1. INLEIDING:
Wanneer iemand wat sy doktorale studies gedoen het oor die
kwantumteorie, aan my begin verduidelik presies wat hierdie teorie behels, sal hy nog nie eens ’n
tweede keer asem geskep het nie, dan het hy my reeds “verloor”. Wanneer ’n mens
na vandag se Skrifgedeelte kyk, nl. die tweede gedeelte van Daniël 9, kan jy
bloot by die deurlees van hierdie gedeelte dalk presies net so voel – jou kop
draai reeds met die lees van die tweede vers, want jy verstaan daar niks van
nie en dit maak hoegenaamd nie sin nie en jy besef ook dat hier ’n resep is vir
massiewe misleiding en kan ’n mens jouself net indink wat alles met hierdie
verse gemaak kon word vanuit ’n eskatologiese oogpunt (eskatologie
= die leer van die laaste dinge).
Ons kan en mag egter nie hierdie gedeelte maar bloot net
oorslaan omdat dit ’n menslik gesproke onverstaanbare teks is nie, want Paulus
sê tog immers in 2 Tim.3:16-17 ~ Die hele Skrif (dit
sluit dus elke vers en elke jota en tittel in) is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die
waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte
lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan,
volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk. Ons kan dit dus waag om in
afhanklikheid van die Heilige Gees hierdie gedeelte te lees en Hom te vertrou
dat Hy hierdie gedeelte vir ons sal “oopmaak”.
Ek wil my egter net vir ’n oomblik in
die rede val en iets baie kortliks verduidelik n.a.v. ’n vraag wat Riaan en
Jeanne my verlede week ná die boodskap gevra het. Die vraag was: Indien Daniël
die volk se sonde bely het en God gehoor gegee het aan Daniël se pleitrede en
die volk vergewe het en herstel het as volk in Israel, impliseer dit dus dat ek
bv. vir my verlore kind kan bid; sy sonde voor die Here bely en vra om
vergifnis en dat die Here hom/haar dan sal vergewe? Die kort antwoord hierop is
ja en nee! Wat bedoel ek? Ons moet eerstens verstaan dat Israel, God se
verbondsvolk was en daar derhalwe ’n baie unieke verhouding tussen God en Sy
volk bestaan het, met profete en leiers deur wie Hy tot die volk gepraat het en
deur wie die volk met Hom kon praat; daar was bv. Hoë Priesters wat namens die
volk sondebelydenis gedoen het en dit is hulle vergewe ens. Aan die anderkant
bestaan daardie unieke situasie nie t.o.v. ons volk en nasie nie en is die Nuwe
Verbond geskoei op ander voorwaardes en beloftes waarop ek nie nou wil ingaan
nie, maar eerstens moet ons besef dat elke individu sy eie sonde voor die Here
moet bely en hom daarvan bekeer. Wat ons wel kan doen, is om enersyds bv. ons
kind se sonde voor God te bely (te noem – die VAW
vertaal dit o.a. met “jou oortuiging openlik verklaar”) en Hom te vra om daardie kind onder
sondebesef te bring, sodat daardie kind sy sonde kan herken, erken en bely en
hom daarvan bekeer. Ons kan egter andersyds ook die Here vra om Sy genade oor
daardie kind uit te stort deur die gevolge van sy sonde, gering te hou – soos
John Piper bv. saam met sy vrou gepleit het dat sy rebelse seun (voor
sy bekering) net
nie ’n meisie swanger sal laat raak nie, want dit is bepaalde straf op sonde
wat daardie kind die gevolge van sou moes dra, selfs al sou hy (wat
wel gebeur het) later
tot bekering kom. As jou kind bv. homoseksueel is en derhalwe in sonde is, kan
jy steeds jou kind se sonde voor die Here bely en Hom vra om jou kind genadig
te wees, deur hom van sonde en straf en geregtigheid te oortuig, maar ook dat
hy bv. nie HIV/vigs sal opdoen terwyl hy in sonde is nie. Terug na ons
Skrifgedeelte egter.
2. GOEIE NUUS, SLEGTE NUUS (vv.19-23):
Ons moet steeds in gedagte hou dat
Daniël besig was om tot die Here te bid en sondebelydenis te doen t.w.v. die
volk, toe hierdie visioen tot hom gekom het.
Ek het gesê dat Daniël se gebed die
konteks vorm vir die visioen wat hy ontvang het en terwyl hy die profesie van
Jeremia oor die terugkeer van die volk na Israel in Jer.31:31-33 lees, bid hy
vir die vervulling van hierdie belofte van God deur Jeremia. Hy moes opgewonde
gewees het en vol afwagting en hoop vir ’n wonderlike en geseënde tyd wat
voorgelê het vir hom en sy volksgenote – ’n tyd van gehoorsaamheid aan God en
’n tyd van ’n hernuwing van God se
verbond met Sy volk. Hy het waarskynlik ook in sy geestesoog die herbou van die
tempel gesien en ’n volk wat God in waarheid en opregtheid weer aanbid.
Ons
sien in vv.19-23 dat Daniël onmiddellik, trouens terwyl hy nog bid, ’n antwoord
op sy gebed ontvang ~ Terwyl ek nog praat en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel
bely en by die Here my God pleit vir sy heilige berg, 21terwyl ek
nog so aan die bid was, het Gabriël, die man wat ek die vorige keer in die
visioen gesien het, by my aangevlieg gekom. Dit was die tyd van die aandoffer. 22Hy
het my kom inlig en vir my gesê: “Daniël, ek het gekom om jou deeglik in te
lig. 23Toe jy met jou smeekgebed begin het, is daar ’n antwoord
gegee, en ek het gekom om dit vir jou te vertel, want God het jou lief. Gee dus
ag op wat ek sê, sodat jy die visioen kan verstaan.
Terwyl
Daniël bid, verskyn die Engel Gabriël aan hom. Wat meer is, die engel sê in
v.23 vir Daniël dat sy gebed verhoor is, omdat die Here hom lief het.
Die
koms van die Engel Gabriël na Daniël het verder daartoe bygedra dat die visioen
wat hy gaan ontvang, vir hom geïnterpreteer sal word deur Gabriël self en dan veral
vv.24-27, waar dit spesifiek gaan oor Jerusalem en die tempel wat herbou gaan
word.
Hier
gaan in hierdie visioen ’n reeks van opeenvolgende goeie en slegte nuus
weergegee word. Die eerste stuk slegte nuus is dat die herbou van die stad en
tempel gepaard sal gaan met swaarkry, maar die goeie nuus is dat die lang verwagte
Messias binnekort sou kom en Hy sou spesifiek na Jerusalem kom. Die heel beste
nuus is egter dat die Messias die finale offer vir sonde sou bring, maar daarop
gaan daar egter weer slegte nuus volg, nl. dat baie van die volk hierdie aanbod
van vergifnis van sonde gaan verwerp en daarom sal die stad Jerusalem en die
tempel weer verwoes word. Ons vind dus ’n reeks van goeie nuus en slegte nuus
en goeie nuus en slegte nuus en dit is die opsomming van die visioen wat Daniël
ontvang.
3. SEWENTIG TYDPERKE (vv.24-27):
Verse
24-27 lei tot wyd uiteenlopende interpretasies. Sonder om in detail daarop in
te gaan wil ek net vinnig die eerste twee noem en dan sal ons by die derde standpunt
stilstaan wat ek en ander Gereformeerdes deur die eeue, handhaaf. Kom ons lees
egter net eers v.24 ~ Daar is sewentig tydperke vir jou volk en vir jou heilige stad
vasgestel. In dié tyd sal daar aan die goddeloosheid en die sondes ’n einde
gemaak word en sal daar versoening gedoen word vir die oortredinge. Dit is die
tyd waarin ’n blywende geregtigheid tot stand gebring sal word, waarin die
profesie en die visioen tot vervulling sal kom en die tempel heringewy sal
word.
·
Eerstens is daar die groep wat
reken dat hierdie visioen dui op die tydperk van Antiochis IV wat beskou word
as die Antichris van die Ou Testament – hy het as koning tussen 175
en 164 v.C. geregeer oor die
Siriese deel van die Alexandrynse Ryk.
·
Tweedens is daar die groep wat
beweer dat hierdie visioen heenwys op die eerste koms van Christus en dan op die
ou end, spesifiek op die gebeure “aan
die einde van die dae”.
·
Derdens verwys hierdie visioen na
die koms van Christus; die afhandeling van Sy soendood en die verwoesting van
Jerusalem en die tempel wat sou volg op die verwerping van Hom as Messias deur
die massas. Aanvanklik sal Daniël die fisiese herbou van die Jerusalem en die
Tempel sien, maar die Engel gaan hom lei om verder as bloot net die fisiese te
kyk – hy wil Daniël se geestesoë ook verlig en hom lei om uiteindelik die
dieper betekenis van hierdie visioen te sien.
Die tydperk waarvan hier gepraat word, is een van sewe
tydperke, of letterlik, “sewentig sewetalle” soos die
OAV dit vertaal (v.25)., ofte wel sewentig maal sewe jaar wat
gelyk is aan 490 jaar (Lev.25:8; 26:34). Aan die einde van hierdie 490
jaar sal ses dinge plaasgevind, of tot vervulling gekom het (die sg. “terminus
ad quem” – dit wat te doen het met Christus se eerste Advent – 4 weke voor die
koms van Christus):
·
’n Einde sal gemaak word aan
goddeloosheid (v.24).
·
’n Einde sal gemaak word aan sonde
(v.24).
·
Versoening sal gedoen wees vir
oortredings (v.24).
·
Blywende geregtigheid sal tot stand
gebring word (v.24).
·
Die profesie en visioen sal tot
vervulling kom (v.24).
·
Die Tempel sal gesalf word (v.24).
Wat hierdie laaste punt betref het ons gesien dat die NAV van
v.24b as volg lees ~ ...en die tempel (sal) heringewy sal word. Die
OAV lees as volg ~ om wat hoogheilig is, te salf. Die NKJV vertaal dit nog beter en wel met ~ ...And to anoint the Most Holy. Die
NAV is dus hier uiters (om die minste te sê) verwarrend vertaal, omdat
hier nie verwys word na die fisiese Tempel nie, maar na die geestelike soos
verpersoonlik deur Christus. Wat meer is, die Hebreeuse woord “salf” of
“salwing” word vertaal met Messias en die Griekse woord met “Christos” – ’n
duidelike verwysing dus na die Here Jesus Christus en nié na die tempel soos
baie mense beweer nie. Daar bestaan ook geen gronde vanuit die Woord om te sê
dat die herboude Tempel, wat in elk geval weer in 70 n.C. verwoes is, gesalf
sou moes word nie, maar wel Christus Jesus – Hy is dus die Tempel wat gesalf
sal word.
Dit
blyk uit hierdie gegewens baie duidelik dat hierdie visioen van Daniël dus gaan
oor die werk van Christus en is v.24 dus ’n oorsig oor die volle sewe tydperke.
4. NEGE-EN-SESTIG TYDPERKE (v.25):
In v.25 kry ons met ’n
wiskundige probleem te doen en kom ons kyk of ons dit uitgewerk kan kry ~ Jy moet nou goed verstaan, vandat
die opdrag gegee is dat Jerusalem herstel en herbou moet word, totdat ’n
regeerder kom wat deur God uitverkies is, sal sewe tydperke wees. Twee en
sestig tydperke lank sal Jerusalem opgebou bly, met strate en verdedigingslote,
maar dit sal moeilike tye wees.
Ek het netnou gesê dat ons hier met ’n wiskundige probleem te
doen het, maar dit is so ’n ingewikkelde berekening dat ek Donderdagoggend die
hele oggend vas gesit het en “somme” van alle kante af gemaak het. Daar is eers
volgens Daniël en n.a.v. Jer. 33:7, gedurende die helfte van die vierde eeu
v.C. begin met die herstel van Jerusalem tot haar volle prag en glorie en dit
het volgens v.25, 7 tydperke geduur (49 jaar) – dit bring ons by 401 v.C.
Trek ons nou 62 tydperke af (434 jaar) bring dit ons by 33 n.C. – die
jaar waarop daar bereken word dat Christus gekruisig is en dit klop alles baie
mooi, maar twee dinge is belangrik om hier in gedagte te hou – die eerste nie
so belangrik nie, nl. dat 450 v.C. ’n geskatte datum is, maar dan die heel belangrikste
– ons praat hier van 69 tydperke, terwyl v.24 verwys na die “voltooide
verbondsjubileem” wat na Christus verwys, nl. 70 tydperke. Wat het geword van
daardie een tydperk (7 jaar) wat net “weg” is?
Ek het in my soeke, tien
kommentare geraadpleeg en die enigste gevolgtrekking waartoe ek kon kom,
is dat niemand regtig weet wat hierdie getalle behels nie, en hoe ons hierdie
een “verlore tydperk” moet verklaar nie, soveel so dat kommentators deur die
bank sê dat hierdie gedeelte die moeilikste gedeelte in die ganse Ou Testament
is om te verklaar en tog is daar ’n moontlike verklaring, maar later meer
daaroor.
Die tragiese rondom hierdie uiters ingewikkelde teologiese
vraagstuk waarop geen teoloog van statuur dit wil waag om ’n
“bo-alle-twyfel-uitspraak” te lewer nie, is dat die Dispensasie teoloë (Charismate-/Pinkstergroepe/wegraping,
ens.) nou kom en
hulle bou hul hele “duisendjarige vrederyk-teorie” op hierdie “verlore een
jaar” (dit word die “gap-theory” genoem) – dit is om dit liggies te
stel, uiters onverantwoordelike teologie en omgaan met die Woord van God, om
nou hulle eie verklaring te gee, deur (eenvoudig
gestel) te sê dat
hierdie een tydperk, verwys na 7 jaar en dit is ’n volheidsgetal en daarom wys
dit op die sg. “duisendjarige vrederyk”. Hierop wil ek egter nie nou ingaan
nie, omdat die tyd dit nie toelaat nie en dit nie die fokus van vandag se
boodskap is nie.
Wat moet ons dan maak met hierdie vers? Wat ons wel kan sê, is
dat ons weer hier te doen kry met slegte en goeie nuus. Die eerste sewe
tydperke wat aangekondig word is God se onmiddellike reaksie op Daniël se
gebed, nl. dat die stad Jerusalem wel binnekort herbou sou word. Jeremia se
profesie van herstel sal dus na sewentig jaar, gedeeltelik vervul word, maar
Daniël word deur Gabriël daarop voorberei dat die tyd tydens die restourasie
van Jerusalem en die daaropvolgende twee-en-sestig sewes, ’n tyd van swaarkry
en beproewing gaan wees en Jerusalem sal nie die volkome veiligheid ervaar wat
Jer.33:16 suggereer nie ~ In daardie dae sal Juda gered word en Jerusalem sal onbesorg woon en
genoem word: Die Here verskaf reg aan ons. Dit beteken dus dat die Messiaanse
Regeerder, Jesus Christus eers Sy verskyning sal maak aan die einde
van die nege-en-sestig sewes- tydperk!
Hoe hierdie tydperke waarvan die engel Gabriël getuig dan ook
al uitgerol moet word, sê hy vir Daniël dat die beloofde Messias aan die einde
van hierdie tydperke sal kom. Hier in v.25 word verwys na Christus as die
Regeerder en daarmee koppel Gabriël, Christus aan die profesie wat Miga
tweehonderd jaar vantevore gebring het ~ Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy
sal in Israel regeer. Sy begin
lê ver terug, in die
gryse verlede! (Miga
5:1). Daniël het
net soos die res van die Jode uitgesien na die koms van die Messias en hier sê
die engel vir Daniël wanneer Hy gaan kom – net so hartseer dat die Jode, jare
later, nie Jesus herken het toe Hy wel gekom het nie!
5. DIE KOMS VAN DIE MESSIAS, DIE GESLAFDE (v.26):
In v.26 volg daar weereens
slegte nuus vir Daniël ~ Aan die
einde van die twee en sestig
tydperke sal ’n regeerder onskuldig doodgemaak word. Die stad en die heiligdom
sal verwoes word deur die volk van ’n ander regeerder wat op die toneel sal
verskyn. Die einde sal kom soos ’n oorstroming; daar sal oorlog wees tot die
einde toe, rampe soos besluit is.
Gabriël
maak aan Daniël bekend dat die lang verwagte Messias gedood gaan word na die
nege-en-sestig sewes, of te wel na nagenoeg 483 jaar. Die Hebreeuse woord wat
hier gebruik word is כָּרַת [karath /kaw·rath]. Wat letterlik beteken om gewelddadig
te sterf, wat natuurlik op Jesus se kruisdood dui en hierdie is ’n bevestiging
van Jesaja se profesie in Jes.53:8 ~ Terwyl hy gely het en gestraf is, is hy weggeneem, en wie
van sy mense het dit ter
harte geneem dat hy
afgesny is uit die land van die lewendes? Hy is
gestraf oor die sonde van my
volk.
Dit
is tragies as ’n mens daaraan dink dat die dissipels nie hierdie profesie in
herinnering geroep het toe Jesus gesterf het en hulle uitsigloos en hartseer
was nie! Hulle moes Daniël baie goed geken het en hulle het selfs dieselfde
naam vir Jesus gebruik, nl. Messias, die Gesalfde Een – ’n naam wat net twee
keer in daardie spesifieke Hebreeuse vorm in die ganse Ou Testament gebruik is,
nl. in Ps.2:2 en dan ook in Dan.9:25. Petrus het bv. hierdie selfde Hebreeuse
naam gebruik toe Jesus vir hom in Matt.8:27-29 gevra het wie die mense sê Hy
is.
Daar
word egter nog slegte nuus met Daniël gedeel, nl. dat die stad en die heiligdom,
of te wel die Tempel weer gedurende hierdie tyd waarvan die engel praat, verwoes
gaan word deur ’n ander volk en leier en ons weet teen hierdie tyd dat hier
verwys word na die Romeinse Ryk en Nero en spesifiek na generaal Titus wat
Jerusalem tydens die Paasfees binne geval het en volgens historiese getuienis (die
geskiedskrywer Josefus)
is meer as 600 000 Jode gedood.
6. DIE NUWE VERBOND:
Die
vorige slegte nuus word egter nou weer opgevolg met goeie nuus in v.27 (OAV)
~ En hy sal een week lank met
baie ’n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy
slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n
verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes
is, uitgestort word.
Hier
in v.27 staan ’n paar dinge vir ons uit:
·
Hier is o.a. sprake van ’n
ooreenkoms wat aangegaan word;
·
Die afskaffing van offerandes;
·
’n Ding wat ’n gruwel in die oë
van God is, asook die oordeel oor die verwoester.
·
’n Ooreenkoms:
Wie is die “een” (die OAV praat van
“regeerder”) waarvan hier in v.27 sprake is? Is dit die
“wêreldheerser” van die “Dispensasie teologie”, want hulle bou hulle teologie
rondom die “wêreldheerser”, of die “Antichris” om v.27 – of is dit iemand anders?
As ons na die konteks kyk, sien ons dat daar van v.24 tot v.26 gepraat word van
Jesus Christus as Regeerder en Gesalfde – hierdie hele gedeelte is dus
Messiaans van aard en daarom kan dit nie anders nie as dat v.27 ook verwys na
Christus.
Wat is hierdie verbond wat Christus dan nou
oënskynlik aangegaan het en is hierdie week wat hier ter sprake is dalk die
verlore week waarvan ons vroeër gepraat het? Hierdie verbond wat hier ter
sprake is, is die verbond wat Christus gesluit het in die tyd wat Hy hier op
aarde was, met diegene wat hul geloof in Hom geplaas het – Hy het dus Sy Nuwe Verbond
met alle gelowiges kom bevestig in hierdie tyd, nl. die genade verbond, deur Sy
bloed aan die kruis te stort.
·
Die afskaffing van offerandes:
Gedurende hierdie tydperk wat Jesus dan Sy Nuwe Verbond kom
bevestig het, het Hy ook ’n einde gemaak aan die Ou Verbond en daarom het die slagoffer
en spysoffer opgehou – Sy bediening op aarde het dan
ook presies die helfte van een week periode geduur, nl. drie en ’n halwe jaar.
’n Vraag wat onmiddellik ontstaan, is nou wat van die laaste
drie en ’n halwe jaar? Dit wil lyk asof Daniël dit in die lug laat hang, maar
ons moet enersyds verstaan dat arme Daniël dit self baie moeilik ervaar het om
hierdie profesieë te verstaan, daarom dat daar in Dan.12:8-9 die volgende staan
~ En ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie; daarom het ek gesê:
My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge? En
hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die
tyd van die einde toe. Die “tyd van die einde” –
Openb.5:1-5 verskaf vir ons groter duidelikheid oor hierdie tweede gedeelte van
die week in v.27 ~ In die
regterhand van Hom wat op die troon sit, het ek ’n boekrol gesien wat aan die
voor- en aan die agterkant vol geskrywe was en wat met sewe seëls goed verseël
was. 2Toe het ek ’n sterk engel gesien wat met ’n harde stem
uitroep: “Wie is waardig om die boek oop te maak deur die seëls daarvan te
breek?” 3Maar niemand in die hemel of op die
aarde of onder die aarde was in staat om die boek oop te maak en daarin te kyk
nie. 4Ek het baie gehuil omdat daar niemand gekry is wat waardig was
om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. 5Toe sê een van die
ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die
Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe
seëls oopmaak” (Openb.5:1-5). Die seëls was ontsluit en die inhoud van Openbaring was onthul – iets
wat Daniël nie in sy tyd kon sien of ervaar nie. Openb.12 vertel dan vir ons
wat gedurende die tweede helfte van die sewe dae van Dan.9:27 gebeur het.
Daardie tydperk is vervul gedurende die eerste eeu, kort na Jesus se hemelvaart
en wel in 70 n.C.
·
’n Gruwel in die oë van God:
Omdat die Jode nie Jesus as die Messias herken en erken het
nie, het Hy toegelaat dat die Tempel en
daarmee saam die hele Jerusalem vernietig word en natuurlik soos reeds gemeld,
derduisende Jode.
7. AFSLUITING:
Wat beteken hierdie
Skrifgedeelte vir ons in ons dag?
·
Ons kry hier ’n pragtige blik op
die samestelling van die kanon van die Bybel. Ons sien hoe dat verskeie
profesieë mekaar ondersteun en bevestig
– bv. Jeremia en Daniël.
·
Ons het ook gesien dat gebed (in hierdie geval
Daniël en gebed) ’n fundamentele verband tussen die lees
van die Skrif en gebed daarstel. Na die mate dat ons kennis van God deur die
lees van die Woord verdiep, sal ons gebedslewe ook verdiep.
·
Met die lees van Daniël en dan
spesifiek hierdie gedeelte in Daniël 9 sien ons hoe God se verhaal deur die eeue
heen ontvou.
·
Hierdie Skrifgedeelte van
vanoggend wys net soos die res van die Ou Testament, pragtig heen na Christus
Jesus.
·
Dit is baie duidelik (vertrou ek) uit vanoggend se
prediking (en
dit word bevestig deur die geskiedskrywes van die wêreld) dat
God ’n baie spesifieke tydsrooster vir die wêreld se geskiedenis het en dat Hy
uiters getrou by Sy tydskedule hou en dat Jesus Christus aan die einde van
hierdie tydskedule weer sal kom om diegene wie teen Hom gerebelleer het te
veroordeel, maar om ook genade te betoon teenoor diegene wie die knie voor Hom
gebuig het.
·
Al werk God noukeurig volgens Sy
plan, gebruik Hy nogtans mense soos Daniël en Petrus en Jeremia en my en jou,
om hierdie plan ten uitvoer te bring – al is dit ook net as ek en jy teenoor
iemand anders getuig van God se goedheid in ons lewe.
·
Al het duisende Christus destyds verwerp
en miljoene Hom steeds verwerp, het Hy Sy verbond met alle gelowiges
herbevestig en hierin lê hoop vir die ergste sondaars in hul donkerste
oomblikke. Al het ons op die ergste moontlike manier teen God gesondig, is daar
hoop vir ons; is daar vergifnis beskikbaar vir elkeen van ons; is daar redding
en uiteindelike verheerliking wat wag op elke gelowige – dit is waarom Paulus
in 1 Kor.6:9-11 die volgende sê ~ Of weet julle nie dat
mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie
julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense
wat homoseksualiteit beoefen 10of diewe of geldgieriges of
dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God
nie. 11En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle
sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die
Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 02 Maart 2014