Sunday, February 23, 2014

Die Boodskap van Daniël - 13 (“Hoor, Here! Vergewe, Here! Ter wille van Uself”)

1.     INLEIDING:
       Ek wil graag weer soos die vorige keer, vanoggend se gedeelte uit Daniël 9, paragraaf vir paragraaf behandel en gaan dus nie die hele Skrifgedeelte nou met een slag deurlees nie – kom ons kyk dan daarna vanaf vers een

2.     AGTERGROND (vv.1-2):
       Daniël skryf in hierdie gedeelte ’n gebed neer wat hy tot God bid en hy begin deur vir ons te noem wanneer hy hierdie gebed geskryf het, nl. ...in die eerste regeringsjaar van Darius seun van Ahasveros (v.1). Dit beteken dat dit in ongeveer 538 v.C. geskryf is en dit sou dus in dieselfde jaar gewees het as wat Belsasar die gesig van die skrif teen die muur gesien het. Dit was dan ook dieselfde nag as wat koning Darius van die Mede en Perse, Babilon binnegeval en Belsasar gedood het.

       Wat verder merkwaardig is van hierdie Skrifgedeelte, is dat Daniël self die rede aan ons verskaf waarom hy hierdie gebed gebid het – vers 2 ~ In sy eerste regeringsjaar het ek, Daniël, uit die Skrifte vasgestel dat volgens die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het, Jerusalem sewentig volle jare ’n puinhoop sou wees. Daniël het geweet dat Jeremia ’n profeet van God was en dat dit wat Jeremia geskryf het, hy o.l.v. die Heilige Gees geskryf het.

3.     ISRAEL SE BALLINGSKAP (v.3):
       Daniël lees Jeremia se profesie t.o.v. Israel se ballingskap na Babilon en hy sien dat God aan Jeremia geopenbaar het, dat hierdie ballingskap, sewentig jaar sou duur. Daniël was in ongeveer 606 v.C. weggevoer na Babilon en daarom sou sy volk rondom 536 v.C. weer herstel kon word as volk rondom Jerusalem. Hierdie belofte van die Here is opgeteken in Jer.29:10-14 en dit noop Daniël om te bid – vers 3 ~ Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking: ek het gevas, rouklere aangetrek en as oor my kop gegooi. Hy bid, want hy het besef dat sy volk se ballingskap nog net ongeveer 2 jaar sou duur voor hulle sal terugkeer na die Beloofde Land en daarom kom pleit hy by die Here in vv.3-19.

       In hierdie gedeelte vind ons nie net Daniël se gebed opgeteken nie, maar hierdie is ook ’n pragtige voorbeeld van hoe ons as gelowiges voor die Here moet pleit vir die vervulling van sy beloftes.  

       Daniël het geweet dat sy volk weggevoer was en onderdruk is deur die Babiloniërs oor hul sonde en dat daardie straf net sewentig jaar sou duur. Daniël bid egter nie tot de Here, omdat hy twyfel of Jeremia se profesie in vervulling sou gaan nie – nee, hy bid juis omdat hy vas glo dat daardie profesie wel in vervulling sou gaan. Net so moet ons ook glo dat God Sy beloftes, soos vervat in die Woord, sal volbring – so belowe die Here bv. in Fil.1:6 dat Hy ...die goeie werk wat Hy in ons begin het, enduit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.
      
       Omdat Hy dit beloof, kan ons met groot vrymoedigheid en in geloof bid dat Hy dit volledig en optimaal sal doen ten spyte van ons beproewing en tekortkominge, deur bv. my hoogmoed of my ongeloof te verwyder en my te wys op my sonde en swakhede, sodat ek my daarvan kan bekeer en derhalwe saam kan werk met Hom, ...die Begin en Voleinder van die geloof (Hebr.12:2). Die vraag is of ons so sal kan bid? Paulus gee vir ons die antwoord in Rom.8:26-27 ~ Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Hierdie is ’n wonderlike gerusstelling, want dit maak nie saak hoe krom en skeef en selfs gebrekkig ons gebed ook al mag voorkom nie, die Heilige Gees “verpak ons gebed op die regte wyse”, sodat dit volgens God se wil gebid word en daarom kan ons die gerusstelling hê dat Sy antwoord en reaksie op my gebed die beste vir my is. 

       Ons sien ook hier in v.3 wat Daniël se gesindheid was toe hy voor die Here in gebed gekom het – hy het hom ... na die Here God gewend in gebed en smeking: (hy) het gevas, rouklere aangetrek en as oor (sy) kop gegooi. Natuurlik gaan dit nie daaroor dit ons in ons situasie nou as op ons koppe moet begin gooi nie – nee natuurlik nie, maar ons moet dieselfde gesindheid van ontferming; van nederigheid; van eer en verheerliking, ens. teenoor God openbaar wanneer ons voor Hom in gebed kom – dit gaan oor ’n hartsgesindheid en dus nie oor die uiterlike nie.

       Joël sê presies dieselfde vir ons in Joël 2:12-13 ~ Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! 13Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep. Dit is wat ons gesindheid moet wees – harte wat geskeur is. Die Hebreeus wat hier vertaal is, dui op ’n algehele verandering van gesindheid – om gebroke van hart te wees, soos wat Dawid in Ps.51:19 dit stel ~ Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God, of Deut.10:16 ~ Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie, of Jer.4:4 ~ Hulle dade maak dit vir hulle onmoontlik om na hulle God toe terug te keer, want ’n hoergees het by hulle posgevat en hulle is nie meer aan die Here toegewy nie. Skeur julle harteverootmoedig (Engels - “humble”) jou dus (’n gebroke gees - OAV) en wy jou toe aan God en bekeer jou deur terug te keer na Hom. Dit is wat Daniël se gesindheid was toe hy hierdie gebed in Dan.9 gebid het en dit is die gesindheid waarmee ons na die Here moet kom.

       Kom ons kyk egter in meer besonderheid na Daniël se gebed wat dien as voorbeeld vir ons gebede en daarvoor moet ons eers na vv.17-18 kyk:

4.     DIE GRONDSLAG VIR GEBED:
Wat moet die grondslag, of die uitgangspunt vir ons gebed wees? Ter wille van Uself, hoor tog my gebed en smeking, en verskyn tog tot redding van u verwoeste heiligdom. 18Luister tog, my God! Hoor ons tog! Sien tog ons verlatenheid raak, en dié van die stad waaroor u Naam uitgeroep is... (vv.17-18a).

       Dit gaan altyd in die eerste en laaste plek oor God se eer ~ ...ter wille van Uself! Daniël sê ten minste twee dinge deur hierdie openingsin – eerstens sê hy vir die Here dat die Here deur sy gebed verheerlik moet word, maar primêr sê hy dat wat ook al die uitkoms van die gebed – die uitkoms moet gaan oor God en Hom alleen. Dit is om presies hierdie selfde rede dat die Here Jesus kort voor Sy kruisiging in die Tuin van Getsemané,  gebid het ~ ...moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil (Matt.26:39).

       Daar is egter ’n tweede uitgangspunt vir hierdie gebed en dit is om erkenning aan God te gee vir Sy genade ~ Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid (v.18b). Die Hebreeuse woord wat hier vir “barmhartigheid” gebruik word, is רַחַם, רַחֲמִים [racham], wat reg in die Engels vertaal word met “genade” en selfs met “compassion” (natuurlik is “barmhartigheid dieselfde, maar eintlike ’n argaïese Afrikaanse woord).

       Wanneer Daniël dan bid, doen hy dit met die wete dat God se eer die prioriteit is en dat Hy daarmee saam tot God in gebed kan kom, omdat God ’n genadige Vader is.

5.     DIE INHOUD VAN GEBED:
       Daniël volg ’n baie interessante patroon in sy gebed – ’n patroon of volgorde wat nie vreemd vir ons behoort te wees nie Wanneer ons Sondag oggende as gemeente saam bid, moet ons ook so bid (daarom die skyfie op die dataprojektor); wanneer ons in ons binnekamer bid, behoort ons so te bid en soos ek gesê het, Daniël volg hierdie selfde patroon – eers aanbidding (v.4) en dan sondebelydenis (vv.5-11a); dan danksegging (vv.12-15) en laastens voorbidding/smeking, of te wel petisie (vv.16-19). 

·           Aanbidding (v.4):
       Kom ons kyk dan eerstens na “aanbidding” – vers 4 ~ Ek het tot die Here my God gebid en bely: “Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam. Uit die staanspoor erken en bely Daniël wie en wat God is tot wie hy sy gebed rig - groot en ontsagwekkende God; ’n God wat Sy verbond met Daniël in stand hou, asook Sy trou bewys aan hom wat Daniël is.

       As die God wat Daniël aanbid – as die God wie ons aanbid, nie oor hierdie basiese eienskappe beskik nie, is dit puur verniet dat ons tot Hom bid, maar net soos Daniël weet en bely ons ook dat God wel die Here is wat groot en ontsagwekkend is.

       Wanneer ons na die woorde, “verbond” en “gebooie” in hierdie vers kyk, weet ons dat hy na God se Woord verwys en dan sal ons ook sien dat hy verder in sy gebed, kort-kort na die Woord op verskillende wyses verwys.

       Iets wat verder uitstaan in hierdie openingsvers van die gebed, is dat wanneer ’n mens na die oorspronklike teks kyk (Hebreeus), dan sien jy dat hierdie gebed nie deur Daniël in die eerste plek vir homself gebid word nie, maar dat hierdie gedeelte van die gebed in die meervoud geskryf is, m.a.w. Daniël bid dit ook namens die volk en hierdie meervoudsvorm waarin hy sy gebed begin, vorm die basis vir die res van die gebed – hy bid vir homself ja, maar hy bid ook vir en namens die res van sy volksgenote.

       Daniël rig sy gebed tot die Verbondsgod – die God wat Sy verbond met Sy volk in stand hou – beloftes wat God nie kan en sal verbreek nie, ten spyte van ’n weerbarstige volk wat juis weggevoer is in ballingskap oor hul ontrou aan God – straf op hul sonde dus, maar die volk het God steeds lief al is hulle ongehoorsaam, daarom dat Daniël sê ~ ... u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam. Hierdie is dus ’n weerspieëling van ’n huweliksverhouding – die verbond is dus nie ’n kontrak nie, maar ’n verhouding, daarom dat die Here die volgende in Eseg.16:8 (OAV) vir Sy volk gesê het ~ En Ek het by jou verbygegaan en jou gesien, en kyk, jou tyd was die tyd van liefde. Toe het Ek my vleuel oor jou uitgesprei en jou naaktheid toegedek. Ja, Ek het vir jou gesweer en met jou ’n verbond aangegaan, spreek die Here Here, en jy het myne geword.

       Hierdie liefde wat dus hier van gepraat word, het hoegenaamd niks te doen met gevoelens nie, maar dit gaan daaroor dat God se opdragte gehoorsaam word – dit is waarom Jesus self in Joh.14:23 gesê het ~ As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Dit is dus baie duidelik dat liefde sonder gehoorsaamheid, blote sentimentaliteit is.

       Die ironie van hierdie openings gedeelte van sy gebed, is dat hy die getrouheid van God besing, maar dit staan in skrille kontras met die afvalligheid van sy volksgenote en daarom kan Daniël nie anders as om die sonde van sy mede-Israeliete te bely en in die bres te tree vir sy volk by die Verbondsgod, Jahweh.

·           Sondebelydenis (vv.5-11):
       Kom ons kyk dan na Daniël se sondebelydenis in vv.5-11 ~ Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie. 6Ons het nie geluister na u dienaars die profete nie, wat in u Naam ons konings, ons leiers, ons familiehoofde en die hele bevolking aangespreek het. 7U is regverdig, Here. Dit is onsself wat hierdie ellende oor ons gebring het, oor die mense van Juda, oor die inwoners van Jerusalem, oor die hele Israel, dié wat naby is sowel as dié wat ver is, ver in al die lande waarheen U hulle verstrooi het oor hulle ontrou teenoor U. 8Here, hierdie ellende het oor ons, oor ons konings, oor ons leiers en oor ons familiehoofde gekom omdat ons teen U gesondig het. 9Maar U, Here ons God, bewys barmhartigheid en U vergewe, al was ons opstandig teen U. 10“Ons was nie aan U, Here ons God, gehoorsaam nie, ons het nie volgens u wil gelewe nie, u wil wat U deur u dienaars, die profete, aan ons gegee het. 11Die hele Israel het u wil oortree; hulle het afvallig geword en nie na U geluister nie. Daarom het U die vloek wat met ’n eed bevestig is en wat opgeteken is in die wet van Moses, die dienaar van God, oor ons laat kom. Dit is omdat ons teen U gesondig het.

       Daniël erken en bely teenoor die Here dat hulle as volk ontrou en ongehoorsaam was en dat hulle nie na die profete geluister het nie (v.6).

       Hoor net hoe stel Daniël die kontras tussen God en die Israeliete:
-       God is groot en ontsagwekkende (v.4);
-       God is getrou teenoor diegene wie Hom lief het (v.4);
-       God is regverdig (v.7, 14);
-       God is die Een wat die volk uit Egipte gelei het  (v.15);
-       God is ’n handhawer van Sy verbond (v.4);
-       God is barmhartig en vergewensgesind (v.9).

-       Die volk is ’n boos en rebelse volk (v.5-6);
-       Die volk is ongehoorsaam en tree verkeerd op (v.10-11);
-       Die volk het weggedraai van God se opdragte en wette (v.11).

       As ’n mens kyk na die ooreenkoms tussen God en die volk by Sinai toe die verbond aangegaan is, dan kan dit nie anders dat God die volk straf met ballingskap, swaarkry en beproewing nie, want dit is wat belowe was indien die volk ongehoorsaam is en omdat God getrou is aan Sy eie woord, is die volk inderdaad gestraf (Deut.28).

       Maar, daar was ook ’n belofte by Sinai van ’n genadige nuwe begin vir Israel na hul sonde, op voorwaarde dat hulle, hul sonde sal bely en hulle daarvan sal bekeer (Deut.30:1-3). Dit is dan juis hierdie belofte van God by Sinai wat Daniël noop om vergifnis vir die volk se sonde te soek by die Here en hy herinner die Here in v.9 aan Sy belofte dat Hy genadig sal wees.

       Daniël erken teenoor die Here dat die hele volk gesondig het – hy bely dus hul sonde en dit is presies ook wat Jesus vir Sy dissipels in die “Onse Vader” geleer het hoe om te bid toe Hy gesê het ~ So moet julle bid (Matt.6:9)... en dan gaan Hy in v.12 verder ~ ...vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.  Let egter ook op dat Daniël die volk se sonde by die naam noem (o.a. vv.5 en 6) – Ons het gesondig, ons het oortree... ...Ons het nie geluister na U dienaars, die profete nie... – dit en dit is ook wat ons moet doen.

·           Danksegging (vv.12-15):
Daniël kom in vv.12-15 by die “dankseggings gedeelte” van sy gebed ~ U het die woorde wat U in verband met ons en ons regeerders uitgespreek het, in vervulling laat gaan en hierdie groot onheil oor ons gebring. Daar het nog nooit op die aarde so iets gebeur soos in Jerusalem nie. 13Al hierdie onheil het oor ons gekom net soos dit geskryf staan in die wet van Moses; tog het ons, Here ons God, nie ons saak met U reggemaak deur ons van ons sonde te bekeer en in te sien dat U doen wat U sê nie. 14Daarom het U ons hierdie onheil nie gespaar nie maar dit oor ons gebring. Here ons God, U is regverdig in alles wat U doen, ons het nie na U geluister nie. 15“Here ons God, U het u volk deur u groot mag uit Egipte gelei en daardeur u Naam groot gemaak soos dit vandag nog is. Maar ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen.    

       Ons kan baie maklik hierdie verse sien as deel van die belydenis, maar tog besing Daniël die Here deur Hom te wys op Sy beloftes en dat Hy getrou daaraan bly – Hy is ’n getroue God – getrou aan Sy beloftes, wat straf as ons oortree ja, maar Hy is ook getrou aan Sy belofte van genade en daarom betoon Hy ook weer en weer genade! Ons sien hierdie hele beginsel van ’n God wat sonde móét straf, maar wat ook genade betoon, baie mooi uitgestippel in Rom.3:25-26 ~ Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God – om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. Hy straf ons sonde, máár deur dit op Jesus te plaas en Hy bewys genade deur ons sonde, in en deur Christus te vergewe!

·           Petisie (vv.16-19):
       Daniël kom nou aan die einde van sy gebed en hy rig sy smeking tot God en let op, hy bid glad nie in hierdie gedeelte van sy gebed vir homself en vir sy eie behoeftes nie – steeds bid hy “weg van homself” – hy bid vir andere; hy bid vir die volk (vv.16-19) ~ Here, U het reddingsdade gedoen, neem tog u toorn en u woede weg van Jerusalem, u stad, u heilige berg, want deur ons sonde en deur die oortredinge van ons voorvaders spot almal rondom ons nou met Jerusalem en met u volk. 17Ter wille van Uself, hoor tog my gebed en smeking, en verskyn tog tot redding van u verwoeste heiligdom. 18Luister tog, my God! Hoor ons tog! Sien tog ons verlatenheid raak, en dié van die stad waaroor u Naam uitgeroep is. Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid. 19Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God. U Naam is oor u stad en oor u volk uitgeroep.”  

       Daniël vra dat die Here hierdie straf en beproewing van die volk moet wegneem, t.w.v. God se eer en nie in die eerste plek t.w.v. die verligting van die volk se straf nie – hy sê in v.17 ~ ...ter wille van Uself en hy herhaal dit weer in v.19 – sy gebed is, selfs as dit kom by die laaste gedeelte van sy gebed – die “petisie-gedeelte”, tot eer van God en t.w.v. God se eer en dat Sy “attribuut” van genade vertoon sal word, vra hy dat die Here die volk sal verlos. By implikasie sê Daniël dus, dat hoe langer die volk in ballingskap bly, hoe meer oneer sal teenoor God betoon word.

       God se “reputasie” is dus hier op die spel – Sy reputasie t.o.v. Sy genade en heiligheid en liefde en empatie en vergifnis, trouens Sy Naam is hier op die spel en Daniël pleit dat die Here die volk moet verlos, ter wille daarvan dat God se Naam nie verder in gedrang sal kom nie. Daarteenoor vra Daniël om vergifnis en verlossing sodat al hierdie eienskappe wat ek so pas genoem het, juis ten toon gestel kan word en volk en vyand God kan erken en eer daarvoor betoon.

6.     AFSLUITING:
Daniël se gebed moet vir ons as voorbeeld dien van hoe ons ook behoort te bid, beide individueel, maar ook korporatief. Ons moet saamstem met die Here dat ons oortree en gesondig het; ons moet ons oortredings by die naam noem. Ons moet erken dat ons weggedwaal het van Sy Woord en dat ons net soos die Israeliete, hardnekkig is. Ons moet egter ook pleit vir Sy vergifnis en genade, deur op Sy beloftes te staan en Hom te “herinner” aan Sy attribute – eienskappe soos Sy liefde en genade en barmhartigheid en Sy belofte van vergifnis in Christus. Ons moet bid om vergifnis en genade, deur Sy verbondsbeloftes en verbondsverhouding met ons, aan te haal; om Hom te vra om ons te vergewe, sodat ons tot Sy eer kan lewe.

Hou egter weereens in gedagte dat Daniël in die eerste plek vir andere (sy volksgenote) gebid het en dat God daardie gebed beantwoord het – ons moet daarom nie nalaat om vir andere te bid nie, veral ook as hulle in sonde leef.


Ons moet ook met dieselfde gesindheid as Daniël bid – met ’n gesindheid van ontferming; van nederigheid; van eer en verheerliking (v.3) en hou God se eer altyd in gedagte wanneer jy bid ~ Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself (v.19a).

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 23 Februarie 2014