Sunday, June 19, 2011

God se Offerwette - 05 (Reinigingsoffers)

1.     INLEIDING:
Tot nou het ons gekyk na die welriekende offers, nl. die brandoffers, spysoffers en vredeoffers.  Ons kom nou by die eerste van die nie-welriekende offers, of te wel soenoffers, nl. die reinigingsoffers.

2.     SKRIFLESING: 
Lev.4:1-35 ~ Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir die Israeliete: Wanneer iemand onopsetlik teen enige van die gebooie van die Here sondig en iets doen wat hy nie mag doen nie, moet soos volg gehandel word: 3“As die gesalfde priester sondig en so die volk skuldig maak, bied hy vir die sonde wat hy gedoen het, ’n bul sonder liggaamsgebrek as sondeoffer aan die Here aan. 4Hy bring die bul by die ingang van die tent van ontmoeting, sit sy hand op die bul se kop en slag dit daar in die teenwoordigheid van die Here. 5Dan vat die gesalfde priester van die bul se bloed, bring dit na die tent van ontmoeting toe, 6steek sy vinger in die bloed en sprinkel van die bloed sewe maal in die teenwoordigheid van die Here op die voorkant van die voorhangsel in die heiligdom. 7Hy smeer ook van die bloed aan die horings van die wierookaltaar in die teenwoordigheid van die Here in die tent van ontmoeting. Die res van die bul se bloed gooi hy alles uit teen die fondament van die brandofferaltaar by die ingang van die tent van ontmoeting. 8Hy verwyder ook al die vet van die sondeofferbul, die vet wat die binnegoed bedek, dié aan die binnegoed self, 9die twee niere met die vet aan wat teen die kruis is, en die punt van die lewer wat saam met die niere verwyder word, 10net soos dit verwyder word by die maaltydofferbul. Die priester verbrand die vet dan op die brandofferaltaar. 11Die vel van die bul, al die vleis saam met die kop en pote, die binnegoed wat oor is, en die pensmis, 12die hele bul, word dan buitekant die kamp gebring na ’n rein plek toe, die plek waar die as weggegooi word, en daar op ’n houtvuur verbrand. Dit word op die ashoop verbrand. 13“As die hele volk Israel onopsetlik sondig, en ’n misdaad teen die Here begaan sonder dat hulle weet dat hulle ’n gebod van die Here oortree, 14en dit word agterna bekend dat hulle gesondig het, moet die volk ’n bul as sondeoffer aanbied. Hulle bring die bul voor die tent van ontmoeting, 15en dan sit die leiers van die volk daar in die teenwoordigheid van die Here hulle hande op die bul se kop en slag dit daar. 16Die gesalfde priester neem van die bloed na die tent van ontmoeting toe, 17steek sy vinger in die bloed en sprinkel van die bloed sewe maal in die teenwoordigheid van die Here op die voorkant van die voorhangsel. 18Hy smeer ook van die bloed aan die horings van die altaar wat in die teenwoordigheid van die Here in die tent van ontmoeting staan. Die res van die bloed gooi hy alles uit teen die fondament van die brandofferaltaar by die ingang van die tent van ontmoeting. 19Hy verwyder ook al die vet van die dier en verbrand dit op die altaar. 20Verder doen hy met die bul presies wat gedoen word met die sondeoffer. So doen die priester versoening vir die volk en word hulle sonde vergewe. 21Hy bring dan die bul buitekant die kamp en verbrand dit net soos die bul wat voorheen genoem is. Dit is die sondeoffer van die volk. 22“As ’n gesagsdraer sondig en ’n misdaad teen die Here begaan deurdat hy sonder opset ’n gebod van die Here sy God oortree, 23en die sonde wat hy gedoen het, word onder sy aandag gebring, bring hy ’n bokram sonder liggaamsgebrek as offer. 24Hy sit sy hand op die bok se kop en slag dit in die teenwoordigheid van die Here op die plek waar die diere vir die brandoffer geslag word. Dit is die sondeoffer. 25Die priester vat dan met sy vinger van die bloed en smeer dit aan die horings van die brandofferaltaar. Die res van die bloed gooi hy alles teen die fondament van die altaar uit. 26Hy verbrand dan al die vet op die altaar soos in die geval van die vet van die maaltydoffer. So doen die priester versoening vir die gesagsdraer en word sy sonde vergewe. 27“As een van die burgers van die land sonder opset sondig en ’n misdaad teen die Here begaan deurdat hy ’n gebod van die Here oortree, 28en die sonde wat hy gedoen het, word onder sy aandag gebring, bring hy ’n bokooi sonder liggaamsgebrek as offer vir die sonde wat hy begaan het. 29Hy sit sy hand op die offerdier se kop en slag dit op die plek waar die diere vir die brandoffer geslag word. 30Die priester vat dan met sy vinger van die bloed en smeer dit aan die horings van die brandofferaltaar. Die res van die bloed gooi hy alles teen die fondament van die altaar uit. 31Al die vet word verwyder soos in die geval van die maaltydoffer, en die priester verbrand dit op die altaar. Die offer word deur die Here aanvaar. So doen die priester versoening vir die burger en word sy sonde vergewe. 32“As hy ’n skaap as sondeoffer bring, bring hy ’n ooi sonder liggaamsgebrek. 33Hy sit sy hand op die offerdier se kop en slag dit as ’n sondeoffer op die plek waar die diere vir die brandoffer geslag word. 34Die priester vat dan met sy vinger van die offerdier se bloed en smeer dit aan die horings van die brandofferaltaar. Die res van die bloed gooi hy alles teen die fondament van die altaar uit. 35Al die vet word verwyder soos in die geval van die skaap vir die maaltydoffer, en die priester verbrand dit op die altaar by die vuuroffer vir die Here. So doen die priester versoening vir die sonde wat die burger gedoen het, en word sy sonde vergewe.” 

3.    REINIGING AS VOORVEREISTE:
Dit is baie duidelik uit ons Skriflesing, dat sonde van watter aard ook al, verwyder moes word, voor enige persoon gemeenskap ("fellowship") met God kon hê, maar God het deur Sy genade, voorsiening gemaak vir die vergifnis van die volk se sonde – maar ook die reiniging van die gevolge van sonde – dit alles was nodig, sodat die aanbidder met vrymoedigheid en in veiligheid in God se teenwoordigheid kon verkeer.

Selfs opregte aanbidders, mense wat standvastig in hulle geloof en wandel met God was, moes gereinig word van hul sonde voor hul in die teenwoordigheid van God kon kom, want hulle mag in sonde val sonder dat hulle eers bewus is daarvan.  Dit het egter nie net daaroor gegaan om in God se teenwoordigheid te kom nie – dit het ook daaroor gegaan dat geen mens selfs gemeenskap met God kon hê, sonder die reiniging van sy sonde nie, want enige sonde, in watter vorm ook al en wetend, of onwetend, het God vertoorn (maak Hom kwaad), want dit het Hom ontneem van wat Hom toegekom het, nl. ’n gereinigde, vererende en aanbiddende individu of volk. 

Sonde het egter nie net God se toorn ontketen nie en daar was nie net negatiewe nagevolge vir die sondaar nie – die persoon se sonde het egter ook die tabernakel of tempel besoedel.  Ons moet onthou dat God teenwoordig was in die midde van die volk en wel d.m.v. die tabernakel – Eks.40:34-38 ~ ’n Wolk het die tent van ontmoeting oordek, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul. 35Moses kon nie in die tent van ontmoeting inkom nie: die wolk was daarin, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul. 36Later het dit so gegaan: wanneer die wolk van die tabernakel af voor die Israeliete uit wegtrek, het hulle agter die wolk aan versit. 37As die wolk nie weggetrek het nie, het hulle daar gebly totdat dit wel weggetrek het. 38Die wolk van die Here was bedags ’n wolk oor die tabernakel en snags het dit ’n vuur daarbo-oor geword.

Reiniging was dus noodsaaklik, alvorens enige mens in die teenwoordigheid van God kon kom.

Bykans alle vertalings vertaal die uitdrukking חַטָּאָה, חַטָּאת (ḥaṭaʾah, ḥaṭaʾt), wat na hierdie offer verwys, as ’n sondeoffer en dit is ’n baie letterlike vertaling van die tradisionele begrip t.o.v. hierdie woord.  Hierdie offer het egter oor veel meer as bloot net die "regstelling" of vergifnis van sonde gegaan.  Hierdie offer het, soos ons nou net gesien het, egter ook en veral gegaan oor die gevolge van sonde. 

Kom ek verduidelik wat ek nou net gesê het:  Indien ek ’n moord sou pleeg, begaan ek sonde in die oë van die Here, maar hierdie offer gaan primêr daaroor dat ek die sonde (moord) voor God bely en vra dat Hy die gevolge van daardie sonde sal wegneem – dat Hy my m.a.w. sal reinig van die gevolge van hierdie sonde.  Of God ’n moordenaar vir sy sonde vergewe of nie, is dus nie ter sprake nie, maar die feit dat die moordenaar tronk toe gaan met al daardie gevolge en die feit dat die gemeenskap so ’n man uitstoot en verwerp – dit is waaroor dit gaan.  Dit gaan dus oor die etiket wat om die moordenaar of dief of verkragter, se nek gehang word – daar kleef bepaalde "smet" aan so ’n persoon.  Dit gaan dus oor hierdie "smet"; hierdie etiket; hierdie gevolge van die sonde, waaroor hierdie offer gaan. 

Hierdie offer was ’n meer "gespesialiseerde" soort offer as bv. die brandoffer en is minder gereeld gebring.  Die doel met hierdie offer was reiniging, hoewel ons dit eers regtig in hoofstukke 12-15 omskryf sien.

Onreinheid het reiniging benodig, terwyl sonde, vergifnis nodig gehad het.  ’n Beter vertaling vir hierdie offer sou dus eerder, "reinigingsoffer" wees.

Hierdie offer, of ritueel van die reinigingsoffer was menslik gesproke ’n baie eenvoudige ritueel, omdat die mens wat dit gebring het, onmiddellik rein verklaar is.  Ons sien dit bv. baie mooi beskryf in Lev.12:8 ~ As sy nie ’n lam kan bekostig nie, moet sy twee tortelduiwe of twee ander duiwe bring, die een as brandoffer en die ander as sondeoffer, sodat die priester vir haar versoening kan doen en sy rein kan wees.  Wanneer die priester egter hierdie reinigingsoffer namens die aanbidder gebring het en dit blyk dat daar ook sonde betrokke is wat nog nie bely en/of vergewe was nie, is sulke sonde terselfdertyd vergewe (vandaar o.a. die benaming "sondeoffer"), maar hierdie gedeelte van die offer was sekondêr van aard – ons sien hierdie feit ook opgeteken in 4:20 ~ So doen die priester versoening vir die volk en word hulle sonde vergewe.

Ons vind ’n klomp reinigingswette in Levitikus en Numeri [Bv.: Reiniging was nodig nadat ’n persoon aan ’n lyk geraak het (Num.19:11), of nadat ’n vrou geboorte geskenk het (Lev.12:1-4), ens.].  Hierdie reinigingswette het ook tot gevolg gehad dat so ’n persoon rein verklaar moes word deur die priester, sodat die aanbidder met vrymoedigheid in die teenwoordigheid van God kon verskyn.  Sonder hierdie offer was hy/sy egter onrein en kon hy/sy nie in die tabernakel gekom het om God te aanbid nie – Lev.15:31 ~ Julle moet die Israeliete streng laat hou by hierdie reinheidsvoorskrifte, anders sal hulle dalk my heiligdom wat by hulle is, ontwy. As dit gebeur, sal hulle sterwe.

Die uitstaande kenmerk van hierdie reinigingsoffer is hoe dit gewerk het.  Soos met die ander offers, is die bloed nie op die aanbidder self gesprinkel ten einde hom rein "te maak" nie, maar dit is teen die offeraltaar gesprinkel as simbool van die reiniging van die persoon se onreinheid.

Nadat die tabernakel vir die eerste keer voltooi is, het God in Lev.8:15, opdrag aan Moses gegee dat al die artikels in die tabernakel gereinig moes word, daarom het hy, toe hy vir die eerste keer die reinigingsoffer gebring het, o.a. eers die offeraltaar gereinig ~ Moses het die bul geslag en van die bloed met sy vinger rondom die horings van die altaar gesmeer om die altaar te reinig. Hy het toe die res van die bloed teen die fondament van die altaar uitgegooi. So het hy die altaar aan die Here gewy sodat daarop versoening gedoen kan word.  Nadat Moses die altaar gereinig het, is die res van die offer gebring, soos voorgeskryf.  Die rede hiervoor was dat sonde en die effek van sonde, die tabernakel en alles in die tabernakel ontreinig het en daarom was dit nodig dat Moses dit eers moes reinig met bloed.

Hierdie selfde ritueel was later in Lev.16:16 nodig ~ So moet hy (dit is Aäron) die Allerheiligste reinig van die onreinhede van die Israeliete, van hulle oortredinge en al hulle sondes. Hy moet die tent van ontmoeting ook op dieselfde manier reinig, want dit staan by die volk met al hulle onreinheid.

Bloed is teen die "nie-menslike artikels" gesprinkel om dit te reinig, omdat dit deur mense verontreinig is, maar wanneer dit nodig was om mense te reinig, is die bloed nie teen hulle gesprinkel nie, maar teen die offeraltaar waar die offer gebring was.  Ons sien ook in Lev.8 dat dit noodsaaklik was dat enige persoon wat na die tabernakel sou gaan om daar te aanbid, maar terselfdertyd onrein was, eers gereinig moes word, anders sou hy sekerlik sterf.

In sommige gevalle is die bloed van die offerdier, aan die buite-altaar gesmeer en is die vleis deur die priester wat die offer hanteer, geëet (4:30; 6:26).  Ander kere weer is die bloed aan die reukoffer altaar gesmeer wat in die binnekant van die tabernakel was, terwyl wierook gesprinkel is by die voorhangsel wat tussen die heilige en die allerheiligste gedeelte van die tabernakel gehang het en die res van die dier is buite die stad op die ashope verbrand is (4:6-7, 11-12).  Die keuse tussen hierdie twee metodes het afgehang van die erns van die onreinheid.  In die geval waar die bloed van die offerdier aan die buite-altaar gesmeer is, was dit vir oortredings van minder ernstige aard, terwyl die tweede geval waar bloed aan die altaar in die binnekant gesmeer is, vir sonde van ’n ernstiger aard was – sonde van die priester of die gemeente in geheel bv.  Beide gevalle bied reiniging of vergifnis vir die oortreder(s), maar die reiniging het geskied op grond van die feit dat die heilige artikels in die tempel gereinig moes word.

Hierdie reëling t.o.v. die twee soorte offers kan maklik lyk asof daar iets is soos sg. "groot sondes en klein sondes" – verskillende soorte- of grade sondes dus.  Wat ons egter moet verstaan, is dat dit nie hier gaan oor "kleiner en groter" sondes nie, maar dat die klem hier val op die effek (gevolge) van sonde, m.a.w. sommige sonde se effek is groter as andere s’n en ander nie.  Ons moet dus verstaan dat alle sonde, sonde is en dat alle sonde vergewe kan word, maar dat verskillende sonde, verskillende gevolge het en daarom word verskillende soorte sonde dus verskillend deur die wet hanteer – dit gaan dus oor die intensiteit van die ontreiniging en die oorheersende gedagte met die reinigingsoffer is dus om die gevolg van die sonde (wat die aard van die sonde ook al mag wees) te reinig.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat die inpak van  sonde wat deur prominente of invloedryke persone begaan is, ernstiger was en het derhalwe ’n ander ritueel benodig as wat nodig was vir gewone mense.  Wie die oortreder egter ook al was – vergifnis en reiniging was beskikbaar.

4.    REINIGING SLEGS MOONTLIK NA ’N BLOEDOFFER:
Ons sien in v.2 van ons Skriflesing dat daar sprake is van "onopsetlike sonde" en in 5:17 is daar sprake van sonde wat gepleeg kan word, sonder dat die oortreder bewus is daarvan. In sommige gevalle kan so ’n persoon nooit bewus wees van sy skuld nie, of hy besef eers later dat hy gesondig het – in terme van die wet, is hierdie ’n sonde van onkunde, of onverskilligheid, of selfs swakheid.  Hoe dit ook al sy, in al hierdie gevalle is die persoon steeds skuldig en in sonde. 

Hierdie tipe sonde het egter net reiniging benodig waar die persoon later besef dat hy oortree het en hy berou daaroor het.

Die feit dat God hierdie spesifieke offer vir Sy volk ingestel het, dui vir ons daarop dat Hy dit as absoluut noodsaaklik ag dat die sondaar sy sonde moet hanteer en vergifnis en reiniging daarvoor ontvang.  Wat egter interessant is, is dat reiniging nie beskikbaar was vir alle sonde nie – ernstige oortredings soos doodsonde (sonde wat die dood verdien), openlike rebellie teenoor God, moedswillige sonde, ens. was uitgesluit hiervan, alhoewel vergifnis vir hierdie ernstige sondes wel beskikbaar was (tydens die Groot Versoendag wanneer die priester sy hand op die kop van die lam geplaas het en dié in die wildernis ingejaag het – dan het al die mense vergifnis vir al hul sonde ontvang), moes hierdie oortreder steeds die gevolge van sy oortreding ervaar.

Ons het in ons Skriflesing gesien dat verskillende soorte diere geoffer kon word.  Die hoëpriester (4:3), asook die gemeente (4:13-14), moes ’n bul offer.  ’n Bokram moes geoffer word deur ’n gesagsdraer (4:22); ’n bokooi of lam vir die gewone man op straat (4:28, 32; 15:27) en volgens Lev.5:7, duiwe of tortelduiwe vir die armes, of volgens Lev.5:11-13, twee kilogram meel, indien die arme nie duiwe kon bekostig nie.  Hierdie reëling het wel geïmpliseer dat die meer invloedryke mense duurder offers moes bring, maar die feit is dat enige persoon reiniging kon ontvang.

Wanneer hierdie offer gebring is, het die offeraar (net soos in die geval met die ander offers) die offerdier voor die ingang van die tempel geslag terwyl hy sy hande op die dier se kop plaas.  Deur dit te doen het hy nie net geïdentifiseer met die dier wat in sy plek sterf en geoffer is nie, maar het hy ook erkenning daaraan verleen dat die straf op sonde, die dood is en die dood van die dier in sy plek, het hom daaraan herinner dat hy deur God se genade kan bly leef.

Bloed is dus ook die sentrale tema vir die reinigingswette, maar hier is meer wetlike voorskrifte by betrokke t.o.v. die aanwending en toepassing van die bloed in vergelyking met die ander offers en soos ons reeds gesien het, is daar ook twee verskillende rituele wat plaasvind, na gelang die erns van die oortreding.  Vir die gewone man op straat, of ’n gesagsdraer, is daar bloed aan die horings op die punte van die altaar gesmeer, terwyl die res van die bloed aan die voet van die altaar uitgegooi is (4:25).  Omdat die sonde van gewone mense nie die heilige gedeelte van die tabernakel kon ontreinig nie, was dit voldoende om net die bloed aan die altaar in die binnehof te smeer en uit te gooi.  Net soos met die vorige offers waarna ons reeds gekyk het, word die nek van die duiwe deur die priester omgedraai en is die bloed aan die kant van die altaar laat afstroom.  Dieselfde dele wat tydens die vredeoffers verbrand is, word ook tydens die reinigingsoffers verbrand en die res van die vleis is deur die priester geëet.

Die ritueel vir die sonde van die hoëpriester of die leiers van die gemeente was anders, omdat hulle sonde in ’n ernstiger lig beskou was en hulle onreinheid derhalwe baie groter was.  In hulle geval, is sommige van die bloed teen die voorhangsel by die allerheiligste gesprinkel (4:5-6) en sommige is gesmeer aan die horings van die wierookaltaar  (4:7) en die res was uitgegiet aan die voetstuk van die brandofferaltaar by die ingang van die tabernakel (4:7).  In hierdie ernstiger offerandes is die vleis nie deur die priesters geëet nie, maar is dit buite die stad verbrand.  Die rede hiervoor was dat daar geglo is, dat indien die sonde so ernstig was dat dit die binnekant van die tabernakel kon ontreinig, dit ook ernstig genoeg was dat die offervleis sodanig deur onreinheid binnegedring en ontheilig is, dat die vleis bederf was en dit die priesters kon siek maak as hulle dit sou eet.

Na afhandeling van hierdie ritueel het die offeraars geweet dat hul gereinig was van hul sonde en dat die offer dus ’n welriekende offer in die oë van die Here was.  Ons sien dus dat die priester namens die offeraar, versoening tussen God en die offeraar bewerkstellig het en dat die tabernakel terselfdertyd  gereinig is.  Die persoon wat nou reiniging op hierdie wyse ontvang het, kan dus saam met die Psalmdigter die woorde van Ps.130:3-4 sing ~ As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan? 4Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien.

Op hierdie stadium moet ek dit net weer beklemtoon dat vergifnis en reiniging nie geskied het bloot op grond van die feit dat die offer gebring is nie, maar saam met dit, die feit dat die aanbidder sy sonde erken en berou daaroor het.

5.    TOEPASSING:
As ’n mens die reinigingsoffers sou moes opsom, sou ek dit as volg doen:  God sal op grond van ’n bloedoffer, enige sondaar vergewe en reinig wat Hom opreg daarom vra. 

Wanneer ons na die besonderhede van hierdie reinigingsoffers kyk, is dit baie duidelik dat Jesus Christus hierdie offer volkome vervul het.  Deur Sy dood is elkeen wat in Hom glo, gereinig en vergewe.  Hebr.9:22 bevestig hierdie stelling ~ Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.  Paulus sê in 2Kor.5:21 ~ Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.  Gelowiges in Christus Jesus, is dus deur die stort van Sy bloed gereinig, daarom dat Petrus in 1Pet.1:2 sê ~ Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.  Wanneer ons sondig, besoedel ons steeds God se tabernakel of tempel, nl. ons siel, maar ook daarvoor het Christus genadiglik, ’n volledige, permanente en aanvaarbare offer gebring en kan ons dus op gereelde basis, vergifnis vir ons sondesmet ontvang.

Die Hebreërskrywer sê in Hebr.9:22-24 ~ Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie. 23Die aardse afbeeldings van die hemelse dinge moes dus noodwendig deur hierdie middele gereinig word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. 24Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom wat deur mense gemaak is en net ’n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn.  Christus het dus ook die allerheiligste eens en vir altyd deur Sy soendood gereinig en daarom het ons nou vrye toegang tot die Vader en kan ons ...tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water (Hebr.10:22).


[1] Boodskap gebring Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagoggend 19 Junie 2011