1. INLEIDING:
Ons
kom nou by die laaste hoofstuk van ons prediking uit die brief aan die Hebreërs
en tot nou het ons gesien hoe die skrywer Jesus Christus verheerlik deur sy
skrywe, maar ook die seën wat diegene ontvang wie Hom dien. Hy het voortdurend
in die brief gepleit dat ons moet volhard tot die einde toe, maar hy het
homself ook nie terug gehou in sy waarskuwings aan ons oor die gevolge wat op
ons wag indien ons nie volhard in die geloof tot die einde toe nie. Die apostel
begin egter nou in hierdie laaste hoofstuk om sy brief af te sluit en hy doen
dit deur bepaalde praktiese riglyne vir ’n lewe as gelowige aan sy lesers te
gee.
In
die eerste 6 verse gee hy vyf baie praktiese riglyne wat teenwoordig moet wees
in elke gemeente van die Kerk van die Here Jesus Christus. Hy gee ’n verdere
sewe riglyne in vv.7-19 t.o.v. die gemeente se verhouding jeens hul leiers,
asook ’n persoonlike oproep tot gebed. In vv.22-25 sluit hy sy brief finaal af, met bepaalde
laaste versoeke en groetewoorde.
Wees
ook gewaarsku dat ekself vandag baie prakties gaan wees.
2. SKRIFLESING:
Hebr.13:1-3
~ As broers moet julle mekaar altyd
liefhê. 2Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te
wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste
gehuisves. 3Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes
is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.
3. LIEFDE
VIR MEDEGELOWIGES
(v.1):
Die Hebreërskrywer het in die voorafgaande twaalf hoofstukke
vir ons in duidelike taal twee uitstaande karakter eienskappe van God geskets –
aan die een kant die God wat ’n
verterende vuur is – die verterende vuur van die Berg Sinai – die
verterende vuur van oordeel en gramskap. Aan die anderkant het ons egter ook
die God van die Berg Sion gesien – ’n God van verterende liefde – van oorvloedige;
onverstaanbare en vanuit ons perspektief, onverdiende liefde. Die God van die
Wet is dus dieselfde God as die God van die Evangelie.
Die vraag wat ons as gelowiges dan vir onsself behoort te vra
en voortdurend behoort te vra, is hoe ons dan in die lig van die feit dat God
beide ’n verterende vuur, maar ook ’n God van verterende liefde is – hoe ons behoort
te leef ten einde te kan volhard tot die einde toe?
Die apostel mors nie tyd wanneer hy vir ons riglyne begin gee
ten einde hierdie belangrike vraag wat ons, onsself moet afvra, te verskaf nie.
Hy sê in v.1 ~ As broers
moet julle mekaar altyd liefhê. Die
liefde waarvan hy hier praat is in die Grieks, φιλαδελφία [philadelphia /fil·ad·el·fee·ah/]
en dit word deurgaans vertaal met “broederlike liefde”. Die skrywer begin dus deur vir ons te sê dat gelowiges,
broers is – dít is die feit wat hy wil konstateer, m.a.w. daar is nie gelowiges
wat mindere of meerdere broers van ons is nie – gelowiges ís ons broers en dit is
nie net ons broers in dieselfde gemeente waar ons aanbid nie, maar alle
gelowiges oor die wêreld heen – selfs hulle wat ons nie baie gek oor is nie –
geen uitsonderings nie en as dIt dan die geval is, moet ons mekaar lief hê, met
’n “philadelphia”- liefde –
broederlike liefde.
Hierdie oproep deur die apostel is ’n deurlopende tema regdeur
die Nuwe Testament, so sê Paulus bv. in Rom13:8 ~ Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe
om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.
Petrus is nóg meer spesifiek t.o.v. sy opdrag aan gelowiges, wanneer hy sê ~ Noudat julle julle in
gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig
het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van
harte en vurig liefhê (1 Pet.1:22). Hoor wat sê Johannes in 1 Joh.2:10 ~ Wie sy broer liefhet, bly in die
lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie.
’n Ander woord in v.1 wat ons nie uit gedagte moet verloor
nie, is die woordjie “altyd”. Die OAV is kort en kragtig wanneer dit sê ~ Die
broederliefde moet bly. Eerstens impliseer dit dus dat daar alreeds
liefde bestaan en dit word bevestig deur Paulus in Rom.5:5 waar hy sê ~ ...want God het sy liefde in ons harte
uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Tweedens egter en veral as ons na die Griekse
woord kyk wat hier gebruik word, dan sien ons dat dit dui op ’n voortgaande
aksie, m.a.w. ons moet mekaar aanhoudend, deurlopend en altyd lief hê, tot die
einde toe.
Ons as gelowiges is deel van ’n geestelike familie wat
saamgevoeg is deur die Evangelie – die bloed van Jesus Christus; deur ons
gedeelde geloof in Jesus Christus. Ons moet Christus nadoen in alles, want Hy is
die volmaakte toonbeeld van liefde vir ons as gelowiges.
4. GASVRYHEID (v.2):
Ons
as gelowiges moet mekaar liefhê (“philadelphia-liefde”) – dit is duidelik, maar wat moet ons
gesindheid en optrede jeens vreemdelinge, of te wel, ongelowiges wees? V.2a ~ Moenie nalaat om gasvry te wees nie....
Die Engelse vertalings is dalk nog duideliker, wanneer dit sê ~ ...Do not neglect to show hospitality to strangers.
Die Grieks vir gasvryheid wat die Hebreërskrywer hier gebruik is φιλοξενία (philoxenia) wat, indien dit direk vertaal
word, gasvryheid teenoor vreemdelinge beteken.
Die probleem met baie gelowiges en baie
gemeentes is dat
hulle mekaar só lief
het en só na binne leef, dat hulle daarin gefaal het om betrokke te wees en
betrokke te bly by die wêreld daarbuite en ons sal ons baie deeglik self moet
ondersoek om vas te stel of dit nie dalk ook met ons die geval is nie.
Die wêreld “daarbuite” moet leer van
hierdie liefde van Christus en dan praat ek nie in die eerste plek van
onderlinge liefde nie, maar van Christus se liefde vir verloregaande siele en
daarom gaan die skrywer voort deur te sê en let op, hy skryf nie hierdie opdrag
nét aan sy destydse lesers nie – nee, hy skryf dit aan alle lesers, van alle
tye – ons derhalwe ook – hy skryf dat ons gasvry teenoor vreemdelinge ook moet
wees – net “goeie” vreemdelinge? Nee, sondaars (en alle vreemdelinge in hierdie konteks is sondaars)
– sondaars van alle soorte. As ons na Jesus se woorde in Matt.5:43-44 kyk sal
ons sien dat hierdie opdrag om gasvry te wees, ook ons vyande insluit ~ Julle
het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy
haat.’44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en
julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg.
Wat beteken dit? Wat is die implikasies
hiervan vir ons? As ons na 1 Tim.3:2 en Titus 1:8 kyk, sien ons dat een van die
voorvereistes om ’n ouderling te kan wees, is om o.a. gasvry te wees en daarom
moet ouderlinge en voorgangers van gemeentes, se deure oopstaan vir alle mense,
sodat gasvryheid teenoor hulle betoon kan. Máár, gasvryheid word egter nie net beperk tot
ouderlinge nie, want die Hebreërskrywer wys daarop dat alle gelowiges, gasvry
moet wees – die Griekse woord wat vir gasvry in v.2a gebruik word is φιλοξενίας (philoxenias)
wat letterlik beteken om gasvry teenoor vreemdelinge te wees. Wat
meer is, Paulus sê ook in 1 Tim.5:10, dat ’n geestelike vrou ~ ...bekend
(moet) wees om haar goeie dade, naamlik dat sy haar kinders goed opgevoed het,
vreemdelinge gehuisves het, die voete van die gelowiges gewas het, die verdruktes
gehelp het en goed gedoen het waar sy kon. Met ander woorde,
gasvryheid moet ’n kenmerk en basiese karaktereienskap van alle gelowiges wees.
Paulus leer ons in Gal 6:10 die volgende
~ Solank
ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons
medegelowiges. Dit beteken dus dat ons primêre verantwoordelikheid
by ons broers in Christus lê, maar ons verantwoordelikheid eindig egter nie
daar nie, want die Skrif is duidelik daaroor dat ons gasvry teenoor alle mense
moet wees.
Ons vind in v.2b ’n baie interessante
opmerking en ’n opmerking wat ek glo deur baie gelowiges verkeerdelik gesien en
hanteer word ~ ...sommige mense sonder dat hulle dit geweet
het, engele as gaste gehuisves. Daar is mense wat gasvryheid betoon
omdat hulle bang is dat dit dalk ’n engel is wat by hul voordeur staan – dit
mag nooit ons motief wees nie.
Maar, beteken dit nie tog dalk dat ons
soms getoets word deur engele wat aan ons deure klop en (ek sê dit met die grootste piëteit) met
’n “Flip File” daar staan en kollekteer vir een of ander Tehuis vir
verwaarloosde kindertjies nie, of ’n ou wat oor die interkom by die hek vra vir
’n geldjie om huis toe te kan ry met die trein, want hy het hier werk kom soek
en nou het hy nie geld om terug te gaan huis toe nie? Dit mag dalk so wees, wie
weet, maar dit moet nooit ons uitgangspunt wees om te wonder of hierdie “gladde
mond ou” dalk ’n engel is en daarom moet ek nou op my hoede wees en vir hom gee
soos hy vra nie. Nee, my motief moet wees om liefde te betoon t.w.v. diegene
wie ek help, maar veral t.w.v. die eer van die Here – natuurlik moet ek steeds
en veral in hierdie dae met groot omsigtigheid te werk gaan, want ons leef nie
meer in die tyd van die Hebreërskrywer, toe daar enersyds, nie gastehuise, ens.
was nie en reisigers by enige huis kon aanklop en oornagplek kon kry nie en
andersyds, toe bedelaars nog opreg was in hul afhanklikheid van aalmoese en
hulp van andere – maar ons moet daarop let, dat die beginsel van liefde en
gasvryheid steeds in ons dag van toepassing bly.
Toe die drie vreemdelinge by Abraham se
tent in Gen.18 verby geloop het, was sy gesindheid nie een van wag en sien wat
gebeur, of selfs een waar hy hulle geïgnoreer het nie, maar een waar hy na
hulle uitgereik het en vir hulle gesê het ~ Menere,
u sal my ’n guns bewys deur nie by my verby te gaan nie. 4Laat ek
eers ’n bietjie water laat haal sodat u u voete kan was, en kom rus dan onder
die boom. 5U is nou eenmaal op pad hier by my verby, en daarom wil
ek ’n stukkie brood vir u gaan haal dat u weer nuwe krag kan kry
(Gen.
18:3-5) ... en raai wie was dit wat Abraham hier bedien het? Gen.18:15 ~
...Maar
die Here het gesê... ...en ons sien dit weer ’n paar keer in
vv.17-33, waar die Here met Abraham praat. Dit was die Here Jesus Christus en
twee engele wat Abraham besoek het. Abraham se gesindheid was om te gee en goed
te wees en lief te hê en te bedien en nie om te sien wat hy daaruit kan kry, of
sodat hy geseën kan word nie – veral as dit “dalk net per ongeluk, ’n engel” was
nie.
Dit is wel so dat ons in ’n sekere sin
tog gasvryheid en goedheid en liefde teenoor Christus betoon, elke keer as ons
dit teenoor ons naaste doen, want Christus sê in Matt.25:40 ~ Dit
verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie
broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen, maar ons
motief mag nooit wees – wat gaan ek hieruit kry nie, of is dit dalk ’n engel
nie. Nee, my motief moet diensbaarheid en gehoorsaamheid wees, ten einde lof en
eer aan God te bring en liefde teenoor my naaste te betoon.
5. DIE
GEVANGENIS (v.3):
Vers
3 roep ons op om aan die gevangenis te dink. Ek moet eerlik wees as ek sê dat
ek tien kommentare geraadpleeg het – van die 18de en 19de eeuse teoloog John
Brown, tot en met huidige kommentators soos Stuart Olyott, R. Kent Hughes e.a. en
almal gaan van die veronderstelling uit dat hier verwys word na gelowiges wat
in die tronk is. Ek het egter gesoek en probeer vasstel of dit régtig is wat
hier geskryf staan – moet ons nie net neem wat daar staan en aanvaar dat ons ’n
opdrag het om aan alle gevangenis te dink nie?
Ek
glo dat Hebr.10:34 vir ons meer lig werp op hierdie vraag, nl. van watter tipe
gevangene hier gepraat word – álle gevangenis, of net gelowige wat in die gevangenis
is? Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die
berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in
julself ’n beter en blywende besitting in die hemele het (OAV – Hebr.10:34). Die Hebreërskrywer het homself
vroeër in gevangenisskap bevind en hier verwys hy na sy medegelowiges wat aan
hom gedink het terwyl in die tronk was en ons kan aanvaar dat hy oor sy geloof
in die tronk was.
Net
t.w.v. ’n klein bietjie agtergrond – gevangenis was baie sleg behandel
gedurende die eerste eeu en was die meeste van die tyd afhanklik van vriende en
familie vir hul mees basiese versorging en dit is presies van hierdie
versorging waarvan die apostel hier getuig.
Ek
dink dat wanneer ons dus na die konteks van die Hebreërbrief kyk, kan ons
aanvaar dat die skrywer hier gelowiges in gedagte het wanneer hy van gevangenis
praat – gelowiges wat net soos hy, vir hulle geloof in die gevangenis is. Ek
dink dit is dan ook die rede waarom al die kommentators van hierdie
uitgangspunt uitgaan – ek vind dit net jammer dat nie een van hierdie tien wat
ek geraadpleeg het motiveer waarom hulle aanvaar dat dit gelowiges is waarvan
die apostel praat nie.
Tweedens wat beteken dit as die teks
sê dat ons aan gevangenis moet “dink”? Weereens moet ons na die Griekse woord
gaan kyk en die woord wat dan in die oorspronklike teks gebruik word, is μιμνησκομαι (mimnēskomai) en dit beteken letterlik om iemand in
jou gedagtes te hou asof jy self in daardie persoon se situasie of posisie
verkeer. M.a.w., gelowiges moet so met hul vervolgde medegelowiges identifiseer, asof dit hulleself is wat daar
is. Paulus het hierdie selfde versugting uitgespreek toe hy sy brief aan die
Kolossense afsluit met hierdie woorde ~ Nou skrywe ek met my eie hand. Groete, Paulus. Dink aan my waar ek hier
gevange sit. Die genade sal by julle wees
– “dink aan my” (Kol.4:18).
Hoe
kan ons “dink” aan, of te wel identifiseer met ons broers wat in die tronk sit
vir hul geloof in Jesus Christus? Daar is basies drie dinge wat ons kan doen:
·
Eerstens kan ons net daar wees vir hulle – baie
dikwels is iemand se teenwoordigheid in so ’n situasie, meer as genoeg
vertroosting en ondersteuning en bemoediging. Paulus gee vir ons ’n baie mooi
getuienis hieroor in 2 Tim.1:16-18 toe hy in die tronk gesit het ~ Mag
die Here barmhartigheid bewys aan die huisgesin van Onesiforus, want hy het my
dikwels kom opbeur. Hy het hom nie daarvoor geskaam dat ek in boeie sit nie, 17maar
toe hy in Rome kom, het hy ywerig na my gesoek tot hy my gekry het. 18Mag
die Here gee dat hy by Hom ontferming vind op die dag dat Hy weer kom....
·
Tweedens kan ons direkte hulp verleen en sulke
gelowiges fisies ondersteun. Weer gee Paulus vir ons ’n baie mooi voorbeeld hiervan in Fil.4:14-16, toe hy swaar
gekry en deur beproewing gegaan het en hy aan die gemeente in Filippi geskryf
het ~ Nietemin het julle goed gedoen deur
my in my moeilike omstandighede by te staan. 15Julle in
Filippi weet ook dat in die begin van my evangelieprediking, na my vertrek uit
Masedonië, geen enkele gemeente behalwe julle ’n aandeel gehad het aan my
rekening van inkomste en uitgawe nie. 16Ook toe ek in Tessalonika
was, het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur.
·
’n Derde wyse waarop ons met sulke broers kan identifiseer,
is om vir hulle te bid.
Wat
hierdie laaste punt betref, raak dit ons baie direk, want in ons dag en in
hierdie land van ons waar ons godsdiensvryheid geniet, ken ons waarskynlik nie
een enkele gelowige wat vir sy geloof in die tronk sit nie en daarom kan ons
ten minste vir vervolgde gelowiges bid, trouens ons móét vir hulle bid.
Nie
net is die Hebreërskrywer baie prakties in sy riglyne wat hy in hierdie laaste
hoofstuk deurgee nie, maar gaan ek ook baie prakties wees en sonder om in te
veel detail in te gaan, dink en voel ek dat dié van ons wat slimfone het, “Voice of the Martyrs” se “Toepassing” (“App”) moet aflaai.
sodat ons elke dag opgedateerde nuus kan ontvang oor vervolgdes regoor die wêreld,
vir wie ons kan bid (ons
–“philadelphia-broers”!).
Hierdie “Toepassing” is ook vir iPads beskikbaar (VOM Prayer Calender – wees net versigtig en maak
seker dat jy die regte een kry, want radikale Moslems het soortgelyke “Apps”),
of jy kan inskryf op “Voice of the
Martyrs” se nuusbrief (Christian Mission International, Posbus 7157, Primrose Hill, 1417),
of hul webtuiste gereeld besoek (baie aanskoulike en praktiese
webtuiste - http://www.persecution.com/).
Ek het gesê dat ons waarskynlik nie
martelare persoonlik ken nie, maar die Woord van God is nie net vir sekere
mense geskryf nie, maar elkeen van ons en daarom moet ons gehoor gee aan
hierdie oproep deur die Hebreërskrywer, deur dan ten minste te bid vir
vervolgdes. Ons moet egter ook nie so gerus gestel lewe en dink dat ons en/of
ons gelowige kinders, of familie en vriende nie dalk in die toekoms vervolging
vir hul geloof kan ervaar nie en daarom
behoort ons ook “byvoorbaat” nou reeds te bid rondom so ’n moontlikheid – ja,
ons moet ook gereeld ons dankbaarheid teenoor die Here betuig vir die vryheid
wat ons geniet, maar ons moet ook bid dat hy ons en ons nageslag daarvan sal
bewaar en indien ons en/of hulle ooit daaraan bloot gestel mag word, ons
enersyds bereid sal wees om diesulkes te ondersteun, maar ook as ons dalk
vervolg sou word, ons die krag en genade sal ontvang om deur dit te kan gaan en
dat ons saam met Paulus, toe hy in moeilike omstandighede verkeer het (en hy het waarskynlik
verwys na sy eie gevangesetting toe hy dit gesê het) – dat ons saam met
hom sal kan sê ~ Ek is
tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Fil.4:13).
Ons het nou na die eerste drie van die
vyf praktiese riglyne gekyk, wat ek gesê het die Hebreërskrywer aanspreek in
die eerste ses verse van sy laaste hoofstuk en dit het gehandel oor ons naaste.
Tyd ontbreek ongelukkig om nou ook na die oorblywende twee te kyk wat handel
oor onsself en ons sal liewer D.V. volgende Sondag daarna kyk, nl. ons
gesindheid t.o.v. die huwelik en –geld (v.4, 5-6).
6. BEDELAARS
EN GELOWIGES:
(en ironies genoeg, veral in die somer), nl. bedelaars en ons
gesindheid in die lig van wat die Skrif hieroor te sê het.
Ek wil egter net vir ’n oomblik en ten slotte stilstaan by iets wat ’n realiteit in ons tyd is, maar ook ’n wesentlike probleem, veral hier in ons omgewing
Ek wil egter net vir ’n oomblik en ten slotte stilstaan by iets wat ’n realiteit in ons tyd is, maar ook ’n wesentlike probleem, veral hier in ons omgewing
Ek het gesê dat ons motief altyd moet
wees om liefde te betoon t.w.v. diegene wie ek help, maar veral ook t.w.v. die
eer van die Here. Wat moet ons gesindheid en optrede régtig wees teenoor die
bedelaars wat by die verkeersligte staan? Die probleem is dat waarskynlik
elkeen van ons al in die verlede teleurgestal was deur sulke bedelaars (ek en Jeanne het al bv.
brood aan ’n bedelaar gegee om net te sien hoe hy dit ’n ent verder weggooi en
nog later het ons dieselfde bedelaar en sy oënskynlike vrou sien inkopies doen
en hulle kos koop wat ons nie eens kon bekostig nie). Ons weet dat van hierdie
bedelaars die geld gebruik om drank te koop – ons sien dit aan hul pers gesigte
en ons ruik selfs hulle alkohol asems soms – ons het almal dus negatiewe
ervarings met bedelaars. Ons as gelowiges met egter uitvind wat in God se hart
leef t.o.v. van hierdie oënskynlike probleem.
·
Eerstens: Die gevaar dat ons vir ’n “ride”
geneem kan word, of om die bos gelei kan word deur hierdie bedelaars, of dat
hulle vir ons lieg, mag nooit ons verskoning wees om nié te help nie.
·
Ons moet ons nugter verstand (“common sense”) gebruik
wanneer ons besluit om te help, of nie te help nie en hoe ons dit gaan doen. Ons
eerste uitgangspunt moet dus nie wees om aan planne te dink hoe ek hierdie
bedelaar kan ontduik of vermy nie, maar hoe ek kan help én of dit
verantwoordelik sal wees om in bepaalde gevalle te help.
·
Wanneer ons onseker is, behoort ons te help en
dit in geloof doen, met die vertroue dat die Here die res van die situasie tot
Sy eer sal hanteer.
·
In plaas daarvan dat jy of ons vir bedelaars en
daarmee saam armes, geld of selfs kos by die verkeerslig gee, kan jy selfs
daaraan dink om iets soos ’n sopkombuis by jou huis te begin, waar mense wat
werklik honger is, sal kom eet (ek besef dat dit waarskynlik vir baie van ons nie moontlik is nie,
want baie van ons bly in sekuriteitskomplekse waar so iets nie bedryf mag word
nie).
·
In plaas daarvan om vir die “Flip File- draers”
leë hande weg te stuur – dink daaraan om dalk vir hulle te bid – hulle kan dit
nie weggooi nie – dalk net verwerp.
·
Dit is ongelukkig ook so dat die meeste van die
wit bedelaars in ons tyd voldoen aan die beskrywing van Spr.20:4 ~ ’n
Luiaard ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na iets wat nie daar
is nie en dan moet ons onmiddellik die woorde van 2 Tes.3:10 hier
byvoeg ~ ...as
iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. Ek wil nie te gou
oordeel en te kras wees in my beoordeling nie, maar ek dink dat die meeste wit
bedelaars, gewoon net te lui is om te werk en dit is sonde – daar is steeds
baie werk wat armes en werkloses kan doen (verkoop hangers; karwag, ens.) (Spr.6:6, 9-11; 10:4-5, 26;
12:24; 13:4; 15:19; 18:9; 19:15, 24; 20:4, 13; 21:25-26; 23:21; 24:30-31,
33-34; 26:14-16; Pred.4:5; 10:18; Jes.56:10; Eseg.16:49; Matt.20:6-7; 25:26-27;
Rom.12:11; 2 Thes.3:10-11; 1 Tim.5:13; Hebr.6:10).
·
Nog ʼn probleem in ons dag, is misdaad en dit is
ook iets wat ons in gedagte moet hou wanneer bedelaars ons nader – is dit nie
dalk ʼn vangstrik nie?
·
Vir die Nuwe Testamentiese-kerk was die
versorging van die armes ’n hoë prioriteit en Jesus en die apostels het ook nie
die armes en bedelaars geïgnoreer nie – dink bv. aan die lam bedelaar in Hand.3
wat by die tempelpoort gebedel het en hoor net wat was Petrus se reaksie ~ Geld
het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van
Nasaret, staan op en loop! Petrus het hom nie op fisiese wyse gehelp
nie, maar wel op ʼn geestelike wyse.
·
Wanneer ons sê dat die versorging van die armes
vir die Nuwe Testamentiese- kerk ’n prioriteit was, moet ons besef dat hulle
eerste prioriteit by hul sorgbehoewende broers en susters
gelê het – dít is waar
hulle primêr bedien het en ook nie almal in die gemeente het gekwalifiseer vir
hierdie aalmoese nie – slegs diegene wie regtig daarvoor gekwalifiseer het –
soos die weduwees wie niemand gehad het om hulle te versorg nie (1 Tim.5:3-6), maar
daar was nog verdere kwalifikasies waaraan hierdie weduwees moes voldoen ~ ...’n Weduwee
kan op die lys van dienende weduwees kom as sy minstens sestig jaar oud is en
aan haar man getrou was. 10Sy moet bekend wees om haar goeie dade,
naamlik dat sy haar kinders goed opgevoed het, vreemdelinge gehuisves het, die
voete van die gelowiges gewas het, die verdruktes gehelp het en goed gedoen het
waar sy kon. 11Jonger weduwees moet jy nie in die lys opneem nie... (1 Tim.5:9-11).
·
Ons prioriteit lê dus in die eerste plek by die
gemeente, maar vanuit ons oorvloedige “ekstras” kan ons die bedelaars help op
die voorwaardes en riglyne wat ek reeds gegee het.
Wanneer ons oor hierdie saak nadink, moet
ons Dawid se woorde in Ps.41:2-3 in gedagte hou ~ Welgeluksalig is hy
wat ag gee op die arme; die Here
sal hom red in die dag van onheil. Die Here
sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die
aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie (OAV), maar hiermee
saam ook, 1 Kor.13:3 ~ Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.
Ons moet baie dink en bid oor hierdie
saak en vir wysheid en onderskeiding vra; ons moet ons harte ondersoek en
vasstel of ons huiwering om te gee, voortspruit uit selfsug of nie, maar ons
moet ook vasstel of ons vrygewigheid nie gedryf word deur skuldgevoelens en/of
’n soeke na erkenning en seën nie – werke m.a.w.
Laastens moet elkeen van ons dit vir
onsself voor die Here uitmaak wat ons te doen staan wanneer ons gekonfronteer
word deur ’n bedelaar en nie kyk wat die ander een doen nie.
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 01 Junie 2014