1.
INLEIDING:
Daar bestaan uiteenlopende menings as dit kom
by die vrou en die bediening van die Woord – ook die afgelope tyd in ons
gemeente – ja, ons (as gemeente) is eenstemmig as dit kom by die vrou en
ouderlingskap en daarom ook die vrou as herder en leraar van ’n gemeente, nl.
dat dit op grond van o.a. 1Tim.2:11-15; 1Kor. 11:2-16 en 1Kor. 14:34-36, nie toelaatbaar
is nie. Ook het ons die afgelope paar
weke gesien, dat die verhouding tussen man en vrou, een van leierskap (die man) en
onderwerping (die vrou) moet wees.
Dit is voorts nodig dat ons saam na die Woord
sal gaan kyk om te sien wat ons gemeente se standpunt behoort te wees en
waaraan ons, onsself moet onderwerp.
2. SKRIFLESING:
1Tim.2:1-20 ~ Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding
en danksegging gebid moet word vir alle mense, 2 vir dié wat regeer en vir
almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome
toewyding aan God en in alle eerbaarheid. 3 So is dit goed en aanneemlik
vir God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense
gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5 Daar is immers net een God, en
daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus 6 wat Homself as ’n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde
tyd die bewys van die bedoeling van God. 7 Met die oog hierop is ek
aangestel as prediker en apostel, as ’n leraar om die heidennasies te onderrig
in die boodskap van die geloof en die waarheid. Ek praat die waarheid, ek lieg
nie. 8 Ek wil dus hê dat die mans by
elke plek van samekoms met ’n skoon gewete hande in gebed tot God moet ophef,
vry van onmin en twis. 9 Van die vroue wil ek hê dat hulle ook in
hulle kleredrag waardig, beskeie en ingetoë moet wees. Hulle versiering moenie
haarkapsels en goud of pêrels of duur klere wees nie, 10 maar
goeie werke, soos dit vroue betaam wat openlik bely dat hulle God dien. 11
’n Vrou moet in die erediens stil en onderdanig wees en haar laat leer. 12
Ek laat haar nie toe om daar onderrig te gee of oor die man gesag uit te
oefen nie; sy moet stil wees. 13 Adam is immers eerste gemaak, Eva
daarna. 14 Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou
wat haar laat verlei het en die gebod oortree het. 15 Maar sy sal
haar redding vind in moederskap, as sy maar volhard in geloof, liefde en ’n
heilige lewe, en daarby beskeie bly.
3.
VROUE MOET STIL WEES IN DIE
EREDIENS:
Wanneer ons hierdie gedeelte uit Timoteus se brief
lees, is daar heelwat dinge wat van belang is, maar t.w.v. ons bespreking
t.o.v. die vrou en die bediening van die Woord, gaan ons nie na alles kyk nie (stof vir latere ondersoek en prediking!). Wat vir
ons hier van belang is, is veral verse 11-15 en dan spesifiek vers 11, nl. ~ ’n Vrou moet in die erediens stil en onderdanig wees en haar laat leer. Wat beteken hierdie vers? Ons stem saam dat dit beslis beteken dat ’n
vrou nie in die gemeente lering mag gee nie, maar mag sy buite die gemeente
lering gee? En indien nie, wat van al
die sendelinge en wat van vroue soos Miriam (Eks.15:20), Debora (Rigters 4:4; 5:7), Gulda (2Kon.22:14-20) en Anna die profetes (Luk.2:36-37), of vrouens soos Febe
(Rom.16:1-16), of Priscilla (Hand.18:26), of Maria (Rom.16:6)? En so is daar nog talle ander.
Mag vrouens onder
geen omstandighede mans leer nie?
Kom ons kyk
eerstens na wat dit beteken as daar gesê word, dat vroue stil moet wees in die
erediens.
Ons weet dat die
Woord vol daarvan is, dat vrouens, net soos mans, geestelike gawes ontvang ~ Aan elkeen afsonderlik word ’n
werking van die Gees gegee tot voordeel van almal... (1Kor.12:7-11). Vroue moet ook hierdie gawes
aanwend tot opbou van die liggaam van Jesus Christus ~ Namate elkeen ’n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien
soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God (1Pet.4:10). Wanneer hierdie gawes egter in
die gemeente aangewend word, moet dit altyd in ooreenstemming met 1Kor.11:5-11
geskied ~ Maar elke vrou wat bid of profeteer sonder iets op
haar kop, doen haar hoof, haar man, oneer aan, want dan is sy net soos ’n vrou
wie se hare afgeskeer is. 6 As ’n vrou nie iets op haar
kop wil sit nie, kan sy ewe goed haar hare laat afsny. Maar aangesien dit ’n
skande is vir ’n vrou om haar hare te laat afsny of afskeer, moet sy iets op
haar kop sit. 7 ’n Man behoort nie iets op sy
kop te sit nie. Hy is die beeld en sieraad van God, maar die vrou is die
sieraad van die man. 8 Die man is nie uit die vrou
geneem nie, maar die vrou uit die man. 9 Die man is ook nie ter wille
van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man. 10 Daarom behoort die vrou ’n teken van die man se gesag oor haar op haar
kop te hê ter wille van die engele. 11 Tog het die Here bepaal dat
die vrou nie sonder die man sal bestaan nie, en die man nie sonder die vrou nie.
In kort beteken
dit (nié dat vroue nou hoede moet begin dra in hierdie gemeente nie), dat wanneer vrouens (ook ongetroudes) in die gemeente bv. bid, dit te alle tye in onderwerping en eerbied aan
die mans en die leierskap in die gemeente sal geskied (ook hierop kan ons baie sê - stof vir latere ondersoek en prediking!). Hierdie
beginsel kan en moet terug gevoer word na die skeppingsordinansies in Gen.1-2,
waaroor ons reeds gepraat het. Hierdie
gedeelte uit 1Kor.11 wat ons pas gelees het, is dan ook ’n “kommentaar” wat
Paulus oor Gen.1-2 geskryf het.
Hierdie “iets” wat
elke vrou dus op haar kop moet sit, dui op ’n simboliese onderwerping aan die
man. Dit dui egter nié daarop dat
vrouens minderwaardig is nie, want beide is na die beeld van God geskape –
onthou dit gaan nie oor posisie nie, maar oor rolle.
4.
DIE VROU EN DIE BEDIENING VAN DIE
WOORD:
Ons sien dus dat
die vrou wel haar gawes in die gemeente kan en moet toepas, maar dat dit in
onderwerping aan die man moet geskied.
Hier ontstaan
egter nou ’n vraag, nl.: Impliseer
hierdie voorwaarde van “onderwerping” dat daar beperkings op ’n vrou se
bediening geplaas word? As ons na ons
Skriflesing uit 1Timoteus kyk en dan spesifiek vers 12, dan blyk dit duidelik
dat dit wel die geval is ~ Ek laat haar nie toe om daar onderrig
te gee of oor die man gesag uit te oefen nie; sy moet stil wees. In kort
kom dit daarop neer, dat vrouens nie aan mans lering mag gee nie en ook nie
gesag oor mans mag uitoefen nie. Die
rede hiervoor spruit uit die Skeppingsordinansie, waar die man voor die vrou
geskape is en hoe die man en vrou in sonde geval het – iets waarna ons reeds
van tevore gekyk het.
Wat beteken die
woord “lering” hier? Hierdie woord “is
saamgestel uit twee Griekse selfstandige naamwoorde, nl. “leer” (didaskalia) en leraar (“didaskalos”) en dit word gedoen aan die hand van 1Tim.4:11 ~ Hierdie dinge moet jy die mense beveel en leer en dan
ook 2Tim.2:2 ~ Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het,
moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan
ander te leer (sien
ook 2Tim.4:2; Hand.2:24 en Rom.12:7).
Wie mag hierdie dinge “leer”? Manne wat die gawe ontvang het, om te
leer. Paulus verbied vroue dus om vir
mans te preek, maar hulle mag wel lering gee aan vrouens en kinders.
Wat moet “geleer” word? Die gesagvolle wil van God soos geopenbaar in die Woord van God.
In die lig van
Titus 2:3-4, mag vrouens, ander vrouens leer ~ Net so moet
jy ook vir die ouer vroue sê hulle gedrag moet dié wees van mense wat ’n
heilige lewe lei. Hulle moenie kwaadpraat of aan drank verslaaf wees nie. Hulle
moet goeie raad kan gee, 4 sodat hulle die jonger vrouens
kan leer om liefdevol teenoor hulle mans en kinders te wees. En in die
lig van 2Tim.1:5 en 3:14-15a kan vrouens, kinders leer ~ Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma
Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is......Maar jy, bly by wat jy geleer
het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was 15 en jy ken van kleins af die heilige Skrif.
In John Piper en Wayne Grudem se boek, “Recovering Biblical
Manhood and Womanhood”, sê Douglas
Moo die volgende oor hierdie saak: In light of these considerations, we argue
that the teaching prohibited to women here includes what we would call
preaching and the teaching of bible and doctrine in the church, in colleges,
and seminars. Other activities – leading
Bible studies, for instance – may be included, depending on how they are
done. Still others – evangelistic witnessing,
counseling, teaching subjects other than Bible or doctrine – are not, in our
opinion, teaching in the sense Paul intends here.
Wat ons as leierskap egter hierby wil voeg, is dat
daar selfs ook wat hierdie lys van toelaatbare terreine betref, “gevaargebiede”
bestaan en waar ons, saam met talle ander leiers van gemeentes en ander
gesaghebbendes, voel dat dit onvanpas en/of gevaarlik vir vrouens is om te bedien,
omdat nie een van ons verhewe is bo misleiding en verleiding nie en daarom voel
ons dat dit bv. onvanpas en/of gevaarlik kan wees vir ’n vrou, om in, bv. ’n beradingsituasie
te wees waar sy ’n man alleen bedien en net so ook vir ’n man om ’n vrou bv. alleen
te “beraad” of te bedien. En daarom is
dit na ons mening, die ouderlinge se verantwoordelikheid om susters van ons
gemeente te beskerm teen blootgestelde situasies bv. by Groenpunt Maksimum
Gevangenis, maar nie nét daar nie.
Hierdie waarskuwing geld ook aan persone (mans en vrouens) wat persone van die
teenoorgestelde geslag bedien in ’n bepaalde beroepsituasie – wys wakker en versigtig, want jy moet besef dat jy
blootgestel is en die vyand is ’n dief , ’n rower en ’n mense moordenaar!
Iemand het twee weke gelede gevra of hierdie optrede
van die leierskap, “teologies of romanties” van aardgemotiveerd is – ons
antwoord daarop is dat beslis teologies van aard is en dat dit baie maklik ook
romanties kan raak en daarom moet die ouderlinge as herders, hul kudde op
hierdie terrein beskerm.
5. WAT
VAN PRISCILLA EN ANDERE?:
Kom ons kyk net baie kortliks na enkele van die
voorbeelde van vroue wat oënskynlik geleer het in die Woord.
In Rom.16:3 verwys Paulus na Priscilla as ’n
medewerker. Beteken dit dat sy ook
geleer en gepreek het? Nee, sy word
“medewerker” genoem, soos talle ander mans en vrouens (bv.: Euodia en Sintige in Fil.4:2) wie Paulus geken het en wie saam met hom
gewerk het om die evangelieboodskap te versprei.
Verantwoordelike eksegese moet rondom elkeen van
hierdie gevalle en andere ook gedoen word en wanneer ons die korrekte
eksegetiese metodes toepas op Priscilla bv., moet ons eerstens vra: Verbied Paulus, vrouens om enigsins deel te
hê aan die bediening van die Evangelie?
En die antwoord is onomwonde, nee.
Daar is honderde bedieningsgeleenthede vir vrouens, maar ons kan nie uit
Rom.16:3 aflei dat Priscilla, net omdat sy ’n medewerker genoem word,
noodwendig lering aan mans gegee het nie.
Dieselfde geld vir Euodia en Sintige en ook met hulle is daar geen
bewyse dat hulle gepreek het nie. Net so
kan ons dieselfde sê van bv. Febe. Sy
was ’n besondere vrou en het ’n baie belangrike rol in die bediening gespeel. Maar om enige iets anders uit hierdie feit af
te lei, wat strydig is met 1Tim.2:12, is nie net foutief nie, maar berus ook op
ernstige, ongegronde en foutiewe eksegese en ’n afleiding.
Wat het hierdie vrouens en andere dan gedoen om as
medewerkers bestempel te word? Ons weet
nie, want die Woord gee nie vir ons duidelike leiding hieroor nie, maar hulle
kon net so wel saam met Paulus (of ander apostels) beweeg het en vrouens in gemeentes bedien
het, waar Paulus gepreek het. Of hulle
kon op die apostel se tog, kos gemaak en bedien het, wanneer hulle nie in gemeentes
was nie. Ons weet egter nie en daarom
kan ons nie ’n teologie bou rondom sulke aannames nie.
6.
BUITE-KERKLIKE/PARA-KERKLIKE ORGANI-SASIES:
’n Laaste vraag waaraan ons aandag moet skenk, is of
vrouens dan buite die gemeente, mans mag leer (onder die vaandel van bv. ’n parakerklike
organisasie soos SIM of Operasie Mobilisasie, of Geopende Deure ens., of as u
dan wil, onder die vaandel van ons gemeente by Groenpunt Maksimum Gevangenis
vir mans)?
’n Argument wat dikwels geopper word is, dat die kerk
nie betrokke is by die wêreld daarbuite nie en dan nog verder, dat daar nie
mans beskikbaar is om die werk te doen nie en daarom word parakerklike
organisasies en/of vrouens in hierdie bedieninge geregverdig. Verder argumenteer diesulkes, dat so ’n
organisasie, of so ’n bediening nie ’n kerk is nie en/of so ’n vrou, nie ín die
gemeente bedien nie en daarom word so ’n bediening toegelaat en geld Nuwe
Testamentiese opdragte aan die kerk nié
in sulke situasies nie.
So ’n redenasie is niks anders as ’n liberale neiging
wat die gesag van die Woord afwater en selfs ondermyn.
Ons kan redeneer dat ’n parakerklike organisasie of ’n
vrou dan (kom ons verwys
hierna slegs na parakerklike organisasie – P.K.O. en dan sluit dit ’n
individuele vrou in), nie alles hoef te doen wat die Nuwe Testament van
kerke vereis nie (bv.
om nuwe gelowiges te doop, of om die Nagmaal op gereelde basis te bedien),
máár wanneer ’n P.K.O. die dinge doen wat ’n kerk doen, dan geld al die Nuwe
Testamentiese opdragte in daardie geval soos vir ’n kerk.
Ons het verwys na die Nagmaal – kom ons kyk daarna as
verdere voorbeeld: Indien ’n gelowige bv.
in ’n Bank werk en daar is vier ander gelowiges wat saam met hom daar werk,
word daar nie van hulle verwag om die Nagmaal te gedenk nie, maar die oomblik
as hulle sou besluit om dit gedurende een van hulle middagete pouses te doen,
geld
die Bybelse “reëls” t.o.v. die viering van die Nagmaal
nét so tydens daardie geleentheid, as wat dit van toepassing is in die
gemeente.
Ons moet onthou, dat daar net een kerk is, en dit is
die wêreldwye liggaam van Christus en alle P.K.O.’s is deel daarvan. Hulle is soms net nie deel van ’n bepaalde
plaaslike uitdrukking van die kerk van die Here Jesus Christus nie. Die meeste P.K.O.’s onderwerp hulle aan die
Woord en onderhou baie opdragte vanuit die Woord – ook sommige wat van
toepassing is op gemeentes (bv.: die toepassing van Matt.18:15-17 op lede wat sondig), maar
hulle kan nie sê dat 1 Korintiërs net aan ’n gemeente geskryf is en omdat hulle
nie ’n kerk is nie, is dit nie op hulle van toepassing nie.
Dit is tog ’n belaglike redenasie, want sou dit waar
wees, moet hulle al die Sendbriewe verwerp en sê dit is nie op hulle van
toepassing nie, omdat al die Sendbriewe, óf uitsluitlik aan gemeentes, óf aan spesifieke
individue geskryf is. Om dus te sê dat
hulle nie kerk is nie, of dat hulle, buite die gemeente optree, is nie ’n
argument nie en word so ’n redenasie aangevoer om hulle eie bedieninge (wat in baie gevalle, té na
aan hulle gekom het, of belangriker vir hulle geword het as die waarheid van
die Woord) te regverdig.
Ons en P.K.O.’s moet dus te alle tye en oral, ál die
opdragte van die Woord gehoorsaam, wanneer (in die konteks van dit waaroor ons praat) ons
die werk van die kerk doen en nié selektief wees nie.
Wayne Grudem sê:
Teaching the Bible to a mixed
group of both men and women in a college or seminary classroom (en ek voeg by Groenpunt- of
Leeuwhof Gevangenis) is
sufficiently similar to teaching the Bible to men and women in a local church
setting, and thus the same restrictions apply.
Another reason is that teaching Bible (l.w. hy sê nie preek, of evangeliseer nie – hy sê
“teaching Bible”) in a college or
seminar carries a responsibilty that is very similar to the Bible teaching role
of elders in the New Testament, or even to the role of a mature, senior elder
training younger elders.
Die opdragte in die Nuwe Testament sê nié, dat
gelowiges hierdie opdragte slegs in ’n gemeentelike opset
moet uitleef nie, maar oral.
6. TEN SLOTTE:
Dit is dus baie duidelik dat geen vrou, lering van
watter aard ook al, aan mans mag gee nie en sál dit dus ook nie in ons gemeente
gebeur nie – ook nie buite die gemeente nie – bv. by Groenpunt- of Leeuwhof
Gevangenis nie – selfs ook nie as daar geen man beskikbaar is om dit te doen
nie – dan sal ons liewer glad nie betrokke wees by ’n bediening daar nie en ons
as leierskap sál en hét ook nie enige vrou vanuit die gemeente tydelike
toestemming verleen om voort te gaan met ’n bediening daar of op enige ander
plek, as daar nie ’n man beskikbaar is om dit te doen nie.
*John Piper en Wayne Grudem se volledige en uitstekende 566 bladsye boek, “Recovering Biblical Manhood and Womanhood” kan gratis en redelik vinnig
van Piper se Webtuiste afgelaai word: