1. INLEIDING:
Nadat die dissipels Jesus se
hemelvaart beleef het en die twee mans in wit klere vir hulle gesê het dat hulle Jesus
weer so sal sien terugkeer, het hulle terug gegaan na Jerusalem en ons het die
vorige keer gesien dat hulle nie maar net ledig rondgelê het nie maar dat
hulle eendragtig in gebed verkeer het. Ons sal ook vanoggend sien dat hulle ’n byeenkoms gehou
het waar ’n klomp mense
teenwoordig was en hierdie was die begin van die Nuwe Testamentiese Kerk.
2. SKRIFLESING:
Hand.1:15-26 ~ 15In daardie tyd was daar ’n byeenkoms van die sowat honderd en twintig gelowiges. Petrus het die
leiding geneem en gesê: 16–17“Broers,die Skrifwoord wat die Heilige Gees tevore by monde van Dawid oor
Judas uitgespreek het, moes vervul word. Hy is as een van ons gereken en is ook
gekies om ’n aandeel in ons
werk te hê, maar hy het die
gids geword van dié wat vir Jesus gevange geneem het. 18“Met die geld wat Judas vir sy misdaad gekry het, het hy ’n stuk grond gekoop. Daar het hy vooroor geval en oopgebars, en al sy
ingewande het uitgepeul. 19Dit het bekend geword onder al die inwoners van Jerusalem. Daarom word die
plek in hulle taal Akeldama genoem. Dit beteken Bloedgrond. 20“In die boek van die Psalms staan daar: Laat sy woonplek leeg word; laat niemand daarin woon nie, en: laat ’n ander sy amp
oorneem. 21–22“Daar moet dus nog ’n getuie van Jesus se opstanding by ons gevoeg word. Dit moet een van die
manne wees wat saam met ons rondgegaan het die hele tyd toe die Here Jesus in
die openbaar opgetree het, vandat Hy deur Johannes gedoop is totdat Hy van ons
af in die hemel opgeneem is.” 23Hulle stel toe twee voor: Josef, wat ook Barsabbas of Justus genoem word,
en Mattias. 24En die gelowiges het gebid: “Here, U wat die harte van almal ken, wys die een aan wat U uit hierdie twee
verkies het 25om as apostel te dien in die plek wat Judas leeg gelaat het toe hy gegaan
het na waar hy hoort.” 26Hulle het geloot, en die loting het vir Mattias aangewys. So is hy gekies
as die twaalfde apostel.
3. PPROFESIE VERVUL (vv.15-17):
Ons lees in Ps.41:10 (v.9 ESV) van ’n profesie wat
Dawid uitgespreek het ~ Selfs my
boesemvriend op wie ek vertrou het, wat altyd by my geëet het, het my in die rug gesteek. Hierdie
profetiese woord van Dawid het ook verwys na Judas se verloëning van Jesus. In
Joh.13:18 het Jesus die dissipels vooraf gewaarsku dat Hy verloën sou word ~ Ek praat nie van julle almal nie; Ek weet wie Ek uitgekies het. Maar die
Skrif moet vervul word: Hy wat van my brood eet, het My in die rug gesteek - ’n duidelike
verwysing na Dawid se profetiese woord en ons sien dan ook die vervulling van
hierdie profetiese woorde in Judas se verloëning wat o.a. vir
ons in Matt.26 beskryf word.
Hierdie profesië van Dawid en Jesus
is vir ons ’n baie duidelike
voorbeeld van die inspirasie van die Woord van God met die skryf van die Woord
~ …want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie. Nee,
deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig (2 Pet.1:21).
Petrus gebruik hierdie
profesie as inleiding tot sy toespraak wat hy lewer tydens die vergadering waar
sowat honderd en sestig gelowiges saam met die elf apostels byeen was. Petrus gaan voort tydens sy toespraak en sê vir die mense dat
dit Christus se wil is dat daar twaalf apostels moes wees en daarom was die
doel met die vergadering of byeenkoms o.a. dat ’n twaalfde apostel
aangewys moes word. Petrus het hierdie standpunt van hom gegrond op Jesus se
woorde in Matt.19:28 ~ Jesus antwoord
hulle:"Dit verseker Ek julle:Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun
van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op
twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer.
Ons weet natuurlik dat die
twaalfde apostel,
Judas was en dat hy nooit gered was nie, want Jesus self het hierop gesinspeel
toe Hy in Joh.6:64 gesê het ~ Maar daar is party van julle wat nie in My glo nie. Jesus het immers van
die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou
verraai.
Nie lank hierna nie het Judas vir Jesus verraai en het hy kort daarna,
selfmoord gepleeg.
Met Petrus se kennis van die
Woord; as aangewese leier van die apostels en na ’n tydperk van
intense gebed, neem hy die inisiatief om ’n nuwe apostel aan
te wys.
Ons kan geweldig baie uit
hierdie gebeurtenis leer. Die apostels het geweet dat ’n twaalfde apostel
aangewys moes word, maar hulle spring nie sommer net weg en wys een aan nie -
nee, ons kan aanvaar dat hierdie saak ook “deurgebid” was tydens die
voorafgaande tydpek wat hulle in die Bo-vertrek byeen was en gebid het. Hulle
het ernstig oor hierdie saak gebid en die Skrifte ondersoek en probeer
onderskei wat God se wil was in die verband - eers daarna het hulle opgetree.
Die apostels was God se kinders; dit was Sy werk waarmee hulle besig was en
daarom moes Hy die spreekwoordelike besluit geneem het - hulle moes net hoor en
uitvoer. Dit is presies wat ons ook moet doen alvorens ons belangrike besluite
moet neem, trouens alles wat ons doen behoort tog deel van God se werk te wees,
want ons tree namens Hom in hierdie wêreld op.
4. JUDAS SE VERRAAD (vv.18-19):
Voor Lukas aangaan om te
skryf oor Petrus se toespraak waarin hy o.a. bewys dat die Woord van God vervul
is t.o.v. Judas, verwys hy net eers weer kortliks na Judas se verraad.
Lukas skryf dat Judas ’n stuk grond gekoop
het met sy omkoopgeld, of te wel “bloedgeld” en dit is in
oreenstemming met wat in Matt.27:3-10
geskryf staan oor hierdie gebeure. Judas se gewete het hom oënskynlik gepla
nadat hy gesien het dat Jesus gekruisig is en uit spyt (l.w. nie berou nie
nie)
wou hy die omkoopgeld teruggee vir die owerpriesters, wat op hulle beurt nie
die geld wou terugneem nie - Judas gooi die geld neer op die grond in die
tempel en gaan hang homself op. Die Owerpriesters het die geld opgetel en ’n stuk grond
daarmee gekoop wat voortaan sou dien as ’n begraafplaas vir
vreemdelinge en hulle noem dit “Bloedgrond” - weereens is
hierdie gebeure ook ’n vervulling van ’n profesie van
Jeremia in Sag.11:13 ~ Die Here het vir
my gesê: Gooi dit vir die pottebakker! En dit was nogal die kosbare loon wat hulle
gemeen het ek werd is! Maar ek het die dertig stukke gevat en dit in die huis
van die Here vir die pottebakker gegooi.
Wat opmerklik is in hierdie
beskrywing van die einde van Judas in Matteus, is dat Lukas niks meld van die
feit dat hy vooroor geval het en oopgebars het nie en Matteus weer meld niks
van die feit dat Judas homself opgehang het nie - hoe verklaar ons dit? Dit is
nie baie duidelik waarom ons twee verhale hier vind nie, maar ons kan wel na
die mees logiese verklarings hiervoor kyk. Eerstens moet ons in gedagte hou dat
Matteus sy Evangelie spesifiek gerig het aan die Jode, terwyl Lukas (skrywer van
Handelinge)
sy skrywe primêr rig aan die
heidene (“gentiles”) en dit is dus asof
die twee skrywers, soos twee verslaggewers dieselfde saak vanuit verskillende
hoeke bekyk en beskryf.
’n Moontlike
verklaring dan vir hierdie oënskynlike teenstrydigheid, is dat
Judas hom wel self gehang het en moontlik in die proses, óf iets skerps
getref het met die val en dit het sy ingewande oopgeruk, óf toe sy lyk van
die boom
(of waaraan hy hom ookal self gehang het) afgehaal is, het
sy oorskot geval en a.g.v. ontbinding (of watter rede ookal), oopgebars toe dit
op die grond val. Of in die proses dat hy homself gehang het, het die tou
gebreek en het hy op die grond geval en
opgebars. Wat ons egter moet onthou, is nie die detail van wat hier gebeur het
nie, maar wel dat Juas aan sy eie hand gesterf het en wat die motief daarvoor
was - die verloëning van Jesus
Christus.
Dit is ook baie duidelik
waarom die stuk grond wat met Judas se omkoopgeld gekoop is, bekend staan as “Bloedgrond”, want dit dui op
die feit dat Jesus se bloed gestort is a.g.v. die dertig sikkels silwer waarmee
die grond gekoop is en waardeur Jesus verloën is.
5. DIE VERKIESING (vv.20-25):
In v.20 keer Lukas terug na
Petrus se toespraak en sê Petrus dat daar ’n leemte in die
leierskap is en dat iemand in Judas se plek gekies moet word, trouens hy verwys
weer na ’n Ou Testamentiese
profesie in die verband - Ps.109:8 ~ Laat sy lewe kort
wees en laat 'n ander sy amp oorneem. Met hierdie
aanhaling uit Psalm 109 wil Petrus vir die vergadering sê dat dit God se wil (en opdrag) is dat hulle die “Groep van Twaalf” moet herstel en
daarom tree hulle nie uit eie vrye wil en op grond van emosies of wat ookal op
nie, maar in opdrag van die Skrif. Jesus het aanvanklik net twaalf “naby-dissipels” geroep en dit was
verteenwoordigend van die twaalf stamme van Israel en daarom moes hierdie
motief van Jesus in ere herstel word.
Indien dit die geval is, nl.
dat die “Groep van Twaalf” herstel moes word,
waarom is daar nie weer ’n apostel na die dood van Jakobus bv.
aangewys nie, of na die dood van enige van die ander apostels nie? Die antwoord
is baie eenvoudig, omdat die Kerk van die Here Jesus Christus teen daardie tyd
klaar gevestig was, terwyl dit nog nie die geval was met die verkiesing van ’n apostel in Hand.1
nie.
In vv.21-22 stel hy die
vereistes waaraan so ’n kandidaat moet voldoen, ten einde
die suiwere voortgang en verkondigng van die Evangelie te verseker.
Daar word dus nie maar net op
’n “gemeentelys” afgegaan en gekyk
wie sal vergaderings bywoon en huisbesoek doen nie, of wie sal kans sien om
gereeld die lidmate se aalmoese te gaan insamel, soos wat daar nog gereeld in
sommige kerklike-kringe gedoen word nie - dít terwyl daar baie
duidelike riglyne in die Skrif uiteengesit is waaraan ouderlinge en diakens
moet voldoen, alvorens hulle verkies mag word (o.a. Hand.14:23;
16:4; 20:17; 21:18; Titus 1:5; Jak.5:14).
Petrus spel op dieselfde wyse
die voorwaardes uit vir die verkiesing van ’n nuwe apostel - hy
moes ’n getuie van Jesus
se opstanding wees het en hy moes een van Jesus se dissipels gewees het wat
saam met Jesus rond beweeg het. So ’n nuwe apostel moes
dus Jesus fisies na Sy opstanding gesien het, aangesien dit die sentrale
boodskap van die apostels aan die vroeë Kerk was en ons
sien dit kort-kort in Handelinge, bv. Hand.13:30-37 - ek lees net enkele verse
uit hierdie gedeelte ~ 30Maar God het Hom uit die dood opgewek….
33vir ons, hulle nageslag, vervul het
deur Jesus uit die dood te laat opstaan. So staan daar dan ook in die tweede
psalm geskrywe: Jy is my Seun, vandag het Ek aan jou die lewe gegee. 34God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit vergaan nie.
Dit het God met die volgende woorde gesê:
Ek sal vir julle die heilige en betroubare beloftes vervul wat Ek aan Dawid toegesê het…
37Maar Jesus se liggaam het nie vergaan
nie; God het Hom uit die dood opgewek. Paulus het nie
aan hierdie vereiste voldoen nie.
Onder al die manne wat
dissipels (navolgers) van Jesus was, was
daar net twee wat aan hierdie vereistes wat Petrus gestel het, voldoen het en
hulle was Josef, wat ook Barsabbas of Justus genoem word, en
Mattias
(v.23). Josef se Latynse
naam beteken Sabbat, tewyl Mattias se naam, “’n geskenk van
Yahweh” beteken. Niks word
verder oor hierdie twee manne gesê nie en ons lees ook nêrens verder in die
Woord van hulle nie.
Die gelowiges wat teenwoordig
was by die vergadering kon nie tussen hierdie twee manne besluit nie, maar
hulle het geweet dat net een gekies kon word en daarom bid hulle tot die Here
en laat hulle die keuse oor aan die Here self.
Na wie verwys die naam “Here” in hierdie geval?
Die Engelse vertalings praat van “Lord”. Hier kan verwys
word na die Vader, of na Christus, maar as ons na v.21 kyk (konteks) dan word hier na
Christus verwys en
in v.2 is Christus ook self die onderwerp.
Wat verder ook interessant is
van die gelowiges wat hier byeen was se gebed, is dat hulle dit afsluit met die
woorde, …in
die plek wat Judas leeg gelaat het toe hy gegaan het na
waar hy hoort. Hiermee het hulle gesê dat Judas sy
voorreg om as apostel te kon dien, verruil het om in diens van die satan te
staan. Met hierdie sinnetjie in hul gebed, bevestig hulle ook die feit dat die
behoefte om ’n nuwe apostel aan
te wys, nie gesetel is in die feit dat Judas gesterf het nie, maar omdat hy Sy
rug gekeer het op die Here.
6. DIE LOT WORD GEWERP (v.26):
Wat nou gedoen word, nadat
die gelowiges gebid het, is iets wat baie mense misbruik om te sê dat hulle dit ook
in Casinos kan doen, of om die Lotto bv. te mag speel, want die apostels het
die lot gewerp.
Hierdie gebeure was nie iets
nuuts nie, want om die lot te werp was iets wat alreeds in die Ou Testamentiese
tye gedoen was - sover terug as Levitikus bv. ~ En Aäron moet oor die
twee bokke die lot werp, een lot vir die Here en een lot vir Asásel. Dan moet Aäron die bok
aanbring waar die lot vir die Here op gekom het en hom as sondoffer berei; maar
die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor die aangesig van die Here gestel word,
om oor hom versoening te bewerk deur hom vir Asásel in die woestyn te stuur (Lev.16:8-10). Die twaalf stamme
is volgens die loot verdeel (Num.26:55). In Jos.7:14 sien
ons weer dat die lot gewerp was om te bepaal wie gevolg sou word - Saul of
Jonatan. In 1 Sam.10:20-21 is die lot gewerp voor Saul as koning van Israel
aangewys is.
Die lot was dus gereeld in Ou
Testamentiese tye gewerp om bepaalde besluite te neem, máár (en dit is
belangrik)
dit is elke keer gedoen wanneer die mense God se wil gesoek het in bepaalde
besluite wat geneem moes word en hulle nie geweet het wat om te doen nie en
tweedens moet ons weet dat daar altyd, voor die lot gewerp was, gebid was, want
soos Salomo in Spr.16:33 gesê het ~ Mense kan loot, maar die Here bepaal hoe dit uitkom. Die enigste
motivering vir die werp van die lot, was dus altyd om God se wil te bepaal voor
’n belangrike
besluit geneem moes word en dit is altyd vooraf gegaan met gebed.
Nadat die behoefte en
vereiste om nog ’n apostel aan te
wys en Petrus die voorwaardes vir apostelskap uitgespel het, is twee manne
voorgestel, maar die gelowiges kon nie tussen hulle besluit nie, waarop hulle
ernsitig daaroor gebid het en hulle besluit het om die lot te werp, maar met
die duidelike wete dat Christus die val van die lot sal bepaal. Nadat hulle dit
alles gedoen het, is Mattias aangewys as die twaalfde apostel. Op hierdie wyse
is die grond finaal voorberei vir die geboorte van die Nuwe Testamentiese Kerk
op Pinksterdag.
Ek wil ook net kortliks aan
julle uitlig dat daar mense is wat beweer dat Petrus se optrede om Mattias aan
te wys, in die vlees was en nie volgens God se plan nie, omdat ’n mens nooit weer
van Mattias hoor, of enige briewe sien wat hy geskryf het nie en dat Petrus en
die ander apostels vir Paulus moes wag, wat later eers apostel geword het.
Hiermee saam kan ’n mens sekerlik ook
tereg vra, op grond waarvan het Paulus ’n apostel geword as hy nie aan al die vereistes soos deur Petrus
uitgespel, voldoen het nie?
Eerstens moet ons onthou dat
die Here nie sou toelaat dat so ’n “verkeerde besluit” geneem sou word met
die aanstelling van iemand in so ’n belangrike
posisie en veral ook nie tydens so ’n kritieke fase van
die vormring van die Kerk nie.
Tweedens was daar nooit in
die Ou Testament ’n fout begaan nadat
die lot gewerp was nie en derdens was dit Jesus wat Sy dissipels self geroep
het en daarom het Hy ook die nuwe apostel aangewys en die apostels het dit vas
geglo.
Op grond waarvan het Paulus ’n apostel geword as
hy nie aan die vereistes soos deur Petrus uitgespel, voldoen het nie? Die
antwoord vind ons in 1 Kor.15:8 ~ Heel laaste het
Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn. Paulus sê o.a. hierdeur, dat
Chirstus hom persoonlik geroep het om ’n apostel te word -
die apostel na die heidene (Hand.22:21), terwyl die ander
apostels primêr geroep was om die
Nuwe Testamentiese Kerk te vestig.
7. AFSLUITING:
Daar is drie dinge wat ek
reeds aangeraak het, waarop ek net ten slotte weer die aandag wil vestig. in
die eerste plek:
• Die werp van die
lot?
Kan ons vandag nog die lot werp ten einde God se wil te
bepaal? Ons moet ons o.a. laat lei deur die res van die Nuwe Testament. Nooit
weer na hierdie Handelinge 1 gebeure, sien ons dat die lot weer deur die
apostels of die Kerk gewerp is nie. Daarom moet ons hulle voorbeeld navolg.
Verder het ons vandag God se Woord waardeur ons Sy wil kan vind, maar ook
belangrik om te onthou is dat, nadat die lot deur die apostels in Hand.1 gewerp
was, die Heilige Gees uitgestort is en daarom moet ons onder die leiding van
die Heilige Gees, ernstig bid oor ’n saak en God se
Woord navolg om God se wil vir ons lewe vas te stel.
• Apostels: Die hele kwessie
van apostelskap. Ons moet altyd in gedagte hou wanneer
ons gekonfronteer word deur mense wat glo dat daar nog apostels in die
hededaagse kerklike lewe bestaan, dat die apostelsap ingestel was om die Kerk
van die Here Jesus Christus te vestig en nadat dit gevestig was, het die
apostels verdwyn, trouens, met die uitsondering van Johannes het hulle almal ’n marteldood
gesterf.
Ek het genoem dat, na die
afserwe van Jakobus, daar nie weer ’n apostel aangewys
was nie - dit is ’n duidelike bewys
dat die era van die Kerk aangebreek het en dat die fondasie reeds gelê was vir die Nuwe
Testamentiese Kerk, of baie na aan klaar gelê was. Net soos tale
en van die ander buitengewone wonders en gawes, was die amp van apostels
aanvanklik nodig om die Kerk te vestig maar hier rondom 90 n.C. was die Kerk
gevestig en het die funksie en behoefte aan apostels en bepaalde buitengewone
gawes en wonders, stadig maar seker verdwyn.
• God se wil: Die laaste ding
wat ek net weer wil beklemtoon, is die hele kwessie van God se wil en hoe om
dit te onderskei. Kan ek maar net weer
die voorbeeld van die apostels ophaal?
Ek het gesê dat hulle eerstens
die saak “deur gebid’ het. Nou wat
beteken dit? Meestal wanneer ons na die Here in gebed gaan oor ’n bepaalde saak,
kom ons na Sy genadetroon met redelike vooropgestelde gedagtes, of met bepaalde
vooropgestelde motiewe en -voorkeure. Wanneer ons die saak aan die Here opdra
en daaroor bid en weereens daaroor bid en bid en ons kom uiteindelik op ’n punt waar ons nie
meer ons wil voorop stel nie, maar ons geheel en al onderwerp aan God se wil -
of dit op daardie stadium aan ons bekend is wat God se wil is al dan nie, maak
nie saak nie, maar ons moet op ’n punt kom waar ons in alle opregtheid
kan sê, “nie my wil nie
Here, maar laat U wil geskied”.
Tweedens moet ek God se wil
soek in Sy Woord en ons sál Sy wil vir enige saak, in Sy Woord
vind. Ek het die voorbeeld van o.a. ouderlingskap genoem - kom ons neem ’n praktiese
voorbeeld: Ons dink bv. daaraan of ons ’n ouderling moet
aanstel en ons het gebid daaroor en het Broer X in gedagte, dan moet ons na die
Woord kyk en bv. vasstel wat die vereistes vir Ouderlingskap onder andere is
n.a.v. byvoorbeeld Titus 1:7-9 ~ Want ’n opsiener moet
as ’n rentmeester van
God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter,
geen vuilgewinsoeker nie; maar gasvry, een wat die goeie liefhet, ingetoë, regverdig, heilig, een wat homself beheers; een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy
in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê. As daar een of meer van hierdie eienskappe is
waaroor broeder X nié beskik nie, kan hy
nie ouderling word nie en dit is die wil van die Here.
Derdens het ek gesê dat die wil van die
Here tot gevolg gehad het dat die apostels se besluit die fondasie vir die
uitbreiding van die Koninkryk hier op aarde (d.m.v. die Kerk) sou meehelp. Hulle
besluit moes dus ’n invloed of impak
op, of getuienis teenoor die wêreld gehad het en die vraag wat ek
myself moet afvra wanneer ek die Here se wil in my lewe soek, is of my
uiteindelike besluit of optrede, ’n invloed of impak op die wêreld sal hê en wat daardie invloed of impak sal wees. Sal dit my
getuienis as gelowige skade berokken; sal my besluit en optrede tot oneer van
God en Sy Koninklryk strek - het dit en gaan dit ’n positiewe of
negatiewe impak op die wêrld rondom my hê of nie? Dít is die vraag.
Ek vertrou dat elkeen van ons
te alle tye en onder alle omstandighede, God se wil op hierdie wyse sal soek -
of dit nou geld vir groot en ingrypende
besluite of nie.
Boodskap deur Kobus van der Walt te Drie Riviere Baptiste Kerk - Sondagoggend 28 Junie Mei 2015