Tuesday, April 20, 2010

Openbaring Ontsluit - 20 ("Die Einde van Jersalem - 01) [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Die Openbaring boek handel grootliks oor die val van Jerusalem in 70 n.C.. Die vervulling van hierdie profesie is ook baie deeglik gedokumenteer in buite-Bybelse historiese geskrifte. Dit is slegs diegene wat hierdie geweldige historiese gebeure ignoreer, wat steeds op die uitkyk is vir ’n toekomstige vervulling van die Openbaring.

Openb.8 waarna ons vanaand gaan kyk, is ’n voortsetting van God se verbondoordeel wat Hy uitgestort het oor ’n afvallige volk, ’n volk wat die verbond versaak het wat God met hulle gesluit het. In baie opsigte is hierdie “Trompet-oordele” net ’n intensivering van die voorafgaande “Seël-oordele” (Openb.6) en dit sal nog verder geïntensiveer word deur die sewe “Bakke-oordele” (Openb.16) wat gaan volg.

Die basiese boodskap van die “Trompette” is dat Jerusalem se einde op hande is en dit is die tema wat ons na gaan kyk oor die volgende twee hoofstukke.

2. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
Die eerste ses verse van hoofstuk 8 bevat geen verwysings na enige oordele deur God nie. In teenstelling met die woeste aktiwiteite wat gepaard gegaan het met die “Trompet-oordele”, heers daar nou vir ’n tyd lank vrede en stilte in die hemel namate die engele voorbereidings tref om God se oordele en wraak uit te stort oor Sy “verbond-verbrekende-volk”, Israel.
· Openb.8:1-6 ~ Toe die Lam die sewende seël oopmaak, het daar stilte in die hemel gekom, omtrent ’n halfuur lank. 2 En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en daar is aan hulle sewe trompette gegee. 3 ’n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met ’n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer. 4 Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God. 5 Toe het die engel die wierookbak geneem, dit met die vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde uitgegooi. Daar het donderslae, dreunings, weerligstrale en ’n aardbewing gekom. 6 Die sewe engele met die sewe trompette het hulle toe gereed gemaak om daarop te blaas. In Openb.5 het Johannes gesien hoe dat die Vader ’n boek in Sy regterhand vashou – ’n boek wat geseël was met sewe Seëls. Aanvanklik kon niemand hierdie boek oopmaak nie, maar toe het die Lam van God, die Here Jesus Christus, die boek van Sy Vader geneem en die Seëls begin oopbreek. Die eerste ses Seëls was in Openb.6 oopgebreek en dit het geweldige oordele oor Jerusalem ontketen het. In Openb.7 was daar ’n onderbreking, waartydens God, Sy kinders beskerming verleen het, deur hulle te verseël teen die oordele wat aan die kom is. Nou, hier in Openb.8, word die sewende Seël gebreek. Hierdie sewende Seël stel die “Trompet-oordele” van God voor, wat gaan volg.

Voor die “Trompet-oordele” egter van stapel gestuur word, is daar ’n halfuur stilte in die hemel. Wat is die betekenis van hierdie halfuur stilte? Waarom is daar ’n stilte in die hemel? Hierdie stilte moet betekenisvol wees, want tot nou toe was die Openbaringboek, “vol geluide en geraas” en hierdie “geraas” gaan voort gesit word in die res van die boek. Ons het van luide aanbidding in Openb.4-5 gelees; van donder en weerlig in 4:5; ’n geweeklaag (5:4); sang (5:9); harde stemme (5:12; 6:10, 16; 7:2-3, 10); donderslae (6:10); die geluid van perdehoewe (6:2ff), ens. Maar nou heers daar ’n doodse stilte. Natuurlik is hierdie slegs die stilte voor die storm, maar dit is nogtans betekenisvol. Indien die Openbaring boek die Nuwe Verbond verteenwoordig, dan kan die Nuwe Verbond nie van stapel gestuur word voor al sewe seëls nie gebreek is nie. In ’n sekere sin is die sewe seëls slegs ’n belofte dat die oordeel gaan plaasvind, maar op hierdie stadium het die oordeel nog nie begin nie. Daar heers nou stilte in die hemel want die oordele van God gaan binnekort losbars. Die stilte is deel van die hemelse ontsag, maar ook vrees vir wat God gaan doen wanneer die oordeel uitgevoer gaan word ~ Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees! (Hab.2:20). En Ps.76:8-9 ~ As u toorn ontbrand, laat U die mens sidder en beef. Wie kan dan voor U staan? 9 Uit die hemel het U u uitspraak bekend gemaak. Die mensdom het bang geword en stil gebly.

Terwyl daar stilte in die hemel is, sien Johannes “sewe engele” voor God se troon staan. Daar word aan elke engel ’n trompet in die hand gegee. Hierdie is ’n besondere en uitgelese groep engele van wie ons weer ’n paar keer gaan hoor in die profesie (Openb.15:1, 6-8; 16:1; 17:1; 21:9). Die trompette getuig van oorlog. U sal onthou dat die Israeliete trompette moes dra en gebruik in die val van Jerigo (Jos.6). Hulle moes in stilte, een keer per dag vir ses dae om die stadsmuur marsjeer het. Op die sewende dag moes hulle sewe keer omgestap het, waarna hulle op die trompette moes blaas en waarop die stadsmuur in mekaar getuimel het en hulle die stad kon binneval en oorwin. In kort, die trompette het die val van die heidense stad aangekondig. Op dieselfde wyse verteenwoordig die trompette wat aan die sewe engele gegee is, die vernietiging van ’n heidense stad – Jerusalem!

In die geval van Jerigo moes die stad val, omdat dit in die pad gestaan het van die verowering van die Beloofde Land. Hierdie “Openbaring-trompette” kondig die val van die stad wat geestelik, Sodom en Egipte genoem word, aan – die heiden stad wat in die pad staan van die vrye voortgang van die Woord van God en die getuienis van Jesus Christus – die ontvouing van die Nuwe Verbond.

Daar is egter ’n agste engel wat by die hemelse altaar staan met ’n goue wierookbak. Hierdie engel was gereed om die wierook te same met die “gebede van die gelowiges” op die altaar te offer. Vantevore het ons gesien hoe dat die gebede van die vervolgde en vermoorde gelowiges van die Ou Verbond, aan God geoffer is, ten einde te pleit vir vergelding (Openb.5). Op daardie stadium, sal u onthou, is daar vir hulle gesê dat hulle nog ’n klein rukkie moes wag – ’n hulle wagtyd was nou verby – hulle gebede was op die punt om geoffer te word en sou hul vervolging en dood gewreek word.

Die tydsduur van die stilte is ook betekenisvol. Vers 1 sê dat daar ongeveer ’n halfuur lank stilte was. Hierdie tydperk dui op die tydperk wat die Hoë Priester gewoonlik in die Allerheiligste deurgebring het. Gedurende hierdie halfuur het almal wat in die binnehof van die Tempel was, uitbeweeg en dan neergeval het op hul knieë met uitgespreide hande in stilgebed. Gedurende hierdie halfuur was daar ’n doodse stilte in die ganse Tempel en het die ruik van die wierook wat die Hoë Priester aan God geoffer het, oor die Tempel gehang.

Die beeld van hierdie agste engel dui op die beantwoording van gebed wat ’n aanvang geneem het – die martelare van die Ou Verbond het geduldig gewag, maar hul gewag was oor. In essensie is die “Openbaring-trompette” die beantwoording van hul gebede en die rook van die wierook verteenwoordig God se oordele wat aan die kom is (soos die geval met ander beskrywings in die Woord van God se oordele) – sien bv. Ps.97:1-6 ~ Die Here regeer, die aarde moet juig, al die baie eilande moet bly wees! 2 Die Here is omgewe van donker wolke; sy troon is gebou op reg en geregtigheid. 3 ’n Vuur trek voor Hom uit en verteer sy vyande aan alle kante. 4 Sy weerligstrale verlig die wêreld; die aarde sien dit en bewe. 5 Berge smelt soos was voor die Here, voor die Here van die aarde. 6 Die hemel getuig dat Hy regverdig is en al die volke sien sy magtige verskyning.

Wat Johannes dus hier in die hemel sien gebeur, is ’n toneel van oordeel. God is besig om die gebede te verhoor van daardie gelowiges wat deur die eeue heen deur die Jode vervolg is. Ons sien dan ook in Matt.23:29-37 dat Jesus sê dat Hy diegene wat Sy kinders vervolg, sal oordeel – en nou heers daar weer ’n doodse stilte voor God se oordele losbars.

Die feit dat die oordeel van God op die punt is om los te bars, is ook duidelik vanuit v.5 ~ Toe het die engel die wierookbak geneem, dit met die vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde uitgegooi. Daar het donderslae, dreunings, weerligstrale en ’n aardbewing gekom. Hierdie beeld is waarskynlik ’n sinspeling op Deut.13:12-16 ~ Wanneer jy hoor dat kwaadstokers gekom het in een van die stede wat die Here jou God vir jou sal gee om in te woon, en hulle sy inwoners verlei het deur hulle aan te spoor om vreemde gode te dien waarvan julle nie geweet het nie, 14 moet jy die saak deeglik ondersoek en haarfyn daarna uitvra. As die gerug waar is en die afskuwelike daad wel tussen julle plaasgevind het, 15 moet jy die inwoners van daardie stad sonder meer doodmaak. Die stad met alles daarin, selfs sy vee, moet as banoffer vernietig word. 16 Jy moet alles in die stad op die stadsplein bymekaarmaak en saam met die stad geheel en al verbrand as ’n offer aan die Here jou God. Die stad moet vir altyd ’n puinhoop bly. Dit mag nie weer herbou word nie. Dit is baie interessant om te weet dat historici vertel dat die vuur in sulke gevalle verkry is van die lampe wat in die Tempel was. Hierdie opdrag is bv. uitgevoer in Rigters 20 waar die Benjaminiete skuldig was aan afgodery. En nou hier in Openbaring 8 is dit Jerusalem se beurt om die selfde lot te ervaar.

Dit is so ironies dat hierdie Ou Testamentiese vuur van Deut.13 sy oorsprong by God gehad het en dat dit deur Sy priesters deur die eeue heen aan die brand gehou is, sodat dit ander “heilige vure” aan die brand kon steek (Lev.16:12-13; Num.16; Gen.22:6). Die enigste aanvaarbare manier om ’n afvallige stad te vernietig was m.b.v. God se vuur – die vuur van die altaar af en sodoende word die hele stad ’n brandoffer. Dit is hierdie selfde beeld wat hier in Openbaring gebruik word om God se oordele teen Jerusalem te beskryf.

Dit is so ironies! Die vuur hier word nie neergewerp op Kanaän of Egipte nie, maar op Juda! Soos reeds tevore gesê, moet die woord “aarde” hier vertaal word met die land Juda en die stad Jerusalem (konteks). Hierdie is dan God se oordeel teen die afvallige Joodse geslag in antwoord op die gebede van die Ou Testamentiese martelare.

Nie alleen was daar “vuur” op die aarde uitgestort nie, maar Johannes hoor ook “stemme” en donderslae en hy sien “weerlig” en daar is ’n “aardbewing”. Die vraag is of ’n mens hierdie letterlik of simbolies moet verklaar? Ons kan dit nie met sekerheid sê nie, maar wat wel interessant is, is die ooggetuie-verslag van Flavius Josefus wat die val van Jerusalem aanskou het. Josefus het vertel van ’n enorme storm gedurende die nag. Daar was stormsterk winde wat gewaai het, met geweldige swaar reënval en voortdurende weerlig en oorverdowende donderslae. Asof dit nie genoeg was nie, was daar onverklaarbare aardskokke en dreungeluide uit die aarde (dit is in ooreenstemming met 8:5). Hierdie gebeure was ’n baie duidelike teken van ’n komende oordeel – weereens is die geskiedenis en God se Woord in harmonie met mekaar!

Ons sien verder dat die sewe engele met die trompette gereed gemaak het om hul trompette te laat hoor, toe die agste engel gereed gemaak het om sy wierrookbak met vuur te vul (vv.5-6). Die oordeel is op hande! Die oordele word van stapel gestuur met die blaas van die sewe trompette.

Ons sal vanaand net na die eerste twee trompette kyk en dan oor die volgende keer of wat na die res.

· Openb.8:7 ~ Die eerste engel het op sy trompet geblaas. Daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. ’n Derde van die aarde is verbrand, ’n derde van die bome is verbrand, en al die groen gras is verbrand. Ons lees in Openb.11:8 die volgende ~ Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem. Hier word Israel, Sodom en Egipte genoem. Jerusalem het Egipte geword: ’n Volk wat gekant is teen God en wat Sy Kerk gevange hou deur vervolging – net soos in die destydse Egipte. In Lukas se weergawe van die Olyfberggesprek lees ons van Jesus wat die volgende gesê het ~ As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby (Luk.21:28). Toe Jesus hierdie woorde gespreek het, het die dissipels waarskynlik terug gedink aan Israel se verlossing uit Egipte o.l.v. Moses. Dit is presies wat gebeur het in 70 n.C. God se kinders word verlos van hul onderdrukkers in Jerusalem – figuurlik genoem, Egipte. Wanneer ons die eerste Trompet vergelyk met Eks.9:22-26, sien ons die duidelike ooreenkoms tussen hierdie Trompet en die sewende plaag in Egipte. In Egipte het God die land getref met hael en vuur en nou doen Hy weer so in Jerusalem.

Toe die Vierde Seël gebreek is, het Johannes ’n “vaal perd” gesien en aan hierdie perd en sy ruiter is ...mag oor ’n kwart van die aarde gegee om die mense dood te maak met die swaard en met hongersnood en met pes en deur die wilde diere van die aarde.

Ons sien iets nuuts hier met hierdie eerste “Trompet-oordeel”. Vantevore was daar aan die derde Perderuiter opdrag gegee om nie ...die olyfolie en die wyn (te) bederf nie (Openb.6:6). Die vier engele wat die vier winde van die aarde vasgehou het, het ook opdrag ontvang om nie ... die land en die see en die bome (te) tref nie (Openb.7:3). En waarom nie? Openb.7:3b ~ Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe merk met die seël. Nou ís die dienaars van God beseël en word opdrag aan die eerste engel gegee om sy trompet te blaas en sodoende ... ’n derde van die bome verbrand, en al die groen gras. Dit is ook baie interessant om te sien dat dit presies is wat Josefus gerapporteer het – hy skryf: The countryside, like the city, was a pitful sight, for where once there had been a multitude of trees and parks, there was now an utter wilderness stripped bare of timber; and no stranger who had seen the old Jedea and the glorius suburbs of her capital, and now beheld utter desolation, could refrain from tears or suppress a groan at so terrible a change. The war had blotted out every trace of beauty, and no one who had known it in the past and came upon it suddenly would have recognised the place.... Wat belangrik is om ook te meld, is dat God weereens mense gebruik het om Sy oordele oor Jerusalem uit te voer. Dit is gewoonlik die wyse waarop God se oordele uitgestort word op veroordeeldes – óf deur mense, óf deur “natuurlike” oorsake. Die wyse waarop God Sy oordeel oor Israel uitgevoer het, was d.m.v. die Romeinse weermag.

Die tweede trompet het gebeure tot gevolg wat baie mense sê, nie gedurende die eerste eeu moontlik was nie. En tog, hierdie gebeure wat Johannes sien is baie maklik verklaarbaar. Luister na Johannes.

· Openb.8:8-9 ~ Die tweede engel het toe op sy trompet geblaas. Iets soos ’n groot berg wat brand, is in die see gegooi. ’n Derde van die see het bloed geword, 9 ’n derde van alles wat in die see lewe, het doodgegaan, en ’n derde van die skepe het vergaan. Die eerste ding wat hier opval, is ’n groot berg wat brand en wat in die see gegooi word. Die woord “iets soos...” sê vir ons dat Johannes nie van ons verwag om hierdie gesig letterlik te interpreteer nie. Hy vergelyk bloot dit wat hy sien met iets wat lyk soos ’n brandende berg. Hy maak dus hier gebruik van simboliek. Maar wat beteken dit alles?

Dit wil voorkom asof die brandende berg, Jerusalem verteenwoordig. As ons kyk na Eks.15:17 sien ons dat daar na Israel verwys word as die berg wat aan die Here behoort. As ons na Skrifgedeeltes soos bv. 2Kon.19:31; Ps.74:2; Jes.10:12; 24:23; Joël 2:32, ens. kyk, sien ons dat dáár ook na Jerusalem as die Berg Sion verwys word. Jerusalem was op die Berg Sion gebou en daarom word die name dikwels in die Woord uitruilbaar gebruik.

Wat Johannes dus hier sien is dat die Berg Sion in die see gewerp word. Wie of wat is die see? In Openb.17:15 sien ons dat die woord “see” gebruik word vir – ...volke en stamme, nasies en tale. Die see verteenwoordig dus die heidennasies. In eenvoudige taal dan, word Jerusalem in die see gewerp wat tot gevolg het dat ’n derde van die water bloed word (’n oordeel wat in ooreenstemming is met die eerste Egiptiese plaag in Eks.7:19-20 – water wat in bloed verander). Rome was ’n heidense nasie en die Jode word in die arms van die heidene gegooi. Hierdie verklaring word ondersteun deur die woorde van die Here Jesus aan Sy dissipels in Matt.21:12-22 ~ Jesus het tempel toe gegaan en al die mense wat op die tempelplein koop en verkoop, daar uitgejaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi 13 en vir hulle gesê: “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ’n huis van gebed wees,’ maar julle maak dit ’n rowersnes.” 14 Blindes en kreupeles het daar in die tempel na Hom toe gekom, en Hy het hulle gesond gemaak. 15 Maar toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uitroep: “Prys die Seun van Dawid!” was hulle verontwaardig. 16 Hulle sê toe vir Hom: “Hoor jy wat sê hulle daar?” “Ja,” antwoord Jesus. “Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing?” 17 Toe het Hy hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betanië toe, waar Hy die nag gebly het. 18 Vroeg die môre op pad terug stad toe het Jesus honger gekry. 19 Toe Hy ’n alleenstaande vyeboom langs die pad sien, gaan Hy daarheen, maar Hy het niks anders as blare daaraan gekry nie. Hy sê toe vir die boom: “Jy sal in der ewigheid nooit weer vrugte dra nie.” En die vyeboom het dadelik verdroog. 20 Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en het hulle gevra: “Hoe het die vyeboom dan so skielik verdroog?” 21 Daarop antwoord Jesus hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur. 22 As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.” Op die oog af lyk dit asof Jesus se woorde hier in vv.21-22 uit plek is. Die gebeure wat hier beskryf word het alles plaasgevind gedurende die laaste week van Jesus se aardse bediening. Dit was gedurende daardie week wat Hy die felste woorde tot die godsdienstige Israel gerig het. Daardie week het Jesus hoofsaaklik profeties gespreek oor die verwydering van Israel en haar vervanging deur die Kerk van die Nuwe Verbond. Die vervloeking van die Vyeboom was ’n kragtige voorbeeld hiervan.

Vyebome lewer slegs blare wanneer dit in die vrug is. Om blare dus aan ’n vyeboom te sien is om vye aan die boom te verwag. Hierdie vyeboom het egter belowe wat dit nie gelewer het nie – blare, maar geen vye nie. In vele opsigte was dit presies soos die Judaïsme in Jesus se tyd. Judaïsme het gespog dat dit die seën van God wegdra, omdat hulle die “volk van God” is, met die sigbare teken van die Tempel. Judaïsme het egter nét oor blare beskik – dit wat die Judaïsme beloof het, kon hulle nie lewer nie. Judaïsme het nie die seën van God geniet nie, omdat hulle nie plek gehad het vir die Messias nie. En daarom, al het dit die blare van godsdienstigheid gedra, kon dit geen verhouding met die lewende God bied nie. Deur die vyeboom te vervloek, het Jesus die gebeure wat binnekort sou plaasvind, nl. die verwydering van die Judaïsme en die seën wat oorgedra sou word aan die Kerk van die Here Jesus Christus, geprofeteer

Dit is in hierdie konteks dat Jesus praat van ’n “Berg-verskuiwende-geloof”. Maar wat het die verwydering van berge deur geloof, te doen met die vloek wat op Israel gerus het? Sommer baie om die waarheid te sê! Israel was die berg wat in die pad van die Kerk gestaan het. Die Kerk sou binnekort die “Groot Opdrag” ontvang (Matt.28:19-20), maar die Berg in die vorm van Judaïsme het in die Kerk se pad gestaan. Regdeur Handelinge kan gesien word dat die Judaïsme die grootste struikelblok in die weg van die Evangelie is. Net soos wat Jesus dan die vyeboom vervloek, so vervloek Hy Israel – as die Kerk net geloof in Jesus het, sal Hy die Berg van Joodse opposisie verwyder en in die see werp. En dit is presies wat gebeur met die tweede “Trompet- oordeel” – Judaïsme wat verteenwoordig word deur Jerusalem en die Tempel (die Berg), word in die hande van die heidense Rome (die see) gegee!

Die vervolgde Joodse gelowiges het by God gepleit om hul dood deur die Kerk op Israel te wreek – en God sou presies net dit doen. In Luk.12:49 het Jesus hierdie woorde van oordeel uitgespreek ~ Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is! Matt.3:7-12 werp meer lig op hierdie woorde in Luk.12. Johannes preek hier en sê dat sy toehoorders of met water deur Jesus gedoop sou word (redding), of deur vuur (oordeel). Ook hier waarsku Johannes die godsdienstige leiers dat die byl teen die wortel van die boom lê.

Daar bestaan geen twyfel daaroor dat Openb.8 ’n vervulling is van Matt.21. Christus se kinders het geloof soos ’n mosterdsaad. Hulle het vurig gebid dat die “Berg van Judaïsme in die see gewerp moes word” en hul gebede is in 70 n.C. beantwoord. Geskiednis verduidelik dus vir ons die profesie, kristalhelder – waarom moet ons soek na ’n “toekomstige vervulling” van iets wat God reeds tot vervulling laat kom het?

Ons moet bemoedig wees deur hierdie geskiedenis, want daar is allerlei berge wat in die pad staan van die Groot Opdrag. Nasies (en ander gelowe) opponeer die Evangelie van Jesus Christus, maar as ons met ’n mosterdsaad-geloof bid soos die martelare van ouds, sal hierdie “berge” ook in die “see” gewerp word. Paulus gee opdrag aan ons in 1Tim.2:1-8, om te bid vir die regering, sodat ons, ons geloof in vrede kan uitleef en dat die Evangelie derhalwe kan versprei. Die vraag is of ons gehoorsaam is aan hierdie opdrag van die Here. Ons moet nie pessimisties wees oor die verspreiding van die Evangelie nie – die kleinste gemeentetjie kan “berge versit”, indien ons geloof het soos ’n mosterdsaadjie.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 18 April 2010