Ons het tot nou toe reeds baie tyd in Openbaring spandeer en veral het ons baie tyd spandeer aan die val van Jerusalem. Vir baie was hierdie ’n uitdagende tyd, want baie van ons moes ’n totale paradigma skuif ondergaan t.o.v. dit wat ons in die verlede geleer is oor Openbaring (hoewel daar baie min, indien ooit, uit Openbaring in my jonger lewe as lidmaat van die Gereformeerde- en later N.G. Kerk gepreek is), of wat ons maar so hier en daar uit gesprekke en dalk selfs uit die wêreldse pers t.o.v. Openbaring gehoor het – ek wil sover gaan as om te sê dat die meeste van ons (indien nie almal nie?), ons eie uiters wollerige en baie dikwels onbybelse siening (nie eens ’n standpunt nie) van klein deeltjies van Openbaring gevorm het.
Ons kom nou by ’n gedeelte in Openbaring waaroor daar ook menige verklaring bestaan, nl. die Bruilof van die Lam. Wat is die betekenis hiervan? Wanneer het dit, of gaan dit plaasvind? Wat is die betekenis daarvan, ens.?
In die voorafgaande gedeelte het ons gesien dat die sogenaamde "oorspronklike bruid van God," ’n afvallige, ontrou- en owerspelige vrou geword het wat uiteindelik deur God se oordele in 70 n.C. getref is.
Die trant en atmosfeer verander egter nou dramaties hier in hoofstuk 19, want hier vind ons ’n vreugdevolle gebeurtenis, waar daar lofsange is en ook ’n bruilof – die oue lê in die verlede en die nuwe word omhels. Trouens, ons vind hier die instelling en "lansering" van die nuwe verbond in Christus Jesus.
Ons moet egter voorbereid wees daarop dat hierdie hoofstuk ook nie sonder bloedige tonele is nie. Ons tref twee maaltye hier aan: die maaltyd van die Lam (19:1-10) en die maaltyd van God (19:12-21). Lg. maaltyd is ’n bloedige toneel, waar die roofvoëls van die hemel uitgenooi word om die vleis van die opperbevelhebbers, die vleis van die magtiges en die vleis van die perde en hulle ruiters, ja, die vleis van allerhande mense: vryes en slawe, klein en groot, te eet (v.17-18).
Voor ons in meer detail kyk na hierdie hoofstuk, is daar ’n paar dinge waarvan ons kennis moet neem:
• Ons moet voortdurend in gedagte hou dat God die Vader nog altyd maar net een Bruid gehad het, nl. die ware Israel van God (dit is al die uitverkorenes deur al die eeue heen). God se ewige en onvoorwaardelike verbond met Sy uitverkorenes was nog altyd en sal altyd onaangeraak en vlekkeloos wees.
• Tweedens moet ons verstaan dat daar ’n metaforiese betekenis opgesluit lê in die gedagte van God wat "getroud" is/was met die geopolitiese Israel as volk. Hierdie verbond met Israel, was ’n voorwaardelike verbond. Soos ons reeds vantevore gesien het, word God se waarskuwing t.o.v. ’n verbreking van die verbond tussen Hom en Israel, in Lev.26 en Deut.28 uiteengesit. In kort, indien Israel, God sou gehoorsaam, sou God haar seën; indien Israel ongehoorsaam is, sal God haar straf en sal Israel vervloek wees.
• In die derde plek moet ons ook daarvan kennis neem dat indien God (ek sê dit met die uiterste piëteit) "in die huwelik wil tree" met die Nuwe Testamentiese Kerk, moet Hy eers "verlos" word van Sy verbond met Israel. Omdat ’n huwelik, ’n "tot-die-dood-ons-skei-verhouding" is, moes God Israel "teregstel", vir hul doodsonde van owerspel.
• Ons moet laastens daarop let dat God nie eers "in die huwelik getree" het met die Kerk na die verwoesting van Jerusalem nie. Die huwelik tussen God en Sy uitverkorenes kan al die pad teruggespeur word tot by die Tuin van Eden. Die nuwe verbond was egter eers ten volle ingestel met die val van Jerusalem. Na aanleiding hiervan vind ons dan dat Openb.19 ’n figuurlike of sinnebeeldige beskrywing is van God se huwelik met die Kerk. -