1. SKRIFLESING:
Fil.3:17-19 ~ Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel. 18 Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. 19 Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind.
2. INLEIDING:
Kinders het baie dikwels die een of ander held wie se leefwyse en optrede en maniere hulle baie dikwels navolg. Jy sien dit bv. in seuntjies wat graag soos Jonty Rhodes wil veldwerk doen, hulle sal net soos hy duik na die paaltjies om ’n kolwer te probeer uithardloop, al staan hulle by die paaltjies. Of jy sien dit in meisies wat almal skielik die haarstyl van een of ander popsangeres navolg.
Ons wil baie dikwels graag soos iemand anders wees en ons volg dan ook die voorbeeld, of gewoontes na van so ’n persoon. In kort, die mens is baie beïnvloedbaar deur ’n invloedryke persoon of groep mense – dikwels is dit omdat ons graag “in” wil wees, of omdat daardie persoon optree soos wat ek graag sou wou optree, of dit lyk of klink oulik.
Hierdie tendens by die mens om een of meer identifikasiefiguur of –figure te hê is niks nuuts nie, Paulus praat in ons Skriflesing oor presies dieselfde ding, nl. om ’n navolger van iemand te wees, maar Paulus kwalifiseer dit baie duidelik vir sy lesers, wanneer hy sê dat hulle nie navolgers van sommer enige persoon moet wees nie en dan spreek hy hierdie saak aan onder twee opskrifte, nl.:
· Navolgenswaardige voorbeelde;
· Verwerplike voorbeelde.
3. NAVOLGENSWAARDIGE VOORBEELDE:
Kom ons kyk dan eerstens na, navolgenswaardige voorbeelde en Paulus kom met ’n verklaring na vore in v.17 wat waarskynlik nie gemaklik op sy lesers se ore geval het nie – hy sê ~ Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel. Wees ’n navolger van my, sê hy! Van my! Is Paulus nie ’n bietjie arrogant wanneer hy dit sê nie? Is hy nie vol van homself nie? In 1Kor.4:16 het hy presies dieselfde ding vir die gemeente in Korinte gesê, toe hy gesê het ~ Daarom spoor ek julle aan: Volg my voorbeeld! (1Kor.4:16).
Hoe kan Paulus so iets kwyt raak? In 1Kor.11:1 sê hy weer dieselfde, nl. Volg my voorbeeld... Hy kwalifiseer egter in die tweede gedeelte van vers 1 wat hy daarmee bedoel, wanneer hy sê ~ ... soos ek die voorbeeld van Christus volg.
Die gemeente in Filippi het presies geweet wat hy met hierdie oënskynlik arrogante uitdrukking bedoel het, want hy het dit reeds in 4:9 verduidelik, toe hy gesê het ~ En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees. Met ander woorde, hy sê vir hulle: Dit wat julle van my geleer het t.o.v. God Drie-Enig – dít is wat julle moet navolg en doen.
Wat Paulus dus bedoel wanneer hy vir sy lesers in Fil.3:17 sê ~ ...wees my navolgers ... en lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel, het dus niks te doen met sy eie lewe wat in elk geval, vol sonde is nie; of sy karakter wat beslis nie vlekkeloos is nie. Nee, dit gaan daaroor dat hy vir hulle sê: Ten spyte van al my gebreke en sonde, volg ek Jesus Christus met my hele wese na en dit is wat ek wil hê julle ook moet doen – volg Jesus Christus in alles na, soos wat ek probeer doen.
Hierdie lesers van Paulus se brief, het geweet dat hy nie vol van homself is nie en dat hyself, net soos hulle sukkel met sonde, want hy het dit reeds in 3:12 vir hulle gesê ~ Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.
Paulus moes egter ook ten diepste geweet het dat sy eie voorbeeld en leefwyse van so ’n aard moes wees dat dit navolgenswaardig was, trouens hy het dit meer as eenkeer ook gesê in sy sendbriewe aan gemeentes. Dink bv. aan 1Tim.1:16 ~ Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ’n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry. Hier is ’n pragtige voorbeeld van hoe hy vir almal duidelik laat blyk het dat hy ’n sondaar is en volgens hom, dié grootste sondaar, maar dat God hom uit genade gered het en op dieselfde wyse moet sy lesers ook sy voorbeeld navolg en soos hy, in Christus Jesus glo; Hom navolg en God se genade in hul lewens ervaar.
Paulus gaan egter nog ’n stappie verder, deur bv. in Titus 2:7 dit op Titus se hart te druk, dat Titus op sy eie lewenswandel en voorbeeld moet let, wanneer hy sê ~ In alles moet jy self vir hulle ’n voorbeeld stel van goeie werk, suiwerheid in die leer, waardigheid in gedrag.... Paulus sê dus vir Titus, dat die mense na sy optrede en voorbeeld kyk en as hy derhalwe nie die regte voorbeeld stel nie, kan hy nie navolgenswaardig wees nie. In 1Tim.3:2 en verder aan, verskaf Paulus ’n lys van eienskappe waaraan ouderlinge moet voldoen, deurdat hy begin en sê ~ ’n Ouderling moet onberispelik wees... en wat daarop volg.
Paulus is dus pynlik bewus van die feit dat hyself ook ’n navolgenswaardige lewe moet lei, maar deur hierdie voorbeeldige lewe wat hy lei; deur hierdie onberispelike optrede, moet mense se fokus op Christus Jesus gevestig word en nie op homself nie. Die gemeente in Filippi kan dus na sy eie lewe kyk en dit ook navolg, máár die voorbeeld wat hy spesifiek wil hê dat hulle moet navolg, is sy ywer om Jesus Christus na te volg en aan Hom gehoorsaam te wees en dít is wat hul dryfveer en fokus ook moet wees – die eer van die Here!
4. VERWERPLIKE VOORBEELDE:
Paulus sê egter nie net aan sy broers in Filippi, dat hulle sy voorbeeld moet navolg nie, hy sê ook vir hulle dat daar mense is wie se voorbeeld hulle nié moet navolg nie en hy noem hulle in v.18, ...die vyande van die kruis van Christus. Hierdie benaming staan in skrille kontras met wat hy in Gal.6:4 aan die Galasiërs gesê het, nl. ~ Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. Jy roem dus óf in die kruis van Jesus Christus, óf jy is ’n vyand van die kruis van ons Here Jesus Christus. En dít is hierdie lg. vyande van die kruis wat Paulus voorhou as slegte voorbeelde wat nie nagevolg moet word nie.
Wie en wat is hierdie “vyande van die kruis” en hoe tree hulle op?
· Eerstens sê hy dat die verderf hulle einde is (v.19). Die woord verderf wat hy hier gebruik is in die Grieks apwleia (apoleia), wat ’n fisiese, geestelike of ewige verwoesting en die dood in die ewige verdoemenis impliseer. Die woord beteken egter ook om iemand anders se lewe só te verwoes dat hy óók uiteindelik in die ewige verderf sal beland. Dit laat ons dadelik dink aan Jesus se woorde in Matt.10:28 toe Hy gesê het ~ ... vrees Hom (God) eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan. En dit is waarteen Paulus sy lesers wil waarsku: Moenie die voorbeeld van die vyande van die kruis navolg nie, want hulle uiteinde is die ewige verderf en hulle wil julle inslurp, sodat julle saam met hulle in die ewige verderf kan vergaan.
Paulus is hartseer wanneer hy hierdie dinge vir sy broers in die gemeente skryf. Waarskynlik was dit omdat hy geweet het hoe hard hy daar gewerk het; hy weet watter voorbeeld hy aan hulle gestel het; hy weet wat hy hulle geleer het. Hy weet dat sy lering, net soos in Efese, gepaard gegaan het met trane (Hand.20:31), omdat hulle waarskynlik so dikwels net niks wou doen ten opsigte van die boodskap wat hy gebring het nie. En nou hier in Filippi is daar oënskynlik steeds mense wat die vyande van die kruis wil navolg, daarom sê hy dat hy dit tot sy verdriet weer vir hulle moet sê (v.18).
Daar is egter nog ’n rede waarom Paulus moontlik hartseer is en R.C. Sproul stel dit pragtig wanneer hy sê: Paul weeps, not because he fears someone can undo what Christ has done, but because of the destruction in store for opponents of the gospel. This destiny completes the destructive process initiated by their own sin [2].
Watter rede ook al die bron vir sy hartseer was, glo ek dat iets van beide motiewe korrek kan wees.
· Tweedens beskryf Paulus hierdie vyande wat nie nagevolg moet word nie, deur drie voorbeelde in v.18 te noem:
- Eerstens sê hy dat hulle maag hulle god is. In Titus 1:12 word daar na hierdie mense verwys as lui vrate. Dit gaan nie hier in die eerste plek oor vet of “ronde” mense nie. Dit gaan, soos Rom.16:18 dit stel, oor mense wat hulle eie drifte en drange volg. Dit gaan hier oor selfsugtige begeertes wat gewoonlik aangedryf word deur trots en selfgesentreerdheid. Hierdie mense dien Christus dus nie, maar hulle eie vlees en begeertes. Hulle eie belange word voorop gestel en nie Christus Jesus nie. Hierdie mense is waarskynlik daardie vals leraars teen wie Paulus ál die Nuwe Testamentiese gemeentes voortdurend gewaarsku het – hulle wat verdeeldheid wou saai en gemeentes uit mekaar wou ruk en waarom? Omdat hulle hul eie agendas en hul eie identiteit op gemeentes wou afdwing – in kort, hulle wou gemeentes uitmekaar skeur, deur verdeeldheid te saai en vals leer te verkondig.
- Tweedens sê hy dat hulle skande hulle trots is. Hierdie vyande van die kruis is baie trots op dit wat hulle doen en verkondig, maar hulle is soos Judas 13 dit stel, wolke sonder reën; vrugtebome sonder vrugte; branders wat net skuim spat; sterre wat rond beweeg en derhalwe nie rigting kan verskaf nie (skepe in die ou dae het m.b.v. ’n sekstant hulle posisie en rigting op die sterre gepeil) – hulle kan geen voorbeeld stel nie; hulle kan nie rigting aandui nie – hulle is gedoem en diegene wat hulle navolg is net so gedoem – hulle trots sal hulle skande word en uiteindelik sal hulle, hulle trots in hul sakke moet steek, omdat dit teen hulle gaan tel wanneer hulle verantwoording voor God moet doen.
- En laastens sê hy dat hulle aardsgesind is. Wat bedoel Paulus met die uitdrukking, aardsgesindheid? Rom.8:5a sê ~ Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur. Wat is hierdie sondige natuur? Kol.3:2 sê dat dit is om jou ...gedagtes te rig op die dinge wat op die aarde is.
Aardsgesindheid beteken verder dat hierdie mense net aan die wêreld en dít wat die wêreld bied dink; hulle leef vir die vlees – die gode van hul maag. En hulle einde is verwoesting en verdelging. Sulke mense is vyande van die kruis – dít terwyl die kruis die wêreld en die vlees oorwin het; die kruis impliseer opoffering en swaarkry, terwyl aardsgesindheid, net selfgerigte plesier soek en bied.
Met sulke mense sê Paulus mag die gelowiges nie identifiseer nie, want hulle pad lei reguit na die verderf, trouens Jesus het self in Matt.7:13 gesê ~ ...Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Die hartseer realiteit hiervan is dat só baie mense wat deur hierdie “aardsgebondenes” beïnvloed word, saam met hulle op ’n pad van ’n selfverwoesting is. Dit impliseer dus dat aardsgebondenheid nie net beperk word tot mense wat nié die Here dien nie – mense wat hulleself Christene noem, maar wat steeds hierdie wêreld en dit wat hierdie wêreld bied lief het, is ook aardsgebonde en diesulkes moet versigtig wees dat hulle nie ook op verwoesting en die ewige verderf afstuur nie.
5. TOEPASSING:
Hierdie pleidooi wat Paulus in hierdie gedeelte tot die gemeente in Filippi rig is vandag nog net so relevant en die vraag wat jy vir jouself moet afvra is of jy met aardsgesinde mense identifiseer en hulle voorbeeld navolg, of kan jy soos Paulus sê ~ Wees my navolgers, broers? En is die voorbeeld wat jy stel geskoei op die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het? Jy moet so versigtig wees met wie jy in hierdie lewe “skouer skuur” en met wie jy identifiseer en dit raak nie net jou sosiale vriendskappe nie – dit raak ook organisasies waaraan jy mag behoort. Dit raak jou ontspanning; jou stokperdjies; jou lees- en kykstof, ens.
Daar gaan egter iets hiermee gepaard. Die vraag wat jy ook vir jouself moet afvra is: Huil ek ook soos Paulus oor die aardsgebondenes? En wat doen ek daaromtrent?
Paulus praat nie in hierdie gedeelte waarna ons vanoggend gekyk het, van redding nie, maar van heiligmaking. Is heiligmaking ’n ernstige saak vir jou, of staan jy steeds met een voet in die wêreld en maak jy jouself skuldig aan wêreldgelykvormigheid?
Geliefdes, ons moet saam met Paulus uitroep ~ Dit is werklik so. Ek het besef dat enigiets wat ek kan hê eintlik ’n verlies is as ek dit vergelyk met die voorreg wat ek het om Christus Jesus my Here te ken. Noudat ek in Christus Jesus ingeplant is, gee ek alles prys en beskou ek die dinge van hierdie wêreld as drek, sodat ek Christus as wins kan kry, met die doel dat ek Hom kan ken en die krag van Sy opstanding en die gemeenskap aan Sy lyde terwyl ek aan Sy dood gelykvormig word, sodat ek onder lyke kan opstaan (Fil.3:8, 10-11 – geparafraseer).
[2] Chrispin, Gerard. Philippians for Today. 2005. Day One Publishers. Leominster, HR6 8NZ. United Kingdom. p.259. (ISBN 1 84625 000-5)