Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.
1. INLEIDING:
Ons het verlede week gekyk na die Ou Testamentiese grondslag of "wortels" vir die Sabbat. Vandag gaan ons kyk na die Nuwe Testamentiese blom en vrug van die Sabbat.
Ook het ons verlede week gekyk na die "Skeppingsabbat" en die "Eksodussabbat" en ons het ook gesien dat beide hierdie feeste, saamgevoeg is in die Opstandingsabbat (of te wel die Christelike Sabbat) wat ons vandag nog steeds onderhou.
Die Sabbat in die Nuwe Testament word dus ’n teken van ’n nuwe skepping wat afgehandel is en ’n groter verlossing wat bewerkstellig is. Dit het ’n teken geword vir die Nuwe Verbond wat deur die bloed van Jesus bekragtig is.
Ons het die afgelope tyd dan ook gesien hoe dat verskeie van die Ou Testamentiese feeste, deur Christus vervul is – net so is die Sabbat van die Ou Verbond vervul en vervang met die Sabbat van die Nuwe Verbond, of te wel die Dag van die Here (Sondag), toe Christus opgestaan het uit die dood.
2. SKRIFLESING:
Eks.35:1-3 ~ Moses het die hele gemeente van Israel bymekaar geroep en vir hulle gesê: “Dit is die gebod wat die Here julle beveel het om te gehoorsaam: 2“Ses dae moet julle julle werk doen, maar die sewende dag moet vir julle ’n gewyde dag wees. Dit is ’n rusdag tot eer van die Here. Elkeen wat op dié dag werk, moet doodgemaak word. 3Julle mag op die Sabbat geen vuur in enige van julle wonings maak nie.
Matt.5:17-20 ~ Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. 18Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. 19“Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel. 20Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.
3. HISTORIESE AGTERGROND:
God se doel met die Sabbat, het ons gesien, was dat die mens op hierdie dag moes rus van sy werk, maar primêr was dit bedoel om ’n dag te wees wat die mens afsonder om eer aan God te bring vir Wie en Wat Hy is, asook vir Sy skeppingswonder, maar ook vir Sy herskeppingswerk van wedergeboorte in elke gelowige se lewe. Die Sabbat was dus ingestel om beide fisiese en geestelike verkwikking te ervaar. Dit is belangrik om daarop te let dat God se motief met die Sabbat nie net was dat die mens moes rus nie – hy moes ook verkwik word. Ons sien dit baie mooi in Eks.23:12 ~ In ses dae moet jy jou werk doen, maar op die sewende dag moet jy nie werk nie sodat jou beeste en donkies kan uitrus en jou werksmense en die vreemdelinge by jou ’n bietjie kan asem skep. Die E.S.V. stel dit ook baie mooi ~ Six days you shall do your work, but on the seventh day you shall rest; that your ox and your donkey may have rest, and the son of your servant woman, and the alien, may be refreshed.
Die feit dat ons nie werk nie, beteken nie noodwendig dat ons rus nie. Die woord vir "asem skep", of "refresh" in die Ou Testament beteken letterlik om ’n mens se asem terug te kry. Die Sabbat is dus ingestel sodat die mens nuwe krag kan kry ten einde die nuwe week weer met ywer te kan aanpak. Die Sabbat is daarom bedoel om ’n seën te wees en nie ’n straf nie.
Ons moet egter steeds daarop let dat die Sabbat gegee was om nie net die liggaam ’n bietjie asem te laat skep nie, maar die hele menswees was hierby ingesluit – beide die fisiese en die geestelike dus. Ons is elke dag besig om teen tyd te werk en te jaag, maar die Sabbatsrus is vir ons gegee om ons daaraan te herinner dat God eintlik in beheer is van tyd en daarom ook van ons lewe.
Hierdie wonderlik dag van rus wat God aan Sy volk gegee het, was egter spoedig deur hulle onteer en die uiteinde daarvan was dat hulle in ballingskap weggevoer is deur die Assiriërs en die Babiloniërs. Tydens hierdie ballingskap het die Jode se Ou Testamentiese gebruike, wat die Sabbatsviering insluit, vermeng geraak met ander kulture en het dit uiteindelik heeltemal vervaag en het die Wet ook verdraaid geraak.
Die Babiloniërs het bv. op die 7de, die 14de, 21ste en 28ste dae van sekere maande, nie gewerk nie en ook nie skoon klere aangetrek, of geëet, of gereis, of selfs ’n wond versorg nie – hulle het die dag in sondebelydenis en gebed deurgebring. Hierdie spesiale dae van die Babiloniërs (hulle het dit "shappatu" genoem) was egter nie dae van rus en verkwikking en lofprysing nie – vir hulle was dit ’n dag van teenspoed en ongeluk en daarom sou ’n bouer bv. nie werk nie, omdat hy geglo het dat daar ’n baksteen op sy kop kon val (of iets soortgelyks). Ons kan dus alreeds hier sien waar al die reëls en regulasies van die Talmoed sy oorsprong gehad het.
Die Jode het begin glo dat hulle weggevoer is in ballingskap omdat hulle die Wet nie reg onderhou het nie en daarom het hulle gedink dat hulle hulself sou kon red deur die Wet streng te onderhou – hulle het God se genade dus nie meer nodig gehad in hulle lewe nie. Hulle moes net hard werk en die Wet onderhou en op daardie manier sou hulle God se seën en verlossing uit ballingskap verdien. So het die Sabbat dus ’n dag geword wat onderhou moes word, ten einde gered te word – vandaar allerlei reëls en regulasies om die mense te help om dit reg te kry (die Talmoed – wat natuurlik heelwat later eers voltooi is – het op die einde 1500 reëls gehad om werk op die Sabbat te reguleer!). Die Jode se feesdag het vir hulle ’n straf geword en geen redding uit ballingskap, of uiteindelike, ewige verlossing het uit hierdie wetsonderhouding gespruit nie!
4. DIE BEVRYDING VAN DIE SABBAT:
Hierdie wyse van Sabbatsviering wat eintlik ’n Babiloniese fees geword het, is vierkant gekonfronteer en aangespreek toe die ...Woord mens ("vlees" – O.A.V.) geword (het) en onder ons kom woon (het) (Joh.1:14). Jesus het die Fariseërs se wettiese onderhouding van die Sabbat by verskeie geleenthede gekonfronteer, deur verskillende dinge op die Sabbat te doen wat hulle wettiese begrip van die Sabbatsviering ondermyn het, maar wat nié die Bybelse Sabbat ondermyn het nie.
Ons lees in ons Nuwe Testamentiese Skrifgedeelte wat ons netnou gelees het (Matt.45:17-20) dat Jesus nie gekom het om die Wet te vernietig en ongeldig te maak nie, maar juis om dit te kom vervul (Matt.5:17) en soos die N.A.V. dit stel, dit ...volle betekenis te laat kry.
As kind het ek baie keer gewonder waarom Jesus regtig die tafels in die Tempel omgekeer het – was dit omdat Hy woedend was omdat hulle gekoop en verkoop het in die Tempel? Was dit omdat hulle besigheid bedryf het op die Sabbat? Nee, Hy wou die Sabbat bevry het van sy Rabbynse binding van wettisisme en Hy het dit gedoen deur reg in hulle domein te stap en hulle te "ontwapen".
Ons het reeds verlede week gesien dat daar ook ander geleenthede was dat Jesus en die Fariseërs gebots het oor die Sabbat (Mark.2:23-28 – Dissipels pluk koringare op die Sabbat. Ook bv. die kreupel vrou in die Sinagoge – Luk.13:10-17; die geval van die man wat aan watersug gely het en wat Jesus genees het op die Sabbat – Luk.14:1-6; sekerlik een van die mees aangrypendste genesings was dié van die lam man op die Sabbatdag by die bad van Betesda – Joh.5:1-9; ens.).
Wanneer ’n mens na sommige van hierdie konfrontasies kyk, lyk dit dikwels asof Jesus so ietwat moedswillig was – so asof Hy die Fariseërs uitgelok het tot konfrontasie soos bv. met Sy bykans oordrewe optrede – was dit werklik nodig om spoeg en stof te gebruik om die blinde te genees? Hy het dit egter juis gedoen om hulle so "de vieste" in te maak dat hulle Hom móés konfronteer en Hy dan Sy "houe" kon inkry.
’n Verdere interessantheid t.o.v. Jesus se konfrontasie met die Fariseërs, het te doen gehad het met die liggaam (fisiese genesings). Hy wou juis deur die genesings, die hele gedagte van die verfrissing en vernuwing ("asem skep" – Eks.23:12) van die liggaam beklemtoon.
Jesus wou dus met hierdie konfrontasies weer Sy woorde in Mark.2:27, nl. ...die Sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbatdag nie, onder die Fariseërs se aandag bring en daardeur vir hulle sê dat Hy juis die Sabbatdag vir hulle gegee het om geheilig en verfris te word, maar hulle het Sy dag juis ontheilig deurdat hulle mense "onder ’n wip" geplaas het en hulle slawe van allerlei onbybelse wette gemaak het.
Hy sê dus vir hulle: Julle veroordeel My dat Ek nie die Sabbat onderhou nie, maar dit is eintlik julle wat nie eens weet waaroor die Sabbat gaan nie. Die klem val dus nie op die Sabbat self nie, maar op Hóm wat die Sabbat gegee het en ons weet dat die Jode Jesus as Messias verwerp het, daarom dat hulle ook die Sabbat soos wat dit deur God gegee is, verwerp en verdraai het.
Gedurende die Ou Testamentiese tydperk, het ons gesien dat mense met die dood gestraf is, indien hulle nie op die Sabbat gerus het nie – hulle het dus die Sabbat soos deur God gegee, verwerp - net soos die Fariseërs en daarom kan ons ook sê dat mense van ons dag wat hierdie opdrag om te rus op die Sabbat verontagsaam gedood gaan word – nie deur mensehowe nie, maar deur God self. Waarom? Omdat hulle soos die Fariseërs, God verwerp en dit het uiteindelik, geestelike dood tot gevolg.
In ons dag het geen Bank in Suid-Afrika dit nodig geag om op Sondae oop te maak vir besigheid nie (behalwe ABSA op klein skaal – nie dat dit verskoonbaar is nie) – tot die afgelope week dat Capitec Bank aangekondig het dat hulle voortaan op ’n Sondag gaan oopmaak vir besigheid – ’n blatante verwerping van God se opdrag om ’n Sabbatsrus te geniet – ’n mens eis as jy dink wat met die topbestuur van Capitek gaan gebeur na hierdie besluit, want dit was nie nodig nie (dit sluit natuurlik ook alle ander besighede in, wat op Sondae oop is)!
5. ALGEMENE BEGINSELS:
As ons dan nou al hierdie dinge vir mekaar gesê het – hoe moet ons dan Sondae deurbring?
Ten einde dit te antwoord, wil ek dadelik sê dat om bepaalde riglyne neer te lê, soos om bv. te sê dat jy nie naaldwerk mag doen op ’n Sondag nie, sal tot gevolg hê dat ons maar net in ’n nuwe vorm van Fariseïsme verval.
Nee, ons moet gaan kyk na die algemene beginsels wat God se Woord vir ons uitstippel.
Ons moet eerstens in gedagte hou dat Christus al die feesdae soos aangetref onder die Ou Verbond, vervul het – dit sluit die "Eksodussabbat" in. Daar het egter in elk van hierdie feeste iets nuuts gekom wat heenwys na Christus Jesus se Verlossingswerk en ons gepaardgaande heiligmakingsproses.
Ook moet ons in gedagte hou dat die Sabbat ook ’n "Skeppingsabbat" is, waar God die Sabbat ingestel het en gesê het ~ Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. 3Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het (Gen.2:2-3). Ons het reeds gesien dat hierdie dag, voor die sondeval deur God opsy gesit is (geheilig) en daarom is dit van toepassing op alle mense en nie net God se volk nie. Hierdie dag moet dus anders deurgebring word as enige ander dag van die week. Die motief met hierdie dag is dus dat die mens moet rus en dat hy na liggaam en siel verfris moet word – hy moet "nuwe asem kry" vir die week wat voorlê.
Tweedens beteken dit dat God se kinders op die Sabbat (Sondag) byeen moet kom t.w.v. gesamentlike aanbidding (erediens met al sy fasette) en om God se genadeverbond te gedenk en mekaar aan te moedig in ons heiligmakingsproses – Hebr.10:25 is baie duidelik hieroor ~ Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.
Ons het die Sabbat dus nodig om te rus van ons werk, maar ons het dit ook nodig om God se seën te ervaar, sodat ons ook geestelik versterk kan word en ons kry dit deur gemeenskap te geniet met ander gelowiges en deur ons aanbidding van God (lofprysing, gebed, prediking, ens.). Wanneer ons Sondae verswelg raak deur allerlei wêreldse en alledaagse aktiwiteite, verloor die Sabbat sy heiligheid en uniekheid en trek ons, geestelik aan die kortste ent en vervul ons nie ons roeping t.o.v. die Sabbatsrus nie.
Psalm 100 gee vir ons nog ’n beginsel waarvolgens ons ’n Sondag moet deurbring ~ Juig tot eer van die Here, almal op aarde! 2Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel! 3Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde. 4Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, 5want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag. Waar en hoe kan ons dit beter doen as juis in die gemeente se samekoms op ’n Sondag?
Geestelik gesproke is ’n Sondag ’n simbool van ons redding uit genade, want dit is die dag dat Christus opgestaan het uit die dood en sodoende ook ons reddingsproses afgehandel het – dit behoort genoegsame rede te wees om in blydskap God te aanbid en te eer.
6. TEN SLOTTE:
Kom ons wees baie prakties. Jy vra vir my: As ek alles wat tot nou toe gesê is, in gedagte hou, kan ek dan op ’n Sondag visvang, of gholf speel, of die Sondagkoerant koop en lees, of braai of langs die swembad lê en lees – veral as ek "darem" die oggend in die kerk was?
Wel, ek sou op sommige van hierdie vrae "ja" kon antwoord en op sommige "nee". Máár, dit hang nie af van wat ék sê nie. Nee, die toets lê daarin of jy, dit wat jy ook al wil doen, kan doen nadat jy dit getoets het aan die algemene beginsels van die Woord t.o.v. ’n Sondag.
Om te rus kan ook ontspanning impliseer – Calvyn het bv. Sondagmiddae rolbal gespeel ten einde te ontspan en verfris te kan word vir die nuwe week. Ons moet net weereens in gedagte hou dat ons ontspanning nie so intens en selfs wêrelds deurgebring word, dat ons nie meer rus en verfris raak nie en dat ons fokus gefikseer raak op die wêreld i.p.v. God.
Ons moet ook nie ons selfopgelegde reëls (en baie dikwels, Fariseïstiese wette oor die Sabbat) op andere afdwing nie.
As jy in alle eerlikheid en voor die Here jou tipe rus en ontspanning op ’n Sondag suksesvol aan die beginsels van die Woord kan meet, is dit jou geoorloof om dit te doen.
Jy moet bv. vir jouself afvra of die bepaalde aktiwiteit jou werklik sal verfris, of sal dit jou so moeg maak dat jy nie uitgerus is vir die week wat voorlê nie.
Jy moet jouself afvra of jou aktiwiteit jou deelname en betrokkenheid by die onderlinge byeenkoms(te) in die wiele sal ry – sal dit jou so moeg maak dat jy nie na behore na die verkondiging van die Woord kan luister nie. Wanneer ek dit sê, hou dit natuurlik ook implikasies in vir Saterdag en of ek uitgerus kerk toe kom op ’n Sondag ten einde my broers en susters te kan seën met my teenwoordigheid en om in te neem wat gesing en gebid en gepreek word.
Vra jouself af, of dit wat jy doen die goedkeuring van God sal wegdra.
Sal dít wat ek doen, nog steeds tot eer van God wees?
Kan ek aan kompeterende sport deelneem op ’n Sondag? Die vraag wat ek daarop moet vra is of dit my steeds sal laat rus as ek dit doen, ten einde vars te wees vir die week wat voorlê? Wat gebeur in my gemoed as ek dalk verloor of nie suksesvol is nie? Sal dit bydra tot my geestelike groei en verfrissing?
Ons moet ook die hele beginsel van wêreldgelykvormigheid in gedagte hou. Die wêreld tree op ’n Sondag soos alle ander dae op en ons as gelowiges is geroep om in die eerste plek anders op te tree as die wêreld, maar ook anders as wat die gewoonte gedurende die week is, omdat die Sabbat deur God geheilig is – dit is opsygesit; dit is anders en moet anders deurgebring word as normaal – en die wêreld doen dit nie – ry bv. maar net op ’n Sondag by Vaal Mall of River Square verby.
Sondag moet nie sy spesiale karakter (soos wat God dit bedoel het) verloor in ons lewens, en bv. ’n tweede Saterdag word nie.
Die Sabbat moet vir ons ’n seën wees, omdat dit aan ons as gelowiges die geleentheid bied om na liggaam, gees en siel te rus en die geleentheid gebied word om God te aanbid, geestelik versterk te word en ons medegelowiges te bedien.