Tuesday, December 6, 2011

Openbaring Ontsluit – 47 (Die Bruilofsmaal - 02)

Tot nou het die kerk, God geloof en geprys vir die huwelik wat op hande is. Indien ons iets van hierdie huwelik wil verstaan, moet ons iets van die Joodse huwelike beter verstaan. Die heel eerste ding wat plaasgevind het, is die verlowing. ’n Verlowing in daardie tye was iets baie meer bindend en gewigtig as in ons dae. Indien iemand ’n verlowing wou verbreek, moes die verbreking ’n regsroete gevolg het – daar was dus bepaalde kontraktuele sake wat uitgesorteer moes word en so ’n verbreking van ’n verlowing was in dieselfde ernstige lig beskou as ’n egskeiding.

’n Verlowing het gewoonlik nagenoeg een jaar geduur. Gedurende hierdie tyd sou die bruidegom ’n huis bou en/of inrig vir sy toekomstige bruid. Wanneer dit afgehandel is, sou hy na sy bruid gaan en andere wat saam met hom gaan (gewoonlik jong manne), sal uitroep: "Die bruidegom is op pad!", waarna sy by die groep aangesluit het vir die voltrekking van die huwelik (gewoonlik vind dit in die huis plaas waar sy op daardie oomblik bly – gewoonlik haar ouers se huis). Hierna vertrek die prosessie na die bruidegom se huis waar die huweliksonthaal plaasvind en so ’n onthaal het tot ’n week lank geduur. Tydens hierdie fees voorsien die bruidegom en sy ouers gewoonlik al die eetgoed, asook die wyn (dink aan Jesus se eerste wonderwerk in Kana toe Hy water in wyn verander het – Joh.2:1-12). -

1. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
• Openb.19:7-8 ~ Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak. 8God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek.” Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges. Met die verwoesting van die tempel en Jerusalem het die huweliksvoltrekking tussen Christus en die nuwe verbondskerk plaasgevind. Wat dus volg, is die huweliksonthaal van die Lam van God. En dit was iets om oor fees te vier en jou in te verheug! Hierdie verse verwys na die tydperk tussen Pinksterdag en 70 n.C. Deurgaans gedurende hierdie tydperk het die apostels die kerk voorberei vir haar huwelik met Christus. Die apostel Paulus stel dit pragtig in 2Kor.11:1-2 ~ Nou wil ek hê julle moet ’n bietjie dwaasheid van my kant verdra! Ja, verdra my maar! 2Ek waak oor julle met ’n ywer wat van God kom, want julle is soos ’n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus. En in Ef.5:25-27 sê hy ~ Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. 26Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, 27sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. Paulus se begeerte is om die kerk in Korinte voor te berei ten einde ’n vlekkelose maagd te wees wat gereed is om in die huwelik te tree met Christus. Hy wou hê dat die Korintiërs hulle met ganse hart toewy aan Christus die Bruidegom, sodat hulle deel kon wees van die suiwer Bruid.

Ons moet ingedagte hou dat die kerk tussen Pinkster en 70 n.C. onder geweldige vervolging en verguising (beledigings) onder die hande van eers die Jode en later ook die Romeine, gebuk gegaan het en dit was nie vir hulle maklik om vlekkeloos te gebly het tot en met die huweliksvoltrekking nie. In die lig hiervan wou Paulus nie hê dat die kerk (die bruid) haarself bevlek deur gedurende hierdie "verlowingstydperk", haarself te ontreinig, of selfs af te skei van die Bruidegom nie. Die kerk het haarself dus gedurende hierdie tydperk, deeglik voorberei vir die huweliksvoltrekking en Paulus en die ander apostels het hulle (die kerk) aangemoedig en gelei om vlekkeloos te bly. Die ware kerk het dan uiteindelik vlekkeloos deur die vervolgingstydperk (of sal ons sê stormagtige verlowingstydperk) gekom en was sy geklee in fyn, helder blink klere (fyn linne – O.A.V.) en gereed om in die huwelik te tree met die Bruidegom.

Die blink klere dui op die geregtigheid van Christus, trouens v.8b sê dit ook ondubbelsinnig vir ons. Die betekenis hiervan is dat ons (wat deel is van die kerk – die bruid) regverdig verklaar is deur Christus – ons kan en het dit nie verdien nie, v.8a sê dat dit ons vergun is om hierdie blink klere aan te trek – ons kan amper sê dat, soos ’n bruid deur iemand anders aangetrek word (wanneer sy haar trourok aantrek), net so het ons geen aandeel in die "aantrek" van ons huweliksrok gehad nie, maar is dit vir ons aangetrek. Die bruid was gereed vir die huwelik op grond van die toegerekende geregtigheid van Christus.

Hierdie beeld van die bruid met haar fyn, helder blink klere staan in skrille kontras met die beeld wat in Openb.17 en 19 geskilder word van die ontugtige- of sedelose vrou.

• Openb.19:9 ~ Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.” Verder sê hy vir my: “Dit is die woorde van God, en hulle is waar.” Johannes is steeds in die teenwoordigheid van dieselfde engel (dié een met die sewe bakke) wat na hom gekom het in Openb.17:1 en hierdie engel praat weer met hom. Hierdie uitspraak van die engel wat Johannes moes neerskryf, was die vierde van die sewe saligsprekinge in Openbaring (die ander: 1:3; 14:13; 16:15; 20:6; 20:7; 22:14). Hier word die kerk as geseënd, of salig gereken, want sy tree nou in ’n ewige verbondverhouding met die Bruidegom, Jesus Christus. Hierdie huwelik sal en kan nooit verbreek word nie en ons het die absolute sekerheid daarvan, omdat God dit gesê het en Sy woorde is waar (v.9b).

Dit is nogal hartseer dat die huwelik tussen die Nuwe Testamentiese kerk en Christus plaasgevind het, omdat die "kerk" onder die ou verbond (die volk Israel), haar verbond, eensydig met God verbreek het. Jesus het hierdie feit in een van Sy gelykenisse geskilder ~ Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat. 2Hy het gesê: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n koning wat vir sy seun ’n bruilofsfees voorberei het. 3Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. 4Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.’ 5“Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en ’n ander een na sy werkplek toe gegaan. 6En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak. 7Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek. 8“Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie. 9Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe.’10Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword (Matt.22:1-10).

Die Vader het ’n huwelik tussen Sy Seun en Israel gereël. Hy het boodskappers na Israel gestuur (profete, apostels, ens.) om hulle op te roep tot hierdie huwelik, maar hulle was nie geïnteresseerd nie. Hulle het die boodskappers gehoon, afgejak, vervolg en selfs gedood. Die Vader woes woedend hieroor. Hy het Sy weermag (die Here van die leërskare – bv. 1Sam.1:11) gestuur om Israel te vernietig. Die vreugdevolle huwelik sou egter voortgaan – die verskil: andere sal nou betrokke wees in die huwelik met Christus. Foy E. Wallace het dit mooi gestel: The marriage supper is a metaphor for the final repudiation of the harlot and the introduction of the bride. This is the covenant meal or marriage supper, which seals the new relationship. It is accomplished when the Bridegroom overthrows the unfaithful wife and punishes her lovers, the kings of the land with whom se has committed adultery.

Jesus het hierdie voorval ook vooruit gesien en daaroor gepraat in Matt:8:11-12 ~ Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel. 12Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande sal kners.” Jesus het self gesê dat daar ’n tyd gaan kom dat Israel as verbondsvolk, deur God verwerp sal word; en dan sal ’n nuwe bruid – die kerk van Jesus Christus, omhels word deur die Seun.

Met dit alles in gedagte moet ons die vraag beantwoord, nl. Wat is die bruilofsmaal van die Lam? Dispensasionaliste (die Charismatiese- en meeste Pinkstergroepe) leer dat die bruilofsmaal nog in die toekoms lê. Hulle sê dat, met die "wegraping" van die kerk (gelowiges), die res van die wêreld vir ’n tydperk van sewe jaar aan ’n geweldige verdrukking ("die Groot Verdrukking") onderwerp sal word. Gedurende hierdie sewe jaar sal die kerk egter in die hemel wees en vir sewe jaar sal al die "weggeraapte" heiliges die bruilofsmaal saam met die Bruidegom in die hemel geniet, terwyl God Sy verskriklike oordele oor die aarde sal uitstort en daarom word die "weggeraaptes" as geseënd beskou, want hulle het God se oordele op aarde vrygespring.

Die bruilofsmaal is myns insiens egter ’n maaltyd wat in 70 n.C. begin het en steeds voortduur tot vandag toe. Ons ervaar hierdie maal ook tasbaar en sigbaar, elke keer wanneer ons deel het aan die Nagmaal. Wanner die plaaslike gemeente om die Nagmaalstafel vergader, kom hulle bymekaar om die Bruilofsmaal met die Lam te geniet en te vier. Die Bruilofsmaal is nie iets wat eendag in die toekoms in die hemel gaan plaasvind nie inteendeel, dit is iets wat weekliks reg rondom die wêreld plaasvind wanneer ware gelowiges saam om die Nagmaaltafels vergader en die "Herrinneringsmaal" saam geniet.

Toe Jesus saam met Sy dissipels die eerste Nagmaal geniet het, het Hy gesê ~ Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink (Matt.26:29). Jesus het Sy Koninkryk betree met Sy hemelvaart (Dan.7:13-14). Tussen die aand van die instelling van die Nagmaal en die hemelvaart, het Hy nie weer saam met Sy dissipels, deelgeneem aan die Nagmaal nie.

Die Nagmaal hou veel meer betekenis in as wat baie gelowiges besef – Jesus ontmoet ons elke keer wanneer ons om die Nagmaalstafel vergader! En dit sal elke keer die geval wees, totdat Hy sigbaar terugkeer na die aarde ~ ... en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” 25Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” 26Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom
(1Kor.11:24-26).

• Openb.19:10 ~ Toe het ek voor sy voete op my knieë neergeval om hom te aanbid. “Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is ’n mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus wat die getuienis gelewer het, en dit is die Gees wat die profesie gegee het.” Met die gesig van die bruid in haar fyn, helder blink klere, val Johannes op sy knieë voor die engel in ’n poging om die engel te aanbid! Dit word egter nie toegelaat nie en Johannes se aandag word op God gevestig, deurdat die engel vir hom sê dat hy God alleen moet aanbid, want hy as engel is niks meer as ’n blote boodskapper van God, wat gestuur is om Johannes te begelei deur hierdie visioen wat Johannes ontvang.

Die engel voeg egter iets belangriks by wanneer hy aan Johannes sê ~ Ek is ’n mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Wat hy vir Johannes sê, is dat die doel met profesie is om getuienis te lewer t.o.v. Jesus Christus. Hierdie is ’n uiters belangrike opmerking, want hierdeur word dit vir ons baie duidelik en ondubbelsinnig verklaar dat Openbaring nie primêr vir ons (of vir die eerste lesers) gegee is ten einde ’n kykie in die toekoms te kry en daaroor te bespiegel nie. Dit is primêr vir ons gegee ten einde ons fokus op Jesus Christus te plaas; om ons aandag te vestig op die Lam wat in die huwelik getree het met Sy bruid, die Nuwe Testamentiese kerk. Dit is die verhaal van die Bybel: die verhaal van die "vrou se nageslag wat die slang se kop sou vermorsel" (Gen3:15). Die Bybel gaan oor Christus wat die Koninkryk van God vestig en dit is waarop alle profesieë dui in die Woord – dieselfde geld vir Openbaring. Die kop van die slang is reeds op Golgota vermorsel én die Nuwe Testamentiese kerk gaan daagliks voort om die saad van die slang te vermorsel. Wanneer ons, soos die eerste eeu se kerk, deur moeilike omstandighede gaan, moet ons na Openbaring kyk en die heerlikheid van Jesus Christus raaksien en in herinnering roep.

Ons hoop moet nie op ’n "wegraping", of ’n "herstelde Israel", ens. gevestig wees nie, maar op Jesus Christus en Jesus Christus alleen. Ons hoop lê daarin dat Jesus ons sonde op Golgota weggeneem het en die feit dat Hy dit bevestig het met Sy opstanding uit die dood. Ons hoop is daarop gevestig, dat Jesus aan die regterhand van God se troon sit en oor al die gesag in die hemel en op die aarde beskik (Openb.12:10).

Ons geniet die Bruilofsmaal van die Lam, want God het die sedelose vrou van die ou verbond vernietig en ons deur Christus se geregtigheid by die nuwe verbond ingesluit. Mag ons groei in ons waardering van die nuwe verbond; in ons waardering en liefde vir die Bruid van Christus (die kerk) en die mees belangrike, in ons toewyding aan ons Bruidegom, die Lam van God, die Here Jesus Christus!