Sunday, March 13, 2011

DIE BOEK ESRA ~ 02 (“Terug na God”)

1.       INLEIDING:
Ons vind op verskeie plekke in die Woord van God, lang lyste name en dan wonder ’n mens en jy vra jouself af:  Wat die doel of nut daarmee is. In Gen. 5 vind ons bv. Adam se geslagsregister en in Gen.11 dié van Sem, terwyl ons in Matt.1:1-17, die geslagsregister van Jesus aantref.  In die tweede hoofstuk van Esra vind ons lang lyste name van die ...mense uit die provinsie Juda wat uit die ballingskap teruggekom het na Jerusalem en Juda toe (Esra 2:1). En in vv.66-67 word die soort en hoeveelheid diere ook vermeld, wat saam met hulle terug is na Palestina.  Ons kan dus ook vra, wat die primêre teologiese doel met hierdie lang lyste name is?

Ons moet verstaan, dat die hoeveelhede van mense, of die getalle, soos vermeld in die registers, nie regtig belangrik was nie – dit is waarom sommige ooreenstemmende geslagsregisters, se hoeveelhede nie altyd ooreengestem het nie.  Wat die getalle in geslagsregisters betref, sê die bekende B.B. Warfield dat die doel waarom geslagsregisters, of lyste van name gegee word, nie was om daardeur ’n volledige verslag te gee van al die geslagte nie, maar net om aan ’n bepaalde persoon te toon van wie hy werklik afstam.  Wat dus wel belangrik was, was om vas te stel wie jou familie was; wat jou identiteit was; waar jou wortels gelê het.  

Ek het ’n paar jaar gelede navorsing gedoen oor my voorgeslagte en ’n geslagsregister saamgestel.  My kinders het geweldig belang gestel daarin, maar elke keer as ons na die register kyk, tel nie een van hulle ooit die hoeveelheid  neefs en niggies en ooms en tannies wat daar in die voorgeslagte was nie – hulle stel net belang in waar hulle pa en my pa en my oupa van wie ons die van “van der Walt” gekry het, op die geslaglyn is en wie sy pa en dié se pa was, ens. tot by die oorspronklike “van der Walt” wat na die suidpunt van Afrika gekom het.  Of wanneer my kinders na ’n familiefoto kyk wat van die “van der Walts” op Kersdag 1955 in Middelburg, Kaap geneem is, gee hulle nie regtig om dat een van die ooms en van die (op daardie stadium, ongebore), neefs en niggies nie op die foto is nie – nee, hulle kyk waar is Pa, Oupa en Ouma en Oupagrootjie en Oumagrootjie.  Dit is presies dieselfde met die geslagsregisters in die Bybel.   

Die punt is nie die dosyne en dosyne kinders en kleinkinders, ens. wat voortgespruit het uit die eerste “van der Walt”, by name Geele Andries Veenwouden wat in 1705 in Friesland gebore is nie, maar die direkte lyn wat van Geele tot by Hugo loop – dít is wat van belang is – hoeveel geslagte dus (Hugo = 9de) en wie deel uitmaak van die direkte geslagslyn.

As ons net vir ’n oomblik kan terugkeer na die Gen.5-geslagsregister, kan ons bv. ook bepaal hoe oud die aarde is, spesifiek wanneer ’n mens dit dan ook vergelyk met die genealogie van Kain in Gen.4.  Ek wil egter nie nou daarin verval om te sê hoe oud die aarde is en hoe ’n mens daarby uitkom nie (daar is bv. genoeg inligting op Creation Ministries se webtuiste hieroor:  http://creation.com/).

In Gen.5 kan gesien word dat Lameg ’n Godvresende man was en deur sy geslagsregister na te gaan, kan ’n mens sien wat se seën vir die nageslagte daaruit voortgespruit het.  As ons na Jesus se geslagsregister kyk, sien ons dat Ragab  (die prostituut) en Rut, beide aanvanklik heidene was, maar hulle is ingesluit in die voorgeslagte van Jesus, om daardeur aan te toon dat Jesus se genadewerk aan die kruis ook bedoel is vir die heidene (ons).

Daar is nog vele ander redes waarom ons geslagsregisters in die Woord aantref, wat ons wel sien, is dat geslagsregisters nie om dowe neute in die Woord aangeteken is nie en dat ons baie daaruit kan leer.

Ek sien hierdie afgelope week hoe mense op die Internet praat van “die groot seder wat geval het” in Kleinmond se omgewing (berig in Overstrand Herald, d.d. 25 Feb. 2011). Dit maak ongelukkig nie saak hoe ’n “groot seder” ons in hierdie lewe is of was nie, want volgens Moses, is die mees belangrikste faktor in die ganse wêreld wat die mens se uiteindelike bestemming bepaal, nié sy bydrae wat hy in hierdie lewe gelewer het nie.  Ook is dit nie die reputasie wat jy opgebou het  nie, want die kritiese faktor vir elke mens, is of sy of haar naam in “God se boek” opgeteken staan – dít is wat saak maak.  Dit laat ’n mens onwillekeurig dink aan die woorde in Openb.20:12-15 ~ Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. 13 Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. 14 Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. 15 As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi

Dit het dus vir die Ou Testamentiese Jode daaroor gegaan of hul name in die genealogiese lyn van Kain of dié van Set was.  En wat het bepaal of hulle name opgeskryf was in die geslagsregister wat in Gen.5 opgeteken was?  Hul erkenning van hul eie sonde en hul geloof in God wat verlossing en redding belowe het – dít het bepaal of hulle in Set se geslagsregister opgeteken is of nie. 

Dit is presies dieselfde vandag nog.  Die vraag is:  Onder wie se genealogiese lyn staan jou naam geskryf?  Is jy steeds deel van die nageslag van Adam, of is jou naam onder die genealogiese lyn van Jesus Christus?

Vanuit God se perspektief is genealogiese lyne baie belangrik, want daardeur toon hy aan ons dat elke mens wat in Christus Jesus uitverkies is, vir Hom belangrik is – Hy ken jou en my op die naam en Hy het jou naam in die palm van Sy hand gegraveer, net soos wat jou naam in die heilige familielyn van Christus opgeteken staan!

2.       SKRIFLESING:
Kom ons lees enkele verse en gedeeltes van verse uit Esra 2:1-61:
Verse 1-5 ~ Hier volg ’n opgawe van die mense uit die provinsie Juda wat uit die ballingskap teruggekom het na Jerusalem en Juda toe, elkeen na sy eie stad toe. Hulle is na Babel toe weggevoer deur koning Nebukadnesar van Babel, 2 en hulle het teruggekom saam met Serubbabel, Jesua, Nehemia, Seraja, Reëlaja, Mordegai, Bilsan, Mispar, Bigwai, Regum en Baäna. Die getalle van die mense van die volk Israel was soos volg: 3 Ingedeel volgens families: Paros twee duisend een honderd twee en sewentig, 4 Sefatja drie honderd twee en sewentig, 5 Arag.......

Vers 21-38 ~ Ingedeel volgens plek van herkoms: Betlehem honderd drie en twintig, 22 Netofa ses en vyftig, 23 Anatot honderd ag en twintig, 24 Bet-Asmawet twee en veertig, 25 Kirjat-Jearim, Kefira en Beërot sewe honderd drie en veertig, 26 Rama en Geba ses honderd een en twintig, 27 Mikmas honderd twee en twintig, 28 Bet-El en Ai twee honderd drie en twintig, 29 Nebo twee en vyftig, 30 Magbis honderd ses en vyftig, 31 nog ’n Elam duisend twee honderd vier en vyftig, 32 Garim drie honderd en twintig, 33 Lod, Gadid en Ono sewe honderd vyf en twintig, 34 Jerigo drie honderd vyf en veertig, 35 Senaä drie duisend ses honderd en dertig 36Priesterfamilies: Jedaja, uit die huis van Jesua, nege honderd drie en sewentig, 37 Immer duisend twee en vyftig, 38 Pasgur.......

Verse 40-43 ~ Levitiese families: Jesua en Kadmiël, uit die Hodaujagroep, vier en sewentig, 41 sangers uit die Asafgroep honderd ag en twintig, 42 poortwagte uit die families van Sallum, Ater, Talmon, Akkub, Gatita en Sobai, almal saam honderd nege en dertig. 43 Tempelslawe met hulle families: Siga, Gasufa.......

Vers 55 ~ Nakomelinge van die dienaars van Salomo, met hulle families: Sotai, Soferet, Peruda......

Verse 58-61 ~ Al die tempelslawe en die nakomelinge van die dienaars van Salomo was saam drie honderd twee en negentig. 59 Uit Tel-Melag, Tel-Garsa, Kerub-Addan en Immer het mense teruggekom wat nie uit hulle familieverband en afstamming kon aantoon dat hulle deel van Israel is nie. 60 Dit was die families van Delaja, Tobija en Nekoda, altesaam ses honderd twee en vyftig mense. 61 Van die priesterfamilies was daar ook nog dié van Gabaja, Kos en Barsillai, dié Barsillai wat getroud is met ’n dogter van die Gileadiet Barsillai en toe na hom vernoem is..

Verse 64-67 ~ Die hele gemeente was in totaal twee en veertig duisend drie honderd en sestig, 65 afgesien van hulle slawe en slavinne; dié was sewe duisend drie honderd sewe en dertig. Dan was daar ook nog twee honderd sangers en sangeresse. 66 Die mense het sewe honderd ses en dertig perde, twee honderd vyf en veertig muile, 67 vier honderd vyf en dertig kamele en ses duisend sewe honderd en twintig donkies gehad. 

3.       DIE LYS VAN NAME:
Dit is baie interessant om te sien dat bykans dieselfde lys deur Nehemia in Neh.7:6-73 verskaf word.  Dieselfde vraag wat ons aan die begin gevra het, kan ons ook weer hier vra, nl.:  Wat is die doel met hierdie lys name?  Wel, ons kan ook sê dat hierdie nodig was, want volgens hierdie lys kon elke banneling presies sien tot watter familiegroep hy hoort en vanwaar sy voorgeslag gekom het, sodat daar geen twyfel bestaan het oor wat van elkeen verwag word en waarheen elkeen moes terugkeer nie. Daar moes dus ’n kontinuïteit bestaan tussen die voor-ballingstyd en die na-ballingstyd.  Ons sien hierdie feit in vv.59-63 en dan veral v.59 ~ Uit Tel-Melag, Tel-Garsa, Kerub-Addan en Immer het mense teruggekom wat nie uit hulle familieverband en afstamming kon aantoon dat hulle deel van Israel is nie.  Verder moes die stamme nie vermeng geraak het nie en daarom het hulle in stamverband, of familieverband getrek.

Verder is die klem wat op die begin en einde van elkeen van hierdie reeks name, of families geplaas word, belangrik, want dit was in ooreenstemming met die verdeling van die land soos o.a. in Josua aangetref en dit is weer ’n gedeeltelike vervulling van die oorspronklike belofte wat God aan Abraham gemaak het in Gen.12:2-3 ~ Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ’n seën wees. 3 Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.

Dit is duidelik dat die klem in hierdie lys val op die ballinge se identiteit en ’n instandhouding en voortsetting van die verlede en God se bemoeienis met die voorgeslagte.

’n Baie interessante stukkie moderne geskiedenis, is dat daar ’n klompie jare gelede (net na 1948[2]) ’n massa emigrasie van Jode uit Irak na Israel plaasgevind het, toe tussen 800 000 en 1 miljoen Jode, teruggekeer het na Israel.  Hulle was hoogs waarskynlik (en volgens die destydse eerste minister, David Ben-Gurion, beslis) deel van die nageslag van ’n deel van die Joodse ballinge in Irak, wat nie destyds saam met Serubbabel teruggekeer het nie.

Die terugtog na Israel van Babilon af, het nagenoeg 4 maande geduur en die afstand wat afgelê is, was ongeveer 1450 km.  Die roete wat die ballinge gevolg het, was noordwaarts, al langs die Eufraatrivier, tot net oos van ’n plek met die naam van Aleppo, daarna het hulle weswaarts getrek tot by die Orontesriviervallei, waarna hulle suidwaarts met hierdie vallei getrek het, totdat hulle uiteindelik by Damaskus uitgekom het en vandaar tot in Palestina.  Hierdie roete was presies dieselfde roete as wat deur die Assiriese en Babiloniese weermagte gebruik is waarvan ons in Jer.39 en 52 lees (39:5-7; 52:9-10, 26-27).

Wat opmerklik is van hierdie lang lys name, is o.a. die feit dat hierdie ’n lys is van die eerste mense wat uit ballingskap terug gekeer het na die “Beloofde Land” en hulle het volgens 2:2, onder die leiding van Serubbabel, Jesua, Nehemia, Seraja, Reëlaja, Mordegai, Bilsan, Mispar, Bigwai, Regum en Baäna, teruggekeerSerubbabel was egter die leier van hierdie eerste uittog uit Babilonië.

Ons sien ook dat die totale hoeveelheid mense wat terug gekeer het (volgens vv.42, 58 en 60), 29 829 was.  As ons egter na vv.64-65 kyk, was daar 49 897.  Die woorde wat hier belangrik is om in gedagte te hou wanneer ons hierdie verskil moet verklaar, is die openingswoorde in v.64, nl. ~ Die hele gemeente....  Die groter hoeveelheid het waarskynlik die vrouens en kinders ingesluit.  Dit mag ook wees dat daar oorspronklik ’n klomp Jode uit die tien noordelike stamme saam met die twee suidelike stamme van Juda en Benjamin weggevoer is en wat nou saam terug gekeer het.  Hierdie getal kan egter ook die priesters ingesluit het wat nie, volgens vv.61-62, hul genealogie kon bepaal nie.

Wanneer ons later na Nehemia en dan spesifiek na 7:66-67 gaan kyk, sal ons sien dat Nehemia se getal 45 meer insluit.  Wanneer ’n mens die lyste vergelyk, sien jy dat Nehemia 45 meer sangers “gelys” het en dit kan toegeskryf word aan ’n fout wat deur die skriba (sekretaris) begaan is gedurende die oorskryf van die verskillende grondtekste en vertalings.

Daar is ander soortgelyke verskille in die lyste, maar die totale is steeds bykans dieselfde.

Dit is ook baie interessant om te sien dat selfs die diere getel en gelys was – ’n totaal van 8 136 donkies wat hoofsaaklik gebruik is vir rydoeleindes

4.       TERUG IN ISRAEL:
In Esra 1:7 het ons gesien dat Koning Kores ook die goed laat haal (het) wat in die huis van die Here was en wat Nebukadnesar uit Jerusalem weggevat en in die tempel van sy god gesit het.  Hierdie tempelgereedskap is in die sorg van Sesbassar geplaas, wat dit moes terugneem na Jerusalem sodat dit in die herboude tempel geplaas kon word.  Ons sien egter ook in 1:6 dat al die Israeliete se bure ~ ...hulle hande gesterk (het) deur silwerware en goud, gebruiksgoed, vee en allerlei kosbaarhede te gee, bo en behalwe al die vrywillige gawes.

Maar nou terug in Jerusalem kom van die ballinge en ons lees die volgende in vv.68-69 ~ Met hulle aankoms by die tempelterrein in Jerusalem het ’n aantal familiehoofde vrywillige bydraes gegee vir die oprigting van die huis van die Here op sy oorspronklike plek. 69 Hulle het volgens hulle vermoë vir die boufonds gegee, iets meer as ’n halwe ton goud, byna drie ton silwer en honderd stelle priesterklere.  Daar word ruim bygedra ter wille van die heropbou van die tempel.  Die volk se bydraes het gespreek van ’n opregte toewyding aan God – dieselfde gees wat in Eks.36 geheers het, toe Moses gevra het vir offergawes ten einde die tabernakel met die tent daaroor te maak (foto van tabernakel - http://www.bibleplaces.com/tabernacle.htm).  En wat was die eindresultaat?   Toe het al die vakmanne wat die werk aan die heiligdom moes doen, elkeen van sy afdeling van die werk af, 5vir Moses kom sê: “Die volk bring meer as wat nodig is om die werk te doen wat die Here beveel het.” 6 Toe het Moses in die kamp rond laat weet dat die mense nie meer iets as offergawe vir die heiligdom moet gee nie, en eers toe het die volk opgehou bring. 7 Daar was meer as genoeg om al die werk te doen, daar was selfs nog oor (vv.4-7).  Hierdie gesindheid was presies dít wat Paulus ook in gedagte gehad het, toe hy in 2Kor.9:6-7 geskryf het ~ Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. 7 Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.  Die volk het uit vrye wil gegee en ook volgens elkeen se eie voorneme. 

Die spreekwoordelike tafel is gedek vir die herbou van die tempel van God in Jerusalem – daar is genoeg werkers; die heerser van die Ryk, koning Kores het sy seën verleen op die projek; die tempelgereedskap is terug gekry en daar was meer as genoeg boumateriaal om die tempel te herbou.

Hierdie hoofstuk word egter afgesluit met hierdie woorde in v.70 ~ Die priesters, die Leviete en ’n deel van die volk, asook die sangers, die poortwagte en die tempelslawe het hulle gevestig in die stede waar hulle vandaan gekom het. So het die hele Israel gedoen.   Die volk moes in meer as een opsig, ’n nuwe begin maak, want die meeste van die ballinge het terug getrek na dorpies wat hul nog nooit van tevore gesien het nie, maar dit was die tuisdorpe van hul voorouers en dit was waar hulle wou wees – tuis!   

5.       AFSLUITING:
Die boek Esra word deur baie mense beskou as koue geskiedenis, of dalk interessante geskiedenis, maar wat se relevansie het dit vir ons vandag?  Die ballinge se voorsate het God gedien; was deel van die verbondsvolk; het saam met Moses na die Beloofde Land getrek, terwyl God hulle bewaar het teen allerlei aanslae, ens. (dink aan die Rooi See wat gekloof was, terwyl die Egiptiese weermag hulle agterna gesit het);  bedags het God hulle in die vorm van ’n wolkkolom gelei en snags deur ’n vuurkolom; hulle is gevoed deur manna en kwartels, ens., maar uiteindelik het hulle hul rug op God gedraai en het hulle verval in ’n bose sirkel van afgodery en bekering en afgodery en wettisisme en afvalligheid en bekering.  Uiteindelik is die twee suidelike stamme weggevoer na Babilon, maar God red weereens ’n “oorblyfsel” en hulle keer terug na die Beloofde Land, sodat hulle weer hul aanbiddingsplek kon herbou, ten einde weer in die regte verhouding met God te kon staan.

Is ons nie ook op presies dieselfde plek nie?  Kom ons geskiedenis as gelowiges nie ook ’n lang pad nie?  Die Nuwe Testamentiese kerk wat kort na Jesus se hemelvaart ontstaan het, het mettertyd ook verval en verdwyn. Die staatskerk het onder Konstantyn hoogty gevier.  Die Roomse Kerk het oorgeneem, maar toe kom die hervorming en God red weer ’n klein groepie.  Hulle word fel vervolg deur die staatskerk en die R.K.K. en die meeste van ons voorouers vlug uit Europa vir hulle geloof, om hulleself as toegewyde oorblyfsel van gelowiges aan die suidpunt van Afrika te kom vestig.  Die kerk groei in ons land en ons lees en hoor van wonderlike dinge wat in die kerk van destyds onder, o.a. Andrew Murray gebeur het.  Maar, oor jare heen het die kerk egter weer verval en het die staat en die kerk se gesagsfere vermeng geraak – verval het ingetree in die kerk van ons dag en die kerk in Suid-Afrika verkeer tans in ’n hartverskeurende toestand.  MAAR God red weer en is steeds besig om weer ’n “oorblyfsel” te red.  Waarom?  Sodat ons weer in die regte verhouding met Hom kan staan.

Die vraag is, of ons met dieselfde gesindheid, oorgawe en visie as waarmee die bannelinge teruggekeer het na die Beloofde Land, ons elke dag opnuut toewy aan die Here God?  Ons lees in Esra 7:10 ~ Esra het hom gewy aan die wet van die Here. Hy wou dit in die praktyk toepas en Israel elke voorskrif en bepaling leer.  Is dít ook ons opregte begeerte om God met ons hele hart te gehoorsaam en Hom te dien?

Laat ons, ons vandag weer opnuut voorneem om God Almagtig te dien met oorgawe en Hom te dank vir die feit dat ons deel is van ’n volk met ’n ryke geskiedenis van toewyding aan God, maar laat ons elke dag ook bedag wees daarop dat hierdie voorreg deur die vyand van ons gesteel kan word.  Kom ons tree waardig ons roeping op en dank God dat ons deel van Sy “oorblyfsel” is!


1.     Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 13 Maart 2011