1. INLEIDING:
Die Evangelie van Johannes word deur baie mense beskou as die beste boek om vir enige jong gelowige te gee om deur te werk, aangesien dit die Evangelie is waar daar die meeste oor Jesus Christus geskryf word, veral in hoofstukke 14-16. Ook word die werk van die Heilige Gees in wedergeboorte, pragtig in hierdie Evangelie beskryf. Ook is hierdie Evangelie meer besorgd oor wat Jesus gesê het, eerder as oor waar Hy heen gegaan het en wat Hy gedoen het. Jesus se menslike aard word pragtig in hierdie Evangelie vir ons as lesers verbeeld – veral in hoofstuk 17 waar Hy Sy Hoë-priesterlike gebed bid.
Die feit dat daar ook meer na Jesus se "Seunskap" in hierdie Evangelie verwys word, is baie belangrik vir ons as gelowiges, omdat dit daardeur vir ons die verhouding van gelowiges tot die Vader ook beter illustreer.
Die mees uitstaande eienskap van die Evangelie van Johannes, is egter sy siening en verduideliking van die Persoon van Jesus Christus, as die WOORD of LOGOS (veral in hoofstuk 1), want daardeur word Jesus as die reeds "Voorafbestaande Een" beskryf wat oor die wesenskenmerke (of aard, of eienskappe of attribute) van die Vader beskik.
Hierdie Evangelie is hoogs waarskynlik tussen 80 en 98 n.C. in Efese geskryf [2], alhoewel daar ook verskeie ander datums oorweeg word – bv. voor 70 n.C.[3] Ek voel persoonlik meer gemaklik met die latere datum van 80- tot 98 n.C.
Daar is al baie geskryf en gepraat oor wie werklik die skrywer van hierdie Evangelie is, maar sonder om in hierdie teologiese debat vasgevang te word, kan ek maar net sê dat dit bo alle twyfel bewys is, dat Johannes die Apostel wel die outeur van hierdie Evangelie is.
In ’n enger opsig skryf Johannes hierdie Evangelie met die oog op die gelowiges in Efese en omgewing wat hulle opgehou het met allerlei dwaalleringe, maar in ’n breër sin skryf Johannes hierdie Evangelie aan die breë kerk, deur die eeue heen en daarom ook aan ons.
Die primêre doel met die skryf van Johannes, is Evangelisties van aard en spesifiek om gelowiges te bemoedig op hul geloofspad. Johannes se doel met hierdie skrywe word vir ons baie mooi opgesom in 20:31, wanneer hy sê ~ Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.
Kom ons kyk vanoggend na die eerste vyf verse van hierdie grootse Evangelie.
2. SKRIFLESING:
Joh.1:1-5 ~ In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
As ons onsself gelowiges, of Christene noem, moet ons vir onsself die vraag kan beantwoord, nl. Wie is Jesus Christus – Is Hy God, of is Hy ’n mens? Indien Hy ’n mens is, kan ons maar van Hom vergeet, maar as Hy God is, moet ons deeglik kennis neem van Hom; moet ons kennis neem van Sy uitsprake en optrede in die Woord en moet ons in Hom glo; Hom aanbid en Hom navolg.
Dit is presies wat Johannes hier in die openingswoorde van sy Evangelie dan ook doen, deurdat hy die stelling maak dat Jesus Christus, God is.
Johannes hanteer hier in die eerste vyf verse van sy Evangelie, twee aspekte van die Voor-vleesgeworde Christus. Eerstens kyk hy na twee van Christus se wesenskenmerke, of karaktereienskappe (1:1-2) en tweedens kyk hy na die Voor-vleesgeworde Christus se missie, of te wel roeping (1:3-5). Onder elk van hierdie aspekte behandel hy twee verdere sake:
· Eerstens dan, twee van Christus se wesenskenmerke:
- Hier kyk Johannes na die feit dat Christus die ewige is (1:1a-2);
- En tweedens verklaar Johannes, Christus se Godheid (1:1b).
· Die tweede aspek waarna Johannes verwys, is Christus se roeping voor Sy vleeswording en ook hier hanteer hy twee aspekte:
- Eerstens is daar ’n vertikale roeping (1:3);
- En tweedens is daar ’n horisontale roeping (1:4-5).
3. CHRISTUS SE WESENSKENMERKE:
Kom ons kyk dan eerstens na twee van Jesus se wesenskenmerke en ons lees daarvan in vv.1-2 ~ In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God.
Hierdie baie bekende woorde van Johannes is geweldig swaar gelaai met betekenis. Die woorde ...in die begin, verwys na die oomblik toe die aarde en die ganse heelal ontstaan het – die begin van tyd dus. Johannes gaan egter voort en hy gebruik ’n woordjie wat uiters belangrik is en waarvan ons baie deeglik kennis moet neem en dit is "was" - In die begin WAS.... Hierdie woordjie "was" dui vir ons aan dat die Woord (die Logos) reeds daar was, nog voor enige iets anders ontstaan of bestaan het. Hy (die Woord, of die Logos) was dus nog altyd daar – van die oomblik van die skepping af, terug tot in der ewigheid in terug, was Hy daar – Christus die ewige!
Johannes eindig egter nie sy sin hier nie – hy gaan voort deur te sê, dat hierdie ewige Logos wat reeds voor die begin van tyd daar was, by God was. ’n Beter vertaling hiervoor sou wees om te sê dat die ewige Logos, in verhouding gestaan het tot God. Wat dus hieruit blyk is dat die Logos, onteenseglik ’n Persoon is, want net ’n Persoon kan in verhouding staan met ’n ander Persoon – in hierdie geval God.
Johannes gaan egter nog verder en hy sê dat hierdie ewige Logos wat in verhouding met God staan, God self is. Omdat daar nie ’n bepaalde lidwoord voor die woord God staan nie, dui dit vir ons daarop dat die Logos deel het in die goddelikheid van God.
Hierdie stelling van Johannes, nl. dat die Logos, God is, bewys hy vir ons deur die loop van die volgende 21 hoofstukke van sy Evangelie.
Maar Wie is hierdie Logos? As ons na Johannes se eie woorde in sy sendbrief kyk, sien ons baie duidelik wie hierdie Logos is ~ Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe (1Joh.1:1). Hier het ons weer die verwysing na die Een wat van die begin af daar was.
Johannes gaan egter verder, deur aan die einde van hierdie vers te sê dat hierdie Ewige Een, ook die Woord (Logos) is en tussen hierdie twee stellings wat Johannes maak (die Ewige en die Woord), verskaf hy die beskrywing en bekendmaking van wie die Een is van wie hier gepraat word, nl die Een wie hy wat Johannes is en die ander dissipels, gesien het. Hy is die Een wie hulle hoor praat het. Hy is die Een wat hulle aangeraak het en as ons na die konteks van 1Joh.1 kyk, weet ons dat hier van Jesus Christus gepraat word. Die ewige Een wat ook die Woord of die Logos genoem word, is dus niemand anders as Jesus Christus self nie.
Terug na ons openingsvers van ons Skriflesing – hierdie vers kan dus as volg lees ~ In die begin toe die hemel en aarde geskape is, was Jesus Christus reeds daar omdat Hy van ewigheid af reeds daar was, en Jesus Christus was by God die Vader en omdat Hy deel is van die Goddelike Drie-Eenheid, is Hyself ook God en is Hy van ewigheid af al een met God.
Ons sien dus dat hierdie "Logos", of "Woord" waarna Johannes verwys, Jesus Christus is, maar waarom gebruik hy hierdie uitdrukking om na Jesus te verwys?
Ten einde dit te antwoord, moet ons vir onsself afvra wat hierdie woord vir die destydse lesers van Johannes se Evangelie beteken het? Ons moet onthou dat sy eerste lesers, oorwegend Griekssprekend was en dat hulle bestaan het uit Jode én Griekssprekende heidene
In die Joodse kultuur is baie meer waarde geheg aan alle woorde, as wat ons vandag sou doen. Vir hulle was ’n woord wat gebruik was, getuienis van ’n daad wat geskied het – ’n woord het dus aksie vir hulle tot gevolg gehad, of anders gestel: Elke woord wat die Jode gebruik het, het aksie geïmpliseer.
Hierdie manier van dink het voortgespruit uit die Joodse Ou Testamentiese teologie. Hulle het geweet dat elke keer as God ’n woord sou spreek, iets sou gebeur – bv.: Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” (die woorde) En daar was lig (die gevolg) (Gen.1:3). In Jes.55:11 sê God self ~ So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.
Wanneer Johannes dan na Jesus verwys as die "Woord", het dit vir die Griekssprekende Jode spesifieke betekenis ingehou, nl. dat die "Woord" ("Logos") van God op ’n sekere wyse gevoel en gesien kon word en daarom was dit ook nie vreemd vir die Jode as die Hebreërskrywer die volgende sê nie ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak (Hebr.1:1-2).
Vir die Grieksprekende heidene was hierdie uitdrukking, "Logos" ook nie vreemd nie, want reeds gedurende die 6de eeu voor Christus het filosowe en spesifiek Heraclitus wat in Efese gewoon het, gesê dat alle verandering rondom ons, deur ’n goddelike woord of te wel "Logos", beheer word. Hy het egter voortgegaan en gesê dat hierdie Logos, niks anders was as ’n godheid se gedagtes wat hierdie wêreld en alle mense beheer het nie. Ander Griekse filosowe (selfs in Johannes se tyd – soos Plato e.a.) het ook op hierdie gedagte van Heraclitus voortgebou, sodat die gedagte van die Logos ’n bekende uitdrukking onder die Griekse heidene was.[4]
Hierdie was dus ’n woord wat Johannes baie slim gebruik het en wat dieselfde betekenis vir beide Jood en Griek gehad het.
Johannes sê dus vir sy lesers dat hierdie Logos waarvan hulle soveel praat, nl. die Logos van God, as mens na die wêreld gekom het en wat meer is, hy wat Johannes is en andere het Hom gesien.
4. CHRISTUS SE ROEPING:
Ons het tot nou gekyk na twee van Christus se wesenskenmerke of "attribute" – kom ons kyk egter ook kortliks na die Voor-vleesgeworde Christus se roeping t.o.v. die mensdom.
Johannes sê in v.3 van ons Skriflesing ~ Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. Wat Christus se verhouding tot die wêreld betref, sien ons dat God alles geskape het - elke liewe dingetjie; gras; molekules; mense; wolke; olifante; chloor; sprinkane; silwer – absoluut alles, ja meer nog, Hy is die Gewer van lewe. Uit niks, het alles tot stand gekom.
Christus was God se instrument tydens en na die skepping. Op grond waarvan kan ek dit sê? Rom.1:20 leer ons ~ Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ’n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie. Wat sê Paulus vir ons deur hierdie vers? Hy sê vir ons, nes Johannes, dat Jesus ’n vertikale-, sowel as horisontale missie, of roeping gehad het, tydens en na die skepping. Hy het as vertikale roeping, God se bestaan en almag geproklameer, maar dit het terselfdertyd geïmpliseer dat God se bestaan en almag soos geopenbaar deur die skepping (God se algemene openbaring), genoegsame rede is, om mense wat nié die knie voor God buig nie, te veroordeel.
Christus se aankondiging en proklamasie van God se algemene genade deur die skepping en die natuur is egter nie genoeg nie en daarom kom Hy later as Vleesgeworde Christus (waarna ons later sal kyk) en maak Hy ook God se toegespitste, of spesifieke genade deur die Woord bekend.
Ons vind Christus se horisontale roeping in vv.4-5 ~ In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie. Die feit dat Johannes hier sê dat daar lewe IN Christus was, impliseer dus dat Christus die Bron van lewe is. Hierdie lewe het egter nie fisiese implikasies nie, maar wel geestelike implikasies, m.a.w. Christus is dus die Bron van die ewige lewe.
Die einde van v.4 dui op die sondeval ~ ... en dié lewe was die lig vir die mense en na die sondeval was daar steeds lewe aan die mens beskikbaar gestel en hierdie lewe word uitgebeeld as lig. Dit beteken dus dat God iets van Sy heerlike karatereienskappe aan die mens geopenbaar het, deur ’n weg tot saligheid bekend te maak. Ons sien dit duidelik uiteengesit in v.9 ~ Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hierdie vers is in die teenwoordige tyd geskryf, want God se Lig hou aan met skyn en daarom is die Lig van verlossing tot vandag toe nog beskikbaar vir ons en dit is in ooreenstemming met Jesus se woorde in Joh.14:6 ~ Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie en in Joh.10:28 sê Jesus ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
V.4 praat egter nie net van lig nie, maar ook van lewe en hierdie lewe is nie bloot net ’n aardse of materiële lewe, of ’n lewe wat uiteindelik in die dood uitloop nie, maar dit dui primêr op die ewige lewe – ’n lewe wat nooit verlore kan gaan nie. God skenk dus aan ons ’n ewige lewe en soos 1Joh.5:11 sê, word hierdie ewige lewe deur Jesus Christus aan ons geskenk.
Hierdie ewige lewe kan ook nooit van enige kind van God weggeneem word nie, maar meer nog, hierdie ewige lewe is ’n oorvloedige lewe wat ons reeds nou al in hierdie lewe kan ervaar. Ons as gelowiges is daarom veronderstel om met hierdie gedagte aan ’n ewige lewe en ’n oorvloedige lewe, ons lewe nou hier op aarde te leef – ons moet ’n ewigheidsperspektief ontwikkel en alles wat ons mag doen of ervaar in hierdie lewe, dit in die lig van die ewigheid moet aanskou, hanteer en leef.
Ps.23:1-3 is vir ons ’n pragtige weerspieëling van hierdie oorvloedige lewe wat ons nou reeds as gelowiges kan leef ~ ’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. 2Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. 3Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.
5. AFSLUITING:
Johannes het in sy dag met soortgelyke krisisse as ons te doen gehad. Verskeie stemme het destyds opgegaan wat Christus as Seun van God verwerp het. Hulle het gesê dat Hy nie uit die dood opgestaan het nie, ens. Daarom is dit uiters belangrik vir ons, wanneer ons hierdie openingsverse van die Johannes Evangelie lees, dat ons sal verstaan en glo dat Christus wel God is en dat Hy ewig is.
Die "Nuwe Hervormers" wat deel uitmaak van die institusionele kerk van ons dag, sê presies dieselfde. Van hulle sê o.a. ook dat Christus ’n buite-egtelike kind was en dat Hy ook nie opgestaan het uit die dood nie. Hulle sê ook dat God, wat ’n God van liefde is, nie Sy Seun sou laat sterf aan ’n kruis nie en daarom is die tradisionele opvatting en geloof van die kruisiging, ’n blote mite.
Die feit dat Christus ewig is, impliseer vir ons dat Hy reeds van voor die skepping af, ’n plan gehad het om ons, wie Hy geroep het, te red en daarom het God die Vader, Sy Seun gestuur om vir ons te kom sterf aan die kruis. In die vertikale sien ons die toepassing hoe God in Sy almag, Sy Seun tot die dood veroordeel het, maar ook opgewek het uit die dood. In die horisontale sien ons ook hoe Jesus Sy hemelse bestaan agtergelaat het om met ons as sondaars te kom identifiseer – soveel so dat Hy ons Sy broers noem.
Ons kan vandag huis toe gaan, met die sekere wete, gebaseer op Johannes 1, dat die Logos, Jesus Christus, waarlik die lewende en ewige God is en dat diegene van ons wat deur Hom geroep en uitverkies is, waarlik Sy kinders is.
Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.
[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 10 Julie 2011
[2]Sien William Hendriksen se kommentaar, "New Testament Commentary – John", uitgegee deur The Banner of Tuth Trust in Carlisle, Pennsylvania, 1954 (p.23-31)
[3]Sien Leon Morris se kommentaar, "The Gospel according to John (Revised)", uitgegee deur Eerdmans in Grand Rapids, Michigan, 1995 (p.25-30)
[4]Sien James Montgomery Boice se se Eksegetiese kommentaar, The Gospel of John – Volume 1 (The Coming of the Light – John 1-4), uitgegee deur Baker Books in Grand Rapids, Michigan, 1999 (p34-35)