Sunday, November 14, 2010

Die Eerste Brief van Petrus - 18 (Onweerstaanbare Genade)

1. SKRIFLESING:

1Pet.5:10-14 ~ 10God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. 11Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen. 12Silvanus, wat na my mening ’n getroue broer is, het vir my hierdie kort briefie aan julle op skrif gestel. Ek het geskrywe om julle te bemoedig en julle te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan hierin vas! 13Die gemeente in Babilon, ’n uitverkore gemeente net soos julle, asook Markus, my seun, stuur vir julle groete. 14Groet mekaar met ’n soen van Christelike liefde. Vrede vir julle almal wat in Christus is! 

2. INLEIDING:

Ons het verlede week reeds begin kyk na Petrus se afsluitingswoorde in hierdie eerste brief van hom en hy sê dan nou ten slotte in v.10 ~ God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.

Petrus sê dus in geen onduidelike taal dat God dié Een is wat genade uitdeel en hierdie genade wat Hy gee, lei uiteindelik tot ons saligheid, wanneer ons, soos hy dit stel, in Christus Jesus, deel sal kry aan Sy ewige heerlikheid. Dit is so pragtig in ooreenstemming met die vyf punte van die “Leerstuk van Genade” (of die “5 Punte van Calvinisme”) en dan spesifiek met die vierde punt, nl. onweerstaanbare genade, of soos ons al in die verlede gesien het, die “I” van die Engelse akroniem “TULIP” wat ’n samevatting is van die vyf punte van die “Leerstuk van Genade”. Hierdie punte, net ter wille daarvan dat ons, ons geheue weer kan opskerp, is:

T = “Total Depravity” (Radikale Verdorwenheid);

U = “Unconditional Election” (Onweerstaanbare Uitverkiesing);

L = “Limited Atonemet” (Toegspitste Versoening);

I = “Irisistable Grace” (Onweerstaanbre Genade) en

P = “Perseverance of the Saints” (Volharding van die Heiliges).

Ek wil graag begin deur aan die hand van ’n kort verhaaltjie, hierdie hele saak van God se genade te verduidelik: ’n Ouer paar het twee pragtige kinders – dit is ’n identiese tweeling. Beide kinders is skrander, aantreklik, hardwerkend, goed gemanierd, suksesvol, talentvol. Beide kinders het van Jesus “aan moederskoot” gehoor; beide het die jeugbyeenkomste by hul kerk bygewoon, maar toe hierdie kinders volwasse raak, wil die een niks van God en Sy gebod weet nie, terwyl die ander een, die Here dien met sy hele hart en verstand en lewe! Is dit ’n realistiese prentjie? O ja, ek dink dit is, want almal van ons kan met hierdie scenario identifiseer, óf direk, óf indirek – almal van ons weet in elk geval van sulke gesinne, indien ons dit nie persoonlik in ons eie gesinne beleef nie.

Ons vind so ’n gesinsopset ook in die Woord van God, waar die een seun, God dien en die ander nie – dieselfde ouers; dieselfde milieu; dieselfde tyd in die geskiedenis – ek praat van Jakob en Esau.

Waarom gebeur dit? Waarom reageer twee kinders uit dieselfde omstandighede, op twee verskillende maniere? Waarom glo die een in Christus Jesus en die ander verwerp Jesus Christus?

Die Woord van God verskaf aan ons ’n baie duidelike antwoord hierop en dit word onweerstaanbare genade genoem.

3. AGTERGROND:

Sekerlik een van die mees bekende verhale wat onweerstaanbare genade illustreer, is dié van Lidia die purper- of wolverkoopster – kom ons lees daarvan in Hand.16:9-15 ~ Daar (dit is in Troas) het Paulus in die nag in ’n gesig ’n Masedoniese man gesien wat by hom staan en hom smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.” 10 Nadat Paulus die gesig gesien het, het ons so gou as moontlik gereed gemaak en na Masedonië toe vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig. 11 Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na Samotrake en die volgende dag na Neapolis toe. 12 Daarvandaan is ons na Filippi toe, ’n belangrike stad in daardie deel van Masedonië en ook ’n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons ’n paar dae gebly. 13 Op die sabbatdag is ons na die rivier toe buitekant die stadspoort, omdat ons gedink het daar sou ’n Joodse bidplek wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. 14 Een van dié wat geluister het, was ’n vrou met die naam Lidia, wat die Joodse geloof aangeneem het. Sy het handel gedrywe met pers wolmateriaal en was van Tiatira afkomstig. Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. 15 Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.” En sy het ons oorreed om dit te doen.

Lidia word allerweë beskou as die eerste Europese bekeerling. Sy was ’n baie suksesvolle handelaar in eksotiese pers wolprodukte. Die kleur, pers was destyds die teken van hoë amptenare en koninklikes. Die pers kleur is verkry van die “Murexskulpvis” wat volop was in die Mediterreense see by Filippi. Filippi is in die noord-oostelike kant van die huidige Griekeland, net suid van Bulgarye, geleë. Net interessantheidshalwe: Hierdie pers kleurstof is verkry van ’n klein kliertjie (Engels = hypobranchial gland) langs die rektum van die Murexskulpvis en dit het nagenoeg 12 000 van hierdie skulpvisse geneem om 1,5 gram pers kleurstof te versamel!

Ons het dan gesien, dat Paulus en sy vriende ná ’n gesig wat Paulus gehad het, na Filippi gaan. Hulle het egter nie sommer net in die stad ingevaar en begin evangeliseer nie. Hulle gaan eers na die rivier om hulleself te verfris na ’n lang reis en ook om waarskynlik te bid en planne te beraam voor hulle in die stad ingaan, want dit is nie alleen belangrik om te weet waar God wil hê dat ons sal werk nie, maar ook wanneer en hoe.

Die Joodse gemeenskap in Filippi moes baie klein gewees het, want daar was nie eens ’n sinagoge nie (die vereiste: Tien Joodse mans, dan kan ’n sinagoge gebou word) – die enigste bymekaarkomplek vir gebed vir die Jode, was by die rivier en dit is dan ook hier waar Paulus en sy vriende, op ’n klompie Proselitiese vroue afkom (heidene wat tot die Judaïsme bekeer is).

Paulus het dadelik die Evangelie van Jesus Christus met hierdie vroue gedeel en wat vir ons van belang is, is vers 14c ~ Die Here het haar (dit is Lidia) vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak.

Die Here het dus Lidia se hart oopgemaak vir die waarheid en sy het geglo en is gered. Sy het haar onbeskroomd geïdentifiseer met Jesus Christus en is daar en dan gedoop.

Ons moet vir geen oomblik dink dat Lidia tydens haar wedergeboorte, passief was nie – nee, sy het aandagtig geluister na die Woord wat Paulus met haar gedeel het – en daardie selfde Woord het haar vry gemaak en haar as sondaar na haar Redder gebring – dit is presies in ooreenstemming met Joh.5:24 ~ Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.

Paulus skryf aan die broeders in Tessalonika ~ Ons moet God altyd vir julle dank, broers. Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo (2Tes.2:13-14). Dit is presies dieselfde wat hier met Lidia gebeur het - God het Lidia eensydig en uit genade gered.

Dit is ook presies dieselfde wat die Here met die dissipels in Luk.24:45 gedoen het ~ Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. Hierdie woord “open” of “opmaak”, is in die Grieks διηνοιξεν (dianoigō), wat verwys na ’n dubbel voudeur waarvan albei deure oopgemaak word. Maar dit beteken verder, dat net Jesus hierdie deur kan oopmaak.

Ook in Lidia se geval het ons dan gesien, is sy nie alleen ontvanklik gemaak vir die Woord nie, maar haar hart is ook geopen. In die lewe van ’n onbekeerde, is sy hart net so gesluit as wat Jerigo aanvanklik vir die Israeliete gesluit was ~ Jerigo was gesluit en verskans teen die Israeliete; niemand het uitgegaan of ingekom nie (Jos.6:1), maar as Christus egter deur Sy Gees na so ’n onbekeerde kom, sál hy ontvanklik raak vir die Woord en sál sy hart verander, daarom dat ons in Openb.3:20 lees ~ Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.

Wat was die gevolg van hierdie wonderwerk in Lidia se lewe?

· Sy het met erns kennis geneem van God se Woord en sy het nie alleen net kennis geneem daarvan nie – sy het die Woord onmiddellik begin toepas in en op en deur haar lewe – die feit dat sy die kennis begin toepas het, was bewys dat daar vrug in haar lewe was – dit help ons nie ’n snars, as ons met al die wonderlikste kennis van die Woord en teologie in ons koppe sit, maar ons lééf dit nie. Nancy Leigh DeMoss sê in haar boek “Lies Women Believe and The Truth That Sets Them Free” (p.122), die volgende: The essence of Satan’s deception is that we can live our lives independently of God. The Enemy doesn’t care if we “believe” in God, if we are doctrinally orthodox, or if we fill our schedules with a lot of “spiritual activities,” as long as he can get us to run on our own steam, rather than living in conscious dependence upon the power of the Holy Spirit. Sy gaan voort en sê: If he can get us to try to “live the Christian life” without cultivating an intimate relationship with the Lord Jesus, he knows we will be spiritually impotent and defeated, If he can get us to do a great many things “for God” without consciously seeking the will of God through His Word and prayer, we may stir up a lot of religious dust, but we won’t do Satan’s kingdom any real damage. If he can get us to operate on our own thoughts and ideas, rather than seeking the wisdom that comes from God, he knows we will eventually get sucked into the world’s destructive way of thinking.

· Lidia bely dat sy in Christus Jesus glo; sy laat haar doop en word deel van die Liggaam van Christus (Hand.16:15).

· Derdens het sy goedgesindheid teenoor Paulus en sy medewerkers betoon en hulle genooi om by haar aan huis te kom bly, trouens sy het daarop aangedring dat hulle daar moes kom bly – die O.A.V. sê, sy het hulle gedwing (Hand.16:15). Dit laat ’n mens dink aan Abraham wat daarop aangedring het dat die Engele by moes oorbly in Gen.18:3 ~ Hy het gesê: “Menere, u sal my ’n guns bewys deur nie by my verby te gaan nie.”

Ons sien dus duidelik deur hierdie pragtige verhaal van Lidia, dat hierdie vierde punt in die Leerstuk van Genade, nl. onweerstaanbare genade, ʼn logiese gevolg van die uitverkiesing is. Hierdie logiese gevolg is egter veel meer as blote teologiese logika – dit is suiwer Bybelse lering en geloof. Hierdie Leerstuk is dus nie bloot net ʼn reeks logiese punte wat deur ʼn klomp slim teoloë neergepen is nie – nee, dit is suiwere “Gods-openbaring” wat stelselmatig deur die Woord van God ontvou word.

4. BETEKENIS:

Wat dan, beteken dit as ons praat van onweerstaanbare genade? Ons weet dat wanneer die Evangelie in die kerk of daarbuite, uitgedra word, of wanneer die Woord gelees word, nie almal positief op hierdie oproep tot redding reageer nie. Nie elkeen word oortuig van sonde en aan sy nood aan Christus Jesus nie. Dit bevestig dan juis vir ons die feit dat daar twee roepings is. In die eerste plek vind ons ʼn uiterlike roeping en tweedens vind ons ʼn innerlike roeping.

E.g. verwys na die woorde wat deur die draer van die Evangelieboodskap gebring word. Hierdie woorde wat gepreek of uitgedra word, kan in verskillende harte, op verskillende wyses werk, wat ʼn verskeidenheid resultate tot gevolg kan hê. Daar is egter een ding wat dit nié kan doen nie – en dit is om redding van ʼn sondaar se siel te bewerkstellig. Om dit te bewerkstellig, moet die uiterlike roeping gepaardgaan met die innerlike roeping van die Heilige Gees, want dit is Hy wat oortuig van sonde en geregtigheid en oordeel (Joh.16:8). En wanneer die Heilige Gees uit genade iemand roep, is daardie roeping onweerstaanbaar – dit kan nie teengestaan word nie, want dit is ʼn manifestasie van God se onweerstaanbare genade.

Hierdie feit word keer op keer deur God se Woord bevestig:

· Joh.6:37 ~ Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. Elkeen wat dus deur die Vader uitverkies is, word aan die Here Jesus gegee en wanneer hulle aan Christus gegee is, sal hulle nie weer weggewerp word nie.

· Joh.6:44 ~ Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. Hier sê die Here Jesus vir ons, dat niemand uit sy eie na Hom kan kom nie – hulle kan slegs na Hom kom, as die Vader hulle na Jesus trek.

· Joh.6:45 ~ By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. Mense mag die uiterlike roeping van ʼn prediker hoor, máár dit is slegs diegene wat deur die Vader geleer word, wat sal reageer en na Christus kom. Daarom dat Jesus in Matt.16:17 gesê het ~ Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.

· Rom.8:14 ~ Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.

· Gal.1:15a ~ Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep.

· 1 Pet.2:9 ~ Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

· 1 Pet.5:10 ~ God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.

5. TEN SLOTTE:

Die Arminiane glo dat hierdie roeping van die Evangelie van Jesus, enersyds weerstaan kan word, máár dat dit andersyds ook aanvaar kan word – dit is dus die mens se keuse. Ons glo egter ook dat dit weerstaan kan word, inteendeel, ons glo dat alle mense dit van nature weerstaan – altyd weerstaan, omdat dit inherent deel van ons menslike en sondige natuur is en daarom is onweerstaanbare genade noodsaaklik om gered te word. M.a.w., een of ander “Mag” wat veel, veel groter is as ons geaardheid; as ons weerstand, is nodig om ons só aan te raak, dat ons nie anders kan as om in te gee en oor te gee nie.

Daar is drie “Magte” aan’t werk tydens uitverkorenes se redding:

· Die mens se wil.

· Die satan se wil.

· God se wil.

Die vraag is, wie gaan wen? Indien God se wil nie die oorwinnaar is nie, dan moet die duiwel se wil die oorwinnaar wees, want sy wil is veel groter as ons wil. Daarom kan slegs diegene wat deur God uitverkies is, as oorwinnaar uit die stryd tree en gered word, want God die Vader het diegene wie Hy uitverkies het, so lief, dat Hy Sy Seun Jesus Christus gestuur het om aan die kruis op Golgota, namens hulle, God se vloek op hul sonde op Hom te neem, waarna Hy die Heilige Gees gestuur het om elke uitverkorene te dring om Christus se offer namens hulle, te aanvaar om sodoende gered te word.

Daarom my liewe vriend en vriendin – jy wat weet dat jy nie gered is nie – indien jy vandag die roepstem van die Heilige Gees in jou hart hoor, moet jy nie uitstel nie, maar gehoor gee aan hierdie roepstem van God en jou lewe oorgee aan Jesus Christus en soos Lidia, gehoorsaam wees aan Hom en jou geloof in Hom in die openbaar verklaar deur o.a. gedoop te word. Dit is nie te laat nie en die feit dat jy vandag in jou hart aangeraak word, is bewys dat die Heilige Gees jou roep en vir jou sê dat God se onweerstaanbare genade nou in jou hart werksaam is.

En jy en ek wat uitverkies is en die knie voor Christus Jesus gebuig het – hoe raak hierdie feit van onweerstaanbare genade my en jou? Ons moet voortdurend in gedagte hou dat Jesus Christus, Sy lewe vrywillig afgelê het vir ons sonde en daarom moet ons voortdurend ons lewe leef in hierdie lig. Ons lewe (in al sy fasette) moet ’n lewe van dankbaarheid wees, toegewyd aan Christus Jesus. My gedagtes en my optrede; my spreke en my “luister” moet elke dag van my lewe, Christusgesentreerd wees en dit impliseer dat ek na Sy Woord sal luister en nie net toelaat dat dit my ore kielie nie, maar dat ek elke jota en elke tittel daarvan sal begin uitleef, ten einde my dankbaarheid teenoor die Vader en Sy Seun, Jesus Christus te betoon, vir onverdiende genade ontvang.