1. INLEIDING:
Daar word nie baie oor Jesus
se hemelvaart gepraat en selfs gepreek nie, maar tog is dit ’n baie belangrike
faset van Jesus se bediening op aarde en wat daarop gaan volg en daarom wil ek
hê dat ons vandag in
meer besonderheid kyk na Jesus se hemelvaart.
2. SKRIFLESING:
Hand.1:9-11 ~ Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en 'n wolk het
Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10)
Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het
daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11)
Dié sê toe vir hulle: "Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle
af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die
hemel toe sien opgaan het. 12) Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggegaan van die berg af. Dit is die
Olyfberg, vlak by die stad, 'n sabbatsreis ver.
3. DIE HEMELVAART - DIE EVANGELIES:
Jesus se hemelvaart is ’n baie belangrike
gebeurtenis op die Christelike kalender en dit word op die 39ste dag na
Paas-Sondag gevier, m.a.w. op ’n Donderdag en tien dae voor
Pinksterdag. Waarom is dit so ’n belangrike dag? Omdat dit Christus
se verheerliking gedenk - die dag waarop Hy Sy plek aan die regterkant van die
Vader op Sy hemelse troon ingeneem het.
En tog, as dit so belangrik
is, is dit baie eienaardig dat die Evanglieskrywers so min aandag hieraan
skenk, so asof dit gladnie belangrik was nie, trouens Matteus en Johannes
vermeld dit nie eens in hul Evangelies nie en Markus noem dit in een enkele
versie. Lukas skenk egter so bietjie meer aandag aan Jesus se hemelvaart, maar
ook nie veel meer nie.
Waarom was dit nie ’n tema of
gebeurtenis waaroor die Apostels gerapporteer het nie? Kom ons kyk kortliks
daarna:
• Die doel met die
Evangelies: Ons moet eerstens
onthou dat die doel met die Evangelies was om die Evangelie te openbaar en
bekend te maak, m.a.w. die fokus was gerig op die Goeie Nuus van Verlossing in
en deur Jesus Christus. Tegnies gesproke was redding voortgebring deur die dood
van Jesus en Sy opstanding was die bewys van redding en verlossing. Die
hemelvaart het nie ’n direkte bydrae
gelewer tot die werk aan die Kruis nie,
of anders gestel, die hemelvaart was en is nie instrumenteel in die
reddigproses nie.
Dit is dus nie ’n kwessie dat die
hemelvaart nie belangrik was vir die Evangelieskrywers nie, maar dit is
irrelevant t.o.v. die reddingproses en daarom maak dit nie primêr deel uit van die
Evangelies nie.
• ’n Ongewilde tema: Tweedens was die
hemelvaart nie ’n onderwerp waaroor
die dissipels graag gepraat het nie.
Die dissipels was binne-in
die intieme kring van Jesus en hulle was
daagliks en bykans permanent in Sy wonderlike teenwoordigheid - hulle wou nie
afskeid neem van Hom nie; Sy weggaan sou ’n geweldige leemte
in hul midde laat en elke keer wat Jesus oor Sy “vertrek” gepraat het, was
die dissipels hartseer ~ Nou gaan Ek na
Hom toe wat My gestuur het, en tog vra niemand van julle vir My: `Waar gaan U heen? 'nie. Maar omdat Ek dit vir julle sê, is julle harte vol droefheid (Joh.16:6). Hy het ook vir
hulle belowe dat Hy weer sal kom, maar ten spyte daarvan was hulle steeds
bedroef ~ Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer
sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van
julle af wegneem nie (Joh.16:22).
Dan was daar natuurlik ook
nogsteeds die verwagting by hulle van ’n fisiese koninkryk
met Jesus as die fisiese koning.
4. DIE HEMELVAART - VOORAF:
Terwyl die hemelvaart nie
eintlik in die Evangelies vermeld is nie, is dit egter nie die geval met
Handelinge nie en is dit nodig dat ons sal vasstel wat word oor die hemelvaart
gesê en dan spesifiek
moet ons, onsself ook afvra wat die betekenis van die hemelvaat is.
Ons het met die boodskap oor
die eerste paar verse van Handelinge gesien dat die Handelingeboek, ’n voortsetting van
sy eerste boek, die Evangelie van Lukas is en dit is derhalwe logies dat sy
inleiding van Handelinge, iets van ’n herhaling van die
slotgedeelte van Lukas sal bevat - daar moet tog immers ’n brug wees tussen
die een boek, na die ander boek en wanneer ons die Evangelies lees, dan wil dit
soms voorkom, asof Jesus bykans direk na Sy opstanding, opgevaar het na Sy
Vader, maar dit is nie die geval nie - Jesus het nog vir veertig dae op aarde
gebly voor Sy hemelvaart (Hand.1:3) - waarom? Daar is ’n drieledige rede
hiervoor en ons het dit reeds in vv.3-5 gekry:
•
Fisiese Opstanding: Eerstens was dit
nodig dat die dissipels oortuig kon wees van Jesus se fisiese en liggaamlike
opstanding. Ten einde die res van die gebeure wat sou volg ná Sy hemelvaart en
waarvan daar in Handelinge gerapporteer word, te verstaan en daaraan mee te
doen, moes hulle oortuig wees van die feit dat Jesus opgestaan het en lewe. Hoe
sou hulle van Jesus se opstanding (soos reeds gesê, ’n essensiële element van
wedergeboorte)
- hoe sou hulle daaroor kon getuig as hulle Jesus nie eerstehands fisies en
lewend gesien het nie - hulle sou nie kon getuig waaroor hulle bv. in
Hand.2:23-24 getuig het nie ~ God het besluit
en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur
heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. Maar God het Hom van die
smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir
die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. Na Jesus se
opstanding het Hy Homself getoon aan die vrouens naby die graf (Matt.28:9-10); aan Sy dissipels (Luk.24:36-43;
Hand.1:3) en
aan meer as vyfhonderd ander mense (1 Kor.15:6).
• Opdragte: Tweedens moes
Jesus nog ’n tyd ná Sy opstanding in
die midde van Sy dissipels deurbing ten einde bepaalde opdragte aan hulle te
gee - so het Hy hulle bv. opdrag gegee om nie uit Jerusalem pad te gee,
alvorens hulle nie die gawe van die Vader (die Heilige Gees) ontvang het nie.
• Wanbegrippe: Laastens het Jesus
hierdie veertig dae gebruik om bepaalde wanbegrippe onder die dissipels uit te
klaar. Hier het dit o.a. gegaan oor die dissipels se koninkryksverwagting (Hand.1:6-8).
5. DIE HEMELVAART - GOD SE HEERLIKHEID (vv.9-10):
Kom ons kyk egter na die
hemelvaart self en die gebeure rondom Christus se hemelvaart.
Die hemelvaart moes ’n onbeskryflike
ervaring en gesig gewees het, veral as ons in gedagte hou dat Christus nie in
die wolke in opgeneem is, of -verdwyn het nie. Daar staan in v.9 ~ 'n wolk het Hom weggeneem - nie sommer net wolke nie: ’n wolk. Hierdie woord vir
“wolk” is in die Grieks νεφέλη (nephelē) wat dui op ’n bepaalde wolk.
Ons vind hierdie selfde gedagte, of uitdrukking wanneer daar in Eks.13:21
gepraat word van die wolkkolom ~ Die Here het
bedags met 'n wolkkolom voor hulle uit gegaan om vir hulle die pad te wys en
snags met' n vuurkolom om vir hulle lig te verskaf, sodat hulle dag en nag kon
trek. Die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags het altyd voor die volk gebly. Net so min as wat
die vuurkolom nie maar net só ’n vuur was nie, net so was die
wolkkolom ook nie maar net ’n gewone wolk nie. Net soos wat die
wolkkolom (en die vuurkolom) teken en getuie
was teenoor die volk van God (en buitestaanders) dat God op ’n besondere wyse
met Sy volk is, net so was hierdie wolk waarin Jesus weggeneem is, ’n teken van God se
heerlikheid en teenwoordigheid - hierdie wolk was eerder ’n manifestasie van
God se “Shekinah
heerlikheid” - ’n woord wat nie
spesifiek in die Bybel voorkom nie, maar ’n woord wat deur
Joodse Rabbis geskep is, om die konsep van God se teenwoordigheid uit te druk
en dit beteken letterlik (in Engels), “He caused to dwell” en daarmee het die
Rabbis spesifiek verwys na die wolk- en vuurkolomme.
Ons sien ’n pragtige
voorbeeld van hierdie teenwoordigheid van God in Eks.33. Nadat God vir Moses
gesê het dat die volk ’n moedswillige volk
was (hardnekkig
in die OAV en “stiff-necked in die
meeste Engelse vertalings), rig hy ’n tent buite die
laer op en dan lees ons in vv.7-11a die volgende ~ Moses het 'n tent gevat en dit ver buite die kamp gaan opslaan. Hy het dit
die tent van ontmoeting genoem. Elkeen wat na die wil van die Here wou vra, het
na die tent van ontmoeting buite die kamp gegaan. Elke keer wanneer Moses na
die tent toe uitgegaan het, het die hele volk opgestaan. Elkeen het by die
ingang van sy tent bly staan en Moses agterna gekyk tot hy in die tent ingaan. Sodra
hy ingaan, het die wolkkolom afgekom en by die ingang van die tent van
ontmoeting gaan staan, en dan het die Here met Moses gepraat. Wanneer die
hele volk die wolkkolom by die ingang van die tent van ontmoeting sien staan,
het elkeen by die ingang van sy tent gebuig in aanbidding. Die Here het direk
met Moses gepraat soos 'n man met sy vriend. Moses is in die teenwoordigheid van
God - God verskyn in al Sy heerlikheid aan Moses en Hy praat met Moses.
Hierdie wolk waarin Jesus
weggeneem is, was waarskynlik dieselfde “Shekinah-wolk” wat die volk van
God van die onbeskryflike teenwoordigheid van God in Eksodus beleef het, maar
ook was dit teken van die heerlike en heilige ontmoeting tussen God die Vader
en God die Seun, Jesus Christus - wat ’n gebeurtenis! Wat ’n oomblik! Wat ’n getuienis!
Hierdie onbeskryflike
gebeurtenis en oomblik was terselfdertyd ’n vooruitskouing
van die koms van God se Koninkryk, asook die wederkoms van Christus!
Die Hemelvaart was die laaste
en onteenseglike bewys of verklaring, dat Jesus Christus die bose en die sonde
oorwin het, maar dit is tersefdertyd ook teken en getuienis van die krag wat
binnekort op elke gelowige uitgestort sou word wanneer die Heilige Gees sou
kom.
6. DIE HEMELVAART - BETEKENIS:
Behalwe dat hierdie
gebeurtenis ’n “hemelse” gebeurtenis moes
wees vir Christus se volgelinge wat daar teenwoordig was, moet daar tog ’n diepere betekenis
vir ons ook in Christus se hemelvaart opgesluit lê - kom ons kyk
kortliks daarna:
• Skeiding: In ’n gekwalifiseerde
sin was die hemelvaart ’n liggaamlike skeiding tussen Christus
en sy volgelinge, maar tog is dit belagrik om daarop te let, dat die Bybel nêrens vir ons sê dat Sy volgelinge
gehuil het oor die skeiding wat gekom het nie. Waarom sou dit die geval wees?
Omdat Christus se vertek ’n nuwe era binnegelei het waar Sy
volgelinge nog meer intieme gemeenskap met Hom kan geniet deur die
teenwoordigheid van die Heilige Gees ~ En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld
(Matt.28:20). Dit impliseer ook
dat meer gelowiges (regoor die wêreld) nou gelyktydig Sy
teenwoordigheid kan beleef.
• Volvoering: Die hemelvaart is
tweedens, simbool van die volvoering van Jesus se roeping; van Sy vleeswording;
van Sy versoeningswerk aan die kruis ~ Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan
die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel (Hebr.1:3b). Jesus se aardse
roeping is nou afgehandel.
• Verheerliking: Toe Christus terug
gekeer het na Sy Vader, het dit gepaard gegaan met grootsheid en heerlikheid,
want Hy is direk daarna verheerlik en het Hy, Sy plek aan die regterhand van
God die Vader ingeneem ~ Uit Hom straal
die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle
dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes
bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel (Fil.2:9).
• Bevestiging: Die hemelvaart was
’n bevestiging van
Wie Christus was en is. Die hemelvaart was ’n bevestiging van
Sy aanspraak dat Hy van die Vader gekom het, soos deur Johannes in Joh.1:14
weergegee ~ Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het
sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader
het, vol genade en waarheid.
Wat meer is, die hemelvaart
is ook bevestiging van ons geloof en die sekuriteit wat ons in Christs Jesus
het - bevestiging dat Hy ons Voorspraak is ~ Hierdie hoop besit ons as 'n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter
die voorhangsel vas is. Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons
ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek (Hebr.6:19-20).
• Verbinding: Jesus se
hemalvaart dien as ’n verbinding tussen
Christus se verlossingswerk en ons heiligmaking. Dit dien verder as verbinding
tussen die Evangelies en die Sendbriewe; tussen wat deur Christus bewerkstellig
is en wat Chirstus nog deur die Heilige Gees gaan doen, maar ook tussen dit wat
Christus tydens Sy aardse bediening gedoen het en wat Hy nou nog steeds doen as
simpatieke Hoë Priester - Hy
wat al ons beproewing en veel-veel meer op aarde beleef het. Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God,
laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was
immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie
gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons
barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word (Hebr.4:14-16).
•
Verwagting: Die hemelvaart het
ook ’n verwagting tot
gevolg in elke gelowige, want ons weet dat Jesus gaan terugkeer, net soos wat
Hy opgeneem is in die hemel, trouens dit is deur die twee mans in die witklere (engele) aan die dissipels
en alle gelowiges belowe net nadat Jesus deur die wolk weggeneem is.
•
Voorbereiding: Die hemelvaart het
tot gevolg dat Jesus nou vir ons plek in die hemel voorberei ~ In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou
Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie (Joh.14:2).
• Uitstorting: Die uitsorting van
die Heilige Gees is ’n direkte gevolg
van die hemelvaart en daarmee saam ook die begin van die Kerk van die Here
Jesus Christus ~ Hy is verhoog aan die regterhand van
God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en
uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor (Hand.2:33).
• Roeping: Die hemelvaart van
Jesus beklemtoon die feit dat ons as gelowiges ’n roeping ontvang
het - ’n roeping om Sy
Koninkryk op aarde te laat kom; om dissipels van mense regdeur die wêreld te maak ~ Hy het vir hulle gesê: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. Wie tot geloof
gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word (Mark.16:15-16).
• Verheerliking: Laastens is die
hemelvaart simbool van Jesus se verheerliking ~ Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat
bo elke naam is (Fil.2:9).
7. DIE HEMELVAART - DIE BELOFTE (v.11):
Ons lees in v.11 dat, terwyl
die disipels nog verwonderd gestaar het na die wolk waarin Jesus opgeneem is in
die hemel, twee manne in wit klere aan hulle verskyn en vir hulle sê ~ Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle
af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die
hemel toe sien opgaan het. Die gelowiges ontvang die belofte - ’n Goddelike belofte
- dat Jesus weer gaan terugkeer.
Hierdie was natuurlik nie
nuwe nuus vir die dissipels nie, want Jesus het bv. vir hulle reeds in Matt.24:27
gesê ~ Die koms van die Seun van die mens sal wees soos 'n weerligstraal wat in
die ooste uitslaan en die hele lugruim tot in die weste verlig, maar ook wat
hierdie feit aan betref het hulle dit in verband gebring met die vestiging van ’n aardse koninkryk.
Nadat die twee engele egter vir die dissipels hierdie versekering gegee het,
gepaardgaande met die realiteit van Jesus wat so pas weggevoer is, verstaan
hulle meteen wat dit alles beteken, daarom dat die Apostels daarna oor hierdie
realiteit kon skryf - soos bv. Petrus in 2 Pet.3:10 ~ Maar die dag van die Here sal so onverwags soos 'n dief kom. En op dié dag sal die hemel met' n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en
tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.
Is die wederkoms iets om na
uit te sien? Ek besef dat ’n mens boeke kan skryf n.a.v. hierdie
vraag, maar ek wil dit net kortliks beantwoord en daarom wil ek vra dat ons na
Titus sal blaai - kom ons lees Tit.2:11 ~ Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. Hier lees ons van
die verskyning van genade en dit verwys natuurlik na die eerste koms van
Christus.
In v.13 lees ons ~ …terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal
die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. Hier lees ons van
die verskyning van God se heerlikheid en dit verwys na Christus se
tweede koms. Hierdie twee uitdrukkings gaan hand-aan-hand - die een kan nie
sonder die ander een nie. Christus se eerste koms het alles te doen met die
uitstort van God se genade oor Sy uitverkorenes en Christus se tweede koms het
alles te doen met God se heerlikheid wat ons, Sy uitverkorenes deelagtig sal
word wanneer ons verheerlik sal word. V.12, wat “in-getoebroodjie” is tussen vv.11 en
13, bevestig dit ~ …terwyl ons
uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid
van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. Is dit nie genoeg
rede om na Christus se koms uit te sien nie - om verheerlik te word en God se
woorde op daardie heerlike dag te hoor ~ Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal
ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer (Matt.25:23).
8. DIE VERVULLING VAN DIE BELOFTE:
Wat gaan gebeur op die dag
van die vervulling van die belofte van Christus se wederkoms? Hebr.9:27-28 ~ 'n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. Uit hierdie vers is
’n paar dinge baie
duidelik:
• Afspraak: Almal van ons het
dus ’n afspraak met die
dood - een of ander tyd. Toe Adam en Eva in sonde geval het, het die dood ’n absolute
sekerheid vir elke mens op aarde geword ~ Verder nog dít:
Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense
deurgedring, omdat almal gesondig het (Rom.5:12).
• Eenmalige Sterwe: Almal van ons gaan
net eenmaal sterf - die dood is ’n finaliteit en ons sterf net een maal
- dit is finaal. Ons gaan nie weer “aan die lewe raak” en sodoende weer ’n kans kry nie -
dit is finaal en verby ons sterf net eenkeer (v.27)!
• God se Oordeel: Die derde
realiteit wat die Hebreërskrywer hier aanraak, is dat die
oordeel (God
se oordeel)
ná die finale en
sekere dood sal plaasvind (v.27). Met hierdie
woorde sê die Hebreërskrywer dus aan
ons dat daar tog iets na die dood gebeur - ons gaan dus nie “dood-dood” wees soos ’n grashalm na die
dood nie - ons gaan sterf ja, maar ons lees in Hebr.9:27 ~ ’n
Mens is bestem om net een maal te sterf. Ons moet verstaan
dat die “een maal sterf”, of te wel die
onafwendbare sterwe van alle mense, daarop dui dat die mens fisies/vleeslik
gaan sterf, maar dan gaan v.27b voort en sê ~ …net daarna kom die oordeel. Dit wys daarop dat die mens nié geestelik sterf nie
en dat iets bepaalds ná die fisiese dood plaasvind, nl. dat
elke mens geoordeel gaan word. Hierdie gebeurtenis (God se oordeel) is beslis die
verskriklikste; die mees angswekkende en
beslissendste en finale gebeurtenis in die mensdom se geskiedenis, want op
daardie oomblik gaan die mensdom te doen kry met die heilige, toornige (“angry”) en almagtge God,
voor wie elke siel verantwoording sal moet doen oor sy/haar lewe en sonde; oor
of hy/sy Hom vertrou het vir lewe en vir dood en Hom aanbid het en Hom nagevolg
het, al dan nie.
Hoor net wat sê Hebr.10:27 ~ Daar bly alleen 'n verskriklike verwagting oor van oordeel en 'n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer.
Let ook net op die woorde in
Hebr.10:30 ~ Ons weet tog wie Hy is wat gesê het: "Dit is my reg om te straf; Ek sal vergeld;" en verder: "Die Here sal oor sy volk oordeel. Hier word verwys
na diegene wat voorgehou het dat hulle gelowiges is, maar dit nie régtig was nie.
Maar wat van diegene wie
werklik uitverkorenes van God is - gaan hulle ook geoordeel word? Is daar darem ’n stukkie goeie nuus te midde van
hierdie verskiklike en somber realiteit? O ja, daar is goeie nuus - wonderlike
nuus!
Om hierdie vraag dus te beantwoord, nl. of gelowiges ook geoordeel gaan word,
moet ons terug gaan na Hebr.9:28 ~ So is Christus
ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede
keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring
vir dié wat Hom verwag. Jesus het eens en
vir altyd, vir alle gelowiges se sonde gesterf - vir ál hulle sonde en
daar is derhalwe versoeing bewerkstellig tussen ons en die “Oordelende God” en daarom gaan
Jesus, wanneer Hy weer kom, kom om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.
Die vraag of vrae
wat jy vandag vir jouself moet afvra, is: Sien jy werklik uit na Jesus se
wederkoms? Wat meer is: Is jy gereed vir Jesus se tweede koms? Verwag jy Jesus
soos die Hebreërskrywer in v.28
gesê het? Indien dit nie
die geval is nie, is dit nog nie te laat om dit reg te stel nie, maar moenie
uitstel nie, want 1 Tes.5:2 sê ~ Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos
'n dief in die nag. Moenie uitstel nie
- ek pleit by jou t.w.v. die ewigheid, moenie uitstel nie!
Maranatha - Kom Here Jesus,
kom gou!
Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente - Sondagoggend 28 Junie Mei 2015