Die Oorsprong,
Betekenis en Tekens van Pinkster
Ons vier binnekort Pinkstersondag, vyftig dae na
die opstanding van Jesus Christus of dan tien dae na sy hemelvaart. As ons na
die Pinkstergebeure, soos dit in Handelinge 2 beskryf word, sien ons dat die Heilige Gees, die sentrale Persoon van
die Goddelike Drie-Eenheid is in hierdie gebeure.
Die Heilige
Gees en sy werk is ongetwyfeld dié Persoon van God van wie ons normaalweg die
minste weet.
• Ons weet dat die
Gees van God ons voorsê wat om te doen, en dat Hy ons Leidsman is (Hy
lei ons),
maar presies hoe dit alles gebeur, is tot ’n groot mate vir ons ’n misterie.
• Ons weet ook dat baie
teologiese strominge, baie onbybels omgaan met die Heilige Gees, of anders
gestel, baie kerke se teologiese leer oor die Heilige Gees verskil
hemelsbreed van mekaar, of as julle wil, van ons s’n – tot so ’n mate dat
baie se uitlewing daarvan grens aan en dit kan selfs geëtiketteer word, as
geesdrywery.
• Baie teologiese
strominge meet ook gelowiges se volheid van die besit of van of vervulling
met die Heilige Gees, aan o.a. die spreek van vreemde tale en die implikasie
vir mense wat nie in tale spreek nie, is dat hulle nog nie die vervulling van
of doop met die Heilige Gees ontvang het nie.
• Hierdie kerke grond
hulle standpunt op die Pinkstergebeure waarna ons binnekort sal kyk.
Wat moet ons verstaan onder die Pinkstergebeure
en waarom was die Pinkstergebeure nodig?
As ons dIt wil beantwoord, moet ons baie ver
terug gaan en wel na Gen.11:1 ~ EN die hele aarde het dieselfde
taal gehad en een en dieselfde woorde. Hiermee saam vv.5-9 ~ Toe daal die Here neer om die stad en die toring te besien waaraan die
mensekinders gebou het. En die Here
sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin
van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat
hulle van plan is om te doen nie. Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar
verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie. So het die
Here hulle dan daarvandaan oor
die hele aarde verstrooi; en hulle het opgehou om die stad te bou. Daarom het
hulle dit Babel genoem, want daar het die Here
die taal van die hele aarde verwar, en daarvandaan het die Here hulle oor die hele aarde
verstrooi.
Na die Sondvloed (Gen.6)
het die
mense almal dieselfde taal gepraat en terselfdertyd het die getal mense op
aarde ook weer toegeneem, maar terselfdertyd het hulle, hul al meer en meer
verset teen God.
Noag se nageslag het in die omgewing van die berg Ararat gebly
en wel in die Sinearlaagte tussen die Eufraat- en Tigrisrivier. Terwyl hulle
hier gewoon het, het hulle van boos tot boser geraak en wel tot so ’n mate
dat hulle uiteindelik besluit het om ’n toring by Babel te bou – die stad
waar hulle almal byeen wou bring.
Die bou van hierdie toring was ’n rebelse optrede
teen die opdrag van God in Gen.1:28 om die aarde te vul – Noag se nageslag
wou die mensdom, met die bou van hierdie toring, op een plek hou, nl. Babel om
sodoende vir hulleself ’n groot naam te maak en ook om te verhoed dat die
mense oor die aarde heen verstrooid sou raak – dIt terwyl God die mensdom juis
oor die aarde heen wou versprei.
Waarskynlik nog erger was die
feit dat die
mense, met die bou van die stad en toring, misbruik gemaak het van hul gawes,
en was hulle reeds weer besig om die gesag van God te misken en om te doen
wat hulle self wou – presies dit wat die duiwel vir Adam en Eva in die
Paradys aangebied het.
God sien die
mense se ongehoorsaamheid en hulle verwaandheid en daarom besluit Hy om hulle
taal te verwar en hulle sodoende uitmekaar te dryf ten einde oor die aarde te
versprei. God verdeel dus die mense deur aan verskillende groepe,
verskillende tale te gee om te praat. Hierdie handeling van God (nl.
om die mense se taal te verwar) het onmiddellik plaasgevind. Die feit dat
daar verskillende volke en tale is, is dus vir ons ’n voortdurende
herinnering aan die tyd toe al die mense teen die Here in opstand gekom het,
en dat die Here hulle op die manier gestraf het (en
ly ons nie vandag nog steeds onder die gevolge van daardie sonde nie!).
God het dit o.a. om drie redes gedoen:
·
Om hulle eenheid en gemeenskaplikheid te
verbreek.
·
Om hulle arrogansie en ongehoorsaamheid te
straf.
·
Om Sy wil vir hulle te vervul, nl. om die
aarde te vul.
Onmiddellik
nadat God ingegryp het, is die bou van die toring beëindig en het die mense
uit mekaar getrek. God laat Hom dus nie dwarsboom deur mense se sonde ten
einde Sy wil te vervul nie.
God het
egter nie volstaan met hierdie gebeurtenis en sondegevallenheid van die mense
of te wel volke nie. Hy was en is nog altyd ’n genadige God en daarom gebeur
daar letterlik en figuurlik gesproke, twee aardskuddende gebeurtenisse:
·
God stuur Sy Seun as Verlosser na die aarde
om vir die wat in Hom glo, vergifnis van sondes te bewerk.
’n
Belangrike vraag ontstaan egter nou – hoe moes die volke wat oor die aarde
heen versprei is, hierdie Goeie Nuus hoor – nuus wat hulle nodig gehad het,
want onthou hulle is oor die aarde heen versprei; hulle is weggestoot van God
se aangesig op grond van hul arrogansie en eie sonde – hulle verkeer dus nog steeds
in rebellie teen God – hulle is van God verlate.
Dit bring
ons dus by die tweede gebeurtenis wat God laat plaasvind het:
·
Tweedens, God stort Sy Heilige Gees uit –
’n gebeurtenis waarvan daar verskeie profesieë en beloftes gemaak is.
Die
uitstorting van die Heilige Gees is alreeds in die Ou Testament geprofeteer deur
Joël ~ Wanneer dit
alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en
julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle
jong mans sal visioene sien (Joël 2:28) en v.29
gaan Joël voort deur te sê dat die Heilige Gees oor alle geslagte en
ouderdomme uitgestort sal word ~ In
daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie.
Johannes
die Doper sê dat die Heilige Gees sou kom ~ Ek doop julle wel met water omdat
julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie
eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en
met vuur doop. 12Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer
deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf
sal Hy met ’n onblusbare vuur verbrand.
(Matt.3:11-12). Die Doper sê dus
dat Jesus Sy volgelinge gaan doop met Sy Gees, omdat Jesus self nooit mense
met water gedoop het nie, kan dit dus nie anders dat hierdie doop dui op die
uitstorting van die Heilige Gees.
Jesus
belowe dit egter ook in ~ Dit
sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader
in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer
en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. 27“Vrede
laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle
gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees
nie, en julle moet nie bang wees nie (Joh.14:25-27
– sien ook 15:26 & 16:7).
Die uitstorting van die Heilige Gees was egter ook ’n
historiese gebeurtenis – ’n gebeurtenis wat in die teenwoordigheid van
duisende ongelowige Jode en waarskynlike ander heidene ook plaasgevind het –
hoor wat het op daardie dag gebeur – slegs tien dae na Jesus se hemelvaart (Hand.10:10-11) ~ Toe die dag van die “Pinksterfees”
aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar
’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele
vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur
gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal
is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos
die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen. 5Daar
het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe
die mense die geluid hoor, het ’n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen
gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe
hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat
daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan
sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die
inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië
en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode
sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en
Arabiere—ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God
gedoen het.” 12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan.
Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?” 13Maar
party het gespot en gesê: “Hulle is dronk” (Hand.2:1-13). Die verslag van hierdie
gebeurtenis gaan natuurlik voort tot en met v.42.
Wat
belangrik is, is om te let op al die verskillende taalgroepe of te wel volke
wat op daardie dag in Jerusalem byeen was en wat hierdie gebeurtenis beleef
het – wie m.a.w. getuies van hierdie gebeurtenis was:
• Parthers
• en Meders
• en Elamiete
• en die
inwoners van Mesopotámië,
• Judéa
• en
Kappadócië,
• Pontus
• en Asië,
• Frigië
• en
Pamfílië,
• Egipte
• en die
streke van Líbië by Ciréne,
• en Romeine
wat hier vertoef,
• Jode en
Jodegenote,
• -Kretense
• en Arabiere
Hoor weer wat het al hierdie verskillende volke
in vv.6-8 gesê en ek haal aan uit die Nuwe Lewende Vertaling [die
NLV is vandag (12 Maart 2014) deur die Bybelgenootskap bekendgestel is in die
Paarl – nie dat ek nou gereeld hieruit gaan aanhaal nie, omdat dit oor die
algemeen nie ’n goeie vertaling is nie] ~ 6Die geluid van die stromwind en die stemme
het ’n groot skare daar laat saamkom. Hulle was uit die veld geslaan omdat
elkeen die gelowiges in hulle eie taal hoor praat het. 7Hulle was
heeltemal uit die veld geslaan. “Hoe is dit moontlik?” het hulle uitgeroep.
“Almal wat hier praat, 8is Galileërs, en tog hoor ons hulle in ons
moedertaal praat! (Hand.2:6-8).
Hierdie was ’n wonderlike gebeurtenis en het
nagenoeg 3000 jaar ná die bou van die toring van Babel plaasgevind en waar Babel,
tale onverstaanbaar gemaak het en mense gedwing het om uit mekaar te spat, verenig
die Pinkstergebeure volke en tale op een dag deur die ingrepe van God
Almagtig en kan alle mense een persoon se gesprek verstaan, soos wanneer daar
getolk word.
’n Verdere merkwaardige feit waarna ons vlugtig
moet kyk, is wat in Hand.10:1 vermeld word, nl. dat hierdie gebeurtenis
tydens die “Pinksterfees” plaasgevind het. Pinkster was ’n geweldig
belangrike fees op die Joodse kalender.
Ons lees veral in Lev.23:15-21 van die “Pinksterfees”.
Die “Pinksterfees” vind plaas, presies vier maande voor die Loofhuttefees in
die sesde maand, of te wel die maand van Sivan wat tussen Mei en Junie val.
Dit is die maand waartydens die koringoes afgehandel is. Gedurende die maand
Sivan vind die tweede Feesseisoen plaas, nl. die “Pinksterfees” – ook bekend
as die Fees van die Werke. Tydens hierdie fees moes die Jode verskeie offers
gebring het, waarvan die belangrikste, die “Beweegoffer” was (Lev.23:20). Die Jode beweer ook dat God
die Wet aan Moses gedurende hierdie fees aan hulle gegee het en daarom kan
hierdie fees ook gesien word as die ontstaan van Judaïsme (die
Joodse geloof), omdat
die Joodse geloof hoofsaaklik wentel om die Wet van Moses.
Tydens hierdie fees, is daar sprake van
twee brode. Die eerste brood het die
volk van God verteenwoordig, terwyl die tweede brood verteenwoordigend was
van die heidene (Eng. = "gentiles"). Waarom is hier ’n tweede brood in die
offerproses gebruik? So vroeg as Sinaï
het God al vir die volk Israel laat verstaan dat hulle nie die alleenreg op
God het nie en dat God ook heidene onder Sy genadeverbond insluit. Die Jode was egter blind vir hierdie faset
van God se genade – soveel so dat selfs die Jode wat Christene geword het
gedurende die eerste eeu na Christus, gesukkel het om hierdie feit in die
gesig te staar, daarom dat God in Hand.10 en 11 aan Petrus verskyn het en aan
hom ’n gesig gewys het (die doek wat uit
die hemel neergelaat en opgetrek is), nl. dat die heidene ook ’n plek in
die Koninkryk van God het en dat hy wat Petrus is, asook die ander Apostels,
hul bediening en verkondiging van die Woord moet uitbrei na die heidene en
dat die opdrag in Matt.28:19-20, nl. ~ Gaan dan
na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam
van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om
alles te onderhou wat Ek julle beveel het, nie net op
die Jode van toepassing was nie, maar op alle mense – ook die heidene.
Terwyl
Moses die Wet van God ontvang het, het iets tragies onder die volk
plaasgevind. Toe Moses van
die Berg af terugkeer, het hy gevind dat die volk afvallig geraak het en dat
hulle ’n goue kalf gemaak en aanbid het en terselfdertyd het hulle ’n
uitspattige fees gevier – hulle rig dus ’n heidense beeld op om as
plaasvervanger vir God te dien. Op
daardie dag het 3 000 Israeliete gesterf as gevolg van hul beeldaanbidding (Eks.32:28) –
hierdie getal is baie belangrik om te onthou, want ons sal later weer na
hierdie getal verwys (interessant die
voorkoms van die getal 3000 wat kort voorkom, nie waar nie?).
Nog
’n interessante ritueel rondom hierdie fees, is dat die Jode (tot vandag toe nog),
tydens die fees, die verhaal van Rut voorlees. Hulle doen dit om ’n paar
redes. Eerstens vorm hierdie verhaal ’n pragtige agtergrond vir die oestyd
wat in die maand Sivan plaasvind, want
Rut het ook die oes beleef en dit is dus ’n baie geskikte verhaal vir
die oestyd. Tweedens vertel hierdie
verhaal ook van Rut die heidense vrou, wat die God van Israel leer ken en
liefkry het, deur Naomi haar skoonmoeder, wat ’n Jodin was. Die Jode sien dus uit na die dag wanneer
Jood en heiden, God saam sal dien en aanbid deur middel van die
Messias-Verlosser. Verder trou Boas,
wat ’n "tipe-Christus" is, met die heidense vrou Rut om daardeur
ook die heidene in te sluit by die "heilige lyn" wat uiteindelik
tot by Christus sal lei – Rut, die heidense vrou, word nie net ingesluit in
die nageslag van Abraham, Isak en Jakob nie, maar word ook voorgeslag van
Dawid en uiteindelik Jesus Christus die Verlosser – en tog verstaan die Jode dit
nie – tot vandag toe nie!
Tydens
hierdie “Fees van die Weke”, word daar ook sewe skaaprammetjies sonder gebrek
geoffer, asook ’n jong bul en twee ramme.
Ten einde die volk se afhanklikheid van God te demonstreer, moes die
twee brode en die twee lammers as “Beweegoffer” aan die priester gegee word
om geoffer te word. Hierdie “Beweegoffer”
is so genoem omdat die priester dele van die offervleis en graan wat geoffer
moet word, in die lug "waai" (heen
en weer beweeg – Eks.29:24, 26, 27; Lev.7:20-34; 8:27; 9:21; 10:14,15, ens.)
as toewydingsimbool teenoor God. Dit
word dus ’n aanneemlike offer vir God, omdat Hy die offer aanvaar en daarop
die voedsel wat geoes is seën en ook die volk se sondes vergewe. Nog ’n rede waarom die priester die vleis
en graan rondbeweeg, is dat die volk kan sien dat die vleis en graan geoffer
word. Die oorblywende vleis en graan
kom die priesters toe as voedsel.
Behalwe
dat niemand moes werk op die dag wat die offers gebring is nie, moes elke
boer ook nog die wenakkers (daardie
gedeelte aan die punt van die land, waar die osse omdraai) se
graan op die lande gelos het, sodat die armes en die vreemdelinge daardie are
kon optel vir hulleself. Dit is dan
ook hier op die wenakkers dit Boas vir Rut raakgesien het.
Met
hierdie opdragte ten opsigte van die "Beweegoffer" en die
wenakkers, is daar deur die volk ook voorsien in die priesters, armes en
vreemdelinge se materiële behoeftes.
Christus
het egter hierdie fees vervul - hoe het Hy hierdie fees vervul? In Joh.12:23-24 sê Jesus ~ Die tyd het gekom dat die Seun van die
mens verheerlik moet word. 24Dít verseker Ek julle: As ’n
koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy
sterwe, bring hy ’n groot oes in. Jesus praat hier van Homself as ’n menslike
koringkorrel wat gaan sterf vir die sondes van die wêreld. Ons weet dat Jesus volkome geregverdig was (sonder sonde en in ’n volmaak heilige
verhouding met God) en juis omdat Hy volmaak en sonder
sonde was, het die dood en die hel geen houvas op Hom gehad nie (Openb.1:18). Die wonderlike is verder dat Jesus as
Eersteling uit die dood opgewek is ("die
Fees van die Eerstelinge") en presies vyftig dae na
SY opstanding, is die Heilige Gees uitgestort – dit is presies op dieselfde
tyd dat die Jode in Jerusalem byeen was vir die “Pinksterfees”, of te wel die
“Fees van die Weke”!
Die
uitstorting van die Heilige Gees het op presies dieselfde dag plaasgevind
waarop die Jode die twee brode geoffer het.
Op daardie dag het 3 000 Jode onder die prediking van Petrus tot
bekering gekom! In plaas van die 3 000
wat sterf in die woestyn a.g.v. hulle sonde, red die Here nou 3 000 op
hierdie selfde gedenkdag!
Ons
het ook gesien dat hierdie gebeure in Sinaï die geboorte van die Judaïsme
was, maar hier op Pinksterdag, terwyl Petrus preek, vind die geboorte van die
Nuwe Verbond en daarmee saam die geboorte van die Nuwe Testamentiese kerk
plaas! Die Ou Verbond met al sy feeste
en seremonies is afgesluit. Die
Judaïsme wat gebaseer is op die Wet van Moses word vervang met ’n godsdiens
wat gebaseer is op Christus Jesus se soendood en God die Vader se
genadeverbond.
Die
vervulling van die “Beweegoffer” waar twee brode heen en weer beweeg is en
wat beide die Jode en die heidene verteenwoordig het, vind ons in die
samevoeging van beide Joodse gelowige en heidense gelowige, deur die Heilige
Gees in die Bruid van Christus - die Nuwe Testamentiese Kerk.
Iets
waarna ek vantevore al verwys het, was die feit dat hierdie twee brode nie
ongesuurde brode was nie, maar brode met suurdeeg. Die betekenis hiervan is natuurlik dat die
kerk nie onbesproke is nie, trouens dit is vol sonde. Ons sien dit in Lev.2:11 ~ Geen graanoffer wat vir die Here
aangebied word, mag suurdeeg in hê nie. Julle mag geen suurdeeg of heuning
verbrand as ’n vuuroffer vir die Here nie. Die Nuwe Testamentiese kerk sal ook nie
sonder sonde wees, tot en met Christus se wederkoms nie (Ef.5:27).
In
die Ou Testamentiese “Fees van die Weke”, is daar tesame met die brode wat
geoffer was, ook verskeie vleisoffers gebring en hierdie offers is almal
vervul deur die offer wat Christus aan die kruis gebring het.
As
Jesus nie gekruisig was en weer opgestaan het uit die dood en opgevaar het na
die hemel nie, sou die Heilige Gees nie uitgestort gewees het nie.
|