1. SKRIFLESING:
Fil.3:1-3 ~ Verder, my broers, wees bly in die Here! Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie, en vir julle gee dit sekerheid. 2 Pas op vir daardie dwaalleraars; pas op vir daardie mense wat kwaad stig; pas op vir daardie betekenislose besnydenis! 3 Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.
2. INLEIDING:
Hierdie derde hoofstuk van Paulus se brief aan die gemeente in Filippi, is volgelaai met suiwer teologie en Paulus suggereer dat opregte en innerlike vreugde voortspruit uit die kennis van die Christelike leerstellinge of doktrine.
Ons sien ook dat hoofstuk 3 met die woordjie “verder” begin. Deur hierdie woord te gebruik wil Paulus hoofstuk 3 koppel aan hoofstuk 2. In hoofstuk 2 het Paulus, Epafroditos se getrouheid aangeprys en hy is oortuig daarvan dat die gemeentelede vol blydskap sal wees om Epafroditos weer te sien, maar hulle moet nie net vreugde ervaar oor sy terugkeer nie, maar primêr vreugde ervaar oor die suiwere verkondiging van die Evangelie en hulle praktiese en gehoorsame uitlewing van die Woord van God.
3. WEES BLY IN DIE HERE:
U sal onthou dat ons aan die begin van ons reeks oor die brief aan die Filippense gesê het dat hierdie brief, Paulus se “vreugdebrief” is. Paulus het in die voorafgaande twee hoofstukke hierdie begrip reeds ses keer gebruik. In hoofstuk 1 sê hy o.a. dat hy bly is omdat hy weet dat al sy swaarky in hierdie lewe, uiteindelik op sy redding sal uitloop (Fil.1:18-19). In v.25 praat hy daarvan dat die Filippense, blydskap sal ervaar oor hulle geloof. Ook sê hy in 2:17-18 dat hy bly sal wees as hy moet sterf vir sy geloof. In 2:28 sê hy dat die gemeente bly sal wees as hulle weer vir Epafroditos sal sien.
In hoofstuk 3 gebruik hy weer hierdie uitdrukking van vreugde en in die laaste hoofstuk gaan hy dit nóg twee keer gebruik.
Hier in v.1 van hoofstuk 3 gee Paulus egter die eerste keer opdrag aan die Filippense dat hulle vol vreugde moet wees ~ Verder, my broers, wees bly in die Here! Paulus sê egter ook dat die Filippense (en ons) net bly kan wees – regtig, opreg bly kan wees, indien hulle ín die Here is ~ Verder, my broers, wees bly in die Here!
Paulus kan hierdie opdrag enersyds aan die Filippense gee, omdat hy weet dat hulle ín die Here is, daarom dat hy hulle my broers noem, maar andersyds kan hy dit ook vir hulle sê, omdat hyself ’n lewende getuie was van iemand wat bly was in die Here. Hy het hom altyd verbly in die Here, ten spyte van wat ook al met hom mag gebeur en as daar iemand is wat waarlik beproewing ervaar het, was dit juis Paulus. Kom ons raak net vir ’n oomblik stil en dink aan ons eie lewe en aan ons omstandighede en ons vergelyk dit met Paulus s’n ~ ...ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. 24 Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, 25 drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ’n dag en ’n nag in die oop see deurgebring. 26 Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. 27 Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. 28 Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes (2Kor.11:23-28) en nogtans sê hy in Fil.2:17b ~ Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly. Selfs al moet hy sterf, bly hy jubel in die Here!
Ook Jesus het belangrike lering aan Sy dissipels gegee oor blydskap. In Lukas 10 stuur Hy 72 dissipels, twee-twee uit om die Evangelie te verkondig en nadat hulle terug gekom het, was hulle baie opgewonde en vol vreugde oor hul Godgegewe sukses om demone te kon uitdryf. Jesus is egter baie duidelik daaroor dat hulle vreugde nie gegrond moet wees op hul suksesse en die feit dat die satan “bloedneus” gekry het nie, want Hy sê ~ ...julle (moet) nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is (Luk.10:20). M.a.w. hulle en daarom ook ons, se vreugde moet gegrond wees op geloofsekerheid en die feit dat ons name in die hemel opgeskryf is – dit moet dus nie gegrond wees op allerlei wêreldse suksesse en opwindende ervaringe nie, want môre kan al hierdie suksesse en opwinding verander of verdwyn, maar ons redding en ons ewige bestemming kan nooit, ooit van ons weggeneem word nie! Dit is dan ook waarom Dawid in Ps.51:12 sê (en ek haal aan uit die N.A.S.B.) ~ Restore to me the joy of Your salvation.
4. VOORWAARDE EN SLAGGATE:
Dit is egter so dat ons as gelowiges nie altyd oor hierdie selfde vreugde beskik nie en uiteraard kan die wêreld nie oor hierdie vreugde beskik nie, omdat hulle nie ín die Here is nie en dit is juis die voorwaarde wat Paulus hier stel, nl. om ín die Here te wees.
Wanneer Paulus die opdrag gee ~ ...wees bly in die Here, impliseer dit optrede van ons kant af – ons kan en moet dus iets daaromtrent doen. Kom ons kyk dan na wat Paulus in ons gelese gedeelte vir ons sê wat ons kan doen ten einde in opregtheid en met oorgawe, gehoor te gee aan hierdie opdrag, nl. om in die Here bly te wees en wat die gevare is wat ons in die oë staar om hierdie blydskap mis te loop, of selfs te verloor indien ons reeds daaroor beskik:
· Ons leer uit dit wat ons tot nou toe vir mekaar gesê het, dat geen mens blydskap kan ervaar – ware blydskap kan ervaar, as hy of sy nie ín die Here is nie. Ons moet dus gelowiges wees. Blydskap in die Here is dus nie beskore vir ongelowiges, of selfs vir mense wat sê dat hulle gelowiges is, maar dit nie werklik is nie.
· Nadat Paulus gepraat het oor blydskap in die Here, kom hy nou hier in vv.2-3 en hy wys die gemeente daarop dat daar vir hulle as gelowiges ’n paar slaggate op hul pad na ware vreugde in die Here lê.
In die vorige hoofstuk het ons gesien watter hoë agting Paulus vir Timoteus en Epafroditos het en hy sê dan ook aan die gemeente dat Timoteus betroubaar is en dat hy die Evangelie dien en wat Epafroditos betref, sê hy dat hulle hom met oop arms moet terug ontvang en dat hulle hom met agting moet bejeën, maar Paulus sê ook vir hulle dat hulle nie naïef moet wees en moet dink dat alle mense (en predikers) so betroubaar is nie. Nee, hy sê dat daar wolwe met skaapklere aan, rondloop en hy noem hulle dwaalleraars.
- Hy noem hierdie dwaalleraars twee dinge – hy sê in die eerste plek dat hulle honde is! Ons sou reken dat dit in enige beskaafde taal ongehoord is om te sê dat mense, honde is, of om te byt en te verskeur soos honde, maar dit is presies wat Paulus sê, hierdie dwaalleraars is. En dit is nie so ongewoon om hierdie uitdrukking in die Bybel te sien nie. Ons sien o.a. in Ps.22:16 hoe dat Dawid na sy vervolgers verwys as honde ~ Soos honde omsingel hulle my, die bende misdadigers sak op my toe, hulle bind my hande en voete vas.
Ons weet dat honde baie keer baie liefdevol teenoor bv. kinders kan wees, net om die volgende oomblik so ’n kind te verskeur en dit is presies hoe dat dwaalleraars optree. Ook was die honde wat destyds rondom Filippi geleef het, vuil en het hulle soos aasvoëls geteer op alles. Honde was deur die Jode gesien as die mees verfoeide, veragtelike en patetiese diere denkbaar en Paulus vergelyk hierdie dwaalleraars met hierdie honde. Dit is dus asof Paulus ’n “pasop vir die hond- bordjie” voor die gemeente se “hek” sit, om hulle te waarsku om versigtig te wees. In 2Kor.11:13 sê Paulus dat... ~ Sulke mense vals apostels (is); hulle gaan oneerlik te werk deur voor te gee dat hulle apostels van Christus is.
- Tweedens noem Paulus ook hierdie vals leraars, mense wat kwaad stig (v.2b). In die Engelse vertalings word hulle “evil workers” genoem.
Paulus is veral besorgd daaroor dat hierdie “honde” die gemeentelede kan besoedel met vals lering oor die besnydenis. Ons sien in Hand.15:1 dat hierdie praktyk reeds in die Handelinge-kerk aan die orde van die dag was ~ Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak: “As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie. Ons weet dat die besnydenis op die agste dag na ’n Joodse seuntjie se geboorte, uitgevoer is en daardeur is hy deel gemaak van God se Ou Testamentiese verbondsvolk. Die tragiek van die besnydenis was dat dit nooit die probleem van die sonde kon regstel nie en was dus ’n teken van ’n beter verbond wat nog moes kom en waardeur die mens se sonde uitgewis kon word deur die persoon se geloof in die gekruisigde Jesus Christus. Paulus sê dan ook in v.2 dat die besnydenis ná Christus se kruisiging, niks anders is as vals en ’n skending van die vlees nie, trouens die betekenis van die Griekse woord (κατατομήν = katatomé) wat hy hier gebruik is so sterk, dat dit waarskynlik verwys na liggaamskending wat deur die ou Mosaïese wette verbied was.
Hierdie dwaalleraars het vir die Nuwe Testamentiese gemeentes kom leer dat indien hulle nie besny is volgens die Mosaïese wette nie, hulle nie gered kan word nie. Hierdie dwaalleraars het dus die Evangelie en “PLUS” gepreek en ons moet besef dat enige iets wat weggeneem word van die Evangelie, of wat bygevoeg word, boos is. In Gal.1:8-9 verdoem Paulus sulke mense, deur te sê ~ Maar al sou een van ons of selfs ’n engel uit die hemel aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het-die vloek van God sal hom tref! 9 Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer: As iemand aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het-die vloek van God sal hom tref!
5. DIE WARE BESNYDENIS:
In v.3 sê Paulus ~ Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie. Die tweede woordjie in hierdie vers nl. “het” moet eintlik met ’n beklemtonings “e” geskryf word (hét), want dit is presies wat Paulus hier vir sy lesers en vir ons wil sê ~ Ons as gelowiges hét die ware besnydenis.
Hierdie hele kwessie van die besnydenis is dan ook ’n tema wat Paulus verskeie kere in sy sendbriewe aangespreek het. Hy sê bv. in Rom.2:28-29 ~ Nie hy is ’n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. 29 Nee, hy is ’n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God. En in Kol.2:11 sê hy ~ Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens.
In Ef.2:11-13 sê Paulus ~ Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is “onbesnedenes” genoem deur dié wat hulleself “die besnedenes” noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. 12 In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld. 13 Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus.
Die bloed van die besnydenis was dus nie meer nodig nie – wat nou nodig is, is geloof in die verrese Jesus Christus en in reaksie op God se reddingsgenade en uit gehoorsaamheid aan die Woord is die opdrag in Matt.28:18 nou nodig ~ Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Gal.6:15 ~ Of ’n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ’n nuwe mens is.
As ons dan weer na Paulus se opdrag in die eerste vers kyk, sien ons dat hy sê dat ons bly moet wees. Om watter rede kan en moet ons bly wees? Die rede is dat ons die ware besnydenis hét! As ons enige rede het om in blydskap uit te bars is dit dan juis omdat ons besny is van hart – omdat ons wederbaar is en daarom moet ons blydskap in Christus wees en op Christus gefokus wees, want dit is Hy wat ons van al ons sonde gereinig het. Johannes sê in sy eerste brief dat dit Jesus se bloed is wat ons reinig van al ons sonde – let op: ALLE sonde. Niemand of niks anders se bloed kon dit vermag nie. Dit is egter ook belangrik om daarop te let, dat Jesus se bloed dit nie kon vermag het as Hy nog gelewe het nie – dit kon ons slegs reinig van ons sonde, nadat Sy bloed aan die kruis op Golgota gevloei het – m.a.w. ná Sy dood (1Joh.1:8-9). Petrus gaan voort deur te sê dat indien ons, ons sonde bely, Jesus getrou is om ons te vergewe en ons te reinig van al ons ongeregtigheid (1Pet.3:18 & 1Joh.1:9).
6. AFSLUITING:
Dit is dus baie duidelik dat daar geen ander uitweg vir die mens is om verlos te word van Sy sondeskuld nie, behalwe deur te glo in Jesus Christus en Sy soendood aan die kruis en deur ons sonde te bely en vergifnis daarvoor te vra. Ons harte moet dus besny word – dít is die ware besnydenis.
Is hierdie wete dat ons niks, absoluut niks kan doen om onsself te red, nie genoeg rede tot vreugde nie? Die feit dat God ons uit genade uitverkies het – is dit nie genoeg rede tot onuitspreeklike vreugde nie? Die feit dat ons name opgeskryf is in die hemel en ons ’n ewige lewe saam met Christus in die vooruitsig het – is dit nie genoeg rede tot ’n allesoorheersende vreugde nie?
Behalwe vir die belydenis van ons sonde en ons geloof in Jesus Christus, hoef ons hoef niks te doen nie – ook hoef ons, ons nie te laat besny nie! Ons kan maar net rus en ons verlustig in God se onuitspreeklike genade! Wees bly my broer en suster, wees bly in die Here, want ons beskik oor die ware besnydenis! En ons kan en mag nooit daarin roem nie, want God het dit uit genade aan ons geskenk!