1. SKRIFLESING:
Fil.2:19-30 ~ Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na julle toe te stuur, sodat ek ook rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe dit met julle gaan. 20 Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie. 21 Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie. 22 Maar julle weet hoe betroubaar Timoteus is. Soos ’n kind saam met sy vader, het hy saam met my die saak van die evangelie gedien. 23 Ek hoop om hom dadelik te stuur, sodra ek gesien het hoe my sake verloop. 24 En ek vertrou dat, as die Here wil, ek self ook gou na julle toe sal kan kom. 25 Ek ag dit noodsaaklik om die broer Epafroditos, my medewerker en medestryder wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan, na julle toe terug te stuur. 26 Hy verlang gedurig na julle almal en bly hom daaroor kwel dat julle van sy siekte gehoor het. 27 Hy was ook inderdaad doodsiek, maar God het Hom oor Epafroditos ontferm, en nie net oor hom nie, maar ook oor my sodat ek nie verdriet op verdriet sou hê nie. 28 Ek stuur hom dan nou ook so gou moontlik terug, sodat as julle hom weer sien, julle weer bly kan wees en ek minder besorg. 29 Ontvang hom met oop arms as ’n broer in die Here, en bejeën manne soos hy met agting, 30 want deur sy werk vir Christus het hy by die dood omgedraai. Hy het sy lewe gewaag om my die hulp te verleen wat julle self nie kon gee nie.
2. INLEIDING:
In die laaste twaalf verse van hoofstuk 2, vestig Paulus sy lesers se aandag op twee gelowige medewerkers wie se lewens ons kan navolg. In vv.19-24 konsentreer Paulus op Timoteus en in vv.25-30 skenk hy aandag aan Epafroditos. Wanneer Paulus skryf oor hierdie twee manne, sê hy vir ons dat beide hierdie manne se lewens so onbesproke is en dat beide Christus Jesus só weerspieël in en deur hul lewens, dat van hulle ook gesê kan word soos wat Paulus in 2Kor.3:2 van die Korintiërs sê ~ Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. Hulle lewens is onbesproke en deursigtig – “what you see is what you get” en dit wat die lesers “kry”, is ’n onbesproke en wonderlike getuienis en navolgenswaardige karakter.
3. TIMOTEUS:
Timoteus was ’n jongman wat Paulus dikwels op sy sendingreise vergesel het. Paulus is vol lof vir Timoteus. Hoor wat sê hy in vv.19-20 ~ Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na julle toe te stuur, sodat ek ook rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe dit met julle gaan. 20 Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie.
Hierdie twee verse sê vyf dinge van Timoteus:
· Eerstens sê Paulus dat hy niemand anders soos Timoteus het nie. Om so ’n stelling te maak kan mense verskillend oor Timoteus laat dink. Paulus kan hiermee bedoel dat Timoteus net soos hy is – hy dink soos Paulus; hy tree soos Paulus op, ens. Of dit kan beteken dat Timoteus een uit ’n duisend is. Of dit kan beteken dat Paulus niemand anders as Timoteus tot sy beskikking het om te doen wat hy wat Paulus is, graag gedoen wil hê nie. Of dit beteken dat Timoteus “op dieselfde bladsy” as Paulus verkeer – m.a.w., Timoteus is eens met Paulus t.o.v. die basiese Christelike leerstellinge. Ek glo dit is laasgenoemde twee.
Daar kan geen sprake wees van samewerking tussen twee mense, as hulle nie dieselfde visie navolg nie; as hulle nie in geloof en oortuiging saamstem nie. Maar Timoteus is van harte eens met Paulus in sy oortuigings en sy doelwitte. En wat was Paulus se doelwit? Om die Evangelie van Christus Jesus uit te dra aan ’n verloregaande wêreld – hy stel hierdie doelwit pragtig in 2Kor.4:5 ~ Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. En met hierdie doelwit vereenselwig Timoteus hom heelhartig en daarom kan hy en Paulus sonder enige probleme saamwerk, trouens Paulus is só oortuig van Timoteus se hartgesindheid, dat hy met oortuiging kan sê, ek het niemand anders aan wie ek hierdie spesifieke taak kan toevertrou nie, nl. om na die gemeente in Filippi te stuur. Hierdie vertroue wat Paulus in Timoteus gehad het word vir ons ondubbelsinnig uitgespel in 2Tim.3:10 wanneer Paulus van Timoteus sê ~ Maar jy het my nagevolg in leer, lewenswandel en lewensdoel, in geloof, geduld, liefde en volharding.
Dit is só belangrik dat elkeen van ons, ons harte voortdurend moet ondersoek ten einde vas te stel of ons steeds God se Koninkryk en Sy geregtigheid voorop in ons lewe stel. En wat ons verhoudinge met ons broers en susters betref, moet ons in die woorde van Ps.34:15, voortdurend doen wat goed is en vrede soek en najaag. En soos wat ons verlede week ook gesien het, moet ons te alle tye ’n gesindheid van nederigheid en diensbaarheid teenoor ons naaste uitleef. Ons gesindheid moet altyd dieselfde wees as wat Paulus in 1Kor.10:24 vir ons sê dit moet wees ~ ’n Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander.
· Tweedens sien ons dat Paulus, Timoteus ten volle vertrou het en daarom kan hy hom met vrymoedigheid wegstuur na Filippi. Dit moet egter ook bygesê word, dat Paulus niemand anders gehad het om te stuur nie en dit is só hartseer. Timoteus het die gawes gehad om gestuur te word, maar wat so tragies was, was dat hy die enigste een was wat Paulus kon stuur. En waarom was dit so tragies? Omdat Paulus vir ons self die rede in v.21 verskaf ~ Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie. Die feit dat hy Christus altyd voorop gestel het, het tot gevolg gehad dat Paulus hom met enige iets kon vertrou
· Ons vind ’n derde eienskap in v.20b wanneer Paulus sê ~ Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie. Timoteus was iemand wat van nature omgegee het vir andere.
· Timoteus was ook iemand wat vertrou kon word en hy het nooit sy eie belang gesoek nie en dit bring ons by ’n vierde karaktereienskap van Timoteus wat vir ons navolgenswaardig is, nl. sy nederigheid en hy doen dit t.w.v. die eer van God. Paulus sê in v.21 ~ Al die ander soek net hulle eie belange.... Timoteus het nie sy eie belang gesoek nie, net die van Christus Jesus en andere s’n. Hierdie gesindheid is veral een wat vir elkeen van ons geld wat in ondergeskikte posisies verkeer – by die werk; in die huwelik; in ons gesinsopset; in die gemeente.
Daar bestaan ’n geweldige groot behoefte in ons dag aan opregte mense op wie ’n mens kan staatmaak – wie jy kan vertrou. Soveel te meer bestaan daar ’n geweldige behoefte in ons dag aan mense wat nie hul eie belange voorop stel nie, maar bereid is om die gestalte van ’n dienskneg aan te neem.
· Timoteus het ook in die vyfde plek, ’n betroubare karakter. Paulus het enersyds niemand anders om op hierdie belangrike sending na die Filippense toe te stuur nie, maar andersyds het Paulus ook genoeg vertroue in hierdie jongman dat hy met oortuiging aan die gemeentelede kan sê ~ Maar julle weet hoe betroubaar Timoteus is (v.22a).
· Ons lees in v.22b van nog ’n eienskap ~ Soos ’n kind saam met sy vader, het hy saam met my die saak van die evangelie gedien . Timoteus was iemand wat saam met andere kon werk – hy was ’n “spanman” en dit is natuurlik nog ’n kenmerk van ’n dienskneg, want iemand wat sy eie belange hoër ag as andere s’n, sal nooit in ’n span kan saamwerk nie – dink aan verlede week se boodskap met die titel: “Geen nederigheid, geen eenheid”.
Ons sien natuurlik terselfdertyd hier dat Paulus ook ’n “spanman” was en dat hy geen probleem gehad het om saam met Timoteus te werk nie. Hierdie is natuurlik (net soos wat dit die geval met Timoteus is) ’n kenmerk van geestelike volwassenheid, nl. die vermoë om saam met andere te kan werk onder die banieropskrif: “Ter wille van Christus”. Geen wonder dat Paulus sy verhouding met Timoteus beskryf as een soos ’n kind saam met sy vader.
· Uit die verhouding tussen Paulus en Timoteus is daar ook pragtige lesse wat ons kan leer. Eerstens toon dit vir ons die respek wat daar by die jonger Timoteus vir Paulus bestaan het. Timoteus het dus sy meerderes gerespekteer en hom onderwerp aan hulle (en in hierdie geval, Paulus) se gesag. Hy was angstig om van Paulus te leer en het nie gedink dat hy al die wysheid in pag gehad het nie, maar hy het erkenning gegee aan Paulus se meerdere ervaring en derhalwe sy wysheid. Timoteus het ag geslaan op Skrifgedeeltes soos bv. Ef.6:2, nl. Eer jou vader en jou moeder.... Timoteus het die dissipelskap-pad wat Paulus met hom geloop het verwelkom, maar meer nog, hy het dit angstig opgesoek en nagevolg.
4. EPAFRODITOS:
Paulus verwys in v.25 na nog ’n medewerker na wie ons kan kyk, nl. Epafroditos.
· Ons het nou al gesien dat Epafroditos vanaf die gemeente in Filippi na Paulus gestuur is om hom by te staan en te bemoedig (2:25) terwyl hy onder huisarres verkeer, maar ook met ’n kontantbedrag as geskenk van die gemeente (4:18). Epafroditos het egter terug verlang huis toe en die tyd het aangebreek dat Paulus hom ook terugstuur na sy tuisgemeente. Die feit dat Epafroditos terug verlang, was nie negatief nie, trouens dit spreek juis van iets pragtig wat deel was van sy karakter. Paulus gebruik dieselfde Griekse woord (epipoqew – epipotheo) wanneer hy in 1:8 sê ~ God is my getuie, Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart. En daardeur wil hy, net soos Epafroditos sê, dat hy baie lief is vir die gemeentelede en dat hy graag by hulle wil wees omdat hy hulle gemeenskap mis.
Die eerste voorbeeld van Epafroditos se karakter wat navolgenswaardig is, is dus die feit dat hy sy broers en susters waarlik lief het en graag in hulle geselskap wil wees. Hierdie feit word verder onderstreep deur die feit dat sy naam “liefde” of “sjarme” beteken en wanneer ’n mens na sy lewe kyk, is sy naam uiters geskik, juis omdat sy lewe getuig van medemenslike liefde.
Paulus bevestig ook hierdie karaktereienskap van Epafroditos, deurdat hy hom “broer” noem (v.25). Om iemand ’n “broer” te noem in Paulus se tyd was iets vreemds, want daar was geweldige sterk en duidelike klasseverskille en ’n mens het net eenvoudig nie groeperinge gekry waar mense naby verhoudinge oor sosiale-, taal-, godsdienstige en ekonomiese grense heen gesmee en gehandhaaf het nie. Met die koms van die Evangelie van Jesus Christus het Christelike broederskap daarmee saamgekom. Gelowiges het besef dat hulle almal, ongeag hul posisie of status, almal voor die voet verlore was en almal tesame voorbestem was vir die hel, maar deur Christus Jesus se soendood het alle gelowiges in ’n nuwe- en eenvormige verhouding met God en derhalwe met mekaar te staan gekom.
Hierdie broederskap het in die harte van Epafroditos en Paulus geleef en was hulle onafskeidbaar van mekaar en het hulle mekaar ondersteun, versorg en beskerm – daar het dus eenheid tussen hulle bestaan – ’n eenheid wat net in en deur Jesus Christus bewerkstellig kon word.
· Tweedens noem Paulus vir Epafroditos, sy medewerker (v.25). Hierdie benaming herinner ’n mens aan Jesus se lofwoorde vir die klein gemeentetjie in Efese. Dit was ’n gemeente wat hard gearbei het in die Koninkryk en Jesus het hulle daarvoor aangeprys toe Hy in Openb.2:3 gesê het ~ Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie. Epafroditos was presies so ’n werker en hy het onvermoeid saam met Paulus gewerk.
· Derdens noem Paulus vir Epafroditos, sy medestryder. Daar staan letterlik in die Grieks, “medesoldaat” (sustratiwth~ - sustratiotes) en hierdie is ’n beter vertaling, omdat dit presies is wat Paulus hier van sy broeder wil sê, nl. dat hy ’n medesoldaat is. Paulus wil hierdeur sê dat hulle nie net gewerk het nie, maar dit waarmee hulle besig was, was soos om in ’n oorlog te veg – dit herinner aan Ef.6:12 ~ Ons stryd (O.A.V. - worstelstryd) is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. Oorlogvoering van destyds het vereis dat soldate, skouer teen skouer saam vorentoe moes beweeg, anders was hul stryd verlore en dit is presies dieselfde hoe Paulus en Epafroditos hul stryd gestry het – saam!
Die feit dat Epafroditos ’n soldaat genoem word, dui ook vir ons daarop dat hy vir niks gestuit het ten einde die Evangelie van Jesus Christus uit te dra nie.
Ons weet nie regtig wie Epafroditos se leermeester was nie, maar dit was hoogs waarskynlik Paulus self en daarom is dit nie vreemd dat Epafroditos, ’n medesoldaat genoem word nie, want Paulus het vir Timoteus geleer en daarom waarskynlik ook vir Epafroditos en hoor wat het Paulus vir Timoteus gesê in 2Tim.2:2-3 ~ Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer. (En dan veral v.3) 3Dra jou deel van die ontberings soos ’n goeie soldaat van Christus Jesus.
· Onbaatsugtigheid is ’n verdere karaktereienskap van Epafroditos. Hy was bereid om sy tuiste en sy tuisgemeente vir ’n onbepaalde tyd vaarwel toe te roep ten einde gehoorsaam te wees aan die roeping wat deur die gemeente op sy lewe gelê is, maar ook om Paulus te gaan bedien en te dien. Ons lees nêrens dat hy daaroor gekla het nie, of dat hy verskonings gesoek het om nie gehoorsaam te wees aan hierdie wekroep nie. Hy gaan Rome toe en hy gaan dien Paulus – dit getuig van ’n onbaatsugtige karakter.
· Ons vind ’n vyfde karaktereienskap in v.25, maar ongelukkig is dit wegvertaal uit die N.A.V. Die O.A.V. praat van ’n bedienaar van my behoefte, terwyl die N.A.S.B. dit vertaal met ”messenger”. In die oorspronklike teks (apostolo~ = apostolos) kan dit vertaal word met ’n “ambassadeur vir die Evangelie”, ’n afgevaardigde, “’n boodskapper”, of “apostel”. Enersyds wil Paulus aan die gemeente aantoon watter hoë dink hy van Epafroditos het. Ons sien egter ook dat Paulus in 2Kor.8:23b die volgende van Titus en sy medereisgenoot sê ~ Wat ons broers betref, hulle is afgevaardigdes van die gemeentes en ’n eer vir Christus. Hierdie laaste woorde ....’n eer vir Christus, beteken dat Titus se arbeid in die Koninkryk, tot eer van Christus geskied, m.a.w. Christus word geëer deur sy arbeid. En dit is andersyds wat tekenend van Epafroditos ook is – dít wat hy doen, doen hy tot eer van Christus – nie om eie belang nie; ook nie om andere te verheerlik of te beïndruk nie, maar om die naam van Christus Jesus te verheerlik – dít is sy motief; dít is sy dryfveer – die eer van Christus. Die eer van Christus Jesus! Wat ’n wonderlike karaktereienskap is dit nie om na te volg nie!
· Hierdie benaming, bedienaar van my behoefte dui egter vir ons op nog ’n karaktereienskap. Dit dui ook op iemand wat deur sy gemeente afgevaardig is om ’n bepaalde taak namens die gemeente uit te voer – hy was dus ’n amptelike afgevaardigde namens sy broers en susters en in hierdie opsig was hy getrou en gehoorsaam en het hy sy opdrag in gehoorsaamheid uitgevoer ten einde Paulus by te staan. Gehoorsaamheid was dus nog ’n kenmerk van Epafroditos.
· Nog ’n eienskap spruit voort uit v.25b. Let op dat Paulus sê dat sy broeder ’n bedienaar is van sy behoeftes. Ons het dus ook hier te doen met ’n broeder wat diensbaar was. Hy het nie omgegee om dae aaneen en onder moeilike omstandighede na Rome te reis ten einde by Paulus te kom nie. Dit was ook nie vir hom ’n vernedering om ’n man wat onder huisarres verkeer te dien nie. Dit was ook nie vir hom te veel om Paulus steeds te dien, terwyl hy self dodelik siek was nie. En al verlang Epafroditos terug huis toe en al gaan hy dalk vroeër huis toe as wat sy gemeente moontlik van hom verwag, is Paulus so beïndruk met sy diensbaarheid, dat hy vir die gemeente laat weet, ...ontvang hom met oop arms as ’n broer in die Here, en bejeën manne soos hy met agting (v.29). Hy is ’n ware dienskneg!
5. AFSLUITING:
Ons het hier te doen met twee uitstaande manne – gelowiges wie se voorbeeld ons vandag nog steeds kan en behoort na te volg. En wanneer ons na hulle lewens en spesifiek na hul karaktereienskappe kyk moet ons onsself ’n paar vrae afvra:
· Is ons doelwit ook om gehoorsaam te wees aan die Groot Opdrag (Matt.28:19), nl. om die Evangelie van Christus Jesus uit te dra aan ’n verloregaande wêreld?
· Gee ons werklik om vir andere?
· Kan ons waarlik vertrou word in alles – is ons betroubaar?
· Kan ons in ’n span saam met andere werk, omdat ons doelwit, die eer van Christus is?
· Toon ons respek teenoor ons meerderes en onderwerp ons, ons aan die gesag wat oor ons aangestel is?
· Is ons leergierig en soek ons die wysheid en insig en kennis op van andere wat daaroor beskik?
· Het ek en jy ons broers en susters waarlik lief?
· Arbei ons volhardend en onvermoeid in God se Koninkryk?
· Kan ons saam in hierdie geestelike stryd stry waarin ons gewikkel is?
· Is ons onbaatsugtig in ons diensbaarheid aan andere?
· Doen ons alles tot eer van God?
· Is ons diensbaar?