1. SKRIFLESING:
Fil.2:1-18 ~ Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing- 2 maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. 3 Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4 Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. 5 Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6 Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 7 maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8 het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. 9 Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 11 en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. 12 My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13 want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. 14 Doen alles sonder kla of teëpraat. 15 Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld 16 deur die woord van die lewe uit te dra. Dan sal ek op die dag van Christus se koms rede hê om trots te wees, omdat dit sal blyk dat ek my nie verniet ingespan het nie en nie verniet geswoeg het nie. 17 Julle geloof is ’n offer in diens van God. Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly. 18 Om dieselfde rede moet julle ook bly wees, ja, saam met my bly wees.
2. INLEIDING:
Fil.2:1 begin met die woord “aangesien” (Eng. = “therefore”) en ons weet dat wanneer ’n gedeelte met hierdie woord begin, die gedeelte wat volg, bou op ’n voorafgaande gedeelte en daardie voorafgedeelte, vind ons in 1:27, nl. ~ Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie. Paulus bepleit dus eensgesindheid onder die lede van die gemeente.
Paulus kom dan nou in hoofstuk 2 en hy brei hierop uit, deur vir hulle te sê, dat die troos wat hulle gevind het in Christus en die feit dat hulle die gemeenskap van die Heilige Gees geniet, hulle dus uit dankbaarheid, in eensgesindheid moet leef. En dan verduidelik hy in verse 1-18 hoe hierdie eensgesindheid bewerkstellig kan word en aan die basis hiervan lê nederigheid – geen eenheid kan bestaan, as ons primêre gesindheid nie een van nederigheid is nie.
3. DIE KERN VAN NEDERIGHEID:
· Eenheid in liefde (2:1-2a):
In v.2 sê Paulus vir ons dat die eerste kernbeginsel om nederigheid te bewerstellig, eengesindheid is. En eensgesindheid kan nie bewerkstellig word sonder onderlinge liefde nie.
· Eenheid in gees en voorneme (2:2b-4):
Paulus noem in vv.2b-4 vir ons ’n tweede kenmerk van nederigheid en dit is dat gelowiges een in gees en voorneme sal wees. M.a.w. dat daar nie allerlei struwelinge en redenasies sal wees wanneer bepaalde besluite geneem moet word en bepaalde doelstellings nagevolg wil word nie. Wanneer gelowiges dus in ’n gemeenteverband besluit om bepaalde aksies van stapel te stuur (of dit nou ’n uitreikingsprogram of aanvangstyd van die eredienste sal wees, ens.) ek altyd daarteen sal waak om nie mý wil op almal af te dwing nie, maar dat ek in nederigheid sal terugstaan en die meerderheidsbesluit sal ondersteun én met entoesiasme daaraan sal deelneem – die enigste uitsondering is wanneer ’n besluit bv., indruis teen die beginsels van die Woord. Ons gesindheid moet dus dieselfde wees as Paulus se woorde in Rom.12:10 ~ Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld, asook 1Tes.5:15b ~ Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense. En Ef.5:21 vat dit vir ons waarskynlik die beste saam ~ Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.
4. VOORBEELDE VAN NEDERIGHEID:
· Christus se lyde (2:5-8b):
Paulus gaan nou voort en hy gee aan die Filippense dié volmaakte voorbeeld van nederigheid wat ons te alle tye moet navolg en dit is die voorbeeld wat Christus Jesus aan ons gestel het.
Eerstens verwys hy na Christus se lyde in vv.5-8. En ons sien dat Christus nooit aanspraak gemaak het op Sy Goddelikheid nie. Hy kon klippe in brood verander het as Hy wou. Hy kon Homself van die kruis bevry het as Hy wou, maar Hy het geweet dat Sy sending na die wêreld juis was om Homself te identifiseer met die mens, maar ook om in gehoorsaamheid aan Sy Vader, nié aanspraak te maak op Sy Goddelikheid nie
In 2Kor.8:9 beskryf Paulus hierdie nederigheid van Christus nog verder wanneer hy sê ~ Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word. Christus het dus Sy heerlikheid opsy geskuif en die gestalte van ’n slaaf aangeneem. Naas Christus – waar kry ons ’n beter voorbeeld van nederigheid, as juis by ’n slaaf? ’n Slaaf durf nooit sy mond oopmaak nie, maar hy moet maar net in gewilligheid doen wat van hom verwag word.
In v.8 sê Paulus dat Christus Homself nog verder verneder het, deur volkome gehoorsaam te wees aan Sy Vader se roeping vir Hom, nl. om gekruisig te word. Hy het Homself nie hoër geag as die mens nie en Hy was bereid om ons te dien, sonder enige teëstribbeling en namens ons die volmaakte offer te bring, ten einde versoening tussen God en ons te bewerkstellig.
Ons moet nie vir een oomblik dink dat hierdie pad wat Jesus geloop het vir Hom maklik was, omdat Hy God was nie. Ons lees in Matt.26:39 die volgende ~ Hy het ’n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil. Soos wat ons pas gesien het, het Jesus nooit aanspraak gemaak op Sy Goddelikheid nie, trouens Hy het die gestalte van ’n slaaf aangeneem. Weereens kon Hy as God opgetree het en Sy kruisiging ontduik het, want Hyself sê in Joh.10:18 dat Hy by magte was om dit te doen ~ Niemand neem dit van My af nie (hier verwys Hy natuurlik na Sy Goddelikheid en dan gaan Hy voort, deur te sê), maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het. Jesus het egter in gehoorsaamheid, getrou gebly aan Sy roeping en dit is hierdie selfde gehoorsaamheid en nederigheid wat van ons as dissipels van Jesus Christus verwag word.
· Christus word verhef (2:9-11):
Omdat Christus gehoorsaam was en Hy dít wat reg is, lief het (Hebr.1:9), het die Vader Hom ...tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is (v.9). Matt.28:18 sê ook vir ons dat Jesus alle mag in die hemel en op die aarde ontvang het (Hand.2:33). Volgens Hebr.2:9 is Jesus met eer en heerlikheid gekroon en in vv.10-11 sien ons ook dat Hy ’n Naam bo alle Name ontvang het.
Ons sien in die woorde van Fil.2:11, dat die doel met Christus se vernedering en Sy uiteindelik verheffing, die eer van God is ~ ...en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. Toe Jesus gekruisig is, was die eer van die Vader voorop in Sy gedagtes, daarom dat Hy in Joh.17:1 sê ~ Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. Ons moet besef dat die kruisiging van Jesus, ’n veel groter doel gedien het as om te sterf vir sondaars – die uiteindelike doelwit met Jesus se kruisiging, is die eer van God die Vader.
Elkeen wat ’n nederige gees openbaar; wat eenheid najaag en bereid is om andere in liefde te dien, moet opoffering en selfs beproewing te wagte wees, maar aan die einde sal dit lei tot ons verheerliking, daarom dat 1Pet.5:6 sê ~ Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het.
Benewens Joh.17:1, sien ons net ’n paar verse verder iets wonderlik ~ ...Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is (v.22). Christus is verheerlik ná Sy beproewing hier op aarde, maar v.22 sê ook vir ons dat Hy, Sy heerlikheid met ons deel – Hy skenk dit aan ons! En wat is die doel daarmee? V.22b ~ ... sodat hulle een kan wees net soos Ons een is.
Josef het vir dertien jaar gedien en swaar gekry, maar na dertien jaar het God hom tweede in bevel van Egipte gemaak. Dawid was reeds in sy jeugjare gesalf as koning, maar hy het jare van swaarkry ervaar voor hy deur God verhef is tot koning van Israel. Ons mag dalk nie die vreugde en heerlikheid van ons nederigheid en diensbaarheid vandag of môre ervaar nie, maar uiteindelik sál God dit vergoed.
Eenheid tussen ons as gelowiges behoort te alle tye ook die eenheid wat tussen die Vader en Sy Seun bestaan, te verbeeld. Hierdie eenheid is ’n belofte, maar die voorwaarde is dat ons ook eers in nederigheid en in liefde moet dien.
Die vreugde van onderwerping en nederigheid spruit nie primêr voort uit die feit dat ons mekaar dien en lief het nie, maar die feit dat ons God daardeur verheerlik. Jesus sê in Matt.5:16 ~ Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.
5. RIGLYNE TOT NEDERIGHEID:
Paulus gee egter nie net vir ons die opdrag om nederig te wees nie; hy gee ook praktiese riglyne aan ons oor hoe ons dit in en deur ons lewens kan bewerkstellig.
· Leef as verlostes (2:12-13):
Eerstens sê hy in vv.12-13 dat ons as verlostes moet leef. Wat beteken dit om as verlostes te leef? Kom ons kyk net na enkele voorbeelde:
- Fil.1:5-6 ~ ...God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. Om ’n verloste te wees, impliseer dat ons gered is en daarom sal ons tot aan die einde van ons dae, verseker nie “uit die hand van die Vader val nie” – ons sál volhard tot die einde toe en is dit nie genoeg rede om in oorwinning te leef en op te tree soos verlostes nie – vol vreugde en oorwinning, maar ook in nederige erkentlikheid teenoor God!.
- Fil.4:13 ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Hoe tree ek in my daaglikse wel en weë op? Tree ek soos ’n verloorder op? Tree ek soos iemand op wat geen vooruitsigte het nie? Is ek voortdurend terneergedruk? Sien ek nie kans vir môre nie? Is ek bang? Is ek bang om iets aan te pak? Nee, ons is waarlik tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.
- Hebr.5:9 ~ En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword. Ons is uitverkies; ons is gered en God hou ons geloof in stand, maar veel meer as dit – ons is bywoners hier op aarde. Ons is reisigers op pad na ’n beter – veel, veel beter, trouens, ons is op pad na ’n volmaakte en ewige bestemming. Hoe gaan ons deur hierdie voorbereidingsfase voor ons die ewige heerlikheid binne gaan? Soos oorwinnaars! Soos iemand wat “kinderlik opgewonde” is en nie kan wag vir die “groot dag” nie (soos ’n kind wat op sy eerste seevakansie gaan).
· Hou op kla (2:14):
In aansluiting by dit wat ek so pas gesê het, asook in die lig van v.14, vind ons ’n tweede praktiese riglyn om nederigheid te bewerkstellig. Paulus sê in v.14, ...doen alles sonder kla of teëpraat. Let op wat sê Paulus ~ ...doen ALLES... sonder kla of teëpraat. Alles beteken ALLES! Om altyd te kla is nie net sonde nie, maar dit is ook nie ’n karaktereienskap van ’n nederige persoon nie. Klakouse versuur almal se dag en kan nooit bevorderlik wees vir eenheid in ’n gemeente, of gesinsopset, of in ’n vriendskap nie - dit is nooit die gesindheid van ’n dienskneg nie!
· Staan bo alle verdenking (2:15):
Ons vind ’n derde riglyn in v.15 ~ Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld. Die oomblik dat iemand se geloofwaardigheid in gedrang kom, kan hy nie meer ’n skynende lig en getuie in hierdie wêreld wees nie. En wanneer ons kla en teëpraat soos wat Paulus in v.14 sê ons nie moet doen nie, staan ons nié meer bo verdenking nie.
· Dra die Woord van die Lewe uit (2:16):
Vierdens: Wat moet ons optrede behels ten einde nederigheid in die hand te werk en derhalwe eenheid in ons verhoudinge te bewerkstellig? Vers 16 sê ~ Deur die woord van die lewe uit te dra. Die O.A.V. sê ~ ...deurdat julle die woord van die lewe vashou. In die Grieks word die idee hier deurgee van iemand wat wyn vir sy gaste aanbied. En dit is presies wat elke gelowige se optrede en dryfveer in die lewe moet wees, nl. om die redding en verlossing in Christus Jesus aan ’n verloregaande wêreld aan te bied. Om die Evangelie voor die voet uit te dra en met alle mense te deel, is ’n “gelykmaker” en werk nederigheid in die hand. Ons is geneig om agteroor te sit en nie uit te reik na die wêreld nie, want dit is ’n groot opoffering, maar wanneer ons, dit begin doen, is ons besig om ons te onderwerp aan Christus se opdrag (die “Groot Opdrag” – Matt.28:19) en dit is ’n optrede van onderwerping wat nederigheid impliseer. Hoor net wat sê Paulus, sal die gevolg wees van ons Evangelisasie dryfveer ~ Dan sal ek op die dag van Christus se koms rede hê om trots te wees, omdat dit sal blyk dat ek my nie verniet ingespan het nie en nie verniet geswoeg het nie (v.16b).
· Verheug jou in jou lyding (2:17-18):
Laastens beskryf Paulus homself in vv.17-18 as ’n drankoffer wat uitgegiet word. Daardeur wil hy sê dat wanneer ons onsself verneder en nederigheid voorop staan in ons gemoed en optrede, dit altyd gepaard sal gaan met opoffering en diensbaarheid. Ons optrede en onderwerping aan Christus en Sy Woord, moet dus van so ’n aard wees dat ons selfs bereid sal wees om te sterf daarvoor.
6. AFSLUITING:
Ons het reeds gesien dat indien lidmate nie nederigheid openbaar in hul ganse leefwyse nie, daar nie eenheid in ’n gemeente kan wees nie, maar ons moet ons sekerlik die vraag afvra, wat die voordele verbonde is aan eenheid in ’n gemeente?
- Eerstens sal eenheid in ’n gemeente God se Naam verheerlik.
- Tweedens sal dit getuienis wees van die egtheid van die Christelike godsdiens en sal die Evangelie van Jesus Christus, aanneemlik wees vir baie mense.
- Derdens sal dit lidmate se gedagtes vestig op Jesus Christus en sal hulle God se liefde, maar ook broers en susters se liefde, bemoediging en ondersteuning van mekaar ervaar.
Ons moet Jesus Christus se voorbeeld navolg en ons ontledig van onsself en die gestalte van ’n dienskneg aanneem – dan sal daar eenheid in ’n gemeente wees.