1. INLEIDING:
Ons as gelowiges het baie dinge in gemeen
wat die wêreld nie met ons deel nie. Ons deel bv. in dieselfde genade wat ons
van God deur Christus Jesus ontvang. Ons gaan eendag saam in die ewigheid
deurbring, maar dit is nie al nie. Ons as gelowiges deel egter almal ook in ’n mindere of
meerdere mate die ervaring van beproewing, maar soos wat ek verlede week verwys
het na die verskillende soorte atletiekbane waarop atlete vroeër jare moes
hardloop, net so verskil ons beproewing en intensiteit ook van mekaar.
Hierdie gedagte aan beproewing is nie
iets wat mense wil hoor nie – selfs nie gelowiges nie, want dit gee aanstoot,
net soos wat dit aanstoot gegee het vir die eerste lesers van hierdie
Hebreër-sendbrief. Ons het in 10:32-34 gesien dat die skrywer hulle gedagtes
verfris het met hierdie woorde ~ Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig
gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. 33Deels
is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels
het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge
oorgekom het. 34Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe
op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar
omdat julle geweet het dat julle ’n besitting het wat beter en blywend is.
Vir die aanhangers van die
welvaartsteologie is die gedagte nie net ’n aanstoot nie, maar dit is totaal
onaanvaarbaar en bestaan net nie in hul woordeskat nie, want as dit gebeur val
hul kaartehuis van sukses en positiwiteit en welvaart in mekaar. Hierteenoor is
die boodskap van die Bybel egter een van “kruis opneem” en lyding en
beproewing. Die Woord van God waarsku ons en sê vir ons dat die geloofspad,
volharding vereis (ons het dit verlede week gesien) en volharding
impliseer tog dat iets, iewers nie maklik is nie. Die geloofspad van die
gelowige is ’n pelgrimspad – gaan lees maar net weer John Bunyan se ”The
Pilgrim’s Progress” (ek moet my vroeëre reeks oor hierdie juweel dalk weer herhaal – dalk
Woensdagaande) en dit behels nie net voorspoed en welvaart
nie, maar ook beproewing en swaarkry. Dit is selfs van tyd tot tyd ’n
gevaarlike pad om op te loop – dit is ’n wedloop wat krag en deursettingsvermoë
vereis – ’n pad waar ons meer as dikwels gekonfronteer word en in gevegte
betrokke is met ’n gewetenlose vyand (die satan en sy demone).
Diegene wie hierdie feit verwerp – verwerp nie alleen die Skrif nie, maar
verwerp daarmee saam die Evangelie – verwerp daarmee saam Jesus Christus.
In die lig hiervan is vandag se
Skrifgedeelte besonderlik van toepassing asook prakties en moet ons ernstig
aandag hieraan skenk.
2. SKRIFLESING:
Hebr.12:5-17~ Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot
julle as kinders van God gerig word: “My kind, moet dit nie gering ag as
die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, 6want
die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.” 7Verdra
die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ’n
kind wat nie deur sy vader getug word nie? 8As julle nie getug word
soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie. 9Verder,
ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied
gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe
nie? 10Ons vaders het ons wel ’n kort tydjie na hulle goeddunke
getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel. 11Wanneer
ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees
nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is,
’n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God. 12Versterk
daarom die slap hande en die lam knieë 13en loop die reguit pad. Dan
sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word. 14Beywer julle vir vrede met alle mense asook
vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. 15Sorg
dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie
verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet
nie. 16Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos
Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. 17Julle
weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen
moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek.
3. TUGTIGING:
Ons
sien in hierdie gedeelte hoe die Hebreërskrywer van die beeld van ’n wedloop nou
verander na die beeld van ’n gesin en in plaas daarvan om die lewe van die
gelowige te vergelyk met dié van ’n atleet, vergelyk hy dit nou met dié van ’n kind
wat opgevoed word deur ’n liefdevolle Pa wie verstaan dat sy kinders op een of
ander stadium van hul lewe deur moeilike tye sal gaan – tye van beproewing; tye
wanneer sonde hulle wil oorval en bemeester; tye wanneer hulle moedeloos gaan
raak en daarvoor berei hy hulle voor deur o.a. dissipline in
hulle lewens toe te pas.
Die
ontvangers van hierdie sendbrief het deur swaarkry gegaan, maar nie een van
hulle het ervaar wat Jesus moes deurgaan nie. Nie een van hulle het nodig gehad
om hul lewens t.w.v. die Evangelie af te lê nie. Nie een van hulle het ’n
sondelose lewe gelei soos Jesus nie – ’n lewe van volkome gehoorsaamheid aan
die Vader en derhalwe geen straf hoegenaamd verdien het nie. Inteendeel,
sommige van hul lyding was verdiende lyding en was juis daarop gemik om hul
geestelik te laat groei en dissipline in hul geestelike lewe aan te leer.
Die
Hebreërskywer wil ons derhalwe laat verstaan dat swaarkry, deel is van enige
kind se opvoeding en dat die opvoedingsituasie noodwendig ook gepaard moet
gaan met dissipline en seerkry. Die swaar- en seerkry wat ons op ons geestelike
pad ervaar, is nie maar net toevallige gebeurtenisse nie, maar net soos in ’n
gesinsopset, is dit ’n onafwendbare en noodsaaklike gebeurtenisse ten einde ons
geestelik te laat groei en suksesvol “op te voed”, sodat ons, soos Paulus dit
in Rom.12:1 stel, ...(ons onsself) aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom
aanneemlik is (kan gee).
Die
sleutelwoord in hierdie gelese gedeelte is “tugtiging” – dit word nie minder
nie as 11 keer in die Afrikaanse teks gebruik. Hierdie woord word beide as ’n
selfstandige naamwoord en ’n werkwoord gebruik en dit kom van die Griekse
woord, παιδεία (paideia)
wat afgelei is
van die woord παῖς (pais) wat weer van die woord “kind” afkomstig is en op die
opvoeding of leer van kind dui. Hierdie is ’n wye uitdrukking en kan na ouers
verwys, of na onderwysers, of enige iemand wat afrig, of opvoed, of leer, of
teregwys, ens., ten einde kinders te help om maksimaal te ontwikkel en volwasse
te word, soos wat daar van hulle verwag word om te wees.
Die
geestelike lewe van gelowiges in hierdie lewe behels, soos ons gesien het, ’n
wedloop, oorlogvoering, werk volharding ens., maar dit behels ook verhoudinge –
verhoudinge met andere, met medegelowiges en dan veral met God. En die klem in
hierdie gedeelte val dan op die Hemelse Vader se dissipline wat Hy toepas op Sy
kinders.
In
v.5 sê die skrywer dat ons dit nie gering moet ag as die Here ons tugtig nie en
ons moet ook nie mismoedig word as Hy ons teregwys nie, want dit behoort dan
juis vir ons te wys dat ons Sy kinders is, want ’n Vaderlose kind sal nie
tugtiging en teregwysing van ’n Vader ontvang nie, omdat hy nie ’n vader het
nie, daarteenoor sal ’n Vader in ’n liefdevolle gesinsopset, juis sy kind
tugtig. Ons moet derhalwe besef dat dissipline nie ’n teken is van ’n
hartelose, ongenaakbare pa nie, maar dit is juis die gesindheid van ’n Vader
wat sy kind diep- en opreg lief het en Sy kind se belange en welsyn en toekoms
op die hart dra en daarom kan liefde en tugtiging en teregwysing nie van mekaar
geskei word nie. Indien dit dan waar is van aardse vaders, hoeveel te meer nie
ons Hemelse Vader nie!
As
ons vra waarom hierdie tugtiging? Dan het die skrywer in v.6 die Spreukeskrywer
in gedagte wanneer hy sê ~ My seun, aanvaar die straf wat van die Here kom en
moet jou nie teen sy teregwysing verset nie, 12want die Here straf
die mens wat Hy liefhet net soos ’n vader doen met sy seun (Spr.3:11-12). Hy moedig ons dus aan om
dieselfde gesindheid te hê.
Wanneer
ons die onreg en vervolging ens. van goddelose mense moet verduur is dit
verseker altyd moeilik om te dra of te verduur, maar ons Hemelse Vader gebruik
dit altyd tot ons uiteindelike voordeel, enersyds omdat Hy ons liefdevolle
Vader is en ook omdat Hy soewerein en intiem by ons lewe betrokke is en Hy alles
uiteindelik ten goede laat meewerk – dit is presies wat Paulus ook in Rom.8:28
sê ~ Ons weet dat
God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy
besluit geroep is.
Met
dit alles in gedagte moet ons, hoe moeilik dit ook al mag wees, vervolging, of
tugtiging, of beproewing, of swaarkry aanvaar en selfs dankbaar wees daaroor,
omdat tugtiging altyd vir die gelowige uit die hand van ons Hemelse Vader kom
en omdat Sy motief daarmee juis is, om eer aan Hom te gee deur ons lewe en die
wyse waarop ons op ons swaarkry reageer, maar ook ter wille daarvan om ons
geestelik te laat groei en ons verhouding met hom te verinnig.
Hoor
net wat se raad gee Salomo vir ons in Spr.23:1 ~ Moenie huiwer om ’n kind te straf nie,
want as jy hom slaan, red jy sy lewe. Dit is presies
wat God met ons ...wat
volgens sy besluit geroep is
(die uitverkorenes), wil doen!
4. VORME VAN DISSIPLINE:
Wanneer ons na God se dissipline
teenoor Sy kinders kyk, som Kent Hughes dit op in drie soorte dissipline, nl.
regstellende dissipline; voorkomende dissipline en opvoedende dissipline. En
dan erken hy ook dat daar natuurlik ander onderskeidende eienskappe van
dissipline is, maar kom ons kyk na die drie wat hy noem:
·
Regstellende dissipline:
Hughes sê dat God se kinders soms regstellende oordeel ervaar
wat direk voortspruit uit God se liefde vir ons. Koning Dawid is vir ons ’n
goeie voorbeeld hier. Sy owerspel en uiteindelike moord het fel oordeel tot
gevolg gehad – sy seun sterf wat uit owerspel gebore is (2 Sam.12:10); sy seun Amnon, verkrag sy halfsuster Tamar (2 Sam.13:1), waarop Absolom vir Amnon vermoor (2 Sam.13:28-32); Absolom lei ’n rebellie teen sy pa Dawid (2Sam.17:1). Hierdie was geweldige gevolge en dissipline wat gevolg het op Dawid
se sonde en ons kan ons self nie indink in wat se beproewing en hartseer en
selfverwyt, ens. hy moes deurmaak nie – Dawid was beproef soos wat ek en jy
waarskynlik nog nooit beproef was nie – Dawid kon baie maklik ’n verbitterde,
haatdraende, onaangename en depressiewe ou man geword het, máár Dawid het uit
sy beproewing geleer.
Dawid het gebuig onder God se dissipline en geestelik gegroei.
As ons Ps.51 sou lees, sal ons hoor hoe Dawid, nadat Natan hom gekonfronteer
het oor sy owerspel met Batseba, om vergifnis vra vir sy verskriklike sonde en
hy erken o.a. dat hy teen God gesondig het, trouens hy erken selfs dat hy al
skuldig was nog voor sy geboorte – hy erken dus dat hy in sonde ontvang en
gebore was en hy erken in v.6b dat God se oordeel oor hom, regverdig is. Dan
vra hy in die volgende verse dat God hom genadig moet wees en hom o.a. sal
vergewe en skoon sal was van al sy skuld (v.4); aan hom ’n rein
hart sal gee (v.9) en nie die Heilige Gees van hom sal wegneem
nie (v.13). Hy vra dat God hom van ondergang sal red (v.16) en
hy vra o.a. ook vir verootmoediging (v.19). Hoor net wat sê Dawid verder in Ps.119:67 ~ Voordat ek
swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord en dan gaan hy verder in v.71 en hy sê die volgende ~ Dit is vir
my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.
Nog ’n voorbeeld van God se regstellende dissipline vind ons
in die gemeente van Korinte waar gelowiges siekte en selfs die dood ervaar het
omdat hulle die Nagmaal misbruik en in oneer van die Here gebruik het en na
hierdie gebeurtenis skryf Paulus die volgende aan hulle en ek haal aan uit die
OAV ~ Maar as ons geoordeel word, word
ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag
word nie (1 Kor.1:32). Hoor u wat sê
Paulus hier? Ons word getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel
mag word nie. M.a.w. beproewing en swaarkry, ens. kan a.g.v. straf op ons sonde
hier op aarde wees, maar dít sluit ons as gelowiges nié uit van die ewige lewe
nie. Wat egter wel hier gebeur, is dat hierdie gemeentelede in die hier en die
nou vir hul sonde gestraf word – hulle het dus die gevolge van hul sonde in
hierdie lewe gedra (selfs die dood), maar hoor u die genade van die
Vader hier? Sodat hulle ...nie
saam met die wêreld veroordeel mag word nie. Hulle is
bevry van die erfsonde in Adam omdat hulle vergewe is deur die soendood van
Christus Jesus, maar word gedissiplineer vir hul verkeerde optrede – dit is
erge dissipline, maar die optrede kom vanuit ’n hart van ’n genadige Vader,
want Hy kon net sowel Sy rug op hulle gedraai het en hulle die ewige
verdoemenis ingestuur het!
·
Voorkomende dissipline:
Die tweede vorm van dissipline waarna ons moet kyk, is dié van
voorkomende dissipline.
Ons almal weet van Paulus se “doring in die vlees” (2 Kor.12:7-8) en ons weet ook dat die Here hierdie “doring” in Paulus se “vlees”
toegelaat het, juis omdat Hy Paulus van verwaandheid of hoogmoed wou weerhou.
Aanvanklik het Paulus gevra dat die Here dit van hom sal wegneem, maar later
het hy die Here gedank vir hierdie “doring”, omdat hy besef hoe hierdie
“doring” hom beskerm het.
God laat dus soms beproewing in ons lewe toe, ten einde ons te
weerhou om geestelik agteruit te gaan, of om nie verder te sondig nie.
·
Opvoedende dissipline:
Hughes noem vir ons derdens ’n voorbeeld van opvoedende
dissipline en dan verwys hy na Job. Ons weet uit die lees van Job deur watter
beproewing hy gegaan het – hy verloor alles, insluitende sy kinders, ens.
Ons lees in Job 1:1 dat Job ’n vroom en opregte man was wat
God gedien het en die kwaad vermy het, maar dan gaan hy deur geweldige
beproewing en nou aan die einde van sy beproewing, kom hy by ’n punt waar hy
gekonfronteer word met God en sien en ervaar hy God soos nog nooit tevore nie
en besef hy dat hy sy situasie en beproewing verdien, omdat hy as sondaar,
wegwerplik voor God is en dat hy God se genade nie verdien nie – ons sien dit
in Job 42:6 waar hy sê ...en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as. In Job 42:2 bely hy ~ Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer
wat U besluit. Job besef wie en wat God is en dat hy
geen aanspraak op enige iets kan en mag hê nie en Job is onmiddellik onder
sondebesef en hy bely verder in v.3 ~ ...Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy die insig gehad het? Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie.
Job besef wie God is. Job besef wie hy in vergelyking met God
is. Job het sondebesef oor sy optrede. Job bely sy sonde en Job is hierna ’n
nuwe mens – ’n mens wat hierna in oorwinning leef en ryklik geseën word deur
God. Job se gesindheid is soos wat Petrus in 1 Pet.4:12-14 sê, ons gesindheid
moet wees wanneer ons God se dissipline ervaar ~ Geliefdes, moenie verbaas wees
oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat
met julle gebeur nie. 13Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding
van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms
in heerlikheid. 14Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter
wille van die Naam van Christus. Dit is ’n bewys dat die Gees aan wie die
heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly.
Hierdie is ’n pragtige voorbeeld van opvoedende dissipline.
5. GOD IN AKSIE:
Teen die agtergrond waarna ons nou net gekyk het, nl. die drie
tipies dissipline wat ons as kinders van God kan ervaar, gaan die
Hebreërskrywer nou in Hebr.12:7-13 voort om vir ons te wys hoe om God se
dissipline te aanvaar en wat ons gesindheid moet wees wanneer ons dissipline
ervaar.
In v.7 verduidelik die Hebreërskrywer wat hy met alles wat hy
tot nou gesê het, bedoel. Hy sê dat God allerlei pynlike ervarings in ons lewe
toelaat en dat dit nie “per ongeluk” gebeur nie – dit is God wat in aksie is en
hierdie gebeure óf toelaat, óf selfs oor ons lewens bring, want Hy gebruik ons
beproewing omdat Hy as Vader besig is met Sy opvoedingsproses in ons lewens.
Ons weet dat dissipline noodsaaklik is in enige
opvoedingsituasie en ons weet ook wat die gevolge is wanneer dissipline nié
toegepas word nie. Die skrywer sê dan ook vir ons in v.8 dat indien ons nie
getug word, of gedissiplineer word deur ons aardse vader nie, ons nie sy kind
is nie en daarom kan ons aanvaar dat enige aardse vader sy kind sál
dissiplineer. In v.9 sê hy ~ ...ons het ons aardse vaders gehad wat
ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad en
dan gaan hy verder en sê in v.9b ~ ...Sal ons ons nie nog des te meer aan
die hemelse Vader onderwerp en lewe nie?
Wat wil die Hebreërskrywer hierdeur vir ons sê – wil hy sê, ‘net soos wat ons respek het vir ons aardse
vader omdat hy ons ten goede gedissiplineer het, moet ons ook respek hê vir God,
wanneer Hy ons dissiplineer’ – m.a.w. ons moet Hom as God verheerlik en op
daardie wyse respek vir Hom hê? Nee, of sal ek sê, dit ook ja, maar wat die
Hebreërskrywer eintlik deur hierdie opmerking vir ons wil sê, is dat ons, net
soos wat Petrus in 1 Pet.14:12-14 vir ons sê, bly moet wees wanneer ons God se
tugtiging (Sy
dissipline) ervaar.
Wat is die implikasie wanneer ons nie bly is oor God se
tugtiging nie?
·
Eerstens onderwerp ons, ons nie aan Gd se wil
nie – ons is in rebellie teen God m.a.w.
·
Tweedens erken ons God nie as
soewereine God nie.
·
Derdens erken ons Hom nie as Vader
wat dit goed bedoel met ons dissipline nie.
In kort, as ons nie bly en dankbaar is teenoor God vir Sy
dissipline in ons lewe nie, is ons in sonde en sal ons nie uit die maalkolk van
tugtiging en beproewing kom nie. Ons moet m.a.w. God se dissipline aanvaar en
dankbaar daaroor wees, omdat ons erken dat Hy as soewereine en liefdevolle
Hemelse Vader ons dissiplineer omdat dit vir ons ten goede sal meewerk en dat
Hy besig is om ons op te voed en ons voorberei, ter wille daarvan om ons
geestelik te laat groei en ons verhouding met hom te verinnig, trouens hy sê in
v.10b dat God dit juis doen, sodat ons in heiligheid kan groei en derhalwe in
Sy (God) heiligheid
kan deel.
Die skrywer sê ook in v.10 vir ons dat ons aardse vaders hul
bes gedoen het met hul dissiplinering van ons as kinders – hy sê dus dat hul
dissipline nie altyd volmaak was nie, maar in teenstelling daarmee, is ons
Hemelse Vader volmaak en indien ons waardering het vir ons aardse vaders se
opvoeding, hoeveel te meer nie vir ons Hemelse Vader wat volmaak optree in Sy
opvoeding van ons nie.
Die skrywer sê egter ook in v.11 dat ons nie altyd bly was oor
ons dissipline wat ons van ons aardse vaders ontvang het nie en ons het selfs
daaroor gehuil, maar dissipline is nie veronderstel om aangenaam te wees nie
anders dien dit geen doel. By implikasie sê die skrywer dat ons op daardie
stadium nie dankbaar was oor die dissiplinering nie, maar later was ons dankbaar
daaroor, want ons kan die resultate daarvan in ons lewe sien, omdat hierdie
resultate tot gevolg het dat ons nou in vrede met God kan lewe – in die woorde van
v.11c, ... omdat (ons) gehoorsaam is aan die wil van
God.
6. TOEPASSING:
Wanneer ons beproewing ervaar;
wanneer ons m.a.w. God se dissipline ervaar – hoe moet ons optree?
·
Moenie moedeloos raak nie (v.12-13): Die Hebreërskrywer sê dat hierdie lewenswedloop nie maklik is nie,
soveel so dat dit soms vir jou mag voel dat jy nie meer kan nie – jy voel lam
in die knieë, maar dan sê hy dat ons, ons lam knieë en slap hande moet
versterk. Ons moet moed skep, want die motief met hierdie dissipline is nie om
ons te vernietig nie, maar juis om ons ’n beter opvoeding te gee en daarom het
ons ’n keuse – óf ons kan teen hierdie dissipline “skop” en tou opgooi, óf ons
kan hierdie dissipline na die Oorsprong van die dissipline neem, nl. ons
Hemelse Vader.
In
v.13 sê die skrywer dat ons versigtig moet wees dat ons nie so lam in die knieë
moet raak dat ons die pad byster raak nie. Hy waarsku ons en sê dat ons eerder
die reguit pad moet loop, anders gaan ons probleme optel en kan dit die einde
van ons wedloop beteken. In plaas daarvan sê hy dat as ons afwyk van dit wat
van ons verwag word, ons dit moet afskud. Hy sê dat ons vashou aan ons Hemelse
Vader en die wedloop behoorlik hardloop, want dit is nie nou die tyd om moed op
te gee, of selfs opstandig te raak nie.
·
Leef in vrede en heiligheid (v.14):
V.14 dui vir ons twee sake aan waarop ons moet konsentreer wanneer ons
dissipline ervaar.
o Baie, indien nie die meeste van ons beproewing word deur mense
veroorsaak – hulle maak ons seer; hulle stel ons teleur; hulle vervolg ons;
hulle frustreer ons, ens. Die skrywer sê nou vir ons dat ons in so ’n geval,
ons moet ...beywer
vir vrede met alle mense. Ons word dus gedissiplineer, sodat ons kan
leer om in vrede met mense te leef en om in die regte verhouding met mense te
staan.
Wat
behels dit om in vrede met mense te leef? Ons moet o.a. vir sulke mense bid
eerder as om kwaad te raak, of in opstand te kom teen hulle. Ons moet
vriendelik wees teenoor hulle – maar opreg vriendelik; ’n voorbeeld en
getuienis wees t.o.v. vergifnis en eerbied vir andere. Ons moet die lewe nie
vir die ander persoon moeilik maak nie. Ons moet omgee vir ons vervolgers en
onsself in sommige gevalle selfs in sy skoene plaas en begrip probeer hê vir sy
optrede, ens. Soos Paulus dit stel in Rom.12:20 ~ As jou
vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om
te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop.
o
Die
tweede stap wat die skrywer voorstel, sluit baie nou aan by die eerste en dit
is dat ons ten tye van dissipline ons moet beywer om ’n heilige lewe te lei.
Hierdie “heilige lewe” waarop ons moet fokus en wat ons moet stimuleer sluit
ons gedagtes; ons spreke; ons optrede; ons motiewe; ons gesindheid; ons
gewoontes; ons voorliefdes en prioriteite; ons vertroue; ons opinie; ons liefde
en haat; ens. in. Ek wil byvoeg, ons moet juis tydens tye van dissiplinering
ekstra aandag gee – nie dat ons ander tye maar kan verslap nie, maar nou is dit
juis belangrik om op ons heiligmaking te fokus.
·
Wees waaksaam (vv.15-17). Laastens is dit belangrik dat ons waaksaam sal wees en ek dink dat
vv.15-17 dit baie mooi opsom wanneer dit sê dat ons gedurende hierdie tyd nog
meer aandag sal skenk aan ons afhanklikheid van God en Sy genade; dat ons
tydens hierdie opvoedingproses nie bitter raak en andere ook in die proses
opsweep en hulle ook uiteindelik tot bitterheid lei nie.
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 16 Maart 2014