1. INLEIDING:
Een middag gedurende Mei 1738 was ’n man in die St.Paul's Katedraal in Londen (vir my een van die mooiste katedrale in Europa). Hy was baie diep geraak deur ’n lied wat daar gesing was – dit was Ps.130. Gedurende die aand het hy in ’n huisgemeente in Aldersgate na ’n voorlesing van Martin Luther se inleiding tot Romeine geluister. Met die sing van Ps.130 nog vars in sy geheue, tesame met die aanhoor van Luther se preek, kon hy net nie meer weerstand bied teen die inspraak van die Heilige Gees nie en kom hierdie man, genaamd John Wesley, tot radikale bekering en glo hy in die Evangelie van Jesus Christus.
Martin Luther het Ps.130 ’n Pauliniese Psalm genoem – nie omdat Paulus dit geskryf het nie, maar omdat hierdie Psalm dieselfde klem op vergifnis uit genade plaas, as wat Paulus daarop plaas.
Beide Psalms 130 en 131 moedig Israel aan om hulle hoop in God te vestig (Ps.130:7; Ps.131:3). Beide Psalms gebruik ook dieselfde poëtiese styl, deur die hoofgedagte te herhaal.
Daar word beweer dat die 15 Psalms wat tuishoort onder die "Pelgrimsliedere" of "Bedevaartsliedere" (Engels: "The Psalms of Ascent") en waarvan Ps.130 deel is, gesing is tydens die jaarlikse feeste wat in Jerusalem gehou is en dan spesifiek wanneer die pelgrims die stad binnegestap het en wanneer hulle die trappe opklim na die Tempel (2Kon.23:2; Neh.12:37; Ps.42:4; 122:1-2; 132:7). Die opskrif van hierdie Psalm (v.1a) bevestig dan ook vir ons hierdie feit, nl. dat dit ’n lied is wat deur die Pelgrims gesing was
2. SKRIFLESING:
Kom ons lees Psalm 130 saam:
130 ’n Pelgrimslied.
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
3As U ons sondes
in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
4Maar by U ís daar vergifnis:
daarom word U steeds gedien.
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.
Hierdie Psalm kan onder twee opskrifte verdeel word, nl.:
· Gebed om genadige vergifnis (vv.1b-6);
· Belofte van oorvloedige verlossing (vv.7-8)
3. GEBED OM GENADIGE VERGIFNIS (vv.1b-6):
Die openingswoorde van hierdie Psalm skets vir ons ’n prentjie van die skrywer van hierdie Psalm wat in "diep waters spartel" en dit laat ’n mens dink aan die woorde in Ps.69:2-3, waar die Psalmis sê ~ Verlos my, o God, want die waters het tot by die siel gekom. Ek sink in grondelose modder waar geen staanplek is nie; ek het in waterdieptes gekom, en die stroom loop oor my. Die Psalmdigter ervaar vrees en wanhoop net aan die gedagte van die dood en hy vergelyk dit met verdrinking. Al weet ons nie wat sy omstandighede was wat hom so laat voel het nie, kan ons aanvoel dat hy depressief moes gevoel het. Hy voel wanhopig oor sy omstandighede – hy is op die randjie tussen lewe en dood – hy is tot oor sy ore toe in die modder vasgevang – hy is ver van ’n veilige en vertroostende hawe.
Ons sien dus dat die openingswoorde ~ Uit die dieptes..., na die valleie van die lewe verwys - valleie waardeur almal van ons op een of ander stadium of stadiums van ons lewe gaan, a.g.v. ons sonde.
Die paradoks hiervan is dat dit nie saak maak hoe eensaam of leeg die Psalmis voel nie, hy weet steeds dat God nie ver is nie, want hy het reeds vantevore God se genade en vergifnis ervaar.
Soortgelyke ervarings het baie dikwels in ons lewe tot gevolg dat ons net voort ploeter met ’n sukkelgang, in die hoop dat God ons weer op een of ander stadium sal vergewe. Dit is amper soos om die tyd om te kry gedurende lang slapelose nagte en te hoop dat die nag tot ’n einde sal kom en die daglig tog net op een of ander stadium sal aanbreek.
Die Psalmis lê egter nie "slapeloos en rondrol" nie. Nee, hy roep God aan en hy doen dit deur Hom drie keer op twee van Sy Name aan te roep en hy gebruik dit elke keer in dieselfde volgorde. Die E.S.V. en die N.K.J.V. vertaal dit pragtig en korrek, wanneer dit sê ~ Out of the depths I cry to you, O Lord! 2O Lord, hear my voice! (v.1-2). ...If you, O Lord, should mark iniquities, O Lord, who could stand? (v.3). En v.5-6 ~ I wait for the Lord, my soul waits, and in his word I hope; 6my soul waits for the Lord. Elke keer word die eerste naam van God gebruik, nl. die oorspronklike Yahweh (Ek is wat Ek is - Gen.3:13) wat God se verbondsverhouding met Sy kinders beklemtoon. Die tweede naam wat gebruik word, is Adonai (God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde - Gen.14:19-20) wat God as Skepper van die Heelal beklemtoon. Waarom gebruik die Psalmis hierdie rymvorm? Hierdie "spieëlvorm-struktuur" word juis gebruik deur die Psalmdigter, ten einde die fokus op God, Sy enigste Helper, te vestig.
Ons vind ’n herhaling van die woord "luister" of "hoor" in v.2 en mag moontlik daarop dui dat die Psalmis sy hulpgeroep verbaliseer – hardop uitspreek, eerder as om in stilte te bid. Dit is asof hy sê ~ Here, LUISTER TOG na my, Here, HOOR TOG my hulpgeroep.
Verse 3 en 4 kan die Psalmis se "blootstelling" genoem word, want hulp en vergifnis is nie op hierdie stadium deel van die Psalmis se denke nie – al waaraan hy nou dink, is dat God alles weet en dat Hy beslis nie sy sonde gaan miskyk nie. God sal en gaan hom verantwoordelik hou vir sy sonde – hy sal nie ongestraf bly nie! Hy impliseer dus, sonder om direk daaroor te praat, dat hy vergifnis nodig het. Hy erken en sê dat hy skuldig is en dat, as Jahweh hom gaan straf, hy dit nie sal kan ontduik nie.
In v.4 fokus hy primêr op die probleem van sonde en die oplossing vir sy probleem. Hy glo dat God hom sal vergewe van al sy oortredinge, al sal daar moontlike gevolge vir sy oortredings wees. Ons het verlede week gesien dat sonde gewoonlik lang termyn gevolge inhou – dink bv. aan iemand wat harde dwelms oor ’n lang tydperk misbruik – sy verstand word aangetas. Promiskuïteit lei baie dikwels tot HIV, of iemand wat ’n moord sou pleeg – hy mag vergifnis ontvang, maar hy moet steeds die gevolge van sy sonde dra, deur verstandelik geremd te wees; of terminaal siek te wees; of om tronk toe te gaan.
Vergifnis het verkeerdelik, baie dikwels vrees tot gevolg – jy word vergewe, sodat jy God voortaan kan vrees – vrees dat jy Hom nooit weer sal teleurstel nie; vrees dat jy dalk weer Sy wraak sal ervaar; of vrees dat jy ’n swak getuie vir Hom was of mag wees en bowe al, vrees jy Hom omdat jy diep onder die besef van Sy heiligheid gekom het.
Ons vergifnis moet wysheid tot gevolg hê. Wat die Psalmis se probleem ook al mag wees, hy is skuldig aan sonde en hy bely dit en nou wag hy op God se vergifnis. Ons moet verstaan dat God ons nie altyd dadelik vergewe nie, baie keer is dit ’n proses oor ’n lang tydperk, want dit is óns wat traag is om ons hartseer, of depressie, of ontnugtering, ens. te verwerk en te verstaan. Daarom dat vergifnis en om te wag, baie dikwels hand aan hand gaan.
Onder watter omstandighede vergewe God ons?
· Ons moet waarlik berou hê oor ons sonde.
· God is heilig en Sy vergifnis is heilig en volkome. Vergifnis vra dus van ons dat ons sal glo dat Jesus aan die kruis vir ons sonde gesterf het en ons moet glo dat ons volkome vergewe sal word.
· Ek moet waar nodig en waar moontlik, restitusie doen vir my sonde. Ek moet ook my sonde teenoor diegene teen wie ek gesondig het, bely en om vergifnis vra. Ek moet bereid wees om na die oortreder te gaan (broer/suster) om die saak te probeer beredder sodat versoening bewerkstellig kan word. In die geval van vreemdelinge – as versoening nie moontlik is nie, moet ek die vreemdeling vergewe en vergeet van die oortreding.
Iemand het eenkeer gesê: Repentance is a change of mind. It is a change of attitude from arrogance to an attitude of submission. 2Kor.5:18-20 is hier vir ons die maatstaf ~ Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou. 20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!
Indien ons verwag dat God ons moet vergewe, moet ons ook...
· Bereid wees om andere teen wie ons sondig, te vergewe.
· Ons moet bereid wees om ons kruis op te neem en bereid wees om verguising te verduur (to be wronged).
· Ons moet bereid wees om te vergewe selfs voor daar getuienis van ’n oortreding teen my is.
· Ons moet vergewe ongeag wat die oortreder se optrede behels.
God sien ons hart en Hy weet of ons opreg berou het oor ons sonde of nie.
Die Psalmis het in vv.3-4 primêr op die probleem van sy sonde en die oplossing vir sy probleem gefokus, maar noukom hy in v.5 en hy sê ~ Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Hy is hoopvol en in afwagting op God se reaksie en daarom bevestig hy herhaaldelik sy vertroue in die Here. Hy reik in volle verwagting uit na God en wag geduldig dat die Here se belofte van verlossing in vervulling sal gaan.
Hierdie lied was as gebed, waarskynlik ook gedurende die nag, of vroeë oggendure gebid en gesing en omdat ons nie werklik weet wie die outeur van hierdie Psalm is nie, kan ons baie maklik aanvaar dat dit Dawid is wat hier aan die woord is, terwyl hy treur oor sy sondige owerspel met Batseba en die kind wat in die proses verwek is en nie baie lank daarna, gesterf het. Ons is egter nie seker of dit Dawid is nie, maar wat wel seker is, is dat die skrywer van hierdie Psalm ook worstel met sy sonde, maar hy is vol vertroue dat God op Sy perfekte tyd, verlossing en vergifnis sal skenk, want God is ’n God van genade en vergifnis, indien ons berou oor ons sonde het en ons, ons opreg daarvan bekeer.
Ons lees in v.6 dat die Psalmis sê ~ Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre. Die wagte wat destyds gedurende die nag wag gestaan het op die stadsmure, was pynlik bewus van die tyd, omdat die ure gedurende die laatnag en vroegoggend, baie lank kan raak, trouens hulle was só bewus van die tyd, dat mense hulle baie dikwels "die uur van die nag" (die tyd) gevra het – ons sien dit bv. in Jes.21:11-12 ~ Iemand roep na my van Seïr af: “Wag, wanneer is die nag verby? Wag, wanneer is die nag verby?” 12Die wag antwoord: “Die môre het gekom, maar dit is nog nag. Wanneer die oggendstond uiteindelik aanbreek en die tyd van werklike gevaar begin vervaag, kom ’n ander wag om die een wat gedurende die nag wag gestaan het, te vervang. Enige iemand wat al gedurende die nag wag gestaan het, weet wat ’n verligting dit is wanneer die horison in die ooste rooi begin verkleur.
Net soos die wagte op die destydse stadsmuur op die môrelig gewag het, so wag die Psalmis op sy verlossing en vergifnis met ’n vaste hoop en vertroue en wil hy ons terselfdertyd aanspoor om saam met hom te wag op God se reaksie op ons hulpgeroep. Ons moet vertrou dat die Here weer lig sal gee ná donker dieptes wat ons lewe bedreig en baie dikwels sinloos maak.
4. BELOFTE VAN OORVLOEDIGE VERLOSSING (vv.7-8):
Die Psalmis spreek egter ook sy volksgenote aan, deur vir hulle te sê dat ook hulle op God moet wag. Wat dus vir die individuele Psalmskrywer geld, geld ook vir die volk in geheel (Ps.25:22). God het nie Sy volk verlaat nie en Hy sal hulle ook nie afskeep, of Sy verbond met hulle verbreek nie. Trouens, Hy sal Sy kinders geheel en al verlos van hul sonde (v.8).
Dit is so asof die Psalmis sy volksgenote wil herinner aan hul voorgeslagte se omswerwinge in die wildernis – 40 jaar en tog, uiteindelik het hulle nageslag die Beloofde Land binnegaan. Die Israeliete se Babiloniese ballingskap het vir 70 jaar geduur en tog, uiteindelik kon die volk weer na hul geliefde Israel terugkeer.
In geval van die Israeliete het belydenis van sonde nie hul onmiddellike terugkeer na Kanaän verseker nie, trouens baie Israeliete het nooit weer die Beloofde Land gesien nie en ook nie hul eie herstel of restourasie ervaar nie – MAAR, volkome herstel sou nog kom en daaraan het hulle vasgehou, sê die Psalmdigter, maar intussen moet die gelowiges hul fokus vestig op hul Verlosser en op Hom vertrou.
Is die Psalmis se uitsprake bloot net toegespits op God wat ons uiteindelik uit hierdie wêreldse probleme gaan verlos, of wil die Psalmis hê dat sy lesers die versekering moet hê dat hulle verlossing op ’n geestelik vlak lê – m.a.w. die vergifnis van sonde? Die kern van Ps.130 en die verklaring vir hierdie vraag, lê opgesluit in vv.7-8 en daarom is dit belangrik dat ons dit reg sal verstaan.
Eerstens is daar die woord "verlos" of "verlossing". Die Hebreeuse woord vir "verlos", of "verlossing", is ’n boekhou term. Eers het jy ’n debietinskrywing op jou rekening (jy het skuld) en dan word daar ’n betaling gedoen – dit is ’n kredietinskrywing en dan is die balans op jou rekening nul. Anders gestel, jou skuld is nou gedelg.
Die Psalmis sê egter nie vir ons watter vorm hierdie betaling aanneem nie, m.a.w. hoe dit betaal word nie – ook sê hy nie deur wie dit betaal en aan wie dit betaal word nie.
’n Tweede woord waarna ons moet kyk vind ons aan die einde van v.7. Die O.A.V. lees as volg ~ Wag op die Here, o Israel! want by die Here is die goedertierenheid, en by Hom is daar veel verlossing – let op die uitdrukking ~ veel verlossing – hierdie uitdrukking kom glad nie voor in die N.A.V. Die N.K.J.V. het dit reg as dit sê ~ O Israel, hope in the Lord; For with the Lord there is mercy, And with Him is abundant redemption – abundant redemption. Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word vir "abundant" of "oorvloedig" word nie baie in die Ou Testament gebruik nie – behalwe vir hier in Ps.130, word dit ook in Ps.111:9; Eks.8:19 en Jes.50:2 gebruik. Om hierdie uitdrukking abundant redemption te vertaal is baie moeilik, omdat God se oorvloedige verlossing, bo ons denke is, want dit hou nooit op nie en dit is van toepassing op alle sonde wat ons begaan.
Indien hierdie verlossing op ’n historiese vlak sou lê (Hy het verlos), verwys dit na die volk Israel wat jaarliks na die Tempel gekom het om die Here te loof en te prys vir hul verlossing van die Babiloniese ballingskap. Indien hierdie verlossing op ’n profetiese vlak lê (Hy gaan binnekort verlos), dan verteenwoordig dit Israel wat op hul jaarlikse pelgrimstog gaan en dan hoop op verlossing van die bedreiging van een of ander vyandelike bedreiging of katastrofe, soos ’n plaag of hongersnood, ens. Indien hierdie verlossing op ’n eskatologiese vlak lê (Hy gaan uiteindelik verlos), dan gaan dit oor die verwagting wat Israel het dat God uiteindelik Sy verbondsbeloftes gaan vervul en aan hulle ’n permanente vredestaat skenk en so ’n staat kan natuurlik net onder die Messias tot stand kom.
As ons na Ps.25:22 kyk, sien ons dat hierdie verlossing op ’n eskatologiese vlak lê – daar staan ~ O God, red Israel uit al sy nood. Dit dui op die algehele, volkome, aanhoudende en ewige vergifnis van ons sonde deur die Here God – geen wonder dat hierdie Psalm gekies is om gedurende die Fees van die Groot Versoendag gesing te word nie!
Geliefdes, hierdie verlossing en dan spesifiek ons verlossing en ons verligting uit ons sondelas lê in die toekoms – ons moet vashou aan ons geloof in Christus Jesus en Hom vertrou vir ons volkome verlossing – vir ons "in besit neem" van ons "Beloofde Land" (ons ewige erfenis). 1Pet.3:15 lees as volg ~ In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Deel van ons getuienis teenoor die wêreld lê daarin opgesluit in hoe die wêreld sien hoe ons, ons eie sonde hanteer. Sien ons met rykhalsende verlange uit na die ewige lewe – daar waar geen sondelas meer op ons skouers gaan lê nie? Beskik ons dus oor ’n ewigheidsperspektief?
6. TOEPASSING:
Die mees basiese, maar tog ook die ernstigste en grootste behoefte waaroor die mens sekerlik mag beskik, is ’n behoefte en nood aan vergifnis. Ons moet besef dat geen mens hierdie belofte van verlossing kan verdien, of kan ontvang, sonder God se genade, of as ons nie in die regte verhouding tot God staan nie.
Ons moet terselfdertyd besef dat geen omstandigheid waarin ons, onsself mag bevind, ons ooit kan skei van God se liefde nie.
Om egter God se verlossing te ervaar moet ons op ’n punt kom waar ons, ons sondige toestand opreg bely en vra om God se onverdiende genade en vergifnis. Ons moet terselfdertyd besef dat belydenis van sonde nie alleen genoeg is ten einde ons verhouding met God te herstel nie – opregte en radikale bekering van ons sonde is ook nodig.
Laastens moet ons bereid wees om geduldig te wag op genesing van die natuurlike gevolge van ons sonde. Baie dikwels laat dwelmmisbruik permanente en fisiese letsels en sal so ’n persoon moet leer om, ten spyte van sy vergifnis wat hy ontvang en die feit dat hy homself opreg bekeer het, daarmee saam te leef.
As iemand ontrou was aan sy eggenoot, of eggenote, moet so ’n persoon besef dat dit baie dikwels jare sal neem alvorens die verbreekte vertrouensverhouding herstel sal word.
’n Voortdurende gebrek aan getrouheid aan God, kan tot gevolg hê dat jou kinders kan sukkel om te glo, ens.
Ons moet leer om geduldig, maar ook getrou te wag sodat die gevolge van sonde genees kan word – ja, ons hemelse Vader vergewe ons onmiddellik na opregte belydenis en bekering, maar dit neem tyd vir die gevolge van ons sonde om te genees.
Ten spyte van hierdie realiteite is dit egter steeds noodsaaklik dat ons heilige lewens sal lei ten einde verseker te wees van ’n voortgesette verhouding met ’n heilige God. Johannes skryf in 1Joh.1:8-2:2 ~ As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 10As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie. 2 Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig—ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. 2Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
Herstel van die verhouding tussen ons en God begin deur ons fokus uitsluitlik op God en God alleen te plaas. Nes Israel van ouds moet ons ook besef dat ons oor ’n eskatologiese hoop beskik (Rom.8:23-39) wat uiteindelik tot ons verheerliking sal uitloop – en daarvoor moet ons soos die wagters op die stad se mure, met verwagting, geduldig en getrou wag (1Pet.1:4-9) en saam met Johannes in Openb.22:20 uitroep ~ Amen! Kom, Here Jesus!
7. BID PSALM 130:
Vader....
· Wees my genadig en verhoor my gebed (vv.1-2).
· My sonde is geweldig en ek verdien dat U, U toorn oor my laat losbars (v.3).
· My hart loop oor van dankbaarheid vir die vergifnis op my sonde wat ek deur Jesus Christus, van U ontvang (v.4).
· My hoop is in U en op grond van Jesus Christus se soendood gegrond en daarom kan ek saam met Johannes uitroep ~ Amen! Kom, Here Jesus! (Openb.22:20) (vv.5-6).
· Dankie dat ek volkome van al my sonde vergewe is (vv.7-8).
[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Baptiste Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 11 September 2011