Ek wil graag begin deur aan die hand van ’n kort verhaaltjie, hierdie hele saak van God se genade te verduidelik: ’n Ouer paar het twee pragtige kinders – dit is ’n identiese tweeling. Beide kinders is skrander, aantreklik, hardwerkend, goed gemanierd, suksesvol, talentvol. Beide kinders het van Jesus “aan moederskoot” gehoor; beide het die jeugbyeenkomste by hul kerk bygewoon, maar toe hierdie kinders volwasse raak, wil die een niks van God en Sy gebod weet nie, terwyl die ander een, die Here dien met sy hele hart en verstand en lewe! Is dit ’n realistiese prentjie? O ja, ek dink dit is, want almal van ons kan met hierdie scenario identifiseer, óf direk, óf indirek – almal van ons weet in elk geval van sulke gesinne, indien ons dit nie persoonlik in ons eie gesinne beleef nie.

Ons vind so ’n gesinsopset ook in die Woord van God, waar die een seun, God dien en die ander nie – dieselfde ouers; dieselfde milieu; dieselfde tyd in die geskiedenis – ek praat van Jakob en Esau.

Waarom gebeur dit? Waarom reageer twee kinders uit dieselfde omstandighede, op twee verskillende maniere? Waarom glo die een in Christus Jesus en die ander verwerp Jesus Christus?

Die Woord van God verskaf aan ons ’n baie duidelike antwoord hierop en dit word onweerstaanbare genade genoem.

3. AGTERGROND:

Sekerlik een van die mees bekende verhale wat onweerstaanbare genade illustreer, is dié van Lidia die purper- of wolverkoopster – kom ons lees daarvan in Hand.16:9-15 ~ Daar (dit is in Troas) het Paulus in die nag in ’n gesig ’n Masedoniese man gesien wat by hom staan en hom smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.” 10 Nadat Paulus die gesig gesien het, het ons so gou as moontlik gereed gemaak en na Masedonië toe vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig. 11 Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na Samotrake en die volgende dag na Neapolis toe. 12 Daarvandaan is ons na Filippi toe, ’n belangrike stad in daardie deel van Masedonië en ook ’n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons ’n paar dae gebly. 13 Op die sabbatdag is ons na die rivier toe buitekant die stadspoort, omdat ons gedink het daar sou ’n Joodse bidplek wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. 14 Een van dié wat geluister het, was ’n vrou met die naam Lidia, wat die Joodse geloof aangeneem het. Sy het handel gedrywe met pers wolmateriaal en was van Tiatira afkomstig. Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. 15 Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.” En sy het ons oorreed om dit te doen.

Lidia word allerweë beskou as die eerste Europese bekeerling. Sy was ’n baie suksesvolle handelaar in eksotiese pers wolprodukte. Die kleur, pers was destyds die teken van hoë amptenare en koninklikes. Die pers kleur is verkry van die “Murexskulpvis” wat volop was in die Mediterreense see by Filippi. Filippi is in die noord-oostelike kant van die huidige Griekeland, net suid van Bulgarye, geleë. Net interessantheidshalwe: Hierdie pers kleurstof is verkry van ’n klein kliertjie (Engels = hypobranchial gland) langs die rektum van die Murexskulpvis en dit het nagenoeg 12 000 van hierdie skulpvisse geneem om 1,5 gram pers kleurstof te versamel!

Ons het dan gesien, dat Paulus en sy vriende ná ’n gesig wat Paulus gehad het, na Filippi gaan. Hulle het egter nie sommer net in die stad ingevaar en begin evangeliseer nie. Hulle gaan eers na die rivier om hulleself te verfris na ’n lang reis en ook om waarskynlik te bid en planne te beraam voor hulle in die stad ingaan, want dit is nie alleen belangrik om te weet waar God wil hê dat ons sal werk nie, maar ook wanneer en hoe.

Die Joodse gemeenskap in Filippi moes baie klein gewees het, want daar was nie eens ’n sinagoge nie (die vereiste: Tien Joodse mans, dan kan ’n sinagoge gebou word) – die enigste bymekaarkomplek vir gebed vir die Jode, was by die rivier en dit is dan ook hier waar Paulus en sy vriende, op ’n klompie Proselitiese vroue afkom (heidene wat tot die Judaïsme bekeer is).

Paulus het dadelik die Evangelie van Jesus Christus met hierdie vroue gedeel en wat vir ons van belang is, is vers 14c ~ Die Here het haar (dit is Lidia) vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak.

Die Here het dus Lidia se hart oopgemaak vir die waarheid en sy het geglo en is gered. Sy het haar onbeskroomd geïdentifiseer met Jesus Christus en is daar en dan gedoop.

Ons moet vir geen oomblik dink dat Lidia tydens haar wedergeboorte, passief was nie – nee, sy het aandagtig geluister na die Woord wat Paulus met haar gedeel het – en daardie selfde Woord het haar vry gemaak en haar as sondaar na haar Redder gebring – dit is presies in ooreenstemming met Joh.5:24 ~ Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.

Paulus skryf aan die broeders in Tessalonika ~ Ons moet God altyd vir julle dank, broers. Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo (2Tes.2:13-14). Dit is presies dieselfde wat hier met Lidia gebeur het - God het Lidia eensydig en uit genade gered.

Dit is ook presies dieselfde wat die Here met die dissipels in Luk.24:45 gedoen het ~ Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. Hierdie woord “open” of “opmaak”, is in die Grieks διηνοιξεν (dianoigō), wat verwys na ’n dubbel voudeur waarvan albei deure oopgemaak word. Maar dit beteken verder, dat net Jesus hierdie deur kan oopmaak.

Ook in Lidia se geval het ons dan gesien, is sy nie alleen ontvanklik gemaak vir die Woord nie, maar haar hart is ook geopen. In die lewe van ’n onbekeerde, is sy hart net so gesluit as wat Jerigo aanvanklik vir die Israeliete gesluit was ~ Jerigo was gesluit en verskans teen die Israeliete; niemand het uitgegaan of ingekom nie (Jos.6:1), maar as Christus egter deur Sy Gees na so ’n onbekeerde kom, sál hy ontvanklik raak vir die Woord en sál sy hart verander, daarom dat ons in Openb.3:20 lees ~ Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.

Wat was die gevolg van hierdie wonderwerk in Lidia se lewe?

· Sy het met erns kennis geneem van God se Woord en sy het nie alleen net kennis geneem daarvan nie – sy het die Woord onmiddellik begin toepas in en op en deur haar lewe – die feit dat sy die kennis begin toepas het, was bewys dat daar vrug in haar lewe was – dit help ons nie ’n snars, as ons met al die wonderlikste kennis van die Woord en teologie in ons koppe sit, maar ons lééf dit nie. Nancy Leigh DeMoss sê in haar boek “Lies Women Believe and The Truth That Sets Them Free” (p.122), die volgende: The essence of Satan’s deception is that we can live our lives independently of God. The Enemy doesn’t care if we “believe” in God, if we are doctrinally orthodox, or if we fill our schedules with a lot of “spiritual activities,” as long as he can get us to run on our own steam, rather than living in conscious dependence upon the power of the Holy Spirit. Sy gaan voort en sê: If he can get us to try to “live the Christian life” without cultivating an intimate relationship with the Lord Jesus, he knows we will be spiritually impotent and defeated, If he can get us to do a great many things “for God” without consciously seeking the will of God through His Word and prayer, we may stir up a lot of religious dust, but we won’t do Satan’s kingdom any real damage. If he can get us to operate on our own thoughts and ideas, rather than seeking the wisdom that comes from God, he knows we will eventually get sucked into the world’s destructive way of thinking.

· Lidia bely dat sy in Christus Jesus glo; sy laat haar doop en word deel van die Liggaam van Christus (Hand.16:15).

· Derdens het sy goedgesindheid teenoor Paulus en sy medewerkers betoon en hulle genooi om by haar aan huis te kom bly, trouens sy het daarop aangedring dat hulle daar moes kom bly – die O.A.V. sê, sy het hulle gedwing (Hand.16:15). Dit laat ’n mens dink aan Abraham wat daarop aangedring het dat die Engele by moes oorbly in Gen.18:3 ~ Hy het gesê: “Menere, u sal my ’n guns bewys deur nie by my verby te gaan nie.”

Ons sien dus duidelik deur hierdie pragtige verhaal van Lidia, dat hierdie vierde punt in die Leerstuk van Genade, nl. onweerstaanbare genade, ʼn logiese gevolg van die uitverkiesing is. Hierdie logiese gevolg is egter veel meer as blote teologiese logika – dit is suiwer Bybelse lering en geloof. Hierdie Leerstuk is dus nie bloot net ʼn reeks logiese punte wat deur ʼn klomp slim teoloë neergepen is nie – nee, dit is suiwere “Gods-openbaring” wat stelselmatig deur die Woord van God ontvou word.

4. BETEKENIS:

Wat dan, beteken dit as ons praat van onweerstaanbare genade? Ons weet dat wanneer die Evangelie in die kerk of daarbuite, uitgedra word, of wanneer die Woord gelees word, nie almal positief op hierdie oproep tot redding reageer nie. Nie elkeen word oortuig van sonde en aan sy nood aan Christus Jesus nie. Dit bevestig dan juis vir ons die feit dat daar twee roepings is. In die eerste plek vind ons ʼn uiterlike roeping en tweedens vind ons ʼn innerlike roeping.

E.g. verwys na die woorde wat deur die draer van die Evangelieboodskap gebring word. Hierdie woorde wat gepreek of uitgedra word, kan in verskillende harte, op verskillende wyses werk, wat ʼn verskeidenheid resultate tot gevolg kan hê. Daar is egter een ding wat dit nié kan doen nie – en dit is om redding van ʼn sondaar se siel te bewerkstellig. Om dit te bewerkstellig, moet die uiterlike roeping gepaardgaan met die innerlike roeping van die Heilige Gees, want dit is Hy wat oortuig van sonde en geregtigheid en oordeel (Joh.16:8). En wanneer die Heilige Gees uit genade iemand roep, is daardie roeping onweerstaanbaar – dit kan nie teengestaan word nie, want dit is ʼn manifestasie van God se onweerstaanbare genade.

Hierdie feit word keer op keer deur God se Woord bevestig:

· Joh.6:37 ~ Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. Elkeen wat dus deur die Vader uitverkies is, word aan die Here Jesus gegee en wanneer hulle aan Christus gegee is, sal hulle nie weer weggewerp word nie.

· Joh.6:44 ~ Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. Hier sê die Here Jesus vir ons, dat niemand uit sy eie na Hom kan kom nie – hulle kan slegs na Hom kom, as die Vader hulle na Jesus trek.

· Joh.6:45 ~ By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. Mense mag die uiterlike roeping van ʼn prediker hoor, máár dit is slegs diegene wat deur die Vader geleer word, wat sal reageer en na Christus kom. Daarom dat Jesus in Matt.16:17 gesê het ~ Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.

· Rom.8:14 ~ Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.

· Gal.1:15a ~ Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep.

· 1 Pet.2:9 ~ Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

· 1 Pet.5:10 ~ God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.

5. TEN SLOTTE:

Die Arminiane glo dat hierdie roeping van die Evangelie van Jesus, enersyds weerstaan kan word, máár dat dit andersyds ook aanvaar kan word – dit is dus die mens se keuse. Ons glo egter ook dat dit weerstaan kan word, inteendeel, ons glo dat alle mense dit van nature weerstaan – altyd weerstaan, omdat dit inherent deel van ons menslike en sondige natuur is en daarom is onweerstaanbare genade noodsaaklik om gered te word. M.a.w., een of ander “Mag” wat veel, veel groter is as ons geaardheid; as ons weerstand, is nodig om ons só aan te raak, dat ons nie anders kan as om in te gee en oor te gee nie.

Daar is drie “Magte” aan’t werk tydens uitverkorenes se redding:

· Die mens se wil.

· Die satan se wil.

· God se wil.

Die vraag is, wie gaan wen? Indien God se wil nie die oorwinnaar is nie, dan moet die duiwel se wil die oorwinnaar wees, want sy wil is veel groter as ons wil. Daarom kan slegs diegene wat deur God uitverkies is, as oorwinnaar uit die stryd tree en gered word, want God die Vader het diegene wie Hy uitverkies het, so lief, dat Hy Sy Seun Jesus Christus gestuur het om aan die kruis op Golgota, namens hulle, God se vloek op hul sonde op Hom te neem, waarna Hy die Heilige Gees gestuur het om elke uitverkorene te dring om Christus se offer namens hulle, te aanvaar om sodoende gered te word.

Daarom my liewe vriend en vriendin – jy wat weet dat jy nie gered is nie – indien jy vandag die roepstem van die Heilige Gees in jou hart hoor, moet jy nie uitstel nie, maar gehoor gee aan hierdie roepstem van God en jou lewe oorgee aan Jesus Christus en soos Lidia, gehoorsaam wees aan Hom en jou geloof in Hom in die openbaar verklaar deur o.a. gedoop te word. Dit is nie te laat nie en die feit dat jy vandag in jou hart aangeraak word, is bewys dat die Heilige Gees jou roep en vir jou sê dat God se onweerstaanbare genade nou in jou hart werksaam is.

En jy en ek wat uitverkies is en die knie voor Christus Jesus gebuig het – hoe raak hierdie feit van onweerstaanbare genade my en jou? Ons moet voortdurend in gedagte hou dat Jesus Christus, Sy lewe vrywillig afgelê het vir ons sonde en daarom moet ons voortdurend ons lewe leef in hierdie lig. Ons lewe (in al sy fasette) moet ’n lewe van dankbaarheid wees, toegewyd aan Christus Jesus. My gedagtes en my optrede; my spreke en my “luister” moet elke dag van my lewe, Christusgesentreerd wees en dit impliseer dat ek na Sy Woord sal luister en nie net toelaat dat dit my ore kielie nie, maar dat ek elke jota en elke tittel daarvan sal begin uitleef, ten einde my dankbaarheid teenoor die Vader en Sy Seun, Jesus Christus te betoon, vir onverdiende genade ontvang.

Saturday, November 13, 2010

Openbaring Ontsluit - 26 (Die Heilige Oorlog - 01)

1. INLEIDING:

Openbaring 12 bring ons by die begin van die tweede helfte van die boek. Die eerste elf hoofstukke van Openbaring het vir ons die oorwinning van Jesus Christus aangetoon deur Sy oordeel oor Jerusalem in 70 n.C. Dit was die einde van die “Joodse-era” of te wel die ou verbond. 70 n.C. kondig vir ons die volle instelling, of “lansering” van die nuwe verbond aan. Vanaf die dertiende hoofstuk en verder aan, sien ons die oorwinning van die kerk van Christus (wat natuurlik die direkte gevolg is van Christus se oorwinning). Die eerste gedeelte handel oor die verwoesting van die tempel en Jerusalem; die tweede gedeelte handel oor die totstandkoming van die nuwe Jerusalem – die kerk van die Here Jesus Christus. Beide gedeeltes handel oor God se getrouheid aan Sy verbond.

Dit is belangrik om daarop te let dat die ou verbond nie gekanselleer is en toe ’n nuwe verbond daargestel is nie. Wat gebeur het, is dat Israel die verbond verbreek het. God se verbond was ’n tweeledige verbond:

· Indien Israel God gehoorsaam het, sou God hulle seën.

· Indien hulle die verbond minag, sou hulle deur God vervloek wees (Lev.26, 28).\

God het dus nooit Sy verbond met Israel verbreek nie – hulle het die verbond self verbreek, terwyl hulle geweet het wat die gevolge daarvan sou wees. God is altyd getrou aan Sy verbond en dit is die hooftema van Openbaring.

In “ge-toebroodjie” tussen hierdie gedeeltes (1-11) en die res van Openbaring, vind ons Openb.12 – dit dien dus as ’n oorgang tussen die twee gedeeltes. Hierdie hoofstuk verskaf ook aan ons die agtergrond vir die hele profesie. Hierdie hoofstuk toon ook aan ons hoe dat God Sy nuwe verbond deur Christus tot stand bring, ten spyte van die feit dat die satan sy uiterste bes doen om God se plan in die wiele te ry. Dit gee voorts ’n kykie in die konflik waarin die kerk haarself bevind en steeds sal bevind, tot en met Christus weer kom en hierdie heilige oorlog word in drie gedeeltes in Openbaring 12 uiteengesit:

· Die vrou (12:1-6);

· Die vegter (12:7-12);

· Die oorlog (12:13-17).

Deurgaans deur die heilige oorlog sien ons die pragtige en bemoedigende waarheid dat Christus en Sy kerk die uiteindelike oorwinning oor die saad van die slang van hierdie wêreld behaal.

2. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

Openb.12:1-3 ~ Toe het daar ’n groot teken in die hemel verskyn: daar was ’n vrou met die son as kleed om haar, die maan onder haar voete, en op haar kop ’n kroon van twaalf sterre. 2 Sy was swanger en het geskree van die pyn, want die geboortepyne was daar. 3 Daar het ook ’n ander teken in die hemel verskyn: daar was ’n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe was daar sewe heerserskrone. 

Die eerste ding wat Johannes sien met die opening van hierdie hoofstuk, is ’n vrou wat deur ’n groot draak gejag word. Hierdie verse dek die geskiedenis van die heilige oorlog met spesifieke verwysing na Israel, trouens die ware Israel van God – die kerk van Christus. Hierdie gesig het twee hoofkarakters, nl. die vrou en die draak.

Johannes vertel ook vir ons wat hierdie groot teken (v.1) was, nl. ’n vrou met die son as kleed om haar, die maan onder haar voete, en op haar kop ’n kroon van twaalf sterre. Hierdie is die eerste gesig of visioen van die vroulike karakter in hierdie profesie. Maar wie is hierdie vrou presies? Weereens moet ons na die Ou Testament blaai vir die antwoord ~ Hy het ook nog ’n ander droom gehad en hy het dit vir sy broers vertel. Hy het gesê: “Ek het weer gedroom. Die son en die maan en elf sterre het voor my kom buig.” 10 Toe hy dit vir sy pa en sy broers vertel, het sy pa hom berispe en vir hom gesê: “Wat vir ’n soort droom is dit wat jy gehad het? Verbeel jy jou ek en jou ma en jou broers moet voor jou kom buig?” 11 Sy broers was afgunstig op hom, en sy pa het aan die droom bly dink (Gen.37:9-11). Dit is opmerklik dat Josef hier droom van dieselfde hemelliggame wat Johannes hier in Openb.12 sien: die son, die maan en die sterre. Josef het geen behoefte gehad om hierdie droom aan sy Pa uit te lê nie, want sy pa het die verklaring daarvan onmiddellik gesien. Jakob het verstaan dat die son ’n simbool was van hom; die maan het Rebekka gesimboliseer en die sterre was verteenwoordigend van Jakob se seuns en Josef was natuurlik die twaalfde ster, aangesien daar net 11 sterre in sy droom was, wat voor hom kom buig het. Aangesien Jakob se twaalf seuns die leiers van die twaalf stamme van Israel sou word, is Josef se droom baie duidelik daaroor dat Josef se droom na Israel verwys. Net so sien Johannes ook dieselfde hemelliggame en verwys dit ook na Israel. Maar aangesien ...nie almal wat nakomelinge van Abraham is, werklik kinders van Abraham (is) nie (Rom.9:7), ontstaan die vraag dus, na watter Israel verwys Johannes se visioen? Die antwoord word duideliker wanneer ons na die volgende vers kyk ~ Sy was swanger en het geskree van die pyn, want die geboortepyne was daar (12:2). Weereens word hier na Israel verwys as daar van die vrou gepraat word, aangesien daar kort-kort na Israel verwys word in die Ou Testament as ’n vrou in kraam (Jes.66:5-10; Jes.26:17-18; Miga 5:1-3). Die volk word uitgebeeld as ’n swanger vrou, omdat Israel uiteindelik die Messias gaan voortbring. Ek moet egter dadelik byvoeg dat wanneer hier van Israel gepraat word, daar nie na die etniese Israel verwys word nie, maar na die ware Israel onder die ou verbond (wat natuurlik hoofsaaklik uit etniese Jode bestaan het). Daar is baie mense wat glo dat al die Jode iewers in die toekoms, na Israel gaan terugkeer. Dit is wel so dat die Woord leer dat ’n groot aantal etniese Jode iewers in die toekoms hul oë op Christus gaan vestig en in Hom alleen gaan glo, maar daar is niks in die Woord wat daarop dui dat daar ’n massa terugkeer van Jode na Israel gaan wees nie.

’n Tweede hoofkarakter verskyn in v.3 op die toneel, nl. ’n groot vuurrooi draak. Alhoewel hierdie draak ’n mistiese figuur is, laat dit ons in geen twyfel wat die identiteit van hierdie draak is nie. Hy word later in Openb.12:9 as die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word, geïdentifiseer. Hierdie draak is iets verskrikliks en hy word voorgestel met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe was daar sewe heerserskrone. Hy het verder ’n buitengewoon kragtige stert gehad, wat ’n derde van die sterre van die hemel saamgesleep en hulle op die aarde gegooi het. Dit is dus baie duidelik dat die duiwel nie lyk soos wat Hollywood hom uitbeeld, nl. ’n klein rooi mannetjie met ’n lang vurk in die hand nie. Hollywood het van die satan, ’n karikatuur gemaak, terwyl die satan geen grap is nie. Hy is slu; veragtelik; gemeen; ’n moordenaar en ’n leuenaar.

Die rooi kleur van die draak verwys waarskynlik na al die bloed wat hy deur die eeue heen vergiet het, want hy was van die begin af, ’n moordenaar (Joh.8:44). Die mistiese gedeelte van hierdie draak, is die sewe koppe en tien horings. Wat moet ons met hierdie mistiese beeld maak, hoe moet ons dit verstaan? Baie pogings word deur verskillende groepe en oortuigings gemaak om dit te verklaar, maar dan neem nie een van hulle regtig die res van die Skrif in ag wanneer hulle dit probeer verklaar nie. Kom ons kyk na Dan.7:1-8 ten einde ons te help om hierdie beeld te verklaar ~ In die eerste regeringsjaar van koning Belsasar van Babel het Daniël ’n droom gehad en visioene gesien in sy slaap. Hy het die droom opgeskryf en die inhoud daarvan soos volg weergegee. 2 Hy het gesê: “In my nagtelike visioen het die wind uit al vier windstreke die groot see onstuimig laat word. 3 Vier groot diere het uit die see uit opgekom, en elkeen was anders as die ander. 4 Die eerste het soos ’n leeu gelyk en hy het arendsvlerke gehad. Terwyl ek kyk, is sy vlerke afgeruk en is hy opgelig, sodat hy op twee voete gestaan het soos ’n mens, en ’n mens se verstand is aan hom gegee. 5 Die tweede dier het soos ’n beer gelyk. Hy het op sy agterpote gestaan en het drie ribbebene in sy bek gehad. Daar is vir hom gesê: ‘Vreet maar! Vreet soveel vleis as jy wil!’ 6 En toe ek weer sien, was daar nog ’n dier, een soos ’n luiperd. Hy het op sy rug vier vlerke gehad soos dié van ’n voël. Hy het vier koppe gehad en aan hom is heerskappy gegee. 7 My nagtelike visioen het voortgeduur en toe ek weer sien, was daar ’n vierde dier, skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk. Hy het groot ystertande gehad en alles wat voorkom, verslind en vermorsel en wat oorgebly het met sy pote vertrap. Hy was anders as die vorige diere en het tien horings gehad. 8 Terwyl ek stip na die horings kyk, het daar ’n klein horinkie tussen hulle uitgekom, en drie van die ander is uitgeruk om vir hom plek te maak. Hierdie horing het mensoë gehad en ’n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het.

Daniël se visioen fokus hier op vier groot diere. Die eerste dier met die vlerke verteenwoordig Babilon. Die feit dat hierdie dier opgelig en ’n mensehart gegee is, mag dui op wat God met Babilon se groot koning, Nebukadneser, gedoen het (Dan.4).

Die tweede dier, met die drie ribbebene in sy bek, verteenwoordig waarskynlik die Mede-Persiese koninkryk. Die feit dat die beer homself opgelig en op sy agter pote gaan staan het, dui daarop dat die magsbalans in hierdie alliansie nie gelyk verdeel was nie, want die Perse was sterker as die Mediërs en het uiteindelik die oorheersende mag in die wêreld geword. Die drie ribbes in die beer se mond verteenwoordig die drie sterkste magte wat deur die Mede en Perse verower is, nl. Lydia, Egipte en Babilon (Lidia was ’n Ystertydperk-koninkryk wat in die moderne Turkse provinsies Manisa en Izmir geleë was. Babilon ’n was Stadstaat van antieke Mesopotamië en was in die huidige Al Hillah in die Babil provinsie van Irak geleë).

Die derde dier, was soos ’n luiperd met vier vlerke en dit het die Griekse koninkryke verteenwoordig. Toe Alexander gesterf het, is sy koninkryk verdeel tussen sy vier generaals: Ptolmey I, (wat Egipte en Palestina beheer het), Seleucus I (wat Sirië beheer het), Lysimahus (beheer Tragië en Klein-Asië) en Antipater en Cassander wat gesamentlike heersers oor Masedonië en Griekeland was. Hierdie kwartet van regeerders word uitgebeeld as die vier koppe (en waarskynlik die vier vlerke) van die luiperd.

Die vierde dier word beskryf as skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk, met groot ystertande. Hierdie dier het die Romeinse Ryk verteenwoordig. Daniël kon nie hierdie dier ten volle beskryf nie, want die gesig was te verskriklik, daarom dat hy sê, dat ... Hy anders (was) as die vorige diere en het tien horings gehad (ons sal later na die betekenis van hierdie tien horings kyk – Openb.13).

Elkeen van hierdie heidense nasies het Israel op een of ander stadium regeer. Indien ’n mens die koppe in Dan.7 sou neem, vind ons dat daar 7 koppe was (1+1+4+1=7), wat presies dieselfde hoeveelheid koppe is, as waaroor die “groot rooi draak” van Openb.12;3 beskik het. Elke kop het ’n kroon opgehad, wat op dui op lande (Ryke) wat op een of ander stadium, heerskappy uitgeoefen het oor Israel, maar volgens 12:3 sien ons dat die “groot rooi draak” elke keer agter elke heidense oorheersing oor Israel gesit het, behalwe dat Nebukadneser van Babilon uiteindelik gered is en die hart van ’n mens ontvang het. God se volk in die Ou Testament was voortdurend onder die beheer van heidense nasies, maar soos reeds gesê, was dit die “groot rooi draak” wat agter dit alles gesit het. Johannes se gesig is dus die geestelike-agter-die-skerms-kykie van die ware geskiedenis van God se ou verbondsvolk. Die motief van die sataniese aanslag teen God se volk was natuurlik primêr geloods om te verhoed dat die Messias uit die volk van God gebore sou word – daarom dat die volk uitgewis moes word.

3. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

Openb.12:4 ~ Sy stert het ’n derde van die sterre van die hemel saamgesleep en hulle op die aarde gegooi. Die draak het voor die vrou gestaan wat op die punt was om ’n kind te kry. Hy wou haar kind verslind sodra sy hom in die wêreld bring. Die draak se oorlogvoering word verder vir ons in bg. verse beskryf. Hier word aan ons verduidelik hoe die draak, die vyand van God geword het. Die beskrywing is kort en bondig ~ Sy stert het ’n derde van die sterre van die hemel saamgesleep en hulle op die aarde gegooi. Engele word dikwels in die Bybel as sterre beskryf. In hierdie vers lees ons dan van engele wat neergewerp is op die aarde. Dit blyk dus ’n verwysing te wees na Satan se aanvanklike val, waartydens hy een derde van die engele saam met hom geneem het. Hierdie is dus ’n verdere uitbreiding of voortsetting van Jes.14:12-15 ~ Jy wat die helder môrester was, het uit jou hemel geval. Jy wat ’n oorwinnaar van nasies was, is in die grond in verpletter. 13 En dit jy, jy wat gedink het: ek klim op hemel toe, ek gaan my troon neersit bokant die hoogste sterre, ek gaan my plek inneem op die berg waar die gode mekaar ontmoet, ver in die noorde; 14 ek klim op tot bokant die wolke, ek word soos die Allerhoogste self. 15 Maar jy stort af in die doderyk, af tot in sy diepste deel (sien ook Eseg.28:11-18). Die satan het maar net een doel voor oë ~ Die draak het voor die vrou gestaan wat op die punt was om ’n kind te kry. Hy wou haar kind verslind sodra sy hom in die wêreld bring (12:4). Regdeur die geskiedenis het hy een doel voor oë gehad, nl. om die Messias te vernietig. Waarom? Omdat, tot ’n bepaalde en gekwalifiseerde mate, hy in die Woord van God glo! Hy het geweet en hy glo dat die Nageslag van die vrou, sy kop uiteindelik sou vermorsel (Gen.3:15) en hy het elke moontlike “truuk in die boek” uitgehaal om dit te voorkom, want as hy eerste met die Messias kon afreken, sou die Messias nie met hom kon afreken nie.

Hierdie pogings van die satan om die Messias te vernietig, begin reeds met Kain en Abel, want uit een van hierdie twee sou die Messias voortkom en die waarskynlikheid was die grootste dat Hy vanuit Abel sou kom, want Kain het volgens 1Joh.3:12, ...aan die Bose behoort en sy broer vermoor. En dan vra Johannes die vraag: En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie dade sleg was en sy broer s’n reg. In die lig hiervan, vermoor die satan dan vir Abel aan die hand van Kain. Ongelukkig vir die bose het dit nie gewerk nie, want God stuur hierna vir Set, deur wie se bloedlyn, die Messias uiteindelik gebore sou word.

Ons sien in Gen.6, dat die satan reeds die aarde so “besoedel” het met sy boosheid, dat hy gedink het dat God die wêreld so straf vir hul boosheid en hulle derhalwe sou uitwis en dit sou dan tot gevolg hê dat Messias nie gebore sou word nie. Weer het hy nie geslaag nie, want ons sien in Gen.6:8, dat Noag genade gevind (het) in die oë van die HERE. God het Noag en sy seuns bewaar en dan spesifiek vir Sem, uit wie se nageslag die Christus gebore sou word.

Jare later nadat Israel onder die eerste ministerskap van Josef in Egipte, sekuriteit ervaar het, het Satan weereens ’n poging aangewend om die heilige lyn wat na die Verlosser sou lei, te vernietig. Toe die Farao senuweeagtig begin raak het oor die toename van die Israeliete se getalle, het hy onder die invloed van die Rooi Draak, opdrag gegee dat al die seuntjies (onthou: die Messias sou as ’n seuntjie in hierdie wêreld gebore word) onder die ouderdom van twee dood gemaak moes word. Weereens tree God in en word die seuntjie Moses bewaar – Moses die groot leier wat die volk uit Egipte sou lei na die Beloofde Land. Satan se pogings eindig egter ook nie hier nie, want terwyl die volk in die woestyn is, lei hy hulle in afgodery in, sodat God se oordele weereens oor die volk losbreek en spesifiek tydens die era van die Rigters. Hy poog om Dawid, die voorvader van Jesus, aan die hand van Saul te vermoor.

By twee geleenthede tydens die era van die verdeelde koninkryke, is die heilige lyn in Juda bykans uitgewis, maar God het telkens ingegryp en sy volk bewaar. Buitelandse magte is deur die satan misbruik om die koms van die Messias te verhoed: Assirië, Babilon, die Mede en Perse, die Grieke en die Romeine. Gedurende die Mede-Persiese regering, het die koning opdrag gegee dat die Joodse volk van die aangesig van die aarde, uitgewis moes word, maar God het vir koninging Ester gebruik om dit te verhoed.

Met die aanbreek van die Nuwe Testamentiese tydperk, vind ons dat Satan steeds nie bes gee nie. Herodes word as instrument gebruik om die opdrag wat die Farao lank terug gegee het, weer te herhaal, deurdat alle seuntjies onder die ouderdom van twee, gedood moes word. God verhoed weereens dat hierdie poging die koms van die Messias verhoed, deurdat Hy aan Josef opdrag gee om met Maria en die Jesus-kind na Egipte te vlug.

Toe dit duidelik blyk dat Jesus gebore is, probeer die satan nog ’n keer om Jesus van Sy Goddelikheid te ontneem, deur Hom in die wildernis te versoek, wat Christus dus self weerstaan het. Bo en behalwe sy poging in die wildernis, het Satan tydens Jesus se tydperk op aarde, verskeie pogings aangewend om Jesus om die lewe te bring – dink aan die godsdienstige leiers van Jesus se dag. God het Hom elke keer beskerm. En dan die einde – Jesus sterf aan die kruis op Golgota. Satan moes gedink het dat hy uiteindelik die oorwinning behaal het – Die Messias is dood en hy wat Satan is, se kop is nog heel! Maar dan vind die opstanding en Christus se hemelvaart plaas! Aan Christus word alle gesag in hemel en op aarde gegee (soos bewys o.a. in die val van Jerusalem nagenoeg 40 jaar later). Satan se kop is inderdaad verbrysel! Satan het gefaal!

Satan se pogings is absoluut futiel. Die goddelike nageslag sal altyd oorwin, al moet sy dikwels beproewing in die proses ervaar. Hierdie feit lê aan die hart van geestelike oorlogvoering. Dit is belangrik dat ons onmiddellik daarop moet wys, dat geestelike oorlogvoering soos in hierdie hoofstuk beskryf (en in die meeste gedeeltes van die Nuwe Testament) korporatiewe (gesamentlik) oorlogvoering is, m.a.w. die gelowige voer dit nooit op sy eie nie, trouens hy kan dit nie op sy eie voer nie. Daar word deesdae baie klem gelê op geestelike oorlogvoering, maar die klem word heeltemal te veel op individuele oorlogviering gelê (of dit ten minste gesuggereer), i.p.v. korporatiewe oorlogviering. Natuurlik moet elke individuele gelowige uitvoering gee aan Ef.6:10 (Soek julle krag in die Here en in sy groot mag), maar ons moet altyd in gedagte hou dat die satan se primêre aanslag teen die kerk eerder as individuele gelowiges is. Ons veg nooit alleen nie; ons veg in ’n “Christelike weermag”. Die Kerk moet die geveg veg in die krag van Jesus Christus.

1. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

Openb.12:5 ~ Sy het ’n kind in die wêreld gebring, ’n seun, bestem om al die nasies met ’n ystersepter te regeer. Haar kind is egter weggeruk na God en na sy troon toe. Ons het tot ’n mate al gekyk na die draak se mislukking, maar Johannes spel dit vir ons hier in v.5 nog duideliker uit. Die draak se pogings om die Kind te vernietig, het ons gesien, het op niks uitgeloop nie, want uiteindelik word Hy opgewek uit die dood en vaar Hy op na die hemel en begin Hy om oor al die nasies van die wêreld te heers.

Die Kruisgebeure word glad nie hier op die agtergrond geskuif nie, maar Johannes praat hier van twee bykomende hoofmomente in Christus se bediening, nl. Sy geboorte (Sy het ’n kind in die wêreld gebring) en Sy hemelvaart (Haar kind is egter weggeruk na God en na sy troon toe). God se plan was volbring – Hy het voorwaar die nasies met Sy ystersepter begin regeer (v.5)! Hierdie uitdrukking word verleen aan Ps.2:9 en word naas Ps.2, die meeste aangehaal in die Nuwe Testament. In Ps.2 vind ons beide Jood en heiden, wat saam in rebellie teen God verkeer. Hulle het beide daarna gesoek om alle vorme van gesag van hulle af te skud. God laat Hom egter nie intimideer deur mense nie en Sy teenoptrede is om die koms van Sy Seun aan te kondig, wanneer Hy sê ~ Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter, hulle flenters slaan soos ’n kleipot (Ps.2:9). Hierop gee God ’n opdrag aan hulle ~ Wees dan nou verstandig, konings, wees gewaarsku, regeerders van die aarde! 11 Julle moet die Here met ontsag dien, Hom met vrees en bewing toejuig 12 en Hom onderdanig wees, sodat Hy nie toornig word en julle op die pad omkom nie, want sy toorn ontvlam gou. Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek (Ps.2:10-12).

Die boek van Openbaring het een hooftema: Christus ontvang die volkere as Sy erfenis. A.g.v. die opstanding en hemelvaart, sal die Evangelie, alle nasies bereik en oorwin. Satan haat die Groot Opdrag, maar ten spyte van sy aanvalle teen die kerk, sal hy nooit die oorwinning behaal nie, want Hy kan nie meer wen nie, omdat sy kop reeds verbreisel is – en dit is rede genoeg om ons in te verheug!

2. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

Openb.12:6 ~ ...en die vrou het na die woestyn toe gevlug waar God vir haar ’n plek gereed gemaak het, sodat die mense haar daar vir twaalf honderd en sestig dae lank kon versorg. Die fokus verskuif nou weg van die draak na die vrou. Hier vind ons ’n beskrywing van die beskerming van die Joodse kerk na die hemelvaart en dan met spesifieke verwysing na Luk.21:20-24 ~ Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. 21 Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, 22 want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid. 23 “Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het, want daar sal groot nood in die land heers, en God sal hierdie volk straf. 24 “Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is. Gedurende die finale veldslag teen Jerusalem, het ons reeds gesien, het die gelowiges uit Jerusalem ontvlug na Pella waar hulle deur God beskerm is vir 3½ jaar (42 maande, 1 260 dae – ’n tyd, en tye en ’n halwe tyd).

Deurgaans deur die geskiedenis het Satan daarop gefokus om die Messias se koms te verhoed, of om Hom uit die weg te ruim. Elke poging wat geloods was, was teen God se kinders geloods, want vanuit hierdie heilige bloedlyn sou Christus kom. Teen die tyd dat Christus opgevaar het na die hemel, was dit baie duidelik (selfs vir die groot rooi draak self ook) dat die satan misluk het. Hy kon niks meer doen om die Messias se heerskappy te voorkom of te beëindig nie en daarom, in sy woede, rig hy sy aandag nou op die vrou. As hy Christus nie uit die weg kon ruim nie, kan hy ten minste probeer om die kerk te vernietig. Satan se primêre fokus sal aanvanklik gerig wees op die kerk in Jerusalem. Daar het in sy oë, waarskynlik ’n kans bestaan om suksesvol te wees in sy doelwit, tydens die Romeinse oorheersing en aanval teen Jerusalem. Maar selfs daarin het hy misluk, want Christus het Sy kinders beseël en afgemeet sodat hulle beskerm sou word (Openb.7:1-8; 11:1).

Hierdie beskerming word vir ons verder hier in v.6 beskryf. God het vir hulle ’n plek in die wildernis voorberei, by name Pella, waarheen Sy kinders sou vlug ten einde die verwoesting van Jerusalem te ontkom. Daar was weliswaar erge vervolging teen die kerk van die Here Jesus gedurende die Joodse oorloë, maar God was getrou en het hulle deurentyd beskerm. God se wraak en oordele sou eerder op die afvallige Israel val, eerder as op die kerk.

Daar in Pella, was die kerk vir 1 260 dae gevoed en versorg. Onthou: Hierdie tydperk van 1 260 dae, was presies die tydperk wat die Joodse oorlog geduur het. God het Sy kinders (die kerk) uit die oorlogsone in Jerusalem verwyder en hulle derhalwe beskerm terwyl die afvallige Israel verwoes is. Hierdie Goddelike versorging en voeding van die kerk, herinner ’n mens nogal aan Elia se ervaring toe hy weggevlug het van koning Agab en koningin Isébel ~ Elia die Tisbiet was ’n bywoner uit Gilead. Hy het vir Agab gesê: “So seker as die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan, daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie, behalwe as ek so sê.” 2 Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê: 3 “Gaan hiervandaan af ooswaarts en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan. 4 Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.” 5 Hy het gedoen soos die Here aan hom opgedra het. Hy het daar in Kritspruit gaan bly, anderkant die Jordaan. 6 Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink (1Kon.17:1-6).

Net soos wat God vir Elia beskerm en versorg het, net so het Hy Sy kinders versorg en beskerm teen die aanslag van die groot rooi draak. Wanneer dit wil voorkom asof die satan die kerk domineer, kan ons altyd die versekering hê dat God Sy oorblyfsel sal beskerm. Daarom hoef ons niks te vrees nie! God het altyd in die verlede en sal altyd in die toekoms, Sy ware Israel beskerm!