1. INLEIDING:
In Joh.12:31 het Jesus die volgende aan Sy dissipels oor Sy komende kruisiging gesê ~ Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. In Johannes Calvyn se kommentaar oor hierdie gedeelte sê hy die volgende (ek haal aan in Engels): As if He had already finished the fight, the Lord now rejoices as the Victor, not only over fear but also over death... And although Christ had already begun to set up the kingdom of God, it was His death that was the true beginning of a properly-ordered state and the complete restoration of the world. Calvyn het onwrikbaar geglo dat die kruisgebeure, die aanvang van die hervorming en herstel van die wêreld was. Hy het dus geglo dat die kruis die beginpunt was van die herstel van die verhouding tussen die mens en God. Hierdie is dan ook deurgaans die onderliggende tema van Openbaring. Hierdie brief van Johannes is dus nie een of ander mistiese geskrif wat ons allerlei leidrade gee sodat ons die toekoms kan ontrafel nie. Nee hierdie profesie is primêr vir ons gegee, sodat ons die Persoon van Jesus Christus beter kan leer ken en kan sien hoe dat Hy Sy koninkryk deur die kerk, vestig in hierdie wêreld.
Openbaring 12 is een van die duidelikste gedeeltes in die Woord om hierdie waarheid aan ons te openbaar. Hierdie hoofstuk vertel vir ons van die heilige oorlog en hoe dit by Israel begin het (God se Ou Verbondsvolk) en hoe hulle deur die groot draak, satan geteister is. Satan het dan ook die volk vervolg omdat die ware Israel in die midde van die Ou Verbondsvolk bestaan het – hulle wat vooruit geglo het in die Saligmaker, Jesus Christus.
Satan het egter die Joodse volk om nog ’n rede vervolg en dit was omdat hy geweet het dat die Messias vanuit die volk van Israel gebore sou word en daarom wou hy die volk verwoes, sodat Jesus Wie belowe is dat Hy die satan se kop sou kom vermorsel, nie gebore sou word nie – Satan het dus in voortdurende vrees geleef! Jesus is egter gebore en Hy het uiteindelik opgevaar na die hemel en die satan het derhalwe sy fokus verskuif en gefokus op die kerk – die ware Israel van God – dit alles sien ons in 12:1-6.
Jesus se kruisiging, opstanding en hemelvaart, het ’n hemelse viering en feestelikheid tot gevolg gehad en ons behoort saam te jubel met almal in die hemel oor hierdie gebeure rondom Jesus.
Nadat Johannes die groot rooi draak gesien en sy magte gesien het, het hy ’n harde stem in die hemel gehoor. Dit was ’n stem wat feesvieringe verteenwoordig het en hoor net wat sê die stem in v.10 ~ Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Wat het hier gebeur (vanuit “hemelse perspektief”)? Christus het na die hemel terug gekeer, Satan is neergewerp op die aarde en Christus se koninkryk het gekom. Toe Adam gesondig het, het Satan die heerskappy wat aan Adam gegee was, onwettig vir homself opgeëis. Die Laaste Adam het die satan egter nou verslaan en die heerskappy en gesag terug geneem. Satan het geen gesag meer in hierdie wêreld nie en alle gesag op aarde en in die hemel behoort nou aan Christus.
Omdat Christus die oorwinning behaal het, het ons ook die oorwinning oor die satan behaal, omdat ons in Christus Jesus ingeplant is ~ Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie (Openb.12:11). Die woord “oorwin” is in die Grieks ’n juridiese woord, wat letterlik beteken om ’n gunstige uitspraak te ontvang. Die satan het die Ou Testamentiese gelowiges aangekla, maar in Christus het hulle ’n gunstige uitspraak ontvang en is hulle vrygespreek op alle aanklagte. Hierdie oorwinning is natuurlik aan die kruis behaal. Die Ou Testamentiese gelowiges het Christus en Christus alleen vertrou vir hulle geestelike oorwinning – en ons moet van hulle leer. Daar word in ons dae baie gepraat van geestelike oorlogvoering, maar wanneer ons geteister word deur die vyand, oorwin ons hom en sy bose engele, nie in eie krag nie, maar deur die kruis van Jesus en Sy Evangelie. Ons kyk na Hom en Hom alleen in ons stryd teen die vyand.
Wanneer ons dit doen, het ons oneindig baie rede om ons te verheug in Christus, want met die insig wat ons vandag deur die Woord van God het, weet ons waar ons heil lê – kennis en insig wat die Ou Testamentiese gelowiges nie oor beskik het nie, maar nogtans het hulle “vooruit” in Christus Jesus geglo en in Sy Naam gejubel. Ons kan jubel en God verheerlik, want Christus sit op Sy troon in die hemel en die vyand kan ons nie meer aankla nie.
Openb.12:12 stel ons bekend aan die materiaal wat gaan volg in 12:13-17. Johannes skryf ~ Daarom, hemel en dié wat daarin bly, verheug julle. Maar vir julle, land en see, wag daar ellende omdat die duiwel na julle toe gekom het met groot woede en met die wete dat hy min tyd het. Diegene wat in die hemel “tabernakel” (woon), het baie rede tot feesvieringe, omdat die satan nie met hulle, hul “woonplek” deel nie, maar daar heers ’n ander gesindheid op aarde, want die duiwel is uitgestort op die aarde en daaroor is hy baie kwaad – die ongeredde aardbewoners behoort opreg rede te hê om bekommerd en vreesbevange te wees.
Die satan se primêre fokus het egter nou (ná Golgota en die opstanding) verskuif na die kerk. Ons as gelowiges – die kerk van die Here Jesus Christus, het egter niks om te vrees nie. Ja, ons word ook geteister deur die satan, maar ons weet dat ons in en deur Christus reeds die oorwinning behaal het.
2. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
Openb.12:13-17 ~ Toe die draak sien dat hy op die aarde gegooi is, het hy die vrou agtervolg wat die seun in die wêreld gebring het. 14 Maar aan die vrou is twee groot arendsvlerke gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek toe, kon vlieg. Daar word sy die hele vasgestelde tyd, weg van die slang af, versorg. 15 Die slang het toe ’n stroom water soos ’n rivier uit sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word, 16 maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het. 17 Die draak was woedend oor die vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. 18 Die draak het toe op die seestrand gaan staan. In die eerste ses verse van hierdie gedeelte, sien ons dat die groot rooi draak oorwin is en dat hy sy stryd teen die “Kind” (die Messias) verloor het en nou verskuif hy sy fokus na die “vrou” wat die “Kind” in die lewe gebring het, nl. die Joodse kerk. Die kerk word egter bewaar, deurdat God aan haar twee groot arendsvlerke gegee het. Hierdie is natuurlik Ou Testamentiese beeldspraak ~ Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. 5-6 As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien, en ’n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel (Eks.19:4-6). Ons lees ook in Deut.32:10-12 ~ Hy het sy volk in die woestyn gevind, in ’n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu. Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog. 11 Soos ’n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ’n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, 12 so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ’n ander god by Hom nie. In beide hierdie gedeeltes word Israel se uittog uit Egipte beskryf in terme van arendsvlerke. Hier in Openb.12:14 word die ware Israel van God weer gered van die “nuwe Egipte” (Jerusalem – Openb.11:8), deur arendsvlerke. Hulle word gered en weggelei na ’n veilige plek (en hier moet ons weer na die O.A.V. kyk, omdat die N.A.V. hierdie gedeelte nie korrek vertaal het nie) ~ ...sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ’n tyd en tye en ’n halwe tyd. Ons het hierdie tydsduur van ’n tyd en tye en ’n halwe tyd al vantevore gesien en toe ook vasgestel dat dit dui op ’n tydperk van drie-en-’n-half jaar. Die gelowiges word uit Jerusalem na Pella in die woestyn gelei vir die duur van die verwoesting van Jerusalem.
Hierdie gebeure het egter nie die groot rooi draak se aanvalle gestop nie, want ons sien in vv.15-16 die volgende ~ Die slang het toe ’n stroom water soos ’n rivier uit sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word, 16 maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het. In Egipte het die satan die Farao gebruik in sy poging om die volk van God uit te wis. Die Farao het opdrag gegee dat al die seuntjies onder die ouderdom van 2 in die Nylrivier gegooi moes word. God het egter Sy volk beskerm. By die Rietsee (Skelfsee – O.A.V.) het Satan gedink dat hy die volk in ’n val gelei het, toe hulle te staan gekom het voor die see en die Egiptiese weermag wat in aantog was van agter. Weer red God Sy volk deur die water te kloof. Ons vind hierdie selfde beeldspraak van water, weer hier in Openb.12 waar Satan poog om die vrou te vernietig. God gryp egter weer in ~ ...maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het (v.16). Soos in die verlede ook reeds aangetoon, verteenwoordig die aarde, Jerusalem. Satan se poging om die kerk te vernietig, was geabsorbeer deur Jerusalem gedurende die Joodse oorlog. Alhoewel die “vloedgety” van die Romeinse Ryk oor Jerusalem gespoel het, het God weereens Sy kinders bewaar, want dit was die afvallige Jerusalem wat in die slag gebly het en nie “die vrou” nie. Die draak se wraak het tot gevolg gehad dat Jerusalem en die tempel vernietig is – die vernietiging van Judaïsme en die dood van 1,1 miljoen Jode, maar die gelowiges het ongeskonde daarvan afgekom – ons het voorwaar niks te vrees nie! Onthou: Dit kon nie “maanskyn en rose” vir die gelowiges in Pella gewees het nie – weggeruk van hulle besittings, werk, ongeredde vriende en familie en vir 3½ jaar in die woestyn, maar God het hulle te midde van die swaarkry bewaar! Satan smee allerlei planne teen die Bruid van Christus, maar hy is ’n blote pion in die hand van God en kan hy derhalwe niks aan God se kinders doen, sonder dat God dit toelaat nie.
Weereens moet ons besef dat die satan nie nou sommer net handdoek sal ingooi nie en daarom is hy steeds daarop uit gewees om oorlog te maak teen die oorblyfsel van die saad van “die vrou”, wat God se gebooie onderhou – hulle wat die getuienis van Jesus Christus in hulle dra – die nuwe verbondskinders van God – ONS!
Na die verwoesting van Jerusalem het die satan sy aandag op die Nuwe Testamentiese kerk begin vestig. Ons sien dit in die sewe gemeentes in Klein-Asië (Openb.2-3). Maar steeds bewaar God Sy kerk al is daar vandag omtrent geen steen meer sigbaar van die sewe gemeentes in Klein Asië nie – ons is getuienis daarvan. Die kerk is nie daar verwoes nie en het steeds van krag tot krag gegaan – ja daar was die Rooms Katolieke era en vele ander tye en gebeurtenisse wat gelyk het asof die satan weer die oorwinning kan behaal, maar telkens kom God en red Hy Sy kinders (dink bv. aan die Hervorming).
Al is ons egter getuienis van God se beskerming van die kerk teen die vyand deur die eeue heen, het die satan se aanslag teen die kerk nie opgehou nie, maar ons is steeds verseker van ’n Hoërhand wat ons beskerm – die kerk sal nooit vernietig word nie. ’n Pragtige bewys hiervan is die kerk in Sjina wat ten spyte van erge vervolging, van bykans geen gelowiges, tot bykans 50 miljoen gelowiges gegroei het en daar word steeds daagliks groot getalle nuwe gelowiges bygevoeg.
[1]Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging)Sondagaand 23 Januarie 2011