1. INLEIDING:
Ek het die vorige keer gesê dat hoofstuk 11 van Daniël, die
toppunt van die visioene is wat Daniël ontvang het. Dit is ’n baie lang visioen
en baie teoloë maak hierdie hoofstuk af as bloot net ’n uiteensetting van
geskiedkundige gebeure en met die eerste oogopslag en die lees van hierdie
gedeelte wil dit ook so voorkom en is baie mense geneig om bloot net hierdie
gedeelte te ignoreer en die wat dit tog lees voel dat hulle verwoed
aantekeninge moet maak om al die karakters en gebeure en lande uit te pluis en mooi
sistematies voor hulle uiteengesit te sien. Ons vind egter in hierdie hoofstuk,
die belangrikste visioen wat Daniël ontvang het en daarom gaan ons dit nie net
bloot oorslaan en/of ignoreer nie.
Wat ons egter die heeltyd in gedagte moet hou, is dat profesie,
soos hierdie profesie, geskiedenis is wat vooruit geskryf is en dat die meeste
van die inhoud van profesieë reeds vervul is, maar toe Daniël hierdie profesie
ontvang het, het hy en veral die mense wat dit gelees het, waarskynlik min
daarvan verstaan, maar namate hierdie profesieë vervul is, het dit al
duideliker geword. Die wete dus dat profesieë, geskiednis is wat vooruit
geskryf is, help ons om op te hou spekuleer oor profesieë wat nog nie vervul
is, indien dit nie klinkklaar duidelik is nie.
Tweedens moet ons besef dat profesie vir volgende geslagte
geskryf word. Hierdie profesie in hoofstuk 11 is aan Daniël gegee in 536 v.C.
en die vervulling het 6 jaar later in 530 v.C. begin en vv.21-35 is eers in 150
v.C. vervul en die vervulling van die einde van hoofstuk 11 en die begin van
hoofstuk 12, is eers na die koms van Christus vervul.
Wat is die doel met profesieë? Dit was om God se kinders van
daardie tyd, voor te berei op krisisse wat aan die kom was. Die eerste is
opgeteken in Dan.11:2-35 en dit het gegaan oor die vervolging van God se volk
deur Antiochus Epifanus e.a. Die tweede
krisis handel oor die vervolging van God se volk deur die Antichris. Wat
hierdie lg. betref is daar twee uitgangspunte, nl. dié van die A-millennialiste
wat sê dat hierdie gedeelte handel oor die verdrukking van God se volk net voor
die tweede koms van Christus en dit is opgeteken in Dan.11:36-12:3. Daarteenoor
word hierdie gedeelte vanuit ’n Post-Millennialistiese oogpunt verklaar in die
lig van die gebeure rondom die val van Jerusalem en die Tempel in 70 n.C. (Daar
is natuurlik nog die Pre-Millennialiste wat sê dat God se kinders hierdie
vervolging gaan vryspring deur die “wegraping”).
2. VAN KONINKRYK TOT KONINKRYK:
Omdat hierdie so ’n lang Skrifgedeelte
is en een visioen wat Daniël ontvang het, gaan ek nogtans die gedeelte in
perikope verdeel om dit makliker te maak – ek gaan nie alles lees nie maar wel
iets oor elke gedeelte sê. Daar bestaan ’n verskeidenheid van versindelings vir
hierdie gedeelte, maar ek gaan die versindeling gebruik wat vir my die gemaklikste is, nl. vv.5-20; vv.21-35;
vv.36-39 en vv.40-45.
·
Veldslag op veldslag (vv.5-20):
Daniël
11:2 ~ Wat ek jou nou gaan vertel, staan vas. Daar sal nog
drie konings oor Persië regeer, en dan ’n vierde, wat ryker as al die voriges sal wees.
As hy deur sy rykdom magtig geword het, sal hy die hele wêreld teen die Griekse
ryk opsweep.
Ons het verlede week gesien dat dit
Christus self is wat hier aan Daniël verskyn en Hy gee opnuut weer vir Daniël
die versekering dat dít wat Hy vir Daniël vertel, die absolute waarheid is.
Die Engel vertel dan vir Daniël dat drie
konings in Persië gaan heers en ná hulle gaan ’n vierde kom wat baie ryk gaan
wees. Daar word baie bespiegel oor wie hierdie konings was, maar die mees
algemeen aanvaarde is dat dit Serubbabel (530-522
v.C.);
Artisasta (522 v.C.), Darius I (522-486 v.C.) en dan Xerxes, of te wel
Ahasveros (486-465 v.C.) was, wat met
Ester getrou het.
In Ester hoofstuk 1 lees ons van
Ahasveros se rykdom en sy geweldige Ryk waaroor hy regeer het. Ons lees bv. in
Ester 1:4 ~ By dié geleentheid het die koning al die
rykdom waarmee sy koninkryk kon spog, al die prag en praal daarvan, honderd en
tagtig dae lank vertoon. Daarna het hy vir ’n week lank gespog oor sy militêre mag, maar
hierdie mag sou nie lank duur nie, want Ahasveros raak betrokke in ’n oorlog
met die Grieke en hy verloor hierdie oorlog en die uiteinde hiervan was die
begin van die einde van die magtige Persiese Ryk – alles presies soos wat die
Engel aan Daniël geopenbaar het en soos wat Daniël dan ook geprofeteer het in
hoofstukke 2, 7 en 8 – meer nog, presies soos wat dit ook opgeteken staan wêreldse
geskiedsliteratuur!
Babilon sou dus gevolg word deur Persië
as wêreldheerser en Persië sou die wêreld domineer vir ’n nagenoeg 150 jaar, tot
en met die koms van Alexander die Grote (336-323
v.C.).
Hierdie gebeure word ook vir ons akkuraat voorspel in Dan.11:3-4 ~ Dan sal
’n dapper koning op die toneel verskyn
wat oor ’n groot ryk sal regeer en sal
maak wat hy wil. 4Maar sy mag sal skaars gevestig wees of sy
koninkryk sal opgebreek en volgens die vier windstreke verdeel word. Dit sal
nie na sy nakomelinge oorgaan nie. Sy koninkryk sal omgekeer word en na
heeltemal ander persone toe oorgaan, en hulle sal nie die mag hê waaroor hy
beskik het nie. Daar was ook ’n akkurate profesie oor die regering van Alexander die
Grote in Dan.8:5-8 en dit was hierdie einste Alexander die Grote wat Babilon in
330 v.C. oorwin het
Daar is geweldig baie detail wat ’n mens
kan gee oor elk van die heersers en koninkryke wat hierna verskyn en verdwyn het
– so kan daar baie gesê word oor Alexander die Grote en sy opvolgers en al die
ander, maar ek dink nie dit is die doel van ons boodskap vandag nie en daarom
gaan ek nou verder net ’n kort samevatting van elk van die periodes gee.
Ons sien dan dat die geskiedenis waarvan
hier in Daniël 11 getuig word, strek van v.5 tot v.20 en dit handel oor die
konflik tussen die Noorde en die Suide, vanaf hulle totstandkoming in 322 v.C.
tot en met die sluipmoord op Seleucus Nicator IV.
Hierdie gebeure word in baie groter
detail in Daniël se profesie beskryf en die een regeerder se konflik word
opgevolg deur ’n ander se veldslae en die een koninkryk word deur ’n ander magsgebied
opgevolg. Daar was min sprake van vrede tussen gebiede en heersers en al
hierdie veldslae en regeerders en koninkryke, word haarfyn in Daniël beskryf,
maar die wonderlike daarvan is dat hierdie dinge aan Daniël geopenbaar word,
jare voor dit plaasgevind het en dit word deur wêreldse geskiedenisboeke jare
daarna bevestig!
Al hierdie gebeure in die geskiedenis
bewys maar net dat die Prediker se woord só waar is ~ Alles
tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs! Watter
voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son?
Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig
staan... ...alles
tevergeefs (Pred.1:2-4). Hiermee saam
is Ps.127:1-2 net so waar ~ As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat
daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit
beskerm, tevergeefs. 2Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat
gaan slaap om met moeite ’n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die
Here dit in hulle slaap. Maar bo dit
alles is dit maar net ’n bevestiging van God se soewereiniteit – ook oor
nasies, volke en heersers. Geen land en geen heerser en geen individu kan God
se werk vir Hom doen nie en dit ook nie vernietig nie. ’n Malema, of ’n Zuma,
of ’n Obama, of ’n wie ook al, kan maar net doen wat God hulle toelaat om te
doen en niks meer, of niks minder nie ~ Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en
Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige
Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, 28en hulle het alles gedoen
wat U vooruit beskik en besluit het (Hand.4:27-28).
Hierdie waarheid het groot waarde vir
elkeen van ons individueel, wanneer ons allerlei onsekerhede en konflik in ons
persoonlike lewens ervaar, want dan moet ons aan hierdie waarheid vashou, nl.
dat God soewerein en in beheer is – Jesus belowe in Matt.10:28-31 ~ Moenie
bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie.
Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat
vergaan. 29Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal
nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. 30Van
julle is selfs die hare op julle kop almal getel. 31Moet dan nie
bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”
·
Die tydperk van Antiochus (vv.21-35):
Na ’n tydperk van nagenoeg 15 jaar waarin
verskeie konings oor ’n groot gebied geregeer het (die Griekse gebied, Sirië en die suidelike dele van Klein-Asië), fokus vv.21-35
hoofsaaklik op die heerskappy van Antiochus IV.
Eintlik was Antiochus nie die volgende
koning in die lyn van heersers tot nou toe nie, maar wel Seleucus IV (’n Siriese koning). Na Seleucus se dood het Antiochus egter op agteraf wyse, die troon
bestyg – ons lees daarvan in vv.21-22 ~ Hy sal opgevolg word deur ’n veragtelike persoon wat geen koninklike
status besit nie, maar wat sy weg sal baan terwyl die mense niks vermoed nie en
wat die mag sal kry deur slinksheid. 22Hy sal die leërs van die
instromende mag voor hom wegvee en uitwis, ook die leier van die verbondsvolk.
Antiochus het allerlei bondgenootskappe
gesmee, maar dit behou net so lank as wat dit hom gepas het – soos wat ons bv.
in v.23 sien ~ Die veragtelike persoon sal troubreuk pleeg teen
die bondgenootskappe wat met hom aangegaan word en hy sal groot en sterk word,
al is sy nasie klein. As iemand hom teëgestaan het, het hy hulle net eenvoudig uit die weg
geruim (v.22)., insluitende
die Joodse Hoë
Priester van daardie tyd, Onias III wat moontlik die “leier van die
verbondsvolk” was, waarna v.22 verwys.
Oorlog tussen die suide en die noorde sou
gedurende hierdie tydperk weer opvlam (v.25).
Antiochus het egter op sy neus gekyk toe
hy Egipte wou oorwin en hy hom bloedneus geloop het teen die Romeine, omdat die
Romeinse aanvoerder hom oortuig het dat hy die stryd gaan verloor en hy die
aftog geblaas het. Terwyl Antiochus egter nog in Egipte was het ’n gerug dat hy
selfmoord gepleeg het, Juda bereik en het die Jode onmiddellik in opstand gekom
oor hul onderdrukking. ’n Lewendige Antiochus het egter Jerusalem binnegeval en
die dodetal in die heilige stad was geweldig groot. Hy het alle Joodse gebruike
summier verbied – soos bv. die besnydenis en die daaglikse offerandes by die Tempel
en in plaas daarvan het hy bv. varkvleis op die offeraltaar begin offer; hy het
die Allerheiligste onteer en die Tempel toegewy aan die afgod Zeus ~ Van die
koning se troepe sal die heiligdom en die vesting ontheilig. Hulle sal die
daaglikse offer afskaf en ’n ding oprig
wat ’n gruwel is vir God en wat
verwoesting aanrig (v.31). Sommige van
die Jode het ingegee onder die druk van vervolging en kragte saamgesnoer met
Antiochus, terwyl andere getrou volgehou het met hul aanbidding van God, met
die gevolg dat ons die volgende van hulle in v.33 lees ~ Verstandige
leiers van die volk sal leiding gee aan baie mense, maar ’n tyd lank sal hulle
doodgemaak, verbrand, gevange geneem en geplunder word.
·
Van sleg tot slegter (vv.36-39):
Dit is nie baie duidelik in vv. 36-39 of
daar steeds van Antiochus of dalk ’n nuwe regeerder gepraat word nie, maar wat
wel seker is, is dat dinge onder Antiochus baie sleg gegaan het, maar later sou
dit selfs nog slegter gaan in die wêreld.
Óf Antiochus óf die volgende koning of
konings, sou maak nes hy wou en hy sou homself verhef bo selfs die gode van daardie
tyd – hyself sou hom beskou as ’n god, groter as die ander vals gode; hy sou selfs
laster teen God Almagtig, want hoor wat sê v.36 ~ Die koning van die noorde sal maak soos
hy wil en sal hom verhef en hom groter hou as enige god. Selfs teen die ware God
sal hy ongehoorde dinge sê. Hy sal daarmee aanhou totdat die tyd van God se
toorn oor sy volk verby is, want wat besluit is, sal gebeur.
·
Die laaste dae (vv.40-45):
Wat wel duidelik uitstaan, is dat daar in
vv.40-45 ’n duidelike verandering in Daniël se taalgebruik plaasvind wat beslis
dui op ’n tydperk ná Antiochus – ’n tydvak wat oorgegaan het van ’n vorige
reeks konings tot ’n finale, laaste koning en ons sien dit in die beskrywing
van die dood van die koning in hierdie laaste verse van Daniël se visioen – ’n
beskrywing van die dood van die heerser van daardie tyd, wat nie die dood van
Antiochus pas nie, want Antiochus is dood tydens ’n klein veldslag teen die
Persiese Ryk in 164 v.C. en nie tussen die see en Jerusalem soos die laaste
verse aandui nie en dit is belangrik om hiervan kennis te neem, omdat die
voorafgaande verse presies soos beskryf, vervul is en daarom kan hierdie laaste
verse nie op Antiochus se dood dui nie en beskryf dit gebeure wat nog moet kom
– kom ons lees dit egter eers ~ In die eindtyd sal die koning van die suide hom
aanval, maar hy sal teen die koning van die suide opruk met strydwaens, ruitery
en baie skepe en sal die een land na die ander oorval soos ’n oorstroming. 41Hy sal selfs die
beloofde land inval. Baie lande sal voor
hom val, maar Edom, Moab en die beste dele van Ammon sal uit sy mag ontkom. 42Hy
sal sy mag uitbrei oor baie lande, en selfs Egipte sal nie ontkom nie. 43Hy
sal oor Egipte se skatte, sy goud, sy silwer, al sy kosbare dinge, beheer hê en
hy sal ook die Libiërs en die Kussiete onderwerp. 44Dan sal gerugte
uit die ooste en die noorde hom ontstel, en hy sal woedend optrek om baie mense
dood te maak en uit te roei. 45Hy sal sy koninklike tente opslaan
tussen die see en die pragtige berg waar die heiligdom staan. Maar dan sal hy
aan sy einde kom en niemand sal hom kan help nie.
Hier
is sprake van die welbekende uitdrukking, “die eindtyd” en wanneer baie mense
die woord “eindtyd” hoor, dink hulle onmiddellik aan dinge soos die “wegraping”;
die “Antichris”; Jesus se tweede koms, ens. So hoor ons nou al weer uit
allerlei oorde dat ons (al weer?) in die eindtye leef en dat Obama die Antichris
is, omdat daar nou sprake daarvan is dat hy aangekondig het dat alle
Amerikaners ’n mikroskyfie moet kry ten einde te kwalifiseer vir mediese
dienste.
Wanneer
en wat is die “laaste dae”? Die “Despensasie-literatuur” (Charismatiese-
en Pinkstergroepe) en
uitsprake wat ongelukkig aan die orde van die dag is en wat handel oor dinge
wat sg. gaan gebeur net voor en tydens Jesus se koms (bv.
die wegraping; groot verdrukking; millennium tydperk van Christus se regering
vanuit Jerusalem, ens.)
wys duidelik daarop dat hierdie groepe, gryp na allerlei politieke
gebeurtenisse en natuurverskynsels in ons tyd om te waarsku dat dit nou “sulke
tyd” is (hulle doen dit al vir dekades lank en dit
hou net aan en aan).
Die
Bybelse fokus van die “laaste dae” val egter op heeltemal ander gebeure – dit
fokus op die lewe van Jesus Christus, wat die meeste Ou Testamentiese profesieë
vervul het met Sy vleeswording en wat sentraal staan in die hele verlossings
geskiedenis van die mensdom. Die Ou Testament getuig van die profesieë
aangaande die Verlosser en die Nuwe Testament getuig van die vervulling
daarvan, daarom dat Jesus in Joh.5:46 sê ~ ...dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Christus is dus die
skeidslyn in die wêreld se geskiedenis, daarom dat die wêreld (selfs
die heidense wêreld!) die
afkortings v.C. en n.C. gebruik.
Die
tydperk wat Jesus op aarde was, word ook die Messiaanse era genoem en die Woord
verwys gedurig na hierdie tydperk as die Nuwe Verbondstydperk en ook “die
laaste dae”. ’n Goeie verwysing hier is bv. Dan.2 waar dit handel oor
Nebukadneser se droom en hoe die Rots, Jesus Christus uiteindelik al wat
koninkryk is, gaan vernietig (vv.34-35). Daar
word deurgaans in die Ou Testament geprofeteer oor die “laaste dae” en dan word
daar deurgaans verwys na die eerste koms van die Messias – die “laaste dae” het
dus begin met die eerste koms van Jesus en hou steeds aan tot in ons dag.
Toe
Christus die eerste keer gekom het, het die “volheid van tyd” plaasgevind.
Gal.4:4 (OAV) verwys dan ook o.a. hierna ~ Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy
Seun uitgestuur...
(sien ook Matt.4:17; Mark.1:15). Ons vind nog ’n pragtige
voorbeeld hiervan in Hebr.1:1-2 ~ In die verlede het
God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar
nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom
deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Jesus Christus het dus gekom ten einde die
era van die “laaste dae” in te lui en daar seker geen beter bewys daarvan as
Paulus se woorde in 1 Kor.10:11 is nie (ek lees van
v.9 af) ~ Laat ons
Christus nie uittart nie, soos sommige van hulle Hom uitgetart het, en hulle
het deur slange omgekom. 10En moenie teen God in verset kom nie,
soos sommige van hulle in verset gekom het, en hulle het deur die engel van die
dood omgekom. 11Hierdie dinge het oor hulle gekom as ’n voorbeeld
vir ons en is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al
beleef.
Hierdie “laaste dae” (meervoud) sal aanhou tot op die “laaste dag” (enkelvoud)
en wanneer is
hierdie laaste dag? Joh.6:39 ~ En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy
My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste
dag uit die dood sal laat opstaan – die dag wanneer Christus weer gaan kom (Sy
tweede en finale koms).
Die
eerste gelowiges het dus alreeds in die “laaste dae” geleef en hierdie laaste
dae duur voort en daarom leef ons ook tans nog in die “laaste dae” en dit sal
aanhou tot en met die “laaste dag” wanneer Christus weer op die wolke gaan
terugkeer – daar gaan dus geen nuwe era wees nie – geen millennium tydperk van
groot vrede en vreugde wanneer Christus vir ’n duisend jaar saam met die
gelowiges vanuit Jerusalem gaan regeer nie – daar is nie drie tydperke in die
wêreldgeskiedenis nie – daar is net twee en ons leef in die tweede – die
“laaste dae”! (dit
is dus nie nodig om skuldig te voel dat julle nie Hebreeus leer soos so vele
van ons Charismatiese broers nie, want Christus gaan vanuit ’n hemelse Jerusalem
regeer!).
Maar
terug na Dan.11:40-45. Wanneer ons na hierdie gedeelte kyk, moet ons 12:1-2 hiermee
saamlees ~ In
daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou,
op die toneel verskyn. Dit sal ’n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit
was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die
boek opgeskryf is, gered word. 2Baie van dié wat ontslaap het, sal
uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en
veragting.
Dit gaan hier, sonder om hoofstuk 12 nou vooruit te loop, oor die feit dat
Israel die begraafplaas van God se oordele oor Israel gaan word. Luk.2:34
verwys ook na hierdie tydperk ~ Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie
Kindjie is bestem tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel en tot ’n
teken wat weerspreek sal word.
Sommige sal in Jesus glo en andere nie en dan natuurlik ook Matt.24 waar ons
sien dat Jerusalem en die Tempel en daarmee saam die Ou Verbond uiteindelik
vernietig sal word in 70 n.C.
3. TOEPASSING:
Wat
moet ons as huidige gelowiges egter uit hierdie profesie en geskiedenis neem?
Gedurende
hierdie tydperk waaroor Dan.11 se profesie gaan, sien ons hoe gelowiges swaargekry
het – selfs gedood is vir hul geloof – ons het dit vanaf Ester gesien en reg deur
die eeue heen tot en met Christus se koms. As ons, ons lewe vergelyk met hulle
s’n, dan moet ons, ons koppe in skaamte laat sak oor ons dikwelse opstand en
ongelukkigheid wanneer ons bietjie swaarkry, maar die lesse wat hierdie
profesie vir Daniël en sy volksgenote en ook die geslagte ná Daniël wou leer, is
net so van toepassing op ons in ons omstandighede, hoe gering, of hoe ernstig
ook al.
Daniël
wil ons vier imperatiewe (opdragte) leer, nl. glo, weerstaan, bid
en onderrig.
·
Glo: Ons lees in Dan.11:32 ~ Die
koning sal dié wat aan die verbond ontrou is, deur vleiery verlei tot
afvalligheid, maar die mense wat
hulle God ken, sal vasstaan. Dit is diegene wie God die Vader
ken, wat vas sal staan in tye van swaarkry. Geloof in God se soewereine mag
soos geopenbaar in Daniël se profesie, is die basis vir volharding; vir ons
hoop; vir ons oorwinning. Geskiedenis is dus nie maar net ’n weergawe van ’n klomp
deurmekaar gebeure en sketse van ’n klomp korrupte en vervloë mense en heersers
nie – nee, dit is God-geskrewe en God-bepalende gebeure wat vir ons gegee word
om God se soewereine hand in wêreldgebeure raak te sien. Ons moet God beter
leer ken deur die Woord en dit glo, ten einde vas te kan staan in tye van
beproewing.
·
Weerstaan: Ons word tweedens geroep om te alle tye
versoekings te weerstaan en getrou te bly aan God en Sy Woord. Ons het gesien
hoe die Jode onder Antiochus kompromie gemaak en hul geloof versaak het. Mag en
getalle kan baie aanloklik lyk ~ Die koning sal dié wat
aan die verbond ontrou is, deur vleiery verlei tot afvalligheid, maar die mense
wat hulle God ken, sal vasstaan (Dan.11:32). Diegene wie God ken en in Hom glo
en versoeking en vleiery weerstaan, sal volhard tot die einde toe, selfs al het
ons getrouheid, martelaarskap tot gevolg – Jesus sê in Matt.10:28 ~ Moenie
bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie.
Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat
vergaan.
·
Bid: Ons moet verstaan dat die geveg teen
onderdrukkers en ons eie emosies en beproewing, nie gewen word deur staat te
maak op bloot net ons eie krag en insig nie, maar dit moet gepaard gaan met
gebed. Daniël het gebid en die hemele is in beroering gebring en sy gebed is
verhoor en God het hom te hulp gekom.
·
Onderrig: Ons
word in laaste plek opgeroep om almal rondom ons te onderrig. Ons naaste
behoort te weet dat geskiedenis – Bybelgeskiedenis spesifiek, deur God bepaal word
om 'n baie goeie rede en ons word geroep om dit aan hulle te vertel – Dan.11:33
~ Verstandige leiers van die volk sal leiding gee aan
baie mense. Ons word daagliks omring deur mense wie net
ingestel is op die huidige en dit wat rondom hulle aan die gang is – ons het ’n
roeping om aan hulle te vertel dat God se Woord ook oor die toekoms praat – ’n
toekoms waarin diegene wie volhard in hul ongehoorsaamheid aan God, geoordeel
gaan word.
Ek het Donderdagoggend ’n wonderlike
getuienis gelees wat ons só sterk moet motiveer om die boodskap van redding uit
te dra en ek weet dit gaan nou meer tyd as gewoonlik in beslag neem, maar ek móét
dit ter motivering met julle deel – ek gaan dit kort probeer hou en opsommend
aan julle deurgee, maar die volledige getuienis kan gelees word by: http://thegospelcoalition.org/blogs/tgc/2014/04/30/the-storm-is-coming/.
Die titel
van die stuk is “The storm is coming”
deur Betsy Childs en sy vertel in hierdie artikel hoe sy opgegroei het in
Alabama (V.S.A.)
waar dodelike tornado’s in 2011, 238 mense dood agter
gelaat het. Sy vertel dat Tornado-waarskuwings gereeld in daardie area gegee
word en omdat sy daar groot geword het, het sy, net soos die meeste ander, haar
nooit regtig aan die waarskuwingseine en –berigte gesteur nie – jy raak
afgestomp daarvoor, maar sedert Maart 2011 het haar gesindheid radikaal
verander, nadat sy die dodelike- en verwoestende gevolge van 199 tornado’s in
’n paar dae in Alabama ervaar het.
Sy sê dat die tragiese van die hele
situasie was dat hulle geweet het dat tornado’s op pad was, want hulle was dae
voor die tyd al deur o.a. die Weerburo gewaarsku, maar hulle het hulle nie
daaraan gesteur het nie, want hulle wou eers regtig sien of dit gaan gebeur.
Sommige het ná die eerste paar kleiner tornados, waarin slegs 3 mense dood is,
nie die volgende waarskuwings gehoor nie, omdat hulle kragtoevoer vir dae lank
onderbreek was en hulle nie TV kon kyk nie en hul selfone nie gelaai kon word
nie, maar dan was daar andere wat steeds toegang toe die media gehad het en
nogtans steeds die houding gehad het van, ons
wil eers die tornado’s sien, voor ons dit glo en dan sal ons skuiling soek.
Een persoon het na die tyd vertel dat hy dit net betyds gemaak het, soveel so
dat die sinkplate en bakstene van geboue rondom hom, alreeds teen die valdeur
van hulle skuiling begin val het, terwyl hy in die proses was om dit toe te
maak – net betyds dus! 238 mense en nog meer beseerdes het dit op die oggend
van 27 April 2011 waarskynlik ook gedoen, maar hulle was te laat.
Betsy Childs gaan voort en vra wat dit met
die Evangelie te doen het? Die Woord van God is vol waarskuwings van ’n “vernietigende
storm” wat in ons rigting op pad is – die storm van God se gramskap (wrath) ~ Hy wat in die Seun glo, het die
ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie,
maar die toorn van God bly op hom (OAV – Joh.3:36 –
sien ook Rom.2:5). Daar is egter ’n “skuiling” beskikbaar
wat deur God self voorsien is, nl. Sy Seun, Jesus Christus. Christus se bloed
wat ons van God se gramskap sal beskerm, soos wat die Paaslam die Israeliete
teen God se doodsengel beskerm het. Niemand sal egter skuiling soek in Christus
as hulle nie weet dat “Sy tornado” op pad is nie en daarom moet ons die
“weerberigte” en “waarskuwings” na hulle uitdra.
’n Verloregaande wêreld sal nie die
realiteit van God se gramskap glo voor dit op hulle neerdaal en dit te laat is
nie. Eerstens moet ons sorgdra dat ons nie ook onder hulle is nie, maar
andersyds moet ons hierdie “waarskuwingseine” duidelik en helder “uitsaai” ~ ...Kyk,
nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding (2
Kor.6:2b).
Ek vra myself en vir julle af: As ons in
Alabama woon en ons sien die donkerwolk met sy slurp wat teen ’n geweldige
spoed op ons afpeil en ons Tornado-skuilplek is tussen ons en ons bure, sal ons
daarheen hardloop, sonder om vir ons bure al hardlopende te skreeu en te waarsku,
of sal ons ook vir hulle skreeu om dadelik skuiling te soek, omdat hulle dalk
nie die waarskuwingsboodskappe gehoor het, of hulle nie daaraan gesteur het
nie?
N.s.: Nog ’n pragtige vergelyking is dié
wat Ray Comfort gebruik – hy skryf op sy webtuiste (www.livingwaters.com): When surfing first began, surfboards were much longer
and surfers would kneel on their boards and paddle in that position, rather
than lying down. In large surfs this had a great advantage, enabling us to
stand on our boards to see if any large sets of waves were on the horizon.
One would often hear a surfer call out, “Big set coming!” Others would
quickly begin paddling toward the horizon, because they didn’t want to get
caught “inside,” and have gigantic waves break on them.
If a surfer found himself caught within the breaking area, he had a
choice. He could either hold onto his board and allow tons of water to break
upon him, or he could get off his board, thrust it away from his body, and dive
deep into the water to escape the crushing power of the waves. If he choose to
stay with his board, he took his life into his hands. If the board was ripped
from his hands and hit his head, he could drown—so it was wise to push it as
far away as possible.
For thousands of years the prophets have called, “Big set coming!” The
coming of the great and terrible day of the Lord is closer than when we first
believed. All human beings have a choice. They can either cling to their sins,
or thrust them far from them and dive deep into the mercy of God, which is
available only in Jesus Christ. Those who choose to hold onto their sins will
find that what they love will turn against them, become evidence of their
guilt, and be the death of them.
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 04 Mei 2014