Sunday, June 1, 2014

Jesus se Hemelvaart

1.     SKRIFLESING:
       Hand 1:1-11 ~ My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af 2 tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. 3 Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. 4 Terwyl Hy ’n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. 5 Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.” 6 Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” 7 Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” 9 Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10 Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11 Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

2.     INLEIDING:
       Die boek Handelinge is ’n historiese boek wat ’n weerspieëling is van die apostoliese bediening van die vroeë kerk en hierdie geskiedenis strek oor ’n tydperk van dertig tot vyf-en-dertig jaar.

       Die sentrale tema van die boek is die hemelvaart en die Koningskap van Jesus Christus, maar dit gaan ook oor God se voortdurende beskerming van en voorsiening aan die Kerk van Christus. Die boek is geskryf deur Lukas en Handelinge begin waar die Evangelie van Lukas eindig – met die hemelvaart van Jesus.

3.     AGTERGROND:
       Wat ’n gebeurtenis moes hierdie hemelvaart van Jesus nie gewees het nie. Dink julleself in vir ’n oomblik – ’n klompie dissipels wat ’n dekade of twee bykans elke dag saam met Jesus beweeg het; saam met hom geëet en geslaap het; wat Sy wonderwerke aanskou het; wat dag in en dag uit onder Sy lering gesit het; wat Hom aan die kruis as onskuldige sien sterf het; wat die opgestane Christus weer gesien en selfs gevoel het (dink aan die ongelowige Thomas wat sy vinger in Jesus se wonde moes druk voor hy geglo het). Die dissipels wat weer na Jesus se opstanding, saam met Hom geëet het en weer onder Sy lering vir ’n verdere veertig dae gesit het... en skielik verlaat Hy hulle nou. Nee, nog erger, Hy styg in die lug in op – binne in ’n wolk in en toe die wolk verby skuif is Jesus ook weg! Wat ’n ervaring! Wat ’n gesig!

       ’n Mens kan maar net wonder wat in hierdie dissipels se gedagtes aangegaan het, terwyl hulle so na die hemele staar? En tog gee v.10 vir ons ʼn aanduiding van wat in hul gedagtes gemaal het – daar staan... ~ Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk. Hierdie uitdrukking “stip” is in die Grieks, τενίζω [atenizo /at·en·id·zo/], wat daarop dui dat hulle nie in die hemele opgekyk het omdat hulle verwonderd gestaan het oor hierdie wonderwerk nie, maar dit dui eerder daarop dat hulle vir oulaas nog kyk of hulle nie hul Meester dalk nog kan sien nie – nog een laaste kykie, want dalk kan hulle Hom nog net vir ʼn oomblik gadeslaan – hulle kyk stip en met aandag, omdat hulle iemand kosbaars verloor het.

       Terwyl hulle egter nog staan en staar, verskyn daar skielik twee manne met blink klere en hierdie twee manne spreek die dissipels aan deur vir hulle te vra waarna hulle so staar. Dit is asof hierdie twee manne vir die dissipels sê: “You are so heavenly minded that you are no earthly good”.

       Baie duidelik ken hierdie twee manne die antwoord op hulle vraag, want hulle gaan onmiddellik voort deur vir die dissipels in v.11b te sê ~ Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.

       Hier in vv.9-11 is daar drie dinge waaraan ons kortliks aandag moet gee:
·           Die hemel en die wolk:  In v.9 in die NAV staan daar dat Jesus weggeneem is, maar daar staan letterlik in die oorspronklike teks dat Hy opgeneem is en dan sien ons dat die dissipels opgekyk het na die hemel. Dit is dus duidelik dat Jesus in die lug in opgeneem is.

       Dit is verder opmerklik dat die woord “hemel” vier keer in vv.10-11 gebruik word. Lukas wil hierdeur beklemtoon dat die hemel ’n letterlike plek is – ’n letterlike plek waarna Jesus se letterlike, verheerlikte liggaam teruggekeer het – daardie selfde verheerlikte liggaam waarin Thomas sy vingers gedruk het; dieselfde liggaam wat saam met die dissipels ná Sy opstanding geëet het – dit is daardie selfde tasbare liggaam wat na die tasbare hemel opgevaar het.

       Nog iets wat belangrik is om op te let, is die feit dat die woord, “opgeneem is” – in die passiewe werkwoordsvorm geskryf is, wat daarop dui dat God die Vader, die Een is wat Jesus opgeneem het in die hemel en dat dit nie Jesus self was wat in eie krag en op eie inisiatief opgevaar het nie. Dit is waarskynlik dan ook waarom Jesus in ’n wolk verdwyn het, want ons lees op verskeie plekke in die Woord dat wolke gewoonlik God se hemelse heerlikheid verberg het.  Dink bv. aan die keer toe Petrus, Jakobus en Johannes saam met Jesus in die Tuin van Getsemane was en Moses en Elia aan hulle verskyn het en Petrus vir hulle hutte wou bou om in te bly en dan lees ons in v.5 van Matt.17 ~ Terwyl hy nog praat, het ’n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ’n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom” (sien ook 2 Pet.1:17 en Eks.40:34-35).

·           Wie was hierdie manne in wit klere?  ’n Tweede vraag waarna ons ook moet kyk, is wie hierdie manne was wat in wit geklee was en wat aan die dissipels verskyn het, terwyl hulle stip na die hemel gestaar het? Dit is baie duidelik dat hierdie manne engele was wat deur God gestuur was. Hier is sterk ooreenkomste met bv. die twee engele wat op Paassondag by die leë graf van Jesus aan Maria Magdalena en die ander vroue verskyn het ~ Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan (Luk.24:4). Ons weet ook al teen hierdie tyd dat wit, reinheid en vreugde simboliseer.

       Hierdie engele was nie gestuur om die dissipels tereg te wys nie, maar om te openbaar. Die engele vra die elf dissipels (onthou: Judas was reeds dood en nie meer deel van die binnesirkel van Jesus se dissipels nie en daar was ook nog nie ’n nuwe dissipel in Judas se plek aangewys nie) – hierdie engele vra hulle, waarom hulle die hemel so instaar, want hulle wou nie die dissipels hieroor tereg wys nie, maar hulle juis bemoedig en moontlike droefheid verander in vreugde, deur die Elf te verseker dat, al het Jesus opgevaar na die hemel, Hy hulle steeds sal lei om hul opdrag – hul roeping te vervul, deur o.a. van Jesus se wederkoms te getuig.

       Hierdie gerusstelling was nodig, omdat Jesus in Matt.28:20 belowe het dat Hy by hulle sal bly tot die voleinding van die wêreld en daarom beklemtoon die engele die feit dat Jesus, net soos wat Hy nou weggegaan het, weer op dieselfde wyse sal terugkeer. Die engele het met hierdie aankondiging nie nuwe openbaring met hulle gedeel nie, want in Joh.16:16 het Jesus alreeds gesê ~ Nog ’n klein rukkie, dan sien julle My nie meer nie; en weer ’n klein rukkie, dan sal julle My weer sien. In Joh.1:4-5 sien ons ook hoedat Jesus, hulle hierop voorberei het en vir hulle gesê dat hulle nie alleen sou wees na Sy hemelvaart nie ~ Terwyl Hy ’n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. 5 Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word en in Joh.16:7 het Jesus, hulle ’n verdere versekering gegee dat hulle nie alleen sou wees nie en dat dit beter vir hulle sou wees as Hy teruggaan na Sy Vader ~ Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.

4.     IMPLIKASIES:
       Ons het die afgelope Donderdag Jesus se hemelvaart gedenk, en ons het gesien dat Sy hemelvaart ’n geweldige impak op Jesus se agtergeblewe dissipels gehad het, maar ook ’n geweldige impak op die vroeë kerk. Die vraag is derhalwe, watter impak en toepassing het Jesus se hemelvaart op ons vandag? Ek wil dit graag onder die volgende ses punte hanteer:
·         Skeiding;
·         Vervulling;
·         Verheerliking;
·         Bevestiging;
·         Verandering;
·         Verwagting.

·           Skeiding:
       Alhoewel die hemelvaart van Jesus ’n fisiese skeiding tussen Hom en Sy dissipels (onthou: dissipels impliseer nie net die Elf nie, maar al Sy volgelinge op daardie stadium) gebring het, moes dit menslik gesproke ’n geweldige slag vir hulle gewees het en soveel te meer vir die binnekring van Jesus se dissipels, nl. die Elf wat nou die Apostels sou word. Hulle het daagliks na Jesus se lering geluister; hulle het wonderwerke ervaar – siekes het gesond word, dooies het opgestaan uit die dood; vissies, brood en wyn is vermeerder; hulle geestesoë is verlig; hul lewens het radikaal verander; hulle het ervaar hoe verskeie profesieë vanuit die Ou Testament vervul is, maar bowe al het hulle die opgestane Jesus na Sy kruisiging gesien en gehoor – wat ’n lewensveranderende ervaring moes dit nie vir hierdie mense gewees het nie – en nou? Nou skielik is Jesus weg – Hy is van hulle geskei. En tog – tog lees ons nêrens dat enige een van hierdie mense gehuil of gerou het oor Sy “weggaan” nie. Waarom was dit moontlik? Omdat Hy in o.a. Matt.28:20 vir hulle gesê het ~ En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. Die dissipels het Jesus geglo en daarom het hulle ook hierdie spesifieke uitspraak geglo en treur hulle nie, maar wag hulle in opgewondeheid vir die vervulling van hierdie belofte en net so wag ons saam met hulle daarop.

·           Vervulling:
       Tweedens sien ons in die Hemelvaart, die vervulling van dít waarvoor die Here Jesus na die aarde gekom het. Die Hebreërskrywer vat dit mooi saam in Hebr.1:3 wanneer hy sê ~ Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.       

       In Matt.20:28 het Jesus self gesê, dat Hy ...nie gekom (het) om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.

       Gedurende die veertig dae tydperk tussen Jesus se kruisiging en Sy hemelvaart het Hy juis verskeie kere getuig dat Sy kruisdood en opstanding, die vervulling van verskeie Ou Testamentiese profesieë was. Hy het selfs Sy dissipels in Matt.24:25-27 berispe oor hul gebrek aan insig ~ Toe sê Hy vir hulle: “O, hoe sonder begrip en traag van hart is julle, dat julle nie alles wat die profete gesê het, glo nie! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in Sy heerlikheid in gaan nie?” Hierna het Hy begin om al die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê (ADV 2014 = Afrikaanse Direkte Vertaling).

       Na die hemelvaart het Petrus verskeie preke gepreek waarin hy die ooreenkoms tussen die koms van en gebeurtenisse rondom Jesus en veral die kruisiging en opstanding, en die vervulling van Ou Testamentiese profesieë aangetoon het.  Hier kan ons bv. verwys na Hand.2 waar hy getuig oor Dawid se profesie t.o.v. Jesus se koms en Middelaarswerk en dan sê Petrus veral die volgende van Dawid in Hand.2:30-33 ~ Maar hy (dit is Dawid) was ’n profeet en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge (dit is Jesus) op sy troon sou sit. 31 Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê: Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie. 32 God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. 33 Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor.

       Baie jare later het Paulus die Sinagoge toegespreek en die volgende gesê ~ Die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het vir Jesus nie erken nie. Deur Hom te veroordeel het hulle die uitsprake van die profete, wat elke Sabbatdag voorgelees word, in vervulling laat gaan (Hand.13:27). Ook Paulus het dus getuig t.o.v. die vervulling van die Ou Testamentiese profesieë.

       Hierdie vervulling van die Ou Testamentiese profesieë skenk aan ons soveel sekuriteit, omdat ons, bo en behalwe dat die Heilige Gees in ons harte daaroor getuig, ons verdere bevestiging ontvang dat die Woord met al sy beloftes, inderdaad waar is!

·           Verheerliking:
       In radikale teenstelling met die koms, of te wel die vleeswording van Jesus, waar Sy heerlikheid nog grootliks verborge was, het ons Here Jesus Christus met Sy hemelvaart, opgevaar in prag en glans en in majesteit en heerlikheid, daarom dat Paulus in Fil.2:9-10 gesê het ~Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 11 en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. Christus Jesus het in ’n verheerlikte liggaam opgestaan uit die dood en Hy is verheerlik deur die Vader met Sy hemelvaart.          

       Ons Verlosser is verheerlik – Hy is Koning van alle konings en Heerser oor alle heersers!

·           Bevestiging:
       Die hemelvaart van Jesus was ’n bevestiging van wie Hy is, asook van Sy werk wat Hy hier op aarde kom doen het – van Sy roeping en sending dus. Christus het terug gekeer na Sy Vader en daarmee het Hy Sy aanspraak bevestig dat Hy van die Vader gekom het ~ ...want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het. 28 Ek het van die Vader gekom en Ek is hier in die wêreld. Nou verlaat Ek weer die wêreld en Ek gaan na die Vader toe (Joh.16:27-28).

       Alhoewel daar nie veel mense was wat Jesus se vleeswording – Sy geboorte vanuit die maagd Maria, kon bevestig nie, was Sy hemelvaart tasbaar sigbaar vir Sy volgelinge – en net so gaan ons Hom ook eendag weer sien kom – tasbaar, reël en fisies!

       Die hemelvaart van Christus is verder ook ’n bevestiging van ons geloof en verlossing, asook die hoop wat ons het in en deur Christus Jesus – dit was dus ’n bekragtiging van die afhandeling van ons verlossing en wedergeboorte ~ Dit is waar Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan het en Hoëpriester vir ewig geword het volgens die orde van Melgisedek (Hebr.6:19-20 - ADV).

·           Verandering:
       Die hemelvaart van Christus, dien as skakel tussen die werk van Christus in ons redding en in ons verandering deur heiligmaking – daardie fase tussen die Evangelies en die Sendbriewe; tussen wat deur Jesus bewerkstellig is en wat Hy steeds in ons lewens doen deur Sy Gees.

       Die hemelvaart dui ook vir ons ’n verandering aan in Christus se bediening. Op aarde het Jesus Sy roeping aan die kruis voltooi, maar nou na Sy hemelvaart is Hy ons simpatieke Hoë Priester wat empatie met ons het, omdat Hy tydens Sy aardse bestaan alles en nog veel meer ervaar het as ons – pyn, lyding, versoeking, vervolging, verwerping, ja selfs die dood ~ Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15 Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16 Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word (Hebr.5:14-16).

·           Verwagting:
       Laastens skep die hemelvaart by elke gelowige, ’n verwagting, omdat ons weet dat Christus verseker gaan terugkeer, want in Hand.1:11 het die engele van God vir ons die versekering gegee dat Hy gaan terugkeer, net soos wat Hy in die hemel opgeneem is. Johannes skryf daarvan in Openb.1:7 ~ Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag. Ja, dit is seker!  Jesus het self ook van Sy terugkeer gepraat, toe Hy in Matt.17:5 gesê het ~ Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit.

       Wanneer Christus weer kom, gaan Hy vir ewig regeer en ons gaan Hom dien.  Daniël getuig hiervan in Dan.7:13-14 ~ My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. 14 Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie.

5.     AFSLUITING:
       Ons moet nooit Christus se hemelvaart sien as die afsluiting van Sy lewe en bediening nie, maar wel die inleiding en ontsluiting van ’n nuwe era waar Hy deur die werking van die Gees, in en deur Sy Kerk (Sy Bruid – ons) bedien.

       Niemand weet wanneer Christus weer gaan terugkeer nie – Jesus het self in Mark 13:32 gesê ~ Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. Elkeen van ons moet egter met ’n verwagting leef – ’n verwagting dat Christus dalk selfs nog in ons leeftyd kan kom. Hoor wat sê Paulus t.o.v. hierdie verwagting ~ Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. 13 Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. 14 Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie (Rom.13:12-14).


       Die belofte dat Christus gaan terugkeer – en dalk nog in ons leeftyd, moet aan ons die motivering verskaf om Hom te dien. In Openb.22:12 het Jesus gesê ~ Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. In die lig van Christus se naderende terugkeer, moet ons Hom met oorgawe dien en elke oomblik gereed wees vir Sy terugkoms, want Hy kom, soos Hy waarsku in Openb.16:15, dat Hy gaan kom soos ’n dief in die nag en dan sal 2 Kor.5:10 waar word ~ Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 01 Junie2014