1. SKRIFLESING:
Joh.1:1-18 ~ In die begin was die Woord daar, en die Woord was
by God, en die Woord was self God. 2 Hy was reeds in die begin by
God. 3 Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding
wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4 In Hom was daar
lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5 Die lig skyn in die
duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie. 6 Daar was ’n
man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. 7 Hy het gekom
om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon
kom. 8 Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig
getuig. 9 Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die
wêreld toe. 10 Hy wás in die wêreld-die wêreld het deur Hom tot
stand gekom-en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11 Hy het na
sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12 Maar
aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om
kinders van God te word. 13 Hulle is dit nie van nature nie, nie
deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God
gebore. 14 Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons
het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die
Vader het, vol genade en waarheid. 15 Johannes getuig van Hom en
roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my
vóór, want Hy was voor my reeds daar.” 16 Uit sy oorvloed het ons
almal genade op genade ontvang. 17 God het die wet deur Moses
gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18 Niemand
het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die
Vader is, dié het Hom bekend gemaak.
2. TEKSVERS:
Vv.1-2 ~ In die begin was die Woord daar, en die Woord was
by God, en die Woord was self God. 2 Hy was reeds in die begin by
God.
3. INLEIDING:
Wanneer ons hierdie vers lees, dink ek is dit ’n baie goeie vraag
om te vra, nl.: “Wat beteken hierdie uitdrukking ‘Wóórd’?” Volgens die
Verklarende Afrikaanse Woordeboek, beteken die woord, “woord”:
1. ’n Eenheid van vorm en betekenis in taal wat
selfstandig betekenis oordra of anders gestel, Die sigbare
voorstelling (in skrif of druk) van ’n bepaalde gedagte.
2. Wat gespreek is, die gesprokene.
3. Belofte.
4. Die
Woord - die Heilige Skrif.
Is dit egter wat ons
teksvers vir ons hier wil deurgee? Nou ja,
ek weet almal van ons weet dat dit nie is wat hierdie woord, “Wóórd”
in hierdie konteks beteken nie – maar wat beteken dit dan werklik?
In die Grieks sien ons dat
hierdie woord, λόγος (logos) is. Die Grieke van destyds,
het hierdie woord egter anders gebruik as wat ons dit vandag gebruik. As ons vir ’n oomblik tegnies kan raak, het
hulle hierdie woord op drie maniere gebruik, nl.: logos prophorikos; logos endiathetos en logos
spermatikos. Wat ons teksvers betref,
kan ons net na die eerste twee kyk:
logos prophorikos:
Hierdie uitdrukking is
dieselfde as die woord wat ons in ons definisie gesien het, nl.: Die sigbare voorstelling (in skrif of druk) van ’n
bepaalde gedagte.
logos endiathetos:
Wat logos
endiathetos betref, het ons glad nie ’n woord wat hierdie Griekse uitdrukking
kan omskryf nie – dit was ’n woord wat nie geskryf of op enige manier geuiter
is nie. Dit was ’n woord wat net in die
gedagtes bestaan het.
Kom ons probeer dit nog
verder omskryf. Die antieke Grieke het
na die heelal gekyk en gesien dat daar orde was, m.a.w. daar was nie chaos
rondom hulle nie. Die son het elke dag
op ’n gegewe tyd opgekom en weer onder gegaan.
Heraclitus (een van hierdie Griekse filosowe) het bv. gesê dat die sterre
in hul bane beweeg en weer op ’n gegewe tyd verskyn, net soos wat die
Wiskundiges voorspel. Die seisoene het
gekom en gegaan. ’n Boer het gesaai en
op ’n bepaalde tyd het hy weer geoes.
Die Grieke het dus orde oral rondom hulle gesien. Waarom?
Omdat daar, het hulle gesê, iewers in die heelal, ’n “Orde” bestaan het,
wat hierdie orde in die heelal gereël en in stand gehou het.
Vir hulle was daar dus
iewers in die heelal, iets van ’n “Siel”.
En hierdie “Siel” was oneindig wys.
Hierdie logos endiathetos het daarom ook vir hulle
onuitspreeklike wysheid geïmpliseer en daarom was God ook vir hulle die
alomteenwoordige “Wysheid” wat alles beheer het.
Die Stoïsyne (’n latere groep Griekse filosowe) het egter gesê dat hierdie
“Logos” of “Wysheid” nie ’n god , of persoon was nie, maar ‘n krag wat die
heelal volgens natuurwette aan mekaar en in balans gehou het.
Johannes was natuurlik nie ’n
volgeling van óf Heraclitus, óf die Stoïsyne nie en natuurlik ook nie diegene
vir wie Johannes hierdie Evangelie geskryf het nie. Johannes het egter besef dat wat hierdie
filosowe sê, belangrik is om van kennis te neem en ook, dat hulle idees indruk
gemaak het op die gewone man op straat.
Daarom sou die gewone leser nie gewonder het waarvan Johannes praat as
hy praat van die “Woord” of die “logos” nie.
Die Jode se verwysingsraamwerk
en agtergrond, aan die anderkant, was anders as dié van die Grieke. Vir hulle is die uitdrukking “Woord”,
geassosieer met God se aktiwiteite en spreke.
So het hulle bv. presies verstaan wat daar in Ps.33:6 staan ~ Deur die woord
van die Here is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame. Of in Jes.55:11 ~ So sal die woord wat
uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer
nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit
gestuur het.
Ons sien dus dat Johannes
hier op ’n baie slim manier, ’n woord gebruik wat vir beide die heidene, asook
die Jode, baie besliste betekenis gehad het.
4. DIE
IDENTITEIT VAN DIE WOORD:
Wie of wat is hierdie
“Woord” egter vir ons? Net ’n “Krag”? Is
dit “Orde” soos vir die ou Grieke? Is
dit die “Spreke” of “Woord” van God soos vir die antieke Jode?
Nee, ons weet n.a.v. vers
14, dat die “Woord” verwys na Jesus Christus, die tweede Persoon in die
Goddelike Drie-eenheid ~ Die Woord
het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die
heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en
waarheid.
In die lig van wat ons dan
netnou gesien het, t.o.v. die gebruik van die woord logos endiathetos gebruik Johannes dus hierdie uitdrukking op ’n baie
wyse manier, om Jesus Christus aan sy lesers bekend te stel en hy doen dit op ’n
ander manier as die ander drie Evangelies:
Tot ’n groot mate skets Matteus vir ons die Here Jesus Christus
primêr as die Joodse Messias;
Markus daarenteen se doel is om Jesus as God se Dienskneg aan ons
voor te stel;
Lukas weer, handel hoofsaaklik oor Jesus se vleeswording – Sy
mensheid m.a.w.
Johannes aan die anderkant, openbaar Christus aan ons as die ewige
, “vooraf-reeds-bestaande” Seun van God wat mens geword het, ten einde die
Vader te openbaar en om aan die mens die weg tot saligheid te kom bied, deur Sy
dood en letterlike vleeslike opstandig. En hoe weet ons dit? Omdat Johannes in Joh.20:30-31 skryf ~ Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie
in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31 Maar
hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is,
die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.
Wat sê Johannes dan hier
vir ons? Hy sê, dat Jesus Christus nog
altyd daar was – Hy was met God en Hy is dus God self. Hierdie openingsverse van Johannes beskryf
dus vir ons die Godheid van Jesus.
Ons teksverse wil vir ons
drie dinge sê t.o.v. die Goddelikheid van Jesus Christus:
Die eerste, is dat Jesus “in die begin” reeds bestaan het. M.a.w. Hy was reeds, nog voor enige iets
geskape was.
Ons moet egter ook kennis
neem van die feit dat die uitdrukking “in die begin” op meer as een manier
gebruik was.
In 1Joh.1:1 word hierdie
uitdrukking gebruik om na die begin van
Jesus se aardse bediening te verwys ~ Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom
met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak.
Hy is die Woord, die Lewe.
In Gen.1:1 word hierdie
selfde uitdrukking gebruik, maar dit verwys na die begin van die skepping ~ In die
begin het God die hemel en die aarde geskep.
Johannes daarenteen, gaan
verder en hy sê eintlik, dat ons net reg kan laat geskied aan die Goddelikheid
en Persoon van Jesus, as ons verder terug gaan as bloot net Sy aardse bestaan,
ja selfs verder terug as die begin van die skepping, ons moet nog verder terug
gaan – die ewigheid in, want dit is Wie Christus werklik is – Christus is
voorwaar God self – Hy is die Tweede Persoon in die Goddelike Drie-eenheid – Hy
is van ewigheid tot ewigheid (Hy was
altyd daar en Hy sal altyd daar wees).
Die skrywer van die
Hebreërboek vat hierdie laaste gedagte vir ons pragtig saam, wanneer hy in
Hebr.1:1-2 sê ~ In die verlede
het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die
profete, 2 maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat
deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van
alles gemaak. Die Openbaringboek
openbaar Christus as die Alfa
en die Omega.....die Eerste en die Laaste (Openb.1:8,17). En Paulus skryf in
Fil.2:6, van Christus, Hy wat in die gestalte van God was, het sy
bestaan op Godgelyke wyse nie beskou
as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie.... Christus is dus God en Hy
was nog altyd daar.
Ons sien tweedens, dat Christus by God was ~ Hy was reeds in
die begin by God (1:2). Johannes konstateer hier vir ons op ’n baie
subtiele wyse, die afsonderlike persoonlikheid van Christus. Johannes sê dat Jesus ten volle God is, want
Jesus het self in Joh.14:9 gesê ~ Wie My sien, sien die Vader. Johannes is egter ook, as hy hier skryf,
deeglik bewus van die feit dat die Goddelike Drie-eenheid hier ter sprake is.
In die derde plek stel Johannes dit ondubbelsinnig, dat Jesus ten
volle God is, wanneer hy sê ~ ....en die Woord was self God (1:1b). Dit beteken dat alles wat
van God die Vader gesê kan word, ook van God die Seun, Jesus Christus gesê kan
word. Al die wysheid, heerlikheid, mag,
liefde, heiligheid, geregtigheid, goedheid en waarheid wat daar in God die
Vader teenwoordig is, is net so teenwoordig in Jesus. Deur Jesus kan ons dus vir God die Vader
ken. Johannes som hierdie stuk lering
van hom op in vers 2, deur te sê ~ Hy was reeds in die begin by God.
5.
PRAKTIESE TOEPASSING:
Die vraag wat u moontlik
mag vra, is: “Wat maak dit nou regtig
saak om te sê dat Jesus Christus, God is?”
Daar is vier baie
belangrike redes waarom dit wel belangrik is om te weet en te glo dat Christus,
God is:
Wanneer ons dit weet en glo, kan ons nou waarlik, die waarheid t.o.v.
God ken. Ons kan dus wéét Wie die Vader
is – ons kan Hom ken. Is God, die god
van die Moslems? Is God die god van
Plato, of die Stoïsyne? Is God nie dalk
die god van die filosowe en sielkundiges en “Post Moderniste
Sonder Christus Jesus sal ons
nie werklik weet nie en kan ons die Vader nie werklik ken nie. Daarom is dit so belangrik dat ons Christus
sal ken, want dan sal ons die Vader ken en sal ons weet dat die God wat ons
aanbid – die God van die Woord, waarlik die enigste ware God is, omdat ons Hom
deur Jesus Christus ken. Daar bestaan
dus geen kennis van God, sonder die kennis van Jesus nie.
Hoe hartseer is die verhaal
in Joh.14 nie, waar die dissipels bykans aan die einde van Jesus se bediening
hier op aarde, Hom steeds nie geken het vir Wie Hy waarlik is nie en daarom ook
steeds nie Wie die Vader werklik is nie.
As julle My ken,
sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.” 8
Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons
genoeg.” 9 En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken
jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir
ons die Vader’? 10 Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader
in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar
dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11 Glo in My
omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die
werke self (Joh.14:7-11).
As ons wil weet Wie en wat
God die Vader is, moet en kan ons slegs die lewe en Persoon van Jesus Christus
bestudeer.
Die tweede rede waarom dit belangrik is om te weet dat Christus,
God is, is die feit dat God nog altyd soos Jesus was. Waarom is dit belangrik om dít te weet? Omdat, ons as mense neig om te dink, dat God
die Vader nog altyd net ’n heilige, onbuigsame, hardvogtige en wraakgierige God
is en dat Jesus, God se woede in liefde verander het en dat Jesus, God se gesindheid
jeens die mensdom verander het. Dit is
egter glad nie waar nie, want die hele Nuwe Testament leer ons, dat God die
Vader, nog altyd soos Jesus Christus die Seun was.
Het Jesus sonde gehaat? Ja, o ja, Hy het! Jesus het egter vir ons, in die woorde van
William Barclay, ’n venster kom oopmaak, ten einde God se ewige en
onveranderlike liefde raak te sien. Trouens,
God het die sonde só intens gehaat, dat ons almal sou moes omkom, máár aan die
anderkant, het Hy ons só oneindig lief, dat Hy ’n weg moes beplan, ten einde
ons te red van die ewige verdoemenis.
Daarom dat ons in die Ou
Testament sien, dat God sê, dat daar ’n weg tot verlossing móét wees en kom en
dat Hy in die Nuwe Testament sê: Dáár ís
die Weg tot vergifnis van sonde!”
En wanneer ons by die
huidige kom, en die Woord deur ons gelees word en dit gepreek word, vind ons
hoe dat God tot ons harte spreek en vir ons sê: Dit wás die versoening van
sonde. Glo dit en word gered!
God was nog altyd soos
Jesus.
Derdens: Dit is vir ons
uiters betekenisvol, dat Christus juis as God, aan die kruis gesterf het, want
op daardie wyse het Hy vir ons die algenoegsame en volkome aanvaarbare offer
vir die mens se sonde geword.
Ons is sondaars en verdien
dus die ewige dood en geen ander mens is volmaak genoeg om namens ons, ons
straf te dra nie – slegs iemand wat volkome heilig en sonder sonde is, is by
magte om God tevrede te stel as plaasvervangende offer vir ons. En net Christus, omdat Hy God self is, is
sonder sonde en daarom is net Hy by magte om diegene wat in Hom glo, se sonde
permanent te verwyder
Laastens: Omdat Jesus, God is, impliseer dit, dat slegs
Hy wat almagtig is, daartoe in staat is om al die behoeftes van ons hart, te
bevredig.
Ef.3:18-19 spreek vir ons hierdie realiteit pragtig aan. Ons sien ook in hierdie gedeelte al vier
dimensies van God se liefde, nl. die breedte-, die lengte-, die diepte- en die
hoogte van Sy liefde en omdat God se liefde so omvangryk en so volmaak is, kán
Hy voorsien in ál ons behoeftes ~ Mag julle in staat wees om saam met al die
heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, 19
en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle
vervul kan word tot al die volheid van God (O.A.V.).
6. TEN
SLOTTE:
Die verhaal word vertel van
’n klompie van Napoleon se soldate, wat ’n gevangenis in Spanje ontbloot het,
wat tydens die Spaanse Inkwisisie onder die grond in kerkers was. In een van hierdie doolhowe het hulle afgekom
op die geraamte van ’n gevangene met die ysterklem en ketting nog om sy enkel. Bokant sy kop was daar teen die klipmuur, ’n ruwe
kruis met ’n yster voorwerp uitgekrap en by elk van die punte van die kruis,
was die hoofgedagtes van Ef.3:18 & 19 in Spaans, uitgekrap, nl. breedte,
lengte, diepte en hoogte. Dit is baie
duidelik dat hierdie sterwende gelowige homself getroos het en krag geput het
uit die wete dat God self, in Sy volmaakte liefde en almag, hom deur sy
beproewing sou dra!
Ons het aan die begin
gevra: “Wie is hierdie Woord?” “Wie is hierdie Christus Jesus?” Hierdie vraag is regdeur die Nuwe Testament
gevra. So het die mense in Matt.21:10,
op Palmsondag, vir mekaar gevra ~ “Wie is hierdie man?” . Die dissipels het in Mark.4:41 nadat Jesus die storm stil gemaak
het, gevra ~ Wie kan Hy tog wees? En in
Luk.9:9 vra Herodes ~ Wie is
hierdie man? En in Luk.5:21, nadat
Jesus die sonde van die parapleeg vergewe het, vra die Skrifgeleerdes en
Fariseërs ~ Wie is Hy?
Dít is die vraag wat die
mensdom – wat jy, vandag vir jouself moet afvra: “Wie is hierdie Jesus?” Is Hy slegs ’n mens? Indien Hy is, kan jy maar vergeet van
Hom! Indien Hy egter wel God is, dan
vereis Hy van jou en my om in Hom te glo en maak Hy aanspraak op jou volkome
toewyding, gehoorsaamheid en lojaliteit.
Glo jy in Christus
Jesus? Glo jy dat Hy God is? Indien jy dit glo, kan jy saam met Thomas
uitroep, “My Here en my
God!” (Joh.20:28b).
Om weg te skram van hierdie
belydenis, is om vir ewig te vergaan in die helse verdoemenis. Om dit egter te glo en te bely en te leef, is om die ewige lewe binne te gaan!
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 06 April 2014