1. INLEIDING:
Die Christelike Kerk het nou
onlangs Pinksterdag gevier en ek het dit goed gedink om vandag met ’n nuwe reeks uit
Handelinge te begin - ’n boek wat ons as ’n kosbare kleinnood
moet beskou, omdat dit vir ons die bloudruk vir “Kerkwees” verskaf en daarom
is Handelinge vir ons van onskatbare waarde.
2. AGTERGROND:
Voor ons begin met ’n nuwe boek of
brief in die Bybel, moet ons eers aandag
skenk aan die agtergrond t.o.v. die boek (baie kortliks dan):
•
Skrywer: Die skrywer van
Handelinge is Lukas, wat naas Handelinge, natuurlik ook die Evangelie van Lukas
geskryf het en hierdie twee boeke van hom vorm ’n eenheid. Beide is
opgedra aan Theófilus. Wie was
hierdie Theófilus? Daar was
baie mense in Lukas se tyd met hierdie naam en daar is baie wat
reken dat hierdie naam eintlik verwys na alle gelowiges en dit maak nogal sin,
want hierdie naam is saamgestel uit twee Griekse woorde - die eerste is ’n eienaam, “theos” wat verwys na God
en “philos” of “phileo” wat ’n werkwoord is en
wat “om lief te hê” beteken.
•
Die Naam: Die naam verwys na
die handelinge of die optrede van die apostels en die eerste, of vroeëre Nuwe
Testamentiese Kerk.
•
Datum: Daar bestaan twee
gedagte rigtings as dit kom by die bepaling van die datum vir die skrywe van
Handelinge. Die eerste groep redeneer t.g.v. ’n datum, so vroeg
as 62 n.C. - dit was teen die einde van Paulus se tweede gevangesetting in Rome
en hulle grond dit op Hand.28:30 (waarop ons nie nou sal ingaan nie). Die tweede skool of
denkrigting reken dat Handelinge rondom 96 n.C. geskryf is omdat Clement van
Rome bekend was met Handelinge (ook hierop sal ons nie ingaan nie). Sonder dus om in
geweldige detail te verval, kan ons volstaan met ’n datum vir die
skryf van Handelinge op ’n datum iewers tussen 62 en 96 n.C.
•
Die waarde van en doel met Handelinge:
Waarom moet ons Handelinge lees? Wat se betekenis hou Handelinge vir ons in?
Eerstens moet ons besef dat Lukas se doel met die skryf van hierdie boek, nie
was om primêr teologiese kennis
en redenasies neer te pen nie (soos Paulus bv.), maar hy het dit
geskryf om aan te toon hoe die eerste Kerk van die Here Jesus daaruit gesien
het. Die feit dat dit ’n “geskiedenis-boek” is, impliseer egter
nié dat daar gladnie
teologie vervat is in hierdie skrywe van Lukas nie, trouens ons sal mettertyd
teologiese onderwerpe sien, soos bv.:
- Die vleeswording van Jesus
- God se werk in Jesus Christus (verwysend na o.a
Sy soendood en opstanding);
- Die Heilige Gees;
- Die Kerk;
- Eskatologie (die leer van die
laaste dae - die wederkoms, ens.).
Al sê ons derhalwe dat
Handelinge ’n geskiedkundige
weergawe is van die eerste jare van die Kerk, is en bly Handelinge egter steeds
’n Evangelie,
enersyds omdat hierdie, soos reeds gesê, ’n voortsetting is
van Lukas se Evangelie en andersyds omdat Lukas nié in die eertste plek
’n geskiedskrwyer
was nie, maar ’n Evangelis.
In kort kan ons dan sê dat die doel met
die skryf van hierdie Boek, was dat Lukas vir Theófilus wou oortuig
en bemoedig met die feit dat niemand daartoe instaat sal wees om die voortgang
en groei van die Kerk van Christus hier op aarde te kan stuit nie en hierin
moet ons as 21ste eeuse gelowiges ook bemoediging put, nl. dat (weereens my
gunsteling teksvers) ~ En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van
die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matt.16:18). Lukas bemoedig Theófilus verder ook
met hierdie skrywe, deur vir hom daarop te wees dat Jesus se “Groot Opdrag” in Matt.28:19-20
inderdaad in gehoorsaamheid uitgevoer en volvoer sál word, nl. ~ Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop
hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle
om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding
van die wêreld. Amen.
Ons vind dus ’n pragtige
voortsetting in Handelinge van Lukas se eerste boek (die Evangelie van
Lukas).
In Lukas het hy begin om die koms (of vleeswording) van Jesus te
beskryf (’n vervulling van
die profesieë van talle profete
dus)
en nou gaan hy in Handelinge voort en beskryf hy die voortgang van die
Evangelie wat die vleesgeworde Christus van stapel gestuur het - ’n pragtige en
wonderlike voortgang van die Evangelie dus!
•
Temas in die Handelinge Boek:
Ons vind verskeie temas vervleg in en deur die boek, bv:
- Die tema van die Heilige Gees
wat in 1:8 as volg opgesom word ~ …maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en
julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.
- Die volgende tema is die sendingtema.
Petrus en die elf verkondig aanvanklik die Evangelie hoofsaaklik in Jerusalem
aan die Aramees- en Griekssprekende Jode, maar gaandeweg brei die verspreiding
van die Evangelie uit na omliggende streke en uiteindelik word die Evangelie
aan die heidene verkondig waarvan die Etiopiese koopman en die Samaritane
waarskynlik die bekendste is (beide ge-evangeliseer deur Filippus) en uiteindelik waar die Evangelie ’n geweldige impak
op die Romeinse hoofstad gehad het.
- Die gesag van die Apostels en die Kerk in
Jerusalem, is ’n volgende tema.
Die Apostels was instrumenteel in die organisering van die Kerk in Jerusalem en
so ook die uitbreiding van die Kerk na ander streke.
- Die teenkanting van die Evangelie
is ’n tema wat regdeur
die Handelingeboek loop. Dink maar net aan die spotters wat gesê het dat die
Apostels vol wyn is; Die vervolging, gevangesetting en doodsvonnisse wat op elf
van die twaalf apostels voltrek is, ens.
Ongeag die
vervolging is die Evangelie egter steeds met durf
en entoesiasme en
sukses, verkondig.
- Laastens sien ’n mens ook regdeur
die boek, hoe die Evangelie o.l.v. die Heilige Gees, verdedig
word - nog ’n tema wat vir ons
as gelowiges tot groot aanmoediging en sekuriteit moet strek.
•
Drie Fundamentele Waarhede: Ons
vind drie fundamentele Waarhede opgeteken in Handelinge:
- Eerstens: Redding word deur God
voorberei vir Sy uitverkorenes - Simeon het in Luk.2:30-31 die volgende
gesê ~ …omdat my oë u verlossing
gesien het wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke.
- Tweedens sal ons sien dat redding deur
Christus Jesus geskenk word. In Luk.2:11 het ’n engel vir Simeon
gesê ~ Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding
van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die
stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.
- Laastens word die redding aan alle
mense aangebied. In Hand.2:17 haal Lukas vir Petrus aan, wat op sy
beurt die profeet Joël aangehaal het ~ En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees
uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer,
en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom.
3. SKRIFLESING:
Hand.1:1-5 ~ 1) DIE eerste verhaal, Theófilus, het ek opgestel oor alles wat Jesus begin doen en
leer het
2) tot op die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy aan die
apostels wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het; 3) aan wie Hy ook, ná sy lyde, Hom lewend vertoon het deur baie kentekens,
terwyl Hy gedurende veertig dae aan hulle verskyn het en oor die dinge van die
koninkryk van God gespreek het. 4) En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel
gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van
die Vader, wat julle, [het Hy gesê,] van My gehoor het. 5) Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal
met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.
3. LUKAS SE INLEIDING (vv.1-3):
In Lukas 1:3 lees ons ~ …ek
(het dit) ook goedgedink, hooggeagte Theófilus, nadat ek van voor af alles noukeurig ondersoek
het, om dit in volgorde aan u te skrywe. Lukas gaan nou
hier in Hand.1 voort met sy skrywe aan Theófilus, deurdat hy
hom direk aanspreek in die aanhef en Lukas herinner Theófilus daaraan dat
hy in die eerste gedeelte van sy brief vir hom vertel het van (in sy woorde -
vv.1b-2a) … alles wat Jesus begin doen en leer het
tot op die dag dat Hy opgeneem is…
Lukas gaan nou hier in die
eerste hoofstuk voort waar hy opgehou het aan die einde van Lukas met Jesus se
hemelvaart en vertel hy nou vir Theófilus van die
bevele en beloftes wat Jesus aan Sy dissipels gegee het net voor Sy hemelvaart,
maar net voor hy daar kom, noem hy eers drie dinge in die tweede vers, nl.:
• Hemelvaart: Lukas is die
skrywer wat die volledigste beskrywing van die hemelvaart van al die
Bybelskrywers verskaf (weer in Hand.9-11) en hy noem dit net
vlugtig weer hier - so asof hy wil sê - Ek het die eerste
deel (in
die Evangelie van Lukas) met hierdie onderwerp afgesluit en ek
noem dit net weer, omdat ek later, in hoofstukke 9-11, meer volledig hieroor
sal skryf.
•
Opdragte: Lukas verwys
in v.2 net so terloops, sonder om in detail daarop in te gaan, na die opdragte
wat Jesus aan Sy dissipels gegee het net voor Sy hemelvaart. Lukas bring
hierdie opdragte in verband met die “Groot Opdrag” wat Jesus vir ons
o.a. in Matt.28:19-20 gegee het ~ Gaan dan heen,
maak dissipels van al die nasies… en wat daarop
volg. ’n Geweldige opdrag
wat aan die Kerk van die Here Jesus gegee is en waaraan ons ook gehoorsaam móét wees.
•
Verkiesing: Lukas tref in
Handelinge ’n onderskeid tussen
gelowiges, of te wel, dissipels of leerders aan die eenkant en apostels of te
wel leraars aan die anderkant. So ontvang die gelowiges of
dissipels dan lering van die apostels in bv. Hand.2:42 ~ Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels…
Die apostels het met gesag en
onder leiding van die Heilige Gees lering gegee
en geskryf, daarom dat Lukas in v.2 sê ~ …nadat Hy aan die apostels wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees
bevele gegee het. Hier bevestig hy dat hulle as Apostels deur die Heilige
Gees aangewys is, maar ook bemagtig is en wat meer is hy verksaf ook
terselfdertyd in v.3 ’n kwalifikasie vir apostelskap, nl. ~ …aan wie Hy ook, ná sy lyde, Hom lewend vertoon het deur baie kentekens,
terwyl Hy gedurende veertig dae aan hulle verskyn het en oor die dinge van die
koninkryk van God gespreek het. As iemand dus daarop aanspraak wil
maak dat hy ’n apostel is, moet
hy terselfdertyd kan sê en bewys dat hy Jesus persoonlik ná Sy lyde (nie in 2015 nie), lewend gesien het
(nie
in verheerlikte vorm soos wat dit dan die geval sou moes wees indien dit in
2015 sou gebeur nie) en dan moes dit ook vir veertig dae
aaneen gebeur het, terwyl Jesus baie kentekens aan hulle gegee het. Hierdie “kentekens” word nog beter in
die ESV gestel, nl. ~ …He presented himself alive to them
after his suffering by many proofs en dit word nóg beter in die
Amplified Bible omskryf ~ …by [a series of]
many convincing demonstrations [unquestionable evidences and infallible proofs. Wie in ons dag
kan aan al hierdie vereistes voldoen - net iemand wat 2000 plus jaar oud is.
4. JESUS SE OPDRAG AAN DIE APOSTELS (vv.4-6):
Tydens Jesus se
laaste veertig dae, voor Sy hemelvaart, het Hy saam met Sy dissipels geëet en Hy het dit
enersyds gedoen om aan hulle te bewys dat Hy waarlik opgetsaan het - in lewende
lywe (vlees
en bloed en gebeente) en dat hule nie ’n gees of spook
gesien het nie. Hy het egter ook, bo en behalwe die feit dat Hy “kentekens” aan hulle gegee het
en oor die Koninkryk van God gedeel het, ook ’n baie spesifieke
opdrag aan hulle gegee, nl. ~ Hy (het) hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op
die belofte van die Vader (v.4). Hierdie opdrag om
nie Jerusalem te verlaat nie, is ’n herhaling van dit wat hy in
Luk.24:49 gerapporteer het ~ En Ek sal die
gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly
totdat julle met krag van bo toegerus is.
Wat is hierdie belofte van
Krag waarvan Lukas hier skryf? V.5 verskaf aan ons die antwoord ~ Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal
met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie. Die gawe van die
Heilige Gees - dit is wat Jesus aan Sy dissipels belowe het en waarvoor hulle
in Jerusalem moes wag - ’n belofte en geskenk wat van God die
Vader gekom het.
Die dissipels het egter baie
gou vergeet wat Jesus enkele dae vantevore gesê het en/of hulle het
Jesus gladnie verstaan nie, want weer vra hulle vir Jesus die opgestane
Christus, of die groot oomblik waarvoor al die Jode gewag het, nl. dat Jesus
die Messias die Romeinse owerhede in Jerusalem omver gaan werp en Sy Koninkryk
- ’n fisiese en
menslike koninkryk, daar gaan stel.
’n Mens kan eintlik
nie die dissipels heeltemal kwalik neem dat hulle so gedink het nie, want
Johannes die Doper het in Matt.3:2 gesê ~ Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby
gekom.
Hy het gesê hulle gaan weer na
al die jare ’n koning hê. Jesus het ook
hierdie boodskap deurgegee toe Hy o.a. in Luk.17:21 gesê het ~ Hulle
sal nie kan sê: `Kyk, hier is dit! ‘of:
`Daar is dit!' nie, want die koninkryk van God is hier by
julle.
Omdat hulle onseker is - deurmekaar is - amper en waarskynlik asof hulle
enersyds tog só graag wil hê dat hulle Meester
die Romeine moet verslaan en ’n nuwe regeringsorde vir Jerusalem
daar moet stel, maar andersyds ook omdat hulle ten diepste besef dat Jesus iets
anders hier in gedagte het - iets blywends; iets van die Vader en nie iets wat
hulle in hul vleeslike begeertes graag wil sien realiseer nie - daarom vra
hulle Jesus weer, net om heeltemal seker te maak.
Ons kan ons ook verder net
indink hoe angstg die apostels was om gehoor te gee aan Jesus se opdrag om die
wye wêreld in te gaan en
vir almal te vertel van Jesus Christus die Verlosser, maar Jesus het geweet dat
hulle nog nie gereed was nie - hulle moes eers bemagtig word deur die Heilige
Gees en daarvoor moes hulle in Jerusalem gaan wag. Wanneer ons dít verstaan,
verstaan ons ook beter waarom al die kennis van die wêreld en watter
toerusting en opleiding ookal, ’n bloue duit beteken as dit nie
gepaard gaan met die krag wat die inwonende Gees van God gee nie. Krag - die
krag van die Heilige Gees moet Waarheid dus altyd vergesel.
Ten einde seker te maak dat
die Apostels nie net gemotiveerd was nie, maar ook ten volle toegerus was vir
die geweldige opdrag wat op hulle gewag het, moes hulle met Goddelike krag
bemagtig word en dit kon net deur die vervulling met die Heilige Gees geskied -
’n belofte wat
herhaaldelik deur Jesus gemaak was terwyl Hy op aarde was - bv. Joh.7:38-39 ~ Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. Hiermee het Hy na die Gees
verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die
Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.
Bo en behalwe die feit dat
hulle ten volle toegerus moes wees om die Evangelie te verkondig, is Matt.10:20
nog meer van toepassing ~ Dan is dit nie
julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.
Iets wat baie dikwels
verwarrend is vir Bybellesers, is die vraag hoe die dissipels (en selfs die Ou
Testamentiese gelowiges) vóór die uitstortng
van die Gees, wedergeboorte kon ervaar en verder ook, hoe hulle kon optree in
die Naam van Christus en bv. siekes genees het? Jesus het reeds die antwoord
aan ons gegee in Matt.10:20 wat ons nou net gelees het, maar kom ons kyk na nog
’n vers ~ …want die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leer
wat gesê moet word (Matt.10:20). In Joh.14:16-17
het Jesus vir Sy dissipels gesê ~ Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir
ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie
ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom,
omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Net soos in Ou
Testamentiese tye, het die dissipels van Jesus, voor Sy hemelvaart en die
uitstorting van die Heilige Gees, die krag van die Heilige Gees ervaar vir
redding en lewe, asook vir spesiale geleenthede of vir bepaalde situasies
tydens hul optrede en bediening (dink bv. ook aan die profete en hul
profesië).
In die nuwe bedeling, of te
wel die Nuwe Verbondstyd waarin die apostels ná Pinksterdag geleef
het en waarin ons en ons nageslag sal leef tot en met Christus se wederkoms, is
dit egter anders, want van ná Pinksterdag af, is die Heilige Gees
inwonend in elke gelowige van die dag dat hy wederbaar is en word hy daagliks
op ’n unieke wyse
bekragtg en bemagtig. Die Here het hierdie feit reeds in Eseg.36:25-27 bevestig
~ Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein
kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery.
Ek sal julle 'n nuwe hart en' n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle
liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en
Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en
nakom
- ’n profesie wat op
Pinksterdag vervul is!
5. DIE KONINKRYK VAN GOD:
Ons het in v.3 gelees dat
Jesus ~ …gedurende
(die) veertig dae (toe Hy) aan hulle verskyn het, oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het. Ook Johannes die
Doper na wie Jesus in v.5 verwys, het oor dieselfde tema gepreek - in Matt.3:2
het hy o.a. gesê ~ Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby
gekom.
Toe Jesus met Sy bediening
begin het, het Hy dieselfde boodskap gepreek ~ Van toe af het Jesus begin preek en gesê:
Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby
gekom
(Matt.4:17).
Beide
Johannes en Jesus het gesê dat hulle luisteraars aandag moet
skenk aan wát hulle sê en hulle bekeer,
want die Koninkryk van God is ’n realiteit wat binnekort sal
aanbreek.
Wat is hierdie Koninkryk van
God en wanneer het of gaan dit aanbreek? Dit is belangrik dat ons duidelikheid
hieroor sal kry, want dit was ’n belangrike onderwerp in Jesus se
bediening. Het Jesus na ’n fisiese volk verwys met bepaalde
landsgrense, wette en ’n monarg? Indien dit wel die geval is,
wat het God daarmee te doen? Ten einde ’n antwoord hierop
te verkry, moet ons kyk na wat die Koninkryk van God is - wat word daarmee geïmpliseer?
Ons
moet in gedagte hou dat die israeliete van die vroegste tye af, ’n koning wou
hê en God het aan hulle konings gegee, maar
sedert Sedekia (geregeer tussen 434 v.C.-423 v.C.) voor die
Babiloniërs geval het in 423 n.C. (2 Kon.25), het Israel
nog nooit weer ’n koning gehad nie. Jesus het gedurig oor
die komende Koninkryk gepraat en terselfdertyd het Hy wonderwerke gedoen wat
ongekend was en gespreek het van geweldige mag en het die Israeliete noodwendig
gedink dat Hy die een was wat die Koningstroon in Jerusalem sou kom herstel.
Wat
die Israeliete egter nie gehoor het nie, is dat Jesus nooit van die Koninkryk
van Israel gepraat het nie, maar van die Koninkryk van God, trouens Hy het
talle gelykenisse gerbuik om hulle daarop te wys dat Hy van God se Koninkryk
praat, maar steeds kon hulle dit nie hoor en sien nie.
Na Jesus se opstanding het
die gelowiges egter stadig maar seker beter begin verstaan en besef dat Jesus
besig is om hulle in te lei in ’n nuwe lewe in ’n nuwe Koninkryk - ’n Koninkryk wat nie
deur ’n aardse koning
geregeer word nie, maar dat dit ’n Goddelike Koninkryk is en dat God
alles op aarde en in die hemel, stadig maar seker vernuwe en herskep tot dít wat dit
oorspronklik was toe Hy dit geskep het.
Dit is dus ’n Koninkryk wat
reeds is, maar nog nie is nie - dit is dus gedeeltelik teenswoordig en
gedeeltelik toekomstig. Baie seën van God se Koninryk kan reeds nou al
ervaar en geniet word, maar nog nie alles volkome nie. Sommige van die krag is
reeds beskikbaar vir ons, maar nog nie alle mag nie. Sommige van die vloek en
straf en ellende van die teenswoordige tyd kan oorwin word deur die
teenwoordigheid van die Koninkryk van God, maar nog nie alles nie. Die finale
geveg teen sonde en die satan en siekte en dood is reeds afgehandel en gewen
deur Jesus Christus met Sy dood en opstanding, maar die oorlog is nog nie oor
nie - sonde moet nog beveg word; die satan moet nog weerstaan word en in Paulus
se woorde in Rom.8:23 ~ En nie net die
skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God,
ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy
kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. Ons is steeds in ’n stryd vasgevang,
maar Paulus sê ook hier wanneer
die finale Koninkryk van God in totatliteit sal aanbreek - op daardie dag
wanneer ons self uit Christus se mond sal hoor dat Hy ons as Sy kinders
aangeneem het en ons finaal van die verganklikheid gered is.
Martin Lloyd Jones het die
volgende hieroor gesê: ”It is a Kingdom of
which is to come, yes. But it is also a Kingdom which has come. ‘The Kingdom of God
is among you’ and ‘within you’; the Kingdom of
God is in every true Christian. He reigns in the Church when she acknowledges
Him truly. The Kingdom has come, the Kingdom is coming, the Kingdom is yet to
come.” Lloyd Jones gaan voort: “Now we must always
bear that in mind. Whenever Christ is enthroned as King, the kingdom of God is
come, so that, while we cannot say that He is ruling over all in the world at
the present, He is certainly ruling in that way in the hearts and lives of all
His people.”
Wat is God se
Koninkryk dan? God se Koninkryk is die heerskapy van die soewereine God oor
alle skepsele en dinge. Psalm 103:19 stel dit pragtig ~
Die Here het sy troon in die hemel gevestig, sy
heerskappy strek oor alles en almal. Daniël stel dit nog
mooier in Dan.4:3 ~ Hoe groot is sy tekens, hoe magtig sy
wonders! Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, sy heerskappy duur van geslag tot
geslag.
Die Koninkryk van God is ook die finale bestemming vir die sfeer van redding en
verlossing wat elke gelowige betree het, die dag toe hy wederbaar is (Joh.3:5-7).
Die Koninkryk van God is dus ’n Koninkryk waar
God vir ewig
sal heers oor die
ganse herskepte heelal, maar wat meer is, ons as gelowiges ervaar reeds
spatsels van hierdie wonderlike Koninkryk van God in hierdie gevalle wêrled.
6. AFSLUITING:
Daar is dosyne en dosyne
beloftes in die Woord van God, maar daar is net een belofte van die Gees en dit
word in Hand.1:4 genoem, die belofte van
die Vader. God die Vader self het belowe dat Hy Sy Gees oor ons sál uitstort (ons het dit reeds
in Joël 2:28 gesien), verder het
Christus belowe dat Hy Sy Vader sal vra om Sy Gees oor ons uit te stort en dan
sien ons in Joh14:16-17a dat Jesus sê ~ …en
Hy (die Vader) sal vir julle 'n ander Voorspraak
stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.
Geliefdes, die vervulling met
die Heilige Gees, of die Doping met die Heilige Gees, is nie ’n spesiale voorreg
wat opsy gesit is vir sommige, “spesiale” en bevoorregte
gelowiges nie. Ook word gelowiges nooit in die Skrif uitgedaag, of aangemoedig
om die Heilige Gees, of die vervulling met die Heilige Gees te soek, of na te
jaag nie. Dit is ook nie ons verantwoordelikheid om voor te berei daarvoor, of
daarvoor te bid, of daarvoor te smeek, of te wag nie. Die passiewe vorm waarin
hierdie werkwoord geskryf is, dui daarop dat gelowiges die belofte van die Gees
ontvang as geskenk van die soewereine God - dit kom soos wedergeboorte en met
wedergeboorte - uit genade, sonder enige menslike intervensie ~ Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons
vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy
gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat
nuwe lewe gee. God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus
Christus ons Verlosser (Titus 3:5-6).
Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente - Sondagoggend 14 Junie 2015