Sunday, January 16, 2011

PAULUS SE BRIEF AAN DIE FILIPPENSE ~ 06 (“Die Gelowige se Lewenswedloop”)

1.     INLEIDING:
Verlede week het ons gesien dat Paulus sy lewe in oënskou geneem het en sy bates en laste teen mekaar opgeweeg het.  Hy het aan die einde ook gesien dat daar maar net een inskrywing aan sy bate kant gemaak kan word ten einde gered te word en dit is Jesus Christus.  Hy het egter ook voortgegaan en vir ons daarop gewys dat niks op aarde meer kosbaar kan wees as sy uitverkiesing in Christus Jesus nie, maar hy het terselfdertyd ook begeer om in Christus se opstandingskrag deel te hê, ten einde hom te help om geestelik te groei, maar primêr om Christus te verheerlik.  En dan het hy ook begeer om deel te hê in Christus se lyding, want daardeur sou hy meer en meer soos Christus word, want soos Christus vir ons sonde gesterf het, net so wil Paulus en moet ons, daagliks sterf aan ons eie sonde en derhalwe heilige lewens lei.  En die prys op dit alles? Die opstanding uit die dood!

2.     SKRIFLESING:
Fil.3:12-16 ~ Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. 13 Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14 Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. 15 Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. En as julle in enige opsig anders daaroor dink-God sal ook hierin aan julle die regte insig gee. 16 In elk geval, laat ons koers hou op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het. 

In hierdie gedeelte wat ons nou pas gelees het, sal ons sien dat Paulus vir sy lesers sê dat hy homself inspan om sy lewensdoel te bereik en hy doen ’n beroep op sy lesers om dieselfde te doen.  Hy rig hierdie oproep onder die volgende opskrifte:
·           Sy doelwit (v.12);
·           Sy strategie (v.13);
·           Sy oorwinnaarsprys (v.14);
·           Sy voorbeeld (v.15), en
·           Sy oproep (v.16).

3.     SY DOELWIT:
Paulus begin v.12a deur te sê ~ Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie.  Wat sê hy daardeur?  Ten einde dit te antwoord moet ons na vv.10-11 kyk ~ Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11 in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.  Wat is dus die “alles” en “die doel” wat hy nog nie bereik het nie?  Dit is om Christus te ken, Sy opstandingskrag te ervaar en gelyk aan Hom te word in Sy dood.

Hy gaan dan voort in v.12b en sê ~ ... ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.  Hy sê dat hy homself inspan, juis omdat hy nog nie sy doelwit bereik het nie en sy doelwit is om Christus te ken; Sy opstandingskrag te ervaar; gelyk aan Hom te word in Sy dood en om geestelike volwassenheid te bereik.  Hy weet maar te goed dat hy nog in hierdie lewenswedloop gewikkel is en dat hy nog nie die eindstreep gehaal het nie – dat hy nog nie geestelike volwassenheid bereik het nie.

In 1Tim.6:12 sê Paulus vir ons wat hierdie wedloop behels ~ In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê.  Hierdie lewenswedloop waaraan almal van ons deelneem, gaan daaroor dat ons die ewige lewe as prys sal behaal.  Dit gaan egter nie daaroor dat ons die ewige lewe deur goeie werke kan ontvang nie.  Nee, die klem val op v.12b, nl. dat dit gaan oor ons goeie belydenis wat ons moet uitleef teenoor alle mense.  Hy sê voorts in 1Kor.9:25 dat hierdie wedloop daaroor gaan, dat ons onsself sal ontsê van allerlei dinge en hy sê verder in v.26 ~ ...ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer.  Hierdie wedloop waaraan Paulus dus deelneem en waartoe hy sy lesers en ook elkeen van ons wat onsself gelowiges noem oproep, is ’n lewe van heiligmaking en geestelike groei, sodat ons ’n lewende getuienis kan wees teenoor die wêreld daarbuite – dit is waartoe ons geroep word, want daardeur word God ook verheerlik.

En waarom wil Paulus al hierdie dinge bereik?  Waarom wil hy hierdie doel bereik?  Hy verskaf die antwoord in v.12c ~ ... omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.  Paulus jaag hierdie dinge na, omdat hy soos Christus wil word.  Waarom?  Omdat Christus hom gered het!  Omdat Christus Jesus hom Syne gemaak het.

4.     SY STRATEGIE:
Paulus verduidelik aan sy lesers hoe hulle hierdie doelwit kan bereik, deur sy eie strategie met hulle te deel en hy is baie eerlik daaroor wanneer hy sê dat hy nog nie daardie doelwit bereik het nie, daarom dat hy in v.13 sê ~ Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie.  Hy is nie selfvoldaan oor sy eie geestelike toestand nie.  Hy verbeel hom nie dat hy geestelik al “gearriveer” het nie, trouens hy is kru eerlik en openlik daaroor dat hy nog oppad na die eindstreep toe is en wanneer hy dit sê het hy steeds die voorbeeld van die atleet wat aan die wedloop deelneem in gedagte en hy weet dat die eindstreep eers die dag sal aanbreek wanneer die Here Jesus hom kom haal – intussen moet hy homself steeds inspan om geestelik te groei. 

Hy besef dus dat sy wedergeboorte maar net die begin van sy regverdigmakingsproses was en dat hierdie proses voortgesit moet word deur heiligmaking en hierdie heiligmaking kan net in volharding geskied – hy moet homself daagliks en voortdurend inspan om te volhard in heiligmaking, totdat die wedloop voltooi word – totdat hy verheerlik word.

Paulus deel hierdie feit met sy lesers, omdat hy weet dat daar baie mense is wat sê en glo dat hulle geregverdig is deur Christus se soendood, maar dat hulle geen poging aanwend om in heiligheid te groei nie.  Johannes beskryf hierdie situasie so in die kol  wanneer hy in Openb.3:1 die volgende van die gemeente in Sardis sê ~ Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.  In Openb.3:17 sê Johannes die volgende van die gemeente in Laodisea ~ Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,” en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal.

Wat is Paulus se strategie om hierdie doelwit te bereik?  ’n Mens sou verwag dat hy iets sou sê soos dat hy elke dag die Woord lees en in gebed verkeer, ens. En natuurlik is die Woord en gebed, ens. van die uiterste belang om hierdie doelwit te bereik, maar hy noem twee dinge in v.13 wat hy heel eerste doen:
·           Eerstens sê hy, dat hy homself losmaak van die dinge wat agter is.  Dit wat in die verlede gebeur het en dit wat in die verlede deel van sy lewe was – dié lê hy af.  Jesus het hierdie belangrike woorde in Luk.9:62 gesê ~ Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.  In hierdie gelykenis wat Jesus vertel het, wou Hy vir Sy luisteraars baie duidelik laat verstaan, dat Hy nie halfhartige dienswerk van Sy volgelinge aanvaar nie.  As jy ’n land ploeg, moet jou volle en voltydse aandag op jou taak gerig wees, anders gaan jy krom en skeef ploeg.  Daarom moet elke mens wat begeer om deel van Christus se Koninkryk te wees, nie toelaat dat enige iets sy aandag aftrek van sy fokus en sy heilige roeping nie.

Algehele toewyding aan Sy diens en onvoorwaardelike getrouheid aan die roeping waartoe Christus ons roep en gehoorsaamheid aan Sy Woord, is die twee ononderhandelbare voorvereistes om ’n ware volgeling van Jesus Christus te wees.  Hiersonder kan ons onsself nie kinders van God noem nie.

Die erns en voorreg om ’n volgeling van Christus te wees, is so geweldig, dat daar geen ruimte vir verskoning is, deur kompromie met die wêreld te maak, of om halfhartige, lou-warm Christene te wees nie.  Wat ’n vertroosting om te weet dat Jesus Christus wat ons gered en geroep het om Sy volgelinge te wees en om Hom heelhartig en toegewyd na te volg, self die pad van selfverloëning geloop het en derhalwe aan ons ’n volmaakte voorbeeld gestel het – ’n navolgenswaardige voorbeeld en dit is juis hierdie navolgenswaardige voorbeeld wat lei tot Paulus se tweede strategiese doelwit.

·           Paulus sê dan tweedens in v.13, dat hy homself uitstrek na wat voor is.  Hy neem ’n nuwe visie op; ’n nuwe doelwit; ’n nuwe roeping.

5.     SY OORWINNAARSPRYS:
En wat lê vir Paulus in die toekoms voor, waarna hy hom uitstrek?   Hy verskaf aan ons die antwoord in v.14 wanneer hy sê ~ Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.  Paulus ontwikkel ’n ewigheidsperspektief.  Hy het net een doel voor oë en dit is om sy hemelse prys te behaal – sy oorwinnaarsprys! 

Dit is baie belangrik dat ons net onmiddellik eers vir mekaar sal sê, dat dit weereens nie hier  gaan oor Paulus, of ons eie poging, om die eindstreep te bereik nie.  Die gedagte wat hier deurgegee word is dat ons as uitverkore gelowiges se pad reeds deur God se genadewerking, uitgemerk is en die lint is reeds by die wenstreep gespan (voor die era van elektroniese foto-apparaat by atletiekbyeenkomste het die baanbeoordelaars ’n lint oor die wenstreep gespan, ten einde te kon sien wie die lint eerste breek).  Wat die gelowige dus moet doen, ten einde in hierdie baan te bly en die “wenlint” te breek, is om getrou te bly aan die waarheid en ’n getuienis te wees deur sy gehoorsaamheid en geloof.  En dít is die doel wat Paulus voor oë het – dít is die “kanaal” waarlangs hy sy energie inspan en fokus.

Paulus sê in 1 Kor.9:24 ~ Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen.  Om aan hierdie lewenswedloop deel te neem waarvan Paulus hier praat vereis baie streng dissipline – soos ’n atleet wat hardloop vir goud.  Die prys vir Paulus is nie ’n tydelike kroon wat deur mense uitgedeel word nie, maar die ewige kroon wat deur Christus gegee word.  Dit is waarom hy vroeër in 1Kor.3:13 gesê het ~ ...elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets.  En in 2Kor.5:10 sê hy ~ Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.

Ons as gelowiges neem nie aan hierdie wedloop deel ten einde gered te word nie, maar omdat ons reeds uit genade deur ons geloof in Jesus Christus gered is.  Maar óók omdat, soos Paulus dit aan Timoteus gestel het ~ Hy ons gered (het) en ons geroep (het) om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het (2Tim.1:9).

6.     SY VOORBEELD:
Op die oog af sê Paulus iets baie eienaardigs in v.15.  Hy sê dat almal wat geestelik volwasse is, hierdie selfde gesindheid van hom moet hê, waarvan hy so pas gepraat het en derhalwe sy voorbeeld moet navolg, deur hulle in te span om die wenstreep te bereik.  Dit klink so asof hy homself hier weerspreek, want in v.12 het hy gesê dat hy juis nie geestelik volwasse is nie. 

Ons moet verstaan dat Paulus in v.12 verwys na ’n afgehandelde proses  waarby hy nog nie uitgekom het nie, terwyl daar mense is wat reeds ver gevorder het op die pad van heiligmaking (en hy sluit homself in by hierdie groep – daarom dat hy in v,15 sê ~ Ons almal wat geestelik volwasse is) en natuurlik verwys hy ook na mense wat dink dat hulle reeds volmaakte geestelike volwassenheid bereik het (en daar is werklik sulke mense).  Paulus moedig egter elkeen van hierdie groep mense aan om steeds daaraan te werk om geestelik te groei, want nie een van hulle het reeds hul lewenswedloop op daardie stadium voltooi nie – die wenstreep lê nog voor!

Die probleem met baie gelowiges is dat hulle dink dat hulle reeds “gearriveer” het en daarom hoef hulle niks te doen t.o.v. hul geestelike groei nie – Paulus waarsku egter diesulkes in 1Kor.3:15, wanneer hy sê dat hulle nie hulle redding sal verloor nie, maar dat hulle van hulle belonings sal verloor ~ ...as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is.

In v.12 praat Paulus dus van ’n uiteindelike volmaak geestelike posisie waarin gelowiges sal verkeer wanneer hulle lewensloop oorgegaan het in verheerliking.  Terwyl hy in v.15 verwys na ’n relatief geestelik volwasse posisie waar daar steeds ruimte vir groei is.  Dit blyk duidelik uit die feit dat hy in v.12 ’n werkwoord gebruik wat in die voltooid teenwoordige tyd  (perfektum) geskryf is, terwyl hy in v.15 gebruik maak van ’n selfstandige naamwoord. 

Die geestelik volwasse gelowige is dus ’n gelowige met ’n onbesproke karakter wat ’n navolgenswaardige voorbeeld aan almal rondom hom stel.

7.     SY OPROEP: 
In v.16 rig Paulus ’n oproep tot sy lesers ~ In elk geval, laat ons koers hou op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het.  Letterlik staan hier:  Laat ons in ooreenstemming met die pad wat ons tot nou toe geloop het, op dieselfde wyse voortgaan. 

Een van die grootste behoeftes wat by ons as gelowiges bestaan is om vol te hou en te bly vashou aan dít wat ons in die verlede in Christus ontvang het.  Meer nog, die meeste gelowiges leef ver onder dít wat ons in Christus ontvang het en wie ons werklik in Christus is, nl. dat ons geregverdig is in Hom.  M.a.w. ons ís heilig verklaar; ons hét klaar gemaak met sonde; ons name ís opgeskryf in die hemel, maar ’n ou-ou truuk van die satan, is om ons gedurig aan hierdie posisie van ons in Christus te laat twyfel en onsself te vertel dat ons tog nie wederbaar is nie, want kyk net hoe sondig is ons.

Wat belangrik is, is dat ons in ooreenstemming moet leef met die waarheid wat ons deur ons geestelike lewe tot nou toe ontvang het.  Ons moet nie toelaat dat dit wat Paulus van die Galasiërs gesê het, ook van ons gesê word nie ~ Julle was so goed op pad. Wie het julle verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam? (Gal.5:7).  En in Openb.3:3 sê Johannes ~ Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle. As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ’n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie. Daarteenoor moet ons eerder die woorde van die Hebreërskrywer in gedagte hou, wat gesê het ~ En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie (Hebr.10:38).

Laat Paulus se woorde hier in v.16, saam met die woorde van Hos.6:3 voortdurend in ons ore weerklink ~ Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy. Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreën, Hy sal ons verkwik soos lentereëns die grond verkwik.

8.     AFSLUITING:
Geliefdes, ons moet ons losmaak van die dinge wat agter is – ook ons sondige verlede waarvoor ons reeds vergifnis ontvang het.  Ons moet nie toelaat dat enige iets of iemand ons aandag en fokus aftrek van ons heilige roeping nie en daarom moet ons, ons uitstrek na dit wat voor is.  Ons moet ’n nuwe visie; ’n nuwe doelwit; ’n nuwe roeping opneem en ons moet voortdurend toesien dat ons karakter onbesproke en navolgenswaardig is en daarom moet ons daarop fokus om in ooreenstemming te leef met die waarheid wat ons deur ons geestelike lewe, tot nou toe ontvang het.

Sunday, January 9, 2011

PAULUS SE BRIEF AAN DIE FILIPPENSE ~ 05
(“Die Gelowige en sy Kosteberekening”)

1.     SKRIFLESING:
Fil.3:1-11 ~ Verder, my broers, wees bly in die Here! Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie, en vir julle gee dit sekerheid. 2 Pas op vir daardie dwaalleraars; pas op vir daardie mense wat kwaad stig; pas op vir daardie betekenislose besnydenis! 3 Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie. 4 Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: 5 ek is op die agste dag besny, van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseër, 6 in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik. 7 Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8 ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9 en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. 10 Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11 in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

2.     INLEIDING:
Ons fokus val vanoggend op vv.4-11.  Paulus benader hierdie gedeelte in sy brief op ’n baie interessante wyse.  Ons kan dit amper vergelyk met boekhouding, waar die debiete en krediete aan die orde van die dag is.  Of waar ’n mens ’n gewigtige besluit moet neem en jy die voor- en nadele teen mekaar opweeg – jy skryf die voordele aan die eenkant neer en die nadele aan die anderkant en dan kan jy ’n meer realistiese en verantwoordelike besluit rondom die uitkoms van jou besluit neem.

Paulus sê in hierdie gedeelte dat hy die voor-en nadele teen mekaar opgeweeg het en dat hy tot die slotsom gekom het dat al sy menslike pogings om Christus as Verlosser te wen, hom niks in die sak gebring het nie, trouens hy sê dat hy al sy eie pogings aan die debietkant, of die nadele-kant geskryf het en aan die voordelekant het hy net die naam, Jesus Christus” geskryf en hy het besef dat dít genoeg was.

3.     PAULUS SE PROEFBALANS:
Ons moet besef dat die gevolgtrekking waartoe Paulus gekom het, net so op ons van toepassing is en dit word ook ondersteun deur o.a. die woorde in 2Kor.5:17 ~ Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

Paulus het besef dat al sy teologiese “pluspunte” vir hom niks gehelp het om Christus as Verlosser te leer ken nie.  So noem hy in verse 4-7 allerlei dinge waarop hy staatgemaak het om sy naam in die hemel opgeskryf te kry.  Hy sê o.a. dat hy op allerlei uiterlike dinge vertrou het – hy was volgens die Joodse tradisie op die agste dag besny.  Hy was deel van die stam van Benjamin – ’n stam wat lojaal aan Dawid gebly het en wat uiteindelik die fondasie gevorm het van die herstelde volk van Israel wat uit ballingskap gekom het.  Hy was deel van die fanatiese politieke Selote-party wat ’n deel van die Fariseërs was.  In kort, Paulus het ’n volmaakte en geregverdigde man geword volgens die Joodse wette. 

Maar nogtans het Paulus besef dat sy insluiting in die verbondsvolk van God en al hierdie kwalifikasies glad nie aan hom die sekuriteit van ’n ewige lewe met God verseker het nie.  In die oë van die wêreld het Paulus dit “gemaak”, want sy krediete het sy debiete by verre oorskry, maar dit is juis die kruks van God se Koninkryk – die maatstawwe vir God se Koninkryk is presies die teenoorgestelde van hierdie wêreld en daarom besef Paulus dat al hierdie krediete van hom, eintlik verliese, of debiete is en help dit hom dus nie ’n bloue duit nie.  Hy sê in v.7 ~ Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus.  Dit is dus duidelik dat Paulus besef het dat hy nie met menslike “boekhoumetodes” hier te doen het nie en dat daar eintlik niks, absoluut niks in sy batekant- of kredietkant geskryf is nie.  Hy het ’n ander inskrywing in sy kredietkant nodig – wat het hy nodig?   Ons vind die antwoord in 1Kor.1:30 ~ Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.  En in Openb.5:9 lees ons ~ U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. Paulus het Jesus Christus dus nodig gehad – Christus wat ons vryspraak is; wat ons heilig en wat ons verlos.  Christus se Vryspraak en Sy soendood is die enigste inskrywing wat nodig is in Paulus se kredietkant ten einde waarlik verenig te word met God.

Paulus het vir Jesus “ontdek” – nee, Jesus het vir Paulus “ontdek”.  God het ingegryp in Paulus se lewe – kom ons kyk daarna ~ Terwyl ek (Paulus) op reis was en naby Damaskus gekom het, het daar teen die middag skielik ’n sterk lig uit die hemel op my gestraal. 7 Ek het op die grond neergeval en ’n stem vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ 8 ‘Wie is U, Here?’ het ek gevra. ‘Ek is Jesus van Nasaret,’ het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir My wat jy vervolg.’ 9 “Die mense wat saam met my was, het wel die lig gesien, maar nie die stem verstaan van Hom wat met my gepraat het nie. 10 Toe vra ek: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here sê toe vir my: ‘Staan op en gaan na Damaskus toe. Dáár sal alles vir jou gesê word wat God bepaal het dat jy moet doen.’ 11 “Die skerp lig het my blind gemaak, en my reisgenote moes my aan die hand lei. So het ek in Damaskus aangekom. 12 ’n Sekere Ananias, ’n man wat getrou volgens die wet van Moses gelewe het en by al die Jode in die stad hoog aangeskrewe was, 13 het na my toe gekom. Hy het by my kom staan en gesê: ‘Saul, broer, jy kan weer sien!’ En dadelik kon ek hom sien. 14 Toe sê hy: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, die Regverdige te sien en sy stem te hoor, 15 want jy sal vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. 16 En nou, waarom nog wag? Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy sy Naam aangeroep het (Hand.22:6-16). Hierdie is so tipies van elke gelowige se redding – God wat ingryp in ’n individu se lewe en hom soewerein red.

Nie Paulus en nie een van ons, of enige ander persoon wat deur die eeue heen gered is, kan op eie verdienste gered word nie – dit is net Jesus Christus se soendood wat dit kan bewerkstellig.

4.     ALLES IS WAARDELOOS:
Paulus gaan voort en hy sê in v.8 ~ ...ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.  Paulus het  besef dat niks op aarde vir hom meer kosbaar en belangrik kan wees as om Christus Jesus te ken nie, want om God te ken, is om die ewige lewe te besit ~ En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is (Joh.17:3). 

Ons wat wedergebore is, moet onsself die vraag afvra of ons ook op ’n punt in ons lewe gekom het waar ons, ons materiële besittings en allerlei ander aardse plesiere en aktiwiteite as minder belangrik ag as ons kennis van God; as ons geestelike groei in Hom.  Wat is ons prioriteite?  Soos wat J.I. Packer dit so pragtig stel in sy boek Knowing God (p.37):  Waarvoor is ons geskep?  Om God te ken.  Watter doelwit moet ons vir onsself in die lewe stel?  Om God te ken.  Wat is die ewige lewe wat Jesus gee?  Kennis van God.... Wat is die beste ding in die lewe wat meer blydskap, genot en tevredenheid verskaf as enigiets anders?  Kennis van God.  ....Wat van al die toestande waarin God die mens ooit sien, behaag Hom die meeste?  Kennis van Homself.  God sê self in Hos.6:6 (O.A.V.) ~ Want Ek het ’n behae in ...... kennis van God meer as in brandoffers.

Packer gaan voort in gemelde boek en hy gee twee voorwaardes om God beter te ken en hy sê dit is om Jesus te ken en om deur God geken te word.  Hoe kan ons Jesus persoonlik ken?  Deur in Jesus Christus ingeplant te wees.   1Kor.1:30 sê vir ons ~ Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.  En hoe kan ons deur God geken word?  Joh.14:6 verskaf aan ons die antwoord ~ Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.  En waar leer ons meer van Hom? In die Woord van God self (Joh.6:68).  Wanneer die Gees van God ons wederbaar, is dit van lewensbelang dat ons nie ons tyd met God sal afskeep nie en dat ons elke geleentheid wat ons maar kan kry, met volle aandag en ’n leergierige gees sal leer van Hom.

Hierdie ywer om God beter te leer ken moet ons hoogste prioriteit wees – dit moet belangriker wees as enige iets anders in hierdie lewe en dit is presies wat Paulus vir ons sê, hý gedoen het.  En waarom het hy hierdie weg gevolg?  Hy gee self die antwoord in v.8b-9 ~ ...sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9 en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo.

5.     DIE OPSTANDING VAN CHRISTUS:
In vv.10-11 sê Paulus ~ Al wat ek wens, is om Christus te ken, (en dan hierdie woorde) die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11 in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

Wat bedoel Paulus wanneer hy sê dat hy wil deel hê aan die krag van Christus se opstanding?  Om deel te hê aan Christus se opstanding, dui op die geestelike opwekking van ’n verlore siel.  Rom.8:11 leer ons dat dieselfde Heilige Gees wat Jesus uit die dood opgewek het, ook die uitverkorenes wat eens geestelik dood was, uit ’n geestelike dood opwek en lewend maak en hulle derhalwe wederbaar.  Dit laat ons nou met ’n probleem:  Paulus was reeds “opgewek uit die dood” toe hy hier geskryf het – waarom sou hy dan nou verlang na hierdie opstanding vanuit die geestelike dood – so asof hy twyfel aan sy eie wedergeboorte?  Die antwoord lê opgesluit in die woordjie “krag” wat ons in v.11 aantref.  Hy verlang dus nie na die opstanding nie, maar na die krag van die opstanding – daardie selfde kragtige werking waarmee die Heilige Gees eens ongeredde siele in die lewe in gebring het en die krag wat nodig is om elke geredde siel deur te dra tot hul verheerliking.

As Paulus hierdie krag van die Heilige Gees begeer (Ef.3:16), impliseer dit dus dat dit tot beskikking van alle gelowiges is.  Eerstens is hierdie krag, soos ons pas gesien het, bewys van ons kindskap, maar hierdie krag van die Heilige Gees word deur God aan die kerk van die Here Jesus geskenk (l.w.:  God skenk dit – gelowiges “klits” dit nie op nie) en daarom kan en mag ons nooit in hierdie krag roem nie – so asof ons dit self ín ons bewerkstellig het nie (Rom.4:24-25; 8:11,30; 1Kor.15:17; Kol.3:4; Fil.3:21). 

Hierdie krag word voorts aan ons innerlike mens geskenk, ten einde ons in staat te stel om te groei in die Woord (Hebr.5:12-14) en hoe meer ons groei in die Woord, des te meer word ons vervul met die Gees én leer ons God beter ken.

Wat impliseer hierdie krag van die Heilige Gees verder?  Dat ek gelukkiger kan wees, of dat ek vir siekes kan bid en hulle word genees?   As dít my motief is, is ek op ’n pad van misleiding.  My motief met die krag van die Heilige Gees moet altyd wees om Christus te verheerlik.  Dit is juis hier waar die verskil lê tussen ’n mens-gesentreerde teologie en ’n Godgesentreerde teologie.

6.     DEEL IN CHRISTUS SE LYDING:
Paulus sluit hierdie gedeelte van sy brief af met ’n baie interessante opmerking ~ Al wat ek wens, is om ...... deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11 in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood (10b-11).  Paulus begeer nie net alleen die krag van Christus se opstanding nie – hy begeer ook om deel te hê aan Christus se lyding.  En vir hom om gelyk te word aan Christus se lyding, moet hy soos Christus word. 

Dit is interessant om te besef dat Paulus reeds met sy bekering gehoor en geweet het dat hy geweldige beproewing en lyding gedurende sy lewe as gelowige sou ly, toe die Here vir Ananias in Hand.9:16 gesê het, dat Hy dit vir Paulus sou wys.  Hierdie uitdrukking om deel te hê aan Christus se lyding en aan Hom gelyk te word in Sy dood, beteken egter ook en veral, dat ons as gelowiges innerlik só getransformeer sal word, dat ons, soos wat Christus vír ons sonde gesterf het, ons ook vir ons sonde moet sterf ~ Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? 2 Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? (Rom.6:1b-2).  En vv.6-7 ~ Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 7 Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde.  Ons moet onsself dus daagliks “dood” vir die sonde en derhalwe heilige lewens lei (Rom.6:1-4; 11-14).  Dit impliseer dus dat ons te alle tye en onder alle omstandighede, ons kruis sal opneem en soos Christus sal optree in en onder daardie omstandighede.  Soos wat Christus al ons oortredinge op  Hom geneem het, sonder om te kla of in opstand te kom, net so moet ons met Christus identifiseer in Sy lyding en dood en ons swaarkry hanteer soos wat Christus dit hanteer het.

En die prys op dit alles?  Paulus verskaf self aan ons die antwoord in v.11 ~ want ek het die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

7.     AFSLUITING:
Die vraag wat ons vandag vir onsself moet afvra is of ons ál ons “bates” oorgegee het aan Christus? 

Besef ons dat alles in die lewe waardeloos is en is ons hoogste roeping en grootste begeerte om God te ken?

Verlang ons ook na die krag van Christus se opstanding?

Identifiseer ons ook daagliks met die lyding van Christus?

Verwag ons om deel te hê aan die opstanding uit die dood?


Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 09 Januarie 2011

Sunday, January 2, 2011

Paulus se Brief aan die Filippense - 04 (Ons Blydskap in die Here)


1.     SKRIFLESING:
Fil.3:1-3 ~ Verder, my broers, wees bly in die Here! Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie, en vir julle gee dit sekerheid. 2 Pas op vir daardie dwaalleraars; pas op vir daardie mense wat kwaad stig; pas op vir daardie betekenislose besnydenis! 3 Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.

2.     INLEIDING:
Hierdie derde hoofstuk van Paulus se brief aan die gemeente in Filippi, is volgelaai met suiwer teologie en Paulus suggereer dat opregte en innerlike vreugde voortspruit uit die kennis van die Christelike leerstellinge of doktrine.

Ons sien ook dat hoofstuk 3 met die woordjie “verder” begin.  Deur hierdie woord te gebruik wil Paulus hoofstuk 3 koppel aan hoofstuk 2.  In hoofstuk 2 het Paulus, Epafroditos se getrouheid aangeprys en hy is oortuig daarvan dat die gemeentelede vol blydskap sal wees om Epafroditos weer te sien, maar hulle moet nie net vreugde ervaar oor sy terugkeer nie, maar primêr vreugde ervaar oor die suiwere verkondiging van die Evangelie en hulle praktiese en gehoorsame uitlewing van die Woord van God.

3.     WEES BLY IN DIE HERE:
U sal onthou dat ons aan die begin van ons reeks oor die brief aan die Filippense gesê het dat hierdie brief, Paulus se “vreugdebrief” is.  Paulus het in die voorafgaande twee hoofstukke hierdie begrip reeds ses keer gebruik.  In hoofstuk 1 sê hy o.a. dat hy bly is omdat hy weet dat al sy swaarky in hierdie lewe, uiteindelik op sy redding sal uitloop (Fil.1:18-19).  In v.25 praat hy daarvan dat die Filippense, blydskap sal ervaar oor hulle geloof.  Ook sê hy in 2:17-18 dat hy bly sal wees as hy moet sterf vir sy geloof.  In 2:28 sê hy dat die gemeente bly sal wees as hulle weer vir Epafroditos sal sien.  

In hoofstuk 3 gebruik hy weer hierdie uitdrukking van vreugde en in die laaste hoofstuk gaan hy dit nóg twee keer gebruik.

Hier in v.1 van hoofstuk 3 gee Paulus egter die eerste keer opdrag aan die Filippense dat hulle vol vreugde moet wees ~ Verder, my broers, wees bly in die Here!  Paulus sê egter ook dat die Filippense (en ons) net bly kan wees – regtig, opreg bly kan wees, indien hulle ín die Here is ~ Verder, my broers, wees bly in die Here!   

Paulus kan hierdie opdrag enersyds aan die Filippense gee, omdat hy weet dat hulle ín die Here is, daarom dat hy hulle my broers noem, maar andersyds kan hy dit ook vir hulle sê, omdat hyself ’n lewende getuie was van iemand wat bly was in die Here.  Hy het hom altyd verbly in die Here, ten spyte van wat ook al met hom mag gebeur en as daar iemand is wat waarlik beproewing ervaar het, was dit juis Paulus. Kom ons raak net vir ’n oomblik stil en dink aan ons eie lewe en aan ons omstandighede en ons vergelyk dit met Paulus s’n ~ ...ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. 24 Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, 25 drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ’n dag en ’n nag in die oop see deurgebring. 26 Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. 27 Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. 28 Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes (2Kor.11:23-28) en nogtans sê hy in Fil.2:17b ~ Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly. Selfs al moet hy sterf, bly hy jubel in die Here!

Ook Jesus het belangrike lering aan Sy dissipels gegee oor blydskap.  In Lukas 10 stuur Hy 72 dissipels, twee-twee uit om die Evangelie te verkondig en nadat hulle terug gekom het, was hulle baie opgewonde en vol vreugde oor hul Godgegewe sukses om demone te kon uitdryf.  Jesus is egter baie duidelik daaroor dat hulle vreugde nie gegrond moet wees op hul suksesse en die feit dat die satan “bloedneus” gekry het nie, want Hy sê ~ ...julle (moet) nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is (Luk.10:20).  M.a.w. hulle en daarom ook ons, se vreugde moet gegrond wees op geloofsekerheid en die feit dat ons name in die hemel opgeskryf is – dit moet dus nie gegrond wees op allerlei wêreldse suksesse en opwindende ervaringe nie, want môre kan al hierdie suksesse en opwinding verander of verdwyn, maar ons redding en ons ewige bestemming kan nooit, ooit van ons weggeneem word nie!  Dit is dan ook waarom Dawid in Ps.51:12 sê (en ek haal aan uit die N.A.S.B.) ~ Restore to me the joy of Your salvation.

4.     VOORWAARDE EN SLAGGATE:
Dit is egter so dat ons as gelowiges nie altyd oor hierdie selfde vreugde beskik nie en uiteraard kan die wêreld nie oor hierdie vreugde beskik nie, omdat hulle nie ín die Here is nie en dit is juis die voorwaarde wat Paulus hier stel, nl. om ín die Here te wees. 

Wanneer Paulus die opdrag gee ~ ...wees bly in die Here, impliseer dit optrede van ons kant af – ons kan en moet dus iets daaromtrent doen.  Kom ons kyk dan na wat Paulus in ons gelese gedeelte vir ons sê wat ons kan doen ten einde in opregtheid en met oorgawe, gehoor te gee aan hierdie opdrag, nl. om in die Here bly te wees en wat die gevare is wat ons in die oë staar om hierdie blydskap mis te loop, of selfs te verloor indien ons reeds daaroor beskik:
·           Ons leer uit dit wat ons tot nou toe vir mekaar gesê het, dat geen mens blydskap kan ervaar – ware blydskap kan ervaar, as hy of sy nie ín die Here is nie.  Ons moet dus gelowiges wees.  Blydskap in die Here is dus nie beskore vir ongelowiges, of selfs vir mense wat sê dat hulle gelowiges is, maar dit nie werklik is nie.

·           Nadat Paulus gepraat het oor blydskap in die Here, kom hy nou hier in vv.2-3 en hy wys die gemeente daarop dat daar vir hulle as gelowiges ’n paar slaggate op hul pad na ware vreugde in die Here lê.

In die vorige hoofstuk het ons gesien watter hoë agting Paulus vir Timoteus en Epafroditos het en hy sê dan ook aan die gemeente dat Timoteus betroubaar is en dat hy die Evangelie dien en wat Epafroditos betref, sê hy dat hulle hom met oop arms moet terug ontvang en dat hulle hom met agting moet bejeën, maar Paulus sê ook vir hulle dat hulle nie naïef moet wees en moet dink dat alle mense (en predikers) so betroubaar is nie.  Nee, hy sê dat daar wolwe met skaapklere aan, rondloop en hy noem hulle dwaalleraars.

-        Hy noem hierdie dwaalleraars twee dinge – hy sê in die eerste plek dat hulle honde is!  Ons sou reken dat dit in enige beskaafde taal ongehoord is om te sê dat mense, honde is, of om te byt en te verskeur soos honde, maar dit is presies wat Paulus sê, hierdie dwaalleraars is.  En dit is nie so ongewoon om hierdie uitdrukking in die Bybel te sien nie.  Ons sien o.a. in Ps.22:16 hoe dat Dawid na sy vervolgers verwys as honde ~ Soos honde omsingel hulle my, die bende misdadigers sak op my toe, hulle bind my hande en voete vas. 

Ons weet dat honde baie keer baie liefdevol teenoor bv. kinders kan wees, net om die volgende oomblik so ’n kind te verskeur en dit is presies hoe dat dwaalleraars optree.  Ook was die honde wat destyds rondom Filippi geleef het, vuil en het hulle soos aasvoëls geteer op alles. Honde was deur die Jode gesien as die mees verfoeide, veragtelike en patetiese diere denkbaar en Paulus vergelyk hierdie dwaalleraars met hierdie honde.  Dit is dus asof Paulus ’n “pasop vir die hond- bordjie” voor die gemeente se “hek” sit, om hulle te waarsku om versigtig te wees.  In 2Kor.11:13 sê Paulus dat... ~ Sulke mense vals apostels (is); hulle gaan oneerlik te werk deur voor te gee dat hulle apostels van Christus is.

-        Tweedens noem Paulus ook hierdie vals leraars, mense wat kwaad stig  (v.2b).  In die Engelse vertalings word hulle “evil workers” genoem.

Paulus is veral besorgd daaroor dat hierdie “honde” die gemeentelede kan besoedel met vals lering oor die besnydenis.  Ons sien in Hand.15:1 dat hierdie praktyk reeds in die Handelinge-kerk aan die orde van die dag was ~ Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak: “As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie.  Ons weet dat die besnydenis op die agste dag na ’n Joodse seuntjie se geboorte, uitgevoer is en daardeur is hy deel gemaak van God se Ou Testamentiese verbondsvolk.  Die tragiek van die besnydenis was dat dit nooit die probleem van die sonde kon regstel nie en was dus ’n teken van ’n beter verbond wat nog moes kom en waardeur die mens se sonde uitgewis kon word deur die persoon se geloof in die gekruisigde Jesus Christus.  Paulus sê dan ook in v.2 dat die besnydenis ná Christus se kruisiging, niks anders is as vals en ’n skending van die vlees nie, trouens die betekenis van die Griekse woord (κατατομήν = katatomé) wat hy hier gebruik is so sterk, dat dit waarskynlik verwys na liggaamskending wat deur die ou Mosaïese wette verbied was. 

Hierdie dwaalleraars het vir die Nuwe Testamentiese gemeentes kom leer dat indien hulle nie besny is volgens die Mosaïese wette nie, hulle nie gered kan word nie.  Hierdie dwaalleraars het dus die Evangelie en “PLUS” gepreek en ons moet besef dat enige iets wat weggeneem word van die Evangelie, of wat bygevoeg word, boos is.  In Gal.1:8-9 verdoem Paulus sulke mense, deur te sê ~ Maar al sou een van ons of selfs ’n engel uit die hemel aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het-die vloek van God sal hom tref! 9 Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer: As iemand aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het-die vloek van God sal hom tref! 

5.     DIE WARE BESNYDENIS:
In v.3 sê Paulus ~ Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.  Die tweede woordjie in hierdie vers nl. “het” moet eintlik met ’n beklemtonings “e” geskryf word (hét), want dit is presies wat Paulus hier vir sy lesers en vir ons wil sê ~ Ons as gelowiges hét die ware besnydenis.

Hierdie hele kwessie van  die besnydenis is dan ook ’n tema wat Paulus verskeie kere in sy sendbriewe aangespreek het.  Hy sê bv. in Rom.2:28-29 ~ Nie hy is ’n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. 29 Nee, hy is ’n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.  En in Kol.2:11 sê hy ~ Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. 

In Ef.2:11-13 sê Paulus ~ Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is “onbesnedenes” genoem deur dié wat hulleself “die besnedenes” noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. 12 In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld. 13 Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. 

Die bloed van die besnydenis was dus nie meer nodig nie – wat nou nodig is, is geloof in die verrese Jesus Christus en in reaksie op God se reddingsgenade en uit gehoorsaamheid aan die Woord is die opdrag in Matt.28:18 nou nodig ~ Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.  Gal.6:15 ~ Of ’n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ’n nuwe mens is.

As ons dan weer na Paulus se opdrag in die eerste vers kyk, sien ons dat hy sê dat ons bly moet wees.  Om watter rede kan en moet ons bly wees?  Die rede is dat ons die ware besnydenis hét!  As ons enige rede het om in blydskap uit te bars is dit dan juis omdat ons besny is van hart – omdat ons wederbaar is en daarom moet ons blydskap in Christus wees en op Christus gefokus wees, want dit is Hy wat ons van al ons sonde gereinig het.  Johannes sê in sy eerste brief dat dit Jesus se bloed is wat ons reinig van al ons sonde – let op: ALLE sonde.  Niemand of niks anders se bloed kon dit vermag nie.  Dit is egter ook belangrik om daarop te let, dat Jesus se bloed dit nie kon vermag het as Hy nog gelewe het nie – dit kon ons slegs reinig van ons sonde, nadat Sy bloed aan die kruis op Golgota gevloei het – m.a.w. ná Sy dood (1Joh.1:8-9).  Petrus gaan voort deur te sê dat indien ons, ons sonde bely, Jesus getrou is om ons te vergewe en ons te reinig van al ons ongeregtigheid (1Pet.3:18 & 1Joh.1:9).

6.     AFSLUITING:
Dit is dus baie duidelik dat daar geen ander uitweg vir die mens is om verlos te word van Sy sondeskuld nie, behalwe deur te glo in Jesus Christus en Sy soendood aan die kruis en deur ons sonde te bely en vergifnis daarvoor te vra.  Ons harte moet dus besny word – dít is die ware besnydenis.

Is hierdie wete dat ons niks, absoluut niks kan doen om onsself te red, nie genoeg rede tot vreugde nie?  Die feit dat God ons uit genade uitverkies het – is dit nie genoeg rede tot onuitspreeklike vreugde nie?  Die feit dat ons name opgeskryf is in die hemel en ons ’n ewige lewe saam met Christus in die vooruitsig het – is dit nie genoeg rede tot ’n allesoorheersende vreugde nie?  

Behalwe vir die belydenis van ons sonde en ons geloof in Jesus Christus, hoef ons hoef niks te doen nie – ook hoef ons, ons nie te laat besny nie!  Ons kan maar net rus en ons verlustig in God se onuitspreeklike genade!  Wees bly my broer en suster, wees bly in die Here, want ons beskik oor die ware besnydenis!  En ons kan en mag nooit daarin roem nie, want God het dit uit genade aan ons geskenk!

My broers, wees bly in die Here!