Sunday, June 5, 2011

GOD SE OFFERWETTE ~ 03 (Graan- en Spysoffers)

1.     SKRIFLESING:
Lev.2:1-16 ~ “Wanneer iemand vir die Here ’n graanoffer wil aanbied, kan hy meel aanbied. Hy gooi daar olie oor en sit wierook bo-op. 2Dan bring hy dit na die Aäronitiese priesters toe, vat ’n handvol van die meel en die olie, en al die wierook, en die priester verbrand dit op die altaar as simbool van die hele offer. Dit is ’n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word. 3Die oorblywende deel van die graanoffer is vir Aäron en sy seuns. Dit is ’n besondere gewyde gawe, ’n deel van die vuuroffer wat vir die Here gebring is. 4“Wanneer jy ’n graanoffer uit die oond aanbied, moet dit van fynmeel wees. Dit kan ongesuurde ringbrood wees, met olie geknie, of ongesuurde roosterkoek, met olie gesmeer. 5As jou graanoffer op ’n bakplaat gebak word, moet dit van fynmeel wees, geknie met olie en sonder suurdeeg. 6Jy breek dit in stukke en gooi olie daaroor. Dit is die graanoffer. 7As jou graanoffer in ’n bakpan gebak word, maak jy die fynmeel met olie aan. 8“Jy bring dan die graanoffer wat jy op een van dié maniere vir die Here klaargemaak het, na die priester toe, en hy bring dit na die altaar toe. 9Die priester vat die deel wat as simbool vir die hele offer dien en verbrand dit op die altaar. Dit is ’n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word. 10Die oorblywende deel van die graanoffer is vir Aäron en sy seuns. Dit is ’n besondere gewyde gawe, ’n deel van die vuuroffer wat vir die Here gebring is. 11“Geen graanoffer wat vir die Here aangebied word, mag suurdeeg in hê nie. Julle mag geen suurdeeg of heuning verbrand as ’n vuuroffer vir die Here nie. 12Julle mag dit as eerstelingoffer vir die Here aanbied, maar op die altaar mag dit nie kom as ’n offer wat deur die Here aanvaar word nie. 13Gooi sout by al jou graanoffers. Die sout herinner aan die verbond met jou God; moenie dat dit in jou graanoffers ontbreek nie. Bied sout aan op al jou graanoffers. 14“Wanneer jy vir die Here ’n graanoffer uit die eerste opbrengs van die oes aanbied, kan dit gebraaide koring of stampkoring wees. Jy bied dit aan as die graanoffer uit die eerste opbrengs van jou oes, 15en jy gooi olie daarop en sit wierook bo-op. Dit is die graanoffer. 16Die priester verbrand dié deel van die stampkoring en die olie wat as simbool vir die hele offer dien, saam met al die wierook. Dit is ’n vuuroffer vir die Here.”

2.     INLEIDING:
Ons het verlede week gesien dat daar hoofsaaklik twee soorte offers vir die Ou Testamentiese volk van God voorgeskryf was, nl. welriekende offers en soenoffers.  Onder die welriekende offers is daar drie soorte offers, nl. brandoffers, spysoffers (of graanoffers) en vredesoffers.  Vanoggend gaan ons kyk na die graan- of spysoffers.

Wanneer ons na onsself as wedergebore kinders van God kyk, besef ons dat ons deur God as kinders aangeneem is, op grond van ’n versoeningsoffer wat gebring is – ’n versoeningsoffer wat natuurlik deur Jesus Christus namens en in ons plek gebring is, net soos wat die dier tydens die brandoffer, in plek van die sondaar gebring is.  Dit is verder ook gepas dat óns wat deur God aanvaar is op grond van Jesus se offerande, ons lewens aan Hom sal toewy.  Hierdie is dan ook presies dieselfde verhouding wat daar bestaan tussen die brandoffer wat gehandel het oor versoening, waarna ons verlede week gekyk het en die spysoffer (graanoffer) waarna ons vanoggend gaan kyk.

Deur die spysoffer het die aanbidder erkenning daaraan verleen dat God die Gewer is van alles wat ons besit en dat hy nou deur die graanoffer, iets – ’n gedeelte, aan God wil teruggee uit erkenning dat God die Bron en Voorsiener van alles is.

3.    OORSIG:   
Kom ons kyk net vir ’n oomblik na God se opdrag aan die volk van Israel.

Die volk het opdrag ontvang om hul toewyding aan God te betoon, deur ’n graanoffer na die priesters te bring, wat op hulle beurt ’n gedeelte daarvan as offer verbrand het en die res self geëet het (2:1-10).

Elke individuele aanbidder moes sy spysoffer voorberei, voor hy dit na die priesters gebring het om geoffer te word.  Hy moes fynmeel neem, olyfolie daarop gooi en wierook daarby voeg.  Dit moes hy doen om, soos ons gelees het, sy toewyding aan God te betoon (2:1-3).  Die offer kon óf uit die beste rouprodukte bestaan, óf hierdie produkte kon gaar gemaak wees volgens bepaalde voorskrifte (2:4-7) soos ons in ons Skriflesing gesien het.

Dit is belangrik dat ons daarop sal let, dat die aanbidder sy heel beste bestanddele moes gebruik.  Ons sien dit in die oorspronklike teks, asook in die O.A.V. en die meeste Engelse vertalings waar daar geskryf staan ~ En as iemand aan die Here ’n spysoffer bring, moet sy offer fynmeel wees (2:1).  Hierdie meel moes dus die suiwerste meel moontlik wees en was gemaak van die kern of hart van die koringkorrel.  Dit is interessant dat Esegiël hierdie meel so hoog geag het, dat hy dit in Eseg.16:13 in dieselfde asem as goud en silwer noem ~ Jy kon jou tooi in goud en silwer, jou klee in linne, kosbare stof, veelkleurige materiaal; jou kos was fynmeel, heuning en olie. Jy het baie mooi geword, geskik om ’n koningin te wees.

Olyfolie het gewoonlik in die Ou Testament sterk simboliese waarde gehad, nl. toewyding aan die Here – dit was ook ’n teken van vreugde.

Wierook was ’n geurige gom en dit het deel uitgemaak van die offer, sodat dit enige moontlike onwelriekende reuke kon uitskakel en dit dan ’n welriekende offer vir God kon wees.  

Die Aäronitiese priesters (die seuns/afstammelinge van Aäron) moes ’n gedeelte van hierdie offer neem en dit as gedenkoffer op die altaar verbrand.  Hierdie offer was dan ook ’n vuuroffer van lieflike geur aan die Here – ’n offer wat dus deur die Here aanvaar is (2:2).

Indien die offer ’n gekookte offer was, moes daar geen suurdeeg of heuning in die offermaal wees nie (2:11-12).   Waarom daar nie heuning of suurdeeg in hierdie offermaal mag gewees het nie, is nie bekend nie, maar die mees waarskynlike rede is dat suurdeeg regdeur die Woord geassosieer word met slegtheid en boosheid.  Jesus vergelyk bv. die vals leer van die Fariseërs met suurdeeg.  In die lig hiervan, kon ’n offermaal met suurdeeg daarin, dus nie as offer aan God gebruik word nie.

Wat die heuning betref is dit waarskynlik verbied omdat dit maklik fermenteer en dus geassosieer word met onreinheid. 

Die feit dat die Israeliete nie ’n "besoedelde" offer (met suurdeeg) moes bring nie, impliseer dus ook dat die aanbidder self nie "geestelik besoedel" sal wees nie – sonder boosheid en allerlei bymotiewe in sy hart dus.

Benewens die feit dat daar nie suurdeeg of heuning in die offermengsel mag wees nie, moes hulle egter wel sout by die mengsel voeg.  Hierdie sout was vir hulle, ’n herinneringsteken van die verbond (2:13).  Die gebruik van sout in die offermaal was baie belangrik, daarom dat dit drie keer herhaal word in v.13 ~ Gooi sout by al jou graanoffers. Die sout herinner aan die verbond met jou God; moenie dat dit in jou graanoffers ontbreek nie. Bied sout aan op al jou graanoffers.   Die feit dat sout, beklemtoon word is waarskynlik omdat sout ’n preserveermiddel is en ons weet dat ’n preserveermiddel, ’n middel is wat voedsel teen verderf beskerm (dink aan biltong).  Die sout herinner die volk dus aan die verbond met die Here en dat Hy hulle sou beskerm.  In hierdie verband dink ons aan Num.19:19 ~ ’n Rein persoon moet op die derde en die sewende dag die water oor die onreine sprinkel, en op die sewende dag moet die onreine homself reinig. Daarna moet hy sy klere was en hom bad, dan sal hy teen die aand rein wees en 2Kron.13:5 ~ Julle weet tog dat die Here die God van Israel die koningskap oor Israel vir altyd aan Dawid en sy nageslag gegee het. Dit is ’n onverbreekbare verbond. 

Wanneer ’n verbond in Ou Testamentiese tye aangegaan is, moes beide partye sout geëet het wat baie dikwels van die een na die ander aangegee is op die punt van die lem van ’n swaard.  Die sout het die sluiting en die gewigtigheid van die verbond versinnebeeld.  Die betekenis van sout in die offermaal het dus besondere betekenis vir die verbondsvolk ingehou, omdat hulle geweet het dat die sout ’n herinnering daaraan is dat God nooit Sy verbond met die volk sou verbreek nie, maar ook dat die aanbidder (en elke individuele aanbidder dus), ’n verantwoordelikheid het om die verbond met God in gehoorsaamheid na te kom.  Ons vind hierdie selfde gedagte in Matt.5:13 toe Jesus aan Sy dissipels gesê het, dat hulle sout van die aarde is, bedoelende dat hulle (en daarom ook ons) ’n verantwoordelikheid in hierdie wêreld het om Christus "te leef", sodat andere ook aangetrek kan word na Jesus Christus, maar wanneer "ons sout laf raak", m.a.w. wanneer dit sy smaak en effektiwiteit verloor, kan ons die wêreld rondom ons nie meer positief beïnvloed nie en kan ons, net soos sout wat laf geraak het, "eenkant gegooi" word, want dan is ons ook nutteloos vir die Koninkryk.

Die aanbidder het die offermaal na die priester geneem en ’n handvol uitgeskep wat as simbool van die hele offer deur die priester op die altaar verbrand word.  Die res van die offer het die priesters toegekom, wat dit dan kon eet (2:3). Wanneer die priester egter self ’n spysoffer gebring het, moes hy die hele offermaal verbrand (Lev.6:22-23).

Die brand van die gedeelte van die spysoffer was ’n baie belangrike ritueel – dit het bekend gestaan as אזכרה (azkara) wat "herinnering" of "gedenkteken" beteken en sluit ook die gedagte van lofprysing in.  Die betekenis van die spysoffer het dus gedien as ’n herinnering daaraan dat alles aan God behoort – dit sluit die aanbidder in, asook alles wat aan hom behoort.  Dit het egter ook, soos reeds vermeld, hulle herinner dat hulle aan God behoort deur die verbond en dat hulle daarom bepaalde verbondsverantwoordelikhede het, wat nagekom moet word.  Dit het egter ook vir die aanbidder beteken dat sy offer wat hy bring, God herinner aan Sy verbondsverantwoordelikhede teenoor die volk en dat Hy daarom ook die volk en die aanbidder moet seën.

Soos die geval met die brandoffer, was die spysoffers ook offers wat ’n aangename geur afgegee het en dit was vir die persoon wat die offer gebring het, dus ’n teken dat sy offer deur God aanvaar is.  Daar was egter ook simboliese waarde in die feit dat die priester die ander gedeelte van die spysoffer geëet het, want ook dit het daarop gedui dat die offer deur God aanvaar is.

4.    SAMEVATTING EN TOEPASSING:
Om op te som:  Ons sien dan dat ’n spysoffer ’n geskenk was wat die aanbidder aan God gebring het.  Dit word nie pertinent in Levitikus 2 vir ons gesê waarvoor hierdie offer gebring moes word nie, maar wanneer ons kyk na hoe en op watter manier hierdie offer gebring is, kry ons beter insig daarin.  Die aanbidder het altyd die heel beste van die eerste oes na die tempel gebring om aan God geoffer te word, trouens God het aan hulle opdrag gegee om dit so te doen, want Hy is nét tevrede met die heel beste wat ons kan bied.  Hierdie feit impliseer dan o.a. dat die aanbidder sy dank teenoor God kom uitspreek vir die gawe van die lewe en dit sluit veral die opbrengs van die oes in.

Met die Ou Testamentiese spysoffer, het ons gesien, dat die aanbidder deur sy offer vir die Here gesê het dat hy homself volkome en opnuut toewy aan God.  Die betekenis en toepassing van hierdie spysoffers vind ons ook in die Nuwe Testament en veral in ’n gedeelte soos Rom.12:1-2.

Nadat Paulus in die eerste gedeelte van die Romeineboek, in detail uitgewei het oor die soenoffer wat Christus deur Sy bloed vir ons as gelowiges gebring het, roep hy ons nou op om ons toe te wy aan dié Christus wat Sy lewe vir ons afgelê het, wanneer hy sê ~ En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. 

In 1 Kor.6:19 sê Paulus ~ Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie.  Ook hier wil Paulus dus vir sy lesers sê dat, net soos die volk van die Here met die bring van hul spysoffers wou sê dat alles van God is en aan Hom behoort, net so moet ons ook besef en bely dat alles aan God behoort, maar veral wil Paulus sê dat ons as gelowiges nie aan onsself behoort nie – ons is gekoop –  duur gekoop, deur Jesus se bloed en daarom behoort ons nou aan die Here en moet ons dienooreenkomstig optree – soos ’n slaaf volkome aan sy meester behoort en hom en hom alleen gehoorsaam, net so moet ons, ons lewens neerlê vir Christus.

Toe Paulus soortgelyke toewyding by die gelowiges in Filippi gesien het, skryf hy aan hulle die volgende ~ ...Julle gawe is voor God ’n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig (Fil.4:18).

Met die bring van die spysoffers het God die gedeelte wat geoffer is, as heilig beskou en wanneer ons as gelowiges onsself en ons besittings aan God offer, word ons lewe ook as heilig beskou – en word ons dus opsygesit en afgesonder vir diens aan die Here God.

Vir die Ou Testamentiese gelowige was die woorde van  Ps.40:6-8 gegee om te bid tydens sy spysoffer en daardeur het hy erkenning aan God gegee dat God meer belangstel in die aanbidder as in die fisiese voedseloffer wat gebring word ~ Here my God, U het baie wonderlike dinge gedoen; U dink altyd aan ons; daar is niemand soos U nie.  Ek sou daarvan wou vertel en daaroor praat, maar dit is te veel om op te noem.  7Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie; U wil gehoorsaamheid hê.  8Daarom het ek gesê: “Hier het ek gekom soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is.  Ons vind hierdie selfde woorde van toewyding in die Here Jesus Christus.  Hy het meer as wat enige mens dit enigsins kan doen, Homself gewy daaraan om Sy Vader se wil te doen, nl. om dié volmaakte Spysoffer te wees wat die Vader tevrede gestel het – Hebr.10:5-9 ~ Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld:  “Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het.  6Brandoffers en sondeoffershet U nie behaag nie!  7Toe het Ek gesê:  Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil te doen.  In die boekrol is die van My geskrywe.” 8Eers sê Hy: “Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,” hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. 9Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers af om ’n ander offer in die plek daarvan te stel. 10Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd.

Ons moet as gelowiges besef dat Christus Homself volkome aan die Vader gewy het.  As ons sê dat Hy Sy liggaam geoffer het, impliseer dit dat ons as kerk geoffer is (kerk = liggaam van Christus) en daarom moet ons as Sy liggaam, onsself ook volkome aan die Vader wy en besef dat ons aan Hom behoort.

Wat beteken dit in die praktyk vir jou en my om ons toe te wy aan God?  Dit beteken o.a. dat ons, ons dankbaarheid teenoor God sal betoon vir die feit dat ons nie meer spesiaal ’n maaltyd hoef voor te berei en na die Tempel toe te vat om geoffer te word nie, want Jesus – die "Eerste Vrug" is reeds vir ons geoffer en Sy offer was volmaak en genoegsaam en daarom hoef ons dit nie meer te herhaal nie. 

Ons kan en moet ons toewyding verder op praktiese wyse betoon, deur net die beste vir God te gee (dit is die fynmeel van ons lewe).  En hoe doen ek dit?  Deur o.a. ’n heilige lewe te lei (sonder suurdeeg); deur ons toewyding aan die onderlinge byeenkomste en ons toewyding aan mekaar; deur opgewonde en vol vreugde (olyfolie) te wees oor wie God is en wel tot so ’n mate dat ek nie anders kan as om oor Hom en van Hom te getuig nie.  My toewyding sal verder weerspieël word deur my "stiltetyd" (wierook). 

In kort, my toewyding aan God sal tot gevolg hê dat ek ten alle tye, God se Koninkryk in en deur my lewe sal soek en eerste sal stel.


1.     Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 05 Junie 2011