Monday, December 27, 2010

DIE UITNEMENDHEID VAN JESUS CHRISTUS  [1]

1.     INLEIDING:
Die geboorte van Jesus Christus wat ons gister gedenk het, staan in die wêreld bekend as Kersdag, maar wat is die werklike betekenis van hierdie dag?

Wanneer ons deur die bril van die wêreld hierna kyk, is dit maar net nog ’n vakansiedag waartydens pret en plesier en Kersetes geniet kan word – maar net nog ’n geleentheid om fees te vier – sonder dat hulle regtig weet wat se fees hulle vier.

Deur die bril van die tradisie is dit die geboortedag van ’n Jesus wat voorgestel word deur ’n kragtelose, menslike babatjie wat in ’n hout krippie lê, met ’n ster in die agtergrond en ’n klompie mense rondom die krippie in hul Midde-Oosterse kleredrag.  Dit is verder vir die tradisionele kerk, ’n dag van kersbome, geskenkies en ’n Kersvader met rooi gewaad en “watte-baard”.

Al hierdie verwronge voorstellings van Kersdag het baie dikwels ’n negatiewe reaksie by ons as gelowiges, wat tot gevolg het dat ons in ’n negatiewe reaksie kom oor die geboorte van Christus.  Ons as gelowiges mag egter nooit Christus se geboorte, maar net as vanselfsprekend aanvaar nie.

Daar het wonderlike dinge gebeur voor en op die dag van Christus se geboorte.  Hier kan ons dink aan die bonatuurlike verskyning van die Engel Gabriël aan Maria ten einde aan haar bekend te maak dat sy die Seun van God in die lewe sou bring.  Daar was die gesprek tussen Maria en Elisabet, toe Maria raad gevra het t.o.v. die verskyning van en nuus van die Engel aan haar en die Gees-geïnspireerde reaksie van die ongebore Johannes die Doper.  Daar was die verskyning van die Engele aan die skaapherders en dan praat ons nie eens van die uiteenlopende reaksie van mense op Christus se geboorte nie – dink aan die Wysemanne wat hulde aan Jesus wou bring en aan die anderkant, koning Herodes wat Jesus om die lewe wou bring.

Al hierdie dinge is egter nog steeds Jesus se geboorte vanuit die hoek van die mens.  Daar is egter aan die anderkant, God se perspektief t.o.v. Christus se geboorte en dit is waarna ek wil hê dat ons vanoggend sal kyk.

Wanneer ons deur die Woord van God lees, kry ons kort-kort insae in God se perspektief rondom die geboorte van Jesus die Christus.  Die Woord van die Here kyk en fokus nie primêr op die kindjie in die krip nie; ook nie op die herders in die veld, ens. nie.  Nee, die Bybelskrywers kyk primêr na Christus as Seun van God en wie Hy werklik is.

Romeine 1 verwys bv. na Christus as die Seun van God.  Gal.4:4 verwys na Hom as die Verlosser.  Ef.3 stel Hom aan ons voor as die Waarheid.  Fil.2 leer vir ons van Christus se menswording ten einde aan die kruis vir ons te kom sterf.  Kol.2 stel dit ondubbelsinnig dat Christus, God is.

Daar is egter ook ’n gedeelte in Hebreërs wat ’n baie insiggewende fokus plaas op Christus – kom ons lees dit saam.

2.     SKRIFLESING:
Hebr.1:1-3 ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2 maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3 Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.

3.     BEKNOPTE AGTERGROND:
Die boek Hebreërs is tussen 67-69 n.C. geskryf deur ’n onbekende Bybelskrywer.  Hierdie brief was gerig  tot Jode wat tot bekering gekom het en die doel met hierdie skrywe was om aan hierdie jong bekeerde Jode, die versekering te gee dat Jesus wel die vervulling van die Ou Testamentiese profesieë was – daardie profesieë wat hulle só goed geken het.  Die Hebreërskrywer wou egter ook sy lesers bemoedig en aanmoedig om deur vir hulle te sê dat die volharding in die geloof en die navolging van Christus, op die lang duur vrugte sál afwerp.

Kom ons keer egter terug na ons Skriflesing en ons sien hier dat die skrywer ondubbelsinnig aan ons wil toon, wie die Baba wat in Bethlehem gebore is, werklik is.  Iemand het op ’n keer gesê dat hierdie drie verse waarskynlik die bondigste, maar terselfdertyd die mees omvattende beskrywing van Christus Jesus is.  En ons vind drie kern eienskappe t.o.v. Christus se geboorte in hierdie drie verse, nl:
·           Die Voorbereiding vir Christus se koms;
·           Die Bekendstelling van Christus en
·           Die Uitnemendheid van Christus.

4.     DIE VOORBEREIDING VIR CHRISTUS SE KOMS:
Kom ons kyk dan eerstens na die voorbereiding vir Christus se koms.  Ons lees in Hebr.1:1 ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete....  In die Ou Testament het God die Vader, op verskeie maniere en verskillende tye met die volk Israel (die “voorvaders”), deur die profete gepraat.  Hulle spreke was ook dikwels baie fragmentaries en in verskillende style geskryf.

God het dan ook op ’n verskeidenheid wyses met die profete gepraat – soms in drome en visioene; soms direk in ’n hoorbare stem en soms op indirekte wyse, deur hul gedagtes onder leiding van die Heilige Gees, te lei om neer te skryf wat Hy deur die profete vir Sy volk wou sê.

Ons vind dan ook dat die Ou Testamentiese profesieë progressief van aard was, m.a.w. die aanvanklike profesieë was baie fragmentaries, maar met verloop van tyd het dit al meer en meer volledig en duideliker geraak.  Aanvanklik het dit uit basiese elemente bestaan, soos die Tien Gebooie.  Daarna het die volk meer volledige opdragte ontvang d.m.v. byvoorbeeld die seremoniële wette.  En uiteindelik was die profesieë, of spreke van God so volledig dat dit God se reddingsplan uiteengesit het – ons lees o.a. daarvan in 1Pet.1:10-12 ~ In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. 11 Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het. 12 Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is. Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry.

Paulus bevestig ook in 2Tim.3:16 dat die Ou Testament wel God se spreke, deur die profete aan die volk was, wanneer hy sê ~ Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek.  Ook het Petrus in 2Pet.1:20-21 gesê ~ Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, 21 want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.

Die Hebreërbrief toon aan ons dat Jesus Christus die fokus is vanaf Gen.3:15 waar Hy die eerste keer geïmpliseer word, tot en met Mal.4:3.  Die Ou Testament se voorbereiding vir Christus was egter (soos reeds gesê) fragmentaries en nie een van die boeke het ’n volledige prentjie van Christus geskilder nie en geen profeteskrywer het geweet presies wanneer Christus sou kom nie.

5.     DIE BEKENDSTELLING VAN CHRISTUS:
Die skrywer van die Hebreërbrief bevestig dat Christus die volle openbaring van God is – ons lees in v.2a ~ ... maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.

In die Ou Testament het ons dan brokstukke van Christus ontvang, maar nou, na Jesus se koms, het God aan ons die volle beeld van Christus geopenbaar.

In Christus sien ons alles wat ons nodig het om God te sien en te ken – dit sluit ál God se attribute (karakter eienskappe) in, soos Sy liefde; Sy almag; Sy alomteenwoordigheid; Sy genade; Sy wonderwerkende krag, ens.  En Hy het al hierdie dinge aan ons bekend gestel, deur Jesus se tyd hier op aarde, daarom dat Jesus gesê het, Wie My sien, sien die Vader (Joh.14:9b).

6.     DIE UITNEMENDHEID VAN CHRISTUS:
As ons na v.2b-3 kyk, sien ons dat die skrywer, nadat hy Christus aan ons bekend gestel het, dadelik voortgaan om die verhewenheid en die uitnemendheid en die Goddelikheid van Christus te beskryf ~ God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3 Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.  Ons sien dan eerstens dat Christus beskryf word as:
·           Christus die Skepper:
Christus se krag en mag word vir ons hier beskryf.  Hierdie verwysing is in ooreenstemming met Joh.1:3 ~ Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.  Kol.1:16 sê voorts vir ons ~ God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en (let op!...) vir Hom geskep.

Juis a.g.v. die feit dat Christus die heelal vir Hóm geskep het en die aarde en alles wat daarop is, deur die sonde geskend is, gaan Hy volgens Rom.8:22 alles herskep tot sy vorige heerlikheid en volmaaktheid!

·           Christus die Erfgenaam van alles:
Die tweede aspek van Christus se uitnemendheid en Goddelikheid, is die feit dat Hy Erfgenaam van alles is.  Hierdie feit is in ooreenstemming met die Joodse erfeniswette, nl. dat die eersgebore kind, die erfgenaam van die familie se boedel is.

Die Psalmis het hierdie feit reeds in Ps.2:8 voorspel ~ Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting.  Toe Christus op aarde was het Hy niks besit nie – nie eens ’n kussing vir Sy kop nie – net Sy kleed en daaroor het die Romeinse soldate ook nog  die lot gewerp toe Hy aan die kruis gehang het.  Hy was in ’n geleende graf begrawe.  Eendag sal alles egter aan Hom behoort en almal – mense, engele en alle magte van die hemel, sal die knie voor Hom buig (Fil.2:10).

Dit is ook onbeskryflik om te besef dat alle gelowiges, eendag in die hiernamaals, mede-erfgename van Hom sal wees ~ Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17 En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid (Rom.8:16-17).

·           Christus, die Heerlikheid van God:
V.3a sê ~ Uit Hom straal die heerlikheid van God....  Die letterlike betekenis van hierdie uitdrukking is dan dat Christus die versinnebeelding van God die Vader aan ons is.  Christus is die heerlike en goddelike lig van die Vader wat in die harte van sondaars skyn.   Hy sê in Joh.8:12 ~ Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.

God het Sy heerlike Lig in die vorm van Christus Jesus na die wêreld gestuur, ten einde die duisternis van die sonde te verdryf en sondaars na Hom te roep.

Christus straal dus die heerlikheid van God uit en Hy straal dit uit in ons lewens, sodat ons die heerlikheid van God na andere kan uitstraal.

Net die heerlike en helder Lig van God se heerlikheid wat deur Jesus Christus uitgestraal word, kan geestelike lig aan sondaars skenk, ten einde in Hom te kan glo.  Christus se heerlikheid verlig dus die pad vir sondaars om by die kruis van Jesus Christus uit te kom, wat op Sy beurt weer vrede en vreugde en opregte gemeenskap met Hom bewerkstellig.

·           Christus, die Ewebeeld van die Wese van God:
Christus is m.a.w. ’n spieëlbeeld van die Vader.  Hy beskik dus oor al die attribute waaroor die Vader beskik.  Paulus sê vir ons in Kol.1:15a ~ Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie.  Die woord “beeld” wat hier gebruik word, is in die Grieks eikwn (ikone) en is dieselfde woord waarvan die Afrikaanse woord “ikoon” afgelei is, m.a.w. dit sê vir ons, dat Christus in alle opsigte ’n absoluut volmaakte en presiese afbeelding van God die Vader is – Hy beskik dus oor presies dieselfde karakter eienskappe as die Vader.

·           Christus beskik oor Absolute Gesag:
Hoe druk Hebr.1:3 dit vir ons uit?  Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.  Ons het reeds gesien dat Christus, Skepper van die ganse heelal is, maar Sy gesag eindig nie daarby nie.  Hy hou ook hierdie heelal voortdurend in stand. 

Al kom dit nie altyd vir ons as mense so voor nie, is daar steeds volmaakte orde in God se skepping – ons moenie dink dat wanneer ons na die mensdom kyk, die res van die skepping in presies dieselfde chaos gedompel is nie – die mens is maar ’n stoffie in God se hand wanneer ons hom vergelyk met die res van die skepping.  Elke uitverkore kind van die Here Jesus word nog steeds gered op God se bestemde tyd en elke planeet bly steeds in sy volmaakte baan om die son – dit wat ons sien as chaos, is chaos wat ons as sondige wesens self hier op aarde tot stand gebring het.

·           Christus Reinig ons van Sonde:
Hierdie sesde aspek van Christus se Goddelikheid handel oor ons as gelowiges se redding ~  Hy (het) die reiniging van sondes bewerkstellig (v.3d).  Na die sondeval is hierdie, dié aspek wat die mensdom die nodigste gehad het en nog steeds het, nl. vergifnis en redding van ’n heilige God se wraak – en net Jesus Christus kon dit bewerkstellig.

In die Ou Testamentiese tyd, het die priesters voortdurende diereoffers aan God gebring, maar daar was egter ’n desperate behoefte aan ’n eenmalige offer wat die volk se sonde, eens en vir altyd sou vergewe – God self het so ’n offer voorsien in die mens Jesus Christus ~ So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem... (Hebr.9:28a) en Hebr.10:14 ~ Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.

Waarom moes dit Christus, die Seun van God wees?  Omdat die offer wat gebring moes word, vlekkeloos moes wees en nét God se Seun was vlekkeloos en sonder sonde en Hy het die volle wraak van God op Hom geneem vir almal wat in Hom sou glo en daarom kan en sal God elkeen wat in opregtheid na Hom kom en sy sonde bely, vergewe en skoon was.  Hoe weet ons dat dit ’n afgehandelde werk is?  Joh.19:30 verskaf aan ons die antwoord – Jesus het net voor Hy aan die kruis gesterf het, uitgeroep ~ Dit is volbring!”

·           Christus is Verhoog en Sit aan die Regterhand van God:
Die Hebreërskrywer sluit sy uiteensetting van Jesus se Goddelikheid af met die woorde ~ Hy (het) gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel (v.3e).

Christus se bediening hier op aarde het 40 dae na Sy opstanding uit die dood geëindig toe Hy opgevaar het na die hemel (Hand.1:9-11). En in die woorde van Ps.110:1, aan God se regterhand gaan sit het.  Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 11 en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader (Fil.2:9-11).

Toe Christus in die hemel gekom het, het Hy presies dieselfde gedoen as die aardse priesters – Hy het gaan sit!  Die priesters het nooit gesit voor hul werk nie afgehandel was nie – Christus het gaan sit, want Sy werk was afgehandel – eens en vir altyd!

7.     AFSLUITING:
Die kindjie wat ’n raps meer as 2000 jaar gelede in Bethlehem gebore is, was en is voorwaar die Christus, Seun van God – Hy wat gekom het om ons wat in Hom glo, vry te koop van sondeskuld en ons vlekkeloos voor God se genadetroon te bring, sodat ons mede-erfgename saam met Hom kan word.

Hy is voorwaar Die Skepper; Die Erfgenaam van alles; Die Heerlikheid van God; Die Ewebeeld van die Wese van God; Hy beskik oor Absolute Gesag; Hy Reinig ons van Sonde en Hy is Verhoog en sit aan God se regterhand!


Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 26 Desember 2010

Sunday, December 5, 2010

PAULUS SE BRIEF AAN DIE FILIPPENSE ~ 03 (“Navolgenswaardige Timoteus en -Epafroditos”)

1.     SKRIFLESING:
Fil.2:19-30 ~ Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na julle toe te stuur, sodat ek ook rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe dit met julle gaan. 20 Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie. 21 Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie. 22 Maar julle weet hoe betroubaar Timoteus is. Soos ’n kind saam met sy vader, het hy saam met my die saak van die evangelie gedien. 23 Ek hoop om hom dadelik te stuur, sodra ek gesien het hoe my sake verloop. 24 En ek vertrou dat, as die Here wil, ek self ook gou na julle toe sal kan kom. 25 Ek ag dit noodsaaklik om die broer Epafroditos, my medewerker en medestryder wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan, na julle toe terug te stuur. 26 Hy verlang gedurig na julle almal en bly hom daaroor kwel dat julle van sy siekte gehoor het. 27 Hy was ook inderdaad doodsiek, maar God het Hom oor Epafroditos ontferm, en nie net oor hom nie, maar ook oor my sodat ek nie verdriet op verdriet sou hê nie. 28 Ek stuur hom dan nou ook so gou moontlik terug, sodat as julle hom weer sien, julle weer bly kan wees en ek minder besorg. 29 Ontvang hom met oop arms as ’n broer in die Here, en bejeën manne soos hy met agting, 30 want deur sy werk vir Christus het hy by die dood omgedraai. Hy het sy lewe gewaag om my die hulp te verleen wat julle self nie kon gee nie.

2.     INLEIDING:
In die laaste twaalf verse van hoofstuk 2, vestig Paulus sy lesers se aandag op twee gelowige medewerkers wie se lewens ons kan navolg.  In vv.19-24 konsentreer Paulus op Timoteus en in vv.25-30 skenk hy aandag aan Epafroditos.  Wanneer Paulus skryf oor hierdie twee manne, sê hy vir ons dat beide hierdie manne se lewens so onbesproke is en dat beide Christus Jesus só weerspieël in en deur hul lewens, dat van hulle ook gesê kan word soos wat Paulus in 2Kor.3:2 van die Korintiërs sê ~ Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan.  Hulle lewens is onbesproke en deursigtig – “what you see is what you get” en dit wat die lesers “kry”, is ’n onbesproke en wonderlike getuienis en navolgenswaardige karakter.

3.     TIMOTEUS:
Timoteus was ’n jongman wat Paulus dikwels op sy sendingreise vergesel het.  Paulus is vol lof vir Timoteus.  Hoor wat sê hy in vv.19-20 ~ Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na julle toe te stuur, sodat ek ook rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe dit met julle gaan. 20 Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie.

Hierdie twee verse sê vyf dinge van Timoteus:
·           Eerstens sê Paulus dat hy niemand anders soos Timoteus het nie.  Om so ’n stelling te maak kan mense verskillend oor Timoteus laat dink.  Paulus kan hiermee bedoel dat Timoteus net soos hy is – hy dink soos Paulus; hy tree soos Paulus op, ens.  Of dit kan beteken dat Timoteus een uit ’n duisend is.  Of dit kan beteken dat Paulus niemand anders as Timoteus tot sy beskikking het om te doen wat hy wat Paulus is, graag gedoen wil hê nie.  Of dit beteken dat Timoteus “op dieselfde bladsy” as Paulus verkeer – m.a.w., Timoteus is eens met Paulus t.o.v. die basiese Christelike leerstellinge.  Ek glo dit is laasgenoemde twee.

Daar kan geen sprake wees van samewerking tussen twee mense, as hulle nie dieselfde visie navolg nie; as hulle nie in geloof en oortuiging saamstem nie.  Maar Timoteus is van harte eens met Paulus in sy oortuigings en sy doelwitte.  En wat was Paulus se doelwit?  Om die Evangelie van Christus Jesus uit te dra aan ’n verloregaande wêreld – hy stel hierdie doelwit pragtig in 2Kor.4:5 ~ Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus.  En met hierdie doelwit vereenselwig Timoteus hom heelhartig en daarom kan hy en Paulus sonder enige probleme saamwerk, trouens Paulus is só oortuig van Timoteus se hartgesindheid, dat hy met oortuiging kan sê, ek het niemand anders aan wie ek hierdie spesifieke taak kan toevertrou nie, nl. om na die gemeente in Filippi te stuur.  Hierdie vertroue wat Paulus in Timoteus gehad het word vir ons ondubbelsinnig uitgespel in 2Tim.3:10 wanneer Paulus van Timoteus sê ~ Maar jy het my nagevolg in leer, lewenswandel en lewensdoel, in geloof, geduld, liefde en volharding.

Dit is só belangrik dat elkeen van ons, ons harte voortdurend moet ondersoek ten einde vas te stel of ons steeds God se Koninkryk en Sy geregtigheid voorop in ons lewe stel.  En wat ons verhoudinge met ons broers en susters betref, moet ons in die woorde van Ps.34:15, voortdurend doen wat goed is en vrede soek en najaag.  En soos wat ons verlede week ook gesien het, moet ons te alle tye ’n gesindheid van nederigheid en diensbaarheid teenoor ons naaste uitleef. Ons gesindheid moet altyd dieselfde wees as wat Paulus in 1Kor.10:24 vir ons sê dit moet wees ~ ’n Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander.

·           Tweedens sien ons dat Paulus, Timoteus ten volle vertrou het en daarom kan hy hom met vrymoedigheid wegstuur na Filippi.  Dit moet egter ook bygesê word, dat Paulus niemand anders gehad het om te stuur nie en dit is só hartseer.  Timoteus het die gawes gehad om gestuur te word, maar wat so tragies was, was dat hy die enigste een was wat Paulus kon stuur.  En waarom was dit so tragies?  Omdat Paulus vir ons self die rede in v.21 verskaf ~ Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie.  Die feit dat hy Christus altyd voorop gestel het, het tot gevolg gehad dat Paulus hom met enige iets kon vertrou

·           Ons vind ’n derde eienskap in v.20b wanneer Paulus sê ~ Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie.  Timoteus was iemand wat van nature omgegee het vir andere.

·           Timoteus was ook iemand wat vertrou kon word en hy het nooit sy eie belang gesoek nie en dit bring ons by ’n vierde karaktereienskap van Timoteus wat vir ons navolgenswaardig is, nl. sy nederigheid en hy doen dit t.w.v. die eer van God.  Paulus sê in v.21 ~ Al die ander soek net hulle eie belange....  Timoteus het nie sy eie belang gesoek nie, net die van Christus Jesus en andere s’n.  Hierdie gesindheid is veral een wat vir elkeen van ons geld wat in ondergeskikte posisies verkeer – by die werk; in die huwelik; in ons gesinsopset; in die gemeente.

Daar bestaan ’n geweldige groot behoefte in ons dag aan opregte mense op wie ’n mens kan staatmaak – wie jy kan vertrou.  Soveel te meer bestaan daar ’n geweldige behoefte in ons dag aan mense wat nie hul eie belange voorop stel nie, maar bereid is om die gestalte van ’n dienskneg aan te neem. 

·           Timoteus het ook in die vyfde plek, ’n betroubare karakter.  Paulus het enersyds niemand anders om op hierdie belangrike sending na die Filippense toe te stuur nie, maar andersyds het Paulus ook genoeg vertroue in hierdie jongman dat hy met oortuiging aan die gemeentelede kan sê ~ Maar julle weet hoe betroubaar Timoteus is (v.22a).

·           Ons lees in v.22b van nog ’n eienskap ~ Soos ’n kind saam met sy vader, het hy saam met my die saak van die evangelie gedien .  Timoteus was iemand wat saam met andere kon werk – hy was ’n “spanman” en dit is natuurlik nog ’n kenmerk van ’n dienskneg, want iemand wat sy eie belange hoër ag as andere s’n, sal nooit in ’n span kan saamwerk nie – dink aan verlede week se boodskap met die titel:   “Geen nederigheid, geen eenheid”

Ons sien natuurlik terselfdertyd hier dat Paulus ook ’n “spanman” was en dat hy geen probleem gehad het om saam met Timoteus te werk nie.  Hierdie is natuurlik (net soos wat dit die geval met Timoteus is) ’n kenmerk van geestelike volwassenheid, nl. die vermoë om saam met andere te kan werk onder die banieropskrif:  “Ter wille van Christus”.  Geen wonder dat Paulus sy verhouding met Timoteus beskryf as een soos ’n kind saam met sy vader.

·           Uit die verhouding tussen Paulus en Timoteus is daar ook pragtige lesse wat ons kan leer.  Eerstens toon dit vir ons die respek wat daar by die jonger Timoteus vir Paulus bestaan het.  Timoteus het dus sy meerderes gerespekteer en hom onderwerp aan hulle (en in hierdie geval, Paulus) se gesag.  Hy was angstig om van Paulus te leer en het nie gedink dat hy al die wysheid in pag gehad het nie, maar hy het erkenning gegee aan Paulus se meerdere ervaring en derhalwe sy wysheid.  Timoteus het ag geslaan op Skrifgedeeltes soos bv. Ef.6:2, nl. Eer jou vader en jou moeder....  Timoteus het die dissipelskap-pad wat Paulus met hom geloop het verwelkom, maar meer nog, hy het dit angstig opgesoek en nagevolg.

4.     EPAFRODITOS:
Paulus verwys in v.25 na nog ’n medewerker na wie ons kan kyk, nl. Epafroditos.

·           Ons het nou al gesien dat Epafroditos vanaf die gemeente in Filippi na Paulus gestuur is om hom by te staan en te bemoedig (2:25) terwyl hy onder huisarres verkeer, maar ook met ’n kontantbedrag as geskenk van die gemeente (4:18).  Epafroditos het egter terug verlang huis toe en die tyd het aangebreek dat Paulus hom ook terugstuur na sy tuisgemeente.  Die feit dat Epafroditos terug verlang, was nie negatief nie, trouens dit spreek juis van iets pragtig wat deel was van sy karakter.  Paulus gebruik dieselfde Griekse woord (epipoqew – epipotheo) wanneer hy in 1:8 sê ~ God is my getuie, Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart. En daardeur wil hy, net soos Epafroditos sê, dat hy baie lief is vir die gemeentelede en dat hy graag by hulle wil wees omdat hy hulle gemeenskap mis.

Die eerste voorbeeld van Epafroditos se karakter wat navolgenswaardig is, is dus die feit dat hy sy broers en susters waarlik lief het en graag in hulle geselskap wil wees.  Hierdie feit word verder onderstreep deur die feit dat sy naam “liefde” of “sjarme” beteken en wanneer ’n mens na sy lewe kyk, is sy naam uiters geskik, juis omdat sy lewe getuig van medemenslike liefde. 

Paulus bevestig ook hierdie karaktereienskap van Epafroditos, deurdat hy hom “broer” noem (v.25).  Om iemand ’n “broer” te noem in Paulus se tyd was iets vreemds, want daar was geweldige sterk en duidelike klasseverskille en ’n mens het net eenvoudig nie groeperinge gekry waar mense naby verhoudinge oor sosiale-, taal-, godsdienstige en ekonomiese grense heen  gesmee en gehandhaaf het nie.  Met die koms van die Evangelie van Jesus Christus het Christelike broederskap daarmee saamgekom.  Gelowiges het besef dat hulle almal, ongeag hul posisie of status, almal voor die voet verlore was en almal tesame voorbestem was vir die hel, maar deur Christus Jesus se soendood het alle gelowiges in ’n nuwe- en eenvormige verhouding met God en derhalwe met mekaar te staan gekom.

Hierdie broederskap het in die harte van Epafroditos en Paulus geleef en was hulle onafskeidbaar van mekaar en het hulle mekaar ondersteun, versorg en beskerm – daar het dus eenheid tussen hulle bestaan – ’n eenheid wat net in en deur Jesus Christus bewerkstellig kon word.

·           Tweedens noem Paulus vir Epafroditos, sy medewerker (v.25).  Hierdie benaming herinner ’n mens aan Jesus se lofwoorde vir die klein gemeentetjie in Efese.  Dit was ’n gemeente wat hard gearbei het in die Koninkryk en Jesus het hulle daarvoor aangeprys toe Hy in Openb.2:3 gesê het ~ Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie.  Epafroditos was presies so ’n werker en hy het onvermoeid saam met Paulus gewerk. 

·           Derdens noem Paulus vir Epafroditos, sy medestryder.  Daar staan letterlik in die Grieks, “medesoldaat” (sustratiwth~ - sustratiotes) en hierdie is ’n beter vertaling, omdat dit presies is wat Paulus hier van sy broeder wil sê, nl. dat hy ’n medesoldaat is.  Paulus wil hierdeur sê dat hulle nie net gewerk het nie, maar dit waarmee hulle besig was, was soos om in ’n oorlog te veg – dit herinner aan Ef.6:12 ~ Ons stryd (O.A.V. - worstelstryd) is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.  Oorlogvoering van destyds het vereis dat soldate, skouer teen skouer saam vorentoe moes beweeg, anders was hul stryd verlore en dit is presies dieselfde hoe Paulus en Epafroditos hul stryd gestry het – saam!

Die feit dat Epafroditos ’n soldaat genoem word, dui ook vir ons daarop dat hy vir niks gestuit het ten einde die Evangelie van Jesus Christus uit te dra nie.

Ons weet nie regtig wie Epafroditos se leermeester was nie, maar dit was hoogs waarskynlik Paulus self en daarom is dit nie vreemd dat Epafroditos, ’n medesoldaat genoem word nie, want Paulus het vir Timoteus geleer en daarom waarskynlik ook vir Epafroditos en hoor wat het Paulus vir Timoteus gesê in 2Tim.2:2-3 ~ Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer. (En dan veral v.3)  3Dra jou deel van die ontberings soos ’n goeie soldaat van Christus Jesus.

·           Onbaatsugtigheid is ’n verdere karaktereienskap van Epafroditos.  Hy was bereid om sy tuiste en sy tuisgemeente vir ’n onbepaalde tyd vaarwel toe te roep ten einde gehoorsaam te wees aan die roeping wat deur die gemeente op sy lewe gelê is, maar ook om Paulus te gaan bedien en te dien.  Ons lees nêrens dat hy daaroor gekla het nie, of dat hy verskonings gesoek het om nie gehoorsaam te wees aan hierdie wekroep nie.  Hy gaan Rome toe en hy gaan dien Paulus – dit getuig van ’n onbaatsugtige karakter.

·           Ons vind ’n vyfde karaktereienskap in v.25, maar ongelukkig is dit wegvertaal uit die N.A.V.  Die O.A.V. praat van ’n bedienaar van my behoefte, terwyl die N.A.S.B. dit vertaal met ”messenger”.  In die oorspronklike teks (apostolo~ = apostolos) kan dit vertaal word met ’n “ambassadeur vir die Evangelie”, ’n afgevaardigde, “’n boodskapper”, of “apostel”.  Enersyds wil Paulus aan die gemeente aantoon watter hoë dink hy van Epafroditos het.  Ons sien egter ook dat Paulus in 2Kor.8:23b die volgende van Titus en sy medereisgenoot sê ~ Wat ons broers betref, hulle is afgevaardigdes van die gemeentes en ’n eer vir Christus.  Hierdie laaste woorde ....’n eer vir Christus, beteken dat Titus se arbeid in die Koninkryk, tot eer van Christus geskied, m.a.w. Christus word geëer deur sy arbeid.  En dit is andersyds wat tekenend van Epafroditos ook is – dít wat hy doen, doen hy tot eer van Christus – nie om eie belang nie; ook nie om andere te verheerlik of te beïndruk nie, maar om die naam van Christus Jesus te verheerlik – dít is sy motief; dít is sy dryfveer – die eer van Christus.  Die eer van Christus Jesus!  Wat ’n wonderlike karaktereienskap is dit nie om na te volg nie!

·           Hierdie benaming, bedienaar van my behoefte dui egter vir ons op nog ’n karaktereienskap.  Dit dui ook op iemand wat deur sy gemeente afgevaardig is om ’n bepaalde taak namens die gemeente uit te voer – hy was dus ’n amptelike afgevaardigde namens sy broers en susters en in hierdie opsig was hy getrou en gehoorsaam en het hy sy opdrag in gehoorsaamheid uitgevoer ten einde Paulus by te staan.  Gehoorsaamheid was dus nog ’n kenmerk van Epafroditos.

·           Nog ’n eienskap spruit voort uit v.25b.  Let op dat Paulus sê dat sy broeder ’n bedienaar is van sy behoeftes.  Ons het dus ook hier te doen met ’n broeder wat diensbaar was.  Hy het nie omgegee om dae aaneen en onder moeilike omstandighede na Rome te reis ten einde by Paulus te kom nie.  Dit was ook nie vir hom ’n vernedering om ’n man wat onder huisarres verkeer te dien nie.  Dit was ook nie vir hom te veel om Paulus steeds te dien, terwyl hy self dodelik siek was nie.  En al verlang Epafroditos terug huis toe en al gaan hy dalk vroeër huis toe as wat sy gemeente moontlik van hom verwag, is Paulus so beïndruk met sy diensbaarheid, dat hy vir die gemeente laat weet,  ...ontvang hom met oop arms as ’n broer in die Here, en bejeën manne soos hy met agting (v.29).  Hy is ’n ware dienskneg!

5.     AFSLUITING:
Ons het hier te doen met twee uitstaande manne – gelowiges wie se voorbeeld ons vandag nog steeds kan en behoort na te volg.  En wanneer ons na hulle lewens en spesifiek na hul karaktereienskappe kyk moet ons onsself ’n paar vrae afvra:
·           Is ons doelwit ook om gehoorsaam te wees aan die Groot Opdrag (Matt.28:19), nl. om die Evangelie van Christus Jesus uit te dra aan ’n verloregaande wêreld?
·           Gee ons werklik om vir andere?
·           Kan ons waarlik vertrou word in alles – is ons betroubaar?
·           Kan ons in ’n span saam met andere werk, omdat ons doelwit, die eer van Christus is?
·           Toon ons respek teenoor ons meerderes en onderwerp ons, ons aan die gesag wat oor ons aangestel is?
·           Is ons leergierig en soek ons die wysheid en insig en kennis op van andere wat daaroor beskik?
·           Het ek en jy ons broers en susters waarlik lief?
·           Arbei ons volhardend en onvermoeid in God se Koninkryk?
·           Kan ons saam in hierdie geestelike stryd stry waarin ons gewikkel is?
·           Is ons onbaatsugtig in ons diensbaarheid aan andere?
·           Doen ons alles tot eer van God?
·           Is ons diensbaar?

Sunday, November 28, 2010

Paulus se Brief aan die Filippense - 02 (Geen Nederigheid - Geen Eenheid)

1. SKRIFLESING:

Fil.2:1-18 ~ Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing- 2 maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. 3 Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4 Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. 5 Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6 Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 7 maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8 het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. 9 Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 11 en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. 12 My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13 want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. 14 Doen alles sonder kla of teëpraat. 15 Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld 16 deur die woord van die lewe uit te dra. Dan sal ek op die dag van Christus se koms rede hê om trots te wees, omdat dit sal blyk dat ek my nie verniet ingespan het nie en nie verniet geswoeg het nie. 17 Julle geloof is ’n offer in diens van God. Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly. 18 Om dieselfde rede moet julle ook bly wees, ja, saam met my bly wees.

2. INLEIDING:

Fil.2:1 begin met die woord “aangesien” (Eng. = “therefore”) en ons weet dat wanneer ’n gedeelte met hierdie woord begin, die gedeelte wat volg, bou op ’n voorafgaande gedeelte en daardie voorafgedeelte, vind ons in 1:27, nl. ~ Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie. Paulus bepleit dus eensgesindheid onder die lede van die gemeente.

Paulus kom dan nou in hoofstuk 2 en hy brei hierop uit, deur vir hulle te sê, dat die troos wat hulle gevind het in Christus en die feit dat hulle die gemeenskap van die Heilige Gees geniet, hulle dus uit dankbaarheid, in eensgesindheid moet leef. En dan verduidelik hy in verse 1-18 hoe hierdie eensgesindheid bewerkstellig kan word en aan die basis hiervan lê nederigheid – geen eenheid kan bestaan, as ons primêre gesindheid nie een van nederigheid is nie.

3. DIE KERN VAN NEDERIGHEID:

· Eenheid in liefde (2:1-2a):

In v.2 sê Paulus vir ons dat die eerste kernbeginsel om nederigheid te bewerstellig, eengesindheid is. En eensgesindheid kan nie bewerkstellig word sonder onderlinge liefde nie.

· Eenheid in gees en voorneme (2:2b-4):

Paulus noem in vv.2b-4 vir ons ’n tweede kenmerk van nederigheid en dit is dat gelowiges een in gees en voorneme sal wees. M.a.w. dat daar nie allerlei struwelinge en redenasies sal wees wanneer bepaalde besluite geneem moet word en bepaalde doelstellings nagevolg wil word nie. Wanneer gelowiges dus in ’n gemeenteverband besluit om bepaalde aksies van stapel te stuur (of dit nou ’n uitreikingsprogram of aanvangstyd van die eredienste sal wees, ens.) ek altyd daarteen sal waak om nie mý wil op almal af te dwing nie, maar dat ek in nederigheid sal terugstaan en die meerderheidsbesluit sal ondersteun én met entoesiasme daaraan sal deelneem – die enigste uitsondering is wanneer ’n besluit bv., indruis teen die beginsels van die Woord. Ons gesindheid moet dus dieselfde wees as Paulus se woorde in Rom.12:10 ~ Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld, asook 1Tes.5:15b ~ Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense. En Ef.5:21 vat dit vir ons waarskynlik die beste saam ~ Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.

4. VOORBEELDE VAN NEDERIGHEID:

· Christus se lyde (2:5-8b):

Paulus gaan nou voort en hy gee aan die Filippense dié volmaakte voorbeeld van nederigheid wat ons te alle tye moet navolg en dit is die voorbeeld wat Christus Jesus aan ons gestel het.

Eerstens verwys hy na Christus se lyde in vv.5-8. En ons sien dat Christus nooit aanspraak gemaak het op Sy Goddelikheid nie. Hy kon klippe in brood verander het as Hy wou. Hy kon Homself van die kruis bevry het as Hy wou, maar Hy het geweet dat Sy sending na die wêreld juis was om Homself te identifiseer met die mens, maar ook om in gehoorsaamheid aan Sy Vader, nié aanspraak te maak op Sy Goddelikheid nie

In 2Kor.8:9 beskryf Paulus hierdie nederigheid van Christus nog verder wanneer hy sê ~ Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word. Christus het dus Sy heerlikheid opsy geskuif en die gestalte van ’n slaaf aangeneem. Naas Christus – waar kry ons ’n beter voorbeeld van nederigheid, as juis by ’n slaaf? ’n Slaaf durf nooit sy mond oopmaak nie, maar hy moet maar net in gewilligheid doen wat van hom verwag word.

In v.8 sê Paulus dat Christus Homself nog verder verneder het, deur volkome gehoorsaam te wees aan Sy Vader se roeping vir Hom, nl. om gekruisig te word. Hy het Homself nie hoër geag as die mens nie en Hy was bereid om ons te dien, sonder enige teëstribbeling en namens ons die volmaakte offer te bring, ten einde versoening tussen God en ons te bewerkstellig.

Ons moet nie vir een oomblik dink dat hierdie pad wat Jesus geloop het vir Hom maklik was, omdat Hy God was nie. Ons lees in Matt.26:39 die volgende ~ Hy het ’n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil. Soos wat ons pas gesien het, het Jesus nooit aanspraak gemaak op Sy Goddelikheid nie, trouens Hy het die gestalte van ’n slaaf aangeneem. Weereens kon Hy as God opgetree het en Sy kruisiging ontduik het, want Hyself sê in Joh.10:18 dat Hy by magte was om dit te doen ~ Niemand neem dit van My af nie (hier verwys Hy natuurlik na Sy Goddelikheid en dan gaan Hy voort, deur te sê), maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het. Jesus het egter in gehoorsaamheid, getrou gebly aan Sy roeping en dit is hierdie selfde gehoorsaamheid en nederigheid wat van ons as dissipels van Jesus Christus verwag word.

· Christus word verhef (2:9-11):

Omdat Christus gehoorsaam was en Hy dít wat reg is, lief het (Hebr.1:9), het die Vader Hom ...tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is (v.9). Matt.28:18 sê ook vir ons dat Jesus alle mag in die hemel en op die aarde ontvang het (Hand.2:33). Volgens Hebr.2:9 is Jesus met eer en heerlikheid gekroon en in vv.10-11 sien ons ook dat Hy ’n Naam bo alle Name ontvang het.

Ons sien in die woorde van Fil.2:11, dat die doel met Christus se vernedering en Sy uiteindelik verheffing, die eer van God is ~ ...en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. Toe Jesus gekruisig is, was die eer van die Vader voorop in Sy gedagtes, daarom dat Hy in Joh.17:1 sê ~ Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. Ons moet besef dat die kruisiging van Jesus, ’n veel groter doel gedien het as om te sterf vir sondaars – die uiteindelike doelwit met Jesus se kruisiging, is die eer van God die Vader.

Elkeen wat ’n nederige gees openbaar; wat eenheid najaag en bereid is om andere in liefde te dien, moet opoffering en selfs beproewing te wagte wees, maar aan die einde sal dit lei tot ons verheerliking, daarom dat 1Pet.5:6 sê ~ Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het.

Benewens Joh.17:1, sien ons net ’n paar verse verder iets wonderlik ~ ...Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is (v.22). Christus is verheerlik ná Sy beproewing hier op aarde, maar v.22 sê ook vir ons dat Hy, Sy heerlikheid met ons deel – Hy skenk dit aan ons! En wat is die doel daarmee? V.22b ~ ... sodat hulle een kan wees net soos Ons een is.

Josef het vir dertien jaar gedien en swaar gekry, maar na dertien jaar het God hom tweede in bevel van Egipte gemaak. Dawid was reeds in sy jeugjare gesalf as koning, maar hy het jare van swaarkry ervaar voor hy deur God verhef is tot koning van Israel. Ons mag dalk nie die vreugde en heerlikheid van ons nederigheid en diensbaarheid vandag of môre ervaar nie, maar uiteindelik sál God dit vergoed.

Eenheid tussen ons as gelowiges behoort te alle tye ook die eenheid wat tussen die Vader en Sy Seun bestaan, te verbeeld. Hierdie eenheid is ’n belofte, maar die voorwaarde is dat ons ook eers in nederigheid en in liefde moet dien.

Die vreugde van onderwerping en nederigheid spruit nie primêr voort uit die feit dat ons mekaar dien en lief het nie, maar die feit dat ons God daardeur verheerlik. Jesus sê in Matt.5:16 ~ Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.

5. RIGLYNE TOT NEDERIGHEID:

Paulus gee egter nie net vir ons die opdrag om nederig te wees nie; hy gee ook praktiese riglyne aan ons oor hoe ons dit in en deur ons lewens kan bewerkstellig.

· Leef as verlostes (2:12-13):

Eerstens sê hy in vv.12-13 dat ons as verlostes moet leef. Wat beteken dit om as verlostes te leef? Kom ons kyk net na enkele voorbeelde:

- Fil.1:5-6 ~ ...God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. Om ’n verloste te wees, impliseer dat ons gered is en daarom sal ons tot aan die einde van ons dae, verseker nie “uit die hand van die Vader val nie” – ons sál volhard tot die einde toe en is dit nie genoeg rede om in oorwinning te leef en op te tree soos verlostes nie – vol vreugde en oorwinning, maar ook in nederige erkentlikheid teenoor God!.

- Fil.4:13 ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Hoe tree ek in my daaglikse wel en weë op? Tree ek soos ’n verloorder op? Tree ek soos iemand op wat geen vooruitsigte het nie? Is ek voortdurend terneergedruk? Sien ek nie kans vir môre nie? Is ek bang? Is ek bang om iets aan te pak? Nee, ons is waarlik tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

- Hebr.5:9 ~ En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword. Ons is uitverkies; ons is gered en God hou ons geloof in stand, maar veel meer as dit – ons is bywoners hier op aarde. Ons is reisigers op pad na ’n beter – veel, veel beter, trouens, ons is op pad na ’n volmaakte en ewige bestemming. Hoe gaan ons deur hierdie voorbereidingsfase voor ons die ewige heerlikheid binne gaan? Soos oorwinnaars! Soos iemand wat “kinderlik opgewonde” is en nie kan wag vir die “groot dag” nie (soos ’n kind wat op sy eerste seevakansie gaan).

· Hou op kla (2:14):

In aansluiting by dit wat ek so pas gesê het, asook in die lig van v.14, vind ons ’n tweede praktiese riglyn om nederigheid te bewerkstellig. Paulus sê in v.14, ...doen alles sonder kla of teëpraat. Let op wat sê Paulus ~ ...doen ALLES... sonder kla of teëpraat. Alles beteken ALLES! Om altyd te kla is nie net sonde nie, maar dit is ook nie ’n karaktereienskap van ’n nederige persoon nie. Klakouse versuur almal se dag en kan nooit bevorderlik wees vir eenheid in ’n gemeente, of gesinsopset, of in ’n vriendskap nie - dit is nooit die gesindheid van ’n dienskneg nie!

· Staan bo alle verdenking (2:15):

Ons vind ’n derde riglyn in v.15 ~ Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld. Die oomblik dat iemand se geloofwaardigheid in gedrang kom, kan hy nie meer ’n skynende lig en getuie in hierdie wêreld wees nie. En wanneer ons kla en teëpraat soos wat Paulus in v.14 sê ons nie moet doen nie, staan ons nié meer bo verdenking nie.

· Dra die Woord van die Lewe uit (2:16):

Vierdens: Wat moet ons optrede behels ten einde nederigheid in die hand te werk en derhalwe eenheid in ons verhoudinge te bewerkstellig? Vers 16 sê ~ Deur die woord van die lewe uit te dra. Die O.A.V. sê ~ ...deurdat julle die woord van die lewe vashou. In die Grieks word die idee hier deurgee van iemand wat wyn vir sy gaste aanbied. En dit is presies wat elke gelowige se optrede en dryfveer in die lewe moet wees, nl. om die redding en verlossing in Christus Jesus aan ’n verloregaande wêreld aan te bied. Om die Evangelie voor die voet uit te dra en met alle mense te deel, is ’n “gelykmaker” en werk nederigheid in die hand. Ons is geneig om agteroor te sit en nie uit te reik na die wêreld nie, want dit is ’n groot opoffering, maar wanneer ons, dit begin doen, is ons besig om ons te onderwerp aan Christus se opdrag (die “Groot Opdrag” – Matt.28:19) en dit is ’n optrede van onderwerping wat nederigheid impliseer. Hoor net wat sê Paulus, sal die gevolg wees van ons Evangelisasie dryfveer ~ Dan sal ek op die dag van Christus se koms rede hê om trots te wees, omdat dit sal blyk dat ek my nie verniet ingespan het nie en nie verniet geswoeg het nie (v.16b).

· Verheug jou in jou lyding (2:17-18):

Laastens beskryf Paulus homself in vv.17-18 as ’n drankoffer wat uitgegiet word. Daardeur wil hy sê dat wanneer ons onsself verneder en nederigheid voorop staan in ons gemoed en optrede, dit altyd gepaard sal gaan met opoffering en diensbaarheid. Ons optrede en onderwerping aan Christus en Sy Woord, moet dus van so ’n aard wees dat ons selfs bereid sal wees om te sterf daarvoor.

6. AFSLUITING:

Ons het reeds gesien dat indien lidmate nie nederigheid openbaar in hul ganse leefwyse nie, daar nie eenheid in ’n gemeente kan wees nie, maar ons moet ons sekerlik die vraag afvra, wat die voordele verbonde is aan eenheid in ’n gemeente?

- Eerstens sal eenheid in ’n gemeente God se Naam verheerlik.

- Tweedens sal dit getuienis wees van die egtheid van die Christelike godsdiens en sal die Evangelie van Jesus Christus, aanneemlik wees vir baie mense.

- Derdens sal dit lidmate se gedagtes vestig op Jesus Christus en sal hulle God se liefde, maar ook broers en susters se liefde, bemoediging en ondersteuning van mekaar ervaar.

Ons moet Jesus Christus se voorbeeld navolg en ons ontledig van onsself en die gestalte van ’n dienskneg aanneem – dan sal daar eenheid in ’n gemeente wees.