Sunday, November 21, 2010

Paulus se Brief aan die Filippense - 01 (Paulus se Gebed)

1. AGTERGROND:

Ons gaan D.V. vir die volgende paar weke na Paulus se brief aan die Filippense kyk. Hierdie brief is een van dertien briewe wat Paulus geskryf het en hierdie brief is een van vier briewe wat bekend staan as sy “gevangeskapbriewe” (die ander drie is Efesiërs, Kolossense en Filemon). Paulus rig hierdie brief van hom aan ’n gemeente in die provinsie van Masedonië en wel in die dorp Filippi. Filippi is geleë aan die noordekant van die huidige Griekeland. Die antieke naam vir Filippi was Crenides wat “fonteine” beteken en was dan ook bekend vir sy verskeie fonteine wat daar in die berg waarop die stad gebou was, ontspring het.

Ons het ook reeds gesien dat die stad se inwoners hoofsaaklik uit Romeine bestaan het en dat daar bitter min Jode in die stad was – trouens, daar was waarskynlik minder as tien Joodse mans in die dorp en daarom was daar nie ’n sinagoge waar die Jode kon aanbid nie en dit het tot gevolg gehad dat die vrouens sommer langs die rivier bymekaar gekom het om te bid (die minimum getal mans wat benodig was om ’n sinagoge te kon bou, was 10 mans).

Hierdie brief staan allerweë bekend as Paulus se “blydskapsbrief”, omdat die gemeente in Filippi vir hom moed gegee het vir die toekoms, maar ook omdat dit die ware Christelike blydskap beklemtoon het. Nie minder nie as sestien keer skryf Paulus van blydskap en verblyding en hierdie boodskap van blydskap vind sy hoogtepunt in 4:4 wanneer Paulus hierdie bekende woorde neerskryf, nl.~ Verbly julle altyd in die Here ek herhaal: Verbly julle! (O.A.V.).

Paulus het, soos die meeste van die ander apostels, vreugde én oorvloed beleef, maar terselfdertyd ook uiterste vorme van beproewing en armoede, maar steeds sê hy Verbly julle altyd.... Trouens, Paulus skryf hierdie blydskapsbrief van hom, vanuit die tronk! Paulus het onder alle omstandighede hom verbly in die Here en sy vreugde het hy daarin gevind, deur hom in te span om Christus te ken en die krag van Sy opstanding te ondervind, al beteken dit dan ook dat hy deel moet hê aan Christus se lyding (3:10).

Die gemeente in Filippi het reeds tydens Paulus se tweede sendingreis tot stand gekom en was die eerste gemeente op Europese bodem. Dit is ook hier waar Paulus vir Lidia die handelaar in pers wolprodukte, ontmoet het. Ons lees in Hand.16:20-24 van Paulus en sy medewerker, Silas se beproewing in Filippi en hoe hulle in hegtenis geneem is; lyfstraf ontvang het en uiteindelik in die tronk gegooi is omdat hulle kwansuis wet en orde in gedrang gebring het. Dit is egter ook hier dat God hulle red uit die tronk deur ’n aardbewing te stuur en hul boeie van hul afgeval het en die tronkbewaarder in die proses tot bekering gekom het.

Ten tyde van die skrywe (60-61n.C.) van hierdie brief, verkeer Paulus onder huisarres in Rome. Die gelowiges in Filippi het ’n besondere verhouding met Paulus gehad en daarom stuur hulle saam met Epafroditos (4:15; 2Kor.11:9) ’n finansiële bydrae en nuus vanuit die gemeente aan hom. Epafroditos het ’n tyd lank by Paulus gebly maar verlang naderhand só huis toe (2:26-27), dat hy afskeid van Paulus neem. Paulus stuur hierdie blydskapsbrief saam met Epafroditos na Filippi (die ander gevangeskapbriewe is waarskynlik deur Tigikus na hul onderskeie bestemmings geneem).

In hierdie brief word ’n paar dinge vermeld:

· Eerstens bedank Paulus hulle vir hulle ruim finansiële bydrae (4:10, 18).

· Hy sê hoe dit met hom gaan en dat hy blydskap ervaar ten spyte van sy huisarres en dat sy lesers in hierdie blydskap moet deel (1:12-26).

· Hy gee verdere geestelike leiding aan hulle vir die praktiese uitlewing van hulle Christenskap (1:27-2:18; 3:1-4:9).

· Laastens oorreed hy die Filippense om Epafroditos terug te ontvang, want hulle het verwag dat hy Paulus langer moes ondersteun en van hulp wees (2:25-30).

2. SKRIFLESING:

Fil.1:1-11 ~ Van Paulus en Timoteus, dienaars van Christus Jesus. Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens. 2 Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! 3 Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. 4 In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, 5 omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. 6 Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. 7 Dit is ook heeltemal reg dat ek so oor julle almal dink, omdat julle my na aan die hart lê. Julle deel immers almal saam met my in die genade wat God my gee, sowel in my gevangenskap as in my verdediging van die evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan. 8 God is my getuie, Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart. 9 Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10 sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11 en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.

3. INLEIDING:

In hierdie inleidende gedeelte van Paulus se brief, vind ons ’n aangrypende gebed wat hy vir die gemeente in Filippi bid en ons sal na hierdie gebed onder vier opskrifte kyk, nl.:

· Vir wie Paulus bid.

· Hoe hy bid.

· Waarom hy bid.

· Wat hy bid.

4. VIR WIE BID PAULUS?

Paulus begin sy brief op die tipiese wyse waarop briewe destyds geskryf is, nl. om te sê van wie die brief kom – in hierdie geval, van homself en Timoteus wat by hom was – en dan het die skrywer ook die ontvangers van die brief vermeld en in hierdie geval was dit die uitverkore gelowiges, asook die herders en die diakens van die gemeente in Filippi.

In hierdie openingsverse van die brief is daar veel meer vir ons verskuil as wat op die oog af blyk. Onthou, Paulus is onder huisarres, maar nogtans is sy getroue dissipel by name Timoteus by hom, asook die verteenwoordiger van sy “liefling-gemeente”, nl. Epafroditos. Hierdie scenario behoort ons as gelowiges diep aan te spreek, want hier het ons ’n situasie waar ’n broer in die Here Jesus in nood en moeilike omstandighede verkeer, maar steeds verlaat en versaak sy broers in die Here hom nie – hulle staan hom by en hulle ondersteun hom in sy nood. Ons moet ons ook voortdurend afvra hoe ons, ons broers en susters wat beproewing ervaar, kan ondersteun en bemoedig? Ons moet egter ook in gedagte hou dat Paulus se twee vriende by hom was – hulle was in sy teenwoordigheid om hom ín sy omstandighede te ondersteun – nie daar ver nie. En die wat nie self daar kon wees nie – hulle stuur vir Paulus ’n geskenk en ’n verteenwoordiger.

Hierdie openingswoorde van Paulus openbaar egter nóg ’n paar waarhede aan ons. Eerstens skryf hy hierdie brief aan almal wat deur Jesus Christus aan God behoort. In die oorspronklike teks staan daar eintlik dat hierdie gelowiges, “heiliges” is. Die NKJV en die NAV stel dit pragtig en korrek wanneer dit sê ~ ...all the saints in Christ Jesus, of die heiliges in Christus Jesus. Die feit dat hierdie gelowiges ook heiliges genoem word impliseer nie dat hulle besondere gelowiges is wat ’n ent verhewe is bo ons en ander gelowiges nie. Nee, hierdie titel kom ons en elke ander gelowige ook toe – ons is inderdaad “heiliges” en dit beteken dat ons deur die soendood van Jesus Christus, reeds heilig verklaar is deur die Vader. Dit impliseer egter óók, dat ons as heiliges ons ook daarop sal toelê om heilige lewens te lei – ons sal met alles in ons, ons toespits op heiligmaking in ons lewe.

Die woord heilig (agioV = hagios) beteken om afgesonder te word. Jesus sê in Joh.17:19 (OAV) ~ En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees. Jesus sê dus hier dat Hy Homself opsy gesit en afgesonder het om redding aan ons te verskaf. Dit impliseer dus verder, dat ons deur God afgesonder is deur die redding wat ons van Christus ontvang het, om ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom (te wees en), ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig (1Pet.2:9). God het ons dus opsygesit vir Homself – ons geheilig en afgesonder – vir Hom.

Tweedens rig Paulus ook hierdie brief aan die ouderlinge en die diakens in die gemeente. Met hierdie geadresseerdes sien ons dus ook dat daar alreeds van die vroegste tye van die kerk reeds ouderlinge en diakens in die kerk werksaam was – trouens die Dooi See Rolle wat voor 70 n.C. geskryf is, maak reeds melding van hierdie ampsdraers in die kerk. Die feit dat Paulus hierdie brief ook rig aan die gelowiges, en die woordjie “met” die ouderlinge en diakens, dui op die samewerking wat daar tussen leiers en lidmate geheers het – daar was dus nie sprake van ’n eensydige optrede en aksie en werk nie – nie nét die leierskap, sonder deelname van die lidmate nie. Ook nie nét die lidmate, sonder die leieskap nie. Daar was dus samewerking en lidmate het “ingekoop” in die gemeente – hulle het eienaarskap aanvaar vir hulle gemeente!

Paulus moes baie keer aan sy geliefde gemeente in Filippi gedink het – van die eerste keer toe hy die klompie vroue daar langs die rivier gekry het en hy kort daarna vir Lidia gedoop het. Nog later kry hy te doen met die slawemeisie wat ’n waarsêer-gees in haar gehad het. Dan was daar Silas wat saam met Paulus gekasty was en wat ’n leier in die gemeente was.

Paulus se verbintenis met die gemeente het oor ’n lang tydperk gekom en elke keer as Paulus dink aan hierdie gemeente, het hy gebid en het hy God gedank vir die genade en geestelike seën wat God oor hulle as gemeente uitgestort het (v.1). Paulus het die mens se hart baie goed geken en hy het geweet dat daar niks goeds in enige mens is wat God kan behaag nie. Paulus was egter ook bekend met God se genade en daarom is hy so dankbaar en opgewonde oor God se genade in die redding van sy dierbare vriende in Filippi en daarvoor dank hy God.

Paulus is hier besig om vir sy lesers en daarom ook vir ons, ’n pragtige en subtiele les te leer oor die formaat van ons gebede. Paulus begin sy gebed met danksegging en lofprysing. Geen omstandigheid; geen gevangenisskap kan hom daarvan weerhou om heel eerste eer aan God te bring nie! Ten spyte van ons omstandighede – hoe seer ook al; hoe duister ook al; hoe uitsigloos ook al; hoe pynlik ook al – niks behoort, kan en mag ons ooit daarvan weerhou om God te loof en te prys en te dank vir Sy genade wat Hy oorvloedig in ons lewe uitstort nie, want geen situasie in ons lewe kan vergelyk word met God se reddingsgenade nie! En ten spyte van al die ander moontlike negatiewes in my lewe, is daar soveel ander dinge wat God in Sy groot barmhartigheid aan ons skenk, sonder dat ons dit hoegenaamd verdien!

Paulus sê egter ook dat hy elke keer bid wanneer hy aan sy vriende dink (v.3). Ons moet ook elke keer wanneer ons aan ons vriende – ons broers en susters – dink, vir hulle bid. Dit is nie toevallig dat hul name en beelde in ons gedagtes opkom nie – ek glo van harte dat dit die Heilige Gees is wat diesulkes op ons harte lê en daarom wil Hy hê dat ons vir hulle moet bid wanneer ons aan hulle dink.

Let verder daarop dat Paulus in v.3 bid en sê ~ Ek dank my God. Hy sê my God. Ware danksegging en lofprysing begin dus by ’n persoonlike verhouding met Hom en word net in stand gehou en verder versterk deur die band wat daar bestaan tussen my en ...Christus wat in my lewe... (en) wat Sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê (Gal.2:20).

5. HOE BID PAULUS?

Ons lees in v.4 ~ In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal. Die vraag wat ons hier vir onsself moet afvra is, “hoe bid Paulus vir die gemeente in Filippi?” Hy verskaf self die antwoord: Hy bid met ’n hart vol vreugde. Paulus gee deur hierdie opmerking aan ons ’n kykie in sy heilige wandel met die Here. Ten spyte van sy besige lewe het hy steeds tyd en máák hy tyd om vir sy broers en susters te bid. En let op, dat hy sê dat hy vir almal bid – hy slaan niemand oor nie – almal!

Hy bid egter nie net vir almal, elke keer wanneer hy aan hulle dink nie, maar hy doen dit ook met blydskap en vreugde. Blydskap is een van die vrugte van die Heilige Gees en dit is die Heilige Gees wat hom dryf om vir andere te bid en daarom doen hy dit met blydskap.

Kom u agter watter wonderlike en voorbeeldige verhouding daar tussen Paulus en God bestaan? Ongeag sy omstandighede, gaan dit altyd oor Christus Jesus, want sy “alles” – sy verlede, sy hede en sy toekoms, word deur God aan Hom uit genade geskenk en hierdie intieme wandel en afhanklikheid van God word in vreugde volvoer. En só ’n intieme wandel met God, het nóg meer vreugde tot gevolg!

6. WAAROM BID PAULUS?

Ons het reeds gesien dat Paulus vir sy broers en susters bid, omdat hy hom verheug oor God se genade in hul lewens en omdat die Heilige Gees hulle op sy hart druk. Daar is egter nog ’n rede waarom hy vir hulle bid en ons vind die antwoord in v.5 ~ ... omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie. Die feit dat hierdie gemeente nie alles net oorgelaat het aan die bediening van Paulus nie, maar dat hulle met entoesiasme saamgewerk het met Paulus, het nog dieper onderlinge verhoudinge tot gevolg gehad.

Paulus kon daarop staatmaak dat die gemeentelede met ywer en entoesiasme saam met hom daaraan gewerk het om die Evangelieboodskap uit te dra – dit blyk duidelik die geval te wees as ons o.a. ook na Fil.4:3 kyk ~ Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens van die evangelie, net soos Klemens ook en my ander medewerkers, wie se name in die boek van die lewe staan.

Hierdie samewerking aan die verkondiging van die Evangelie het egter ook ’n ander faset en dit kom duideliker na vore in ander vertalings en wel ook in die OAV ~ ...In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, 5oor julle gemeenskap aan die evangelie van die eerste dag af tot nou toe. Dit gaan dus ook daaroor dat hierdie gemeente saam erns gemaak het met die Woord van God. Hand.2:42 sê vir ons (en ek lees voor uit die NASB omdat dit so pragtig daarin gestel word) ~ They were continually devoting themselves to the apostles’ teaching and to fellowship, to the breaking of bread and to prayer. Hierdie gemeente was dus “uitverkoop-ernstig” oor die Woord van God; die prediking; gemeenskap van die gelowiges; die sakramente en die gebed – ’n voorbeeld van ware kerkwees. Kerkwees en alles wat daarmee gepaard gaan, het dus absoluut voorop gestaan in hierdie gelowiges se lewe – alle ander dinge het tweede viool gespeel.

7. WAT BID PAULUS?

Ten slotte wil ek hê dat ons sal kyk na wat Paulus vir sy broers en susters in Filippi bid.

· Eerstens sien ons in v.6 dat hy bid ... dat God, wat die goeie werk in (hulle) begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. Hierdie vers is waarskynlik dié mees bemoedigende teksvers in die ganse Bybel, want hierdie vers is die “basis-vers” vir die leerstuk oor die volharding van gelowiges (die “P” van die Engelse akroniem “TULIP” – sien verlede week se preek – 14 Nov.2010).

Ons as mense pak só dikwels dinge aan, net om dit na ’n rukkie maar te laat vaar – dink aan oefenapparate wat ten duurste aangekoop word. Dink aan nuwejaarsvoornemens, ens. God is egter nie so nie – Hy begin nooit iets wat Hy nie deurvoer nie – Nooit nie! Jesus het self in Joh.10:27-29 die volgende gesê ~ My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. 28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29 Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.

Hier in Fil.1:6 gaan dit egter oor meer as bloot net die volharding van die gelowiges, want Paulus sê dat God ’n “goeie werk” in die gelowiges begin het. Wat is hierdie “goeie werk”? Ons vind die antwoord baie duidelik hier in 1:6, maar Rom.8:29 is nog duidelik daaroor ~ Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. God se doel met ons uitverkiesing is dus dat ons in hierdie lewe gelykvormig sal word aan Jesus Christus. En ons kan net gelykvormig word aan Christus en groei in heiligmaking, as ons ten volle op Christus vertrou vir ons geestelike groei en heiligmaking.

Dit is dan presies ook wat Paulus bid, nl. dat die gelowiges sal leer om op Christus te vertrou vir hul heiligmaking en hulle kan volkome op Hom vertrou hiervoor, want wanneer God ’n werk begin, handel Hy dit volmaak af.

· Tweedens bid Paulus in v.9 en 10, dat hulle gevul sal word met liefde. Hy bid egter dat hulle gevul mag word met oorvloedige liefde, maar ook met onderskeidende liefde. Om te beskik oor onderskeidende liefde is om te onderskei tussen dít wat reg en verkeerd is en jou “hart te verloor” op dit wat reg is.

Laastens bid Paulus in v.11 dat die gemeente in Filippense, die vrug van die wedergeboorte sal dra. Wat Paulus dus hier sê, is dat die gelowiges se wedergeboorte nooit maar net "kopkennis en –oortuiging” mag wees nie, maar dit moet uitloop op vrug. Die wêreld moet dus nie net hoor van ons wedergeboorte nie – hulle moet dit eerstens en laastens in en deur ons lewe sien – hulle moet dit ervaar. En wat meer is, hierdie vrug moet meer en meer word. Joh.15:1-2 sê ~ Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2 Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Hierdie groeiproses gaan gewoonlik gepaard met seerkry – die snoeiproses – maar hou moed, daar gaan meer vrug aan die einde van die dag wees!