Tuesday, December 11, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 16 ("Jesus Christus ons Ewige Hoë Priester – 01")

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.    INLEIDING:
       In die vorige hoofstukke van die apostel se brief aan die gelowiges van Hebreërs, het hy dit baie duidelik gemaak dat indien ons vordering wil maak op ons pad van heiligmaking, moet ons verstaan wat dit beteken wanneer hy praat van die Here Jesus Christus wat ons Hoë Priester is. Die skrywer het tot nou toe, dit baie duidelik vir ons uiteengesit dat Christus genadig is; dat Hy getrou is, en dat Hy toeganklik is, maar hy het ook reeds ’n paar keer vir ons gesê dat Christus, ’n Hoë Priester volgens die Orde van Melgisedek is. Wat presies beteken dit? Hoofstuk 7, waarna ons van vanoggend af gaan kyk, verskaf aan ons die antwoord.



2.    SKRIFLESING:
       Hebr.7:1-10 ~ Melgisedek was koning van Salem en priester van God die Allerhoogste. Dit is Melgisedek wat vir Abraham tegemoet gegaan en hom geseën het toe Abraham op pad terug was nadat hy die konings verslaan het, 2en dit is ook aan hom dat Abraham ’n tiende van al die oorlogsbuit gegee het. In die eerste plek, sy naam Melgisedek beteken: koning van geregtigheid; en hy was ook koning van Salem, en dit beteken: koning van vrede. 3Niks is bekend omtrent sy vader en moeder of sy afstamming of die begin en einde van sy lewe nie. Hy is soos die Seun van God en hy bly priester vir altyd. 4Let nou op hoe groot hierdie man was aan wie Abraham, die stamvader, ’n tiende van die beste oorlogsbuit gegee het. 5Die priesters wat van Levi afstam, het volgens die bepaling van die wet die reg om ’n tiende in te vorder van die volk, dit wil sê van hulle broers, wat net soos hulle ook afstammelinge van Abraham is. 6Maar Melgisedek, wat nie van Levitiese afstamming was nie, het van Abraham ’n tiende geneem en hom, aan wie God sy beloftes gegee het, geseën. 7Dit is onbetwisbaar dat dit altyd die mindere is wat deur die meerdere geseën word. 8In die geval van die Levitiese priesters is dit sterflike mense wat tiendes invorder, maar in die geval van Melgisedek iemand van wie getuig word dat hy lewe. 9’n Mens kan sê dat ook Levi, wat tiendes invorder, deur Abraham aan Melgisedek die tiende gegee het, 10want Levi was nog in die liggaam van die stamvader toe Melgisedek vir Abraham tegemoet gegaan het.


3.    NOOD AAN ’N HOË PRIESTER:
       Ons het reeds by herhaling vir mekaar gesê dat die lesers van die Hebreërbrief, hoofsaaklik Jode was. Hulle het gelowiges geword, maar tog op ’n stadium in hul geestelike lewe, weer begin wonder of hulle nie maar moet terugdraai na die Judaïsme, waaruit hulle gekom het nie. Vir 1 500 jaar, vanaf Aäron, het hulle en hul voorgeslagte, priesters gehad wat hulle verteenwoordig het en vir hulle ingetree het by God die Vader. Die dag toe hulle Christene (gelowiges) geword het, is daar vir hulle gesê dat hulle moet wegdraai van die Aäronitiese priesterdiens en Jesus Christus moet aanvaar as hul Hoëpriester. Hulle moes dit doen al het hulle geweet dat die Aäronitiese priesterdiens ’n instelling van God was en hulle moes dit doen, met die wete dat Christus nié gekom het vanuit die priesterlike stam van Levi nie, maar van die koninklike stam van Juda (v.14) – wanneer ons dit besef, begin ons verstaan wat ’n geweldige groot prys hierdie Jode betaal het, maar terselfdertyd watter geweldige groot genade God aan hulle geskenk het, toe hulle gelowiges geword het!
      
       Waarom het ons ’n Hoë Priester nodig? As ek na enige gemiddelde persoon in die straat sou gaan en vir hom sou sê: “Ek het goeie nuus! Jesus Christus is ’n Hoëpriester!”, dan sou die meeste mense waarskynlik reageer: “Só… wat is so besonders daaraan!? Ek het in elk geval nie ‘n hoëpriester nodig nie – wie gee om!”
      
       Ten einde te verstaan waarom ons ’n Hoë Priester nodig het, moet elkeen van ons weer opnuut en deeglik verstaan en besef dat ons sondaars is. As ons eerlik na ons lewens kyk, dan weet ons wat die waarheid is: Ek is ’n leuenaar, ek is ’n egbreker, ek is ’n moordenaar; ek onteer my ouers, ek ontheilig die Sabbat, ek begeer die verkeerde. Ek breek die wet van die heilige en almagtige God. As ek myself meet aan die Wet, besef ek dat ek skuldig staan teen ’n wet wat goed is, en plaas ek myself op dié manier aan die kant van die kwade.

       Ons weet ook dat God goed is; dat Hy heilig is en dat Hy sonder sonde is en daarom haat Hy die sonde. As jy en ek nie ’n Hoëpriester het om vir ons sonde, versoening te doen nie, dan haat God ook vir jou en my! Ps.11:5 is baie duidelik daaroor dat God die sonde haat ~ Die Here onderskei tussen regverdige en goddelose. Wie geweld liefhet, haat Hy.

       As God jou dus haat – haat met ’n regverdige en heilige haat, dan sál Hy jou en my dienooreenkomstig straf met die ewige straf aan liggaam en siel. Hel is dus ’n realiteit vir ’n ieder en ’n elke mens – die hel; die ewige verdoemenis wat elkeen van ons verdien.

       As elkeen van ons dus eerlik na onsself kyk in die lig van God se Woord, dan besef ons hoe dringend ons ’n Hoë Priester nodig het om namens ons die offer te bring ter versoening van ons sonde – net soos die wat die hoë priesters destyds onder die Ou Verbond, jaarliks op die Groot Versoendag, versoening namens die volk se sonde gedoen het, toe hulle offers gebring het in die Allerheiligste van die Tabernakel/Tempel. Dít is die goeie nuus wat die Hebreërskrywer vir ons in hoofstuk 7 wil bring – dít is die Goeie Nuus van ons prediking vanoggend.

4.    MELGISEDEK:
       Ons Skrifgedeelte van vanoggend (Hebr.7:1-10) is ’n aanhaling vanuit Gen.14 en saam met Ps.110:4, is hierdie die enigste historiese verwysing in die ganse Ou Testament na Melgisedek – Melgisedek is dus ’n redelik misterieuse figuur, maar tog het Abraham toegelaat dat Melgisedek hom seën, waarop Abraham ’n tiende van alles wat hy besit, aan Melgisedek gegee het! Hierdie gebeurtenis waar Abraham by betrokke was, het rondom 2000 v.C. plaasgevind en vir bykans 2 000 jaar is daar doodse stilte in die Ou Testament oor hierdie man, Melgisedek. Dit is eers gedurende die tiende eeu v.C. dat koning Dawid in Ps.110 na Melgisedek verwys en dan ook net in een versie, nl. v.4 ~ Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek.”

       Hier in Ps.110 het God belowe dat Hy iets nuuts gaan doen en Sy motief was dat Hy Iemand sou stuur wat ’n priester sou wees soos Melgisedek – en net soos Melgisedek sou Hy ook beide Koning en Priester wees (Ps.110:1). Wat meer is, Sy priestersamp sou vir ewig duur. Dit alles is deur God gewaarborg, deurdat Hy in v.4a gesê het ~ Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie....

       Wie was hierdie Melgisedek en wat was so besonders aan hom? Benewens die twee verwysings in die Ou Testament, lig die Hebreërskrywer vir ons die sluier so effens wanner hy ’n bietjie meer inligting oor Melgisedek vir ons in Hebreërs 5-7 verskaf, maar die meeste inligting vind ons in vv.1-3 van ons Skriflesing ~ Melgisedek was koning van Salem en priester van God die Allerhoogste. Dit is Melgisedek wat vir Abraham tegemoet gegaan en hom geseën het toe Abraham op pad terug was nadat hy die konings verslaan het, 2en dit is ook aan hom dat Abraham ’n tiende van al die oorlogsbuit gegee het. In die eerste plek, sy naam Melgisedek beteken: koning van geregtigheid; en hy was ook koning van Salem, en dit beteken: koning van vrede. 3Niks is bekend omtrent sy vader en moeder of sy afstamming of die begin en einde van sy lewe nie. Hy is soos die Seun van God en hy bly priester vir altyd. Hieruit blyk dit duidelik dat die skrywer, Melgisedek as ’n "tipe van Christus" beskryf.

       Wanneer ons in die teologie  praat van ’n "tipe van..." verwys dit na ’n Ou Testamentiese persoon, -gebruik of -seremonie wat ’n ewebeeld, of ’n antitipe, in die Nuwe Testament het. Wat egter belangrik is om te onthou, is dat so ’n historiese, of Ou Testamentiese persoon onvolmaak en tydelik van aard is, terwyl die Nuwe Testamentiese antitipe, altyd volmaak en ewig van aard is (die studieveld word in die teologie, "Tipologie" genoem).

       ’n Voorbeeld van so ’n "tipe" in die Ou Testament is bv. die "Goue Slang" wat Moses in opdrag van God omhoog moes hou (Num.21:8). Hierdie "slang" was ’n tipe van die Lam van God, Jesus Christus, wie gekruisig sou word en sodoende die volmaakte offer sou bring vir die sonde van die wêreld (Joh.1:29; Openb.5:6, 8).

Kom ons som net weer kortliks, bepaalde aspekte van die Ou Testamentiese priesters op:
·           Ons het al vantevore gesien dat alle priesters uit die geslag van Levi moes kom – die priesterskap was dus oorerflik – niemand buite die geslag van Levi kon derhalwe priesters word nie.
·           Hierdie priesters moes ook gewone landsburgers wees, omdat hulle afgesonder was om die priesterlike amp (Num.8:14-16), wat ’n voltydse amp was, te volbring. Priesters was dus ondergeskik aan die koning en het nooit deel uitgemaak van die regering nie.
·           Priesters se offers wat hulle gebring het, moes voortdurend herhaal word en was dus nooit permanent en nooit volledig nie. Priesters kon nooit volkome of permanente vergifnis, of geregtigheid, of vrede bewerkstellig nie. Net soos wat die offers wat die priesters gebring het, tydelik van aard was, was hulle dienstydperk ook net tydelik van aard, omdat priesters slegs diens as priesters gelewer het van ouderdom 25 tot en met 50 (Num.8:24-25).

Kom ons keer terug na Melgisedek. Melgisedek sien ons in vv.1-3 van ons Skriflesing, was in elke opsig, ver verhewe bo dié van die Levitiese priesters:
·           In v.3 lees ons dat ... niks bekend (is) omtrent sy vader en moeder of sy afstamming of die begin en einde van sy lewe nie.  Hierdie opmerking van die Hebreërskrywer is bloot net om aan te dui dat Melgisedek se priesterskap nie spruit uit die feit dat hy deel is van die nageslag van Levi nie, maar dat sy priesterskap, persoonlik van aard is en nie oorerflik nie. Op grond hiervan is Melgisedek ’n tipe van Christus – nie omdat Jesus geen familie of genealogie (of stamboom) het nie, maar net soos wat Melgisedek geen priesterlike genealogie het nie, net so het Jesus ook geen priesterlike genealogie nie, omdat Hy dit nie nodig gehad het nie, trouens dit is hoegenaamd nie belangrik wanneer dit kom by Sy Priesterskap nie.
·           Melgisedek was ’n priester, maar hy was ook ’n koning – koning van Salem (’n ou antieke naam vir Jerusalem). Melgisedek, sien ons in v.2 se naam beteken letterlik ...koning van geregtigheid en sy titel koning van Salem beteken "Vredeskoning", of "koning van vrede".

       Dit is opmerklik dat beide hierdie eienskappe van geregtigheid en vrede, eienskappe is waaroor daar reeds in Jes.9:6 oor Jesus geprofeteer was – Hy wat nie deel van die nageslag van Aäron of die Leviete was nie, maar deel van Juda se nageslag – die koninklike geslag, Hy is die Prins van Vrede wat in geregtigheid sou regeer ~ Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg! Die Nuwe Testament identifiseer Jesus spesifiek as die Regverdige (1Joh.2:1) en in 1Kor.1:30 as ons geregtigheid.
·           Ons het gesien dat die Ou Testamentiese priesterskap tydelik van aard was en dat dit beëindig is in 70 n.C. met die verwoesting van Jerusalem en die Tempel in Jerusalem. Melgisedek se priesterskap het egter geen tydsgrense geken nie, trouens v.3 sê vir ons dat sy priesterskap vir altyd is. Dit is nie omdat hy vir ewig leef, of beskik oor ’n ewige lewe nie, maar dit beteken dat die amp van sy priesterskap, vir ewig duur en daarom is Melgisedek as persoon en sy priesterskap as amp, ’n voorafskaduwing van Christus se ewige Priesterskap. En omdat Christus se priesterskap ewig van aard is, is Sy amp swaar gelaai met ’n wonderlike belofte wat nié van enige aardse priester gesê kan word nie ~ Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý ’n priesterskap wat nie op ’n ander oorgedra word nie. 25Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree (Hebr.7:24-25).

       Melgisedek word deur die Hebreërskrywer ook aan ons voorgehou as ’n verhewe of superieure persoon. Ons sien dit in vv.4-10 van ons Skriflesing en kan dit opsom met twee gebeurtenisse, nl. die gee van ’n "tiende" en die seën wat Abraham ontvang het. In die antieke wêreld is "tiendes" gegee uit erkenning van iemand anders se verhewe status, of anders gestel ’n tiende was gegee wanneer iemand sy ondergeskiktheid aan iemand anders betoon het.

       Ek het netnou gesê dat ons Skriflesing uit Hebr.7, ’n aanhaling van Gen.14 is en in Gen.14 lees ons van Abraham wat terug gekeer het na ’n suksesvolle veldslag waarin hy sy grondgebied suksesvol verdedig het teen drie vyandige konings. Hy was waarskynlik ná hierdie suksesvolle veldslag, baie selfvoldaan, of mense het hom heel waarskynlik as ’n held beskou, want hy het homself bewys as ’n held en ’n man van durf en ’n leier met besondere bekwaamhede. Wat meer is, vir geslagte na Abraham, tot vandag toe, word Abraham deur die Jode voorgehou as die grootste man "van alle tye". Hy word bv. in 2 Kron.20:7 en in Jak.2:23, ’n vriend van God genoem! Hy word beskou as die vader van die Israelse nasie – hy is dié Patriarg van alle Patriarge.

       In skrille kontras met al hierdie lofliedere rondom Abraham, kom hy een dag in aanraking met Melgisedek en erken hy openlik en onbeskroomd (fearless), dat Melgisedek sy meerdere is – sy superieure en ten einde dit te illustreer, gee Abraham ’n tiende van die buit wat hy op sy onlangse veldtog gemaak het, aan die koning en profeet, Melgisedek! Vers 4 noem hierdie gedeelte wat Abraham gegee het, ...die beste oorlogsbuit. Abraham het deur hierdie gebaar, openlik erken dat hy in die teenwoordigheid is van iemand wat veel-veel groter as hyself is.

       Ons moet ook verstaan dat Abraham onder geen verpligting verkeer het om hierdie milde bydrae aan Melgisedek te maak nie, want Melgisedek het nie saam met Abraham teen die buitelandse konings geveg nie en nêrens het ons ook enige getuienis dat Melgisedek enige priesterlike diens teenoor, of vir Abraham gelewer het nie. Wat is so besonders daaraan dat Abraham, Melgisedek as sy meerdere erken, want die ander Levitiese priesters het dekades later, ook tiendes van die volk ontvang? Dit is asof die skrywer van die Hebreërbrief, hierdie vraag by sy lesers antisipeer en daarom verduidelik hy dit in vv.5-6a en sê dat Melgisedek nié van Aäronitiese afkoms is nie, maar nogtans neem hy ’n tiende van Abraham en dit opsigself toon aan dat Melgisedek ’n lewende Priesterskap verteenwoordig.

       Melgisedek se reaksie op Abraham se bydrae, was dat hy hom seën (v.6). Met hierdie optrede bevestig Melgisedek sy superioriteit oor Abraham, want dit is altyd die meerdere wat die mindere seën en nie andersom nie. Dit in opsigself, staan in skrille kontras met wat ons in Gen.12:3 van Abraham lees ~ ...In jou sal al die volke van die aarde geseën wees. Hy wat alle mense rondom hom sou seën, word geseën! Ons kan derhalwe op alle logiese en Bybelse gronde sê dat Melgisedek se priesterskap in alle opsigte, verhewe was bo dié van die Levitiese priesters.

       Ons moet egter ook onmiddellik vir mekaar sê, dat sy priesterskap nie só verhewe was dat geregtigheid vir die mensdom in hom geleë was nie. Nee, hy was steeds net mens en daarom was hy net ’n voorafskaduwing van die uiteindelike en volmaakte en ewige Priester, Jesus Christus, wat sou kom om volkome geregtigheid vir diegene wie in Hom glo, te bewerkstellig – Jesus die antitipe van Melgisedek, wat aangestel is deur die Vader volgens die ewige orde van Melgisedek, Hy en Hy alleen is die Een wat versoening tussen God en mens kan bewerkstellig.

6.    DIE LEVIETE IN ABRAHAM:
       Ons perikoop sluit af met twee verse wat op die oog af baie moeilik verklaarbaar is – kom ons kyk net vlugtig daarna, voor ons vandag se boodskap saamvat.

       Vv.9-10 lees soos volg ~ ’n Mens kan sê dat ook Levi, wat tiendes invorder, deur Abraham aan Melgisedek die tiende gegee het, 10want Levi was nog in die liggaam van die stamvader toe Melgisedek vir Abraham tegemoet gegaan het. Hierdie twee verse sluit ten nouste aan by die voorafgaande gedeelte waarna ons so pas gekyk het en waar Abraham ’n tiende van sy buit aan Melgisedek gegee het, want dit dui op die feit dat ook die Levitiese priesters onderworpe was aan Iemand anders – dat geregtigheid ook nie in hulle gelê het nie; dat hulle ook die knie moes buig voor iemand groter en hoër as hulle en dit is presies wat hier gebeur.

       Omdat Levi en sy nageslag van priesters, afstammelinge van Abraham is en Abraham ’n tiende gee aan Melgisedek, is dit ’n simbool van onderwerping van die Levitiese priesters wat ná Abraham sou kom – aan iemand hoër en groter as hulle. Kom ek verduidelik verder: Wanneer Paulus in 1 Kor.15:22a sê ~ Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf..., beteken dit dat al Adam se nageslag (ek en jy inkluis) gesterf het a.g.v. Adam se sonde – hulle het in hom gesterf. Dieselfde beginsel geld toe die Here vir Rebekka in Gen.25:23 gesê het dat daar twee nasies (twee geslagte wat nog gaan kom) in haar is.

       Op dieselfde wyse is al die Aäronitiese, of Levitiese priesters ’n geslag wat na Abraham nog sou kom en as Abraham ’n tiende gee, is dit ’n geval van dat ook sy nageslag ingesluit is by hierdie gebaar – ook hulle is, net soos Abraham ondergeskik; die mindere van Melgisedek. Dit alles dui dus daarop dat alle mense, van Abraham, deur die priesters, tot en met ons onderworpe is aan Hom wat aangestel is volgens die orde van Melgisedek, nl. Jesus die Christus.

5.    CHRISTUS SE PRIESTERSKAP:
            Melgisedek is dus vir ons ’n voorafskaduwing van die uiteindelike en ewige en volmaakte Koning en Priester, Jesus Christus wat sou kom. In teenstelling met Melgisedek is sy antitipe (Jesus Christus) ... Die Koning van die konings en die Here van die heersers (Openb.19:16b).

       Johannes sê in 1 Joh.2:1 dat Christus die enigste Een is wat volmaakte geregtigheid is en omdat Hy God is, is daar geen sonde in Hom nie en daarom kan nét Hy geregtigheid aan die mens skenk en daarom is Hy ook die enigste Bron van geregtigheid.

       Wat is geregtigheid? In kort kan ons sê dat dit ’n toestand van volmaakte moraliteit is wat God van die mens vereis ten einde die ewige lewe te beërwe (Righteousness is the state of moral perfection required by God to enter heaven) – of anders en nog eenvoudiger gestel: Geregtigheid is om sonder sonde voor ’n heilige God te kan staan.

       Hoe ontvang die mens (ons) hierdie geregtigheid? Rom.3:21-22 ~ Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.

Maar, hoe presies is Christus nou ons Hoëpriester? Hoe presies het Hy sy taak as Hoëpriester verrig? Wel, in teenstelling met die aardse priesters het Jesus nie ’n dier geoffer nie. Nee, Hy het Homself geoffer. Kyk maar net weer saam met my na vers Hebr.7:27 ~ Jesus is ...een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ’n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.

In die Ou Testament sien ons priesters wat die keel van ’n offerdier afgesny het, die dier op die altaar geplaas het en geoffer het. Maar kan jy dit voor jou geestesoog sien: ’n priester wat sy eie keel afsny, wat self op die altaar klim, en in jou plek sterf? Dit is presies wat Christus vir jou en my gedoen het. En daarom dat Johannes die Doper die volk se aandag juis op Jesus Christus kan rig, wanneer hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! (Joh. 1:29b). Die Lam – dit beteken: Hy is die Een wat gedood word; Hy bring nie maar net ’n offer nie; Hy is ook die offer. Hy het Homself vir ons oorgegee as ’n  gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur (Ef. 5:2). In teenstelling met alle ander gelowe, staan ’n mense-offer sentraal in die Christelike geloof! En dit is die struikelblok en die dwaasheid van die kruis. Dit is wat mense afsit; dit is waarvoor mense wegskram; dit is wat mense nie verstaan nie, maar dit is wat ons sonde verdien het! Daardie lammetjie van die Ou Testament… dit moes ék en jy  gewees het! Ons moes daar gelê het! Maar wat ‘n wonderlike Hoëpriester het ons nie – hoor wat sê Jesaja in Jes.53:4a ~ Tog het hy óns lyding op hom geneem... En dan gaan hy voort in v.5 en sê ~ Oor ons oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom