Sunday, March 23, 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 31 (“Daarsonder sal niemand die Here sien nie”)

1.     SKRIFLESING:
Hebr.12:14-29 ~ Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. 15Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. 16Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. 17Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek. 18Julle het immers nie gekom by ’n tasbare berg met brandende vuur, donderwolke, duisternis, stormwind, 19trompetgeskal en geklank van woorde nie. Hulle wat dit gehoor het, het gesmeek dat geen woord meer tot hulle gerig moes word nie. 20Die bevel dat selfs ’n dier wat aan die berg raak, met klippe doodgegooi moet word,  was vir hulle ondraaglik. 21So angswekkend was die verskynsel dat Moses uitgeroep het: “Ek sidder van angs!”  22Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, 23die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is, 24by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel. 25Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie? 26Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: “Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.” 27Die woorde “nog een maal” laat duidelik blyk dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat die onwankelbare dinge kan bly. 28Laat ons wat ’n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, 29want ons God is ’n verterende vuur.

2.     INLEIDING:
       Met die eerste lees van ons Skrifgedeelte van vanoggend mag dit voorkom asof die skrywer vir ons wil sê dat redding gegrond word op werke – werke soos om in vrede met andere te leef; om ’n heilige lewe te leef; dat daar geen bitterheid in ons lewe teenwoordig moet wees nie; ens. en indien dit nie die geval is nie, sal ons in die woorde van v.14b, nie die Here sien nie – sal ons nie gered word nie.

       Hoe moet ons hierdie gedeelte verstaan? Hierdie is ’n gedeelte waarmee baie mense sukkel en dit is terselfdertyd nie ’n maklike gedeelte om te verklaar nie, maar die punt wat ons in gedagte moet hou, trouens elke keer wanneer ons met hierdie vraag worstel van werke en redding, moet ons hierdie waarheid in gedagte hou, naamlik dat iemand wat nie gered is nie, nié vrede; ’n heilige lewe, ens. suksesvol kan nastreef en uitleef nie. Slegs gelowiges kan met die hulp van die Heilige Gees dit suksesvol nastreef en leef. Jesaja bevestig dit in Jes.57:21 wanneer hy sê ~ Vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê my God.  En in Jes.64:6 sê hy ~ ... ons beste dade is soos vuil klere; ons is almal soos verdroogde blare, ons word deur ons sondes weggewaai soos deur ’n wind. Daar is dus geen manier dat ’n goddelose ’n heilige lewe kan leef nie, maar daar is ook geen manier dat ’n gelowige ’n heilige lewe kan leef sonder die genade werking van die Heilige Gees nie.

       Wanneer ons dus na hierdie Skrifgedeelte kyk, moet ons besef dat dit hier gaan oor gelowiges se posisie in Christus – m.a.w., omdat vrede tussen gelowiges en God in en deur Christus bewerkstellig is en ons derhalwe geregverdig is, word daar van ons verwag om vredemakers te wees, word dit van ons verwag om heilige lewens te lei, word dit van ons verwag om sedeloos te lewe, ens. Wanneer ons dus alles in die stryd werp om in vrede met andere te lewe, of om heilige lewens te lei, doen ons dit omdat daar uit genade, vrede tussen ons en God bewerkstellig is – in kort: omdat ons diep dankbaar is vir ons redding, wil ons heilig lewe, sodat God verheerlik kan word.

3.     GOD VAN VREDE (v.14):
       Die natuurlike optrede van mense is om hulle vyande, óf te vernietig, óf om hulle te vermy. Die ontvangers van die Hebreërbrief het baie vyande gehad – vyande wat hulle vervolg het oor hulle geloof en wel tot so ’n mate dat hulle baie maklik hul vyande kon verag en wat waarskynlik begin posvat het by hulle, maar die skrywer sê vir hulle, ...beywer julle vir vrede met alle mense. Die opdrag wat hy vir hulle gee is kontra dít wat die wêreld sê – die wêreld sê dat dit net lafaards is wat vrede soek, trouens die wêreld leer dat die enigste wyse om te oorleef, is om vergelding te soek – al is dit ook net om iemand te ignoreer. Vir gelowiges egter, is die opdrag om vrede te soek en vrede na te jaag, juis omdat God, ’n God van vrede is en Hy vrede tussen ons en Hom gebring het. Ons moet egter ook nie vrede om selfsugtige redes soek, sodat ons vrede kan ervaar nie – ons moet dit najaag omdat dit ’n opdrag in die Woord is – sien bv. Ps.34:15 ~ Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!..., asook Rom.12:18 ~ As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Petrus sê dit ook in 1 Pet.3:11 ~ Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na! Jesus het self ook in Mark.9:50b gesê ~ Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe.

       Die Hebreërskrywer sê dus dat vrede deur gelowiges nagejaag moet word, omdat dit deel is van gelowiges se heiligmakingsproses en daarom sê hy steeds in v.14, as ek dit mag parafraseer ~ “...Beywer julle vir ’n heilige lewe deur in vrede met andere te leef. 

       Hierdie heiligheid wat nagejaag moet word is anders as vals heiligheid – heiligheid wat die Fariseërs bv. nagejaag het. Hierdie heiligheid waarna die skrywer verwys, is ’n innerlike  en privaat liefde tussen ’n gelowige en God en ’n heilige lewe is die vrug of gevolg van hierdie liefdesverhouding (Matt.6:1-18).  Dit is dus nie die gevolg van ’n soeke na menslike erkenning of enige ander menslik gedrewe motiewe nie.

       Die skrywer sê dus dat ongelowiges nié oor hierdie heiligheid kan beskik nie en daarom kan hulle nie hierdie opregte vrede najaag nie en daarom kan en sal hulle God nie sien nie (Openb.21:27; 22:15) – hulle is dus nie gered nie. Daarteenoor sal gelowiges hierdie vrede najaag, omdat hulle God lief het en daarom sal hulle God sien.

       Die implikasie hiervan is derhalwe dat indien ons nié vrede najaag nie, ons ernstig introspeksie sal moet doen en ons bekeer, want ons optrede is dan nié wat veronderstel is om voort te spruit uit ’n gelowige se optrede nie.

4.     DRA SORG (vv.15-17):
       In vv.15-17 word primêr twee sake aangespreek. Eerstens rig die Hebreërskrywer ’n verdere waarskuwing tot ons en sê hy dat niemand afvallig moet raak van God se genade nie en hy sê tweedens, dat ons versigtig moet wees om nie bitterheid die kans te gee om pos te vat in ons lewe nie.

     Op die oog af lyk dit asof die apostel vir ons wil sê dat ons self waaksaam moet wees dat ons nie afvallig raak nie, maar die woordjie “sorg” waarmee hierdie vers begin is in die Grieks  πισκοπέω (episkopeõ) en is verwant aan die woord “episkopos” wat verwys na ’n opsiener, of biskop, of ouderling. Hierdie woordjie “sorg” wil derhalwe vir ons as broers en susters sê dat ons “toesig oor mekaar moet hou” (dit is m.a.w. nie net die ouderlinge se verantwoordelikheid nie) – ons moet mekaar help om meer en meer Christus gelykvormig te word, of anders gestel, om toe te sien dat nie een van ons afvallig sal raak van God nie. Daarom moet ons nie bang wees dat ons andere aanstoot sal gee as ons in hul lewens inspreek nie, want dit word van ons verwag om dit te doen en wat meer is, as so ’n persoon nie “uit die bek van die leeu” gered word nie, wat en hoe gaan ons verduidelik?

     Ons moet onthou dat ons nie alleen aan hierdie lewenswedloop deelneem nie – ons het broers en susters saam met wie ons hardloop – vandag het een van hulle ons nodig om nie slap in die knieë te raak nie en môre mag ons hulle nodig hê om ons slap hande op te rig – vordering in heiligmaking is nie ’n opsionele ekstra nie – dit is ’n absolute noodsaaklikheid, want daarsonder sal niemand die Here sien nie (v.14).

     Tweedens word ons gewaarsku teen bitterheid – hierdie bitterheid verwys na mense wat voorgee dat hulle gelowiges is en identifiseer met gelowiges, maar dit nie is nie en dan uiteindelik heeltemal terugval in die heidendom – so ’n persoon raak arrogant en uitdagend oor “die dinge van die Here” – hy bal dus sy vuis vir die Here – eenvoudig gestel so ’n persoon kom in opstand teen, of steur hom net nie meer aan die “dinge van die Here” nie – Hy steur hom nie aan die Woord van God nie.

     Terug na die eerste woord in v.15 – “sorg”, of te wel “episkopos” – dit dui derhalwe daarop dat gelowiges moet toesien dat hierdie “bitter mense” nie in hul midde moet wees of bly nie, want sulke mense kan en sal probleme veroorsaak en die gemeente besoedel.
    
     Die skrywer gaan nou voort in v.16 en wil vir ons sê dat ongeag wat ’n persoon se sonde ook al mag wees, of dit nou seksuele immoraliteit is en of dit ’n lewe sonder die Here is, of wat ook al – as enige iets vir so ’n persoon belangriker raak as om die Here lief te hê, is dit ikabod met so ’n persoon en dan sê hy, dat die gemeente seker moet maak dat so ’n persoon nie in hul midde bly nie. Dan gaan hy voort en herinner ons aan Esau en hy sê, wanneer julle dink aan Esau – wees gewaarsku, want as ons na Gen.25:29-34 kyk sal ons sien dat die hier en die nou vir Esau belangriker was as wat God vir hom in gedagte gehad het. Esau het sy rug gedraai op God se seën, ten einde sy eie voorkeure te kon najaag en dit het hom suur bekom, want later toe hy besef wat hy gedoen het, wou hy omdraai, maar dit was te laat (soos wat ons reeds verlede week gesien het).

     Ons moet dus waaksaam wees dat nie een van ons wegdraai van die Waarheid en sodoende bitter raak en die selfde weg volg as Esau waar hy God se seën bitter graag wou ervaar, maar op sý voorwaardes en nie God se voorwaardes nie.

5.  TWEE BERGE (vv.18-24):
     Verse 18-29 word in baie kringe beskou as die klimaks van hierdie sendbrief.

     Die ontvangers van hierdie brief sal julle onthou, was Jode wat Christene geword het, maar wat dit nou weer oorweeg het om terug te keer na die Judaïsme. Die rede hiervoor sal ons onthou, was omdat hulle erge vervolging ervaar het en dit vir hulle te veel geraak het. Die Hebreërskrywer het dan aan hulle verduidelik waarom daar beproewing in die lewe van gelowiges moet wees (ons het verlede week daarna gekyk) en hy waarsku hulle weer, dat indien hulle nie op die volhardingspad van die gelowiges bly nie, hulle dalk nie die eindstreep sal haal nie.

     Die skrywer gaan dan voort deur op twee belangrike lesse te konsentreer. In vv.18-24 verduidelik hy dat dit beter is om ’n Christen te wees as ’n Jood; en in vv.25-29 verduidelik hy dat hoe groter jou voorregte, des te groter is jou verantwoordelikhede.

       Om hierdie standpunt van hom te verduidelik, vergelyk hy dit met twee berge en dui hy aan dat dit baie beter is om eerder op die  een berg te wees as op die nader een. Hy noem nie die eerste berg by die naam nie, maar dit is duidelik vanuit die teks dat hierdie berg, Berg Sinai moet wees. Sinai was die berg waar God o.a. die Tien Gebooie aan Moses en die Israeliete gegee het.

o  Berg Sinai (vv.18-21): Berg Sinai was ’n tasbare – werklike berg. Dit was ’n berg van verskrikking, want verskriklike dinge wat deur die sintuie waargeneem kon word, het daar plaasgevind, nl. ’n vuur; ’n dwarrelwind; duisternis en ’n storm. Dit wat daar gebeur het is basies ’n opsomming van die hele ou bedeling. Dit het hoofsaaklik bestaan uit die materiële – die sigbare; dit wat ’n mens kon ervaar deur en met jou sintuie.

       God het met ’n hoorbare stem by Sinai gepraat en dit was so geweldig, dat die Israeliete gesmeek het dat God liewer moes ophou praat (v.19). Niemand kon in God se teenwoordigheid kom, behalwe Moses en Aäron nie en selfs hulle was bang – selfs diere wat dit te naby gewaag het, het gevrek.

o  Die Sionsberg (vv.22-24):
       Die Sionsberg is die ander berg wat die skrywer as voorbeeld gebruik en verwys na die rots waarop die stad Jerusalem, asook die Tempel gebou is.

       Om na die Sionsberg te gaan, was ’n totaal ander belewenis, omdat die mense nie blootgestel was aan die verskrikking wat gepaard gegaan het met die berg Sinai nie. Die pelgrim wat na Jerusalem gegaan het was vrolik en het gesing en gedans. Die Sionsberg was dus vir die Israeliete en Jode, ’n aangename gebeurtenis – ’n plek waar hulle welkom was.  

       Ons as gelowiges het egter ook verby die Sinaiberg van ’n veroordeelde lewe beweeg en deur God se genade in Christus Jesus, het ons by die Sionsberg gekom – God se geestelike tuiste.

       In teenstelling met die Israeliete se Sinaiberg, is ons Sionsberg nie ’n tasbare berg nie, maar ’n geestelike berg, want die Evangelie is iets wat geestelik is en geestelik beleef word, m.a.w. gelowiges beleef nie Sinai-manifestasies wanneer hulle nuwe mense in Christus Jesus word nie.

       In teenstelling met die Sinaiberg waar die Israeliete aan die voet van die berg gestaan het en net die uiterlike en verskriklike manifestasies van God se teenwoordigheid beleef het, ervaar ons as gelowiges die vreedsame en liefdevolle teenwoordigheid van God en word ons verwelkom in Sy midde. Soos wat Hebr.4:16 sê, kan ons ~ ...met vrymoedigheid na die genadetroon (gaan), sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word. Sinai was ’n groot taboe vir die volk van God, maar onder die nuwe bedeling is Sion ’n “groot welkom” vir God se kinders!
 
       Die skrywer beskryf dus vir ons in vv.22-24, die hemelse Jerusalem en hy wil vir ons sê, dat ons moet onthou dat die Ou Testamentiese Jerusalem vir ons as gelowiges van geen belang meer is nie, behalwe dat dit slegs ’n voorafskaduwing van die hemelse Jerusalem is en dit is in absolute ooreenstemming met die res van die Nuwe Testamentiese boodskap, nl. dat die Ou Testamentiese profesieë wat oënskynlik ’n Joodse vervulling  inhou, eintlik vervulling in die Kerk van die Here Jesus Christus impliseer en dat dit niks met die Joodse volk of Judaïsme te doen het nie.

       Die Hebreërskrywer skets dus vir ons die kontras tussen Sinai en die Sionsberg, ten einde die verskil tussen die Ou- en die Nuwe Verbond aan te toon – die Oue wat gepaard gegaan het met fisiese offers en wette en voorskrifte en vrees, teenoor die Nuwe wat gepaard gaan met Christus se soendood en God se oneindige genade – een van wetsvervulling; van vreugde en van vrede. Natuurlik moet ons God steeds vrees, want Hy is tog immers heilig en ’n God van oordeel, maar hierdie vrees verwys eerder na eerbied en ontsag en lofprysing en verheerliking. 

       Ons as gelowiges hoef nie meer, soos die destydse Israeliete uit te roep dat God moet ophou praat omdat dit ons vreesbevange maak nie – nee, ons kan nou met vrymoedigheid na Hom kom, want ons kom na Hom, deur Jesus Christus ons Verlosser en Voorspraak – ons groot Hoë Priester.

6.     ONS VERANTWOORDELIKHEID (vv.25-29):  
       In vv.25-29 waarsku die skrywer ons egter dat hierdie vryheid wat ons ontvang het, met groter verantwoordelikheid gepaard gaan en daarom moet ons ag slaan op wat God vir ons sê – Hy sê dan ook vir ons hoe ons dit moet doen:
o    Luister na die Woord (v.25)
       Waarom het die apostel die vergelyking getref tussen Sinai en die Sionsberg? Hy verskaf die antwoord in v.25. Sommige mense het geweier om God se boodskap by Sinai te aanvaar en ons lees in Deut.29:19 dat God hulle dood gemaak het – hulle het God se boodskap aangehoor toe Moses dit met hulle gedeel het. Hulle het gedeel in God se beloftes en seën, maar hulle reaksie; hulle optrede, was oppervlakkig en vals, met die gevolg dat hulle nooit die Beloofde Land binne gegaan het nie.

       As dít die lot was van hulle wat onder die Ou Verbond gestaan het en na God deur Moses geluister het, maar tog nie geluister het nie, watter verskoning is beskikbaar nou dat God deur Sy Seun met ons praat? Daar is geen verskoning nie, trouens die gevolge is veel erger vir ons wat in die Nuwe Verbondsbedeling staan, omdat God deur Sy Seun met ons praat en hierdie spreke vind ons in die onfeilbare en genoegsame Woord van God (Joh.1:1). Wat sê God vir ons deur Sy Seun – wat staan ons te doen – watter opdrag ontvang ons van Hom? Ja, ek weet daar is talle opdragte, maar ek glo ons kan dit saamvat in die woorde van Matt.11:28-30 ~ Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig. Ons moet na Hom en niemand anders gaan om rus te vind, máár terselfdertyd word dit van ons verwag om ons kruis op te neem en Hom te volg – ons moet Sy juk dra en van Hom leer en soos Hy word en as dit na iets onmoontlik klink – Hy gee ons die versekering in hierdie verse wat ek so pas gelees het, dat Sy juk sag is en Sy las lig.

       Ons word dus opgeroep om ’n lewe van diensbaarheid en selfverloëning te leef. Ons beleef voorregte wat die Ou Testamentiese gelowiges nie beleef het nie, maar dit plaas soveel meer verantwoordelikheid op ons skouers om in gehoorsaamheid aan God te leef, want in die woorde van v.1, ...waarsonder niemand die Here sal sien nie! 

o    Bou op die Rots (vv.26-27):
       Wat meer is, God het klaar gepraat – ons sien dit in vv.26-27. God het eenkeer die aarde laat wankel met Sy stem by Sinai, maar die Israeliete het nie geluister nie en daarom nie die Beloofde Land binnegegaan nie.

       God gaan egter weer ’n keer praat – ’n laaste keer en die keer sal dit van die Sionsberg, Sy geestelike tuiste wees en dan gaan Hy nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel (v.26) en dan gaan Hy Sy oordele oor die mens en die ganse heelal uitspreek en die hemel en die aarde herskep – die fisiese heelal soos ons dit ken, gaan verdwyn en al wat dan gaan bestaan is die geestelike werklikheid, nl. God Drie-Enig, die engele en die mens en dit gaan vir ewig duur.

       Met hierdie gedagte wil die skrywer dus vir sy lesers en vir ons sê, dat ons eerder ons toekoms en lewe op iets meer standvastig moet bou as die tydelike en die hier en die nou, nl. Jesus Christus die Rots, want daarsonder sal niemand die Here sien nie en ons doen dit deur na Hom te luister wanneer Hy deur Sy Woord met ons praat en ons dan in gehoorsaamheid sal reageer en optree.
      
o    Aanbidding (vv.28-29):
              In die laaste twee verse van ons Skriflesing word ons aangemoedig om met groot vrymoedig na die God van die onwrikbare en ewig standvastige Sionsberg te gaan in aanbidding – die onveranderlike en ewige Sionstad, woonplek van God, wat gevul is met liefde en genade, waar Sy troon gevestig is en waar Hy aan Sy regterhand ons Hoë Priester het wat voortdurend by Hom intree vir ons. 


       Die Hebreërskrywer sluit af met ’n verskriklike waarskuwing ~ Laat ons wat ’n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, 29want ons God is ’n verterende vuur (v.29). Mag elkeen van ons wat hierdie onwankelbare koninkryk in en deur Jesus Christus ontvang het, God met eerbied en ontsag dien en uit dankbaarheid vir wat Hy vir ons doen en gee, volgens Sy wil optree, want daarsonder sal ons nie die Here sien nie, omdat Hy ’n verterende vuur is.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 23 Maart 2014