Sunday, February 26, 2012

“Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 07” (Die Gemeente in Laodisea)


1.     INLEIDING:
Ons briewebesteller het nog net een brief in sy possak en hy is fluks oppad na die sewende gemeente in Laodisea.  In vele opsigte is hierdie brief ook die tragieste van al sewe die briewe wat hy oorspronklik in sy possak gehad het, omdat dit die enigste was waarin Christus dit onmoontlik gevind het om ná Sy bestraffing selfs één enkele woord van aanprysing te gee.  Selfs in die dooie gemeente van Sardis was daar darem ’n groepie lewende Christene wat ’n paar woorde van lof kon ontvang, maar in Laodisea was daar nie eens so ’n oorblyfsel nie!

Al is hierdie brief die droewigste van al die briewe, is hierdie brief waarskynlik ook die teerste en liefdevolste van almal en dit is omdat die bestraffing uit ’n hart vol liefde gekom het, omdat Hy ’n uitnodiging aan hierdie groep mense stuur wat spreek van Sy liefde.
-

Sunday, February 19, 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 06 (Die Gemeente in Filadelfia)

1.     INLEIDING:
Ons het reeds gesien dat die pos uit Patmos baie verrassings ingehou het vir die gemeentes wat briewe ontvang het. Ons het gemeentes gesien wat baie hard teen dwaalleer gestry het, net om die klag van die Here te hoor dat hulle, hul eerste liefde verlaat het. Ander weer is deur van die ander gemeentes geëer vir hulle onvermoeide ywer en bedrywighede, net om van die Here te hoor dat hulle dood is.  Die possak wat ons briewebesteller gedra het, was dus vol verassings én skokke. 

Daar is nog net twee briewe oor in die possak en die volgende gemeente wat besoek word, is dié in Filadelfia. Ons beskik nie oor baie inligting t.o.v. hierdie gemeente nie, maar wat ons wel weet is dat dit ’n klein en swak gemeentetjie was, want Christus sê in Openb.3:8 o.a. dat hulle min krag het en daarom kan ons onsself indink dat hierdie gemeente gespanne gewag het om te hoor wat Christus van hulle sê, want as ’n groot en gevestigde gemeente soos dié in Efese só ’n skerp aanklag van Christus moes ontvang; as ’n lewendige en oënskynlik gesonde gemeente soos dié in Sardis moes verneem dat hulle ’n dooie gemeente is, wat kon hierdie klein en swak gemeentetjie in Filadelfia te wagte wees? Daarom het hierdie groepie gelowiges waarskynlik in groot angs gesit en wag dat hulle leraar die brief moes ooprol en voorlees. En wat ’n groot verrassing het nie op hulle gewag nie! Maar kom ons begin by die begin.

-

Sunday, February 12, 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 05 (Die Gemeente in Sardis)

1.     SKRIFLESING:

Openb.3:1-6 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Sardis: So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood. 2Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie. 3Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle. As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ’n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie. 4Maar julle het darem ’n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is. 5Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort. 6Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê.

-

Sunday, February 5, 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 04 (Die Gemeente in Tiatira)

1.     SKRIFLESING:
Openb.2:18-29 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Tiatira: So sê die Seun van God, wie se oë soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is: 19Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding en Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore. 20Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgods-offervleis te eet. 21Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie. 22Kyk, Ek gee haar aan ’n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding—as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. 23Haar volgelinge sal Ek deur ’n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late. 24Maar vir julle ander in Tiatira, wat nie hierdie leer aanhang en nie die “diep geheimenisse van die Satan”, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verpligting nie; 25hou net vas wat julle het, totdat Ek kom. 26Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee. 27Hy sal hulle met ’n ystersepter regeer, hulle soos kleipotte stukkend slaan. 28Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee. 29Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

2.     INLEIDING:
Ons briewebesteller het, nadat hy die brief wat aan die gemeente in Pergamum gerig was, afgelewer het, sy reis voort gesit en nou in oostelike rigting, die binneland in, koers gekies.  Hy het nog vier briewe in sy possak gehad en die adres op sy volgende koevert was dié van die gemeente in Tiatira. -

Sunday, January 29, 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 03 (Die Gemeente in Pergamum)

1.         INLEIDING:
Ons het met die vorige twee gemeentes in Openb.2 gesien, dat daar ’n algemene patroon in die struktuur van elk van die sewe briewe in Openb.2 en 3 voorkom:
·           Elke brief is deur Christus aan ’n spesifieke gemeente gerig.
·           Elke brief stel die Hoof van die plaaslike gemeente (Christus Jesus) voor as ’n spesifieke karakter, of beeld.
·           Elke brief onthul ondubbelsinnig dat Christus oor volkome kennis beskik t.o.v. die toestand van daardie spesifieke gemeente.
·           Met die uitsondering van een gemeente, ontvang elke gemeente een of meer lofuitinge of aanprysinge.
·           Met die uitsondering van twee gemeentes, ontvang elke gemeente kritiek of een of meer bestraffinge oor een of meer situasie(s) wat in die gemeente bestaan.
·           Elke gemeente ontvang ten minste ’n vermaning en daarmee saam gee Christus raad aan hulle.
·           Elke gemeente ontvang een of ander belofte t.o.v. getrouheid.

Die briewebesteller wat die sewe briewe uitgedra het, waarmee ons in Openbaring 2 en 3 te doen kry, het nou sy reis wat by die hawestad Milete begin het, oor land verder hervat en hy het noordwaarts gereis om sy derde brief aan die herder van die plaaslike gemeente te gaan oorhandig. -

Sunday, January 22, 2012

"Gewyde Heiligheid van die Lewe"

1.     INLEIDING:
Kom ons wees bietjie eerlik vanoggend. Hoe voel jy elke keer as ’n pragtige, skaars, onskuldige renoster gestroop word vir sy horing? Kwaad? Opstandig? Hartseer? ’n Belangriker vraag: Wat is jou eerlike reaksie as jy daaraan dink dat aborsies gewettig is in Suid-Afrika? Nee kom, wees eerlik, baie eerlik. Is ons al afgestomp hieroor? My een skoondogter is in die goeie sin van die woord, ’n "pro-life" aktivis en sy is ’n stigterslid van ’n organisasie genaamd "Abort 97" (http://www.abort97.co.za/) en een van hulle slagspreuke is: "Rhinos arn't the only things worth living". Dit is so waar, trouens in vergelyking met aborsie is renosters bykans nie eens noemenswaardig nie. -

Sunday, January 15, 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 02 (Die Gemeente in Smirna)

1.     INLEIDING:
Ons leef in ’n uiters vyandiggesinde wêreld – ’n wêreld wat die waarheid van die Woord van God met al sy mag teëstaan. Hierdie aanslag raak by die dag erger, maar ons as gelowiges moet leer om voortdurend onder die beheer van Jesus Christus te staan en te leef en derhalwe staande te bly in die wonderlike Evangelie van Jesus Christus, want Hy is voorwaar Here en regeer oor hierdie aarde en SY Koninkryk en Sy kerk staan vasgeanker en daarom sal ...die poorte van die doderyk dit nie oorweldig nie (Matt.16:8 – O.A.V.).

-

Tuesday, January 3, 2012

Sewe Briewe aan Sewe Gemeentes - 01 (Die Gemeente in Efese)

1.     INLEIDING:
In hoofstukke 2 en 3 van die profesie van Openbaring, vind ons briewe wat Johannes aan sewe gemeentes in Klein-Asië geskryf het, nadat Jesus Christus dit aan hom gedikteer het.  Hierdie gemeentes aan wie Johannes sy briewe rig, was Efese (2:1-7), Smirna (2:8-11), Pergamum (2:12-17), Tiatira (2:18-29), Sardis (3:1-6), Filadelfia (3:7-13) en Laodisea (3:14-22).  Hierdie was werklike gemeentes wat bestaan het in die tyd wat Johannes hierdie apokalips (openbaring van God) ontvang het.  Ook het die toestande t.o.v. van die gemeentes, soos beskryf in Openbaring, werklik in daardie spesifieke gemeentes geheers.

Hierdie toestande wat in hierdie sewe gemeentes geheers het, is dan ook realiteite wat in die kerk in die breë vandag nog voorkom.  Elke gemeente ervaar dus op een of ander stadium van haar lewe, een of meer van hierdie toestande – dalk al sewe gelyktydig!  Elke gemeente ervaar dus van tyd tot tyd (oor korter en soms langer stadiums) dinge wat prysenswaardig is; of afkeurenswaardig is; of dinge wat verbetering en/of verandering benodig. 

Sunday, January 1, 2012

En My God Sal In Elke Behoefte Ryklik Voorsien

1. ONS BEHOEFTE:
Elkeen van ons betree vandag hierdie nuwe jaar met bepaalde behoeftes – of dit nou finansieel, of fisies, of geestelik is. Miskien wonder jy hoe jy hierdie jaar finansieel sal oorleef; jy wonder dalk of jy al jou verpligtinge sal kan na kom. Gaan my besigheid die syfers haal wat nodig is om my maatskappy doelwitte te bereik? Gaan ek nie dalk in hierdie jaar gerasionaliseer word nie? Sal jy in al jou familie se behoeftes kan voorsien? Miskien sukkel jy met ’n kwaal (waarvan nie een van ons dalk eers weet nie) en wonder, of hoop jy dat jy genesing sal ervaar. Miskien wonder jy of ons as gemeente nog aan die einde van 2012 sal bestaan, en so kan ons aangaan. -

Sunday, December 25, 2011

Vrede op Aarde!

Die wêreld vier vandag Kersfees. Ek vier nié Kersfees nie! Ek vier Christusfees! Hierdie dag het tog immers niks – hoegenaamd niks te doen met kerse nie. Hierdie dag (en die wêreld weet dit en besef dit nie regtig nie) gaan daaroor dat ons die geboorte van Jesus Christus, die Seun van God, gedenk. Hierdie is nie sommer maar net so ’n dag nie; dit is nie maar net nog ’n verjaarsdagviering nie. Nee, hierdie dag – die dag waarop Jesus gebore is, is waarskynlik die tweede belangrikste dag op die kalender van ons as gelowige Christene (Christus se kruisiging en spesifiek Sy opstanding is vir my die heel belangrikste dae en behoort dus eintlik veel, veel meer prominensie te geniet as "Kersdag").

Ons hoor ook baie dikwels gedurende die Kerstyd, dat mense sê dat Jesus Christus na die aarde gekom het om vrede te bring. Dit klink alles so mooi en "in die gees van Kersfees" klink dit só reg, maar wat beteken dit regtig as ons dit sê – wat beteken dit as mense sê "vrede op aarde"? Beter nog, wat beteken dit as die Woord van God in Luk.2:14 sê ~ Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het? Beteken dit regtig dat daar vrede op aarde is – dit lyk nie vir my so nie! -

Sunday, December 18, 2011

Die Boodskap van Hooglied - 01 (Eerste Siklus – Hartstogtelike Verwagting - 01)

Daar is talle vooraanstaande predikers en teoloë wat deur die eeue heen gesê het en steeds sê, dat die boek Hooglied een van die kosbaarste van al die boeke in die Bybel is. Charles Spurgeon het o.a. die volgende oor Hooglied gesê: "This Book stands like the tree of life in the midst of the garden, and no man shall ever be able to pluck its fruit, and eat thereof, until first he has been brought by Christ past the sword of the cherubim, and led to rejoice in the love which have delivered him from death. The Song of Solomon is only to be comprehended by men whose standing is within the veil. The outer court worshippers, and even those who only enter the court of the priests, think the Book a very strange one; but they who come very near Christ can often see in this Song of Solomon the only expression which their love to their Lord desires."

Die boek van Hooglied begin in vers 1 met die boek se titel, nl. šîr haššîrîm, wat ’n Hebreeuse idioom is wat die oortreffende trap uitdruk. Dit wil dus letterlik vir ons sê dat hierdie lied, die lied van alle liedere is – die beste en die mooiste van alle liedere. Soortgelyke Hebreeuse uitdrukkings wat die oortreffende trap van iets uitdruk, is bv. die bekende uitdrukking in Eks.26:33 waar ons lees van die tabernakel se "Allerheiligste".

Die eerste woordjie wat ons in die titel van hierdie lied vind is, soos ons reeds gesien het, šîr, wat dui op ’n vrolike lied en is gewoonlik gebruik in liedere wat tydens feeste gesing is – ’n pragtige voorbeeld hiervan is bv. Jes.30:29 ~ Maar julle sal sing soos in die nag voor ’n fees, julle sal vrolik wees soos wanneer mense met fluitspel begin loop na die berg van die Here toe, na die Rots van Israel toe. Geen wonder dan, dat die titel van hierdie boek, Salomo se mooiste lied is nie. -

Monday, December 12, 2011

Die Evangelie van Johannes - 13 (Hy en Sy Hele Gesin!)

Jesus het twee dae lank in Samaria in die dorpie Sigar deurgebring waar die ontugtige vrou by die put o.a. vir Jesus as Verlosser ontmoet het en waar ’n groot hoeveelheid van die dorpie se inwoners ook tot geloof in Jesus gekom het. Van Sigar af stap Jesus nou na Galilea en spesifiek na Kana waar Hy Sy eerste wonderwerk gedoen het (Joh.2). -

Tuesday, December 6, 2011

Openbaring Ontsluit – 47 (Die Bruilofsmaal - 02)

Tot nou het die kerk, God geloof en geprys vir die huwelik wat op hande is. Indien ons iets van hierdie huwelik wil verstaan, moet ons iets van die Joodse huwelike beter verstaan. Die heel eerste ding wat plaasgevind het, is die verlowing. ’n Verlowing in daardie tye was iets baie meer bindend en gewigtig as in ons dae. Indien iemand ’n verlowing wou verbreek, moes die verbreking ’n regsroete gevolg het – daar was dus bepaalde kontraktuele sake wat uitgesorteer moes word en so ’n verbreking van ’n verlowing was in dieselfde ernstige lig beskou as ’n egskeiding.

’n Verlowing het gewoonlik nagenoeg een jaar geduur. Gedurende hierdie tyd sou die bruidegom ’n huis bou en/of inrig vir sy toekomstige bruid. Wanneer dit afgehandel is, sou hy na sy bruid gaan en andere wat saam met hom gaan (gewoonlik jong manne), sal uitroep: "Die bruidegom is op pad!", waarna sy by die groep aangesluit het vir die voltrekking van die huwelik (gewoonlik vind dit in die huis plaas waar sy op daardie oomblik bly – gewoonlik haar ouers se huis). Hierna vertrek die prosessie na die bruidegom se huis waar die huweliksonthaal plaasvind en so ’n onthaal het tot ’n week lank geduur. Tydens hierdie fees voorsien die bruidegom en sy ouers gewoonlik al die eetgoed, asook die wyn (dink aan Jesus se eerste wonderwerk in Kana toe Hy water in wyn verander het – Joh.2:1-12). -

Openbaring Ontsluit – 46 (Die Bruilofsmaal - 01)

Ons het tot nou toe reeds baie tyd in Openbaring spandeer en veral het ons baie tyd spandeer aan die val van Jerusalem. Vir baie was hierdie ’n uitdagende tyd, want baie van ons moes ’n totale paradigma skuif ondergaan t.o.v. dit wat ons in die verlede geleer is oor Openbaring (hoewel daar baie min, indien ooit, uit Openbaring in my jonger lewe as lidmaat van die Gereformeerde- en later N.G. Kerk gepreek is), of wat ons maar so hier en daar uit gesprekke en dalk selfs uit die wêreldse pers t.o.v. Openbaring gehoor het – ek wil sover gaan as om te sê dat die meeste van ons (indien nie almal nie?), ons eie uiters wollerige en baie dikwels onbybelse siening (nie eens ’n standpunt nie) van klein deeltjies van Openbaring gevorm het.

Ons kom nou by ’n gedeelte in Openbaring waaroor daar ook menige verklaring bestaan, nl. die Bruilof van die Lam. Wat is die betekenis hiervan? Wanneer het dit, of gaan dit plaasvind? Wat is die betekenis daarvan, ens.?

In die voorafgaande gedeelte het ons gesien dat die sogenaamde "oorspronklike bruid van God," ’n afvallige, ontrou- en owerspelige vrou geword het wat uiteindelik deur God se oordele in 70 n.C. getref is.

Die trant en atmosfeer verander egter nou dramaties hier in hoofstuk 19, want hier vind ons ’n vreugdevolle gebeurtenis, waar daar lofsange is en ook ’n bruilof – die oue lê in die verlede en die nuwe word omhels. Trouens, ons vind hier die instelling en "lansering" van die nuwe verbond in Christus Jesus.

Ons moet egter voorbereid wees daarop dat hierdie hoofstuk ook nie sonder bloedige tonele is nie. Ons tref twee maaltye hier aan: die maaltyd van die Lam (19:1-10) en die maaltyd van God (19:12-21). Lg. maaltyd is ’n bloedige toneel, waar die roofvoëls van die hemel uitgenooi word om die vleis van die opperbevelhebbers, die vleis van die magtiges en die vleis van die perde en hulle ruiters, ja, die vleis van allerhande mense: vryes en slawe, klein en groot, te eet (v.17-18).

Voor ons in meer detail kyk na hierdie hoofstuk, is daar ’n paar dinge waarvan ons kennis moet neem:
• Ons moet voortdurend in gedagte hou dat God die Vader nog altyd maar net een Bruid gehad het, nl. die ware Israel van God (dit is al die uitverkorenes deur al die eeue heen). God se ewige en onvoorwaardelike verbond met Sy uitverkorenes was nog altyd en sal altyd onaangeraak en vlekkeloos wees.
• Tweedens moet ons verstaan dat daar ’n metaforiese betekenis opgesluit lê in die gedagte van God wat "getroud" is/was met die geopolitiese Israel as volk. Hierdie verbond met Israel, was ’n voorwaardelike verbond. Soos ons reeds vantevore gesien het, word God se waarskuwing t.o.v. ’n verbreking van die verbond tussen Hom en Israel, in Lev.26 en Deut.28 uiteengesit. In kort, indien Israel, God sou gehoorsaam, sou God haar seën; indien Israel ongehoorsaam is, sal God haar straf en sal Israel vervloek wees.
• In die derde plek moet ons ook daarvan kennis neem dat indien God (ek sê dit met die uiterste piëteit) "in die huwelik wil tree" met die Nuwe Testamentiese Kerk, moet Hy eers "verlos" word van Sy verbond met Israel. Omdat ’n huwelik, ’n "tot-die-dood-ons-skei-verhouding" is, moes God Israel "teregstel", vir hul doodsonde van owerspel.
• Ons moet laastens daarop let dat God nie eers "in die huwelik getree" het met die Kerk na die verwoesting van Jerusalem nie. Die huwelik tussen God en Sy uitverkorenes kan al die pad teruggespeur word tot by die Tuin van Eden. Die nuwe verbond was egter eers ten volle ingestel met die val van Jerusalem. Na aanleiding hiervan vind ons dan dat Openb.19 ’n figuurlike of sinnebeeldige beskrywing is van God se huwelik met die Kerk. -

Openbaring Ontsluit – 45 (Die Val van Babilon – 04)

Ons het die vorige keer nogmaals gekyk na die val van Jerusalem a.g.v. haar ontrouheid aan God. Ons gaan vandag kyk na verskillende beskrywings van hierdie gebeure. -

Openbaring Ontsluit - 44 (Die Val van Babilon - 03)

Daar is op verskeie plekke in Openbaring geprofeteer oor die val van Babilon. Ons het die vorige keer in detail daarna gekyk toe ons 17:1-18 behandel het. Babilon – Jerusalem soos reeds aangedui, sou deur die multinasionale magte van Rome verwoes word. Trouens Jerusalem het reeds in hoofstuk 17 geval, maar die profesie het nie daar geëindig nie, want ons sal nou hier in hoofstuk 18 die effek van Jerusalem se val sien. En ons sal sien dat die val van hierdie stad, die ergste is wat die wêreld nog gesien het. Waarom sê ek dit? Hierdie was nie net ’n militêre, politiese, of ekonomiese val nie, maar dit was primêr ’n "verbondsval". ’n Val van hierdie aard het nog nooit vantevore plaasgevind nie en ook sal dit nie in die toekoms herhaal word nie. -

Openbaring Ontsluit - 43 (Die Val van Babilon - 02)

Ons het die vorige keer gekyk na Eks.28:1-34 en die ooreenkoms gesien tussen die vrou wat op ’n helderrooi dier sit (v.3) en Jerusalem. Ons het ook gesien dat al die kleure wat Johannes daar gesien het, die kleure verteenwoordig het wat deel was van die priesterlike kleed wat die priesters gedra het in hulle diens onder die Ou Verbond. -

Openbaring Ontsluit - 42 (Die Val van Babilon - 01)

Openb.17 is ’n baie gewilde hoofstuk, maar is nie so maklik om te verklaar nie. Ek vertrou dat ons deur die volgende week of wat meer klarigheid oor hierdie hoofstuk en selfs die volgende twee hoofstukke sal vind. Ek sal ook aanbeveel om, alvorens ons begin met ons studie, eers hoofstukke 17 tot 19 rustig deur te lees. -

Openbaring Ontsluit - 41 (Dit is Verby! - 04)

Wanneer ons na die sewende engel kyk, is dit asof ons te doen kry met nuwe materiaal en tog vertel dit vir ons meer van die einde – die einde van al die oordele en die gevolge van God se oordele oor Jerusalem. -

Openbaring Ontsluit - 40 (Dit is Verby! - 03)

Tot nou is die eerste vier bakke van God se oordeel oor die heelal uitgestort. Hiernaas volg die vyfde en sesde bakke. -