PAULUS SE BRIEF AAN DIE FILIPPENSE ~ 05
(“Die Gelowige en sy Kosteberekening”)
1. SKRIFLESING:
Fil.3:1-11 ~ Verder, my broers, wees bly in die Here! Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie, en vir julle gee dit sekerheid. 2 Pas op vir daardie dwaalleraars; pas op vir daardie mense wat kwaad stig; pas op vir daardie betekenislose besnydenis! 3 Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie. 4 Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: 5 ek is op die agste dag besny, van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseër, 6 in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik. 7 Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8 ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9 en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. 10 Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11 in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.
2. INLEIDING:
Ons fokus val vanoggend op vv.4-11. Paulus benader hierdie gedeelte in sy brief op ’n baie interessante wyse. Ons kan dit amper vergelyk met boekhouding, waar die debiete en krediete aan die orde van die dag is. Of waar ’n mens ’n gewigtige besluit moet neem en jy die voor- en nadele teen mekaar opweeg – jy skryf die voordele aan die eenkant neer en die nadele aan die anderkant en dan kan jy ’n meer realistiese en verantwoordelike besluit rondom die uitkoms van jou besluit neem.
Paulus sê in hierdie gedeelte dat hy die voor-en nadele teen mekaar opgeweeg het en dat hy tot die slotsom gekom het dat al sy menslike pogings om Christus as Verlosser te wen, hom niks in die sak gebring het nie, trouens hy sê dat hy al sy eie pogings aan die debietkant, of die nadele-kant geskryf het en aan die voordelekant het hy net die naam, Jesus Christus” geskryf en hy het besef dat dít genoeg was.
3. PAULUS SE PROEFBALANS:
Ons moet besef dat die gevolgtrekking waartoe Paulus gekom het, net so op ons van toepassing is en dit word ook ondersteun deur o.a. die woorde in 2Kor.5:17 ~ Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.
Paulus het besef dat al sy teologiese “pluspunte” vir hom niks gehelp het om Christus as Verlosser te leer ken nie. So noem hy in verse 4-7 allerlei dinge waarop hy staatgemaak het om sy naam in die hemel opgeskryf te kry. Hy sê o.a. dat hy op allerlei uiterlike dinge vertrou het – hy was volgens die Joodse tradisie op die agste dag besny. Hy was deel van die stam van Benjamin – ’n stam wat lojaal aan Dawid gebly het en wat uiteindelik die fondasie gevorm het van die herstelde volk van Israel wat uit ballingskap gekom het. Hy was deel van die fanatiese politieke Selote-party wat ’n deel van die Fariseërs was. In kort, Paulus het ’n volmaakte en geregverdigde man geword volgens die Joodse wette.
Maar nogtans het Paulus besef dat sy insluiting in die verbondsvolk van God en al hierdie kwalifikasies glad nie aan hom die sekuriteit van ’n ewige lewe met God verseker het nie. In die oë van die wêreld het Paulus dit “gemaak”, want sy krediete het sy debiete by verre oorskry, maar dit is juis die kruks van God se Koninkryk – die maatstawwe vir God se Koninkryk is presies die teenoorgestelde van hierdie wêreld en daarom besef Paulus dat al hierdie krediete van hom, eintlik verliese, of debiete is en help dit hom dus nie ’n bloue duit nie. Hy sê in v.7 ~ Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus. Dit is dus duidelik dat Paulus besef het dat hy nie met menslike “boekhoumetodes” hier te doen het nie en dat daar eintlik niks, absoluut niks in sy batekant- of kredietkant geskryf is nie. Hy het ’n ander inskrywing in sy kredietkant nodig – wat het hy nodig? Ons vind die antwoord in 1Kor.1:30 ~ Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. En in Openb.5:9 lees ons ~ U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. Paulus het Jesus Christus dus nodig gehad – Christus wat ons vryspraak is; wat ons heilig en wat ons verlos. Christus se Vryspraak en Sy soendood is die enigste inskrywing wat nodig is in Paulus se kredietkant ten einde waarlik verenig te word met God.
Paulus het vir Jesus “ontdek” – nee, Jesus het vir Paulus “ontdek”. God het ingegryp in Paulus se lewe – kom ons kyk daarna ~ Terwyl ek (Paulus) op reis was en naby Damaskus gekom het, het daar teen die middag skielik ’n sterk lig uit die hemel op my gestraal. 7 Ek het op die grond neergeval en ’n stem vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ 8 ‘Wie is U, Here?’ het ek gevra. ‘Ek is Jesus van Nasaret,’ het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir My wat jy vervolg.’ 9 “Die mense wat saam met my was, het wel die lig gesien, maar nie die stem verstaan van Hom wat met my gepraat het nie. 10 Toe vra ek: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here sê toe vir my: ‘Staan op en gaan na Damaskus toe. Dáár sal alles vir jou gesê word wat God bepaal het dat jy moet doen.’ 11 “Die skerp lig het my blind gemaak, en my reisgenote moes my aan die hand lei. So het ek in Damaskus aangekom. 12 ’n Sekere Ananias, ’n man wat getrou volgens die wet van Moses gelewe het en by al die Jode in die stad hoog aangeskrewe was, 13 het na my toe gekom. Hy het by my kom staan en gesê: ‘Saul, broer, jy kan weer sien!’ En dadelik kon ek hom sien. 14 Toe sê hy: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, die Regverdige te sien en sy stem te hoor, 15 want jy sal vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. 16 En nou, waarom nog wag? Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy sy Naam aangeroep het (Hand.22:6-16). Hierdie is so tipies van elke gelowige se redding – God wat ingryp in ’n individu se lewe en hom soewerein red.
Nie Paulus en nie een van ons, of enige ander persoon wat deur die eeue heen gered is, kan op eie verdienste gered word nie – dit is net Jesus Christus se soendood wat dit kan bewerkstellig.
4. ALLES IS WAARDELOOS:
Paulus gaan voort en hy sê in v.8 ~ ...ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Paulus het besef dat niks op aarde vir hom meer kosbaar en belangrik kan wees as om Christus Jesus te ken nie, want om God te ken, is om die ewige lewe te besit ~ En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is (Joh.17:3).
Ons wat wedergebore is, moet onsself die vraag afvra of ons ook op ’n punt in ons lewe gekom het waar ons, ons materiële besittings en allerlei ander aardse plesiere en aktiwiteite as minder belangrik ag as ons kennis van God; as ons geestelike groei in Hom. Wat is ons prioriteite? Soos wat J.I. Packer dit so pragtig stel in sy boek Knowing God (p.37): Waarvoor is ons geskep? Om God te ken. Watter doelwit moet ons vir onsself in die lewe stel? Om God te ken. Wat is die ewige lewe wat Jesus gee? Kennis van God.... Wat is die beste ding in die lewe wat meer blydskap, genot en tevredenheid verskaf as enigiets anders? Kennis van God. ....Wat van al die toestande waarin God die mens ooit sien, behaag Hom die meeste? Kennis van Homself. God sê self in Hos.6:6 (O.A.V.) ~ Want Ek het ’n behae in ...... kennis van God meer as in brandoffers.
Packer gaan voort in gemelde boek en hy gee twee voorwaardes om God beter te ken en hy sê dit is om Jesus te ken en om deur God geken te word. Hoe kan ons Jesus persoonlik ken? Deur in Jesus Christus ingeplant te wees. 1Kor.1:30 sê vir ons ~ Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. En hoe kan ons deur God geken word? Joh.14:6 verskaf aan ons die antwoord ~ Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. En waar leer ons meer van Hom? In die Woord van God self (Joh.6:68). Wanneer die Gees van God ons wederbaar, is dit van lewensbelang dat ons nie ons tyd met God sal afskeep nie en dat ons elke geleentheid wat ons maar kan kry, met volle aandag en ’n leergierige gees sal leer van Hom.
Hierdie ywer om God beter te leer ken moet ons hoogste prioriteit wees – dit moet belangriker wees as enige iets anders in hierdie lewe en dit is presies wat Paulus vir ons sê, hý gedoen het. En waarom het hy hierdie weg gevolg? Hy gee self die antwoord in v.8b-9 ~ ...sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9 en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo.
5. DIE OPSTANDING VAN CHRISTUS:
In vv.10-11 sê Paulus ~ Al wat ek wens, is om Christus te ken, (en dan hierdie woorde) die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11 in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.
Wat bedoel Paulus wanneer hy sê dat hy wil deel hê aan die krag van Christus se opstanding? Om deel te hê aan Christus se opstanding, dui op die geestelike opwekking van ’n verlore siel. Rom.8:11 leer ons dat dieselfde Heilige Gees wat Jesus uit die dood opgewek het, ook die uitverkorenes wat eens geestelik dood was, uit ’n geestelike dood opwek en lewend maak en hulle derhalwe wederbaar. Dit laat ons nou met ’n probleem: Paulus was reeds “opgewek uit die dood” toe hy hier geskryf het – waarom sou hy dan nou verlang na hierdie opstanding vanuit die geestelike dood – so asof hy twyfel aan sy eie wedergeboorte? Die antwoord lê opgesluit in die woordjie “krag” wat ons in v.11 aantref. Hy verlang dus nie na die opstanding nie, maar na die krag van die opstanding – daardie selfde kragtige werking waarmee die Heilige Gees eens ongeredde siele in die lewe in gebring het en die krag wat nodig is om elke geredde siel deur te dra tot hul verheerliking.
As Paulus hierdie krag van die Heilige Gees begeer (Ef.3:16), impliseer dit dus dat dit tot beskikking van alle gelowiges is. Eerstens is hierdie krag, soos ons pas gesien het, bewys van ons kindskap, maar hierdie krag van die Heilige Gees word deur God aan die kerk van die Here Jesus geskenk (l.w.: God skenk dit – gelowiges “klits” dit nie op nie) en daarom kan en mag ons nooit in hierdie krag roem nie – so asof ons dit self ín ons bewerkstellig het nie (Rom.4:24-25; 8:11,30; 1Kor.15:17; Kol.3:4; Fil.3:21).
Hierdie krag word voorts aan ons innerlike mens geskenk, ten einde ons in staat te stel om te groei in die Woord (Hebr.5:12-14) en hoe meer ons groei in die Woord, des te meer word ons vervul met die Gees én leer ons God beter ken.
Wat impliseer hierdie krag van die Heilige Gees verder? Dat ek gelukkiger kan wees, of dat ek vir siekes kan bid en hulle word genees? As dít my motief is, is ek op ’n pad van misleiding. My motief met die krag van die Heilige Gees moet altyd wees om Christus te verheerlik. Dit is juis hier waar die verskil lê tussen ’n mens-gesentreerde teologie en ’n Godgesentreerde teologie.
6. DEEL IN CHRISTUS SE LYDING:
Paulus sluit hierdie gedeelte van sy brief af met ’n baie interessante opmerking ~ Al wat ek wens, is om ...... deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11 in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood (10b-11). Paulus begeer nie net alleen die krag van Christus se opstanding nie – hy begeer ook om deel te hê aan Christus se lyding. En vir hom om gelyk te word aan Christus se lyding, moet hy soos Christus word.
Dit is interessant om te besef dat Paulus reeds met sy bekering gehoor en geweet het dat hy geweldige beproewing en lyding gedurende sy lewe as gelowige sou ly, toe die Here vir Ananias in Hand.9:16 gesê het, dat Hy dit vir Paulus sou wys. Hierdie uitdrukking om deel te hê aan Christus se lyding en aan Hom gelyk te word in Sy dood, beteken egter ook en veral, dat ons as gelowiges innerlik só getransformeer sal word, dat ons, soos wat Christus vír ons sonde gesterf het, ons ook vir ons sonde moet sterf ~ Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? 2 Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? (Rom.6:1b-2). En vv.6-7 ~ Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 7 Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. Ons moet onsself dus daagliks “dood” vir die sonde en derhalwe heilige lewens lei (Rom.6:1-4; 11-14). Dit impliseer dus dat ons te alle tye en onder alle omstandighede, ons kruis sal opneem en soos Christus sal optree in en onder daardie omstandighede. Soos wat Christus al ons oortredinge op Hom geneem het, sonder om te kla of in opstand te kom, net so moet ons met Christus identifiseer in Sy lyding en dood en ons swaarkry hanteer soos wat Christus dit hanteer het.
En die prys op dit alles? Paulus verskaf self aan ons die antwoord in v.11 ~ want ek het die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.
7. AFSLUITING:
Die vraag wat ons vandag vir onsself moet afvra is of ons ál ons “bates” oorgegee het aan Christus?
Besef ons dat alles in die lewe waardeloos is en is ons hoogste roeping en grootste begeerte om God te ken?
Verlang ons ook na die krag van Christus se opstanding?
Identifiseer ons ook daagliks met die lyding van Christus?
Verwag ons om deel te hê aan die opstanding uit die dood?