1. SKIRFLESING:
Hebr.11:23-29 ~ Omdat
die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank
weggesteek toe hulle sien dat hy ’n mooi kindjie is. Hulle was nie bang vir die
bevel van die koning nie. 24Omdat
Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te
word van die farao se dogter. 25Hy het verkies om liewer sleg
behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van
sonde te hê. 26Die smaad ter wille van die Christus het hy ’n groter
rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het. 27Omdat hy geglo het, het hy Egipte
verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard
soos iemand wat die onsienlike God sien. 28Omdat hy
geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer
sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie. 29Omdat die Israeliete geglo het, het
hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars
verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.
2. INLEIDING:
Moses
was ’n fenomenale mens – die Jode beskou hom as die grootste van alle mense en
die grootste profeet van alle tye. Hy was meer as eenkeer in die
teenwoordigheid van God soos geen ander mens ooit was nie (die
brandende doringbos – Eks.3:2; op die berg Sinai – Eks.19, ens.). God het direk met Moses
gepraat – dit is waarom sy gesig gestraal het toe hy van die Sinaiberg afgekom
het, nadat hy veertig dae in die teenwoordigheid van God was (Eks.34:29).
Moses
was ook indirek die Israeliete se wetmaker, want bykans al die wette wat die
volk moes onderhou, het Moses se “vingerafdrukke” op gehad. Moses was die
Israeliete se groot historikus, want dit is hy wat alles rondom die volk van
God se vroeë geskiedenis neergeskryf het – van Genesis tot Deuteronomium.
Dit
is egter nie net die Jode wat Moses besing nie, ook die Woord doen dit in bv. Num.12:3
~ Maar die man Moses
was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem. Met alles wat hy vermag het,
was hy steeds ’n sagmoedige mens! Miskien is dit omdat hy terselfdertyd ’n
voormalige moordenaar was en hy sy gebrokenheid en afhanklikheid voor God besef
het.
Nie
generaal Moshe Dayan, of kol. Benjamin Netanyahu, of genl. Arieêl Sharon was
groter bevryders van die Israelse volk as Moses nie – hy het die ganse Israelse
volk uit Egipte na die Beloofde Land gelei – sekerlik een van die grootste
optredes van geloof van alle tye, want hierdie nagenoeg veertigjaarlange
gebeurtenis, het geloof en uiterste geloof van dag een af geverg en Moses was
die man wie hierdie geloof aan die dag gelê het – geloof wat hy van God ontvang
het, ten einde God se belofte aan Abraham ’n paar honderd jaar vantevore, in
vervulling te bring.
3. MOSES SE OUERS SE GELOOF:
Kom ons begin egter by die begin van ons
Skriflesing – v.23 praat van Moses se ouers se geloof. Wie was Moses se ouers? Hulle
word aanvanklik met die begin van Moses se geskiedenis, nie spesifiek vermeld nie.
Ons sien in Eks.6:17 dat hulle Amram en Jogébed (Amram se tante) geheet het. Amram was die agterkleinseun van Levi en sy en Jogébed se
oudste kind was Miriam en die tweede was ’n seun, Aäron.
Hulle woon in Egipte tydens die geboorte
van Moses en op daardie tydstip het die Farao die Israeliete geweldig
onderdruk, soveel so dat hy in Eks.1:15-16, die volgende opdrag gee ~ Die
Egiptiese koning het vir die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua gesê: 16“As
julle ’n Hebreeuse vrou by geboorte bystaan en julle sien by die kraambed dat
dit ’n seun is, moet julle hom doodmaak, maar as dit ’n dogter is, mag sy bly
lewe.” Waarom het hy hierdie opdrag gegee? Net ’n
paar verse vroeër – vv.8-10 ~ Toe
’n nuwe koning wat nie van Josef geweet het nie, oor Egipte begin heers, 9het
hy vir sy volk gesê: “Besef julle dat die Israeliete nou meer en sterker is as ons?
10Kom ons bedink ’n plan teen hulle sodat hulle nie kan vermeerder nie.
Anders kan dit gebeur dat as daar oorlog uitbreek, hulle dalk by ons vyand
aansluit om teen ons te veg en ons land te oorweldig.” Die
Israeliete het die Farao begin bedreig.
Ons ken die verhaal van Moses in die
biesiemandjie en hoe hy deur die dogter van die Farao gevind is en hoe Moses in
die paleis groot geword het. Dit is ook interessant om in Eks.2:2 te lees, dat
een van die redes waarom sy ma hom aanvanklik weggesteek het en later in die
mandjie op die Nyl weggesteek het, was omdat hy so ’n mooi seuntjie was! Hierdie
mooi seuntjie was egter nie net mooi nie, Stefanus het in Hand.7:20 gesê dat hy
ook lieflik was in die oë van die Here (beide Afrikaanse vertalings is ongelukkig hier baie gebrekkig
vertaal en meld nie hierdie feit nie – sien oorspronklike teks).
Die feit dat Moses egter mooi was, was
nie die primêre rede waarom Jogébed hom weggesteek het nie – kom ons kyk weer
na v.23 ~ ...Omdat die ouers van Moses geglo het. Hulle het geglo - dit is die rede waarom hulle hom weggesteek het - omdat hulle geglo het. Wat het hulle geglo? Hulle het geglo dat Moses
geoormerk was vir “groter dinge” en omdat Antieke Hebreeus baie moeilik is om te vertaal, dink ek dat ’n mens meer moet
lees in die uitdrukking dat Moses ’n baie mooi babatjie was, nl. dat sy ouers
gesien het, of net geweet het, of nog nader aan die waarheid, gelei was deur
die Heilige Gees om te weet dat hierdie babatjie deur die Here gebruik gaan
word – dat hierdie babatjie die voortsetting was van die heilige lyn wat na
Christus sou lei. Hulle het saam met hul voorvader Abraham vasgehou aan God se
beloftes soos wat Jesus self in Joh.8:56 getuig het ~ Abraham,
julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms (dit is Jesus se
koms)
sou sien, en hy het dit gesien en
was bly.
4. MOSES SE GELOOF:
Wat verder wonderlik is, is die feit dat
die Here die voortreflikhede in die sondige Egiptiese koningshuis uitgebuit
het, om sy dienskneg Moses by uitnemendheid op te lei om die volk te kon lei en
wat meer is, sy eie moeder voed hom in die koningshuis op – ’n absolute wen-wen
kombinasie (Eks.2:1-10)!
Teen die ouderdom van veertig moes Moses
’n keuse uitoefen: óf hy word ’n volbloed Egiptenaar met bepaalde voordele,
trouens geweldige voordele; óf hy skaar hom by sy volksgenote, die Israeliete
en ons lees in v.24 ~ ...toe hy
groot geword het, (het
hy) geweier om
die seun genoem te word van die farao se dogter.
’n Mens sal geneig wees om te dink dat
Moses met ’n eie-ma wat hom opgevoed het, nie eintlik ’n keuse gehad het, as om
’n Israeliet te wees nie – ja dit is so en dit het beslis ’n belangrike rol
gespeel, maar v.24 begin deur te sê ~ Omdat Moses geglo het....
en ja, daarin het sy ma verseker ook ’n reuse rol gespeel, maar soos ons
verlede week gesien het, is dit God wat geloof aan die mens skenk (o.a. Rom.12:3; Hebr.12:2a en 1
Tim.1:13-14)
en hierdie geloof in die enige ware God, is deur God self aan Moses geskenk en
omdat Moses geglo het, het hy gekies om na sy “wortels” terug te keer en te
weier om die ...seun van die Farao
genoem te word.
In teenstelling met Josef, het Moses
besluit dat dit beter sou wees om sy volk te dien deur nié in die koningshuis
aan te bly nie en in geloof, die swaarkry en veragting van sy volk deur die
Egiptenare, te verduur en in geloof en gehoorsaamheid God se roeping op te neem
en die volk deur die wildernis na die Beloofde Land te lei. Josef was nie
verkeerd en in sonde deurdat hy in Egipte aangebly het en al die weelde en
status te geniet wat hy wel geniet het nie, maar die verskil tussen hom en
Moses was dat hy deur God geroep was om onder daardie omstandighede God en sy
volk te dien, terwyl Moses geroep was om onder heeltemal die teenoorgestelde
omstandighede God te gehoorsaam en sy volk te dien.
Ek het vroeër melding gemaak van die Jode
se hoë aansien van Moses, maar wat egter wel waar is van Moses, is die feit dat
hy ook gesien kan word as ’n tipe van Christus. Lukas skryf in Handelinge dat
die Here Moses geroep het as redder van die volk (v.35). Moses beskou homself egter nie as redder van die volk nie, maar hy sien
Christus as die komende Messias, wanneer hy in Deut.18:15 sê (en Lukas herhaal
hierdie woorde ook in Hand.7:37 wanneer hy getuig oor Moses) – Moses het gesê ~ Die
Here jou God sal ’n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote.
Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam. Daar
is egter meer aan Moses wat ’n mens herinner aan Christus en wat hom daarom ook
verder ’n tipe van Christus maak – sy lewe was net so bedreig as baba, soos
Jesus se lewe – beide dreigemente het gekom van heidense regeerders; deur die
gehoorsaamheid van beide Amram en Jogébed (wat Moses betref) en Josef en Maria (wat Jesus betref), is die
lewens gespaar van beide Redders. ’n Verdere merkwaardige ooreenkoms is dat
beide Moses en Jesus skuiling gevind het in Egipte (Matt.2:13). Beide Moses en Jesus het
gelowig groot geword en deur hul geloof, getrou gebly aan die Vader en gevolglik
die uiteindelike bestemming van God se volk bepaal het – in Moses se geval die
Israeliete, Abraham se fisiese nageslag en in Jesus se geval, Abraham se
“geestelike nageslag”. Moses het sy volksgenote vanuit fisiese slawerny gelei
na fisiese vryheid in die Beloofde Land; Jesus lei ons vanuit geestelike
slawerny na geestelike vryheid in die geestelike Beloofde Land.
Moses kon ook ewe maklik die rykdom en
gemak en menslike sukses verkies het wat hy sou kon hê as hy gekies het om die
seun van Farao se dogter genoem te wees, maar hy het geweet dat God hom geroep
het en daarom was hy bereid om alles prys te gee t.w.v. sy gehoorsaamheid aan
God en daarom word daar deur die Hebreërskrywer in v.25 gesê ~ Hy het
verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die
kortstondige genieting van sonde te hê.
Ons moet begryp dat Moses geweldige
geloof nodig gehad het om die onmoontlike taak wat op hom gewag het, te volvoer
(en die
onmoontlike Israeliete), maar ook terwyl hy homself in die
situasie bevind het. God het egter die nodige geloof aan hom geskenk. Moses het
ook geweet dat die moeilikheid en swaarkry wat op hande was, hoegenaamd nie
vergelykbaar is met die ewige heerlikheid wat wag op hulle wie hul geloof en
hoop in Jesus Christus die Verlosser plaas nie. Paulus stel dit baie mooi in 2
Kor.4:17 wanneer hy sê ~ Ons
swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons
uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Moses het hierdie selfde ewigheidsperspektief gekoester.
Iemand van geloof kies dus ’n pad van
gehoorsaamheid en as daar swaarkry mee gepaard gaan, dan kies hy ook dit, maar
hy doen dit nie uit dwang nie, maar met ’n gewillige en blymoedige hart. Ons as
gelowiges moet bereid wees om Christus te volg te midde van en ten spyte van
swaarkry.
Waarom het Moses kans gesien om die skatte van Egipte prys te
gee? V.26 ~ Die smaad ter wille van die Christus het hy ’n
groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien
het – ter
wille van Christus, omdat hy na die beloning uitgesien het. Nie net het Moses
dit gedoen t.w.v. die beloning nie, maar ook t.w.v. Christus en dit opsigself
is belangrik, want ook hier word dit beklemtoon dat Moses ’n toekomsvisie en
ewigheidsperspektief gehad het – Moses het vooruitgekyk na die komende Messias,
soos wat ons ook voortdurend terug moet kyk na die “reeds-gekome” Messias.
Moses was dus bereid om swaar te kry t.w.v. Christus en daardeur geïdentifiseer
te word met sy Verlosser ~ Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te
behoort nie (Matt.10:38).
Ons
lees in v.27 van Moses wat Egipte verlaat het sonder dat hy bang was vir die
woede van die koning. Ons weet dat hy Egipte by twee geleenthede verlaat het –
die eerste keer was nadat hy die Egiptenaar vermoor het (hoor
julle – vermoor! Sonde! Geloofshelde was nie volmaakte mense nie!). Die tweede keer was toe hy
die volk uit Egipte gelei het. Die vraag is, na watter geleentheid verwys die
Hebreërskrywer hier – die eerste of die tweede keer dat Moses, Egipte verlaat
het?
Hierdie
eksodus van hom verwys na die tweede eksodus – die keer toe hy die volk uit
Egipte gelei het. Toe hy egter die eerste keer weggegaan het, het dit gepaard
gegaan met vrees, want hy het pas ’n Egiptenaar vermoor en hy vlug weg. Die
vraag is of hy dan mensevrees gehad het? Het hy die Farao gevrees? Die antwoord
hierop is, nee. Hy het nie die Farao of die regstelsel van Egipte “per se” (as
sodanig) gevrees
nie, maar hy het gevrees dat sy optrede tot gevolg kon hê dat hy nie meer as
verlosser van sy volk kon optree nie, want sou hy gearresteer word en tereg
gestel word, sou hy nie meer sy roeping, nl. om die volk uit Egipte te lei, kon
volvoer nie – dit is waarvoor hy gevrees het, want v.27a sê baie duidelik dat
...hy
Egipte verlaat (het) sonder dat hy vir die woede van die koning bang
was. Selfs
die feit dat Moses gevlug het, was vir hom ’n daad van geloof ~ ... Hy het
volhard soos iemand wat die onsienlike God sien (v.27b).
Dit
is so dat Moses eers sowat 40 jaar later geroep was om die volk uit Egipte te
lei, maar op hierdie stadium dat hy die eerste keer gevlug het, moet ons besef
dat hy hoogs waarskynlik reeds ’n intieme en besondere (ten
spyte van sy moorddadige optrede) verhouding
met God gehad het en dat hy dalk alreeds ’n roeping t.o.v. sy volk in sy gees
ervaar het – hoor bv. wat God self van Moses gesê het ~ Luister
na wat Ek sê: As daar
’n profeet van die Here onder
julle is, maak Ek
My aan hom bekend deur
visioene en praat
Ek met hom in drome. 7Maar met
my dienaar Moses is dit
anders Hy is
die betroubaarste in my diens. 8Met hóm
praat Ek direk en
persoonlik, nie in
raaisels nie. Hy sien
selfs die gestalte van die
Here. Waarom
was julle dan nie bang om só
met my dienaar Moses te praat
nie?” (Num.12:6-8). Moses het ’n buitengewone
verhouding met die onsienlike God gehad en was die onsienlike God vir hom ’n
groter realiteit as die sienlike Farao.
Moses
se ballingskap het 40 jaar geduur, maar ook dit kon hy geduldig hanteer en
verduur, want hy het geweet dat God in beheer van sy lewe is, maar veral omdat
hy in God die onsienlike geglo het (1 Tim.1:17). Die feit dat hy gevlug het
uit Egipte was dus nie gemotiveer deur mensevrees nie, maar juis sy geloof in
God en die wete dat God, “’n plan vir sy lewe gehad het”.
Na
veertig jaar se ballingskap en die bevestiging van God se roeping op Moses se
lewe (die vuurvlam uit die doringbos – Eks.3) keer Moses terug na Egipte en
ervaar hy uiteindelik weerstand van sy eie mense deurdat hulle hom as leier verwerp het – hoor
wat sê hy in Eks.6:11 vir die Here ~ Die Israeliete luister nie eens na my nie, hoe sal die farao nog na my
luister? Hy
het nou beide die Farao en sy volksgenote wat teen hom is, maar hy vrees nie
een van die twee nie en hy volhard deur te doen wat God vir hom gesê het om te
doen.
Hierdie
gehoorsaamheid van Moses se geloof lei tot optrede – v.28 ~ Omdat hy
geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer
sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie. Moses tree in geloof op. Hy
neem God op Sy Woord en hy glo dat God die lewens sou spaar van die eersgeborenes
van dié families wie die Paaslam se bloed aan hul huiskosyne geverf het.
Moses
het egter ook in hierdie geval, weer vooruit gekyk na die Offerlam wie se bloed
jare later op Golgota sou vloei t.w.v. die vergifnis van die sonde van diegene
wie in Christus glo en daarom stel hy die Pasga in, daarom dat hy in Eks.12:14
sê ~ Hierdie dag
moet vir julle ’n gedenkdag wees. Julle moet dit as ’n fees tot eer van die
Here vier. Vir julle nageslag moet dit ’n vaste instelling wees wat hulle moet
vier. Dit
herinner ’n mens aan die instelling van die Nagmaal deur ons Here Jesus en die
gereelde gebruik van die Nagmaal deur die vroeë kerk, nie waar nie (Luk.22:14-20;
Hand.2:42; 20:7; 1 Kor.10:16)?
Die
instelling van die Pasga was dus nie vir Moses bloot net ’n stuk seremoniële
optrede nie, maar ’n instelling wat voortgespruit het uit gehoorsaamheid aan
God se opdrag, maar ook opregte geloof en vertroue in die belofte dat die
doodsengel nie die Israeliete sou aanraak nie.
5. DIE ISRAELIETE SE GELOOF:
Moses het na die
instelling van die Pasga en die dood van die Egiptenare se eersgeborenes, die
Israeliete uit Egipte gelei, maar hulle was skaars onder die dwingelandy van
die Farao uit, toe sit sy weermag hulle in hulle strydwaens agterna. Die
Israeliete word gestuit deur die Rooisee en die Egiptenare is aan die kom – vir
hulle was dit nou tyd dat God Homself moet bewys as die God van die
onmoontlike, want sonder Sy ingrepe was daar geen kans om die naderende soldate
te ontduik nie – die volk het begin twyfel en vreesbevange geraak, maar dit was
Moses wat hulle bemoedig en aanspoor om in God te glo, toe hy gesê het ~ Moenie
bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos
julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. 14Bly
julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg (Eks.14:13-14) – weereens Moses se geloof, wat sy mede-Israeliete bemoedig, sodat ook
hulle kon glo.
Moses het, soos ons nou
net in vv.13-14 gesien het, hulle aangespreek en bemoedig en dan v.29 ~ Omdat die
Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond,
terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het. Ongelukkig was dieselfde gelowige Israeliete se geloof later maar
wankelrig en het almal wat uit Egipte getrek het, a.g.v. hul ongeloof, in die
woestyn gesterf en derhalwe nie in die Beloofde Land ingegaan nie.
Hierdie gebeurtenis by die
Rooi See is ’n wonderlike voorbeeld vir ons van hoe een persoon se geloof
andere kan motiveer om ook te glo. Ons sien hierdie feit ook regdeur die
kerkgeskiedenis met mense soos bv. Martin Luther, Calvyn en vele ander, wie se
geloof duisende ander se geloof verander, versterk en gebou het. Ons moet dus
nooit die krag en impak van geloof onderskat nie, ook nie die invloed van ons
geloof op andere en andersom nie.
Dit is interessant hoe ons parallelle kan
trek tussen die Rooi See-gebeure en die doop van gelowiges. Vir die Israeliete was
die Rooi See se water, simbool van geloof en redding, maar vir die ongelowige
Egiptenare was dit simbool van dood. Dieselfde geld natuurlik vir Noag en die
ongelowiges wat in die groot vloed omgekom het. Wat die doop betref, is die
water teken van die gelowige se geloof en redding. Paulus vergelyk dan ook die
Israeliete se deurgang deur die Rooi See met die doop ~ Broers, ek wil julle
daaraan herinner dat ons voorvaders almal onder die beskerming van die wolk was
en almal veilig deur die see gegaan het. 2Omdat hulle almal vir
Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop (1
Kor.10:1).
6. AFSLUITING:
Wat beteken al hierdie feite rondom Moses
se geloof vir ons vandag?
Ons het vandag gesien en geleer dat
geloof behels om God op Sy Woord te neem en uit te stap in vaste vertroue dat
Hy getrou aan Sy Woord sal bly – geloof aanvaar dus God se beloftes (in Sy Woord) onvoorwaardelik. John MacArthur het op ’n keer gesê: “When we have nothing but His promise to
rely on, His help is the nearest and His presence the dearest to those who
believe.”
Moses was juis die mens wie hy was, omdat
hy gekies het om op God te fokus en nie op die Farao nie en dit is presies waar
ons ook moet wees – wanneer ons bang is vir die wêreld – bang is wat ander
mense mag dink en sê van ons, kan ons nie God se seën en beskerming verwag nie
en kan ons selfs Sy dissipline in ons lewe verwag, maar wanneer ons ons
situasie aan Hom toevertrou en in Hom rus en getrou aan Hom bly, is die
wonderlike belofte in Openb.2:10 ook op ons van toepassing ~ Moenie
bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle
in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien
dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe
as kroon gee.
Die les van geloof is dus gehoorsaamheid.
Wanneer God praat, reageer die gelowige en tree hy op – hy doen wat God van hom
verwag, anders bedrieg hy homself en daarom moet ons gereeld vir die Here vra
om ons gehoorsaam te maak en te hou en ons moet mekaar aanmoedig om gehoorsaam
te wees.
Net soos wat Moses presies geweet het wat
God se wil vir sy lewe was omdat God direk met hom gepraat het, weet ons ook
wat God se wil vir ons lewe is, want ons het Sy Woord en ons moet dit net
“hoor” (die Woord lees
en bestudeer) en daarop reageer, deur te doen wat Hy van
ons verwag.
Die wêreld het niks om aan vas te hou nie
– hulle kan nie die lewe met vaste vertroue binnetree nie, maar ons kan, want
ons het die beloftes van God om op te staan – wat ’n wonderlike troos en
bemoediging!
Moses het die geloof wat hy nodig gehad
het vir ’n menslik gesproke onmoontlike taak, van God ontvang – net so sal God
altyd getrou wees, soos in die geval van Moses en ook aan ons geloof skenk wanneer
ons dit nodig mag hê – of dit nou vir ’n bepaalde roeping is of om ’n terminale
siekte te hanteer, of wat ook al. Sommige van ons word geroep om God onder
beter omstandighede as andere te dien (dink aan werksomstandighede; dink aan
luukshede, of gebrek), maar maak seker dat jy wel in die
omstandighede verkeer waartoe God jou geroep het en maak seker dat jy tevrede
en vergenoegd is met jou omstandighede – solank jy binne God se wil is, sál Hy
aan jou die nodige geloof gee om jou bepaalde omstandighede te hanteer en te
verduur (goed
of sleg) – jy moet net seker maak dat jy binne Sy wil is,
maar ook met die regte gesindheid en afhanklikheid, binne Sy wil is (goed of minder
goed).
As die paaslam se bloed die Israeliete se
eersgeborenes kon beskerm, hoeveel te meer nie die bloed van die volmaakte
Paaslam, Jesus Christus nie, want Sy bloed was nie teen ons deurkosyne
gesprinkel nie, maar in ons siel! Chrysostom het gesê, “For even now the destroyer is still moving around in the depth of
night; but let us be armed with Christ’s sacrifice, since God has brought us out
from Egypt, from darkness and from idolatry.”
Is ons bereid om alles prys te gee t.w.v.
ons gehoorsaamheid aan God?
Kom sing met gelowige harte die pragtige
lied wat Daniel Brink Towner (1850-1919) geskryf het en wat
deur John Henry Sammins (1846-1919) getoonset is:
“TRUST & OBEY”
WHEN WE WALK WITH THE LORD
IN THE LIGHT OF HIS WORD,
WHAT A GLORY HE SHEDS ON OUR
WAY!
WHILE WE DO HIS GOOD WILL HE
ABIDES WITH US STILL,
AND WITH ALL WHO WILL TRUST
AND OBEY!
Chorus
TRUST AND OBEY! FOR THERE’S NO OTHER WAY
TO BE HAPPY IN JESUS, BUT TO
TRUST AND OBEY
NOT A SHADOW CAN RISE, NOT A
CLOUD IN THE SKIES,
BUT HIS SMILE QUICKLY DRIVES IT AWAY;
NOT A DOUBT NOR A FEAR NOT A
SIGH NOR A TEAR,
CAN ABIDE WHILE WE TRUST AND
OBEY!
Chorus
TRUST AND OBEY! FOR THERE’S NO OTHER WAY
TO BE HAPPY IN JESUS, BUT TO
TRUST AND OBEY
NOT A BURDEN WE BEAR, NOT A
SORROW WE SHARE,
BUT OUR TOIL HE DOTH RICHLY REPAY:
NOT A GRIEF NOR A LOSS NOT A
FROWN NOR A CROSS,
BUT IS BLESSED IF WE TRUST
AND OBEY!
Chorus
TRUST AND OBEY! OR THERE’S NO OTHER WAY
TO BE HAPPY IN JESUS, BUT TO
TRUST AND OBEY
BUT WE NEVER CAN PROVE THE
DELIGHTS OF HIS LOVE
UNTIL ALL ON THE ALTAR WE
LAY; FOR THE FAVOUR HE SHOWS,
AND THE JOY HE BESTOWS,
ARE FOR THEM WHO WILL TRUST AND
OBEY
Chorus
TRUST AND OBEY! FOR THERE’S
NO OTHER WAY
TO BE HAPPY IN JESUS, BUT TO
TRUST AND OBEY
THEN IN FELLOWSHIP
SWEET WE WILL SIT AT HIS FEET,
OR WE’LL WALK BY HIS SIDE IN
THE WAY;
WHAT HE SAYS WE WILL DO,
WHERE HE SENDS WE WILL GO;
NEVER FEAR, ONLY TRUST AND
OBEY!
Chorus
TRUST AND OBEY! FOR THERE’S NO OTHER WAY
TO BE HAPPY IN JESUS, BUT TO
TRUST AND OBEY
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 02 Februarie 2014