Sunday, January 16, 2011

PAULUS SE BRIEF AAN DIE FILIPPENSE ~ 06 (“Die Gelowige se Lewenswedloop”)

1.     INLEIDING:
Verlede week het ons gesien dat Paulus sy lewe in oënskou geneem het en sy bates en laste teen mekaar opgeweeg het.  Hy het aan die einde ook gesien dat daar maar net een inskrywing aan sy bate kant gemaak kan word ten einde gered te word en dit is Jesus Christus.  Hy het egter ook voortgegaan en vir ons daarop gewys dat niks op aarde meer kosbaar kan wees as sy uitverkiesing in Christus Jesus nie, maar hy het terselfdertyd ook begeer om in Christus se opstandingskrag deel te hê, ten einde hom te help om geestelik te groei, maar primêr om Christus te verheerlik.  En dan het hy ook begeer om deel te hê in Christus se lyding, want daardeur sou hy meer en meer soos Christus word, want soos Christus vir ons sonde gesterf het, net so wil Paulus en moet ons, daagliks sterf aan ons eie sonde en derhalwe heilige lewens lei.  En die prys op dit alles? Die opstanding uit die dood!

2.     SKRIFLESING:
Fil.3:12-16 ~ Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. 13 Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14 Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. 15 Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. En as julle in enige opsig anders daaroor dink-God sal ook hierin aan julle die regte insig gee. 16 In elk geval, laat ons koers hou op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het. 

In hierdie gedeelte wat ons nou pas gelees het, sal ons sien dat Paulus vir sy lesers sê dat hy homself inspan om sy lewensdoel te bereik en hy doen ’n beroep op sy lesers om dieselfde te doen.  Hy rig hierdie oproep onder die volgende opskrifte:
·           Sy doelwit (v.12);
·           Sy strategie (v.13);
·           Sy oorwinnaarsprys (v.14);
·           Sy voorbeeld (v.15), en
·           Sy oproep (v.16).

3.     SY DOELWIT:
Paulus begin v.12a deur te sê ~ Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie.  Wat sê hy daardeur?  Ten einde dit te antwoord moet ons na vv.10-11 kyk ~ Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11 in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.  Wat is dus die “alles” en “die doel” wat hy nog nie bereik het nie?  Dit is om Christus te ken, Sy opstandingskrag te ervaar en gelyk aan Hom te word in Sy dood.

Hy gaan dan voort in v.12b en sê ~ ... ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.  Hy sê dat hy homself inspan, juis omdat hy nog nie sy doelwit bereik het nie en sy doelwit is om Christus te ken; Sy opstandingskrag te ervaar; gelyk aan Hom te word in Sy dood en om geestelike volwassenheid te bereik.  Hy weet maar te goed dat hy nog in hierdie lewenswedloop gewikkel is en dat hy nog nie die eindstreep gehaal het nie – dat hy nog nie geestelike volwassenheid bereik het nie.

In 1Tim.6:12 sê Paulus vir ons wat hierdie wedloop behels ~ In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê.  Hierdie lewenswedloop waaraan almal van ons deelneem, gaan daaroor dat ons die ewige lewe as prys sal behaal.  Dit gaan egter nie daaroor dat ons die ewige lewe deur goeie werke kan ontvang nie.  Nee, die klem val op v.12b, nl. dat dit gaan oor ons goeie belydenis wat ons moet uitleef teenoor alle mense.  Hy sê voorts in 1Kor.9:25 dat hierdie wedloop daaroor gaan, dat ons onsself sal ontsê van allerlei dinge en hy sê verder in v.26 ~ ...ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer.  Hierdie wedloop waaraan Paulus dus deelneem en waartoe hy sy lesers en ook elkeen van ons wat onsself gelowiges noem oproep, is ’n lewe van heiligmaking en geestelike groei, sodat ons ’n lewende getuienis kan wees teenoor die wêreld daarbuite – dit is waartoe ons geroep word, want daardeur word God ook verheerlik.

En waarom wil Paulus al hierdie dinge bereik?  Waarom wil hy hierdie doel bereik?  Hy verskaf die antwoord in v.12c ~ ... omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.  Paulus jaag hierdie dinge na, omdat hy soos Christus wil word.  Waarom?  Omdat Christus hom gered het!  Omdat Christus Jesus hom Syne gemaak het.

4.     SY STRATEGIE:
Paulus verduidelik aan sy lesers hoe hulle hierdie doelwit kan bereik, deur sy eie strategie met hulle te deel en hy is baie eerlik daaroor wanneer hy sê dat hy nog nie daardie doelwit bereik het nie, daarom dat hy in v.13 sê ~ Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie.  Hy is nie selfvoldaan oor sy eie geestelike toestand nie.  Hy verbeel hom nie dat hy geestelik al “gearriveer” het nie, trouens hy is kru eerlik en openlik daaroor dat hy nog oppad na die eindstreep toe is en wanneer hy dit sê het hy steeds die voorbeeld van die atleet wat aan die wedloop deelneem in gedagte en hy weet dat die eindstreep eers die dag sal aanbreek wanneer die Here Jesus hom kom haal – intussen moet hy homself steeds inspan om geestelik te groei. 

Hy besef dus dat sy wedergeboorte maar net die begin van sy regverdigmakingsproses was en dat hierdie proses voortgesit moet word deur heiligmaking en hierdie heiligmaking kan net in volharding geskied – hy moet homself daagliks en voortdurend inspan om te volhard in heiligmaking, totdat die wedloop voltooi word – totdat hy verheerlik word.

Paulus deel hierdie feit met sy lesers, omdat hy weet dat daar baie mense is wat sê en glo dat hulle geregverdig is deur Christus se soendood, maar dat hulle geen poging aanwend om in heiligheid te groei nie.  Johannes beskryf hierdie situasie so in die kol  wanneer hy in Openb.3:1 die volgende van die gemeente in Sardis sê ~ Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.  In Openb.3:17 sê Johannes die volgende van die gemeente in Laodisea ~ Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,” en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal.

Wat is Paulus se strategie om hierdie doelwit te bereik?  ’n Mens sou verwag dat hy iets sou sê soos dat hy elke dag die Woord lees en in gebed verkeer, ens. En natuurlik is die Woord en gebed, ens. van die uiterste belang om hierdie doelwit te bereik, maar hy noem twee dinge in v.13 wat hy heel eerste doen:
·           Eerstens sê hy, dat hy homself losmaak van die dinge wat agter is.  Dit wat in die verlede gebeur het en dit wat in die verlede deel van sy lewe was – dié lê hy af.  Jesus het hierdie belangrike woorde in Luk.9:62 gesê ~ Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.  In hierdie gelykenis wat Jesus vertel het, wou Hy vir Sy luisteraars baie duidelik laat verstaan, dat Hy nie halfhartige dienswerk van Sy volgelinge aanvaar nie.  As jy ’n land ploeg, moet jou volle en voltydse aandag op jou taak gerig wees, anders gaan jy krom en skeef ploeg.  Daarom moet elke mens wat begeer om deel van Christus se Koninkryk te wees, nie toelaat dat enige iets sy aandag aftrek van sy fokus en sy heilige roeping nie.

Algehele toewyding aan Sy diens en onvoorwaardelike getrouheid aan die roeping waartoe Christus ons roep en gehoorsaamheid aan Sy Woord, is die twee ononderhandelbare voorvereistes om ’n ware volgeling van Jesus Christus te wees.  Hiersonder kan ons onsself nie kinders van God noem nie.

Die erns en voorreg om ’n volgeling van Christus te wees, is so geweldig, dat daar geen ruimte vir verskoning is, deur kompromie met die wêreld te maak, of om halfhartige, lou-warm Christene te wees nie.  Wat ’n vertroosting om te weet dat Jesus Christus wat ons gered en geroep het om Sy volgelinge te wees en om Hom heelhartig en toegewyd na te volg, self die pad van selfverloëning geloop het en derhalwe aan ons ’n volmaakte voorbeeld gestel het – ’n navolgenswaardige voorbeeld en dit is juis hierdie navolgenswaardige voorbeeld wat lei tot Paulus se tweede strategiese doelwit.

·           Paulus sê dan tweedens in v.13, dat hy homself uitstrek na wat voor is.  Hy neem ’n nuwe visie op; ’n nuwe doelwit; ’n nuwe roeping.

5.     SY OORWINNAARSPRYS:
En wat lê vir Paulus in die toekoms voor, waarna hy hom uitstrek?   Hy verskaf aan ons die antwoord in v.14 wanneer hy sê ~ Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.  Paulus ontwikkel ’n ewigheidsperspektief.  Hy het net een doel voor oë en dit is om sy hemelse prys te behaal – sy oorwinnaarsprys! 

Dit is baie belangrik dat ons net onmiddellik eers vir mekaar sal sê, dat dit weereens nie hier  gaan oor Paulus, of ons eie poging, om die eindstreep te bereik nie.  Die gedagte wat hier deurgegee word is dat ons as uitverkore gelowiges se pad reeds deur God se genadewerking, uitgemerk is en die lint is reeds by die wenstreep gespan (voor die era van elektroniese foto-apparaat by atletiekbyeenkomste het die baanbeoordelaars ’n lint oor die wenstreep gespan, ten einde te kon sien wie die lint eerste breek).  Wat die gelowige dus moet doen, ten einde in hierdie baan te bly en die “wenlint” te breek, is om getrou te bly aan die waarheid en ’n getuienis te wees deur sy gehoorsaamheid en geloof.  En dít is die doel wat Paulus voor oë het – dít is die “kanaal” waarlangs hy sy energie inspan en fokus.

Paulus sê in 1 Kor.9:24 ~ Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen.  Om aan hierdie lewenswedloop deel te neem waarvan Paulus hier praat vereis baie streng dissipline – soos ’n atleet wat hardloop vir goud.  Die prys vir Paulus is nie ’n tydelike kroon wat deur mense uitgedeel word nie, maar die ewige kroon wat deur Christus gegee word.  Dit is waarom hy vroeër in 1Kor.3:13 gesê het ~ ...elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets.  En in 2Kor.5:10 sê hy ~ Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.

Ons as gelowiges neem nie aan hierdie wedloop deel ten einde gered te word nie, maar omdat ons reeds uit genade deur ons geloof in Jesus Christus gered is.  Maar óók omdat, soos Paulus dit aan Timoteus gestel het ~ Hy ons gered (het) en ons geroep (het) om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het (2Tim.1:9).

6.     SY VOORBEELD:
Op die oog af sê Paulus iets baie eienaardigs in v.15.  Hy sê dat almal wat geestelik volwasse is, hierdie selfde gesindheid van hom moet hê, waarvan hy so pas gepraat het en derhalwe sy voorbeeld moet navolg, deur hulle in te span om die wenstreep te bereik.  Dit klink so asof hy homself hier weerspreek, want in v.12 het hy gesê dat hy juis nie geestelik volwasse is nie. 

Ons moet verstaan dat Paulus in v.12 verwys na ’n afgehandelde proses  waarby hy nog nie uitgekom het nie, terwyl daar mense is wat reeds ver gevorder het op die pad van heiligmaking (en hy sluit homself in by hierdie groep – daarom dat hy in v,15 sê ~ Ons almal wat geestelik volwasse is) en natuurlik verwys hy ook na mense wat dink dat hulle reeds volmaakte geestelike volwassenheid bereik het (en daar is werklik sulke mense).  Paulus moedig egter elkeen van hierdie groep mense aan om steeds daaraan te werk om geestelik te groei, want nie een van hulle het reeds hul lewenswedloop op daardie stadium voltooi nie – die wenstreep lê nog voor!

Die probleem met baie gelowiges is dat hulle dink dat hulle reeds “gearriveer” het en daarom hoef hulle niks te doen t.o.v. hul geestelike groei nie – Paulus waarsku egter diesulkes in 1Kor.3:15, wanneer hy sê dat hulle nie hulle redding sal verloor nie, maar dat hulle van hulle belonings sal verloor ~ ...as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is.

In v.12 praat Paulus dus van ’n uiteindelike volmaak geestelike posisie waarin gelowiges sal verkeer wanneer hulle lewensloop oorgegaan het in verheerliking.  Terwyl hy in v.15 verwys na ’n relatief geestelik volwasse posisie waar daar steeds ruimte vir groei is.  Dit blyk duidelik uit die feit dat hy in v.12 ’n werkwoord gebruik wat in die voltooid teenwoordige tyd  (perfektum) geskryf is, terwyl hy in v.15 gebruik maak van ’n selfstandige naamwoord. 

Die geestelik volwasse gelowige is dus ’n gelowige met ’n onbesproke karakter wat ’n navolgenswaardige voorbeeld aan almal rondom hom stel.

7.     SY OPROEP: 
In v.16 rig Paulus ’n oproep tot sy lesers ~ In elk geval, laat ons koers hou op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het.  Letterlik staan hier:  Laat ons in ooreenstemming met die pad wat ons tot nou toe geloop het, op dieselfde wyse voortgaan. 

Een van die grootste behoeftes wat by ons as gelowiges bestaan is om vol te hou en te bly vashou aan dít wat ons in die verlede in Christus ontvang het.  Meer nog, die meeste gelowiges leef ver onder dít wat ons in Christus ontvang het en wie ons werklik in Christus is, nl. dat ons geregverdig is in Hom.  M.a.w. ons ís heilig verklaar; ons hét klaar gemaak met sonde; ons name ís opgeskryf in die hemel, maar ’n ou-ou truuk van die satan, is om ons gedurig aan hierdie posisie van ons in Christus te laat twyfel en onsself te vertel dat ons tog nie wederbaar is nie, want kyk net hoe sondig is ons.

Wat belangrik is, is dat ons in ooreenstemming moet leef met die waarheid wat ons deur ons geestelike lewe tot nou toe ontvang het.  Ons moet nie toelaat dat dit wat Paulus van die Galasiërs gesê het, ook van ons gesê word nie ~ Julle was so goed op pad. Wie het julle verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam? (Gal.5:7).  En in Openb.3:3 sê Johannes ~ Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle. As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ’n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie. Daarteenoor moet ons eerder die woorde van die Hebreërskrywer in gedagte hou, wat gesê het ~ En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie (Hebr.10:38).

Laat Paulus se woorde hier in v.16, saam met die woorde van Hos.6:3 voortdurend in ons ore weerklink ~ Kom ons wy ons aan Hom toe, kom ons streef daarna om ons aan die Here toe te wy. Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom, Hy sal na ons toe kom soos stortreën, Hy sal ons verkwik soos lentereëns die grond verkwik.

8.     AFSLUITING:
Geliefdes, ons moet ons losmaak van die dinge wat agter is – ook ons sondige verlede waarvoor ons reeds vergifnis ontvang het.  Ons moet nie toelaat dat enige iets of iemand ons aandag en fokus aftrek van ons heilige roeping nie en daarom moet ons, ons uitstrek na dit wat voor is.  Ons moet ’n nuwe visie; ’n nuwe doelwit; ’n nuwe roeping opneem en ons moet voortdurend toesien dat ons karakter onbesproke en navolgenswaardig is en daarom moet ons daarop fokus om in ooreenstemming te leef met die waarheid wat ons deur ons geestelike lewe, tot nou toe ontvang het.