Sunday, September 18, 2011

Jakobus versus Paulus

1.     SKRIFLESING: 
Jak.2:14-26 ~ Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood. 18Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. 19Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs. 20Jou dwaas, wil jy ’n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? 21Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie? 22Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. 23So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is ’n vriend van God genoem. 24Julle sien dus dat ’n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie. 25Is Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat ontkom het nie? 26’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.

2.    INLEIDING:
Baie gelowiges voel baie ongemaklik met die brief van Jakobus, omdat hulle sê dat dit lynreg teen Paulus se lering staan.  Ekself het baie jare gesukkel om werklik te verstaan waarom Jakobus se lering en Paulus se lering oënskynlik teenstrydig is.  

Jakobus beklemtoon die feit dat geloof dood is sonder werke, daarom dat hy in v.17 sê ~ So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.  In v.20 herhaal hy dieselfde boodskap, deur te sê ~ So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

Paulus daarenteen sê in Ef.2:8-9 ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.  9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.  Paulus beklemtoon dus die feit dat ons op grond van geloof en net geloof alleen, gered word.  Ons regverdiging en die ontvangs van die Heilige Gees het dus niks te doen met ons eie werke of gehoorsaamheid aan die Wet nie.

Die kern van Paulus se prediking in veral Galasiërs en  Romeine, maar ook in sy ander briewe, is die feit dat ons uit genade gered word, deur geloof en hierdie redding kom nie uit onsself nie, want dit is ’n gawe van God.  Paulus het terselfdertyd enige persoon wat geleer het dat jy geregverdig word deur werke, met al sy krag en mag geopponeer.

Wie is dan nou eintlik reg en wie is verkeerd en hoe is dit moontlik dat een verkeerd kan wees en nogtans word hy aangehaal in die Woord en word sy skrywes gesien as outentiek en deel van die kanon van die Bybel?  Het ons hier  dalk te doen met twee strome in die teologie wat in konflik staan teenoor mekaar?

3.    JAKOBUS VS. PAULUS:

Ons moet eerstens verstaan dat nie een van die briewe in die Nuwe Testament aan óf dieselfde mense geskryf is; óf op dieselfde tyd geskryf is; óf onder dieselfde omstandighede; óf met dieselfde motief geskryf is nie.

As ons dit in gedagte hou begin ons ’n klein bietjie beter verstaan dat hier tog dalk nie konflik in opinie bestaan nie.

’n Verdere feit wat ons in gedagte moet hou, is dat Paulus en Jakobus onder woorde "geloof" en "werke: nie dieselfde ding
verstaan nie.

Wat geloof aan betref, stel Paulus primêr belang in geloof wat die grondslag vorm vir die Christelike lewe.  Dit is waarskynlik hierdie selfde "geloof" waarna Jakobus verwys in Jak.2:19 wanneer hy sê ~ Glo jy dat daar net een God is?  Dit is reg.  Jakobus verklaar dus dat dit goed is wanneer jy glo in God.  Daar bestaan dus geen behoefte by hom om geloof "af te maak" as minder belangrik , of selfs onbelangrik is nie.  Trouens in Jak.2:5 sê hy juis dat diegene wat ryk is in die geloof, die Koninkryk van God sal beërwe.

Jakobus ontken dus nêrens die noodsaak aan geloof vir redding nie.  Jakobus laat val sy "soeklig" op die kwaliteit van geloof by "volwasse gelowiges" en die ontwikkeling of groei van "jong gelowiges".

Wanneer Paulus van "werke" praat, praat hy van "werke van die Wet", terwyl Jakobus dit nooit in daardie sin gebruik nie, maar eerder in die sin van barmhartigheidsdiens, of liefdesdiens.

Die tipe werke waarvan Jakobus dan praat, is presies dieselfde as dié wat Paulus aanprys, wanneer hy praat van "geloof wat tot uiting kom in liefde."

Douglas Moo beskryf dit as volg:  Die verskil tussen Jakobus en Paulus bestaan in die opeenvolging van werke en bekering:  Paulus ontken die invloed van "VOOR-bekerings" werke, terwyl Jakobus pleit vir die absolute noodsaaklikheid van "NA-bekeringswerke."

Vir baie jare in die teologie, moes "arme Jakobus" homself altyd teen Paulus "verdedig".  Een van die redes was dat baie mense Paulus altyd gesien het as meer geestelik volwasse, of verder gevorder op die teologiese leer.  Dit alles was uiters onregverdig teenoor Jakobus, omdat Paulus en Jakobus se teologie, of standpunte teen die agtergrond van hul eie konteks gelees moet word en nie teen ’n agtergrond van sg. "geestelikheid" nie.

Ene Richard Bauckman sê dat, indien Jakobus, Paulus se standpunt oor geloof probeer ondermyn, hy nié baie suksesvol in sy poging is nie.  Die hoofsaak waaroor dit vir Paulus gaan, soos bv. die besnydenis; die saam eet met heidene en ander voedselwette, word nie eens aangespreek deur Jakobus nie.

Indien Jakobus dan besig is om te verskil van Paulus, dan sou hy tog sekerlik hierdie aspekte aangesny het.  Trouens, wanneer ons Jakobus se brief teen die agtergrond van verskeie ander Joodse geskrifte lees wat oor dieselfde sake handel, dan maak Jakobus se brief baie meer sin.  Ons het dus nie nodig om ’n debat te voer oor wie nou eintlik reg en wie verkeerd is nie.  Nee, Jakobus en Paulus se fokuspunte lê net op verskillende sfere in die teologie.

Die oënskynlike verskille wat daar moontlik tussen Jakobus en Paulus mag bestaan, word ongelukkig dikwels uitgelig, in plaas daarvan dat daar eerder gekyk word na die dosyne ooreenstemmings tussen twee Bybelskrywers wat beide onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf het.  Wanneer ’n mens so daarna kyk, kom jy agter dat die twee mekaar eintlik pragtig aanvul.

Ons het gesien dat Jakobus sy soeklig laat val op die kwaliteit van geloof onder gelowiges, terwyl Paulus weer na werke van die Wet verwys.  Paulus se "werke-uitdrukking" kom dus vóór wedergeboorte, m.a.w. dat géén mens gered kan word deur werke nie.  Terwyl Jakobus weer die noodsaak van werke ná wedergeboorte beklemtoon en wel in terme van o.a. barmhartigheidsdiens, of te wel liefdesdiens, ens.

4.    DIE AARD VAN OPREGTE GELOOF:
Kom ons kyk nou die aard van ware geloof.  In v.14 van Jak.2 vra Jakobus die vraag ~ Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red?  Eintlik het Jakobus hierdie vraag alreeds in die vorige gedeeltes van sy brief beantwoord, deurdat hy dit aanmekaar beklemtoon dat ware en opregte geloof tot uitdrukking kom in aktiewe, God-verheerlikende werke.

In die lig van wat Jakobus tot nou toe geskryf het, is die logiese antwoord op sy vraag, of iemand gered kan word sonder werke, ’n baie besliste NEE.

Belangrik om daarop te let, is die feit dat Jakobus in sy redenasie nié die klem laat val op geloof wat aanvanklik nodig is vir redding en/of die volgehoue geloof wat nodig is om die "wedloop te voltooi nie".  Nee, aan die een kant laat val hy die klem op die kontras tussen vergeefse-, of vrugtelose geloof en aan die anderkant, effektiewe-, of doeltreffende geloof.

Die werke of dade wat Jakobus in gedagte het, is soos reeds gesê, dade wat verband hou met dade van o.a. welwillendheid en vrygewigheid, liefdesgawes; gasvryheid; bemoediging; ens., maar die feit dat hy na Abraham en Ragab verwys, dui tog ook aan dat hy iets meer in gedagte het as bloot net vrygewigheid, ens.

Jakobus sê dus vir ons dat geloof wat bloot net ’n openbare en mondelingse getuienis is, of ’n verstandelike- en teologiese toe-eiening van ’n "suiwere" leer, onvoldoende is vir opregte en ware geloof.  Indien daar nie getuienis is van ’n geloofslewe wat gepaard gaan met opregte dade nie, is dit ’n futiele geloof wat nié kan uitloop op redding nie.

Om hierdie feit te illustreer, kom Jakobus soos ’n ware en goeie leraar en hy illustreer dit wat hy sê aan die hand van die voorbeeld in vv.15-16 ~ Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?  Jakobus sê dus dat sulke geloof soos wat hierdie hardvogtige mense in vv.15-16 openbaar, niks anders as dood is nie.

Dit laat my dink aan die verhaal van ’n man wie se perd gevrek het en terwyl daar ’n klomp mense rondom hom en die perd staan en simpatiseer met hom, kom daar ’n predikant aan – hy het sy hoed van sy kop gehaal en na die man wat die hardste en meeste gesimpatiseer het, uitgehou en vir hom gesê:  Ek is ’n "R100 jammer", hoeveel is jy jammer?  Daarna het hy sy hoed in die rondte gestuur.  ’n Belydenis vereis optrede, anders is die nie opreg nie.

Wanneer ons geneig is om te praat oor ons geloof in Christus en die waarheid van Sy Woord, maar ons doen nie veel nie, is ons "geestelik in die moeilikheid."   Wanneer ons nie veel oor het vir andere nie; wanneer ons nie bereid is om ons geld, of ons tyd met andere te deel nie; wanneer ons nie simpatie met andere het nie; wanneer ons nie tyd maak vir andere nie; wanneer ons nie gasvry is nie, ens., moet ons voorraadopname maak van ons geestelike lewe – moet ons kyk wat in ons siele aan die gang is.  Jakobus sê ~ as (geloof) nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood (v.17).

Dit is so ironies as Jakobus in v.18b sê ~ ...wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.  Luister mooi wat hy sê.  As ons twee mense hier langs mekaar sit en die een praat net die heeltyd oor sy geloof, terwyl die ander een doen wat hy glo – wie sal jy glo is die ware gelowige?

Dit is verder interessant om te sien dat Jakobus se broer die Here Jesus self, saam met Jakobus stem wanneer Hy Sy gelykenis van die saaier in Matt.13 vertel.  Die eerste drie tipes grond het geen vrug opgelewer nie, maar hoor wat sê Jesus in Matt.13:23 ~ Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ’n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.  Ware en opregte geloof bring vrug voort en hierdie vrug is optrede – dit het aksie tot gevolg!  Aan die einde van die Bergpredikasie waarsku Jesus ons as Hy sê ~ Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ’n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? 17Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. 18’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom nie goeie vrugte nie. 19Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 20So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken.”  21“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is (Matt.7:16-21).

U sal met my saamstem dat geen voël kan vlieg met net een vlerk nie.  Geloof en werke is soos die vlerke van ’n voël.  Daar kan geen lewe wees as daar net en van die twee teenwoordig is nie.

Jakobus sluit sy betoog af met amper ’n absurde vergelyking – hy sê in v.19 ~ Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs.

Daar is nie ’n enkele demoon in die ganse heelal wat nie glo dat God die enigste ware, lewende en heilige God is nie.  Daar is nie ’n enkele demoon wat nie glo en weet dat God Drie-Enig, God is nie – hulle glo aan God die Vader, God die Seun Jesus Christus en God die Heilige Gees.  Daar is waarskynlik talle demone, indien nie almal nie, wat jou en my persoonlik ken.  Ja daar is waarskynlik selfs demone wat die 1689 Baptiste Belydenis uit hul koppe ken.  Sommige demone is briljante teoloë.  Trouens, sommige demone beskik oor beter teologie as waaroor ons saam mag beskik, MAAR Jakobus sê ~ Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs (Jak.2:19b).

Hoor ’n bietjie wat sê Lukas in Hand.8:13 ~ Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus oral vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het.  ’n Entjie verder lees ons in vv.18-23 ~ Toe Simon sien dat die mense die Gees ontvang as die apostels hulle die hande oplê, het hy hulle geld aangebied 19en gesê: “Gee my ook hierdie bevoegdheid sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.”  20Maar Petrus antwoord hom: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop? 21In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid teenoor God is nie reg nie. 22Bekeer jou van hierdie dwaling en bid tot die Here: miskien sal Hy jou hierdie gesindheid van jou hart vergewe. 23Ek sien jy is deur afguns vergiftig en deur die sonde verstrik.” 

Simon se geloof het vir hom net so min beteken as wat die demone se geloof vir hulle beteken het, trouens dit beteken dalk selfs nog minder as wat dit vir die demone beteken, want ten minste sidder die demone van angs.

5.    AFSLUITING:
Geliefdes, het julle "twee vlerke"? Waarom "twee vlerke"? Besef jy waaruit jy en ek gered is? Besef jy hoe groot God se genade is om ons te kon red? Beskik jy oor ’n ewigheidsperspektief? Dan sal jy uit dankbaarheid, goed wil doen ten einde lof aan jou Koning te bring en Hom te behaag deur jou optrede en te getuig van Wie jy aanbid.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Baptiste Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 18 September 2011

Sunday, September 11, 2011

Psalm 130 (Hoop op God se Liefdevolle Vergifnis)

1.    INLEIDING:
Een middag gedurende Mei 1738 was ’n man in die St.Paul's Katedraal in Londen (vir my een van die mooiste katedrale in Europa).  Hy was baie diep geraak deur ’n lied wat daar gesing was – dit was Ps.130.  Gedurende die aand het hy in ’n huisgemeente in Aldersgate na ’n voorlesing van Martin Luther se inleiding tot Romeine geluister.  Met die sing van Ps.130 nog vars in sy geheue, tesame met die aanhoor van Luther se preek, kon hy net nie meer weerstand bied teen die inspraak van die Heilige Gees nie en kom hierdie man, genaamd John Wesley, tot radikale bekering en glo hy in die Evangelie van Jesus Christus.

Martin Luther het Ps.130 ’n Pauliniese Psalm genoem – nie omdat Paulus dit geskryf het nie, maar omdat hierdie Psalm dieselfde klem op vergifnis uit genade plaas, as wat Paulus daarop plaas.

Beide Psalms 130 en 131 moedig Israel aan om hulle hoop in God te vestig (Ps.130:7; Ps.131:3).  Beide Psalms gebruik ook dieselfde poëtiese styl, deur die hoofgedagte te herhaal.

Daar word beweer dat die 15 Psalms wat tuishoort onder die "Pelgrimsliedere" of "Bedevaartsliedere" (Engels:  "The Psalms of Ascent") en waarvan Ps.130 deel is, gesing is tydens die jaarlikse feeste wat in Jerusalem gehou is en dan spesifiek wanneer die pelgrims die stad binnegestap het en wanneer hulle die trappe opklim na die Tempel (2Kon.23:2; Neh.12:37; Ps.42:4; 122:1-2; 132:7).  Die opskrif van hierdie Psalm (v.1a) bevestig dan ook vir ons hierdie feit, nl. dat dit ’n lied is wat deur die Pelgrims gesing was

2.     SKRIFLESING: 
Kom ons lees Psalm 130 saam:
130 ’n Pelgrimslied.
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
3As U ons sondes
in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
4Maar by U ís daar vergifnis:
daarom word U steeds gedien.
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

Hierdie Psalm kan onder twee opskrifte verdeel word, nl.:
·           Gebed om genadige vergifnis (vv.1b-6);
·           Belofte van oorvloedige verlossing (vv.7-8)



3.    GEBED OM GENADIGE VERGIFNIS (vv.1b-6):
Die openingswoorde van hierdie Psalm skets vir ons ’n prentjie van die skrywer van hierdie Psalm wat in "diep waters spartel" en dit laat ’n mens dink aan die woorde in Ps.69:2-3, waar die Psalmis sê ~ Verlos my, o God, want die waters het tot by die siel gekom.  Ek sink in grondelose modder waar geen staanplek is nie; ek het in waterdieptes gekom, en die stroom loop oor my.  Die Psalmdigter ervaar vrees en wanhoop net aan die gedagte van die dood en hy vergelyk dit met verdrinking.  Al weet ons nie wat sy omstandighede was wat hom so laat voel het nie, kan ons aanvoel dat hy depressief moes gevoel het.  Hy voel wanhopig oor sy omstandighede – hy is op die randjie tussen lewe en dood – hy is tot oor sy ore toe in die modder vasgevang – hy is ver van ’n veilige en vertroostende hawe.

Ons sien dus dat die openingswoorde ~ Uit die dieptes..., na die valleie van die lewe verwys - valleie waardeur almal van ons op een of ander stadium of stadiums van ons lewe gaan, a.g.v. ons sonde.

Die paradoks hiervan is dat dit nie saak maak hoe eensaam of leeg die Psalmis voel nie, hy weet steeds dat God nie ver is nie, want hy het reeds vantevore God se genade en vergifnis ervaar.

Soortgelyke ervarings het baie dikwels in ons lewe tot gevolg dat ons net voort ploeter met ’n sukkelgang, in die hoop dat God ons weer op een of ander stadium sal vergewe.  Dit is amper soos om die tyd om te kry gedurende lang slapelose nagte en te hoop dat die nag tot ’n einde sal kom en die daglig tog net op een of ander stadium sal aanbreek.

Die Psalmis lê egter nie "slapeloos en rondrol" nie.  Nee, hy roep God aan en hy doen dit deur Hom drie keer op twee van Sy Name aan te roep en hy gebruik dit elke keer in dieselfde volgorde.  Die E.S.V. en die N.K.J.V. vertaal dit pragtig en korrek, wanneer dit sê ~ Out of the depths I cry to you, O Lord! 2O Lord, hear my voice! (v.1-2).  ...If you, O Lord, should mark iniquities, O Lord, who could stand? (v.3). En v.5-6 ~ I wait for the Lord, my soul waits, and in his word I hope; 6my soul waits for the Lord.  Elke keer word die eerste naam van God gebruik, nl. die oorspronklike Yahweh (Ek is wat Ek is - Gen.3:13) wat God se verbondsverhouding met Sy kinders beklemtoon.  Die tweede naam wat gebruik word, is Adonai (God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde - Gen.14:19-20) wat God as Skepper van die Heelal beklemtoon.  Waarom gebruik die Psalmis hierdie rymvorm?  Hierdie "spieëlvorm-struktuur" word juis gebruik deur die Psalmdigter, ten einde die fokus op God, Sy enigste Helper, te vestig.

Ons vind ’n herhaling van die woord "luister" of "hoor" in v.2 en mag moontlik daarop dui dat die Psalmis sy hulpgeroep verbaliseer – hardop uitspreek, eerder as om in stilte te bid.  Dit is asof hy sê ~ Here,  LUISTER TOG na my, Here, HOOR TOG my hulpgeroep.

Verse 3 en 4 kan die Psalmis se "blootstelling" genoem word, want hulp en vergifnis is nie op hierdie stadium deel van die Psalmis se denke nie – al waaraan hy nou dink, is dat God alles weet en dat Hy beslis nie sy sonde gaan miskyk nie.  God sal en gaan hom verantwoordelik hou vir sy sonde – hy sal nie ongestraf bly nie!  Hy impliseer dus, sonder om direk daaroor te praat, dat hy vergifnis nodig het.  Hy erken en sê dat hy skuldig is en dat, as Jahweh hom gaan straf, hy dit nie sal kan ontduik nie.

In v.4 fokus hy primêr op die probleem van sonde en die oplossing vir sy probleem.  Hy glo dat God hom sal vergewe van al sy oortredinge, al sal daar moontlike gevolge vir sy oortredings wees.  Ons het verlede week gesien dat sonde gewoonlik lang termyn gevolge inhou – dink bv. aan iemand wat harde dwelms oor ’n lang tydperk misbruik – sy verstand word aangetas.  Promiskuïteit lei baie dikwels tot HIV, of iemand wat ’n moord sou pleeg – hy mag vergifnis ontvang, maar hy moet steeds die gevolge van sy sonde dra, deur verstandelik geremd te wees; of terminaal siek te wees; of om tronk toe te gaan. 

Vergifnis het verkeerdelik, baie dikwels vrees tot gevolg – jy word vergewe, sodat jy God voortaan kan vrees – vrees dat jy Hom nooit weer sal teleurstel nie; vrees dat jy dalk weer Sy wraak sal ervaar; of vrees dat jy ’n swak getuie vir Hom was of mag wees en bowe al, vrees jy Hom omdat jy diep onder die besef van Sy heiligheid gekom het. 

Ons vergifnis moet wysheid tot gevolg hê.  Wat die Psalmis se probleem ook al mag wees, hy is skuldig aan sonde en hy bely dit en nou wag hy op God se vergifnis.  Ons moet verstaan dat God ons nie altyd dadelik vergewe nie, baie keer is dit ’n proses oor ’n lang tydperk, want dit is óns wat traag is om ons hartseer, of depressie, of ontnugtering, ens. te verwerk en te verstaan.  Daarom dat vergifnis en om te wag, baie dikwels hand aan hand gaan.

Onder watter omstandighede vergewe God ons? 
·           Ons moet waarlik berou hê oor ons sonde. 
·           God is heilig en Sy vergifnis is heilig en volkome.  Vergifnis vra dus van ons dat ons sal glo dat Jesus aan die kruis vir ons sonde gesterf het en ons moet glo dat ons volkome vergewe sal word.
·           Ek moet waar nodig en waar moontlik, restitusie doen vir my sonde.  Ek moet ook my sonde teenoor diegene teen wie ek gesondig het, bely en om vergifnis vra.  Ek moet bereid wees om na die oortreder te gaan (broer/suster) om die saak te probeer beredder sodat versoening bewerkstellig kan word.  In die geval van vreemdelinge – as versoening nie moontlik is nie, moet ek die vreemdeling vergewe en vergeet van die oortreding.   

Iemand het eenkeer gesê:  Repentance is a change of mind. It is a change of attitude from arrogance to an attitude of submission.   2Kor.5:18-20 is hier vir ons die maatstaf ~ Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou. 20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!

Indien ons verwag dat God ons moet vergewe, moet ons ook...
·           Bereid wees om andere teen wie ons sondig, te vergewe.
·           Ons moet bereid wees om ons kruis op te neem en bereid wees om verguising  te verduur (to be wronged).
·           Ons moet bereid wees om te vergewe selfs voor daar getuienis van ’n oortreding teen my is.
·           Ons moet vergewe ongeag wat die oortreder se optrede behels.

God sien ons hart en Hy weet of ons opreg berou het oor ons sonde of nie.

Die Psalmis het in vv.3-4 primêr op die probleem van sy sonde en die oplossing vir sy probleem gefokus, maar noukom hy in v.5 en hy sê ~ Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord.  Hy is hoopvol en in afwagting op God se reaksie en daarom bevestig hy herhaaldelik sy vertroue in die Here.  Hy reik in volle verwagting uit na God en wag geduldig dat die Here se belofte van verlossing in vervulling sal gaan. 

Hierdie lied was as gebed, waarskynlik ook gedurende die nag, of vroeë oggendure gebid en gesing en omdat ons nie werklik weet wie die outeur van hierdie Psalm is nie, kan ons baie maklik aanvaar dat dit Dawid is wat hier aan die woord is, terwyl hy treur oor sy sondige owerspel met Batseba en die kind wat in die proses verwek is en nie baie lank daarna, gesterf het.  Ons is egter nie seker of dit Dawid is nie, maar wat wel seker is, is dat die skrywer van hierdie Psalm ook worstel met sy sonde, maar hy is vol vertroue dat God op Sy perfekte tyd, verlossing en vergifnis sal skenk, want God is ’n God van genade en vergifnis, indien ons berou oor ons sonde het en ons, ons opreg daarvan bekeer.

Ons lees in v.6 dat die Psalmis sê ~ Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.  Die wagte wat destyds gedurende die nag wag gestaan het op die stadsmure, was pynlik bewus van die tyd, omdat die ure gedurende die laatnag en vroegoggend, baie lank kan raak, trouens hulle was só bewus van die tyd, dat mense hulle baie dikwels "die uur van die nag" (die tyd) gevra het – ons sien dit bv. in Jes.21:11-12 ~ Iemand roep na my van Seïr af:  “Wag, wanneer is die nag verby?  Wag, wanneer is die nag verby?”  12Die wag antwoord:  “Die môre het gekom, maar dit is nog nag.  Wanneer die oggendstond uiteindelik aanbreek en die tyd van werklike gevaar begin vervaag, kom ’n ander wag om die een wat gedurende die nag wag gestaan het, te vervang.  Enige iemand wat al gedurende die nag wag gestaan het, weet wat ’n verligting dit is wanneer die horison in die ooste rooi begin verkleur.

Net soos die wagte op die destydse stadsmuur op die môrelig gewag het, so wag die Psalmis op sy verlossing en vergifnis met ’n vaste hoop en vertroue en wil hy ons terselfdertyd aanspoor om saam met hom te wag op God se reaksie op ons hulpgeroep.  Ons moet vertrou dat die Here weer lig sal gee ná donker dieptes wat ons lewe bedreig en baie dikwels sinloos maak.

4.    BELOFTE VAN OORVLOEDIGE VERLOSSING (vv.7-8):
Die Psalmis spreek egter ook sy volksgenote aan, deur vir hulle te sê dat ook hulle op God moet wag.  Wat dus vir die individuele Psalmskrywer geld, geld ook vir die volk in geheel (Ps.25:22).  God het nie Sy volk verlaat nie en Hy sal hulle ook nie afskeep, of Sy verbond met hulle verbreek nie.  Trouens, Hy sal Sy kinders geheel en al verlos van hul sonde (v.8). 

Dit is so asof die Psalmis sy volksgenote wil herinner aan hul voorgeslagte se omswerwinge in die wildernis – 40 jaar en tog, uiteindelik het hulle nageslag die Beloofde Land binnegaan.  Die Israeliete se Babiloniese ballingskap het vir 70 jaar geduur en tog, uiteindelik kon die volk weer na hul geliefde Israel terugkeer.

In geval van die Israeliete het belydenis van sonde nie hul onmiddellike terugkeer na Kanaän verseker nie, trouens baie Israeliete het nooit weer die Beloofde Land gesien nie en ook nie hul eie herstel of restourasie ervaar nie – MAAR, volkome herstel sou nog kom en daaraan het hulle vasgehou, sê die Psalmdigter, maar intussen moet die gelowiges hul fokus vestig op hul Verlosser en op Hom vertrou.

Is die Psalmis se uitsprake bloot net toegespits op God wat ons uiteindelik uit hierdie wêreldse probleme gaan verlos, of wil die Psalmis hê dat sy lesers die versekering moet hê dat hulle verlossing op ’n geestelik vlak lê – m.a.w. die vergifnis van sonde?  Die kern van Ps.130 en die verklaring vir hierdie vraag, lê opgesluit in vv.7-8 en daarom is dit belangrik dat ons dit reg sal verstaan.

Eerstens is daar die woord "verlos" of "verlossing".  Die Hebreeuse woord vir "verlos", of "verlossing", is ’n boekhou term.  Eers het jy ’n debietinskrywing op jou rekening (jy het skuld) en dan word daar ’n betaling gedoen – dit is ’n kredietinskrywing en dan is die balans op jou rekening nul.  Anders gestel, jou skuld is nou gedelg. 

Die Psalmis sê egter nie vir ons watter vorm hierdie betaling aanneem nie, m.a.w. hoe dit betaal word nie – ook sê hy nie deur wie dit betaal en aan wie dit betaal word nie.

’n Tweede woord waarna ons moet kyk vind ons aan die einde van v.7.  Die O.A.V. lees as volg ~ Wag op die Here, o Israel! want by die Here is die goedertierenheid, en by Hom is daar veel verlossing – let op die uitdrukking ~  veel verlossing – hierdie uitdrukking kom glad nie voor in die N.A.V.  Die N.K.J.V. het dit reg as dit sê ~ O Israel, hope in the Lord; For with the Lord there is mercy, And with Him is abundant redemptionabundant redemption. Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word vir "abundant" of "oorvloedig" word nie baie in die Ou Testament gebruik nie – behalwe vir hier in Ps.130, word dit ook in Ps.111:9; Eks.8:19 en Jes.50:2 gebruik.  Om hierdie uitdrukking abundant redemption te vertaal is baie moeilik, omdat God se oorvloedige verlossing, bo ons denke is, want dit hou nooit op nie en dit is van toepassing op alle sonde wat ons begaan.

Indien hierdie verlossing op ’n historiese vlak sou lê (Hy het verlos), verwys dit na die volk Israel wat jaarliks na die Tempel gekom het om die Here te loof en te prys vir hul verlossing van die Babiloniese ballingskap.  Indien hierdie verlossing op ’n profetiese vlak lê (Hy gaan binnekort verlos), dan verteenwoordig dit Israel wat op hul jaarlikse pelgrimstog gaan en dan hoop op verlossing van die bedreiging van een of ander vyandelike bedreiging of katastrofe, soos ’n plaag of hongersnood, ens.  Indien hierdie verlossing op ’n eskatologiese vlak lê (Hy gaan uiteindelik verlos), dan gaan dit oor die verwagting wat Israel het dat God uiteindelik Sy verbondsbeloftes gaan vervul en aan hulle ’n permanente vredestaat skenk en so ’n staat kan natuurlik net onder die Messias tot stand kom.

As ons na Ps.25:22 kyk, sien ons dat hierdie verlossing op ’n eskatologiese vlak lê – daar staan ~ O God, red Israel uit al sy nood.  Dit dui op die algehele, volkome, aanhoudende en ewige vergifnis van ons sonde deur die Here God – geen wonder dat hierdie Psalm gekies is om gedurende die Fees van die Groot Versoendag gesing te word nie!

Geliefdes, hierdie verlossing en dan spesifiek ons verlossing en ons verligting uit ons sondelas lê in die toekoms – ons moet vashou aan ons geloof in Christus Jesus en Hom vertrou vir ons volkome verlossing – vir ons "in besit neem" van ons "Beloofde Land" (ons ewige erfenis).  1Pet.3:15 lees as volg ~ In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.  Deel van ons getuienis teenoor die wêreld lê daarin opgesluit in hoe die wêreld sien hoe ons, ons eie sonde hanteer.  Sien ons met rykhalsende verlange uit na die ewige lewe – daar waar geen sondelas meer op ons skouers gaan lê nie?  Beskik ons dus oor ’n ewigheidsperspektief?

6.    TOEPASSING:
Die mees basiese, maar tog ook die ernstigste en grootste behoefte waaroor die mens sekerlik mag beskik, is ’n behoefte en nood aan vergifnis.  Ons moet besef dat geen mens hierdie belofte van verlossing kan verdien, of kan ontvang, sonder God se genade, of as ons nie in die regte verhouding tot God staan nie.

Ons moet terselfdertyd besef dat geen omstandigheid waarin ons, onsself mag bevind, ons ooit kan skei van God se liefde nie.

Om egter God se verlossing te ervaar moet ons op ’n punt kom waar ons, ons sondige toestand opreg bely en vra om God se onverdiende genade en vergifnis.  Ons moet terselfdertyd besef dat belydenis van sonde nie alleen genoeg is ten einde ons  verhouding met God te herstel nie – opregte en radikale bekering van ons sonde is ook nodig.

Laastens moet ons bereid wees om geduldig te wag op genesing van die natuurlike gevolge van ons sonde.  Baie dikwels laat dwelmmisbruik permanente en fisiese letsels en sal so ’n persoon moet leer om, ten spyte van sy vergifnis wat hy ontvang en die feit dat hy homself opreg bekeer het, daarmee saam te leef.

As iemand ontrou was aan sy eggenoot, of eggenote, moet so ’n persoon besef dat dit baie dikwels jare sal neem alvorens die verbreekte vertrouensverhouding herstel sal word.

’n Voortdurende gebrek aan getrouheid aan God, kan tot gevolg hê dat jou kinders kan sukkel om te glo, ens.

Ons moet leer om geduldig, maar ook getrou te wag sodat die gevolge van sonde genees kan word – ja, ons hemelse Vader vergewe ons onmiddellik na opregte belydenis en bekering, maar dit neem tyd vir die gevolge van ons sonde om te genees.

Ten spyte van hierdie realiteite is dit egter steeds noodsaaklik dat ons heilige lewens sal lei ten einde verseker te wees van ’n voortgesette verhouding met ’n heilige God.  Johannes skryf in 1Joh.1:8-2:2 ~ As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 10As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie. 2 Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig—ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. 2Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

Herstel van die verhouding tussen ons en God begin deur ons fokus uitsluitlik op God en God alleen te plaas.  Nes Israel van ouds moet ons ook besef dat ons oor ’n eskatologiese hoop beskik (Rom.8:23-39) wat uiteindelik tot ons verheerliking sal uitloop – en daarvoor moet ons soos die wagters op die stad se mure, met verwagting, geduldig en getrou wag (1Pet.1:4-9) en saam met Johannes in Openb.22:20 uitroep ~ Amen! Kom, Here Jesus!

7.    BID PSALM 130:
Vader....
·           Wees my genadig en verhoor my gebed (vv.1-2).
·           My sonde is geweldig en ek verdien dat U, U toorn oor my laat losbars (v.3).
·           My hart loop oor van dankbaarheid vir die vergifnis op my sonde wat ek deur Jesus Christus, van U ontvang (v.4).
·           My hoop is in U en op grond van Jesus Christus se soendood gegrond en daarom kan ek saam met Johannes uitroep ~ Amen! Kom, Here Jesus! (Openb.22:20) (vv.5-6).
·           Dankie dat ek volkome van al my sonde vergewe is (vv.7-8).


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Baptiste Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 11 September 2011

Sunday, September 4, 2011

Psalm 42 & 43 (Hoop op God)

Psalm 42 & 43
(Hoop op God)

1.    INLEIDING:
Ons ken almal die lied "As the Deer Pants for the Water" wat deur Martin Nystrom geskryf en deur Thomas Campbell (1777-1844) getoonset isOns gaan vanoggend na hierdie pragtige en baie bekende Psalm 42 kyk. 

Daar is heelwat ou antieke Hebreeuse manuskripte wat Ps.42 en 43 as een Psalm saamvoeg, want Ps 43 en Ps. 71 (beide in Boek 2 van die Psalms), is die enigste twee Psalms sonder ’n opskrif of titel.  Die titel van Ps.42 is:  Vir die koorleier. ’n Gedig van die Koragiete

’n Verdere rede waarom baie mense Ps.42 en 43 as een Psalm beskou is omdat ’n refrein wat twee keer voorkom in Ps 42, ook eenkeer in Ps.43 voorkom.  Derdens word v.9 van Ps.42, weer gehoor in Ps.43:2.

Hierdie is die eerste Psalm van die tweede boek, maar ook die eerste Psalm in die Psalmboek wat nie deur Dawid geskryf is nie – die kinders van Korag (O.A.V.), of die Koragiete (N.A.V.), is die skrywers van hierdie Psalm.  Wie is hierdie Seun of Seuns van Korag, of die Koragiete?  As ons kyk na 1Kron.6:22-28 en 2Kron.20:19 was hulle die seuns van Kehat van die stam van Levi.  As ons die woord Leviet hoor, weet ons al teen die tyd dat die musiek en sang in die Tempel, een van hulle verantwoordelikhede was (1Kron.6:31-43; 2Kron.20:19).  Dit is ook interessant as ’n mens na Num.16 en 26 kyk, want dan sien jy dat Kehat op ’n stadium ’n rebellie teen Moses in die Wildernis gelei het, maar God het hom en al sy volgelinge uitgewis.  Sy seuns het egter oorleef (26:10-11), omdat hulle nie hul pa gevolg het in die rebellie nie.

Hierdie opstand van Korag was waarskynlik deels of in geheel die rede vir die skryf van hierdie Psalm, want as jy as kind sou aanskou hoe jou vader sterf, soos wat Kehat gesterf het, sal jy God nie genoeg kan dank vir Sy genade nie en sal jy geïnspireerd wees om lofliedere te skryf en te sing – hoor net hoe die Koragiete gesterf het ~ Die grond het oopgeskeur en hulle ingesluk saam met Korag wie se bende omgekom het toe die vuur twee honderd en vyftig man verteer het. Dit was ’n waarskuwing vir Israel (Num.26:10).  

Hierdie is ook ’n belangrike stukkie inligting, wat nie ongesiens verby moet gaan nie.  Die kinders van Korag word nie hier gestraf vir hul Pa se sonde nie – hulle word egter direk daardeur geraak. God hou nie ons kinders verantwoordelik vir ons sonde nie, maar hulle dra baie dikwels die gevolge daarvan - dink aan HIV- en "Kokaïenbabas, ens. As ek sondig kry my vrou swaar, my kleinkinders, die gemeente, ens. Wanneer ’n mens ’n klip in water gooi kring die rimpelings ver op die water uit – dit is presies wat gebeur met ons sonde – dit kring ver uit – dit het ’n impak op baie mense rondom én na aan ons.  

Elke keer as ons dan 'n Psalm sien wat deur die Seuns van Korag geskryf is, dan verstaan ons onder watter omstandighede hulle geleef en geskryf en musiek gemaak het.

2.     SKRIFLESING: 
Kom ons lees Psalm 42 en 43 saam:
Heimwee na God.
42 Vir die koorleier. ’n Gedig van die
Koragiete.
2Soos ’n wildsbok smag
na waterstrome,
so smag ek na U, o God.
3Ek dors na God, na die lewende God.
Wanneer kan ek gaan
en voor God verskyn?
4Dag en nag is ek in trane,
want sonder ophou sê hulle vir my:
“En waar is jou God nou?”
5As ek my lewe voor my laat verbygaan,
dink ek daaraan hoe ek opgetrek het
na die woonplek van God,
voor ’n skare uit
na sy huis toe geloop het
met gejuig en lofsang—
’n skare wat feesvier.
6Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.
Hy is my helper 7en my God!
Uit my vertwyfeling roep ek na U
hier van die Jordaangebied,
van Hermonberg,
van die Kleinberg af
8waar die waters teen mekaar raas
en u waterstrome bruis.
U het golf na golf oor my laat slaan.
9Tog sal die Here weer op ’n dag
sy trou laat blyk
en sal ek selfs in die nag
’n lied vir Hom sing,
’n gebed tot die God van my lewe.
10Ek wil vir God sê:
“My Rots,
waarom het U my vergeet?
Waarom moet ek gebuk gaan
onder die smaad van die vyand?”
11Dit sny deur my hele wese
as my teëstanders my spot
en dag na dag vir my sê:
“En waar is jou God nou?”
12Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom
’n loflied sing.
Hy is my helper en my God!
43 Laat tog reg aan my geskied, o God,
behartig tog my saak
teen ’n godlose bende,
red my van vals en misdadige mense.
2Net U is my skuiling, my God;
waarom verstoot U my dan?
Waarom moet ek gebuk gaan
onder die smaad van die vyand?
3Stuur u lig en u waarheid
dat dié my lei
en my bring na u heilige berg,
na u woning!
4Laat my ingaan na die altaar van God,
die God oor wie ek wil jubel en juig,
dat ek U kan loof met die lier,
o God, my God!
5Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom
’n loflied sing.
Hy is my helper en my God!

Ek wil hierdie Psalm onder drie opskrifte benader:
·           Die Psalmis se Selfondersoek (Ps.42:1-6).
·           Die Psalmis se Terugblik (Ps.42:7-11).
·           Die Psalmis se Vertroue (Ps.43:1-5).

3.    DIE PSALMIS SE SELFONDERSOEK (Ps.42:1-6):
Hierdie pragtige lied begin met ’n nota wat gerig word aan die koorleier.  Die meeste Engelse vertalings het dit reg wanneer dit vir die koorleier sê dat hierdie lied, ’n "maskil" is.  Dit is nie so eenvoudig om hierdie woord "maskil" sommer net te vertaal met, soos die N.A.V. dit stel, "’n gedig", of de O.A.V., "’n onderwysing" nie.  Hierdie uitdrukking of woord is só geweldig oud, dat die betekenis baie moeilik bepaalbaar is.

Hierdie is slegs die tweede keer, van Psalm 1 af, dat hierdie woord in die opskrif van ’n Psalm gebruik word en dit kom net 13 keer voor in al die Psalms (Pss.32, 42, 44, 45, 52, 53, 54 en 55).  Die betekenis van "Maskil" kan moontlik die beste beskryf word as "’n uitstekende en behoorlik gekomponeerde lied".

Alhoewel die opskrif aandui dat hierdie Psalm deur die seuns (meervoud) van Korag geskryf is, vind ons hier in v.2 dat een van die seuns (enkelvoud) van Korag nou aan die woord is.  Die rede hiervoor is dat moontlik slegs een van die seuns hierdie Psalm geskryf het en sy naam nie genoem word nie, omdat hy dit nie om eie eer wou doen nie en daarom word die outeur toegedig aan al die seuns wat uit genade deur God gespaar is.

In v.2 sien ons dat die skrywer verlang na die teenwoordigheid van God.  Waarom God Homself van die skrywer onttrek het, is nie bekend nie, maar hy verlang daarna om in die teenwoordigheid van God te wees. 

V.3 is nie baie goed vertaal in enige van die twee Afrikaanse vertalings nie en daarom is dit goed as ons na die N.K.J.V. kyk – dit lees as volg ~ My tears have been my food day and night, While they continually say to me, “Where is your God?”.  V.3 moet ook saam met v.10 gelees word ~ Ek wil vir God sê:  “My Rots, waarom het U my vergeet?  Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand?”  Die skrywer se vyande spot hom dus en vra hom, waar is jou God? Leef jou God?  Beteken hy ooit iets?  Die skrywer kry swaar.  Iets is verkeerd.  Is hy dalk siek?  Het hy iemand aan die dood afgestaan?  Wat dit ook al mag wees, sy vyande spot en vra hom waarom hy so swaar kry as hy ’n lewende God het wat hom kan help. Dit laat ’n mens nogal aan Job dink – nie waar nie? 

As jy daaraan dink dat daar talle afgodedienaars in die skrywer se tyd, rondom hom was en dit terwyl die hele volk veronderstel was om God se volk te wees, maak hierdie gespot dit nog erger vir hom en pyn hy nog meer oor sy situasie – sy eie mense wat God behoort te vrees, belaster God!

Hoe hanteer hy hierdie situasie waarin hy hom bevind?  Hy praat met homself en hy sê in v.6 ~ Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?  Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!  Die skrywer plaas sy hoop opnuut in God. 

Hierdie moet ook vir ons ’n les wees.  Wanneer dit swaar met ons gaan; wanneer ons depressief voel; wanneer ons hartseer is; wanneer ons gespot en verkleineer word; ens.  dan moet ons met God praat en oor God praat.  In plaas daarvan om te sit en te tob, moet ons, ons geloof in God plaas en optree soos dit van ’n gelowige verwag word.  In plaas daarvan om aan al die negatiewes te dink; die swaarkry en ellende; die gespot; die hartseer; die slegte tye en pynlike herinneringe; vrees; ens., moet ons eerder op God se liefde en genade en seën fokus en Hom daarvoor dank en daaroor getuig.

As jy gaan toelaat dat al die negatiewe dinge jou lewe oorheers, gaan almal ná aan jou en om jou ly en toon jy dat jy net aan jouself dink en hoegenaamd nie aan God of jou naaste nie.  Dit is waarom depressie en ’n tobbery ("fretting")  so afbrekend vir almal om jou kan wees.  Ons dra doelbewus nie allerlei liggaamsreuke saam met ons nie – waarom nie?  Ter wille van andere om ons.  Ons moet dieselfde doen wat betref ons geestesgesondheid.

4.    DIE PSALMIS SE TERUGBLIK (Ps.42:6-11):
Die Psalmis praat nie oor sy probleme nie – hy praat met homself en hy vertel homself wat God al alles vir hom beteken en gedoen het.  Die antwoord op die Psalmis se probleem lê dus opgesluit in v+ -v.7 en 8 ~ Uit my vertwyfeling roep ek na U hier van die Jordaangebied, van Hermonberg, van die Kleinberg af 8waar die waters teen mekaar raas en u waterstrome bruis.  U het golf na golf oor my laat slaan. En dan moet ons weer v.12 hiermee saam lees ~  Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?  Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!  Sy hoop en verlossing lê opgesluit in oordenking; in gebed en in hoop in die Here.  

Ons moet altyd in gedagte hou dat wanneer ons God se liefde en genade in ons lewe in herinnering roep, sulke gedagtes nie net by gedagtes moet bly nie – nee, sulke gedagtes moet oorgaan tot optrede.  As jy nie optree nie, het jy in werklikheid vergeet – onthou jy dus nie regtig God se genade en liefde in jou lewe nie en/of verstaan jy nie werklik die betekenis en implikasies van God se genade en liefde in jou lewe nie.

In v.7 verwys die Psalmis na die Jordaanstreek en die Kleinberg in die Hermonreeks.  Moontlik was hy in hierdie gebied toe hy die Psalm geskryf het, of hy dink terug aan ’n tyd dat hy daar was.  Wat egter belangrik is, is dat hy dink aan die water van die Jordaan ~ waar die waters teen mekaar raas en u waterstrome bruis.  U het golf na golf oor my laat slaan (v.8).  Hierdie is ’n metafoor waardeur hy sy eie mismoedigheid en nood aan hulp vergelyk met die ruwe waters van ’n Jordaanrivier wat in vloed is.

Tog kom hy weer in v.9 en spreek hy sy hoop en vertroue in God uit deur ’n lied te begin sing – hy sing ~ Tog sal die Here weer op ’n dag sy trou laat blyk en sal ek selfs in die nag ’n lied vir Hom sing, ’n gebed tot die God van my lewe.  Terwyl die skrywer van die Psalm onder gaan en besig is om te verdrink, gooi God ’n lewensboei na hom en hy gryp na hierdie liefdesboei van God – God se ewige en getroue verbondliefde. 

En wat doen die Psalmis met hierdie liefdesboei wat God na hom gooi?  Hy begin ’n lied as ’n gebed tot die Here sing.  Dit laat my so terugdink aan ’n tydperk van drie weke gedurende 1990, waartydens ek besig was met opleiding in Moslem evangelisasie en ek by gelowige Indiërs in Lenasia gewoon het.  My gasheer het elke oggend in die badkamer, ’n lang gebed gesing (ek glo sommer op wysies wat hyself gemaak het) vir sy gesin en vir my en sy broers en susters in die geloof; sy familie; die goedheid van die Here; ens.  Dit was vir my so treffend om hom dit te hoor sing terwyl hy besig was om reg te maak vir die dag wat voorlê. 

Dit is presies wat die Psalmis hier doen – hy sing ’n gebed tot die Here.  En wat sing hy?  Die woorde in vv.10-12 ~ Ek wil vir God sê:  “My Rots, waarom het U my vergeet?  Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand?”  11Dit sny deur my hele wese as my teëstanders my spot en dag na dag vir my sê:  “En waar is jou God nou?”  12Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?  Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!     

5.    DIE PSALMIS SE VERTROUE (Ps.43:1-5):
Die skrywer van ons Psalm begin v.1 van Ps.43 met die woorde ~ Laat tog reg aan my geskied, o God.., of in die O.A.V. ~ Doen aan my reg, o God...  In die Engelse vertalings vind ons die woorde.  Vindicate me, o God...  Hy wil hierdeur aan God sê, trouens hy bely en erken dit, nl. dat net God en net Hy alleen, hom kan help.  Hy wil nie wraak op sy spotters neem nie en daarom laat hy enige wraak wat sy spotters toekom, aan God oor.  Ook wat dit aan betref, moet ons te alle tye ons vyande se lot aan God oorlaat en ons toevlug tot God neem, soos wat die Psalmis in v.2 dan ook doen wanneer hy sê ~ Net U is my skuiling, my God.

In v.1 praat die Psalmis ook van ’n onbarmhartige volk (O.A.V.), of soos die N.K.J.V. dit stel ~ ...an ungodly nation.  Hy leef, soos ons netnou gesien het, in ’n era waar sy volksgenote onheilige afgodsdienaars is en sê hy dat sy spotters maar net optree soos die res van die volk – hulle harte is verhard, maar nie hierdie seun van Korag nie – hy beroep hom op God se verbond wat Hy nooit sal verbreek nie en daarom smag hy na God se lig en waarheid (v.3), daardie lig en waarheid wat die volheid van God se redding impliseer en waarskynlik het hy hier die woorde van Jesaja in Jes.58:8 in gedagte wanneer hy hierdie versugting uitspreek ~ Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel.  Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan, die mag van die Here sal agter jou aankom, of die woorde van Jes.60:1 en 3 ~ Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring... En ...Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het.

Die skrywer wil na Jerusalem; na die Tempel – daar waar God teenwoordig is - dit is waar hy wil wees – in God se teenwoordigheid!

Die Psalmis sluit hierdie lied van hom af met die refrein wat hy reeds twee keer in Ps.42 gesing het, nl. ~ Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?  Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!  Met hierdie refrein beklemtoon hy sy sterk oortuiging dat God tot sy redding sal kom.  Kyk net ’n bietjie wat sê hy alles van God – Hy sê dat sy hoop in God gevestig is en dat God sy verlossing is – God is sy rots. 

Hierdie man het ’n baie intieme verhouding met God en dit laat ons met ’n vraag:  Hoe is jou verhouding met God?  As jy depressief is; as jy in vertwyfeling is; As jy vervolg word en gespot word; ens., kan jy waarlik sê dat God jou toevlug en jou rots is?  Is jou verhouding met Jesus Christus van so ’n aard dat jy waarlik glo dat Hy en Hy alleen jou Rots en Helper is?  Kan ons waarlik in die woorde van Hebr.4:16 ook sê ~ Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word?

6.    TOEPASSING:
Geliefdes, ons primêre oplossing vir ons probleme; vir ons depressie; vir wat ook al, lê daarin dat ons beheer oor ons gedagtes sal kry en op God sal begin fokus – op dít wat God vir jou gedoen het.

Hoop in ’n tyd van ontnugtering of seerkry of vrees, of vertwyfeling, moet te alle tye op God gefokus wees, want dit is net God se genade wat ons koppe bo die stormwaters kan hou en ons uiteindelik op droë grond kan kry.

Ek wil afsluit met die woorde van Charles Spurgeon wat op ’n keer gesê het ~ Hope is the grace that swims, though the waves roar and be troubled.  In the garden of hope grow the laurels for future victories, the roses of coming joy, the lilies of approaching peace.

7.    BID PSALMS 42 EN 43:
Vader....
·           My siel dors na U (v.2).
·           My hoop is in U gevestig (v. 5).
·           Help my om alles wat U vir my gedoen het, gereeld in herinnering te roep (v. 6).
·           Vader, mag hierdie lied in my gemoed bly draai wanneer ek nie kan slaap nie en wanneer ek vermoeid, belas en beangs is (v.8).



[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Baptistegemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 04 September 2011