Sunday, March 13, 2011

Openbaring Ontsluit - 32 (“Die Tweede Dier”)

1.     INLEIDING:
Ons het vantevore reeds gemeld dat Openb.13 handel oor meer as een Dier.  Ons het in Openb.13:1-10 gekyk na die eerste Dier wat ’n politieke Dier was en wat verteenwoordigend was van Nero Caesar en die Romeinse Ryk.  Hierdie eerste Dier se primêre doel was om die ganse wêreld onder sy heerskappy te verenig.  Tot dusver was die aandag hoofsaaklik gerig op Nero en die Ryk, maar ons het steeds ook te doen met “afvallige Israel” wat die knie voor die Romeine gebuig het en daardeur, nie alleen Jesus die Verlosser gekruisig het en hul rug op God gedraai het nie, maar in die proses het hulle, hulself geskaar aan die kant van die Satan en sodoende hul sekuriteit in Rome gevind, eerder as in God Almagtig.

Die feit dat Rome en Jerusalem kop in een mus was, het radikale implikasies vir die jong kerk van die Here Jesus Christus ingehou.  Jerusalem het nie gesukkel om die knie voor Rome te buig nie, maar die kerk kon dit nie doen nie, omdat die kerk, liggaam van Christus was en hulle derhalwe onderwerp het aan God en nie aan Rome nie.

Die volgende Skrifgedeeltes stel ons voor aan die tweede Dier, nl. die Godsdienstige Dier en alhoewel dit kriptiese inligting aan ons verskaf, is dit tog duidelik genoeg om die identiteit van hierdie tweede Dier te bepaal.  Ons sal ook sien dat die eerste en die tweede Dier direk gekoppel kan word aan mekaar.  Die godsdienstige Dier (13:11-18) manipuleer die massas tot aanbidding en volkome onderwerping aan die politieke Dier (13:1-10).  Ons kan dus sê dat die tweede Dier, godsdienstig manipuleer.  In die volgende verse beskryf Johannes hierdie manipulasie.

2.     VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
·           Openb.13:11-12- ~ Toe het ek ’n ander dier  gesien wat uit die aarde uit kom. Hy het twee horings gehad soos ’n lam s’n, maar hy het soos ’n draak gepraat. 12 Hy oefen al die gesag van die eerste  namens hom uit. Hy maak dat die aarde en die bewoners daarvan die eerste  aanbid, dié een waarvan die dodelike wond genees het.  Die godsdienstige Dier verteenwoordig ’n demoniese manipulasie tot ’n punt waar die staat as soewerein gesien word.  Hierdie godsdienstige Dier sal ons ook sien, is die afvallige Israel.

Ons sien in ons gelese gedeelte dat hier gepraat word van ’n “ander Dier”.  Daar is twee betekenisse in die Griekse woord “ander”. Die een is “heteros”, wat verwys na ’n ander een, of ’n ander soort.  Die tweede woorde, wat in hierdie gelese paragraaf gebruik word, is die woord “allos” wat van ’n ander een praat wat dieselfde is.  Wat die Grieks dus hier vir ons wil sê, is dat die tweede Dier, ’n ander Dier as die eerste is, maar wat van dieselfde soort is (“another of the same kind”).  Die tweede is nie dieselfde as die eerste nie, maar daar bestaan baie ooreenkomste.

Wat opmerklik is, is dat die eerste Dier uit die see gekom het, terwyl die tweede Dier uit die aarde gekom het.  Ons het alreeds gesien dat die see na ’n heidense volk of nasies verwys en ons het gesien dat die eerste Dier verteenwoordigend van Rome was.  Hierdie tweede dier kom uit die aarde en ons het ook reeds vantevore gesien dat die “aarde” na Palestina verwys.  Wat of wie hierdie tweede Dier dan ook al mag wees, dit het iets te doen met Palestina.

Hierdie Dier het twee horings gehad soos ’n lam s’n, maar hy het soos ’n draak gepraat (v.11).  Hierdie is ’n eienaardige voorstelling, want gewoonlik het lammers nie horings nie.  Hierdie lam het egter twee horings.  In die Ou Testament is “horings” beeldspraak vir, of verwys dit na aanbidding.  As ons na die versierings in die Tempel kyk, sal ons sien dat daar oral versierings van horings was.  Daar was bv. horings aan die punte van die altaar waar die brandoffers gebring is, asook die altaar waar die reukoffers gebring is (sien afbeelding van altaar hiernaas[2]).

Ons weet ook dat ’n “lam”, tipies is van Ou Testamentiese aanbidding – dink bv. aan die lam wat in Isak se plek geoffer is (Gen.22), of die Eksodus -Paaslam (Eks.12), ook Lev.9 en 12, ens.  Ook weet ons dat die Woord praat van Christus as die Lam van God (Joh.1:29, 36).  Van die 27 keer wat daar van ’n lam gepraat word in Openbaring, word daar 26 keer na Christus verwys as die Lam – dit is net hierdie eenkeer dat die woord lam gebruik word en daar nie eksplisiet na Christus verwys word nie. 

Alhoewel hierdie lam in Opneb.13, Christus in gedaante probeer naboots, praat hy soos ’n draak.  Daar word 13 keer van die draak gepraat in Openbaring en elke keer is dit ’n direkte verwysing na die Satan.  Al kom hierdie Dier dus as godsdienstig voor, is dit ’n verpersoonliking van- en word dit geïnspireer deur die Satan.  Dit is dus satanisme in sy mees letterlike vorm!

Die tema van vals en ware godsdiens word regdeur die Nuwe Testament aangetref.  Beide Jesus, sowel as Paulus het die gelowiges voortdurend gewaarsku teen die godsdienstige wolwe in skaapsklere (Matt.7:15; Hand.20:29).  Jesus het nog verder gegaan en ’n onderskeid getref tussen wolwe en bokke (Matt.25:31-33).  Die wolwe en bokke was daardie godsdienstige mense wat voorgegee het dat hulle skape is, maar wat dit nie was nie.

Johannes sê in v.12a dat hierdie tweede Dier, al die gesag van die eerste (dier) namens hom uit(oefen) het.  Die tweede Dier tree dus as “handlanger” op van die eerste Dier.  In kort, die godsdienstige Dier se gesag word aan hom verleen deur die eerste Dier, of te wel die politieke Dier.  Rome verleen dus gesag aan hierdie tweede Dier en die godsdienstige Dier is afhanklik van die eerste Dier.  Johannes sê voorts dat die tweede Dier, ...maak dat die aarde en die bewoners daarvan die eerste (Dier) aanbid, dié een waarvan die dodelike wond genees het (v.12b).  Hyself is dus nie alleen lojaal aan die eerste nie, maar hy dwing die res van die aarde (Palestina) om ook lojaal aan die eerste te wees.  Die vraag is, wie of wat is hierdie godsdienstige Dier?  Daar is hoofsaaklik twee moontlikhede:
·           Sommige mense meen dat hierdie tweede Dier wat hom onderwerp het aan Nero, ’n groep was wat trou gesweer het aan Rome en wat bekend gestaan het as die Keiserlikekultus.  Hulle het hulle o.a. daarvoor beywer dat alle mense hulle moes onderwerp aan die gesag van Rome en spesifiek aan die keiser wat op daardie stadium in beheer was.  In die briewe aan die sewe gemeentes in Klein-Asië (2:9) het Johannes verwys na die sinagoge van die Satan en in sy brief aan die gemeente in Tiatira verwys Johannes na die diep geheimenisse van die Satan (2:24).  Hierdie uitdrukkings kon verwys het na heidense tempels in die stede wat deur Cultus beheer is – Cultus wat aan die hoof van hierdie Keiserlikekultus gestaan het.
·           ’n Tweede moontlikheid wat meer voor die handliggend is, is dat daar ’n godsdienstige groep (“horings”) in Palestina (“aarde”) was wat beweer het dat hulle “van God” was, maar wat inderwaarheid satanies gedrewe was (“draak”) en wat trou gesweer het aan Rome.  Hierdie godsdienstige groep was niemand anders as die Judaïsme (afvallige Israel).  Die vraag wat waarskynlik onmiddellik gevra kan word, is in watter opsig Israel trou gesweer het aan die Romeinse Ryk?   Het die Jode dan nie die Romeine gehaat nie?  Ja, hulle het!  Hoe kon hulle dan trou sweer aan Rome?  Die Woord verskaf aan ons verskeie antwoorde op hierdie vrae.  Voor Jesus gekruisig is en voor Pilatus Hom as Koning van die Jode wou vrylaat, het die Jode uitgeroep ~ Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom! ...Ons het nie ’n koning nie; ons het net die keiser (Joh.19:15).  In Hand.4 het die Apostels Herodes (koning van die Jode – die Joodse regeerder in Jerusalem namens Rome) en Pontius Pilatus (die Romeinse goewerneur in Palestina) direk met mekaar verbind as kop in een mus met mekaar om Jesus tereggestel te kry.  Hulle gaan voort deur te sê ~ Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is (Hand.4:27).  ’n Ander voorbeeld van Rome en Israel se samewerking kan in Matt.22:15-21 gevind word ~ Toe het die Fariseërs gaan besluit om Jesus met ’n vraag in ’n val te lok. 16 Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met ’n aantal Herodiane om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. 17 Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?” 18 Maar Jesus het deur hulle valsheid gesien en vir hulle gesê: “Huigelaars! Waarom stel julle vir My ’n strik? 19 Wys vir My die muntstuk waarmee die belasting betaal word.” Hulle bring toe die muntstuk vir Hom, 20 en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?” 21 “Die keiser s’n,” antwoord hulle. Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”  

Die Herodiane het bekendgestaan daarvoor dat hulle lojaal aan die keiser was en hulle het saamgespan met die Fariseërs om Jesus verstrengel te laat raak in kleinlike politiekery, sodat Jesus in die moeilikheid sou gewees het by die Romeinse owerhede.  Jesus se bg. antwoord het die Herodiane egter onkant betrap en hulle het besef dat hulle Jesus nie met hulle boosheid uitgevang sou kry nie.

Die Jode kon nie die doodstraf oplê nie, behalwe as dit met die goedkeuring van Rome geskied en dit dui daarop dat hulle heel waarskynlik Rome se goedkeuring gehad het toe hulle Stefanus (die eerste Christen martelaar) gestenig het (Hand.7).  Dit is egter moontlik dat Paulus wat ’n Romeinse burger was en wat teenwoordig was by Stefanus se steniging, die nodige  toestemming verleen het, hoewel dit te betwyfel is, want hy was nie ’n amptenaar nie.  Met Golgota was dieselfde beginsel van toepassing – die kruisiging vind plaas o.l.v. Romeinse gesag, maar Sy dood was geïnisieer deur die Jode wat saam met die Romeine gewerk het.  In Hand.16:16-24 word Paulus en Silas in Filippi in die tronk gegooi.  Hierdie situasie herhaal homself in Hand.17:5-9.  Ook in Hand.18:12-15 het die Jode gepoog om Paulus vervolg te kry.

’n Mens sien deurgaans deur die Evangelies en Handelinge, dat die Jode saamwerk met die Romeine teen Jesus en die Christene.  Hierdie was natuurlik uiters geveinsd van die Jode, want hulle het die Romeine gehaat, maar hulle het die Romeine gebruik waar hulle kon ten einde die Christene te vervolg.  In kort, die Joodse leiers het die volk ingelei tot ’n situasie waar die staat en die “kerk” se gesagsfere totaal vermeng geraak het.

Hierdie was natuurlik niks nuuts vir daardie tyd nie (eerste eeu na Christus).  Regdeur die eeue het godsdiens en staat saamgespan om die kerk uitgewis te kry – ons sien dit vandag nog (dink bv. hier aan die S.A. Raad van Kerke wat onteenseglik saam met die regering in dieselfde bed slaap).

Ons sien dus dat daar twee moontlikhede t.o.v. die identiteit van die godsdienstige Dier is – óf Cultus, óf die Judaïste.  Watter een is dit dan?  Ek dink dit voor die handliggend dat die Judaïste die beste inpas in hierdie rol.

·           Openb.13:13-15 ~ Hy doen groot tekens, sodat hy selfs vuur van die hemel af op die aarde laat kom vir die mense om te sien. 14 Aan hom is daar mag gegee om wondertekens namens die dier te doen, waardeur hy die bewoners van die aarde mislei.  Hy sê die bewoners van die aarde ook aan om ’n beeld op te rig vir die  wat die litteken van die slagmes het en wat weer lewend geword het. 15 Aan hom is daar ook mag gegee om asem in die se beeld te blaas, sodat die beeld kan praat en almal kan laat doodmaak wat nie die beeld aanbid nie.  Hierdie drie verse is waarskynlik van die moeilikste verse in Openbaring om te verklaar en kan dit as volg verklaar word: 

Hier is sprake van groot tekens en dan word daar ’n voorbeeld gegee, nl. dat hy selfs vuur van die hemel af op die aarde laat kom (het).  Hierdie voorbeeld herinner sterk aan die vuur wat die profeet Elia afgebid het en derhalwe sien ons dat die Bees een of ander vals profeet is.  Daar bestaan geen getuienis (in die geskiedenisboeke, of die Woord) van hierdie spesifieke wonderwerk wat plaasgevind het nie (vuur uit die hemel)  en kan hierdie voorbeeld bloot net gesien word as voorbeeld om aan te toon dat hierdie beeld wat hier gebruik word, bloot gebruik word om aan te toon dat die Dier een of ander vals profeet was wat seker maak dat hy vir homself en vir Rome, volgelinge kry en behou, eerder as dat hulle Christus navolg (sien ook Openb.16:13; 19:20; 20:10).  Ten einde hierdie moontlikheid te ondersteun, kan ons verwys na bv. Hand.8:9-24 waar die valsprofete (Simon die Towenaar in hierdie geval) wonderwerke gedoen het.  Ons moet onthou dat ook die Satan, wonderwerke kan doen (dink aan die Egiptenare in Eksodus) – natuurlike binne perke.

Wanneer ons na v.14 kyk, sien ons die godsdienstige Dier se misleiding baie duidelik, maar hierdie is ook onteenseglik, simboliese taal wat vir ons aandui dat die godsdienstige Dier daartoe bydrae dat die politieke Dier “groter as die lewe self lyk”.  M.a.w. die tweede Dier beskik oor die vermoë om die mense te mislei, sodat die mense hulleself onderwerp aan die eerste Dier, omdat hulle onder die indruk gebring word dat hulle in ’n hopelose situasie sal verkeer as hulle, hulself nié onderwerp aan die eerste Dier nie.  Hier is dus sprake van allerlei towery; oë verblindery en misleiding ten einde die liggelowiges weg te lei van die Evangelieboodskap wat deur die Apostels verkondig is.

Eerste eeuse geskiedenis is vol daarvan dat talle Jode onder die invloed van vals leraars, mislei is.  Daar is bv. getuienis van die Selote wat Jerusalem wou verlaat kort voor die stad voor die Romeine geval het, maar ’n vals profesie is gebring wat gesê het dat God Jerusalem sou bewaar en oorwinning aan hulle sou gee.  Die Selote het gebly, net om kort daarna tot die ontnugterende realiteit gebring te word, dat hulle mislei was en hulle is in hul dosyne uitgedelg deur die Romeine. 

Die invloed van hierdie godsdienstige Dier was geweldig sterk – so sterk dat almal dood(ge)maak (is) wat nie die beeld aanbid (het) nie.  Histories is hierdie gebeure waar en ons sien hoe dat bykans al die Apostels en talle gelowiges dood gemaak is in ’n gekombineerde poging deur die Romeine (die politieke Dier) en die Judaïste (die godsdienstige Dier).  Ons sal egter nog verder in Openbaring sien hoe hierdie optrede van die Judaïste uiteindelik teen hulle gaan draai (“back fire”) wanneer die Romeine teen die Judaïste gaan draai en hulle gaan uitwis.


[1]Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 14 Maart 2011

DIE BOEK ESRA ~ 02 (“Terug na God”)

1.       INLEIDING:
Ons vind op verskeie plekke in die Woord van God, lang lyste name en dan wonder ’n mens en jy vra jouself af:  Wat die doel of nut daarmee is. In Gen. 5 vind ons bv. Adam se geslagsregister en in Gen.11 dié van Sem, terwyl ons in Matt.1:1-17, die geslagsregister van Jesus aantref.  In die tweede hoofstuk van Esra vind ons lang lyste name van die ...mense uit die provinsie Juda wat uit die ballingskap teruggekom het na Jerusalem en Juda toe (Esra 2:1). En in vv.66-67 word die soort en hoeveelheid diere ook vermeld, wat saam met hulle terug is na Palestina.  Ons kan dus ook vra, wat die primêre teologiese doel met hierdie lang lyste name is?

Ons moet verstaan, dat die hoeveelhede van mense, of die getalle, soos vermeld in die registers, nie regtig belangrik was nie – dit is waarom sommige ooreenstemmende geslagsregisters, se hoeveelhede nie altyd ooreengestem het nie.  Wat die getalle in geslagsregisters betref, sê die bekende B.B. Warfield dat die doel waarom geslagsregisters, of lyste van name gegee word, nie was om daardeur ’n volledige verslag te gee van al die geslagte nie, maar net om aan ’n bepaalde persoon te toon van wie hy werklik afstam.  Wat dus wel belangrik was, was om vas te stel wie jou familie was; wat jou identiteit was; waar jou wortels gelê het.  

Ek het ’n paar jaar gelede navorsing gedoen oor my voorgeslagte en ’n geslagsregister saamgestel.  My kinders het geweldig belang gestel daarin, maar elke keer as ons na die register kyk, tel nie een van hulle ooit die hoeveelheid  neefs en niggies en ooms en tannies wat daar in die voorgeslagte was nie – hulle stel net belang in waar hulle pa en my pa en my oupa van wie ons die van “van der Walt” gekry het, op die geslaglyn is en wie sy pa en dié se pa was, ens. tot by die oorspronklike “van der Walt” wat na die suidpunt van Afrika gekom het.  Of wanneer my kinders na ’n familiefoto kyk wat van die “van der Walts” op Kersdag 1955 in Middelburg, Kaap geneem is, gee hulle nie regtig om dat een van die ooms en van die (op daardie stadium, ongebore), neefs en niggies nie op die foto is nie – nee, hulle kyk waar is Pa, Oupa en Ouma en Oupagrootjie en Oumagrootjie.  Dit is presies dieselfde met die geslagsregisters in die Bybel.   

Die punt is nie die dosyne en dosyne kinders en kleinkinders, ens. wat voortgespruit het uit die eerste “van der Walt”, by name Geele Andries Veenwouden wat in 1705 in Friesland gebore is nie, maar die direkte lyn wat van Geele tot by Hugo loop – dít is wat van belang is – hoeveel geslagte dus (Hugo = 9de) en wie deel uitmaak van die direkte geslagslyn.

As ons net vir ’n oomblik kan terugkeer na die Gen.5-geslagsregister, kan ons bv. ook bepaal hoe oud die aarde is, spesifiek wanneer ’n mens dit dan ook vergelyk met die genealogie van Kain in Gen.4.  Ek wil egter nie nou daarin verval om te sê hoe oud die aarde is en hoe ’n mens daarby uitkom nie (daar is bv. genoeg inligting op Creation Ministries se webtuiste hieroor:  http://creation.com/).

In Gen.5 kan gesien word dat Lameg ’n Godvresende man was en deur sy geslagsregister na te gaan, kan ’n mens sien wat se seën vir die nageslagte daaruit voortgespruit het.  As ons na Jesus se geslagsregister kyk, sien ons dat Ragab  (die prostituut) en Rut, beide aanvanklik heidene was, maar hulle is ingesluit in die voorgeslagte van Jesus, om daardeur aan te toon dat Jesus se genadewerk aan die kruis ook bedoel is vir die heidene (ons).

Daar is nog vele ander redes waarom ons geslagsregisters in die Woord aantref, wat ons wel sien, is dat geslagsregisters nie om dowe neute in die Woord aangeteken is nie en dat ons baie daaruit kan leer.

Ek sien hierdie afgelope week hoe mense op die Internet praat van “die groot seder wat geval het” in Kleinmond se omgewing (berig in Overstrand Herald, d.d. 25 Feb. 2011). Dit maak ongelukkig nie saak hoe ’n “groot seder” ons in hierdie lewe is of was nie, want volgens Moses, is die mees belangrikste faktor in die ganse wêreld wat die mens se uiteindelike bestemming bepaal, nié sy bydrae wat hy in hierdie lewe gelewer het nie.  Ook is dit nie die reputasie wat jy opgebou het  nie, want die kritiese faktor vir elke mens, is of sy of haar naam in “God se boek” opgeteken staan – dít is wat saak maak.  Dit laat ’n mens onwillekeurig dink aan die woorde in Openb.20:12-15 ~ Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. 13 Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. 14 Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. 15 As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi

Dit het dus vir die Ou Testamentiese Jode daaroor gegaan of hul name in die genealogiese lyn van Kain of dié van Set was.  En wat het bepaal of hulle name opgeskryf was in die geslagsregister wat in Gen.5 opgeteken was?  Hul erkenning van hul eie sonde en hul geloof in God wat verlossing en redding belowe het – dít het bepaal of hulle in Set se geslagsregister opgeteken is of nie. 

Dit is presies dieselfde vandag nog.  Die vraag is:  Onder wie se genealogiese lyn staan jou naam geskryf?  Is jy steeds deel van die nageslag van Adam, of is jou naam onder die genealogiese lyn van Jesus Christus?

Vanuit God se perspektief is genealogiese lyne baie belangrik, want daardeur toon hy aan ons dat elke mens wat in Christus Jesus uitverkies is, vir Hom belangrik is – Hy ken jou en my op die naam en Hy het jou naam in die palm van Sy hand gegraveer, net soos wat jou naam in die heilige familielyn van Christus opgeteken staan!

2.       SKRIFLESING:
Kom ons lees enkele verse en gedeeltes van verse uit Esra 2:1-61:
Verse 1-5 ~ Hier volg ’n opgawe van die mense uit die provinsie Juda wat uit die ballingskap teruggekom het na Jerusalem en Juda toe, elkeen na sy eie stad toe. Hulle is na Babel toe weggevoer deur koning Nebukadnesar van Babel, 2 en hulle het teruggekom saam met Serubbabel, Jesua, Nehemia, Seraja, Reëlaja, Mordegai, Bilsan, Mispar, Bigwai, Regum en Baäna. Die getalle van die mense van die volk Israel was soos volg: 3 Ingedeel volgens families: Paros twee duisend een honderd twee en sewentig, 4 Sefatja drie honderd twee en sewentig, 5 Arag.......

Vers 21-38 ~ Ingedeel volgens plek van herkoms: Betlehem honderd drie en twintig, 22 Netofa ses en vyftig, 23 Anatot honderd ag en twintig, 24 Bet-Asmawet twee en veertig, 25 Kirjat-Jearim, Kefira en Beërot sewe honderd drie en veertig, 26 Rama en Geba ses honderd een en twintig, 27 Mikmas honderd twee en twintig, 28 Bet-El en Ai twee honderd drie en twintig, 29 Nebo twee en vyftig, 30 Magbis honderd ses en vyftig, 31 nog ’n Elam duisend twee honderd vier en vyftig, 32 Garim drie honderd en twintig, 33 Lod, Gadid en Ono sewe honderd vyf en twintig, 34 Jerigo drie honderd vyf en veertig, 35 Senaä drie duisend ses honderd en dertig 36Priesterfamilies: Jedaja, uit die huis van Jesua, nege honderd drie en sewentig, 37 Immer duisend twee en vyftig, 38 Pasgur.......

Verse 40-43 ~ Levitiese families: Jesua en Kadmiël, uit die Hodaujagroep, vier en sewentig, 41 sangers uit die Asafgroep honderd ag en twintig, 42 poortwagte uit die families van Sallum, Ater, Talmon, Akkub, Gatita en Sobai, almal saam honderd nege en dertig. 43 Tempelslawe met hulle families: Siga, Gasufa.......

Vers 55 ~ Nakomelinge van die dienaars van Salomo, met hulle families: Sotai, Soferet, Peruda......

Verse 58-61 ~ Al die tempelslawe en die nakomelinge van die dienaars van Salomo was saam drie honderd twee en negentig. 59 Uit Tel-Melag, Tel-Garsa, Kerub-Addan en Immer het mense teruggekom wat nie uit hulle familieverband en afstamming kon aantoon dat hulle deel van Israel is nie. 60 Dit was die families van Delaja, Tobija en Nekoda, altesaam ses honderd twee en vyftig mense. 61 Van die priesterfamilies was daar ook nog dié van Gabaja, Kos en Barsillai, dié Barsillai wat getroud is met ’n dogter van die Gileadiet Barsillai en toe na hom vernoem is..

Verse 64-67 ~ Die hele gemeente was in totaal twee en veertig duisend drie honderd en sestig, 65 afgesien van hulle slawe en slavinne; dié was sewe duisend drie honderd sewe en dertig. Dan was daar ook nog twee honderd sangers en sangeresse. 66 Die mense het sewe honderd ses en dertig perde, twee honderd vyf en veertig muile, 67 vier honderd vyf en dertig kamele en ses duisend sewe honderd en twintig donkies gehad. 

3.       DIE LYS VAN NAME:
Dit is baie interessant om te sien dat bykans dieselfde lys deur Nehemia in Neh.7:6-73 verskaf word.  Dieselfde vraag wat ons aan die begin gevra het, kan ons ook weer hier vra, nl.:  Wat is die doel met hierdie lys name?  Wel, ons kan ook sê dat hierdie nodig was, want volgens hierdie lys kon elke banneling presies sien tot watter familiegroep hy hoort en vanwaar sy voorgeslag gekom het, sodat daar geen twyfel bestaan het oor wat van elkeen verwag word en waarheen elkeen moes terugkeer nie. Daar moes dus ’n kontinuïteit bestaan tussen die voor-ballingstyd en die na-ballingstyd.  Ons sien hierdie feit in vv.59-63 en dan veral v.59 ~ Uit Tel-Melag, Tel-Garsa, Kerub-Addan en Immer het mense teruggekom wat nie uit hulle familieverband en afstamming kon aantoon dat hulle deel van Israel is nie.  Verder moes die stamme nie vermeng geraak het nie en daarom het hulle in stamverband, of familieverband getrek.

Verder is die klem wat op die begin en einde van elkeen van hierdie reeks name, of families geplaas word, belangrik, want dit was in ooreenstemming met die verdeling van die land soos o.a. in Josua aangetref en dit is weer ’n gedeeltelike vervulling van die oorspronklike belofte wat God aan Abraham gemaak het in Gen.12:2-3 ~ Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ’n seën wees. 3 Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.

Dit is duidelik dat die klem in hierdie lys val op die ballinge se identiteit en ’n instandhouding en voortsetting van die verlede en God se bemoeienis met die voorgeslagte.

’n Baie interessante stukkie moderne geskiedenis, is dat daar ’n klompie jare gelede (net na 1948[2]) ’n massa emigrasie van Jode uit Irak na Israel plaasgevind het, toe tussen 800 000 en 1 miljoen Jode, teruggekeer het na Israel.  Hulle was hoogs waarskynlik (en volgens die destydse eerste minister, David Ben-Gurion, beslis) deel van die nageslag van ’n deel van die Joodse ballinge in Irak, wat nie destyds saam met Serubbabel teruggekeer het nie.

Die terugtog na Israel van Babilon af, het nagenoeg 4 maande geduur en die afstand wat afgelê is, was ongeveer 1450 km.  Die roete wat die ballinge gevolg het, was noordwaarts, al langs die Eufraatrivier, tot net oos van ’n plek met die naam van Aleppo, daarna het hulle weswaarts getrek tot by die Orontesriviervallei, waarna hulle suidwaarts met hierdie vallei getrek het, totdat hulle uiteindelik by Damaskus uitgekom het en vandaar tot in Palestina.  Hierdie roete was presies dieselfde roete as wat deur die Assiriese en Babiloniese weermagte gebruik is waarvan ons in Jer.39 en 52 lees (39:5-7; 52:9-10, 26-27).

Wat opmerklik is van hierdie lang lys name, is o.a. die feit dat hierdie ’n lys is van die eerste mense wat uit ballingskap terug gekeer het na die “Beloofde Land” en hulle het volgens 2:2, onder die leiding van Serubbabel, Jesua, Nehemia, Seraja, Reëlaja, Mordegai, Bilsan, Mispar, Bigwai, Regum en Baäna, teruggekeerSerubbabel was egter die leier van hierdie eerste uittog uit Babilonië.

Ons sien ook dat die totale hoeveelheid mense wat terug gekeer het (volgens vv.42, 58 en 60), 29 829 was.  As ons egter na vv.64-65 kyk, was daar 49 897.  Die woorde wat hier belangrik is om in gedagte te hou wanneer ons hierdie verskil moet verklaar, is die openingswoorde in v.64, nl. ~ Die hele gemeente....  Die groter hoeveelheid het waarskynlik die vrouens en kinders ingesluit.  Dit mag ook wees dat daar oorspronklik ’n klomp Jode uit die tien noordelike stamme saam met die twee suidelike stamme van Juda en Benjamin weggevoer is en wat nou saam terug gekeer het.  Hierdie getal kan egter ook die priesters ingesluit het wat nie, volgens vv.61-62, hul genealogie kon bepaal nie.

Wanneer ons later na Nehemia en dan spesifiek na 7:66-67 gaan kyk, sal ons sien dat Nehemia se getal 45 meer insluit.  Wanneer ’n mens die lyste vergelyk, sien jy dat Nehemia 45 meer sangers “gelys” het en dit kan toegeskryf word aan ’n fout wat deur die skriba (sekretaris) begaan is gedurende die oorskryf van die verskillende grondtekste en vertalings.

Daar is ander soortgelyke verskille in die lyste, maar die totale is steeds bykans dieselfde.

Dit is ook baie interessant om te sien dat selfs die diere getel en gelys was – ’n totaal van 8 136 donkies wat hoofsaaklik gebruik is vir rydoeleindes

4.       TERUG IN ISRAEL:
In Esra 1:7 het ons gesien dat Koning Kores ook die goed laat haal (het) wat in die huis van die Here was en wat Nebukadnesar uit Jerusalem weggevat en in die tempel van sy god gesit het.  Hierdie tempelgereedskap is in die sorg van Sesbassar geplaas, wat dit moes terugneem na Jerusalem sodat dit in die herboude tempel geplaas kon word.  Ons sien egter ook in 1:6 dat al die Israeliete se bure ~ ...hulle hande gesterk (het) deur silwerware en goud, gebruiksgoed, vee en allerlei kosbaarhede te gee, bo en behalwe al die vrywillige gawes.

Maar nou terug in Jerusalem kom van die ballinge en ons lees die volgende in vv.68-69 ~ Met hulle aankoms by die tempelterrein in Jerusalem het ’n aantal familiehoofde vrywillige bydraes gegee vir die oprigting van die huis van die Here op sy oorspronklike plek. 69 Hulle het volgens hulle vermoë vir die boufonds gegee, iets meer as ’n halwe ton goud, byna drie ton silwer en honderd stelle priesterklere.  Daar word ruim bygedra ter wille van die heropbou van die tempel.  Die volk se bydraes het gespreek van ’n opregte toewyding aan God – dieselfde gees wat in Eks.36 geheers het, toe Moses gevra het vir offergawes ten einde die tabernakel met die tent daaroor te maak (foto van tabernakel - http://www.bibleplaces.com/tabernacle.htm).  En wat was die eindresultaat?   Toe het al die vakmanne wat die werk aan die heiligdom moes doen, elkeen van sy afdeling van die werk af, 5vir Moses kom sê: “Die volk bring meer as wat nodig is om die werk te doen wat die Here beveel het.” 6 Toe het Moses in die kamp rond laat weet dat die mense nie meer iets as offergawe vir die heiligdom moet gee nie, en eers toe het die volk opgehou bring. 7 Daar was meer as genoeg om al die werk te doen, daar was selfs nog oor (vv.4-7).  Hierdie gesindheid was presies dít wat Paulus ook in gedagte gehad het, toe hy in 2Kor.9:6-7 geskryf het ~ Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. 7 Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.  Die volk het uit vrye wil gegee en ook volgens elkeen se eie voorneme. 

Die spreekwoordelike tafel is gedek vir die herbou van die tempel van God in Jerusalem – daar is genoeg werkers; die heerser van die Ryk, koning Kores het sy seën verleen op die projek; die tempelgereedskap is terug gekry en daar was meer as genoeg boumateriaal om die tempel te herbou.

Hierdie hoofstuk word egter afgesluit met hierdie woorde in v.70 ~ Die priesters, die Leviete en ’n deel van die volk, asook die sangers, die poortwagte en die tempelslawe het hulle gevestig in die stede waar hulle vandaan gekom het. So het die hele Israel gedoen.   Die volk moes in meer as een opsig, ’n nuwe begin maak, want die meeste van die ballinge het terug getrek na dorpies wat hul nog nooit van tevore gesien het nie, maar dit was die tuisdorpe van hul voorouers en dit was waar hulle wou wees – tuis!   

5.       AFSLUITING:
Die boek Esra word deur baie mense beskou as koue geskiedenis, of dalk interessante geskiedenis, maar wat se relevansie het dit vir ons vandag?  Die ballinge se voorsate het God gedien; was deel van die verbondsvolk; het saam met Moses na die Beloofde Land getrek, terwyl God hulle bewaar het teen allerlei aanslae, ens. (dink aan die Rooi See wat gekloof was, terwyl die Egiptiese weermag hulle agterna gesit het);  bedags het God hulle in die vorm van ’n wolkkolom gelei en snags deur ’n vuurkolom; hulle is gevoed deur manna en kwartels, ens., maar uiteindelik het hulle hul rug op God gedraai en het hulle verval in ’n bose sirkel van afgodery en bekering en afgodery en wettisisme en afvalligheid en bekering.  Uiteindelik is die twee suidelike stamme weggevoer na Babilon, maar God red weereens ’n “oorblyfsel” en hulle keer terug na die Beloofde Land, sodat hulle weer hul aanbiddingsplek kon herbou, ten einde weer in die regte verhouding met God te kon staan.

Is ons nie ook op presies dieselfde plek nie?  Kom ons geskiedenis as gelowiges nie ook ’n lang pad nie?  Die Nuwe Testamentiese kerk wat kort na Jesus se hemelvaart ontstaan het, het mettertyd ook verval en verdwyn. Die staatskerk het onder Konstantyn hoogty gevier.  Die Roomse Kerk het oorgeneem, maar toe kom die hervorming en God red weer ’n klein groepie.  Hulle word fel vervolg deur die staatskerk en die R.K.K. en die meeste van ons voorouers vlug uit Europa vir hulle geloof, om hulleself as toegewyde oorblyfsel van gelowiges aan die suidpunt van Afrika te kom vestig.  Die kerk groei in ons land en ons lees en hoor van wonderlike dinge wat in die kerk van destyds onder, o.a. Andrew Murray gebeur het.  Maar, oor jare heen het die kerk egter weer verval en het die staat en die kerk se gesagsfere vermeng geraak – verval het ingetree in die kerk van ons dag en die kerk in Suid-Afrika verkeer tans in ’n hartverskeurende toestand.  MAAR God red weer en is steeds besig om weer ’n “oorblyfsel” te red.  Waarom?  Sodat ons weer in die regte verhouding met Hom kan staan.

Die vraag is, of ons met dieselfde gesindheid, oorgawe en visie as waarmee die bannelinge teruggekeer het na die Beloofde Land, ons elke dag opnuut toewy aan die Here God?  Ons lees in Esra 7:10 ~ Esra het hom gewy aan die wet van die Here. Hy wou dit in die praktyk toepas en Israel elke voorskrif en bepaling leer.  Is dít ook ons opregte begeerte om God met ons hele hart te gehoorsaam en Hom te dien?

Laat ons, ons vandag weer opnuut voorneem om God Almagtig te dien met oorgawe en Hom te dank vir die feit dat ons deel is van ’n volk met ’n ryke geskiedenis van toewyding aan God, maar laat ons elke dag ook bedag wees daarop dat hierdie voorreg deur die vyand van ons gesteel kan word.  Kom ons tree waardig ons roeping op en dank God dat ons deel van Sy “oorblyfsel” is!


1.     Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 13 Maart 2011

Sunday, March 6, 2011

DIE BOEK ESRA ~ 01 (“God ÍS ’n betroubare God”)

1.     INLEIDING:
Iets wat nie algemeen bekend is onder die deursnee gelowige, is die feit dat die boeke Samuel, Konings en Kronieke, aanvanklik een boek in die Hebreeuse Bybel gevorm het.  Net so was daar ook ’n tweede groep boeke wat saam ’n eenheid gevorm het nl. Esra en Nehemia.  Dit was eers heelwat na die vestiging van die Christelike era, dat hierdie boeke geskei is.  Dit is dus goed as ’n mens na hierdie versameling boeke as ’n eenheid kyk.  So sal ons bv. in Esra sien hoe die tweede tempel herbou is, terwyl in Nehemia sal ons sien hoe die stadsmuur herbou is. 

Ek wil dan dat ons vir die volgende klompie weke na hierdie tweede groep boeke, nl. Esra en Nehemia as eenheid kyk en daarom moet ons by Esra begin.

Dit word algemeen aanvaar dat Nehemia die skrywer van beide Esra en Nehemia was.  Dit word bereken dat Esra gedurende die jaar 440 v.C. geskryf is en dit is 100 jaar nadat die Israeliete terug gekeer het uit ballingskap.

Ten einde die omstandighede te verstaan waaronder Esra en Nehemia geskryf is, moet ons ook net kortliks kyk na wat die ballingskap behels het – hoe dit begin het en hoe dit geëindig het.

2.     DIE BALLINGSKAP:
Die Babiloniese Ryk was geweldig sterk rondom die 6de eeu v.C.  In nagenoeg 604 v.C. het hulle weermag deur Palestina beweeg en in die proses gedurende 597 v.C. het hulle Jerusalem binnegeval.  In 587 v.C. word groot gedeeltes van die stadsmuur deur die Babiloniërs vernietig en in 586 v.C. word die indrukwekkende tempel vernietig.

Terwyl die Babiloniërs in Palestina doenig was, het hulle groot getalle mense weggevoer na o.a. Babilon (in die omgewing van die huidige Bagdad in Irak), waar hulle spesifiek by die Kebarrivier gewoon het.  Andere is na Susa (in die huidige Iran) weggevoer.  Dit is opmerklik dat die meerderheid van die weggevoerde Israeliete, van die vernaamstes en die aansienlikste mense was – die heel armes is in Palestina agtergelaat, maar hoofsaaklik was dit die priesters en Leviete en die stamme van Juda en Benjamin wat weggevoer is.  Onder hierdie ballinge was manne soos die profete Jeremia en Esegiël; Daniël van “leeukuil faam” en dan ook o.a. Esra, ’n priester en skrifgeleerde wat veral onthou word as die man wat die Torah (die Wetsrol) voorgelees het aan die teruggekeerde ballinge op die plein voor die Waterpoort in Jerusalem, waarop daar toe ’n herlewing uitgebreek het onder die Israeliete (Neh.8).  Dan was daar ook Nehemia wat bekend was vir sy administratiewe bekwaamheid en ’n organiseerder by uitstek, wat die volk help herstel het ná die ballingskap en wat instrumenteel was in die herbou van die stadsmuur in Jerusalem.  Beide Esra en Nehemia het van Babilon af teruggekeer na Jerusalem.

Die lewe vir ballinge in Babilon was nie te onaangenaam nie.  Hulle kon werk en trou, huise bou en tuine aanlê, ens.  Jeremia het hulle ook aangemoedig om dit te doen, want hulle terugkeer na die Beloofde Land, sou nie gou geskied nie.  Hulle het dus ’n  georganiseerde samelewing gehad.  Ten spyte van die feit dat hulle redelik goed aangepas het by hulle nuwe omstandighede, het die meeste tog intens terug verlang na hul land – Die bekende Ps.137 is hier ’n pragtige weerspieëling van hul verlange ~ By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink. 2 Aan die wilgerbome in daardie land het ons ons liere opgehang 3 toe dié wat vir ons gevange weggevoer het, ons gevra het om ’n lied te sing, toe dié wat vir ons leed aangedoen het, van ons vrolikheid wou hê: “Sing vir ons ’n lied oor Sion!” 4 Hoe kan ons die lied van die Here sing in ’n vreemde land? 5 As ek jou sou vergeet, Jerusalem, mag my regterhand dan verlam raak. 6 Mag my tong aan my verhemelte vaskleef as ek aan jou nie dink nie, as Jerusalem nie my grootste vreugde bly nie. 7 Onthou die Edomiete, Here, die dag toe Jerusalem ingeneem is, hoe hulle aangehou het met sê: “Breek af, breek af die stad tot op sy fondamente!” 8 Dat jy verwoes sal word, Babel, is seker. Gelukkig is die man wat jou terugbetaal vir wat jy ons aangedoen het! 9 Gelukkig is hy wat jou babatjies gryp en teen ’n klip verbrysel.

Die Israeliete het bly glo dat God hulle spoedig sou verlos en teruglei na hul tuisland, want hulle was tog immers God se volk (Jer.7:4).  Maar die Here het hulle nie verlos nie (in elk geval nie gou nie) en Jerusalem en die tempel wat beide ’n geweldig belangrike rol in die lewe van die Israeliete gespeel het, is intussen ook nog verwoes.  Te midde van hul verlange en die nuus dat hul geliefde stad en tempel verwoes is, kyk hulle na die Babiloniërs se tempels waar die afgode vereer word vir die Babiloniërs se suksesvolle veldtogte en die vraag kom by hulle op:  Is die Here onse God dan waarlik die Magtige in wie ons nog altyd geglo het? 

Twyfel ontstaan in hul gemoedere!  Uit Esegiël se prediking hoor hulle egter dat hulle omstandighede nie die gevolg van enige swakheid aan die kant van God is nie, maar dat dit straf is op hul eie sonde.  Maar soos so dikwels wanneer straf op sonde aangekondig word, blyk God se genade en liefde terselfdertyd en sal Hy ook nie te midde van hulle straf die volk verlaat nie en sal Hy hulle uiteindelik verlos en sál hulle weet dat Hy waarlik die Here is (Eseg.36:23). En Hy belowe in Eseg.36:10, dat ~ Die stede weer bewoon (sal) word, (en) die puinhope herbou word.  Deur die prediking het die volk dit reggekry om in hulle geloof te volhard.

Dit word algemeen gesê dat die ballingskap 70 jaar geduur het.  Hierdie 70 jaar was egter die totale tydperk (of ’n afgeronde getal) en sommige het dus korter as 70 jaar in ballingskap verkeer, want die eerste Israeliete, waaronder Jojagin, is reeds in 597 v.C. weggevoer (en Daniël selfs nog voor dit).  ’n Tweede wegvoering het gepaard gegaan met die val van Jerusalem in 586 v.C. (waarmee die eintlike ballingskap begin het).

Van die bekendes wat gedurende die ballingskap oor die Babiloniese Ryk regeer het, was manne soos Nebukadneser en Belsasar.

In 538 v.C. het die terugkeer van die ballinge egter begin, nadat Cyrus, of te wel Kores van die Persiese Ryk, die Babiloniese Ryk in 539 n.C. verower het (Dan.5:30).  Kom ons lees verder daarvan in die Woord.

3.     SKRIFLESING:
Esra 1:1-11 ~ In die eerste regeringsjaar van koning Kores van Persië is die belofte vervul wat die Here by monde van Jeremia uitgespreek het: die Here het koning Kores van Persië laat besluit om dwarsoor sy ryk ’n proklamasie te laat afkondig. Die proklamasie, wat ook skriftelik was, het soos volg gelui: 2 “Koning Kores van Persië maak bekend: Die Here die God van die hemel het al die koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir Hom ’n tempel in Jerusalem in Juda te bou. 3 Enigiemand onder julle wat aan sy volk behoort-mag sy God by hom wees-mag na Jerusalem in Juda toe gaan en die tempel gaan bou vir die Here die God van Israel. Hy is God in Jerusalem. 4 Elkeen wat van dié volk nog oor is, waar hy ook al tydelik gewoon het, moet deur die mense van sy omgewing voorsien word van die nodige silwer, goud, gebruiksgoed en vee, tesame met ’n vrywillige gawe vir die tempel van God in Jerusalem.” 5 Die familiehoofde van Juda en Benjamin, asook die priesters en die Leviete, elkeen in wie God die voorneme gegee het, het toe klaargemaak om die huis van die Here in Jerusalem te gaan bou. 6 Al hulle bure het hulle hande gesterk deur silwerware en goud, gebruiksgoed, vee en allerlei kosbaarhede te gee, bo en behalwe al die vrywillige gawes. 7 Koning Kores het ook die goed laat haal wat in die huis van die Here was en wat Nebukadnesar uit Jerusalem weggevat en in die tempel van sy god gesit het. 8 Koning Kores van Persië het dit aan Mitredat, die sekretaris van die tesourie, laat oorhandig, en dié het ’n lys daarvan gemaak vir Sesbassar, hoof van die stam Juda. 9 Die volgende stukke was op die lys: dertig goue bakke, duisend silwerbakke, en-toe dit weer getel is-nog nege en twintig by, 10 dertig goue komme, vier honderd en tien silwerkomme na hertelling, en ’n duisend ander stukke. 11 Daar was altesame vyf duisend vier honderd stukke goud en silwer. Sesbassar het alles saamgevat toe hy die ballinge van Babel af na Jerusalem toe gebring het.

4.     DIE TERUGKEER:
Iets wonderliks het in 538 v.C. gebeur – ons lees in v.1 ~ ... die Here het koning Kores van Persië laat besluit.  Die Here het die koning laat besluit!  Hoe wonderlik om te besef dat God agter regerings en regeerders se besluite sit en dat Hy bepaal hoe hulle volgens Sy raadsbesluit moet optree.  Ons het reeds in Eks.7:3 ’n pragtige voorbeeld hiervan, toe die Here vir Moses gesê het ~ Maar Ek sal die farao hardkoppig maak, sodat Ek baie tekens en wonders in Egipte kan doen.  Ook in Kores se geval, plant God die gedagte in sy gemoed vir sy proklamasie en Kores reik dan die volgende verklaring uit ~ Die Here die God van die hemel het al die koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir Hom ’n tempel in Jerusalem in Juda te bou. 3 Enigiemand onder julle wat aan sy volk behoort-mag sy God by hom wees-mag na Jerusalem in Juda toe gaan en die tempel gaan bou vir die Here die God van Israel.  Die tempel gaan herbou word en wat meer is, al die Israeliete wat op daardie stadium as ballinge in die Babiloniese Ryk gebly het, ontvang toestemming om terug te keer na Jerusalem.

Hierdie woorde van Kores is egter niks nuuts nie, want hierdie aankondiging is bloot maar net ’n vervulling van ’n profesie wat Jesaja nagenoeg 200 jaar vantevore gebring het in Jes.44:28, maar ook Jeremia het in Jer.29:10 hieroor geprofeteer ~  So sê die Here: Oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring.  Jeremia gaan in Jer.33:10-11a voort, deur verder te profeteer ~ So sê die Here: Daar word nog gehoor dat julle van hierdie plek sê dit is verwoes, sonder mense en sonder diere. Maar in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem wat verwoes en sonder mense en sonder inwoners en diere was, 11 sal daar weer blydskap en vreugde wees, ook huweliksfeeste, die mense sal die Here die Almagtige loof.  God het belowe dat Hy Sy kinders sou terugbring na Jerusalem en nou doen hy dit deur Kores se proklamasie!

So dikwels gebeur dinge in die wêreld rondom ons en is dit moeilik om God se hand agter dit alles te sien, omdat ons dit beskou as die normale en natuurlike verloop van sake.  Om God agter sulke gebeure te sien vereis ’n geloofsvisie en sonder so ’n visie sal ons armer wees en sien ons nie God se daaglikse betrokkenheid in daaglikse dinge raak nie en mag ons selfs oor Sy bestaan begin twyfel.  Dink jy dat die huidige gebeure in Noord-Afrika en die Midde-Ooste (Egipte, Oman, Libië, ens.) waar die een diktator na die ander nou in die stof byt, bloot maar net deel is van die beloop van die lewe?  O nee, ook daar agter sit God Almagtig!  Wat Sy plan hiermee is, weet ons nog nie, maar Hy orkestreer gewis daardie gebeure!

Kores het bevel gegee dat die tempel herbou moet word.  Hy gee ook opdrag dat al die tempelgereedskap teruggegee moes word, wat voor die tempel verwoes is, deur Nebukadneser uit die tempel gebuit is.  Daar is ’n behoorlike lys van al hierdie gereedskap saamgestel deur die sekretaris van die tesourie en hierdie tempelstukke word met koninklike waardigheid hanteer en gesertifiseer, omdat dit gawes van die Here is.  Nadat die lys saamgestel is, word dit aan Sesbassar wat op daardie stadium hoof van die stam van Juda was, oorhandig om terug te neem na Jerusalem.  Wanneer ons na die lys kyk, sien ons dat daar 5 400 stukke in totaal was.  Hierdie getal vind ons in v.11, maar as ons na vv.9-10 kyk en die getalle daar bymekaar tel, vind ons slegs 2 499 stukke.

Hierdie oënskynlike verskil kan egter maklik verklaar word.  Eerstens weet ons dat ook hierdie boek onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf is en dat daar dus nie ’n fout begaan is met die getalle nie.  Die mees waarskynlikste verklaring is dat Esra in vv.9-10 eers net ’n lys gemaak het van die belangrikste items en in v.11 het hy die totale hoeveelheid vermeld.

Wanneer ons later in hoofstuk 7 by Esra terugkom, sal ons sien dat hierdie terugtog van Sesbassar, nagenoeg 4 maande geduur het en dat dit waarskynlik gedurende die lente van 537 v.C. plaasgevind het.  Ons sal ook sien dat Sesbassar deurgaans die waardigheid van hierdie kosbare vrag moes handhaaf.

Die detail waarmee hierdie gebeure rondom die tempelgereedskap opgeteken is, was nie om dowe neute nie.  Nebukadneser het hierdie heilige tempelstukke weggevoer en dit in die proses ontheilig deurdat hy dit in die Babiloniese afgodstempels laat plaas het.  Nebukadneser het daardeur probeer aantoon dat sy gode groter was as die God aan wie hierdie gereedskap gewei was.

Dit was egter nou tyd dat God aan Sy volk toon wie hulle God waarlik is en Hy begin deur die tempelgereedskap byeen te bring.  In 2Tim.2:20-21 vergelyk Paulus gelowiges ook met hierdie tempelgereedskap wanneer hy sê ~ In ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. 21 As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ’n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.  Ten spyte van die verskeidenheid van voorwerpe (van goue bakke tot silwerstukke), weet ons dat daar net so ’n verskeidenheid van gelowiges is, maar net soos elke stukkie van die tempelgereedskap kosbaar en heilig vir God was, net so kosbaar en heilig is elke gelowige in die oë van God.

5.     TOEPASSING:
Ons sien in hierdie eerste hoofstuk van Esra ’n voortsetting van die Bybelse tema van die “oorblyfsel” (“remnant”).  Regdeur die Ou Testament sien ons telkens hoe God se volk in sonde val, waarop ons God se oordeel in aksie sien, maar elke keer red Hy ’n klein groepie mense vir Homself – ’n oorblyfsel.  Noag en sy gesin is ’n goeie voorbeeld hiervan.  Hier in Esra sien ons dat nagenoeg 43 000 mense terugkeer na Israel (Esra 2:64-67), in vergelyking met die ...ag honderd duisend weerbare man wat kon oorlog maak en Juda (se) vyf honderd duisend (2Sam.24:9), ’n totaal dus van 1,3 miljoen weerbare manne wat maar nagenoeg 422 jaar vantevore in Israel onder Dawid se heerskappy in Israel geleef het – voorwaar slegs ’n oorblyfsel! 

Hierdie tema van ’n oorblyfsel wat God telkemale spaar is ’n tema wat ook in die Nuwe Testament voortgesit word.  So sien ons bv. ’n klein groepie gelowiges wat God in 70 n.C. uit Jerusalem na Pella gelei het, toe die stad en tempel onder die hand van die Romeine verwoes is.  Paulus skryf ook oor hierdie tema in Rom.11:5 wanneer hy sê ~ Net so is dit ook vandag: daar is ’n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is. 

God gaan steeds voort om ’n oorblyfsel van gelowiges wat getrou bly aan Hom, te bewaar en daarom hoef jy en ek nooit bevrees te wees dat God Sy rug op ons sal draai nie – Hy het ons uitverkies en daarom sal ons deel bly van God se oorblyfsel, omdat ons ...as Sy eiendom beseël (is) en die Heilige Gees in ons harte gegee (is) as waarborg van wat ons nog sal ontvang (2Kor.1:22). 

Die boek Esra in die algemeen en die eerste hoofstuk in die besonder, is ’n boek en hoofstuk van hoop en herstel vir elke gelowige.  Indien jou lewe deurspek is met sonde en rebellie teen God, is daar steeds hoop omdat God ’n God van vergifnis is, ’n God wat nie Sy rug sal draai op elkeen wat Sy aangesig soek en om vergifnis vra nie, want  1Joh.1:9 leer ons ~ Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. En ons het uit hierdie eerste hoofstuk van Esra tog immers geleer, dat God ’n betroubare God is wat Sy beloftes nakom.

Ons verkeer baie dikwels ook in krisisse en mag ons dalk wonder of Hy waarlik die magtige en liefdevolle God is in wie ons nog altyd geglo het.  So dikwels lyk dit asof daar nooit uitkoms uit ons omstandighede gaan wees nie en tree daar dikwels twyfel in ons gemoed in.  Maar net soos met die ballinge van destyds, moet ons weet dat God in beheer is en het Hy reeds ’n meesterplan in plek vir ons lewe.  Ons moet net bly vashou aan Hom en bly uitroep na Hom en Hy sál uitkoms stuur.  Hy neem ons baie dikwels deur beproewing, maar Hy weet wat ons in ons omstandighede nodig het en al weet ons dikwels nie wat die uiteinde gaan wees nie, sál Hy toesien dat ons nie bo ons kragte versoek word nie.


Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 06 Maart 2011