1. SKRIFLESING:
Joh.1:35-51 ~ Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. 36Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!” 37Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. 38Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi”—dit beteken leermeester—“waar gaan U tuis?” 39Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly. 40Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. 41Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus. 42Hy het hom na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus. 43Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!” 44Filippus was van Betsaida afkomstig, van dieselfde dorp as Andreas en Petrus. 45Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.” 46Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” “Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord. 47Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is ’n ware Israeliet, ’n man in wie daar geen bedrog is nie.” 48Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?” “Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.” 49Toe roep Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel! 50Daarop sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.” 51Verder sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe.”
2. INLEIDING:
Ons het verlede week gesien dat Johannes die Doper se primêre roeping was om Jesus aan die mensdom te openbaar.
Nou, in hierdie laaste gedeelte van hoofstuk een, sien ons hoe dat Johannes se bediening tot ’n einde kom en sy volgelinge Jesus begin navolg.
Wat gebeur dus hier? Die manne wat Jesus begin navolg, was manne wat onder die getuienis van Johannes die Doper, bewus geraak het van Jesus as die Lam van God wat gestuur is om die mensdom se sonde weg te neem.
Toe Jesus weer na die plek kom waar "die Doper" besig was om te preek en mense te doop, het Jesus se eerste dissipels Hom onmiddellik herken as die Messias en neem hulle ’n spontane besluit om Hom te volg. Dit is dus belangrik om daarop te let dat Johannes nié sy volgelinge stuur of aanmoedig om Jesus na te volg nie en ook roep Jesus nie die dissipels om Hom na te volg nie. Die besluit berus dus by die volgelinge self.
Ons moet ook in gedagte hou dat Johannes nie die dissipels wat Jesus begin navolg, sien as sy dissipels wat hy nou verloor het nie, want Johannes het nie dissipels vir homself bymekaar gemaak nie – nee, hy het in die woorde van Luk.1:17, dissipels vir Jesus bymekaar gemaak en hulle slegs voorberei op die koms van Jesus – sy grootste begeerte was om Jesus te kon ontmoet en dan sy dissipels te kon "oorgee" aan Jesus.
3. CHRISTUS SE EERSTE VYF DISSIPELS:
· Andreas en Johannes (vv.35-40):
Twee van Johannes se dissipels is by hom toe hy Jesus aan hulle uitwys en sonder huiwering volg hulle Jesus. Die een se naam is Andreas, die broer van Simon Petrus wie ons in v.43 gaan ontmoet, maar die ander een se naam word nie vir ons genoem nie. Van die vroegste tye af word daar geglo dat hierdie "ongeïdentifiseerde" dissipel, Johannes die skrywer van hierdie Evangelie was, maar daar bestaan geen bewyse hiervoor nie.
Soos reeds gesê, het die twee dissipels, toe hulle Jesus sien, Johannes agtergelaat en Jesus onmiddellik begin volg. Die werkwoord vir "volg" in hierdie geval is ἀκολουθέω (akoloutheō) en word gebruik vir iemand wat op ’n intellektueel, morele en godsdienstige sin iemand anders navolg en so ’n persoon se dissipel word. Ook beteken die woord dissipel, iemand wat "leer". Wanneer ons dan lees van die dissipels wat Jesus gevolg het, vertel dit vir ons van iemand wat ’n intellektuele keuse gemaak het en dan op grond van moreel, godsdienstige gronde kies om aan iemand (in hierdie geval Jesus), se voete te sit om van hom te leer – hulle het hulself dus ten volle vir Jesus gegee. Ons vind dus hier die verhaal van die eerste twee dissipels van Jesus Christus.
Toe hierdie eerste twee dissipels Jesus nader, het Hy omgedraai en vir hulle gevra wat hulle wou hê. Op Jesus se vraag wat hulle soek, sien ons dat die twee dissipels vir Hom vra waar Hy tuis gaan (v.38). Twee dinge val op in hierdie reaksie van die twee:
- Eerstens wil dit uit die antwoord wat die twee manne Jesus gee, voorkom asof hulle nie regtig weet wat om te antwoord nie. Miskien was dit omdat hulle verleë gevoel het. Of hulle gee Hom hierdie antwoord omdat hulle daardeur eintlik vir Hom wou sê dat dít wat hulle van Hom wou hê, nie sommer in een kort antwoord hanteer kon word nie, maar dat hulle behoefte het aan ’n baie lang gesprek.
- Tweedens noem hulle Hom, "Rabbi". Om destyds iemand "Rabbi" te genoem het, was tekenend van die wyse waarop ’n dissipel, sy leermeester aangespreek het. Beide hierdie twee manne erken Jesus uit die staanspoor as hulle Leermeester.
Ons moet onsself ook die vraag afvra waarom óns Jesus werklik volg. Wat soek ons in ons soeke na Christus? Volg ons Jesus na, omdat ons God se guns soek? Volg ons Hom na omdat ons gered wil word? Soek ons net ’n Trooster, of ’n Leraar? As dit die redes is waarom ons Hom navolg, is ons nie besig om die eer van God te soek nie en is ons nie besig met 'n Christusgesentreerde godsdiens nie, maar is ons besig om ons eie eer te soek.
In v.39 antwoord Jesus hulle deur te sê ~ Kom saam, dan sal julle sien. Jesus nooi hulle dus onmiddellik om Hom te volg. Omdat dit reeds laatmiddag was, is hierdie antwoord van Jesus veel meer as ’n blote uitnodiging om te kom kyk waar Hy oorbly en dan sal hulle verskoon word. Nee, Jesus nooi hulle uit om langer te bly, want ons sien dat hulle… die res van die dag by Hom gebly het (v.39). Die feit dat Johannes, die skrywer van hierdie Evangelie, vir ons die tyd gee waarop die twee Jesus begin volg het, getuig nie alleen van ’n ooggetuie weergawe nie (en daarom dat hierdie onbekende dissipel dan waarskynlik Johannes self is), maar omdat dit kort voor donker was, dui dit vir ons daarop dat die twee waarskynlik ook die nag in die teenwoordigheid van Jesus deurgebring het.
In v.40 sê Johannes vir ons, ... Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee. Dit is so asof Johannes wil sê, Andreas, ek bedoel: die broer van Simon Petrus wat aan julle baie goed bekend is, was een van die twee. Ons moet verstaan dat toe die Evangelie geskryf is, die apostel Petrus baie bekend was aan sy lesers. Die minder bekende dissipel word dus teen die agtergrond van sy meer bekende broer beskryf – dit is dieselfde as iemand vir my sou vra: Is Nico jou broer? I.p.v.: Is jy Nico se broer? – die klem val dus op Nico, die meer bekende.
· Petrus (v.41-42):
Ons sien in v.41 dat Andreas, heel eerste die volgende oggend, sy broer, die bekende Simon Petrus gaan opsoek om vir hom te vertel van die wonderlike ontmoeting wat hy die vorige middag ervaar het en ’n mens kan die opgewondenheid in sy stem hoor wanneer hy dit uitjubel en sê ~ Ons het die Messías gevind. Hy sê nie, ék het die Messias gevind nie – hy wil nie die eer vir hierdie ontdekking vir Homself hê nie, want hy is nié die sentrale figuur nie – Jesus is.
Johannes verduidelik ook onmiddellik die uitdrukking "Messias" in v.41, deur te sê dat Jesus, die Christus is (Χριστός / Christos). Hoe geseënd is Andreas! Hy weet dat hy weet, dat Jesus die Christus is. Dit is so in teenstelling met talle mense in Jesus se tyd wat gesukkel het om te glo dat Hy die Messias is. Thomas het bykans tot aan die einde van Jesus se aardse bediening, daarmee gesukkel.
Jesus die Christus is die Groot Verlosser; die Gesalfde Een; die Redder van mense. Christus beteken die "Gesalfde" en Hy is gesalf om Sy grootse verlossingswerk as Profeet, Priester en Koning vir Sy mense te wees. Hierdie naam van Jesus dui daarop dat Hy deur God die Vader geroep is – in die woorde van Hebr.5:4 ~ Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep. Ook Jesus self bevestig hierdie roeping deur in Joh.5:37 te sê ~ En die Vader wat My gestuur het, het ook oor My getuienis afgelê.
Andreas se nuus wat hy aan sy broer bring, nl. dat hulle die Messias gevind het, is egter nie al wat hy doen nie – hy neem vir Simon na Jesus toe.
Toe Andreas en Simon by Jesus kom, het daar iets wonderliks gebeur ~ Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word. Hier het Jesus Sy alwysheid gedemonstreer – Hy het presies geweet wie hierdie man is en die feit dat Jesus "stip" na Simon gekyk het, impliseer dat Hy nie net na die man voor Hom gekyk het en die huidige gesien het nie, maar Jesus het ook die toekoms in hierdie man gesien – dit wie hy eendag sou word en daarom gee Jesus aan hom ’n nuwe naam, nl. Sefas (sy nuwe Aramese naam) en Petrus (sy nuwe Griekse naam).
Die feit dat Jesus ’n nuwe naam aan Simon gegee het, toon aan ons dat Jesus vir Simon aangeneem en hom deel gemaak het van die intieme familiekring van Jesus.
Die betekenis van hierdie naam wat Simon by Jesus gekry het, is "Rots". Ons moet verstaan dat wat Jesus eintlik bedoel het met Petrus se nuwe naam, was ’n belofte van God se genadewerk wat in Petrus se hart en lewe in die nabye toekoms sou plaasvind. Dit is so interessant om te sien dat Petrus deurgaans deur die Evangelies, alles behalwe ’n "rots" was, want hy was impulsief, wispelturig en selfs onbetroubaar, maar eers later, nadat Jesus vir Petrus gebid het, is sy hart en lewe geheel en al verander en het hy waarlik die Rots geword wat Jesus in hom gesien het en waarop die Nuwe Testamentiese Kerk gebou sou word – dit is waarom Jesus dan ook in Matt.16:18 vir Petrus gesê ~ Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (O.A.V.).
· Filippus en Natanael (vv.43-51):
Die dag nadat Petrus vir Jesus ontmoet het, vind nog ’n wonderlike gebeurtenis en ontmoeting plaas.
Jesus het besluit om na Galilea te gaan – die gebied in die omgewing van die See van Galilea, waar verskeie visser gemeenskappe geleë was en waar Jesus hoofsaaklik gebaseer sou wees tydens Sy aardse bediening – dit is ook die gebied waar Andreas en Petrus oorspronklik vandaan gekom het. Jesus was die oggend ná Petrus se ontmoeting met Hom, in die omgewing van Betsaida, net wes van die inlaat van die meer van Galilea en dit is hier waar Jesus twee van Betsaida se inwoners ontmoet, nl. Filippus en Natanael. Filippus se Griekse naam beteken "liefhebber van perde" en sy broer se naam Natanael beteken "geskenk van God".
Al die ander dissipels het Jesus begin volg nadat hulle, óf die Doper se getuienis gehoor het, óf hulle mekaar na Jesus gebring en besluit het om Hom te volg. Wat egter uniek aan Filippus se roeping was, is dat hy die enigste dissipel was wat deur Jesus persoonlik geroep is om Hom te volg.
Filippus is só opgewonde oor die feit dat hy, saam met ander manne met wie hy reeds geïdentifiseer het, die Messias ontmoet het, dat hy onmiddellik sy vriend Natanael gaan roep en na Jesus bring. Natanael is verbaas oor Filippus se aanspraak en hy sê ~ Kan daar uit Nasaret iets goeds kom? Wat hy met hierdie vraag bedoel het, was waarskynlik om vir Filippus te vra of dit dan moontlik is dat die lang verwagte Messias uit so ’n onbenullige plekkie soos Nasaret kon kom. Sy vraag kan egter ook daarop dui dat daar iets van ’n tweestryd tussen Nataniël se tuisdorp en Nasaret was. Hoe dit ook al sy, Filippus reageer op Natanael se vraag, deur vir hom te sê ~ Kom kyk. Hierdie uitdrukking, kom kyk, was ’n uitdrukking wat die Rabbi's dikwels gebruik het ten einde aan te dui dat die antwoord op ’n bepaalde probleem daarin gelê het, dat daar saam gesoek moes word na die oplossing.
Toe Jesus vir Natanael sien, noem Jesus hom ’n ware kind van Israel is en ’n opregte en eerlike man. Natanael was verbaas oor Jesus se kennis t.o.v. van sy karakter en hy vra Jesus vanwaar Jesus hom ken, waarop Jesus vir hom sê dat Hy hom reeds gesien het waar hy onder die vyeboom gesit het. Daar is geen verduideliking vir ons wat Jesus hiermee bedoel het nie, maar wat ons wel weet is dat die vyeboom na ’n man se tuiste verwys het en wat waarskynlik hier gebeur het, is dat Jesus verwys het na Natanael wat in die privaatheid van sy huis, gemeenskap met God gehad het en die oomblik dat Jesus hierna verwys, het Natanael net geweet dat Jesus die Messias is, daarom dat hy uitroep en tegelykertyd sy geloof in Jesus verklaar, wanneer hy sê ~ Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel! Ons het gesien dat Jesus, Natanael ’n ware Israeliet noem en hierdie belydenis van Natanael wanneer hy verklaar dat Jesus die Koning van Israel is, is ’n aanduiding dat Natanael, Jesus erken as Koning van sy lewe.
Daar is egter nog ’n groter getuienis t.o.v. Jesus in Natanael se belydenis wanneer hy sê ~ U is die Seun van God. Hierdeur verklaar Natanael dat Jesus waarlik die geprofeteerde Messias is waarvan die profete regdeur die Ou Testament geprofeteer het.
Johannes sluit sy beskrywing van die eerste paar dissipels se ontmoeting met Jesus, af deur Jesus se woorde aan Natanael neer te skryf, nl. ~ Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe. Die enigste plekke in die Nuwe Testament waar ons lees van die hemel wat oopgaan, is ook in Matt.3:16 en Luk.3:21 toe Jesus gedoop is en gedurende visioene wat ontvang is, soos beskryf in Hand.7:56 waar Stefanus, net voor hy gestenig is, gesê het ~ Kyk, ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan. Ook in Hand.10:11 waar Petrus ’n visioen ontvang het ~ Hy het die hemel oop gesien en iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, sien afkom grond toe. In Openb.19:11 ontvang Johannes ’n visioen van ’n wit perd met Christus op sy rug. Dit is egter te betwyfel of Jesus enige van hierdie gebeurtenisse in gedagte gehad het toe hy vir Natanael gesê het, wat Hy gesê het van die hemel.
Die mees waarskynlikste verklaring vir die uitspraak van Jesus, is dat die engele wat opklim (let daarop, dat dit eerste genoem word) daarop dui dat dienende engele reeds hier op aarde is en die leer dui op Jesus wat as brug dien tussen die hemel en die mens hier op aarde. Deur Jesus word die realiteite van die hemel aan die mens hier op aarde geopenbaar en net Jesus kan dit doen, want Joh.3:13 sê vir ons ~ Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens. Dit is hierdie realiteite wat Jesus op ’n figuurlike wyse vir Natanael sê, hy nog ’n persoonlike getuie van sal wees. Hierdie gedagte word dan ook regdeur die Johannes Evangelie ontwikkel.
4. AFSLUITING:
Ons het in hierdie gedeelte, waarna ons vandag gekyk het, gesien hoe dat Andreas in Judea vir Jesus ontmoet het en Jesus uit homself begin navolg. In Galilea het Filippus vir Jesus ontmoet en Jesus ook soos Andreas begin volg. Ons het gesien hoe dat Andreas na Petrus gegaan het en Filippus na Natanael en beide Andreas en Filippus daag vir Petrus en Natanael onderskeidelik uit om Jesus te ontmoet, deur te sê ~ Kom kyk! Dit is dus baie duidelik dat nie Petrus of Natanael die waarheid t.o.v. Jesus sal uitvind, as hulle nie Jesus persoonlik ontmoet en ervaar nie.
Hierdie getuienis en uitnodiging om Jesus persoonlik te ontmoet is die patroon vir die res van die Johannes Evangelie. Dit is dus duidelik, dat bekering nie net op kennis berus nie, maar dit gaan ook daaroor dat elkeen van ons in ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus sal staan.
Ons sien egter ook uit hierdie verhaal, dat dissipelskap ’n verdere verantwoordelikheid tot gevolg het vir elkeen van ons, nl. dat ons bekeerlinge – nuwe bekeerlinge na Jesus moet bring. Johannes die Doper, Andreas en Filippus het dit wat hulle geweet het van Jesus, gedeel met Andreas, Petrus en Natanael. Johannes die Doper, Andreas en Filippus het dit wat hulle geweet het van Jesus, gedeel met Andreas, Petrus en Natanael.
Johannes die Doper het, toe Hy Jesus gesien het, vir Andreas gesê ~ Dáár is die Lam van God! (v.36). Andreas het vir Petrus gesê ~ Ons het die Messias gekry! (v.41) en Filippus het vir Natanael gesê ~ Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef (v.45). Al drie getuig dus vanuit eie ervaring van hul kennismaking met die Verlosser.
Nie een van die dissipels wat Jesus ontmoet en nagevolg het, het oor ’n diep en grondige kennis van die Woord of van Jesus beskik, toe hulle die eerste keer begin getuig en mense na Jesus gebring het nie. Nee, hulle het opgetree op grond van die persoonlike kennismaking met die Lam van God én die feit dat hulle Jesus begin volg het en voortdurend by Hom gebly het.
Geliefdes mag ek julle vandag vra of jul ontmoeting met Jesus Christus só persoonlik en lewensveranderend was dat jy nie anders kan as om met ’n jubeling in die hart vir andere van Jesus die Messias wil vertel nie? Is Jesus waarlik Koning van jou lewe? Net soos Filippus deur Jesus geroep is, roep Jesus ook vandag, elkeen wat hier mag wees en Hom nog nie as dissipel navolg nie. Máár Jesus roep vandag ook elkeen van ons wat Hom reeds navolg as dissipels, om getuies vir Hom te wees.
[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 28 Augustus 2011