Monday, December 27, 2010

DIE UITNEMENDHEID VAN JESUS CHRISTUS  [1]

1.     INLEIDING:
Die geboorte van Jesus Christus wat ons gister gedenk het, staan in die wêreld bekend as Kersdag, maar wat is die werklike betekenis van hierdie dag?

Wanneer ons deur die bril van die wêreld hierna kyk, is dit maar net nog ’n vakansiedag waartydens pret en plesier en Kersetes geniet kan word – maar net nog ’n geleentheid om fees te vier – sonder dat hulle regtig weet wat se fees hulle vier.

Deur die bril van die tradisie is dit die geboortedag van ’n Jesus wat voorgestel word deur ’n kragtelose, menslike babatjie wat in ’n hout krippie lê, met ’n ster in die agtergrond en ’n klompie mense rondom die krippie in hul Midde-Oosterse kleredrag.  Dit is verder vir die tradisionele kerk, ’n dag van kersbome, geskenkies en ’n Kersvader met rooi gewaad en “watte-baard”.

Al hierdie verwronge voorstellings van Kersdag het baie dikwels ’n negatiewe reaksie by ons as gelowiges, wat tot gevolg het dat ons in ’n negatiewe reaksie kom oor die geboorte van Christus.  Ons as gelowiges mag egter nooit Christus se geboorte, maar net as vanselfsprekend aanvaar nie.

Daar het wonderlike dinge gebeur voor en op die dag van Christus se geboorte.  Hier kan ons dink aan die bonatuurlike verskyning van die Engel Gabriël aan Maria ten einde aan haar bekend te maak dat sy die Seun van God in die lewe sou bring.  Daar was die gesprek tussen Maria en Elisabet, toe Maria raad gevra het t.o.v. die verskyning van en nuus van die Engel aan haar en die Gees-geïnspireerde reaksie van die ongebore Johannes die Doper.  Daar was die verskyning van die Engele aan die skaapherders en dan praat ons nie eens van die uiteenlopende reaksie van mense op Christus se geboorte nie – dink aan die Wysemanne wat hulde aan Jesus wou bring en aan die anderkant, koning Herodes wat Jesus om die lewe wou bring.

Al hierdie dinge is egter nog steeds Jesus se geboorte vanuit die hoek van die mens.  Daar is egter aan die anderkant, God se perspektief t.o.v. Christus se geboorte en dit is waarna ek wil hê dat ons vanoggend sal kyk.

Wanneer ons deur die Woord van God lees, kry ons kort-kort insae in God se perspektief rondom die geboorte van Jesus die Christus.  Die Woord van die Here kyk en fokus nie primêr op die kindjie in die krip nie; ook nie op die herders in die veld, ens. nie.  Nee, die Bybelskrywers kyk primêr na Christus as Seun van God en wie Hy werklik is.

Romeine 1 verwys bv. na Christus as die Seun van God.  Gal.4:4 verwys na Hom as die Verlosser.  Ef.3 stel Hom aan ons voor as die Waarheid.  Fil.2 leer vir ons van Christus se menswording ten einde aan die kruis vir ons te kom sterf.  Kol.2 stel dit ondubbelsinnig dat Christus, God is.

Daar is egter ook ’n gedeelte in Hebreërs wat ’n baie insiggewende fokus plaas op Christus – kom ons lees dit saam.

2.     SKRIFLESING:
Hebr.1:1-3 ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2 maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3 Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.

3.     BEKNOPTE AGTERGROND:
Die boek Hebreërs is tussen 67-69 n.C. geskryf deur ’n onbekende Bybelskrywer.  Hierdie brief was gerig  tot Jode wat tot bekering gekom het en die doel met hierdie skrywe was om aan hierdie jong bekeerde Jode, die versekering te gee dat Jesus wel die vervulling van die Ou Testamentiese profesieë was – daardie profesieë wat hulle só goed geken het.  Die Hebreërskrywer wou egter ook sy lesers bemoedig en aanmoedig om deur vir hulle te sê dat die volharding in die geloof en die navolging van Christus, op die lang duur vrugte sál afwerp.

Kom ons keer egter terug na ons Skriflesing en ons sien hier dat die skrywer ondubbelsinnig aan ons wil toon, wie die Baba wat in Bethlehem gebore is, werklik is.  Iemand het op ’n keer gesê dat hierdie drie verse waarskynlik die bondigste, maar terselfdertyd die mees omvattende beskrywing van Christus Jesus is.  En ons vind drie kern eienskappe t.o.v. Christus se geboorte in hierdie drie verse, nl:
·           Die Voorbereiding vir Christus se koms;
·           Die Bekendstelling van Christus en
·           Die Uitnemendheid van Christus.

4.     DIE VOORBEREIDING VIR CHRISTUS SE KOMS:
Kom ons kyk dan eerstens na die voorbereiding vir Christus se koms.  Ons lees in Hebr.1:1 ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete....  In die Ou Testament het God die Vader, op verskeie maniere en verskillende tye met die volk Israel (die “voorvaders”), deur die profete gepraat.  Hulle spreke was ook dikwels baie fragmentaries en in verskillende style geskryf.

God het dan ook op ’n verskeidenheid wyses met die profete gepraat – soms in drome en visioene; soms direk in ’n hoorbare stem en soms op indirekte wyse, deur hul gedagtes onder leiding van die Heilige Gees, te lei om neer te skryf wat Hy deur die profete vir Sy volk wou sê.

Ons vind dan ook dat die Ou Testamentiese profesieë progressief van aard was, m.a.w. die aanvanklike profesieë was baie fragmentaries, maar met verloop van tyd het dit al meer en meer volledig en duideliker geraak.  Aanvanklik het dit uit basiese elemente bestaan, soos die Tien Gebooie.  Daarna het die volk meer volledige opdragte ontvang d.m.v. byvoorbeeld die seremoniële wette.  En uiteindelik was die profesieë, of spreke van God so volledig dat dit God se reddingsplan uiteengesit het – ons lees o.a. daarvan in 1Pet.1:10-12 ~ In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. 11 Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het. 12 Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is. Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry.

Paulus bevestig ook in 2Tim.3:16 dat die Ou Testament wel God se spreke, deur die profete aan die volk was, wanneer hy sê ~ Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek.  Ook het Petrus in 2Pet.1:20-21 gesê ~ Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, 21 want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.

Die Hebreërbrief toon aan ons dat Jesus Christus die fokus is vanaf Gen.3:15 waar Hy die eerste keer geïmpliseer word, tot en met Mal.4:3.  Die Ou Testament se voorbereiding vir Christus was egter (soos reeds gesê) fragmentaries en nie een van die boeke het ’n volledige prentjie van Christus geskilder nie en geen profeteskrywer het geweet presies wanneer Christus sou kom nie.

5.     DIE BEKENDSTELLING VAN CHRISTUS:
Die skrywer van die Hebreërbrief bevestig dat Christus die volle openbaring van God is – ons lees in v.2a ~ ... maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.

In die Ou Testament het ons dan brokstukke van Christus ontvang, maar nou, na Jesus se koms, het God aan ons die volle beeld van Christus geopenbaar.

In Christus sien ons alles wat ons nodig het om God te sien en te ken – dit sluit ál God se attribute (karakter eienskappe) in, soos Sy liefde; Sy almag; Sy alomteenwoordigheid; Sy genade; Sy wonderwerkende krag, ens.  En Hy het al hierdie dinge aan ons bekend gestel, deur Jesus se tyd hier op aarde, daarom dat Jesus gesê het, Wie My sien, sien die Vader (Joh.14:9b).

6.     DIE UITNEMENDHEID VAN CHRISTUS:
As ons na v.2b-3 kyk, sien ons dat die skrywer, nadat hy Christus aan ons bekend gestel het, dadelik voortgaan om die verhewenheid en die uitnemendheid en die Goddelikheid van Christus te beskryf ~ God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3 Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.  Ons sien dan eerstens dat Christus beskryf word as:
·           Christus die Skepper:
Christus se krag en mag word vir ons hier beskryf.  Hierdie verwysing is in ooreenstemming met Joh.1:3 ~ Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.  Kol.1:16 sê voorts vir ons ~ God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en (let op!...) vir Hom geskep.

Juis a.g.v. die feit dat Christus die heelal vir Hóm geskep het en die aarde en alles wat daarop is, deur die sonde geskend is, gaan Hy volgens Rom.8:22 alles herskep tot sy vorige heerlikheid en volmaaktheid!

·           Christus die Erfgenaam van alles:
Die tweede aspek van Christus se uitnemendheid en Goddelikheid, is die feit dat Hy Erfgenaam van alles is.  Hierdie feit is in ooreenstemming met die Joodse erfeniswette, nl. dat die eersgebore kind, die erfgenaam van die familie se boedel is.

Die Psalmis het hierdie feit reeds in Ps.2:8 voorspel ~ Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting.  Toe Christus op aarde was het Hy niks besit nie – nie eens ’n kussing vir Sy kop nie – net Sy kleed en daaroor het die Romeinse soldate ook nog  die lot gewerp toe Hy aan die kruis gehang het.  Hy was in ’n geleende graf begrawe.  Eendag sal alles egter aan Hom behoort en almal – mense, engele en alle magte van die hemel, sal die knie voor Hom buig (Fil.2:10).

Dit is ook onbeskryflik om te besef dat alle gelowiges, eendag in die hiernamaals, mede-erfgename van Hom sal wees ~ Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17 En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid (Rom.8:16-17).

·           Christus, die Heerlikheid van God:
V.3a sê ~ Uit Hom straal die heerlikheid van God....  Die letterlike betekenis van hierdie uitdrukking is dan dat Christus die versinnebeelding van God die Vader aan ons is.  Christus is die heerlike en goddelike lig van die Vader wat in die harte van sondaars skyn.   Hy sê in Joh.8:12 ~ Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.

God het Sy heerlike Lig in die vorm van Christus Jesus na die wêreld gestuur, ten einde die duisternis van die sonde te verdryf en sondaars na Hom te roep.

Christus straal dus die heerlikheid van God uit en Hy straal dit uit in ons lewens, sodat ons die heerlikheid van God na andere kan uitstraal.

Net die heerlike en helder Lig van God se heerlikheid wat deur Jesus Christus uitgestraal word, kan geestelike lig aan sondaars skenk, ten einde in Hom te kan glo.  Christus se heerlikheid verlig dus die pad vir sondaars om by die kruis van Jesus Christus uit te kom, wat op Sy beurt weer vrede en vreugde en opregte gemeenskap met Hom bewerkstellig.

·           Christus, die Ewebeeld van die Wese van God:
Christus is m.a.w. ’n spieëlbeeld van die Vader.  Hy beskik dus oor al die attribute waaroor die Vader beskik.  Paulus sê vir ons in Kol.1:15a ~ Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie.  Die woord “beeld” wat hier gebruik word, is in die Grieks eikwn (ikone) en is dieselfde woord waarvan die Afrikaanse woord “ikoon” afgelei is, m.a.w. dit sê vir ons, dat Christus in alle opsigte ’n absoluut volmaakte en presiese afbeelding van God die Vader is – Hy beskik dus oor presies dieselfde karakter eienskappe as die Vader.

·           Christus beskik oor Absolute Gesag:
Hoe druk Hebr.1:3 dit vir ons uit?  Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.  Ons het reeds gesien dat Christus, Skepper van die ganse heelal is, maar Sy gesag eindig nie daarby nie.  Hy hou ook hierdie heelal voortdurend in stand. 

Al kom dit nie altyd vir ons as mense so voor nie, is daar steeds volmaakte orde in God se skepping – ons moenie dink dat wanneer ons na die mensdom kyk, die res van die skepping in presies dieselfde chaos gedompel is nie – die mens is maar ’n stoffie in God se hand wanneer ons hom vergelyk met die res van die skepping.  Elke uitverkore kind van die Here Jesus word nog steeds gered op God se bestemde tyd en elke planeet bly steeds in sy volmaakte baan om die son – dit wat ons sien as chaos, is chaos wat ons as sondige wesens self hier op aarde tot stand gebring het.

·           Christus Reinig ons van Sonde:
Hierdie sesde aspek van Christus se Goddelikheid handel oor ons as gelowiges se redding ~  Hy (het) die reiniging van sondes bewerkstellig (v.3d).  Na die sondeval is hierdie, dié aspek wat die mensdom die nodigste gehad het en nog steeds het, nl. vergifnis en redding van ’n heilige God se wraak – en net Jesus Christus kon dit bewerkstellig.

In die Ou Testamentiese tyd, het die priesters voortdurende diereoffers aan God gebring, maar daar was egter ’n desperate behoefte aan ’n eenmalige offer wat die volk se sonde, eens en vir altyd sou vergewe – God self het so ’n offer voorsien in die mens Jesus Christus ~ So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem... (Hebr.9:28a) en Hebr.10:14 ~ Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.

Waarom moes dit Christus, die Seun van God wees?  Omdat die offer wat gebring moes word, vlekkeloos moes wees en nét God se Seun was vlekkeloos en sonder sonde en Hy het die volle wraak van God op Hom geneem vir almal wat in Hom sou glo en daarom kan en sal God elkeen wat in opregtheid na Hom kom en sy sonde bely, vergewe en skoon was.  Hoe weet ons dat dit ’n afgehandelde werk is?  Joh.19:30 verskaf aan ons die antwoord – Jesus het net voor Hy aan die kruis gesterf het, uitgeroep ~ Dit is volbring!”

·           Christus is Verhoog en Sit aan die Regterhand van God:
Die Hebreërskrywer sluit sy uiteensetting van Jesus se Goddelikheid af met die woorde ~ Hy (het) gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel (v.3e).

Christus se bediening hier op aarde het 40 dae na Sy opstanding uit die dood geëindig toe Hy opgevaar het na die hemel (Hand.1:9-11). En in die woorde van Ps.110:1, aan God se regterhand gaan sit het.  Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 11 en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader (Fil.2:9-11).

Toe Christus in die hemel gekom het, het Hy presies dieselfde gedoen as die aardse priesters – Hy het gaan sit!  Die priesters het nooit gesit voor hul werk nie afgehandel was nie – Christus het gaan sit, want Sy werk was afgehandel – eens en vir altyd!

7.     AFSLUITING:
Die kindjie wat ’n raps meer as 2000 jaar gelede in Bethlehem gebore is, was en is voorwaar die Christus, Seun van God – Hy wat gekom het om ons wat in Hom glo, vry te koop van sondeskuld en ons vlekkeloos voor God se genadetroon te bring, sodat ons mede-erfgename saam met Hom kan word.

Hy is voorwaar Die Skepper; Die Erfgenaam van alles; Die Heerlikheid van God; Die Ewebeeld van die Wese van God; Hy beskik oor Absolute Gesag; Hy Reinig ons van Sonde en Hy is Verhoog en sit aan God se regterhand!


Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 26 Desember 2010