Monday, May 24, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 23 Mei 2010

Die Brief aan die Efesiërs – 21 ("Ons Geestelike Geveg - 01) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Ef.6:10-18 ~ Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11 Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13 Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. 14 Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15 en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16 Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17 Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. 18 Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

2. INLEIDING:
Paulus sluit sy brief aan die Efesiërs af met ’n onderwerp wat ongelukkig in ons dae nie veel aandag geniet nie en dit is dat elke gelowige in ’n fel geveg betrokke is in hierdie lewe en dat ons behoorlik toegerus moet wees vir hierdie geveg.

Die probleem met baie gelowiges (en ons sal onsself moet afvra, of ons nie ook onder hulle tel nie) is dat hulle nie dink dat hulle regtig in ’n geestelike geveg betrokke is nie – hulle sien hul Christenskap nie as ’n betrokkenheid by ’n geestelike geveg nie, maar eerder as ’n ontvlugting van so ’n geveg, waarin die wêreld betrokke is. Hulle glo dat Jesus ons herstel en gesond gemaak het en wanneer hulle ontmoedig voel, Jesus daar is om hulle te bemoedig. ’n Mens kry die indruk dat wanneer jy met sulke Christene praat, die Christelike lewe, ’n lewe van voortdurende geluk en welsyn is en daar derhalwe geen sprake van ’n geestelike stryd en -oorlog is, wat gevoer moet word nie.

Die vraag is egter, waarom Paulus dan aandag skenk aan wapenrusting wat ’n gelowige moet aantrek – lw., nie byderhand hê nie, maar aantrek! Waarom praat hy van ’n stryd wat nie teen mense gevoer word nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug, as dit net goed en voorspoedig moet gaan met ’n gelowige?

3. DIE OORSPRONG VAN ONS KRAG:
Paulus reken dat alle gelowiges betrokke is in ’n geveg teen die mees geslepe en heel sterkste mag wat daar is. Ons kan egter hierdie geveg in oorwinning afsluit, indien ons aandag skenk aan verse 10 en 11:
· Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.
· Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.

Ons as gelowiges moet altyd onthou, dat voorbereiding aan die basis lê van ’n effektiewe Christelike lewe. Die onvoorbereide gelowige word uiteindelik die oorwonne gelowige. Ons moet besef dat ons krag juis opgesluit lê in ons afhanklikheid van God, daarom dat Paulus sê, ...soek julle krag in die Here. En omdat ons vyand so kragtig is, kan en mag ons nie op enige ander plek gaan soek vir krag as juis by God nie. En met God as die Bron vir ons Krag, kan ons hierdie geveg wen, daarom dat Fil.4:13 sê ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

Voor ons egter kan kyk na die geveg en hoe en met wat ons hierdie geveg moet veg, moet ons net eers kyk na die vyand teen wie ons veg.

4. ONS VYAND:
Die probleem in ons dag is dat baie mense (baie hiervan is teoloë) ’n ekstreme weg volg, deur die bestaan van die satan en van bose geeste (demone) te ontken. Paulus daarenteen neem ’n radikaal teenoorgestelde standpunt in, deur die bestaan van die vyand te erken en dit ernstig op te neem. Máár, hy sê ook onmiddellik dat die vyand ’n oorwonne vyand is, wat gebind is deur Jesus Christus se oorwinning oor hom aan die Kruis op Golgota en deur Sy opstanding – Kol.2:15 ~ Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer. Natuurlik glo Paulus ook aan die bestaan van Satan en sy bose geeste, omdat die Heilige Gees dit aan Paulus geopenbaar het. Die kruks van hierdie gedeelte in Efesiërs is dan juis ook om ons as gelowiges te bemagtig, ten einde die vyand deur die krag wat daar in Christus Jesus te vinde is, teen te staan ten einde die uiteindelike oorwinning in Jesus Christus te behaal.

Paulus identifiseer dan vir ons die vyand in v.12 ~ Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. Van die vier name wat hier gebruik word, het ons reeds met twee in Ef.1:21 te doen gekry, nl. mag (wat in die O.A.V. vertaal word met owerhede; in die E.S.V. met rulers en in die K.J.V. met principalities). Die tweede waarmee ons te doen gekry het was gesag (O.A.V. = magte; E.S.V. = authorities en K.J.V. = powers). Die derde word egter hier vir die heel eerste keer in die Woord gebruik, nl. gees (O.A.V. = wêreldheersers; E.S.V. = cosmic powers en K.J.V. = world rulers). Die vierde naam of vyand wat Paulus hier identifiseer, is bose gees (O.A.V. = bose gees; E.S.V. = spiritual forces en K.J.V. = spiritual forces).

Hierdie vierde uitdrukking kan moontlik gesien word as ’n vierde mag, maar dit moet eerder as ’n meer saamgestelde term vir die vorige drie magte gesien word. Wanneer die Griekse gebruik van hierdie woord, nl. "pneumatikos", ontleed word (waarop ek nie nou wil ingaan nie), sien ons dat hierdie spesifieke woord, na Satan self verwys. Wat verder interessant is, is dat bykans dieselfde Griekse woord gebruik word vir die Heilige Gees. Wat Paulus dus hier wil deurgee is dat, net soos dit ’n bepaalde funksie van die Heilige Gees is om gelowiges op te bou (sien Ef.1:3; 5:19), net so is dit ’n bepaalde funksie van die vyand wat teen God staan, nl. om God se kinders af te breek en te verwoes, of om ten minste God se kinders in gevangenisskap (gebonde) te hou.

Hierdie verskillende geeste wat Paulus vir ons hier noem, verwys waarskynlik na die verskillende rangordes van die bose geeste. Hierdie rangordes word nie hier in Efesiërs beskryf of verduidelik nie, maar daar kan geen twyfel bestaan oor die feit dat daardie geeste waarna Paulus verwys as die magte (“principalities”), ’n hoër orde van demone is. Daar word ook in 1Pet.3:22 na hulle verwys ~ Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het. Die gesag (spiritual forces) is waarskynlik daardie geeste wat betrokke is by die mees veragtelike immoraliteite denkbaar. Die gees (“world rulers”) verwys weer hoogs waarskynlik na daardie demone wat die politieke sisteme van die wêreld geïnfiltreer het en wat poog om hulle te laat regeer volgens Satan se duistere koninkryk – so word daar bv. in Dan.10:13 van die engel van die Persiese Ryk gepraat.

Paulus se doel met die benaming van hierdie geeste is egter nie om aan ons die hiërargie en funksie van die verskillende demone te verduidelik nie, maar eerder om aan ons ’n kykie te gee in die gesofistikeerdheid en mag van die geesteswêreld waarteen ons moet veg. En weereens – wanneer ons besef, of ’n idee begin kry van die kompleksiteit en geweldige mag van hierdie magte, dan begin ons enersyds besef dat ons nie hierdie stryd maar net kan ignoreer nie en andersyds dat ons hoegenaamd glad nie hierdie geveg uit eie krag kan veg nie, maar slegs in en deur die Here Jesus Christus. Ons sal dan ook later sien dat ons oorwinning nie lê in die suksesvolle uitdrywing of die “regte tegnieke” wat ons aanwend om ontslae te raak van “lastige demone” nie, maar dit lê in die regte aanwending van God se wapenrusting en om toegewyd te leef aan die realiteit van die reinigende genadewerk wat ons in Jesus Christus ontvang het.

5. DIE GEVEG:
Ons moet ook kyk na die sfeer of terrein waarin hierdie geveg homself afspeel. Paulus sê in v.12 dat hierdie geveg waarin ons, onsself bevind, nie teen vlees en bloed geskied nie, maar teen elke bose gees in die lug.

Wanneer hy dan sê dat hierdie stryd nie teen vlees en bloed is nie, maak hy drie stellings:
· Ons geveg is bo-natuurlik;
· Hierdie geveg is ’n persoonlike geveg. Die Grieks dui hier op ’n hand-tot-hand geveg – aangesig-tot-aangesig geveg;
· Ons is betrokke in ’n futiele geveg, indien ons dit sou waag om hierdie geveg in eie krag te veg. Hoor wat sê Calvyn ~ In hierdie geveg teen satan en sy magte is ons stryd baie groter as wat dit sou gewees het as ons teen mense geveg het. Waar ons menslike krag teenstaan, staan ons wapen teen met wapen; mens kom te staan teen mens; krag word teengestaan met krag; bedrewenheid met bedrewenheid, ens. Maar ons geveg teen die bose is veel, veel anders, want ons vyand is kragtig, soos geen ander menslike krag kan dink om te wees nie. Ons is dus almal gewikkel in ’n kosmiese geveg waar konvensionele taktiek en wapens futiel sal wees, omdat Satan en sy bose geeste, geweldig sterk is en in die geesteswêreld opereer met geestelike wapens.

Al is Satan dan hierdie geweldige sterk wese, moet ons egter onmiddellik daarmee saam sê, dat hy nie naastenby beskik oor dieselfde eienskappe as waaroor God beskik nie. So is die satan bv. nie alomteenwoordig nie en kan hy dus net op een plek op ’n keer wees, maar omdat hy streef na alomteenwoordigheid, het hy sy gesante baie strategies oor die wêreld heen geplaas, ten einde sy bose planne soos ’n kanker wat bly voort “vreet”, ten uitvoer te bring. Christus is en bly egter steeds die Heerser en die almagtig- en alomteenwoordige Een!

Die konsensus van die Woord, is dat hierdie wêreld ’n “cosmos diabolicus” is, daarom dat Johannes in 1Joh.5:19 sê ~ Ons weet dat ons aan God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is. Paulus skryf in 2Kor.4:4 ~ Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is. In Ef.2:2 word die duiwel, die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is... genoem. In Hand.26:18 gee Christus opdrag aan Paulus om die mense se ...oë oop (te) maak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Ons leef tans in die satan se domein (wêreld) en dit is waarom die satan ’n opregte aanbod aan Jesus in die wildernis kon maak, deur ’n deel van sy koninkryk aan Jesus te bied.

Ons moet besef dat ons elkeen, op ’n individuele en persoonlike vlak teen satan te staan kom en hierdie geveg vind daagliks plaas en sal plaasvind totdat die Here Jesus ons kom haal. Ons weet vanuit Rom.1-3 dat elke mens radikaal verdorwe is. Hiermee word bedoel dat elke deel van ons geaardheid geneig is tot sonde. Dit beteken egter nie dat ons op ons slegste is nie, want daar is altyd ruimte vir “verslegting” (kyk maar net wat gebeur as ons toegee aan die sonde). Sommige mense val dieper in die sonde as ander – so is ’n perverse motorbomdraer, of ’n reeksmoordenaar, sekerlik dieper vasgevang in die “sondeweb” van satan as ek en jy. Die probleem is egter dat Satan elkeen van ons nog slegter wil hê as wat ons is. Hy wil ons pootjie op ons pad van heiligmaking. Ons moet onthou dat daar niks, absoluut niks goeds in die bose is nie.

Hiermee saam is hy ook uiters geslepe en hoogs intelligent. V.11 verwys hierna as dit praat van die ... die listige aanslae van die duiwel. Een van sy sluuste aanslae wat hy meesterlik hanteer (soos wat ons die afgelope paar weke ook gesien het toe ons gedeel het oor Jesus se versoeking in die wildernis[2]), is op die gebied van misleiding en om op te tree as ’n sogenaamde gesant van God – dit is waarom Paulus in 2Kor.11:14-15 na hom verwys as, ’n engel van die lig”. Hy spesialiseer daarin om genoeg waarheid te vermeng met valsheid, sodat dit heel aanvaarbaar lyk vir die mens (selfs vir ons). Hy spesialiseer dus daarin om die waarheid te verdraai.

Nog ’n area waarin die satan spesialiseer, is om twyfel t.o.v. God se reddingsgenade en Sy liefde en goedheid in ons gemoed te saai. Dit was bv. die sterkste instrument wat die satan in Martin Luther se lewe gebruik het – die inhoud van Luther se depressie was altyd dat hy sy geloof in God se goedheid verloor het.

Satan val ons selde as ooit openlik aan (soos ons in die “Wildernisboodskappe” gesien het [2]. Satan skryf nie sy naam op sy voorkop en kondig se aanvalsplan aan, deur vir ons te sê, “ek is Satan en ek gaan jou nou mislei en aanval nie”. Hy is boser as wat ons kan dink en hy haat die Kerk van die Here Jesus Christus. Hy is sluwer as wat enige mens ooit kan wees en wat meer is – hy maak jag op ons! Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie (v.12a).

Dit is angswekkende realiteit t.o.v. Satan (en Paulus wil ons waarsku), is dat ons bedag moet wees op hierdie feite en ons moet ons self bewapen om teen die hierdie vyand te veg.

6. ONS OPLOSSING:
Ons hoef egter nie in vrees en bewing te leef oor hierdie realiteite van die satan en sy bose magte nie – op voorwaarde dat ons hierdie lewenslange geveg op die regte grondslag sal veg – en daardie grondslag is Jesus Christus. Ja, op aarde is daar geen mens wat staande kan bly teen die aanslae van die vyand nie, maar ons lees in Kol.1:16 hierdie wonderlike woorde ~ God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. En Kol.2:10b sê ~ Hy is die hoof oor elke mag en gesag. Enige iets wat deur iemand geskep is, is onderworpe aan daardie persoon en dit is presies ook die geval met Satan – hy is ’n skepsel van die almagtige en ewige Drie-enige God. Satan is dus nie ’n gelyke opponent vir God nie, o.a. omdat God oneindigheid is en die satan is eindigend.

Daar is soveel voorbeelde uit die Skrif waar ons sien dat Satan telkens maar die knie voor God moes buig, trouens dit het reeds in Genesis begin, toe sy lot beseël is – Gen.3:14-15 ~ En die Here God sê vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die diere. Op jou maag sal jy seil en stof sal jy eet, jou lewe lank. 15 Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt. Reeds daar in die Tuin van Eden het God vir die satan gesê dat Eva se nageslag (verwysende natuurlik na Jesus Christus) hom uiteindelik heeltemal sal oorwin. Ook in Openbaring lees ons van sy uiteindelike lot, wanneer hy neergewerp gaan word in die hel (Openb.20).

Daar is egter meer as net die feit dat die satan se Skepper almagtig is en dit is dat Christus (soos reeds gesê) reeds die oorwinning aan die kruis behaal het – Satan en sy bose geeste is dus onderwerp aan Christus. Ons lees in Kol.2:15 ~ Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer. Christus het die bose se lot reeds bepaal, maar gedurende hierdie era waarin ons leef – die reeds, maar die nog nie – is hulle steeds in beheer van diegene wat nie vryheid in Christus gevind het nie. John Stott stel dit uitstekend wanneer hy sê ~ They were defeated (die bose) at the cross and are now under Christ’s feet and ours. So the invisible world in which they attack us and we defend ourselves is the very world in which Christ reigns over them and we reign with Him. Indien ons Geesvervuld is (5:18) kan Satan se magte ons nie oorwin nie. Die van ons wat egter nalaat om in die lig van Ef.5:18, werk daarvan te maak voortdurend vervul te wees met die Gees en veral die van ons wat plek aan die vyand gee, plaas ons, onsself in ’n posisie waar daar baie skade aan ons berokken kan word deur die bose.

Indien ons egter ons skuilplek by Jesus Christus vind, sal ons in oorwinning leef – daar is egter twee voorwaardes hieraan verbonde:
· V.10 ~ Soek julle krag in die Here. Die implikasie van hierdie opdrag is dat ons nie hierdie geveg alleen kan veg nie. Al wat ons dus kan doen is om onsself oor te gee aan en staat te maak op die krag van die Here. Paulus sê in 2Kor.12:8-9 ~ Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9 Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Ons moet dus erken dat ons swak is en die Here vra om Sy krag aan te wend namens ons. Ons moet God se krag dus vir onsself toe-eien.
· V.13 ~ Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee. Hierdie wapenrusting sluit die waarheid in, asook God se vryspraak; ’n bereidheid om die Evangelie te verkondig; geloof; geloofsekerheid en die Woord van God – maar volgende keer meer hieroor.

7. AFSLUITING:
Alle gelowiges kán staande bly teen die aanslae van die satan en sy bose magte, wanneer ons dit doen in en met die krag wat daar in die opstandingskrag van Jesus Christus is en waarin elke gelowige deel het. Kol.1:11-13 getuig hiervan en hou ’n oorwinningsbelofte vir elkeen van die Here Jesus Christus se kinders in ~ Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. 12 Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. 13 Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 23 Mei 2010
[2] Besoek gerus: http://www.diewaarheidmaakvry.blogspot.com/