1. INLEIDING:
Die
boek Ester is nie ’n baie lywige
boek nie, maar dit is ’n geweldige ryk boek. Die verhaal van Ester speel homself hoofsaaklik af
in die paleis van koning Ahasveros, die 32 jarige
Persiese koning wat van 486-465v.C. regeer het en hierdie verhaal is gelaai met allerlei intriges.
Dit
is ’n verhaal wat
handel oor ’n dodelike
gevaarlike situasie waarin die Jode hulself bevind het. Dit handel oor ’n heldhaftige reddingspoging. En die hoofkarakter in hierdie verhaal is ’n weeskind uit die geledere van die bannelinge wat uitgestyg het tot die
magtigste vrou in die land en waarskynlik dié magtigste vrou in die destydse wêreld.
Die
verhaal handel verder oor ’n minderheidsgroep wat onderdruk en verneder is, nl. die Jode in die
oostelike “diaspora” (“verstrooïïng”), ná die Babiloniese ballingskap en wat uiteindelik deur die meerderheid
heidene rondom hulle gerespekteer is.
Daar
vind ook nie minder nie as tien feeste of bankette plaas deur die loop van die
tien hoofstukke van Ester.
Die
boek bevat ook die komiese verhaal van ’n verwaande gek wat homself onbewustelik indoen, asook die naelskraapse
ontsnapping van uitwissing, van die Joodse minderheid.
Nog
iets wat interessant is van die boek Ester, is dat die Naam van God nie eenkeer
in die ganse boek genoem word nie, maar dít is die wonderlike van hierdie boek, want juis dít dui op ’n Almagtige en
Alomteenwoordige God wat selfs in die donkerste en heidense deel van die wêreld, werksaam is.
Hy
wat die begin en die einde van alles ken - die Alfa en die Omega - Hy weet reeds byvoorbaat dat die oorblyfsel
van Sy volk (die Jode), uitwissing
in die gesig staar en daarom is Sy verlossingsplan reeds in aksie gestel,
sonder dat enige persoon dit weet. Dít is ’n blywende
beginsel en karakter eienskap van God, as dit kom by Sy kinders - toe en nou!
Wat ons verras, vang Hom nooit onkant nie - ons kan dus te alle tye rus en
vrede vind in Sy soewereiniteit.
2. SKRIFLESING:
Ester
1:1-9 ~ Dit was in die tyd van Ahasveros. Hy het geregeer oor ’n ryk van
honderd sewe en twintig provinsies wat gestrek het van Indië af tot by Kus. 2In die tyd toe sy troon in die
vestingstad Susan was, 3in die derde jaar van sy regering, het hy ’n onthaal gegee
vir al sy hoë amptenare en
ander in sy diens. Die leëroffisiere van Persië en Medië, die vername
mense en die hoë amptenare van
die provinsies was teenwoordig. 4By dié geleentheid het
die koning al die rykdom waarmee sy koninkryk kon spog, al die prag en praal
daarvan, honderd en tagtig dae lank vertoon. 5Daarna het die koning almal in
die stad Susan, groot en klein, ’n week lank in
die paleistuin onthaal. 6Daar het wit en bloedrooi linnedoeke gehang wat met
pers linnetoue vas was aan silwerringe aan marmerpilare. Verder was daar
silwer- en goue rusbanke op ’n plaveisel van vier
soorte kosbare klip. 7Wyn is bedien in goue bekers van verskillende ontwerpe en
daar was ’n oorvloed koninklike wyn soos ’n mens van ’n koning kon
verwag. 8Op bevel van die koning is niemand gedwing om te drink nie. Hy het al
sy paleisbediendes beveel om na elkeen se wens te handel. 9Koningin Vasti
het intussen ook die vrouens onthaal in die paleis van koning Ahasveros.
3. KENMERKE VAN GESAG:
Die eerste hoofstuk van Ester beskryf vir ons ’n voorval wat in die paleis afspeel en dit verskaf aan ons die agtergrond vir dramatiese gebeure wat daarop sou
volg en ons sien ook in die eerste nege verse, ses uitstaande kenmerke van
Ahasveros se koningskap en gesag:
• Heerskappy: In v.1 sien ons dat hy heerskappy gevoer het
oor ’n Ryk wat 127
provinsies beslaan het - hierdie Ryk het van Indië tot by Kus gestrek - dit is ongeveer van die huidige
Pakistan tot by Sudan in Noord-Afrika. Hierdie gebied het bekend gestaan as die
Persiese Ryk. Koning Ahasveros was dus heerser oor bykans die hele bekende wêreld van destyds - inderdaad ’n magtige man,
of sal ons sê, jongman.
• Koninklike Troon: In v.2 sien
ons dat Ahasveros se paleis in die vestingstad Susan was en daar het hy vanaf
sy troon, sy ryk regeer. Deur al die eeue heen was ’n troon die simbool van heerskappy en konnklike gesag.
Hierdie
troon was geleë in Persepolis en
behalwe dat dit ’n besondere en selfs uitspattige gebou
was, het argeloë die hoeksteen van
die paleis opgegrawe waarop Ahasveros se arrogansie geopenbaar is - die
volgende woorde staan o.a. op die steen geskryf: “Ek is Ahasveros, die groot koning, die enigste koning, die
koning van die ganse wêreld waarin allerlei tale gepraat word…” ens. Sy winterstad was die stad met die naam Susan - dieselfde stad waar
Daniël sy visioen gehad het, waarvan ons in Dan.8 lees. Dit is ’n stad in die huidige Irak wat bekend was vir sy vrugte en pragtige blomme.
• Bankette: Ons lees die
volgende in vv.3 en 5 ~ …in die derde jaar van sy regering, het hy 'n onthaal gegee vir al sy hoë amptenare en ander in sy diens. Die leëroffisiere van
Persië en Medië, die vername mense en die hoë amptenare van die
provinsies was teenwoordig. Vers 5 ~ Daarna het die koning almal in die
stad Susan, groot en klein,' n week lank in die paleistuin onthaal.
Ahasveros het verskeie bankette of onthale aangebied en wat interessant is,
is dat die woord vir “banket”, twintig keer voorkom in Ester, terwyl dit slegs vier-en-twintg keer
voorkom in die res van die Woord.
Die
boek Ester begin met twee bankette wat deur Ahasveros aangebied word en dit
eindig met twee bankette wat deur Mordechai aangebied is. Hierdie feeste was
glansryke geleenthede en het o.a. ten doel gehad om die koning se rykdom en mag
ten toon te stel. Hy het al die hooggeplaaste amptenare in sy koninkryk na die
eerste banket genooi. Hierdie fees was o.a. gereël om Ahasveros se derde regeringsjaar te vier, maar veral ook om sy
voorneme om Griekeland binne te val, bekend te stel.
Hierdie
feeste was uitspattig en het oor lang tydperke plaasgevind - in hierdie geval
het die eerste fees ’n hele ses
maande geduur, terwyl die tweede fees ’n week lank geduur het. Ahasveros wou dus in alles wat hy gedoen het,
selfs die feeste wat hy gehou het, groter en beter wees as enige iemand anders.
Dit kan darem aanvaar word dat dei feesgangers gekom en gegaan het, maar die
fees was “oop” vir al die genooides, vir die volle duusr van die 180 dae.
• Vertoning van Rykdom: Ons sien in
vv.4 en 6 dat die koning sy rykdom ten toon gestel het ten einde sy koninklike
prag en praal en heerskappy bekend te stel. Ons sien in v.6 dat hy al sy wit en
bloedrooi linnedoeke gehang het en dit met pers linnetoue vasgemaak het aan
silwerringe wat in die paleis se marmerpilare geheg was. Daar was ook silwer-
en goue rusbanke op plaveisel van vier soorte kosbare klip. Al hierdie dinge -
die linne; die marmer; die goud en silwer - alles was net beskore vir die heel
rykstes en vernaamstes en Ahasveros het ’n oorvloed daarvan gehad.
Terwyl
die koning gespog het met sy rykdom het hy ook gespog met sy rykdom wat gesetel
was in al sy vroue en daarom het hy terselfdertyd ook vir hulle ’n fees gehou.
• Bewys van Oordadigheid: Ons lees die
volgende in v.7 ~ Wyn is bedien in goue bekers van
verskillende ontwerpe en daar was ’n oorvloed koninklike wyn soos ’n mens van ’n koning kon verwag. Hierdie vers spreek vanself t.o.v. die koning se oordadigheid, want vir
die volle duur van die fees (6 maande) is die beste wyn in die beste bekers geskink en almal kon soveel as wat
hulle wou en net wanneer hulle wou, daarvan drink!
• Gesag: Wanneer die
koning ’n opdrag gegee
het, is so ’n opdrag
sonder huiwering, onmiddellik gehoorsaam - ons sien dit o.a. in v.8 ~ Op bevel van die koning is niemand gedwing om te drink nie. Hy het al sy
paleisbediendes beveel om na elkeen se wens te handel.
Dit
is baie duidelik uit hierdie beskrywing van koning Ahasveros se koningskap, dat
sy regering gebasser was op ’n selfgerigteid en ’n grootheidswaan waardeur hy homslef as verhewe bo andere beskou het en
hierdie eienskappe het tot uitdrukking gekom in sy heerskappy en sy sug na
oorheering en gesag en in sy vertoning van sy rykdom en oordadigheid.
Ons
as gelowiges moet versigtig wees om nie konings en ander gesagsdraers te beny
nie en ook versigtig wees oor hoe ons optree teenoor- en praat oor hulle, want
ons weet dat behoorlike gesag en regering, ’n geskenk van God aan die mensdom is en Hy en Hy alleen stel diesulkes
aan in hul gesagsposisies en dit gaan altyd gepaard met verantwoording, want
wanneer iemand in ’n
gesagsposisie, nié God se wil in sy gesagsposisie uitleef nie, hy eendag verantwoording sal moet doen oor die wyse waarop hy hierdie toegesegde gesag toegepas het
en/of misbruik of nagelaat het om uit te voer.
Die anderkant van die muntstuk is natuurlik ook waar en dit is dat wanneer ons gesag teenstaan, of ondermyn, of afkraak, ons besig is om gesag wat
God daargestel het, teen te staan, of te ondermyn en ons sondig derhalwe direk
teen die Here as ons volhard daarmee. Ons moet altyd onthou dat wanneer dinge
nie na ons smaak gaan nie, dit hoogs waarskynlik die Here is wat daardie
situasie gebruik om ons te beproef en die vraag is of ons die toets slaag of
nie.
4. DIE ENIGSTE WARE KONING:
Soos
ons netnou gesien het, het Ahasveros homself, die grootste koning, die engiste koning, die koning van die ganse wêreld genoem, maar spoedig, soos wat die
verhaal in die boek Ester ontvou, sou hy agterkom dat daar maar net een Koning
is, nl. die Koning van alle Konings - Jesus Christus! En voor Hóm verdwyn alle verganklike sieraad van menslike konings - waarom?
• Slegs Jesus Christus beskik oor ware Heerskappy: Jesus Christus heers nie alleen van Pakistan tot in Sudan nie, maar in
en oor elke volk en nasie en taal van hierdie wêreld - ja meer nog, Hy is nie alleen die Koning van hierdie aarde nie -
Hy is Koning van die ganse heelal - net Hy alleen beskik oor ware heerskappy.
Dit
is nie om dowe neute dat Pilatus ’n bordjie aan die kruis laat spyker het met die woorde - Jesus van
Nasaret, Koning van die Jode nie. Wat nog meer beduidend is, is die feit
dat hierdie woorde in Aramees (die Jode se
taal), Latyn (die taal van
die destydse Romeinse wêreld) en ook in Grieks (Joh.19:19-20) geskryf
was.
God
die Vader het Jesus uit die dood opgewek en laat opvaar na die hemel en Hy het
aan Hom die Naam bo alle Name gegee! Daar is geen ander Naam groter as Syne
nie! Hy regeer oor die lewende en die dode. Hy is Heerser oor alles en almal
wat bestaan en is. Hy is Koning oor alle konings. Elke knie sal uiteindelik
voor Hom buig.
• Christus op ’n Koninklike Troon: Christus se
troon is gevestig in die hemele. Hoor wat het Johannes in Openb.5:6 gesien ~ Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens,
tussen die troon en die ouderlinge, 'n Lam sien staan, die Een wat geslag was.
Hy het sewe horings en sewe oë gehad.
Die sewe oë is die sewe Geeste van God, wat oor die hele aarde uitgestuur is. Jesaja het in Jes.6:1 gesê ~ In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op 'n
baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul.
• Ons Redder se Feeste: Ons Redder
hou Sy eie feeste en bankette. Die eerste banket waarheen Hy Sy geliefdes nooi,
is die Heilige Nagmaal. Daar is geen banket op aarde wat met die Nagmaal
vergelyk kan word nie, want dit is ’n liefdesfees vir sondaars, wát hul status in die samelewing ookal mag wees - tydens hierdie Fees
gedenk hulle, hul vergifnis wat hulle van die die Here God ontvang het en hulle
gedenk die belofte van ’n ewige banket in die teenwoordigheid van die God.
Die
brood en wyn is simbole van Sy gebreekte liggaam en die bloed wat Hy vir ons
aan die kruis gesort het - en dit alles ter wille daarvan om ons as gelowiges
van die ewige dood wat ons verdien, te red.
Hierdie
eerste banket is
maar net ’n voorsmakie van ’n veel, veel groter banket wat nog gaan plaasvind en waarheen ons as
gelowiges reeds uitgenooi is, nl. die huweliksfees van die Lam van God.
• Ons Hemelse Koning beskik oor onmeetbare Rykdom: Ef.3:8 praat van die onpeilbare rykdom van Christus. Hy is ryk in
heerlikheid en Hy is ryk aan genade. Hy is die Bron van onberekenbare
vrygewigheid en mildadigheid. Die lewe wat Hy skenk, is die ewige lewe! Die
heerlikheid wat Hy skenk, is die ewige heerlikheid. Die genade wat Hy op ons
uitstort, is onbeperk, grensloos en kleurloos en nie Ahasveros of enige ander
monarg of gesagsfiguur kan dit aan die wêreld bied nie.
• Ons Koning beskik oor die laaste en opperste Gesag: Ons lees in Matt.28:18 die volgende woorde van Jesus self ~ …Aan My is alle
mag gegee in die hemel en op die aarde. As verheerlikte Here, is Hy waardig om oor alle gesag te beskik.
Die
Jode van wie daar later geskryf word in hierdie boek, het die nodige
onderskeidingsvermoë ontvang om by Ahasveros met al sy menslike majesteit verby te kyk en ’n Groter Koning met opperste gesag raak te sien.
5. AFSLUITING:
Dit
is so tragies dat Ahasveros nooit daartoe instaat was om dié Koning wat aan hóm die nodige aardse gesag geskenk het, raak te sien nie. Hierdie wete
het die Jode se gebede om hoop en optrede positief beïnvloed.
Net
so moet die wete dat Jesus Christus die Opper Koning is, ons inspireer om met
hernieude ywer en geloof te bid en op te tree in hierdie lewe.
Al
die prag en praal en gesag van Ahasveros het uiteindelik verdwyn en daarmee
saam die hoop van hulle wat hul vertroue in Ahasveros geplaas het. Hoe anders
is ons posisie nie, want ons aanbid die ewige en onveranderlike Koning - omdat
Hy lewe, lewe ons ook - het ons hoop en kan ons, ons vertroue in Hom plaas
omdat Hy die ewige, almagtige, alomteenwoordige, alwyse, genadige en soewereine
God is!
[Boodskap: Kobus van der Walt (3Riviere Baptiste Kerk) 27 September 2015]