1. INLEIDING:
Ons kom vanoggend by die
laaste gedeelte van Petrus se tweede brief. Baie gelowiges is nog nie op ’n punt in hulle
lewe waar hulle rykhalsend uitsien na die ewige lewe nie - na die hiernammaals;
die hemel, of Bybels korrek gestel, na hul ewige verblyf in heerlikheid op die
Nuwe Aarde nie. Daar kan baie redes hiervoor aangevoer word.
Een van die redes mag wees
dat die wêreld met alles
daarin, net nog ’n té groot realiteit is
en die onsienlike nie “gesien” kan word nie. Of
dit kan wees omdat die wêreld net nog te graag “gelééf” wil word en daar
net té veel is om nog te
geniet. ’n Derde
moontlikheid is omdat die gelowige se kennis en perspektief van die hiernamaals
net té vaag en
ongedefinieerd is en daarom is die ewigheid nog nie op so ’n gelowige se “radarskerm” nie.
Wat ons as gelowiges egter
vas en seker glo, is dat ons gered is en dat ons die ewige saligheid saam met
Christus tegemoet gaan en Petrus wil in hierdie laaste gedeelte vir sy lesers
en vir ons sê wat ons te doen
staan in ons voortsnel na die onafwendbare dood - of wederkoms van Christus.
Wat e.g. betref, bestaan daar geen twyfel by ons dat alle mense op een of ander
stadium sal sterf, maar ons glo ook dat Christus weer gaan kom, soos wat ons
verlede week gesien het en daarom gaan sommige op daardie heerlike dag, uit die
dood opstaan en saam met die gelowiges wie nog in die lewe is, Christus
tegemoet gaan. Maar wat van die nou; die hier; die lewe waarin ons, ons nou
bevind? Kom ons kyk wat sê Petrus vir ons, wat ons te doen staan,
ter voorbereiding van die ewigheid.
2. SKRIFLESING:
2 Pet.3:11-18 ~ 11)
Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom,
moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe. 12)
Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer
julle daarvoor, die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die
hemelliggamesal brand en wegsmelt. 13) Maar ons leef in die verwagting van 'n nuwe hemel en' n nuwe aarde wat God
belowe het en waar die wil van God sal heers. 14) Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle
daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te
lewe. 15)
En beskou die geduld wat ons Here met ons het as
geleentheid om gered te word. So het ons geliefde broer Paulus immers ook met
die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskrywe. 16)
Hy skryf dit ook in al sy briewe waarin hy oor hierdie
saak handel. Daar is dinge in sy briewe wat moeilik is om te verstaan.
Oningeligte en onstandvastige mense gee daaraan 'n verkeerde uitleg, soos hulle
trouens ook doen met die res van die Skrif, en dit tot hulle eie ondergang. 17)
Geliefdes, julle weet dit nou vooruit. Wees dus op julle
hoede dat julle nie meegesleep word deur die dwaling van beginsellose mense en
so van julle eie standvastigheid beroof word nie. 18)
Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en
kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Aan Hom behoort die
heerlikheid, nou en tot in ewigheid! Amen.
3. DIE HOOFGEDAGTE:
Met die deurlees van hierdie
gedeelte, dink ek was dit baie duidelik vir julle watter vers die hoofgedage
bevat - indien nie, kom ons pas een van die reëls toe wat ons twee
Sondae gelede geleer het.
Ons het o.a. gesien dat
wanneer ’n sin (of vers) voorafgegaan word
met “daarvoor’, of “daarom”, beteken dit dat
die sin voor dit (v.13 m.a.w.), ’n argument is wat
lei tot ’n stelling of ’n opdrag, wat dan ’n hoofgedagte, of
dié hoofgedagte van die
paragraaf (perikoop) is - in hierdie
geval sien ons dus dat v.14 die hoofgedagte van hierdie gedeelte is ~ Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor
beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe.
4. ARGUMENTE WAT HOOFGEDAGTE ONDERSTEUN:
Ons het ook voorverlede
Sondag gesien dat wanneer die hoofgedagte bepaal is, ons moet kyk na argumente
wat die hoofgedagte ondersteun, of motiveer.
Ons vind ons eerste argument
ter ondersteuning van die
hoofgedagte in
vv.11-13 en daar sê Petrus dat as ons
rondom ons moet kyk en sien hoe alles tot niet gaan en daarom moet ons, onsself
nie bluf en dink dat die einde van hierdie bestel nie een of ander tyd gaan
aanbreek nie - dit is tog presies wat hy ook in vv.1-10 van hierdie hoofstuk
gesê het en ek is
absoluut oortuig daarvan dat nie een van ons hier vandag nié daarvan oortuig is
nie - die vraag is net wanneer gaan dit gebeur? Wanneer ons dít as vraag stel,
vra ons egter die verkeerde vraag. Die regte vraag sal wees: Indien alles
ten einde snel (ons weet, soos nou net gesê, dat dit
ongetwyfeld aan die gebeur is), wat moet ons intussen doen in
afwagting van die wederkoms - in afwagting van die einde; wat word van ons
verwag ter voorbereiding van daardie onbeskryflik, heuglike dag?
- Verhaas die Dag van God (vv.11-13):
Petrus sê in die hoofgedagte
dat ons, ons moet beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God te staan op
daardie dag, maar in v.11, wat ’n ondersteunende argument tot die
hoofgedagte is, beklemtoon hy hierdie hoofgedagte ook, deur te sê dat ons wandel hier
op aarde, heilig en vol godsvrug moet wees. Nou wat beteken dit?
Aan die einde van Jesus se
Bergpredikasie, het Hy die gelykenis van die maagde vertel (Matt.25:1-13). Vyf van hierdie
maagde se olielampies was vol olie en hulle kon die Bruidegom tegemoet gaan,
terwyl die ander vyf se lampies leeg was en hulle kon uiteindelik níé by die
Bruiliofsmaal aansluit nie. Met hierdie gelykenis wou Jesus Sy volgelinge
enersyds voorberei op die wederkoms, deur vir hulle te sê dat hulle waaksaam
moet wees. Dit was egter ook ’n voorbereiding vir die era van die
Apostels wat op hande was en wat op Pinksterdag “gelanseer” sou word en waarvan
hulle sentrale boodskap regdeur die Nuwe Testament dieselfde boodskap is as die
wat Jesus met die gelykenis van die tien maagde deurgegee het - in die woorde
van Hand.3:19-20 ~ Kom dan tot inkeer en bekeer julle,
sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig
van die Here mag kom, en Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is,
naamlik Jesus Christus.
Die woord bekeer is in die
Grieks, μετανοέω [metanoeō] wat letterlik
beteken om jou te bekeer en weg te draai van sonde wat aan jou kleef en dat jy
dit sal verafsku. Petrus sê egter ook dat sy lesers tot inkeer
moet kom. Die Grieks hier vir “inkeer”, is ἐπιστρέφω [epistrephō] - wat letterlik
beteken om jouself wéér terug te draai,
of om te draai.
Toe Petrus hierdie woorde
geskryf het, het hy waarskynlik Jesus se woorde in Luk 22:32 in gedagte gehad,
toe Jesus vir hom gesê het ~ Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot
inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk. Duidelik was Petrus
hier reeds wederbaar, maar hy het in sonde verval en die Here Jesus spreek hom
daaroor aan. Nou wil Petrus dieselfde vir sy lesers sê: Draai weg van
die sonde; kry ’n afkeer daarin; draai om en doen dit
nie meer nie.
In v.12 bevestig Petrus die
feit vir ons dat hy met gelowiges praat, omdat hy sê dat hulle die “koms van die Dag
van God“ verwag. Hy sê vir hulle dat hulle
angstig moet wag vir die dag van die Here. Hoe moet hulle angstig wag? Hulle
moet omdraai en hulle sonde verafsku en heilig begin lewe ter voorbereiding van
die wederkoms van die Here Jesus; ter voorbereiding van die ewige lewe.
Die van julle wat die OAV,
en/of Engelse vertalings lees, sal sien dat daar iets baie interessants in v.12
staan ~ …julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas - “verhaas”.
Lê dit in ons hande om
die wederkoms te verhaas? Hoe is dit moontlik, indien dit moontlik is? Nee, dit
is nie moontlik nie, want God self het die dag en uur bepaal waarop Christus
weer sal kom. Ten einde dan te verklaar wat hierdie woord “verhaas” beteken, moet ons
na die Grieks kyk en vasstel wat die woord se regte betekenis is - in die
Grieks is dit, σπεύδω [speudō] - om angstig te
wag. Dit is dus ’n werkwoord en
daarom kan ons nie passief wag op die Dag van die Here nie. Die NAV is dus
heeltemal korrek vertaal hier.
Net so terloops, hierdie
uitdrukking “die Dag van die
Here” verwys nie na die
oomblik en gebeurtenis van die wederkoms nie, maar dit verwys na die ewige
toestand ná die wederkoms en
oordeel. Die punt is egter dat Petrus vir sy lesers sê dat hulle angstig
in hul afwagting moet wees vir die uiteindelike ewigheid wat vooraf gegaan word
deur die wederkoms.
Terug egter na die woord “verhaas”. Behalwe dat dit
beteken dat ons angstig moet uitsien na die koms van die Koninkryk, hóé moet ons angstig
wag? Deur ’n …heilige wandel en godsvrug, sê Petrus in die
hoofgedagte van hierdie perikoop.
Ons moet dus instrumente in
die hand van die Here wees, deurdat Hy ons heilige en godvrugtige lewens
gebruik om die Koninkryk te laat kom, want ons lewe opsigself is ’n getuienis teenoor
’n verloregaande wêreld - daar is
egter twee voorwaardes en die eerste is dat ons werklik, heilige en godvrugtige
lewens sal leef en tweedens, nog ’n wyse waarop ons instrumente in die
hand van die Here is om die Koninkryk te laat kom, is dat ons nie op ons louere
sal rus en nié die Evangelie
uitdra nie, want dit is ’n opdrag van die Here Jesus dat ons
dit sal doen.
- Die Here se Geduld (vv.15-16):
Petrus gaan in vv.15-16 voort
om die hoofgedagte te motiveer, deur te herhaal wat hy in v.9 gesê het en ook te
verwys na wat Paulus in Rom.2:4 gesê het t.o.v. God se
goedheid, verdraagsaamheid en geduld jeens sondaars, omdat Hy nie wil hê dat enige een
verlore sal gaan nie. Ons het egter óók gesien dat
diegene wie nié uitverkore is nie,
steeds nié gered sal word nie,
maar hoe moet ons hierdie geduld en oënskynlike uitstel
van God se oordeel sien en hanteer?
Daar was vir ons ’n les opgesluit in
God se geduld en daarom moet ons God se geduld “uitbuit” om enersyds seker
te maak dat óns verhouding met
Christus op die regte plek is, veral dié van ons wie dalk op
“wankelrige
geestelike-bene” staan. Dit is nie
genoeg dat ons bloot terugkyk en onsself herinner aan ons kennis van God nie,
maar dat ons, onsself sal uitstrek na wat voorlê (’n
ewigheidsperspektief dus); om ons toe te spits op die
verheerliking van God in en deur ons lewens en in die proses saam met God te
werk ten einde die Evangelie onverpoosd, so wyd en syd as moontlik te verkondig
- weer ’n bevestiging van
ons hoofpunt in v.14.
Waarom sou Petrus hier na
Paulus verwys wanneer hy skryf oor God se geduld? Is dit omdat hy voel dat
Paulus se argumente sterker as syne is? Is dit omdat hy meer gesag wil plaas op
sy eie standpunt oor hierdie saak? Die beste verklaring hiervoor is dat die
lesers reeds ten tye van die skryf van Petrus se brief, gedeeltes (of dalk almal) van Paulus se
briewe gelees het en ons weet dat die tema van al Paulus se briewe, bekering en
heiligmaking is - presies dít wat Petrus ook vir sy lesers leer en
daarom wil hy vir hulle sê dat hy nie anders kan as om weereens
te beklemtoon wat Paulus vir hulle geleer het en daardeur beklemtoon hy die
absolute noodsaak van heiligmaking.
Twee dinge is opmerklik in
hierdie argument van Petrus. In v.16 is dit duidelik dat Petrus ’n bewondering het
vir Paulus se wysheid - wysheid wat hy in oorvloed van die Here as gawe ontvang
het, daarom dat Petrus sê ~ So het ons geliefde broer Paulus immers ook met die wysheid wat aan hom
gegee is, aan julle geskrywe.
Tweedens is dit bemoedigend,
of sal ek sê, vertroostend, dat
selfs die Apostel Petrus voel dat Paulus se briewe nie maklike leesstof is nie,
maar dan gaan Petrus voort en sê dat juis hierdie moeilike stof wat
Paulus die lig laat sien het, maklik verdraai word deur oningeligtes - deur
dwaalleraars. Waarskynlik het Petrus, Paulus se leerstuk oor “regvedigmaking deur
geloof alleen” in gedagte gehad
toe hy hier na Paulus se moeilik verstaanbare wysheid verwys het. Daar was
mense (dwaalleraars) wat op grond van hierdie
leerstuk van Paulus gesê het dat wanneer jy eers geregverdig is
(wederbaar
is),
jy maar kan sondig soos jy wil. Trouens hoe meer jy sondig, hoe groter en meer
geleentheid is daar vir God om Sy genade te openbaar (Rom.3:5-8; 6:1). Hierdie mense het
hulle standpunt o.a. gegrond op Rom.7:4 waarvan hulle net die eerste gedeelte
gelees en gepreek het ~ Deur julle
verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe en staan julle
nie meer onder die wet nie. Ongelukkig het hierdie mense nie die
tweede gedeelte hiermee saamgelees nie, nl. ~ Julle behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is.
Daarom moet ons nou 'n vrugbare lewe lei in diens van God. Ons kan dus nie
maar sondig soos ons wil nie, inteendeel, ons moet vrugbare lewens in diens van
God lei.
- Wees Waaksaam (v.17):
Met Petrus wat regdeur sy
brief, sy lesers gewaarsku het oor dwaalleraars, sluit hy nou sy brief af deur
hulle te wys op hul eie veranwtoordelikheid en dit is dan ook die laaste
argument ter ondersteuning van die hoofgedagte.
Petrus sê vir sy lesers dat
hulle op hulle hoede moet wees vir dwaaleraars - dat hulle waaksaam moet wees
en dat hulle uiters versigtig moet wees om nie op sleeptou geneem te word deur
hierdie slinkse wolwe in skaapklere nie - en hoe moet hulle dit doen? V.18 ~ …Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en
Verlosser, Jesus Christus.
Om dus vlekkeloos en
onberispelik bevind te word wanneer Christus weer kom, is om toe te neem in die
genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Wat beteken dit?
Petrus het in 1:3-11 met
presies hierdie tema begin waarmee hy nou afsluit, nl. dat ons moet groei in
ons geestelike lewe. Groei in ons geestelike lewe - groei in heiligmaking, is ’n onophoudelike
aksie - dit is soos ene Green op ’n keer gesê het: “The Christian life… is like riding a
bicycle. Unless you keep moving, you fall off!” Om toe te neem in genade en kennis van
Christus is dus, bo en behalwe dat dit ’n opdrag is, ’n voortgaande aktiwiteit;
’n permanente en
voltydse aktiwiteit; dit is ’n werkwoord!
Die woord genade wat Petrus
hier gebruik, dui in die Grieks (χάρις [charis]) op genade wat
voortdurend toeneem en dit het in hierdie geval ’n Goddelike invloed
op die hart van die gelowige, wat manifesteer in goeie werke en die Vrug van
die Gees en dit kan alleen gebeur waneer ons toeneem in ons liefde en kennis
van God - in ’n verhouding wat
meer en meer intiem raak en dít weer kan slegs gebeur deur gebed en
die bestudering van die Woord, m.a.w. deur, soos Petrus tereg ook sê, deur kennis (γνῶσις [gnōsis]) kennis van die
karakter van God; kennis van Sy Woord.
Kennis moet ons primêre doel in hierdie
lewe wees en hoe meer ons groei in ons kennis, des te meer neem ons toe in
genade - genade ook teenoor andere - teenoor my vrou; teenoor my man; teenoor
almal wat liefde nodig het.
Kennis en genade lei egter
ook verder daartoe om vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind te word!
Petrus sluit sy brief af met ’n wonderlike
doksologie, of te wel ’n verheerliking van God, deur te sê ~ Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en tot in ewigheid! Hiermee rig Petrus
al sy lesers se aandag op die koms van die Koninkryk, waar alle eer aan
Christus Jesus gebring sal word, maar hy sê ook dat ons lewe en
spreke nou reeds in ooreenstemming moet wees met die lof en heerlikheid wat
Christus toekom, sodat ons vlekkeloss en onberispelik voor God kan staan.
5. AFSLUITING:
Ons moet onsself vandag
afvra, of ons op ’n plek in ons lewe
is waar ons “die Dag van die
Here” verhaas (vv.12-13), deurdat ons
wegdraai van ons sonde en dit verafsku, deur heilig te lewe?
Is ons heilige instrumente in
die hand van die Here, sodat Hy ons as instrumente in Sy hand kan gebruik om
getuies teenoor ’n verloregaande wêreld te wees?
Buit ons God se geduld uit (vv.15-16), deur ons eie
geestelike lewe in orde te kry?
Is ons waarlik waaksaam (v.17)? Let ons op ons
lewe; groei ons in kennis van die Here; groei ons in ons liefde vir Hom? Wat is
die primêre fokus in ons
lewe - Jesus Christus?
Hierdie is die vrae wat ons,
ons self na vanoggend en elke dag van ons lewe moet afvra, maar saam met
hierdie vraag moet ons egter nie net bly by vra nie - ons moet iets
daadwerkliks doen t.o.v. ons sonde sodat ons vlekkeloos voor die Here kan staan
- hoe moet ons dit doen?
- Wy jouself meer en meer aan Christus.
Jak.4:7 is een van die sleutelverse in ons geveg teen sonde ~ Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle
wegvlug.
Hoe onderwerp ons onsself aan God? Deur meer en meer erns met my verhouding met
God te maak - deur my “Stiltetyd” met erns te benader
- beide Woordstudie en gebed; deur elke moontlike geleentheid wat bestaan soos ’n spons te wees om
meer en meer te leer van die Woord, ens.
- Hiermee saam moet ons, ons sonde te erken
en bely ~ Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan
terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat
hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God,
want Hy vergeef menigvuldiglik (Jes.55:6-7).
- Nadat ons, ons sonde bely het en vergifnis
daarvoor gevra het, moet ons terselfdertyd saam met Dawid die volgende bid - hy
het dit gebid na sy owerspel met Batseba en hy dit bely en om vergifnis gevra
het en hy geglo en geweet het dat hy vergewe is omdat die Woord dit belowe ~ Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is.
Welgeluksalig is die mens aan wie die Here die ongeregtigheid nie toereken nie
en in wie se gees geen bedrog is nie (Ps.32:1-2). Eer die Here dus
vir vergifnis.
- Jesus sê dat ons op ons
hoede moet wees vir sonde en die aanslae van die satan, maar daarmee saam moet
ons ook die volgende bid ~ …en lei ons nie in
versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen (Matt.6:13). Daarmee saam -
Matt.26:41 ~ Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die
gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. Bid derhalwe teen
versoeking.
Baie prakties: Wanneer ek
sukkel met sonde, moet ek my gedagtes verplaas ~ Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat
regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit (Fil.4:8).
Voorbeeld: As jy negatief
praat oor jou werk, is jy in sonde en jy moet daardie negatiewe gedagtes
verplaas met bv. dankbaarheid - al is jou werk hoe aaklig - die Here het vir
jou werk gegee; Hy het jou met ’n doel in daardie “aaklige” werk geplaas - vra
jouself eerder af of jy besig is om jou roeping te vervul?
Jy kla gedurig oor die
slaggate in die paaie, oor die tolgelde en murmereer oor die regering -
verplaas jou gedagtes en dink daaraan dat ons paaie kon lyk soos Madagaskar s’n en as dit nie vir
die tolpaaie was nie, het ons hoofweë gelyk soos sommige
strate in ons omgewing.
As jy sukkel met skinder -
soek iets positiefs om te sê oor daardie persoon wat die opjek vir
jou geskinder is en praat daaroor - anders moet jy liewer stilbly.
Hoe voel ons oor en wat is
ons gesindheid t.o.v. ander rasse? Dink ons daaraan dat almal nie soos “sekere
anderskleuriges” is nie, trouens die
oorgrote meerderheid is nie so nie - moenie veralgemeen nie. Waarom moet ons
bv. altyd onderskei dat dit ’n “swarte” was wat ingebreek
het, of dood is in ’n ongeluk - so asof
“wit mense” nie roof en sterf
in ongelukke nie - waarom nie net ’n inbreker, of ’n man is dood
nie? Waarom sê: “Ek het die swarte
geroep” Waarom nie net, “ek het die man
geroep” nie? Sê ons ooit, “ek het die witte
geroep”? Waarom onderskeid
tref tussen “kleur” en ras? Is ons
verhewe bo ander rasse? En die heel belangrikste - hulle is skepsele van God (nes ons); hulle is na die
beeld van God geskape (nes ons).
Die Here is goed en genadig,
want Hy vergewe ons - wat is my gesindheid teenoor my Skepper - Hy wat heilig
is; Hy wat liefdevol en genadig is - volhard ek in sonde? Gee ek nie om hoe Hy
voel oor my sonde nie? Het ek ’n begeerte en strewe na ’n vleklose lewe? Is
ek ernstig oor my lewe ná hierdie aardse lewe, of gaan ek
ligtelik daarmee om? Verbly die siel
van u kneg, want tot U, o Here, hef ek my siel op. Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid
vir almal wat U aanroep. Here, luister na my gebed en let op die stem van my
smekinge.
In die dag van my benoudheid roep ek U aan, want U
verhoor my
(Ps.86:4-7).
Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptostegemeente - Sondagoggend 24 Mei 2015