Sunday, March 9, 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 29 (“Analogizomai”)

1.     SKRIFLESING:
Hebr.12:1-4 ~ Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 3Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. 4Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ’n stryd om lewe of dood geword het nie.

2.     INLEIDING:
       Hierdie is waarskynlik een van die bekendste en dalk ook gewildste gedeeltes in die Nuwe Testament – ’n gedeelte wat elke gelowige ken en waaroor daar baie gepreek word.

       Elke keer wanneer ek aan hierdie gedeelte dink, dan dink ek aan die 400 meter wedloop in atletiek. Ek was vir ’n hele paar jaar in die bevoorregte en geseënde posisie om aankondiger by talle “een-uur” byeenkomste en ’n paar provinsiale en Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe te kon wees en dit was altyd vir my ’n “hoendervleiservaring” as ek die skare opgesweep het om die atlete aan te moedig met ritmiese hande geklap en hoe die top atlete onder sulke omstandighede die haas onmoontlike reg kry en oor die laaste 100 meter of so, met uitstaande krag en vaart vorendag kom om te wen en selfs rekords verbeter in die proses. Die item wat vir my nou nog uitstaan as waarskynlik dié een waar die toeskouers ’n atleet aangemoedig het en die heel beste in hom na vore getree het, was die aand toe ek aankondiger was in die vroeë tagtigs en Dawie Malan op Potchefstroom die eerste paalspringer in Afrika geword het om oor die 5 meter te spring.

       Die Hebreërskrywer vergelyk die gelowige se lewe hier op aarde, wat uiteindelik na verheerliking lei, met dié van ’n wedloop en dan het hy spesifiek hierdie laaste wilskrag en energie en die toeskouers in gedagte wanneer hy hieroor skryf, trouens hy beskryf nie net die laaste stuk van die wedloop in die pylvak nie – hy begin al daar onder die paviljoen in die kleedkamer, terwyl hy die toeskouers op die paviljoen kan hoor.

3.     BENADERING TOT DIE WEDLOOP (v.1a):
       Die apostel sê in v.1a ~ Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi...

·           Geloofsgetuies:
       Eerstens sê die Apostel dat daar ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons, as deelnemers aan die wedloop is. Na wie verwys die skrywer? Dit word algemeen aanvaar dat hier verwys word na al die getroue gelowiges na wie hy net tevore in hoofstuk 11 verwys het, nl. die geloofshelde soos Noag en Abraham e.a. Die Hebreërskrywer sê dus dat ons hierdie wedloop soos hierdie geloofshelde moet hardloop – hulle het geweet hoe dit gehardloop moet word en daarom moet ons dit ook so doen. Wat meer is, hulle het gehardloop en aangehou hardloop en dít terwyl hulle minder Lig gehad het as wat ons vandag het (onthou
hulle het vooruit gekyk, terwyl ons die genadige voorreg het om terug te kyk na wat reeds gebeur het – die koms; soendood en verheerliking van die Messias).

       Dit is egter belangrik om daarop te let dat hierdie getuies nie vandag in die hemel sit en kyk wat ons doen en hoe ons dit doen nie en dat ons moet presteer ten einde hulle daardeur plesier te verskaf, of dalk teleurstel as ons misluk nie. Hulle dien slegs as voorbeeld vir ons – voorbeelde van hoe ons, ons geloofslewe moet leef. Om aan hierdie geloofshelde te dink behoort ons te motiveer en aan te moedig om God ook te vertrou tydens ons wedloop hier op aarde, of wanneer ons deur moeilike tye in ons lewe gaan. Ons kan hierdie wedloop net so goed hardloop soos hulle en dit het niks te doen met hoe ons vergelyk met hulle nie – dit gaan oor dieselfde genade van God wat ook oor ons uitgegiet word en tot ons beskikking is, want Hy is gister en vandag en môre dieselfde.

·           Verklee:
       Wanneer ’n atleet gereed maak om aan ’n wedloop deel te neem, moet hy verklee – hy moet alles wat moontlik kan hinder, uittrek – bv. sy sweetpak en tekkies – ’n kampioen kan tog nie suksesvol deelneem met ’n sweetpak nie, trouens as hy nié hierdie klere wat mag hinder, uittrek nie, kan hy maar vergeet en sal hy nié eers kan dink aan wen nie, maar terwyl hy hardloop moet hy ook sorg dra dat daar nie soortgelyke of ander hindernisse is wat hom kan pootjie nie – veters wat bv. losraak, ens.

-        Hindernisse:
       Die apostel sê vir ons dat ons iets moet aflê – hy sê in v.1a ~ ...laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik. Wat moet ons afgooi (uittrek)? Twee dinge – eerstens ...elke las.  Hierdie las kom van die Griekse woord ὄγκος [onkos], wat letterlik beteken, “iets wat hinder”. Ons moet dus afgooi wat ons gaan hinder as ons hardloop – ons moet dit uittrek en wat is hierdie hindernis wat ons pla?

       Hierdie laste is nie noodwendig altyd sonde nie, maar dit kan dinge wees wat my geestelike lewe in die wiele ry – wat my geestelike groei belemmer; my geloof verswak; dinge wat my entoesiasme oor die Evangelie demp; dinge wat my weerstand teen versoeking verswak. Wat dit ook al mag wees – enige iets wat ons geestelike groei in die wiele kan ry, moet afgegooi word. Hierdie woord afgooi is ’n sterk woord in die Grieks wat sê dat dít wat pla, afgelê moet word; gestaak moet word – dit is wat gedoen was toe atlete destyds in die Griekse wêreld deelgeneem het aan sport en hulle slegs die noodsaaklikste kledingstukke aangehad het. Dit is ook dieselfde gedagte wat Paulus deurgee in Ef.4:22 wanneer hy sê dat gelowiges (ons) die oue mens moet aflê (OAV) – die NAV vertaal dit met ~ Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Dit maak dus nie saak wat die oorsaak ook al mag wees nie – indien dit my geestelike groei belemmer, moet die oorsaak daarvan gáán – onmiddellik gaan!

-        Sonde:
       Die skrywer gaan egter voort en hy sê tweedens dat ons, behalwe vir die laste wat ons mag pla, ook ... die sonde wat ons so maklik verstrik, moet afgooi. Dit is so tipies van sonde nie waar – dit verstrik ons. Daardie sonde waarin ons volhard en waarmee ons net nie kan ophou nie, is soos ’n parasitiese plant wat uiteindelik ’n gasheer plant verstrengel en versmoor, totdat die gasheerplant vrek. As ons toegee en toegee aan sonde en ons nie daarvan bekeer nie, bevind ons onsself kort voor lank in ’n situasie waar daardie sonde so ’n gewoonte raak, dat ons net nie daaruit kan ontsnap nie en sondig ons oor en oor en weer en weer. Ons moet derhalwe sonde uit ons lewe weer, voor dit wortel skiet in ons lewe en ons uiteindelik verswelg. Ons moet veral op die uitkyk wees vir “gewoontesonde” – daardie sonde wat ons baie dikwels nie eers besef ons begaan nie, maar dan is daar ook spesifieke sonde waarvan ons weet, maar waarvan dit ons dalk alreeds in sy greep het.

4.     DIE ROETE (vv.1b-3):
       Bo en behalwe ’n atleet se voorbereiding vir ’n wedloop en wat hy alles moet doen en nie moet doen terwyl hy hardloop, moet hy homself ook daarop instel dat die baan waarop hy hardloop nie altyd dieselfde is nie – in my dae as aankondiger, het atlete op ’n verskeidenheid van bane moes hardloop, soms op asbane; soms op grondbane; soms op grasbane en natuurlik ook soms op die destyds, nuut ontwikkelde tartanbane. Elkeen van hierdie bane het baie spesifieke voorbereiding, toerusting en tegniek geverg (dink maar net aan die verskillende soorte spykerskoene vir die verskillende soorte baanoppervlaktes).

       Ons deelname aan hierdie lewenswedloop waarin ons as gelowiges deelneem vereis ook ’n bepaalde ingesteldheid en elkeen van ons se bane is nie altyd op dieselfde tyd, dieselfde soort baan nie – elkeen se bepaalde baan is dus uniek. Een ding is egter dieselfde vir elkeen van ons en dit is dat elkeen van ons, ons eie wedloop goed kan eindig indien ons kies om goed te eindig en indien ons volkome op Hom vertrou wat ons die krag gee – wanneer ons dít doen kan ons saam met Paulus jubel ~ Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. 8Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms (2 Tim.4:7-8).

·           Volharding:
       Die Hebreërskrywer gaan voort in v.1b en sê dat ons hierdie wedloop met volharding moet hardloop.

       Hierdie wedloop waarin ons betrokke is, is nie vir kampioene nie, dit is vir “vasbyters”, vir mense wat kan volhard tot die einde toe – dit is soos vir ten minste seker 90% (of meer) van die Comrades marathon deelnemers – dit gaan oor die klaarmaak en om daardie brons medalje te kry.
      
       Gedurende hierdie wedloop gaan daar baie hindernisse wees – styl bulte; ongelyk oppervlak; dehidrering – jy gaan dikwels voel om op te gee – daar is dus gereeld dinge wat jou vordering in die wiele wil ry, maar gewoonlik is dit iets wat uit die weg geruim kan word en daarom moet jy gereeld vasstel of daar hindernisse is en dit neerlê – dadelik neerlê en nie net kop onderstebo staan en hoop dit gaan verby, of onder daardie hindernis gaan lê en opgee nie. Ons moet egter besef dat ons nie hierdie hindernisse alleen kan oplos nie – wanneer ’n Comrades deelnemer se bene begin swik hier naby die eindstreep, het ons al gesien hoe ander atlete inhaak by so ’n atleet en hom oor die eindstreep help – sonder daardie hulp sou hy nie klaar gemaak het nie. Presies dieselfde geld vir ons en daar is maar net Een wat ons kan help en dit is wat die skrywer dan verder in v.2a hanteer ~ ...die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.

·           Fokus:
       Die Apostel sê dat daar maar net een wyse is om die wedloop klaar te maak – met die oog gevestig op Jesus. Ons moet steeds in gedagte hou dat die apostel hierdie brief aan gelowiges gerig het – gelowiges wat wegspring het en die wedloop begin het, maar na ’n goeie begin (10:32-34) het hulle begin verslap in hul poging en wil om te volhard (2:1) en ons het in 3:17-4:1 gesien dat sonde hulle weerhou het om die wedloop voluit te hardloop en die skrywer druk dit op hul harte dat hulle hierdie slap houding moet laat staan (6:11); dat hulle hul fokus moet herstel – moet neerlê (4:11). Hy dring daarop aan in 10:35, 39 dat hulle hul vertroue en geloof moet herstel, asook hul geesdrif en mededingendheid (12:12).

       Terwyl hulle hierdie wedloop hardloop en swaar kry, moet hulle egter ook die oog gevestig hou op Jesus – waarom? Ja, omdat Hy ons Hoë Priester is en voorbidding vir ons doen by die Vader; ja, omdat Hy almagtig is; ja, omdat Hy ons Meester is – dit is alles waar, maar dit is ook so dat die skrywer wil hê dat ons aan Jesus moet dink in Sy menslikheid en hoe Hy vir ons gely het – dat ons moet besef dat Hy hierdie wedloop ook gehardloop het, sodat ons deur die genade wat ons van Hom ontvang, ook tydens moeilike tye, gedurende hierdie wedloop suksesvol daardeur kan kom en die wedloop uiteindelik as wenner kan afhandel.

       Jesus het gedurende tye van beproewing voortdurend Sy oë op die Vader gehou en die Woord in gedagte gehou – ons dink aan die keer dat Hy versoek was in die wildernis en Hy elke keer vanuit die Woord aangehaal het om die versoeking van die satan te weerstaan. Ons dink aan die keer in die Tuin van Getsemane toe Hy gebid het dat die Vader die lydensbeker by Hom verby moet laat gaan – indien dit die wil van die Vader is en indien nie, sal Hy Hom volkome aan die Vader se wil onderwerp – wat Hy natuurlik dan ook uiteindelik gedoen het.

       Uit hierdie gebeure rondom Jesus, moet ons leer om presies dieselfde te doen wanneer ons swaarkry en versoeking en beproewing in hierdie lewenswedloop ervaar – ons moet ons tot die Woord wend en daarvolgens optree en ons moet ons tot die Vader in gebed wend, maar ons moet ons ook ten volle onderwerp aan die Vader se wil, trouens ons gesindheid moet dieselfde as Paulus s’n wees en ek haal hom aan uit ’n Skrifgedeelte wat ek al telkens gelees het ~ ...ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo (Fil3:8). Geliefdes, glo ons dit werklik; leef ons dit ook - Hou ons die oog gevestig op Jesus – soos Paulus, so moet ons ook!

·           Geloof:
       Uit Paulus se verklaring in Fil.3:8, moet ons besef dat hierdie wedloop waarin ons gewikkel is slegs in geloof gehardloop kan word – nie dieselfde “selfgeloof” waarvan so baie atlete getuig as hulle sê dat hulle in hulself glo nie – nee, die apostel omskryf hierdie geloof vir ons baie duidelik in v.2 wanneer hy sê ~ ...die oog gevestig op Jesus, (en dan hierdie woorde) ...die Begin en Voleinder van die geloof – die Begin en Voleinder van die geloof.

       Sonder Jesus Christus in Wie alle beloftes van God vervulling vind, sal geen mens grond hê vir enige geloof nie – ons kan maar net op Christus fokus vir ons geloof, want net Hy
en Hy alleen kan geloof in ons werk, omdat Hy die Grondlegger van alle geloof is (Heb.2:10; Jak.17:20). En wanneer ons, ons geloof in Hom plaas, sál Hy ons deurdra, want Paulus sê in Fil.1:6 ~ Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.

       Wat was daar wat Jesus gemotiveer het om Sy wedloop te voleindig hier op aarde? Twee dinge:
-        Vers 2b - Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was. En tweedens...,
-        Vers 2c ~ Hy (het) die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.

       Wat ’n vooruitsig het Christus nie gehad nie... maar weet jy, dit is presies dieselfde wat op ons wag, as ons hierdie wedloop suksesvol voltooi – behalwe natuurlik dat ons nie aan die regterhand van die Vader se troon sal sit nie, maar ons gaan onbeskryflike en ongekende vreugde ervaar wanneer ons eendag die ewige lewe gaan beërwe en ons gaan vir ewig in God se teenwoordigheid wees – wat ’n vooruitsig! Wat ’n prys om voor te “hardloop”! 

·           Moeg en moedeloos:
       Vers 3 sluit aan by v.2, wanneer die skrywer weereens vir ons sê dat ons, ons oë op Jesus gevestig moet hou ~ Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. Hier vergelyk die Hebreërskrywer weer ons geestelike wedloop met dié van 'n atleet wanneer hy sê dat ons nie geestelik moeg moet raak en uiteindelik uit die wedloop val, of uitsak nie en ten einde nie moeg te raak en uit te sak nie, moedig die Hebreërskrywer ons weer aan, om die oog op Jesus gevestig te hou.

       Die Griekse woord wat hier gebruik word is ἀναλογίζομαι (analogizomai) en daardeur wil die skrywer vir ons sê dat ons Jesus “moet oordink”, m.a.w. wanneer dit swaar gaan met ons, moet ons gaan stil sit en aan Jesus dink – Jesus wat die ergste vervolging, vernedering en spot ervaar het – erger as wat ons, onsself nie kan indink nie. Ja, mense kan dalk sê dat daar al op hulle gespoeg is; dat hulle al geseling beleef het; wat verneder en gespot is; daar is selfs mense wat al gekruisig en op brandstapels gesterf het – selfs vir hulle geloof, maar niemand – niemand kan sê dat hulle gekruisig is en terselfdertyd die ganse wêreld wie in Christus glo, se sonde op hom geneem het nie; niemand kan sê dat toe hy gekruisig is, Hy God se wraak op die wêreld se sonde op hom ervaar het nie; geen gelowige kan en sal ooit kan sê dat hy van God verlate was nie, maar dit is presies wat Christus gedoen en ervaar het – Hy het my en jou sonde op Hom geneem en versoening vir ons by God bewerkstellig. Ja, Hy het die mense se spot en hoon ervaar en ja Hy is gekruisig en dit alles is dinge wat ons nog nooit ervaar het nie en indien ons iets daarvan ervaar het, het ons en sal ons nooit dieselfde intensiteit daarvan ervaar nie en wat meer is, Hy het dit alles, ook Sy kruisdood, vir jou gedoen en ervaar! Wanneer jy swaar kry – dink hieraan, sê die apostel en as jy Hom lief het, sal jy opstaan en dankie sê en voortgaan met hierdie lewenswedloop waarvoor jy “ingeskryf” het – nee, kom ons stel dit eerder soos dit moet wees – waartoe jy deur God, uit genade geroep is – en dan wil ek sommer dadelik byvoeg – as jy uit genade geroep is, hoeveel te meer moet jy nie hierdie wedloop uit dankbaarheid en met “vasbyt” en entoesiasme hardloop nie!

       Wanneer jy moeg en moedeloos raak tydens hierdie wedloop, “analogizomai” so bietjie en dan sal jy nie geestelik moeg word en uitsak nie, want die kruis van Jesus, is die deurgang tot verlossing

·           ’n Stryd om lewe en dood:
       Die Hebreërskrywer gaan egter in v.4 verder en hy timmer die spyker nog so bietjie dieper en harder in wanneer hy sê ~ Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ’n stryd om lewe of dood geword het nie.

       Die ontvangers van die Hebreërbrief se swaarkry en vervolging het op ’n sosiale en ekonomiese vlak gelê en sommige van hulle was selfs in die tronk gegooi en wanneer  ons dit sê, kan ons sekerlik ook “emosioneel” daarby voeg, want wanneer ons sosiale en ekonomiese beproewing ervaar en selfs tronk toe moet gaan, moet en sal ’n mens se beproewing noodwendig ook op emosionele vlak ’n effek hê.  Die skrywer wil derhalwe vir hulle sê, nie een van julle het al ten bloede gestry teen beproewing nie; nie een van julle het al so gestry teen julle beproewing dat julle uiteindelik die hoogste prys daarvoor moes betaal nie, want julle lewe dan nog almal – nee, sê hy, “analogizomai” so bietjie en dink daaraan dat Jesus vir jou gesterf het – Hy wat ’n sondelose lewe geleef het, het vir jou sonde die straf gedra; vir jou sonde beproewing ervaar – ja selfs die dood deurgegaan – het jy daarom enige rede om te bly lê? Tel op jou kruis en identifiseer met Christus en hardloop die resies totdat jy die wenstreep bereik!

5.     AFSLUITING:
       Ons kan maklik die vraag vra of ons die wedloop wel sal kan voltooi – sal ons nie dalk iewers tog uitval nie? Hoe sal ons dit regkry om “vas te byt” as dinge net regtig te veel raak? Hoe moet ons as Gereformeerdes hierdie oproep van die Hebreërskrywer versoen met die “P”, of te wel “die volharding van die gelowiges” in die Leerstuk van Genade wat saamgevat word in die Engelse akroniem “TULIP”?

       Net t.w.v. agtergrond en baie kortliks: Daar is drie standpunte rondom die Bybelse uitspraak dat gelowiges moet volhard tot die einde toe:
-        Eerstens is daar die Arminiaanse standpunt wat leer dat Christus se soendood aan die kruis nie voldoende was om die gelowiges deur te dra tot die einde toe nie en dat ons volharding nie deel is van die verlossingsvoordele vir ons redding in Christus nie – hulle glo dus dat Christus nié ons geloof óf volharding verseker het nie, maar dat Christus slegs redding verskaf indien die gelowige die vereistes vir geloof en volharding op sy eie bereik.

-        Tweedens is daar die Antinomianiste wat die skaal weer heeltemal na die anderkant toe laat swaai deur te sê dat gelowiges maar kan leef soos hulle wil, want hulle is volkome gered – selfs al versaak hulle later hul geloof.

-        Natuurlik is nie een van hierdie standpunte volkome waar nie en daarom ook nie Bybels nie en hulle standpunte het derhalwe ’n geweldige negatiewe effek op die Evangelieboodskap. Die Woord van God leer ons egter baie duidelik dat God van Sy kinders verwag om te volhard tot die einde toe (Kol.1:21-23; 1Joh.1:5-10; 3:3-6; Hebr.10:26-31; Hebr.12:1) en dat ons ín Christus bewaar sal word tot die einde toe – Jesus het in Sy Hoë Priesterlike gebed die volgende gebid ~ Toe Ek by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar, die Naam wat U My gegee het. Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die een wat verlore moet gaan sodat die Skrif vervul kan word. (Joh.17:12 – sien ook: Joh.6:38-40; Joh.10:28-29; 17:12; Rom.8:28-39; Fil.1:4-6; 2:12-13; 1 Joh.2:19; 3:9).

       Wat dus belangrik is, is dat beide hierdie standpunte, genadige geskenke van God is. Die Evangelieboodskap is baie duidelik daaroor dat Christus vír ons doen, wat vir ons onmoontlik is om self te doen, nl. geloof, berou oor sonde en volharding. Luk.18:27 sê terselfdertyd dat wat vir die mens onmoontlik is, vir God moontlik is. Christus verlos ons van beide die skuld en mag van sonde. Hy het aan ons ’n nuwe hart geskenk wat Hom en Sy Woord lief het, sodat Sy opdragte in die Woord nie meer vir ons ’n las is nie ~ Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ’n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is. 2Hiéraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou. 3Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, 4want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof (1 Joh.5:1-4).

       Maar waarom sê die Woord ons moet volhard as ons volharding en geloof dan geskenke is? Die antwoord is eintlik baie eenvoudig, want uit onsself kan en wil ons nie volhard nie en daarom moet dit ’n geskenk  van God wees, anders sal ons dit nie maak nie. Ons vertroue is gesetel in die krag van Christus ten einde ons in stand te hou deur Sy genade en deur die krag van Sy voorbidding by die Vader vir ons, nl. dat Hy ons veilig by die wenstreep sal uitbring – en Hy sál, want Hy belowe dit in o.a. Joh.17 soos wat ons nou net gesien het. Dawid het moord en owerspel gepleeg en nogtans het die Here hom laat volhard tot die einde toe – Hy het m.a.w. Dawid se geloof in stand gehou, sodat hy ten spyte van sy sonde, nog steeds die wenstreep bereik het. Dieselfde geld vir Petrus. Nadat Jesus hom gewaarsku het dat hy Jesus gaan verloën (Luk.22:31) en Petrus gesê het, nooit nie Here, doen hy dit steeds nadat die hoenderhaan gekraai het en wat gebeur nadat Petrus geval het? Hoor wat het Jesus vir hom gesê nog voor hy vir Jesus verloën het ~ Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. 32Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk (Luk.22:31). Wat het Petrus gedoen nadat hy besef het dat Jesus reg was en dat hy Jesus wel verloën het? Hy het hom bekeer en hy is vergewe en hy het voorwaar die rots geword waarop Jesus Sy Kerk gebou het  - Petrus het hom bekeer en hy sit die stryd voort tot die einde toe. Judas het presies dieselfde paadjie geloop – Jesus het hom ook gewaarsku – máár, Judas het verlore gegaan!


       As ons dan struikel of selfs val, moet ons onsself tot Hom wend en Hy sal ons vergewe en optel om voort te gaan met die wedloop tot die einde toe – dít is hoe ons volhard – in afhanklikheid van Hom wat vir ons die prys betaal het!

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 09 Maart 2014

Sunday, March 2, 2014

Die Boodskap van Daniël - 14 (“Goeie nuus, slegte nuus. Goeie nuus, slegte nuus”)

1.     INLEIDING:
       Wanneer iemand wat sy doktorale studies gedoen het oor die kwantumteorie, aan my begin verduidelik presies wat  hierdie teorie behels, sal hy nog nie eens ’n tweede keer asem geskep het nie, dan het hy my reeds “verloor”. Wanneer ’n mens na vandag se Skrifgedeelte kyk, nl. die tweede gedeelte van Daniël 9, kan jy bloot by die deurlees van hierdie gedeelte dalk presies net so voel – jou kop draai reeds met die lees van die tweede vers, want jy verstaan daar niks van nie en dit maak hoegenaamd nie sin nie en jy besef ook dat hier ’n resep is vir massiewe misleiding en kan ’n mens jouself net indink wat alles met hierdie verse gemaak kon word vanuit ’n eskatologiese oogpunt (eskatologie = die leer van die laaste dinge).

       Ons kan en mag egter nie hierdie gedeelte maar bloot net oorslaan omdat dit ’n menslik gesproke onverstaanbare teks is nie, want Paulus sê tog immers in 2 Tim.3:16-17 ~ Die hele Skrif (dit sluit dus elke vers en elke jota en tittel in) is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk. Ons kan dit dus waag om in afhanklikheid van die Heilige Gees hierdie gedeelte te lees en Hom te vertrou dat Hy hierdie gedeelte vir ons sal “oopmaak”.

Ek wil my egter net vir ’n oomblik in die rede val en iets baie kortliks verduidelik n.a.v. ’n vraag wat Riaan en Jeanne my verlede week ná die boodskap gevra het. Die vraag was: Indien Daniël die volk se sonde bely het en God gehoor gegee het aan Daniël se pleitrede en die volk vergewe het en herstel het as volk in Israel, impliseer dit dus dat ek bv. vir my verlore kind kan bid; sy sonde voor die Here bely en vra om vergifnis en dat die Here hom/haar dan sal vergewe? Die kort antwoord hierop is ja en nee! Wat bedoel ek? Ons moet eerstens verstaan dat Israel, God se verbondsvolk was en daar derhalwe ’n baie unieke verhouding tussen God en Sy volk bestaan het, met profete en leiers deur wie Hy tot die volk gepraat het en deur wie die volk met Hom kon praat; daar was bv. Hoë Priesters wat namens die volk sondebelydenis gedoen het en dit is hulle vergewe ens. Aan die anderkant bestaan daardie unieke situasie nie t.o.v. ons volk en nasie nie en is die Nuwe Verbond geskoei op ander voorwaardes en beloftes waarop ek nie nou wil ingaan nie, maar eerstens moet ons besef dat elke individu sy eie sonde voor die Here moet bely en hom daarvan bekeer. Wat ons wel kan doen, is om enersyds bv. ons kind se sonde voor God te bely (te noem – die VAW vertaal dit o.a. met “jou oortuiging openlik verklaar”) en Hom te vra om daardie kind onder sondebesef te bring, sodat daardie kind sy sonde kan herken, erken en bely en hom daarvan bekeer. Ons kan egter andersyds ook die Here vra om Sy genade oor daardie kind uit te stort deur die gevolge van sy sonde, gering te hou – soos John Piper bv. saam met sy vrou gepleit het dat sy rebelse seun (voor sy bekering) net nie ’n meisie swanger sal laat raak nie, want dit is bepaalde straf op sonde wat daardie kind die gevolge van sou moes dra, selfs al sou hy (wat wel gebeur het) later tot bekering kom. As jou kind bv. homoseksueel is en derhalwe in sonde is, kan jy steeds jou kind se sonde voor die Here bely en Hom vra om jou kind genadig te wees, deur hom van sonde en straf en geregtigheid te oortuig, maar ook dat hy bv. nie HIV/vigs sal opdoen terwyl hy in sonde is nie. Terug na ons Skrifgedeelte egter.    
 
2.     GOEIE NUUS, SLEGTE NUUS (vv.19-23):
Ons moet steeds in gedagte hou dat Daniël besig was om tot die Here te bid en sondebelydenis te doen t.w.v. die volk, toe hierdie visioen tot hom gekom het.

Ek het gesê dat Daniël se gebed die konteks vorm vir die visioen wat hy ontvang het en terwyl hy die profesie van Jeremia oor die terugkeer van die volk na Israel in Jer.31:31-33 lees, bid hy vir die vervulling van hierdie belofte van God deur Jeremia. Hy moes opgewonde gewees het en vol afwagting en hoop vir ’n wonderlike en geseënde tyd wat voorgelê het vir hom en sy volksgenote – ’n tyd van gehoorsaamheid aan God en ’n  tyd van ’n hernuwing van God se verbond met Sy volk. Hy het waarskynlik ook in sy geestesoog die herbou van die tempel gesien en ’n volk wat God in waarheid en opregtheid weer aanbid.

       Ons sien in vv.19-23 dat Daniël onmiddellik, trouens terwyl hy nog bid, ’n antwoord op sy gebed ontvang ~ Terwyl ek nog praat en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en by die Here my God pleit vir sy heilige berg, 21terwyl ek nog so aan die bid was, het Gabriël, die man wat ek die vorige keer in die visioen gesien het, by my aangevlieg gekom. Dit was die tyd van die aandoffer. 22Hy het my kom inlig en vir my gesê: “Daniël, ek het gekom om jou deeglik in te lig. 23Toe jy met jou smeekgebed begin het, is daar ’n antwoord gegee, en ek het gekom om dit vir jou te vertel, want God het jou lief. Gee dus ag op wat ek sê, sodat jy die visioen kan verstaan.

       Terwyl Daniël bid, verskyn die Engel Gabriël aan hom. Wat meer is, die engel sê in v.23 vir Daniël dat sy gebed verhoor is, omdat die Here hom lief het.
      
       Die koms van die Engel Gabriël na Daniël het verder daartoe bygedra dat die visioen wat hy gaan ontvang, vir hom geïnterpreteer sal word deur Gabriël self en dan veral vv.24-27, waar dit spesifiek gaan oor Jerusalem en die tempel wat herbou gaan word.

       Hier gaan in hierdie visioen ’n reeks van opeenvolgende goeie en slegte nuus weergegee word. Die eerste stuk slegte nuus is dat die herbou van die stad en tempel gepaard sal gaan met swaarkry, maar die goeie nuus is dat die lang verwagte Messias binnekort sou kom en Hy sou spesifiek na Jerusalem kom. Die heel beste nuus is egter dat die Messias die finale offer vir sonde sou bring, maar daarop gaan daar egter weer slegte nuus volg, nl. dat baie van die volk hierdie aanbod van vergifnis van sonde gaan verwerp en daarom sal die stad Jerusalem en die tempel weer verwoes word. Ons vind dus ’n reeks van goeie nuus en slegte nuus en goeie nuus en slegte nuus en dit is die opsomming van die visioen wat Daniël ontvang.

3.     SEWENTIG TYDPERKE (vv.24-27):
       Verse 24-27 lei tot wyd uiteenlopende interpretasies. Sonder om in detail daarop in te gaan wil ek net vinnig die eerste twee noem en dan sal ons by die derde standpunt stilstaan wat ek en ander Gereformeerdes deur die eeue, handhaaf. Kom ons lees egter net eers v.24 ~ Daar is sewentig tydperke vir jou volk en vir jou heilige stad vasgestel. In dié tyd sal daar aan die goddeloosheid en die sondes ’n einde gemaak word en sal daar versoening gedoen word vir die oortredinge. Dit is die tyd waarin ’n blywende geregtigheid tot stand gebring sal word, waarin die profesie en die visioen tot vervulling sal kom en die tempel heringewy sal word.

·           Eerstens is daar die groep wat reken dat hierdie visioen dui op die tydperk van Antiochis IV wat beskou word as die Antichris van die Ou Testament – hy het as koning tussen 175
en 164 v.C. geregeer oor die Siriese deel van die Alexandrynse Ryk.
·           Tweedens is daar die groep wat beweer dat hierdie visioen heenwys op die eerste koms van Christus en dan op die ou end,  spesifiek op die gebeure “aan die einde van die dae”.
·           Derdens verwys hierdie visioen na die koms van Christus; die afhandeling van Sy soendood en die verwoesting van Jerusalem en die tempel wat sou volg op die verwerping van Hom as Messias deur die massas. Aanvanklik sal Daniël die fisiese herbou van die Jerusalem en die Tempel sien, maar die Engel gaan hom lei om verder as bloot net die fisiese te kyk – hy wil Daniël se geestesoë ook verlig en hom lei om uiteindelik die dieper betekenis van hierdie visioen te sien.

       Die tydperk waarvan hier gepraat word, is een van sewe tydperke, of letterlik, “sewentig sewetalle” soos die OAV dit vertaal (v.25)., ofte wel sewentig maal sewe jaar wat gelyk is aan 490 jaar (Lev.25:8; 26:34). Aan die einde van hierdie 490 jaar sal ses dinge plaasgevind, of tot vervulling gekom het (die sg. “terminus ad quem” – dit wat te doen het met Christus se eerste Advent – 4 weke voor die koms van Christus):
·           ’n Einde sal gemaak word aan goddeloosheid (v.24).
·           ’n Einde sal gemaak word aan sonde (v.24).
·           Versoening sal gedoen wees vir oortredings (v.24).
·           Blywende geregtigheid sal tot stand gebring word (v.24).
·           Die profesie en visioen sal tot vervulling kom (v.24).
·           Die Tempel sal gesalf word (v.24).

       Wat hierdie laaste punt betref het ons gesien dat die NAV van v.24b as volg lees ~ ...en die tempel (sal) heringewy sal word. Die OAV lees as volg ~ om wat hoogheilig is, te salf. Die NKJV vertaal dit nog beter en wel met ~ ...And to anoint the Most Holy. Die NAV is dus hier uiters (om die minste te sê) verwarrend vertaal, omdat hier nie verwys word na die fisiese Tempel nie, maar na die geestelike soos verpersoonlik deur Christus. Wat meer is, die Hebreeuse woord “salf” of “salwing” word vertaal met Messias en die Griekse woord met “Christos” – ’n duidelike verwysing dus na die Here Jesus Christus en nié na die tempel soos baie mense beweer nie. Daar bestaan ook geen gronde vanuit die Woord om te sê dat die herboude Tempel, wat in elk geval weer in 70 n.C. verwoes is, gesalf sou moes word nie, maar wel Christus Jesus – Hy is dus die Tempel wat gesalf sal word.

       Dit blyk uit hierdie gegewens baie duidelik dat hierdie visioen van Daniël dus gaan oor die werk van Christus en is v.24 dus ’n oorsig oor die volle sewe tydperke.

4.     NEGE-EN-SESTIG TYDPERKE (v.25):
       In v.25 kry ons met ’n wiskundige probleem te doen en kom ons kyk of ons dit uitgewerk kan kry ~ Jy moet nou goed verstaan, vandat die opdrag gegee is dat Jerusalem herstel en herbou moet word, totdat ’n regeerder kom wat deur God uitverkies is, sal sewe tydperke wees. Twee en sestig tydperke lank sal Jerusalem opgebou bly, met strate en verdedigingslote, maar dit sal moeilike tye wees.

       Ek het netnou gesê dat ons hier met ’n wiskundige probleem te doen het, maar dit is so ’n ingewikkelde berekening dat ek Donderdagoggend die hele oggend vas gesit het en “somme” van alle kante af gemaak het. Daar is eers volgens Daniël en n.a.v. Jer. 33:7, gedurende die helfte van die vierde eeu v.C. begin met die herstel van Jerusalem tot haar volle prag en glorie en dit het volgens v.25, 7 tydperke geduur (49 jaar) – dit bring ons by 401 v.C. Trek ons nou 62 tydperke af (434 jaar) bring dit ons by 33 n.C. – die jaar waarop daar bereken word dat Christus gekruisig is en dit klop alles baie mooi, maar twee dinge is belangrik om hier in gedagte te hou – die eerste nie so belangrik nie, nl. dat 450 v.C. ’n geskatte datum is, maar dan die heel belangrikste – ons praat hier van 69 tydperke, terwyl v.24 verwys na die “voltooide verbondsjubileem” wat na Christus verwys, nl. 70 tydperke. Wat het geword van daardie een tydperk (7 jaar) wat net “weg” is?

       Ek het in my soeke, tien  kommentare geraadpleeg en die enigste gevolgtrekking waartoe ek kon kom, is dat niemand regtig weet wat hierdie getalle behels nie, en hoe ons hierdie een “verlore tydperk” moet verklaar nie, soveel so dat kommentators deur die bank sê dat hierdie gedeelte die moeilikste gedeelte in die ganse Ou Testament is om te verklaar en tog is daar ’n moontlike verklaring, maar later meer daaroor.

       Die tragiese rondom hierdie uiters ingewikkelde teologiese vraagstuk waarop geen teoloog van statuur dit wil waag om ’n “bo-alle-twyfel-uitspraak” te lewer nie, is dat die Dispensasie teoloë (Charismate-/Pinkstergroepe/wegraping, ens.) nou kom en hulle bou hul hele “duisendjarige vrederyk-teorie” op hierdie “verlore een jaar” (dit word die “gap-theory” genoem) – dit is om dit liggies te stel, uiters onverantwoordelike teologie en omgaan met die Woord van God, om nou hulle eie verklaring te gee, deur (eenvoudig gestel) te sê dat hierdie een tydperk, verwys na 7 jaar en dit is ’n volheidsgetal en daarom wys dit op die sg. “duisendjarige vrederyk”. Hierop wil ek egter nie nou ingaan nie, omdat die tyd dit nie toelaat nie en dit nie die fokus van vandag se boodskap is nie.

       Wat moet ons dan maak met hierdie vers? Wat ons wel kan sê, is dat ons weer hier te doen kry met slegte en goeie nuus. Die eerste sewe tydperke wat aangekondig word is God se onmiddellike reaksie op Daniël se gebed, nl. dat die stad Jerusalem wel binnekort herbou sou word. Jeremia se profesie van herstel sal dus na sewentig jaar, gedeeltelik vervul word, maar Daniël word deur Gabriël daarop voorberei dat die tyd tydens die restourasie van Jerusalem en die daaropvolgende twee-en-sestig sewes, ’n tyd van swaarkry en beproewing gaan wees en Jerusalem sal nie die volkome veiligheid ervaar wat Jer.33:16 suggereer nie ~ In daardie dae sal Juda gered word en Jerusalem sal onbesorg woon en genoem word: Die Here verskaf reg aan ons. Dit beteken dus dat die Messiaanse Regeerder, Jesus Christus eers Sy verskyning sal maak aan die einde van die nege-en-sestig sewes- tydperk!
       Hoe hierdie tydperke waarvan die engel Gabriël getuig dan ook al uitgerol moet word, sê hy vir Daniël dat die beloofde Messias aan die einde van hierdie tydperke sal kom. Hier in v.25 word verwys na Christus as die Regeerder en daarmee koppel Gabriël, Christus aan die profesie wat Miga tweehonderd jaar vantevore gebring het ~ Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede! (Miga 5:1). Daniël het net soos die res van die Jode uitgesien na die koms van die Messias en hier sê die engel vir Daniël wanneer Hy gaan kom – net so hartseer dat die Jode, jare later, nie Jesus herken het toe Hy wel gekom het nie!

5.     DIE KOMS VAN DIE MESSIAS, DIE GESLAFDE (v.26)
In v.26 volg daar weereens slegte nuus vir Daniël ~ Aan die
einde van die twee en sestig tydperke sal ’n regeerder onskuldig doodgemaak word. Die stad en die heiligdom sal verwoes word deur die volk van ’n ander regeerder wat op die toneel sal verskyn. Die einde sal kom soos ’n oorstroming; daar sal oorlog wees tot die einde toe, rampe soos besluit is.

       Gabriël maak aan Daniël bekend dat die lang verwagte Messias gedood gaan word na die nege-en-sestig sewes, of te wel na nagenoeg 483 jaar. Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word is כָּרַת [karath /kaw·rath]. Wat letterlik beteken om gewelddadig te sterf, wat natuurlik op Jesus se kruisdood dui en hierdie is ’n bevestiging van Jesaja se profesie in Jes.53:8 ~ Terwyl hy gely het en gestraf is, is hy weggeneem, en wie van sy mense het dit ter harte geneem dat hy afgesny is uit die land van die lewendes? Hy is gestraf oor die sonde van my volk.

       Dit is tragies as ’n mens daaraan dink dat die dissipels nie hierdie profesie in herinnering geroep het toe Jesus gesterf het en hulle uitsigloos en hartseer was nie! Hulle moes Daniël baie goed geken het en hulle het selfs dieselfde naam vir Jesus gebruik, nl. Messias, die Gesalfde Een – ’n naam wat net twee keer in daardie spesifieke Hebreeuse vorm in die ganse Ou Testament gebruik is, nl. in Ps.2:2 en dan ook in Dan.9:25. Petrus het bv. hierdie selfde Hebreeuse naam gebruik toe Jesus vir hom in Matt.8:27-29 gevra het wie die mense sê Hy is.

       Daar word egter nog slegte nuus met Daniël gedeel, nl. dat die stad en die heiligdom, of te wel die Tempel weer gedurende hierdie tyd waarvan die engel praat, verwoes gaan word deur ’n ander volk en leier en ons weet teen hierdie tyd dat hier verwys word na die Romeinse Ryk en Nero en spesifiek na generaal Titus wat Jerusalem tydens die Paasfees binne geval het en volgens historiese getuienis (die geskiedskrywer Josefus) is meer as 600 000 Jode gedood.

6.     DIE NUWE VERBOND:
       Die vorige slegte nuus word egter nou weer opgevolg met goeie nuus in v.27 (OAV) ~ En hy sal een week lank met baie ’n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.

       Hier in v.27 staan ’n paar dinge vir ons uit:
·           Hier is o.a. sprake van ’n ooreenkoms wat aangegaan word;
·           Die afskaffing van offerandes;
·           ’n Ding wat ’n gruwel in die oë van God is, asook die oordeel oor die verwoester.

·           ’n Ooreenkoms:
Wie is die “een” (die OAV praat van “regeerder”) waarvan hier in v.27 sprake is? Is dit die “wêreldheerser” van die “Dispensasie teologie”, want hulle bou hulle teologie rondom die “wêreldheerser”, of die “Antichris” om v.27 – of is dit iemand anders? As ons na die konteks kyk, sien ons dat daar van v.24 tot v.26 gepraat word van Jesus Christus as Regeerder en Gesalfde – hierdie hele gedeelte is dus Messiaans van aard en daarom kan dit nie anders nie as dat v.27 ook verwys na Christus.

Wat is hierdie verbond wat Christus dan nou oënskynlik aangegaan het en is hierdie week wat hier ter sprake is dalk die verlore week waarvan ons vroeër gepraat het? Hierdie verbond wat hier ter sprake is, is die verbond wat Christus gesluit het in die tyd wat Hy hier op aarde was, met diegene wat hul geloof in Hom geplaas het – Hy het dus Sy Nuwe Verbond met alle gelowiges kom bevestig in hierdie tyd, nl. die genade verbond, deur Sy bloed aan die kruis te stort.

·           Die afskaffing van offerandes:
       Gedurende hierdie tydperk wat Jesus dan Sy Nuwe Verbond kom bevestig het, het Hy ook ’n einde gemaak aan die Ou Verbond en daarom het die slagoffer en spysoffer opgehou – Sy bediening op aarde het dan ook presies die helfte van een week periode geduur, nl. drie en ’n halwe jaar.

       ’n Vraag wat onmiddellik ontstaan, is nou wat van die laaste drie en ’n halwe jaar? Dit wil lyk asof Daniël dit in die lug laat hang, maar ons moet enersyds verstaan dat arme Daniël dit self baie moeilik ervaar het om hierdie profesieë te verstaan, daarom dat daar in Dan.12:8-9 die volgende staan ~ En ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie; daarom het ek gesê: My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge? En hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe. Die “tyd van die einde” – Openb.5:1-5 verskaf vir ons groter duidelikheid oor hierdie tweede gedeelte van die week in v.27 ~ In die regterhand van Hom wat op die troon sit, het ek ’n boekrol gesien wat aan die voor- en aan die agterkant vol geskrywe was en wat met sewe seëls goed verseël was. 2Toe het ek ’n sterk engel gesien wat met ’n harde stem uitroep: “Wie is waardig om die boek oop te maak deur die seëls daarvan te breek?” 3Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. 4Ek het baie gehuil omdat daar niemand gekry is wat waardig was om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. 5Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak” (Openb.5:1-5). Die seëls was ontsluit en die inhoud van Openbaring was onthul – iets wat Daniël nie in sy tyd kon sien of ervaar nie. Openb.12 vertel dan vir ons wat gedurende die tweede helfte van die sewe dae van Dan.9:27 gebeur het. Daardie tydperk is vervul gedurende die eerste eeu, kort na Jesus se hemelvaart en wel in 70 n.C.

·           ’n Gruwel in die oë van God:
       Omdat die Jode nie Jesus as die Messias herken en erken het nie, het  Hy toegelaat dat die Tempel en daarmee saam die hele Jerusalem vernietig word en natuurlik soos reeds gemeld, derduisende Jode.

7.     AFSLUITING:
Wat beteken hierdie Skrifgedeelte vir ons in ons dag?
·           Ons kry hier ’n pragtige blik op die samestelling van die kanon van die Bybel. Ons sien hoe dat verskeie profesieë mekaar ondersteun  en bevestig – bv. Jeremia en Daniël.
·           Ons het ook gesien dat gebed (in hierdie geval Daniël en gebed) ’n fundamentele verband tussen die lees van die Skrif en gebed daarstel. Na die mate dat ons kennis van God deur die lees van die Woord verdiep, sal ons gebedslewe ook verdiep.
·           Met die lees van Daniël en dan spesifiek hierdie gedeelte in Daniël 9 sien ons hoe God se verhaal deur die eeue heen ontvou.
·           Hierdie Skrifgedeelte van vanoggend wys net soos die res van die Ou Testament, pragtig heen na Christus Jesus.
·           Dit is baie duidelik (vertrou ek)  uit vanoggend se prediking (en dit word bevestig deur die geskiedskrywes van die wêreld) dat God ’n baie spesifieke tydsrooster vir die wêreld se geskiedenis het en dat Hy uiters getrou by Sy tydskedule hou en dat Jesus Christus aan die einde van hierdie tydskedule weer sal kom om diegene wie teen Hom gerebelleer het te veroordeel, maar om ook genade te betoon teenoor diegene wie die knie voor Hom gebuig het.
·           Al werk God noukeurig volgens Sy plan, gebruik Hy nogtans mense soos Daniël en Petrus en Jeremia en my en jou, om hierdie plan ten uitvoer te bring – al is dit ook net as ek en jy teenoor iemand anders getuig van God se goedheid in ons lewe.

·           Al het duisende Christus destyds verwerp en miljoene Hom steeds verwerp, het Hy Sy verbond met alle gelowiges herbevestig en hierin lê hoop vir die ergste sondaars in hul donkerste oomblikke. Al het ons op die ergste moontlike manier teen God gesondig, is daar hoop vir ons; is daar vergifnis beskikbaar vir elkeen van ons; is daar redding en uiteindelike verheerliking wat wag op elke gelowige – dit is waarom Paulus in 1 Kor.6:9-11 die volgende sê ~ Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen 10of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. 11En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 02 Maart 2014