Sunday, March 9, 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 29 (“Analogizomai”)

1.     SKRIFLESING:
Hebr.12:1-4 ~ Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 3Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. 4Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ’n stryd om lewe of dood geword het nie.

2.     INLEIDING:
       Hierdie is waarskynlik een van die bekendste en dalk ook gewildste gedeeltes in die Nuwe Testament – ’n gedeelte wat elke gelowige ken en waaroor daar baie gepreek word.

       Elke keer wanneer ek aan hierdie gedeelte dink, dan dink ek aan die 400 meter wedloop in atletiek. Ek was vir ’n hele paar jaar in die bevoorregte en geseënde posisie om aankondiger by talle “een-uur” byeenkomste en ’n paar provinsiale en Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe te kon wees en dit was altyd vir my ’n “hoendervleiservaring” as ek die skare opgesweep het om die atlete aan te moedig met ritmiese hande geklap en hoe die top atlete onder sulke omstandighede die haas onmoontlike reg kry en oor die laaste 100 meter of so, met uitstaande krag en vaart vorendag kom om te wen en selfs rekords verbeter in die proses. Die item wat vir my nou nog uitstaan as waarskynlik dié een waar die toeskouers ’n atleet aangemoedig het en die heel beste in hom na vore getree het, was die aand toe ek aankondiger was in die vroeë tagtigs en Dawie Malan op Potchefstroom die eerste paalspringer in Afrika geword het om oor die 5 meter te spring.

       Die Hebreërskrywer vergelyk die gelowige se lewe hier op aarde, wat uiteindelik na verheerliking lei, met dié van ’n wedloop en dan het hy spesifiek hierdie laaste wilskrag en energie en die toeskouers in gedagte wanneer hy hieroor skryf, trouens hy beskryf nie net die laaste stuk van die wedloop in die pylvak nie – hy begin al daar onder die paviljoen in die kleedkamer, terwyl hy die toeskouers op die paviljoen kan hoor.

3.     BENADERING TOT DIE WEDLOOP (v.1a):
       Die apostel sê in v.1a ~ Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi...

·           Geloofsgetuies:
       Eerstens sê die Apostel dat daar ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons, as deelnemers aan die wedloop is. Na wie verwys die skrywer? Dit word algemeen aanvaar dat hier verwys word na al die getroue gelowiges na wie hy net tevore in hoofstuk 11 verwys het, nl. die geloofshelde soos Noag en Abraham e.a. Die Hebreërskrywer sê dus dat ons hierdie wedloop soos hierdie geloofshelde moet hardloop – hulle het geweet hoe dit gehardloop moet word en daarom moet ons dit ook so doen. Wat meer is, hulle het gehardloop en aangehou hardloop en dít terwyl hulle minder Lig gehad het as wat ons vandag het (onthou
hulle het vooruit gekyk, terwyl ons die genadige voorreg het om terug te kyk na wat reeds gebeur het – die koms; soendood en verheerliking van die Messias).

       Dit is egter belangrik om daarop te let dat hierdie getuies nie vandag in die hemel sit en kyk wat ons doen en hoe ons dit doen nie en dat ons moet presteer ten einde hulle daardeur plesier te verskaf, of dalk teleurstel as ons misluk nie. Hulle dien slegs as voorbeeld vir ons – voorbeelde van hoe ons, ons geloofslewe moet leef. Om aan hierdie geloofshelde te dink behoort ons te motiveer en aan te moedig om God ook te vertrou tydens ons wedloop hier op aarde, of wanneer ons deur moeilike tye in ons lewe gaan. Ons kan hierdie wedloop net so goed hardloop soos hulle en dit het niks te doen met hoe ons vergelyk met hulle nie – dit gaan oor dieselfde genade van God wat ook oor ons uitgegiet word en tot ons beskikking is, want Hy is gister en vandag en môre dieselfde.

·           Verklee:
       Wanneer ’n atleet gereed maak om aan ’n wedloop deel te neem, moet hy verklee – hy moet alles wat moontlik kan hinder, uittrek – bv. sy sweetpak en tekkies – ’n kampioen kan tog nie suksesvol deelneem met ’n sweetpak nie, trouens as hy nié hierdie klere wat mag hinder, uittrek nie, kan hy maar vergeet en sal hy nié eers kan dink aan wen nie, maar terwyl hy hardloop moet hy ook sorg dra dat daar nie soortgelyke of ander hindernisse is wat hom kan pootjie nie – veters wat bv. losraak, ens.

-        Hindernisse:
       Die apostel sê vir ons dat ons iets moet aflê – hy sê in v.1a ~ ...laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik. Wat moet ons afgooi (uittrek)? Twee dinge – eerstens ...elke las.  Hierdie las kom van die Griekse woord ὄγκος [onkos], wat letterlik beteken, “iets wat hinder”. Ons moet dus afgooi wat ons gaan hinder as ons hardloop – ons moet dit uittrek en wat is hierdie hindernis wat ons pla?

       Hierdie laste is nie noodwendig altyd sonde nie, maar dit kan dinge wees wat my geestelike lewe in die wiele ry – wat my geestelike groei belemmer; my geloof verswak; dinge wat my entoesiasme oor die Evangelie demp; dinge wat my weerstand teen versoeking verswak. Wat dit ook al mag wees – enige iets wat ons geestelike groei in die wiele kan ry, moet afgegooi word. Hierdie woord afgooi is ’n sterk woord in die Grieks wat sê dat dít wat pla, afgelê moet word; gestaak moet word – dit is wat gedoen was toe atlete destyds in die Griekse wêreld deelgeneem het aan sport en hulle slegs die noodsaaklikste kledingstukke aangehad het. Dit is ook dieselfde gedagte wat Paulus deurgee in Ef.4:22 wanneer hy sê dat gelowiges (ons) die oue mens moet aflê (OAV) – die NAV vertaal dit met ~ Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Dit maak dus nie saak wat die oorsaak ook al mag wees nie – indien dit my geestelike groei belemmer, moet die oorsaak daarvan gáán – onmiddellik gaan!

-        Sonde:
       Die skrywer gaan egter voort en hy sê tweedens dat ons, behalwe vir die laste wat ons mag pla, ook ... die sonde wat ons so maklik verstrik, moet afgooi. Dit is so tipies van sonde nie waar – dit verstrik ons. Daardie sonde waarin ons volhard en waarmee ons net nie kan ophou nie, is soos ’n parasitiese plant wat uiteindelik ’n gasheer plant verstrengel en versmoor, totdat die gasheerplant vrek. As ons toegee en toegee aan sonde en ons nie daarvan bekeer nie, bevind ons onsself kort voor lank in ’n situasie waar daardie sonde so ’n gewoonte raak, dat ons net nie daaruit kan ontsnap nie en sondig ons oor en oor en weer en weer. Ons moet derhalwe sonde uit ons lewe weer, voor dit wortel skiet in ons lewe en ons uiteindelik verswelg. Ons moet veral op die uitkyk wees vir “gewoontesonde” – daardie sonde wat ons baie dikwels nie eers besef ons begaan nie, maar dan is daar ook spesifieke sonde waarvan ons weet, maar waarvan dit ons dalk alreeds in sy greep het.

4.     DIE ROETE (vv.1b-3):
       Bo en behalwe ’n atleet se voorbereiding vir ’n wedloop en wat hy alles moet doen en nie moet doen terwyl hy hardloop, moet hy homself ook daarop instel dat die baan waarop hy hardloop nie altyd dieselfde is nie – in my dae as aankondiger, het atlete op ’n verskeidenheid van bane moes hardloop, soms op asbane; soms op grondbane; soms op grasbane en natuurlik ook soms op die destyds, nuut ontwikkelde tartanbane. Elkeen van hierdie bane het baie spesifieke voorbereiding, toerusting en tegniek geverg (dink maar net aan die verskillende soorte spykerskoene vir die verskillende soorte baanoppervlaktes).

       Ons deelname aan hierdie lewenswedloop waarin ons as gelowiges deelneem vereis ook ’n bepaalde ingesteldheid en elkeen van ons se bane is nie altyd op dieselfde tyd, dieselfde soort baan nie – elkeen se bepaalde baan is dus uniek. Een ding is egter dieselfde vir elkeen van ons en dit is dat elkeen van ons, ons eie wedloop goed kan eindig indien ons kies om goed te eindig en indien ons volkome op Hom vertrou wat ons die krag gee – wanneer ons dít doen kan ons saam met Paulus jubel ~ Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. 8Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms (2 Tim.4:7-8).

·           Volharding:
       Die Hebreërskrywer gaan voort in v.1b en sê dat ons hierdie wedloop met volharding moet hardloop.

       Hierdie wedloop waarin ons betrokke is, is nie vir kampioene nie, dit is vir “vasbyters”, vir mense wat kan volhard tot die einde toe – dit is soos vir ten minste seker 90% (of meer) van die Comrades marathon deelnemers – dit gaan oor die klaarmaak en om daardie brons medalje te kry.
      
       Gedurende hierdie wedloop gaan daar baie hindernisse wees – styl bulte; ongelyk oppervlak; dehidrering – jy gaan dikwels voel om op te gee – daar is dus gereeld dinge wat jou vordering in die wiele wil ry, maar gewoonlik is dit iets wat uit die weg geruim kan word en daarom moet jy gereeld vasstel of daar hindernisse is en dit neerlê – dadelik neerlê en nie net kop onderstebo staan en hoop dit gaan verby, of onder daardie hindernis gaan lê en opgee nie. Ons moet egter besef dat ons nie hierdie hindernisse alleen kan oplos nie – wanneer ’n Comrades deelnemer se bene begin swik hier naby die eindstreep, het ons al gesien hoe ander atlete inhaak by so ’n atleet en hom oor die eindstreep help – sonder daardie hulp sou hy nie klaar gemaak het nie. Presies dieselfde geld vir ons en daar is maar net Een wat ons kan help en dit is wat die skrywer dan verder in v.2a hanteer ~ ...die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.

·           Fokus:
       Die Apostel sê dat daar maar net een wyse is om die wedloop klaar te maak – met die oog gevestig op Jesus. Ons moet steeds in gedagte hou dat die apostel hierdie brief aan gelowiges gerig het – gelowiges wat wegspring het en die wedloop begin het, maar na ’n goeie begin (10:32-34) het hulle begin verslap in hul poging en wil om te volhard (2:1) en ons het in 3:17-4:1 gesien dat sonde hulle weerhou het om die wedloop voluit te hardloop en die skrywer druk dit op hul harte dat hulle hierdie slap houding moet laat staan (6:11); dat hulle hul fokus moet herstel – moet neerlê (4:11). Hy dring daarop aan in 10:35, 39 dat hulle hul vertroue en geloof moet herstel, asook hul geesdrif en mededingendheid (12:12).

       Terwyl hulle hierdie wedloop hardloop en swaar kry, moet hulle egter ook die oog gevestig hou op Jesus – waarom? Ja, omdat Hy ons Hoë Priester is en voorbidding vir ons doen by die Vader; ja, omdat Hy almagtig is; ja, omdat Hy ons Meester is – dit is alles waar, maar dit is ook so dat die skrywer wil hê dat ons aan Jesus moet dink in Sy menslikheid en hoe Hy vir ons gely het – dat ons moet besef dat Hy hierdie wedloop ook gehardloop het, sodat ons deur die genade wat ons van Hom ontvang, ook tydens moeilike tye, gedurende hierdie wedloop suksesvol daardeur kan kom en die wedloop uiteindelik as wenner kan afhandel.

       Jesus het gedurende tye van beproewing voortdurend Sy oë op die Vader gehou en die Woord in gedagte gehou – ons dink aan die keer dat Hy versoek was in die wildernis en Hy elke keer vanuit die Woord aangehaal het om die versoeking van die satan te weerstaan. Ons dink aan die keer in die Tuin van Getsemane toe Hy gebid het dat die Vader die lydensbeker by Hom verby moet laat gaan – indien dit die wil van die Vader is en indien nie, sal Hy Hom volkome aan die Vader se wil onderwerp – wat Hy natuurlik dan ook uiteindelik gedoen het.

       Uit hierdie gebeure rondom Jesus, moet ons leer om presies dieselfde te doen wanneer ons swaarkry en versoeking en beproewing in hierdie lewenswedloop ervaar – ons moet ons tot die Woord wend en daarvolgens optree en ons moet ons tot die Vader in gebed wend, maar ons moet ons ook ten volle onderwerp aan die Vader se wil, trouens ons gesindheid moet dieselfde as Paulus s’n wees en ek haal hom aan uit ’n Skrifgedeelte wat ek al telkens gelees het ~ ...ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo (Fil3:8). Geliefdes, glo ons dit werklik; leef ons dit ook - Hou ons die oog gevestig op Jesus – soos Paulus, so moet ons ook!

·           Geloof:
       Uit Paulus se verklaring in Fil.3:8, moet ons besef dat hierdie wedloop waarin ons gewikkel is slegs in geloof gehardloop kan word – nie dieselfde “selfgeloof” waarvan so baie atlete getuig as hulle sê dat hulle in hulself glo nie – nee, die apostel omskryf hierdie geloof vir ons baie duidelik in v.2 wanneer hy sê ~ ...die oog gevestig op Jesus, (en dan hierdie woorde) ...die Begin en Voleinder van die geloof – die Begin en Voleinder van die geloof.

       Sonder Jesus Christus in Wie alle beloftes van God vervulling vind, sal geen mens grond hê vir enige geloof nie – ons kan maar net op Christus fokus vir ons geloof, want net Hy
en Hy alleen kan geloof in ons werk, omdat Hy die Grondlegger van alle geloof is (Heb.2:10; Jak.17:20). En wanneer ons, ons geloof in Hom plaas, sál Hy ons deurdra, want Paulus sê in Fil.1:6 ~ Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.

       Wat was daar wat Jesus gemotiveer het om Sy wedloop te voleindig hier op aarde? Twee dinge:
-        Vers 2b - Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was. En tweedens...,
-        Vers 2c ~ Hy (het) die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.

       Wat ’n vooruitsig het Christus nie gehad nie... maar weet jy, dit is presies dieselfde wat op ons wag, as ons hierdie wedloop suksesvol voltooi – behalwe natuurlik dat ons nie aan die regterhand van die Vader se troon sal sit nie, maar ons gaan onbeskryflike en ongekende vreugde ervaar wanneer ons eendag die ewige lewe gaan beërwe en ons gaan vir ewig in God se teenwoordigheid wees – wat ’n vooruitsig! Wat ’n prys om voor te “hardloop”! 

·           Moeg en moedeloos:
       Vers 3 sluit aan by v.2, wanneer die skrywer weereens vir ons sê dat ons, ons oë op Jesus gevestig moet hou ~ Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. Hier vergelyk die Hebreërskrywer weer ons geestelike wedloop met dié van 'n atleet wanneer hy sê dat ons nie geestelik moeg moet raak en uiteindelik uit die wedloop val, of uitsak nie en ten einde nie moeg te raak en uit te sak nie, moedig die Hebreërskrywer ons weer aan, om die oog op Jesus gevestig te hou.

       Die Griekse woord wat hier gebruik word is ἀναλογίζομαι (analogizomai) en daardeur wil die skrywer vir ons sê dat ons Jesus “moet oordink”, m.a.w. wanneer dit swaar gaan met ons, moet ons gaan stil sit en aan Jesus dink – Jesus wat die ergste vervolging, vernedering en spot ervaar het – erger as wat ons, onsself nie kan indink nie. Ja, mense kan dalk sê dat daar al op hulle gespoeg is; dat hulle al geseling beleef het; wat verneder en gespot is; daar is selfs mense wat al gekruisig en op brandstapels gesterf het – selfs vir hulle geloof, maar niemand – niemand kan sê dat hulle gekruisig is en terselfdertyd die ganse wêreld wie in Christus glo, se sonde op hom geneem het nie; niemand kan sê dat toe hy gekruisig is, Hy God se wraak op die wêreld se sonde op hom ervaar het nie; geen gelowige kan en sal ooit kan sê dat hy van God verlate was nie, maar dit is presies wat Christus gedoen en ervaar het – Hy het my en jou sonde op Hom geneem en versoening vir ons by God bewerkstellig. Ja, Hy het die mense se spot en hoon ervaar en ja Hy is gekruisig en dit alles is dinge wat ons nog nooit ervaar het nie en indien ons iets daarvan ervaar het, het ons en sal ons nooit dieselfde intensiteit daarvan ervaar nie en wat meer is, Hy het dit alles, ook Sy kruisdood, vir jou gedoen en ervaar! Wanneer jy swaar kry – dink hieraan, sê die apostel en as jy Hom lief het, sal jy opstaan en dankie sê en voortgaan met hierdie lewenswedloop waarvoor jy “ingeskryf” het – nee, kom ons stel dit eerder soos dit moet wees – waartoe jy deur God, uit genade geroep is – en dan wil ek sommer dadelik byvoeg – as jy uit genade geroep is, hoeveel te meer moet jy nie hierdie wedloop uit dankbaarheid en met “vasbyt” en entoesiasme hardloop nie!

       Wanneer jy moeg en moedeloos raak tydens hierdie wedloop, “analogizomai” so bietjie en dan sal jy nie geestelik moeg word en uitsak nie, want die kruis van Jesus, is die deurgang tot verlossing

·           ’n Stryd om lewe en dood:
       Die Hebreërskrywer gaan egter in v.4 verder en hy timmer die spyker nog so bietjie dieper en harder in wanneer hy sê ~ Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ’n stryd om lewe of dood geword het nie.

       Die ontvangers van die Hebreërbrief se swaarkry en vervolging het op ’n sosiale en ekonomiese vlak gelê en sommige van hulle was selfs in die tronk gegooi en wanneer  ons dit sê, kan ons sekerlik ook “emosioneel” daarby voeg, want wanneer ons sosiale en ekonomiese beproewing ervaar en selfs tronk toe moet gaan, moet en sal ’n mens se beproewing noodwendig ook op emosionele vlak ’n effek hê.  Die skrywer wil derhalwe vir hulle sê, nie een van julle het al ten bloede gestry teen beproewing nie; nie een van julle het al so gestry teen julle beproewing dat julle uiteindelik die hoogste prys daarvoor moes betaal nie, want julle lewe dan nog almal – nee, sê hy, “analogizomai” so bietjie en dink daaraan dat Jesus vir jou gesterf het – Hy wat ’n sondelose lewe geleef het, het vir jou sonde die straf gedra; vir jou sonde beproewing ervaar – ja selfs die dood deurgegaan – het jy daarom enige rede om te bly lê? Tel op jou kruis en identifiseer met Christus en hardloop die resies totdat jy die wenstreep bereik!

5.     AFSLUITING:
       Ons kan maklik die vraag vra of ons die wedloop wel sal kan voltooi – sal ons nie dalk iewers tog uitval nie? Hoe sal ons dit regkry om “vas te byt” as dinge net regtig te veel raak? Hoe moet ons as Gereformeerdes hierdie oproep van die Hebreërskrywer versoen met die “P”, of te wel “die volharding van die gelowiges” in die Leerstuk van Genade wat saamgevat word in die Engelse akroniem “TULIP”?

       Net t.w.v. agtergrond en baie kortliks: Daar is drie standpunte rondom die Bybelse uitspraak dat gelowiges moet volhard tot die einde toe:
-        Eerstens is daar die Arminiaanse standpunt wat leer dat Christus se soendood aan die kruis nie voldoende was om die gelowiges deur te dra tot die einde toe nie en dat ons volharding nie deel is van die verlossingsvoordele vir ons redding in Christus nie – hulle glo dus dat Christus nié ons geloof óf volharding verseker het nie, maar dat Christus slegs redding verskaf indien die gelowige die vereistes vir geloof en volharding op sy eie bereik.

-        Tweedens is daar die Antinomianiste wat die skaal weer heeltemal na die anderkant toe laat swaai deur te sê dat gelowiges maar kan leef soos hulle wil, want hulle is volkome gered – selfs al versaak hulle later hul geloof.

-        Natuurlik is nie een van hierdie standpunte volkome waar nie en daarom ook nie Bybels nie en hulle standpunte het derhalwe ’n geweldige negatiewe effek op die Evangelieboodskap. Die Woord van God leer ons egter baie duidelik dat God van Sy kinders verwag om te volhard tot die einde toe (Kol.1:21-23; 1Joh.1:5-10; 3:3-6; Hebr.10:26-31; Hebr.12:1) en dat ons ín Christus bewaar sal word tot die einde toe – Jesus het in Sy Hoë Priesterlike gebed die volgende gebid ~ Toe Ek by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar, die Naam wat U My gegee het. Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die een wat verlore moet gaan sodat die Skrif vervul kan word. (Joh.17:12 – sien ook: Joh.6:38-40; Joh.10:28-29; 17:12; Rom.8:28-39; Fil.1:4-6; 2:12-13; 1 Joh.2:19; 3:9).

       Wat dus belangrik is, is dat beide hierdie standpunte, genadige geskenke van God is. Die Evangelieboodskap is baie duidelik daaroor dat Christus vír ons doen, wat vir ons onmoontlik is om self te doen, nl. geloof, berou oor sonde en volharding. Luk.18:27 sê terselfdertyd dat wat vir die mens onmoontlik is, vir God moontlik is. Christus verlos ons van beide die skuld en mag van sonde. Hy het aan ons ’n nuwe hart geskenk wat Hom en Sy Woord lief het, sodat Sy opdragte in die Woord nie meer vir ons ’n las is nie ~ Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ’n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is. 2Hiéraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou. 3Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, 4want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof (1 Joh.5:1-4).

       Maar waarom sê die Woord ons moet volhard as ons volharding en geloof dan geskenke is? Die antwoord is eintlik baie eenvoudig, want uit onsself kan en wil ons nie volhard nie en daarom moet dit ’n geskenk  van God wees, anders sal ons dit nie maak nie. Ons vertroue is gesetel in die krag van Christus ten einde ons in stand te hou deur Sy genade en deur die krag van Sy voorbidding by die Vader vir ons, nl. dat Hy ons veilig by die wenstreep sal uitbring – en Hy sál, want Hy belowe dit in o.a. Joh.17 soos wat ons nou net gesien het. Dawid het moord en owerspel gepleeg en nogtans het die Here hom laat volhard tot die einde toe – Hy het m.a.w. Dawid se geloof in stand gehou, sodat hy ten spyte van sy sonde, nog steeds die wenstreep bereik het. Dieselfde geld vir Petrus. Nadat Jesus hom gewaarsku het dat hy Jesus gaan verloën (Luk.22:31) en Petrus gesê het, nooit nie Here, doen hy dit steeds nadat die hoenderhaan gekraai het en wat gebeur nadat Petrus geval het? Hoor wat het Jesus vir hom gesê nog voor hy vir Jesus verloën het ~ Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. 32Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk (Luk.22:31). Wat het Petrus gedoen nadat hy besef het dat Jesus reg was en dat hy Jesus wel verloën het? Hy het hom bekeer en hy is vergewe en hy het voorwaar die rots geword waarop Jesus Sy Kerk gebou het  - Petrus het hom bekeer en hy sit die stryd voort tot die einde toe. Judas het presies dieselfde paadjie geloop – Jesus het hom ook gewaarsku – máár, Judas het verlore gegaan!


       As ons dan struikel of selfs val, moet ons onsself tot Hom wend en Hy sal ons vergewe en optel om voort te gaan met die wedloop tot die einde toe – dít is hoe ons volhard – in afhanklikheid van Hom wat vir ons die prys betaal het!

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 09 Maart 2014