1. INLEIDING:
Die Kerk van die Here Jesus
vier vandag wêreldwyd Pinksterdag
- die dag waarop die Heilige Gees oor Jesus se dissipels afgekom het, nadat Hy
in Hand.1:4-5 vir hulle gesê het ~ Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader
belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop,
maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.
Kort nadat Jesus opgevaar het
na die hemel, is Sy dissipels na Jerusalem terug en na ’n tydjie, tydens
die Paasfees het iets merkwaardigs gebeur - kom ons hoor wat Lukas sê wat gebeur het ~ Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek
bymekaar. Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van' n geweldige
stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het
iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het.
Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat
soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen (Hand.2:1-4).
Die vraag waarna ek vandag
wil kyk, is wat dit beteken om vervul te wees met die Heilige Gees en daarvoor
wil ek ’n gedeelte van die
Apostel Paulus in 2 Korintiërs lees, asook een vers uit Efesiërs.
2. SKRIFLESING:
2 Kor.3:1-9 ~
1)
BEGIN ons weer om onsself aan te beveel? Of het ons
miskien, soos sommige, aanbevelingsbriewe nodig aan julle of van julle? 2)
Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en
gelees deur alle mense; 3) omdat julle duidelik ’n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie,
maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die
vleestafels van die hart. 4) So ’n vertroue het
ons deur Christus by God. 5) Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie,
maar ons bekwaamheid is uit God, 6) wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ’n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die
letter maak dood, maar die gees maak lewend. 7)
En as die bediening van die dood, met letters op klippe
gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die
aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan, 8)
hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in
heerlikheid wees nie? 9) Want as die bediening wat veroordeel, heerlikheid was, veel meer is die
bediening wat regverdig maak, oorvloedig in heerlikheid.
Ef.5:18 ~ Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul (OAV).
3. DIE PRAKTIESE LEWE VAN ’N GELOWIGE:
Die Apostel Paulus was ’n merkwaardige man.
Behalwe dat hy ’n vlymskerp
verstand gehad het, was hy terselfdertyd evangelis en prediker, asook
kerkplanter; skrywer en leraar, maar hy was ook ’n sagmoedige en
simpatieke herder. Ook kan geen ander teoloog deur al die eeue heen, se
geskrifte en lering vergelyk word met Paulus se leersukke oor die Christelike
geloof nie.
As ons na ons Skriflesing kyk
(en
talle ander Skrifgedeeltes - dink maar net aan Efesiërs en Korintiërs), is dit duidelik
dat Paulus net so besorgd was oor die toepassing van die Woord in die
alledaagse lewe, as wat hy was oor die suiwere leer van die Woord van God.
Daarom het hy dan ook gesê dat gelowiges hul geloof moet lééf en dit nie net as
blote filosofie moet beskou nie.
Paulus het egter nie net die
praktiese uitleef van die Woord beklemtoon nie - hy het ook in die lig van die
Skrif, enige praktiese probleem eers op ‘n leerstellige wyse
benader en daarom plaas hy altyd eers ’n praktiese
probleem in die konteks van die Waarhede van die Woord en daarna sal hy eers by
’n oplossing kom, of
’n oplossing aan die
hand doen.
Dit is waarom hy dan ook in
Ef.5:18, die gelowiges daaraan herinner dat hulle, hul praktiese lewe (dit sluit in alle
fasette van hul lewe - hul persoonlike lewe; hul huwelikslewe; hul gesinslewe
en ook hul werk) in oënskou moet neem en dit op só ’n wyse moet lééf, dat dit ’n getuienis van hul
geloof, wat gebaseer is op die Waarhede van die Skrif, sal wees. M.a.w. hule
lewe in alle praktiese sfere van die lewe moet daarvan getuig dat hulle vervul
is met die Heilige Gees.
4. KONTRAS, OOREENKOMS EN VERGELYKING:
Wanneer Paulus die
Geesvervulde lewe teenoor dronkenskap in Ef.5:18 stel, wil hy nie daarmee
insinueer dat hulle dronklappe is nie - ja, dronkenskap word óók deur Paulus
afgekeur en veroordeel, maar die klem val nie hier op die misbruik van alkohol
nie, maar op ’n geesvervulde lewe
en die praktiese uitlewing van die
Bybelse Waarhede in en deur so ’n Geesvervulde gelowige se lewe.
Paulus wil deur ons
Skriflesing vanoggend, ’n nóg meer positiewe
kykie gee na die Christelike lewe. In die vooraf gedeeltes van Korintiërs het hy meer
gekonsentreer op o.a. die negatiewe verskille tussen die oumens en ’n nuwe lewe in
Christus. Paulus wil egter nou vir sy lesers op ’n positiewe wyse
bewus maak van die nuwe lewe in die Gees. Die vraag is egter waarom hy ’n nuwe lewe in die
Gees kontrasteer met dronkenskap - ’n mens kan amper sê dat dit grens aan
die absurde.
Op die oog af lyk dit asof
Paulus vir sy lesers wil sê, dat ’n kenmerk van die
ou lewe buite Christus Jesus, een van o.a. dronkenskap is en dat die nuwe lewe
in Jesus Christus, een is van Geesvervuldheid. Wanneer ons hierdie afleiding
maak, is ons nie heeltemal van die spoor af nie, want daar word in die tweede
helfte van Rom.1, asook in Ef.4:19 verwys na die heidene se losbandige lewe en
wil Paulus dus die kontras baie duidelik maak aan sy lesers, nl. dat hule nie
soos die heidene moet leef nie, omdat hulle nuwe skepsele in Jesus Christus
geword het. Soos so dikwels die geval is met Paulus, val die klem dus op die “maar” in die vers ~ Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul (Ef.5:18 - OAV).
’n Ander rede vir
hierdie vergelyking kan wees dat Paulus die Pinkstergebeure in herinnering
roep, nl. waar die ongelowiges, ná die uitstorting van die Heilige Gees,
die volgelinge van Jesus gespot het en gesê het dat hulle dronk
is ~ Maar
ander het gespot en gesê: Hulle is vol soetwyn (Hand.2:13 - OAV).
Ons lees verder in Hand.2 van
vers 14 af dat ’n groot menigte
mense saamgedrom het om te sien wat aan die gebeur was nadat die Heilige Gees
op Christus se dissipels uitgestort is, waarop Petrus opgestaan het en o.l.v.
die Heilige Gees die mense toegespreek het en vir hulle die volgende gesê het ~ Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik
wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar
nege- uur in die môre. Nee, hier
gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het: Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal
gesigte sien; julle oumense sal drome droom. Ja, op my dienaars en my
dienaresse sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal as profete
optree. Ek sal tekens bo in die lug en wonders onder op die aarde gee:bloed en
vuur en rookwolke. Die son sal pikdonker word en die maan bloedrooi voordat die
groot en glorieryke dag van die Here kom. So sal dit dan wees:elkeen wat die
Naam van die Here aanroep, sal gered word (Hand.2:14-21).
Paulus het hoogs waarskynlik
hier ’n element van
kontras beklemtoon, maar ook ’n element van ooreenkoms. Wat die
kontras betref - wanneer ons na die Grieks kyk, sal ons sien dat hierdie
gedeelte in die imperatiewe vorm (bevelsvorm) geskryf is en
daarom sê Paulus dat wat die
dronkenskap aan betref - so moet dit
nooit met ons wees nie en wat die wandel in die Gees betref - so moet dit altyd
wees.
Dit is dus baie duidelik dat
Paulus hier sê dat die emosionele
manefestasies in watter vorm ookal, wanneer ons met die Gees vervuld is, nié dieselfde ervaring
is soos iemand wat beskonke van soetwyn is nie.
Net so ietsie oor emosies en
die Heilige Gees - ons moet besef dat emosies altyd deel van ons wandel met die
Here sal wees - emosies sal altyd teenwoordig wees wanneer ons Geesvervuld is,
maar ons moet besef dat hierdie emosies nié noodwendig altyd
ekstase is nie; uitbundige vreugde nie; gevul om “halleluja” te skree, ens nie.
Ja, dit kan dit ook wees, maar om stil tevrede te wees; om dankbaar te voel; om
ernstig te wees - dit is alles ook emosies - emosies wat gepaard gaan met
Geesvervuldheid.
Wat ons moet besef is dat ons
nie emosies moet soek nie; dat ons nie emosies moet opklits, ten einde ’n atmosfeer te
skep; of om allerlei soorte “goed-voel gevoelens” te ervaar nie - ons
as Geesvervulde gelowiges, moet die aangesig van God soek en in ons lofprysing
en aanbidding; in ons lewenswandel, die eer van God soek en dán sal ons emosies
beleef - emosies, soos gesê, wat nie noodwendig dié van eksatse sal
wees nie - dit kan selfs ’n oortuiging van sonde wees -
sondebesef dus wat ook gepaard kan gaan met emosies - emosies soos huil - huil
oor jou sonde.
Die punt is dat ons nie
emosies moet soek deur bv. ’n “gig” te hou nie, maar om
in die eerste en laatse plek God te verheerlik - eenvoudig gestel, ons fokus
moet op Hom wees en nie ons emosies nie - en as jy nooit emosies van
uitbundighed ervaar nie, is daar nie noodwendig iets verkeerd met jou
verhouding met die Here nie, trouens ek wonder soms hoe gereeld, indien ooit
het Calvyn en die Puriteine en Spurgeon en meer kontemporêre gelowiges al
uitbundigheid ervaar, eerder as erns en ’n gees van
aanbidding - moenie dat die vyand (satan) jou aankla oor ’n sogenaamde gebrek
aan uiterlike, uitbundige emosies nie - dis ’n leuen wat hy aan
jou opdis!
5. WAT BEHELS ’N GEESVERVULDE
LEWE?
Toe Wycliffe die Bybel
destyds vertaal het, het hy Ef.5:18 as volg vertaal ~ Be
not filled with wine, but be filled woth the Spirit. Die hele gedagte
is dus om aan te toon dat ’n dronkaard nie net ’n mondjievol wyn
geneem het nie, maar hy is vol van wyn - en dit maak van hom ’n ander mens, ’n mens wie hy nie
regtig self is nie.
Die Griekse woord wat Paulus
hier gebruik vir “dronk” is μεθύσκω [methyskō], wat letterlik “deurweek” beteken. Wanneer die
mense in Paulus se tyd ’n stuk vel wou gebruik en dit graag
wou rek en brei, het hulle die vel in ’n verskeidenheid
van olies en vette geweek en in die proses het die vel soepel en rekbaar geraak
en kon hulle met die vel doen wat hulle wou - spantoue, riempies, of wat ookal.
Paulus wil dus eintlik sê dat ’n dronkaard so vol
en deurweek is van wyn, dat hy nie meer beheer oor homself het nie - só mag ons nie wees
nie, maar ons moet so vol en deurweek raak van die Heilige Gees, dat Hy beheer
oor ons sal kry (soos die breier van velle, beheer kry oor die vel wat hy
brei).
In Ef.5:15-17 sê Paulus ~ Wees baie versigtig hoe julle lewe:nie soos onverstandige mense nie, maar
soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe
in 'n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te
wete kom wat die Here wil dat julle moet doen. Ons sien dus
hier, dat ’n Geesvervulde
lewe, ’n beheerde lewe
en ’n gesonde
geordende lewe is. Dit is dus net die teenoorgestelde van dié van ’n dronkaard se
lewe. Hoe lyk ’n dronkaard se
lewe? Hy het beheer oor homself verloor; sy lewe raak buite orde en chaoties,
want hy word deur die soetwyn beheer.
- Daarteenoor sê Paulus dat een van
die hoogste prioriteite in ’n
gelowige se lewe,
juis beheer en orde is ~ Die Gees wat God
ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing (2 Tim.1:7). Net so tussen
hakies - is alle eredienste in kerke waar daar “geesdrywery” plaasvind, of waar
daar ’n “gig” plaasvind met “bands”, flikkerende ligte
en ’n geskreeu,
selfbeheersd?
- Tweedens sê Paulus dat ’n Geesvervulde lewe
nie ’n lewe is wat
vermors word nie, maar dat dit ’n produktiewe lewe is, want soos wat ’n dronkaard sy lewe
weggooi; sy tyd verspil en sy energie en sy geld en baie dikwels ook
uiteindelik sy gesin verkwis en verloor, so gooi hy ook sy reinheid en sy
moraliteit baie dikwels in die proses weg. Die gelowige se lewe daarenteen, is
presies die teenoorgestelde - dit bewaar; dit bou op; dit voeg waarde by en dit
put nie die gelowige, sy gesin en sy hulpbronne uit nie. In teenstelling met ’n dronkaard, is die
gelowige se lewe positief en gelukkig, want dit skenk nuwe lewe in en deur
Jesus Christus. Die Geesvervulde gelowige sien uit na ’n opwindende lewe hier op aarde en veral na die ewige lewe.
Die vraag wat ons nou dadelik
kan vra, is: Hoe is dit moontlik om ’n geordende- en
beheerde lewe te lei? Hoe is dit moontlik om positief en gelukkig te wees, want
ons sit met allerlei probleme en frustrasies rondom ons - in ons werksmilieu;
in ons land en ja, ook soms en in sommige gevalle, selfs in ons huwelike en/of
gesins opset en soms selfs ook met mede-gelowiges? Is dit moontlik en hoe is
dit moontlik om te leef soos wat ons as Geesvervulde gelowiges kan en behoort
te lewe?
Wanneer ons na ander
Skrifgedeeltes kyk wat deur o.a Paulus geskryf is, sien ons hoe hy praat oor
allerlei probleemsituasies en probleemverhoudings. So suggereer hy bv. in
Ef.4:25-32 dat wêreldlinge vals
optree en maklk kwaad word; wat steel; wat lui is; wat vuiltaal gebruik en
vloek en skel; wat skinder en afbrekend praat oor andere; wat nie hartlik is
teenoor andere nie, ens. In Ef.5:1-18 praat hy verder oor soortgelyke dinge waaraan
die wêreld hulleself
skuldig maak - dinge soos leuens wat aan die orde van die dag in die wêreld is, ens. en
dit is asof hy ook aan die Efesiërs (net soos aan die
Korintiërs) wil sê: Moenie ontvlug
in drank soos die wêreld nie - nee, dank die Here, want
ten minste is daar vir ons as gelowiges, ’n oplossing en
daarom moet julle hierdie oplossing wat ek nou vir julle gee, in die praktyk
begin toepas, nl. …word met die Gees vervul.
Ten einde ons geloof dus
prakties uit te leef, moet ons met die Gees vervul wees en natuurlik - ten
einde met die Gees vervul te wees, moet ek deel hê aan die Koninkryk
van God - moet ek wederbaar wees.
6. BETEKENIS:
Wat beteken dit om met die
Gees vervul te wees? Kom ons kyk eerstens na Ef.1:13 ~ Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die
waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor
en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe
is, julle as die eiendom van God beseël.
Paulus sê hier dat ons
wedergeboorte deur die Heilige Gees plaasgevind het, maar in Ef.5:18 sê hy dat ons met die
Gees vervul moet word - hoe klop dit? Ten einde ’n antwoord hierop
te kry, moet ons ook na ander Skrifgedeeltes kyk:
Ef.1:23 ~ Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.
Ef.3:19 ~ Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle
heeltemal vervul word met die volheid van God.
Ef.4:10 ~ Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle
hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.
Ons sien ook in hierdie
teksverse dat die woorde “volheid” en “vervulling” dui op eenheid met
die Drie-Enige God - ’n eenheid, of eenwording tussen ons en
God en wat afgehandel word tydens wedergeboorte.
Ten einde dan vervul te wees
met die Heilige Gees, is om daardie spesifieke eenheid met God te beleef en
daarvolgens te leef. Ons moet derhalwe toelaat dat ons lewe ’n getuienis sal
wees van die teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees.
Wat beteken dit? Ef.5:18 (…word vervul met die
Gees) is in
ooreenstemming met Ef.1:16b-17 ~ Wanneer ek in my
gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die
Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en
Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.
Dit is ook in ooreenstemming
met Paulus se ander gebed in Ef.3:16 ~ Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die
krag sal gee om innerlik sterk te word.
In beide hierdie gevalle word
die klem geplaas op ons verantwoordelikheid om oop en ontvanklik te wees vir
die Heilige Gees. Ons kan dus nie God die Heilige Gees manipuleer nie, maar ons
moet wel betrokke wees.
Ons moet ook in gedagte hou
dat Paulus hierdie brief nié aan individue geskryf het nie, maar
aan die gemeente korporatief en daarom moet ons as gemeente ook gevul wees met
die Heilige Gees. Die gebruik van die werkwoord in Grieks vir vervul in hierdie
geval, is een van voortdurende vervulling met die Gees (nie net hier in
hierdie gebou nie, maar ook daarbuite in ons privaat lewens, want ons is ook
daar gemeente).
Ons het ’n keuse tot watter
mate ons betroke wil wees by die Gees se werk in ons lewe - in ons gemeente.
Van die vyf deelwoorde wat in Grieks gebruik word om ’n lewe in die Gees
te beskryf, het drie dinge te doen met sang (lofprysing) ~ …en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing
met julle hele hart tot eer van die Here (Ef.5:19). Sang is een van
die natuurlike wyses waarop die gelowige uitdrukking gee aan sy vreugde en
dankbaarheid vir wat God in Hom deponeer en aan hom geskenk het.
Dit is ook interessant om te
sien dat die doel met sang in die gemeente, beide lofprysing, maar ook onderrig
is - onderrig in die sin dat gelowiges deur hul sang, mekaar en hulself aan God
se goedheid; Sy genade; Sy verlossingsdade; Sy wederkoms; Sy grootsheid, ens.
herinner. Deur sang bring die gemeente ook dank aan die Here en pleit die
gemeente by die Here, ens. - dit is dus ’n ander vorm van
korporatiewe gebed en daarom moet ons dit met erns bejeën.
Die vierde deelwoord wat vir “vervul” gebruik word, het
te doen met dankbaarheid - ’n dankbaarheidslewe teenoor God dus -
dankbaarheid oor en vir alles. Die Efesiërbrief se
susterbrief, nl. Kolossense, is vol van hierdie tema van dankbaarheid - bv.
Kol.3:15-17 ~ En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die
deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede
met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. Die boodskap van Christus moet
in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met
dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander
geestelike liedere tot eer van God sing. En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles
in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom (sien ook Kol.4:2).
Die vyfde deelwoord vind ons
in Ef.5:21 ~ Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. Mense wat dus
vervul is met die Heilige Gees, is mense wat aan mekaar onderdanig is. Hierdie
woord “onderwerp” beteken letterlik “om onder mekaar te
rangskik”.
Ons vind hierdie selfde woord
o.a. in Rom.8:7 (sien ook Ef.1:22; 1 Pet.5:5; 1 Kor.14:32). Onderwerping is ’n kritiese
bestanddeel van die Christelike lewe. Christus self het hierdie beginsel aan
ons gemodelleer - geen wonder dan dat Hy in Matt.23:12 sê ~ Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.
Net baie kort - Wat beteken
dit om aan mekaar onderdanig te wees? Wel, ek dink een teksvers som dit pragtig
op, nl. Fil.2:3 ~ Moet niks uit selfsug of eersug doen
nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër
ag as homselfag die een hoër as dia jouself.
Die basiese beginsels vir
Christelike onderwerping, of onderdanigheid wat die gemeentelwe moet rig, geld
ook vir alle ander sosiale verhoudings en daarom spreek Paulus dit ook aan in
Ef.5:22-33 waar hy die verhouding tussen vrouens en mans omskryf. In Ef.6:1-4
gaan dit oor kinders en ouers en Ef.6:5-9, slawe en hul meesters, of in ons
konteks, werkgewers en werknemers.
7. AFSLUITING:
Om op te som dan: Hoe word
ons vervul met die Heilige Gees?
- Leef ’n beheerde en
geordende lewe.
- Leef ’n produktiewe lewe.
- Leef ’n positiewe en
gelukkige lewe.
- Deur sang en lofprysing.
- Deur ’n
dankbaarheidslewe.
- Deur aan mekaar onderdanig te wees.
Mag dit ook ons gesindheid
wees ten einde as gemeente vervul te wees met die Heilige Gees en mag ons met
heilige jaloesie waak oor ons korporatiewe vervulling met die Heilige Gees,
deur mede-gelowiges in liefde aan te spreek oor sonde in hul lewe - sonde wat
die Gees in die midde van ons gemeente kan bedroef en as dit gebeur kan ons nie
vrug in en deur ons gemeente verwag nie - waak dus gesamtlik oor ons vervulling
met die Gees en as ons in sonde is - …word met die Gees vervul - opnuut en by
herhaling!
Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente - Sondagoggend 31 Mei 2015