Sunday, February 13, 2011

PAULUS SE BRIEF AAN DIE FILIPPENSE ~ 09 (“Gedragskodes vir Hemelse Burgers”)

1.     SKRIFLESING:
Fil.4:1-9 ~ Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here. Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon. 2 Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here. 3 Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens van die evangelie, net soos Klemens ook en my ander medewerkers, wie se name in die boek van die lewe staan. 4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5 Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. 8 Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is-watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees-daarop moet julle julle gedagtes rig. 9 En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.  

2.     INLEIDING:
Ons kom nou by die laaste hoofstuk van Paulus se brief aan die gemeente in Filippi en hy begin hierdie hoofstuk met die woorde, “daarom”.  En teen hierdie tyd weet julle al almal, dat wanneer ons die woordjie “daarom” sien, ons dadelik moet vra “waarom?”.  M.a.w., waarom skryf Paulus, “daarom” en die antwoord sal ons altyd in die voorafgaande gedeelte vind.  In die voorafgaande gedeelte het Paulus geskryf oor die gelowige se hemelse burgerskap en op welke wyse burgers van die hemel moet wag op Christus se wederkoms.  Ons het ook gesien dat hierdie “wag” nie ’n passiewe “wag” is nie, maar ’n aktiewe “wag” waartydens gelowiges toesien dat hul lewens bo verdenking sal wees en dat hulle alles in hulle vermoë doen om onberispelik in hul lewenswandel te wees terwyl hulle wag op Christus.  Ook het ons gesien, dat elke gelowige ’n bepaalde verwagting het t.o.v. sy komende hemelse burgerskap, nl. dat hy oor ’n verheerlikte liggaam gaan beskik.  Hierdie verheerlikte liggaam, gaan die voltooiing van Christus se reddingsproses wees.

Nou kom Paulus en hy borduur voort op hierdie aktiewe “wag-proses” van die gelowiges – daarom dat hy “daarom” sê.  Hy sê dus eintlik:  Julle moet aktief wag gemeente en daarom, terwyl julle aktief wag, moet julle..... (en wat nou gaan volg). 

3.     STANDVASTIGHEID:
Paulus noem dan ses dinge aan die gemeente in Filippi, wat hulle moet doen terwyl hulle aktief wag op die koms van die Here Jesus Christus:
·           Eerstens:  Standvastigheid (v.1).
·           Tweedens:  Harmonie (v.2-3).
·           In die derde plek:  Blydskap (v.4).
·           Vierdens:  Inskiklikheid (v.5).
·           Vyfdens:  Sorgloosheid  (v.6).
·           En laastens:  Fokus (v.8). 

Paulus sê dan vir die gemeente dat hulle, terwyl hulle wag op die koms van Christus, hulle eerstens moet vasstaan.  Paulus borduur egter nie hierop voort nie en kan ons baie maklik maar bloot net bo-oor dit lees en geen waarde daaraan heg nie, terwyl hy tog sekerlik iets bepaalds in gedagte daarmee gehad het.  In 1Kor.16:13 het Paulus aan die Korintiërs gesê ~ Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk! 

Toe Paulus hierdie woorde aan die Korintiërs gerig het, was daar onmin en tweespalt in die gemeente.  Wanneer ons na ons teks vir vandag kyk, asook na die verdere konteks van hoofstuk 4, sien ons dat hier ook sprake is van onmin en tweespalt en daarom rig Paulus dieselfde waarskuwing, opdrag en raad tot die Filippense, deur vir hulle te sê:  Staan vas!  Heel moontlik het hulle presies geweet wat hy daarmee bedoel het, omdat hulle hoogs waarskynlik ook insae in die brief aan die Korintiërs gehad het (wat reeds voor 55 n.C. die lig gesien het – Filippense, 60-61 n.C.). 

Paulus sê vir hulle, dat hulle vas moet staan, omdat die aanslae van die vyand (die satan) intens is en daarom moet hulle nie soos jong gelowiges (of soos hy dit noem, kinders) wees, wat op en af en heen weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars hulle met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie (Ef.4:14).  Hy sê dus vir hulle, dat hulle nie moet toegee aan allerlei wêreldse denkpatrone nie.  Nee, hulle moet hul lewens inrig volgens die wil van God en derhalwe in liefde omgaan met hul medegelowiges (1Kor.16:14). 

Ons moet altyd onthou dat ons nie meer soos die wêreld is nie en dat ons nie meer soos die wêreld mag optree nie – ons is deur God geroep en daarom word ’n bepaalde leefwyse van ons verwag – ’n leefwyse waar Christus ons lewe oorheers en daarom sê Paulus ook aan ons, dat ons vas moet staan en wanneer ons gly en val, moet ons opstaan en in Hom voortveg, tot die einde toe.

4.     HARMONIE:
Direk nadat hy dan vir die gemeente sê dat hulle vas moet staan en nie moet toegee aan wêreldse denkpatrone en liefdelose optrede nie, spreek hy die tweespalt aan wat binne die gemeente tussen  Euodia en Sintige bestaan het.  Waaroor hierdie twee vroue haaks was met mekaar weet ons nie, maar dit het tweespalt in die gemeente tot gevolg gehad.

Die Griekse woordorde van hierdie oproep van Paulus, lui letterlik as volg:  Euodia asseblief, ek smeek jou, en Sintige asseblief, ek smeek jou!  Terwyl Paulus onder huisarres in Rome verkeer, rig hy deur sy brief, individuele boodskappe aan hierdie twee vroue en hy doen dit in groot liefde.  Hy smeek hulle om die strydbyle neer te lê en versoen te raak en hy smeek hulle om een van hart en een van oortuiging te word, sodat hulle in harmonie saam kan leef.  Die A.S.V. sê, ...to be of the same mind in the Lord, terwyl die E.S.V. sê ...to agree in the Lord.  Die Griekse woord wat hier gebruik word  [φρονέω (phroneō)], is ’n werkwoord  wat dui op voortgaande aksie asook eenders denkendheid.

Paulus het hierdie twee vroue, wat ongetwyfeld gelowiges was, want hulle het saam met hom ywerig meegewerk om die Evangelieboodskap uit te dra, eintlik al vroeër in sy brief voorberei op sy oproep wat hy tot hulle rig, nl. toe hy vir die gemeente gesê het dat die een, die ander hoër moet ag as hom- of haarself (Fil.2:1-4).  Ook toe hy in Fil.2:5-8 gepraat het oor Jesus se nederigheid en van Timoteus en Epafroditos se onbaatsugtigheid (Fil.2:19-30).  Hy sê dus aan hierdie twee vroue, dat ook hulle eensgesind moet wees (2:5-8).  Hulle moet ophou om elkeen in hul eie rigting te wil “trek” en eerder Christus se gesindheid van nederigheid en Timoteus en Epafroditos se gesindheid van onbaatsugtigheid aan die dag lê en een van hart en gedagte word.

Hierdie tweespalt het beslis ook ’n effek gehad op die res van die gemeente, daarom dat Paulus aan die leierskap sê dat hulle ook die res van die gemeente moet help om hierdie tweespalt met die regte gesindheid en optrede te hanteer en dat hulle dus moet let op hul eie optrede teenoor mekaar, ter wille van die eer van God.  Paulus bepleit dus harmonie en eensgesindheid onder elkeen van die broers en susters in die gemeente.

Ons moet verstaan dat hierdie eenheid waarvan Paulus hier praat, nie daarop wys dat ons in eenheid met alle mense moet staan nie, maar spesifiek met medegelowiges in die gemeente en daarom moet ons haperende verhoudings onverwyld uitstryk – dit is tog immers waarvoor Jesus ook Matt.18 aan ons gegee het – juis vir hierdie doel (Matt.18:15-20).

5.     BLYDSKAP:
In v.4 noem Paulus ’n derde gedragskode wat die gelowiges in Filippi aan die dag moet lê, nl. om bly te wees.  Ook hierdie is nie ’n nuwe oproep wat hy tot die gemeente rig nie – hy het dit reeds in 3:1 gedoen, toe hy gesê het ~ Verder, my broers, wees bly in die Here!  Ons het dan ook gesien dat Paulus vir hulle gesê het dat hulle bly moet wees oor hul redding en hy het spesifiek verwys na Jesus se woorde aan Sy dissipels wat baie opgewonde was oor hulle suksesse op die sendingveld, waar demone hulle aan die dissipels onderwerp het en Jesus toe aan hulle gesê het ~ ...julle (moet) nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is (Luk.10:20).  Dit is so asof Paulus weet dat sy broers en susters se aandag baie maklik afdwaal en dat hulle gou vergeet waaroor dit eintlik gaan in hierdie lewe en dat hulle heeltemal te gou vergeet dat hulle ’n ewige bestemming het en daarom herinner hy hulle net gou weer hier, om oor die feit dat hul name in die hemel opgeskryf is, te dink, sodat hulle blydskap weer “opgepoets” kon raak.

Baie dikwels is die lewe en sy aanslae van so ’n aard, dat dit baie moeilik is om in blydskap te leef.  Paulus sê egter nie hier dat ons altyd gelukkig moet wees nie.  Nee, hy moedig ons aan om ons te verheug in die Here, want sê hy, die Here is naby (v.5). 

Om te weet wat Paulus regtig met hierdie uitdrukking, die Here is naby bedoel en waarom hy dit hier gebruik het, is nie maklik om te bepaal nie, máár dit is hoe ek dit sou verklaar: Pre-millennialiste sou onmiddellik vir jou sê dat dit daarop dui dat die “wegraping” binnekort gaan plaasvind en daarom moet ons bly wees.  Ons weet egter al teen die tyd dat hierdie ’n totaal onbybelse en verkeerde interpretasie van die ganse Woord is en dan spesifiek ’n ignorering van Openb.1:1 wat sê dat die dinge wat aan Johannes geopenbaar word, “binnekort moet gebeur” en het ons nou al in ons studie oor Openbaring gesien dat dit gaan oor God se oordele oor ’n ongehoorsame verbondsvolk en die ou verbond wat teen 70 n.C. volkome vervang sou word met die nuwe verbond – dit gaan dus glad nie oor die sg. duisendjarige vrederyk en die groot verdrukking en die “wegraping” nie.  Dit sou in elk geval ondeurdag van Paulus gewees het om die lidmate van Filippi te bemoedig, deur vir hulle te sê dat hulle vol blydskap moet wees, omdat Christus se wederkoms naby is en hulle binnekort “weggeraap” sou word – binnekort: 2000 jaar later?  Dan was Paulus mos ’n misleier!  Nee, ek sou eerder sê dat hierdie uitdrukking, nl. dat die Here naby is, juis nié op die wederkoms van Christus dui nie, maar eerder dat die Here, in die woorde van Ps.145:18-21, ...naby almal (is) wat Hom aanroep, almal wat Hom in opregtheid aanroep. 19 Aan dié wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra, Hy hoor as hulle om hulp roep, en Hy red hulle. 20 Die Here beskerm almal wat Hom liefhet, maar al die goddeloses verdelg Hy. 21 Ek sal die lof van die Here verkondig. Laat al wat leef, sy heilige Naam vir altyd prys.  Ook Deut.4:7 stel dit vir ons pragtig ~ Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid?.

Soms is die beproewing en druk wat ons in hierdie lewe ervaar, net te erg om nog gelukkig ook te wees, maar ons moet bly wees, omdat ons weet dat ons Vader altyd naby ons is en gereed is om ons te help wanneer ons val, of wanneer ons uitroep na Hom – hierdie wete en versekering behoort ons voortdurend te vervul met blydskap.

Bekommernis en beproewing word meestal veroorsaak, deur verkeerde denkprosesse oor dinge, mense en/of omstandighede.  Waarom sê Paulus dat die Here altyd naby is?  Omdat hy wil hê dat ons moet onthou dat wanneer ons in bepaalde omstandighede verkeer, ons nie vanuit ’n wêreldse perspektief daarna moet kyk nie – so asof God glad nie bestaan nie.  Nee, ons moet te alle tye vanuit God se perspektief na ons omstandighede kyk – Hy is naby!  As ons aan die geveg tussen Dawid en Goliat dink:  Wat was Goliat met sy reuse spies in vergelyking met Dawid se God – Hy wat die ganse heelal geskep het en steeds beheer?  Die Filistyne het op hulle reus, Goliat vertrou.  Die Israeliete het glad nie vanuit God se perspektief gedink nie en daarom het hulle voor Goliat uit gevlug en gebewe van vrees (1Sam.17:24), maar Dawid – Dawid het vertrou op God.  Hy het geweet dat indien hy op God vertrou in sy omstandighede, hy aan die wenkant is. 

Wees altyd bly, want ons hoef nie onder ons omstandighede te bly lê nie, want God is aan ons kant.  Ons moet vashou aan die woorde in Spr.3:5-6 ~ Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. 6 Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.  Dawid sê in Ps.33:17-22 ~ Dit is nie waar dat die perd die oorwinning gee en dat sy groot krag redding bring nie. 18 Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou 19 om hulle van die dood te red en hulle in die lewe te hou in hongersnood. 20 Ons vertrou op die Here: Hy is ons hulp en ons beskermer. 21 Ja, in Hom is ons hart bly, op sy heilige Naam vertrou ons. 22 Hou u liefde oor ons, Here, want ons stel ons vertroue in U.  En Salomo sê in Spr.21:31 ~ Perde kan afgerig word vir oorlog, maar dit is die Here wat die oorwinning gee. 

Ons het rede om bly te wees, want ons het die Here God aan ons kant.

6.     INSKIKLIKHEID:
In v.5 sê Paulus dat die gemeentelede, inskiklik moet wees teenoor alle mense.  ’n Ander woord vir inskiklik is “vriendelikheid”, of om redelik teenoor mekaar te wees.  Die gedagte is dus dat ons nie onnodig rigied moet wees oor dinge wat nie belangrik is nie.  Dit is m.a.w. nie die moeite werd om ’n gemeente te laat skeur oor die kleur van die matte of hoeveel pype daar in die orrel moet wees nie – die goue reël – wees inskiklik; wees die minste; ag die ander een hoër as jouself.  Natuurlik geld hierdie nie vir beginselsake of leerstellighede nie, maar dit gaan oor onbenullighede.

7.     SORGLOOSHEID:
In vv.6-7 sê Paulus dat die Filippense nie besorgd oor enige iets moet wees nie.  Hoe kry ’n mens dit reg om oor niks besorg te wees nie?  Wel Paulus sê dat ’n sorgelose lewe moontlik is, as daar reg gebid word en dan gebruik hy drie uitdrukkings om dit vir die gemeentelede te verduidelik, nl.:
·         Gebed
·         Smeking
·         Danksegging

Die oomblik dat ons agterkom dat ons, ons bekommer oor iets en ons sorgloosheid “gesteel” word, moet ons in gebed tot die Here kom en hierdie gebed behels drie dinge, nl. verering, toewyding en aanbidding.  Ons moet God se grootheid raaksien; Sy soewereiniteit; Sy almag; Sy alomteenwoordigheid; Sy majesteit.  In kort, ons moet Sy attribute (karaktereienskappe) raaksien, besing en eer.  Ons storm net té maklik God se “Troonkamer” binne en rammel net ons versoeke en probleme af, in plaas daarvan dat ons Hom eer en verheerlik en bewus raak van Wie Hy werklik is en erkenning aan Hom verleen dat Hy die enigste Een is wat ons kan help (onthou vir Dawid en Goliat!).

Nadat ons God verheerlik het sê Paulus, kan ons al die behoeftes van ons hart en ons probleme  aan Hom bekend maak.  Ons moet egter baie mooi daarop let dat Paulus nie hier sê dat God noodwendig gehoor sal gee aan al ons versoeke nie en die uitkoms van ons versoeke mag dalk ook nie altyd presies dít wees wat ons graag wil hê of gevra het nie, want ons moet steeds in gedagte hou, dat God se wil in alles moet geskied.

Laastens moet ons God dank, sê Paulus.  Hierdie is ’n faset van gebed wat ons so maklik miskyk en van vergeet.  En Paulus sluit hierdie hele saak van gebed af deur te sê dat wanneer ons só bid,  ...die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, oor (ons) harte en gedagtes die wag in Christus Jesus (sal hou).  Dan sal ons voorwaar sorgeloos wees.  Daniël is vir ons hier ’n pragtige voorbeeld.  Toe die koning opdrag gegee het dat niemand mag bid, behalwe as hulle tot hom bid nie, het Daniël na sy kamer gegaan en voor ’n oop venster gaan staan en soos gewoonlik gebid (Dan.6:-10).  Hoe het hy gebid?  In Dan.6:11 sien ons dat Hy God geprys, aanbid en gedank het.  En die gevolg van sy gebed?  Daniël is in die leeukuil gegooi, maar geen leeu het ’n poging aangewend om hom te verskeur nie – Daniël was sorgeloos en het vrede ervaar.

8.     FOKUS:
Paulus sluit hierdie gedeelte van sy brief af deur sy lesers se fokus te vestig op agt dinge waarop hulle hul gedagtes moet vestig (v.8).

Hy sê dat hulle hul gedagtes moet rig op alles wat waar is.  Dit is daardie dinge wat waar en eerlik en betroubaar en edel en reg is – dit wat respek afdwing.  Ons ganse lewe moet van die waarheid en die eerbare spreek – daardie standaarde wat voldoen aan God se standaarde.

Hy sê voorts dat hulle, hul gedagtes moet rig op dit wat rein en mooi en prysenswaardig is – dit wat bewondering en eerbied en respek afdwing.  Daardie dinge wat op “moreel hoë grond” staan – dit wat kuis en rein is.  Dit omsluit ons gedagtes, optrede en spreke in – ...dit wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is-watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees-daarop moet julle julle gedagtes rig.

9.     GEVOLGTREKKING:
Indien daar enige iets in jou lewe mag wees waaroor jy nie vrymoedigheid het om te bid nie, sal jy nooit vrede ervaar nie.  Om reg voor God te lewe sal vrede tot gevolg hê.  Jes.32:17 sê ~ Wie reg doen, sal vrede hê; wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet.  En dan sê Jesaja in 48:22 ~ Maar vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê die Here.  Dit is nié genoeg om die Bybel as basis vir gebed te gebruik en al die beloftes wat daarin staan vir jouself op te eis nie.  Indien jy nie die Woord eerstens gebruik as basis waarvolgens jy, jou lewe inrig nie, m.a.w. om die opdragte in die Woord toe te pas in en deur jou lewe, sal jy nie ontvang waarvoor jy bid nie.  Jak.4:3 is baie duidelik daaroor dat jy nie sal ontvang as jy verkeerd bid, of anders gestel, wanneer jy net jou eie selfsugtige begeertes wil bevredig.  Waaroor gaan gebed?  Gaan dit oor jou en jou probleme en begeertes, of gaan dit in die eerste en laaste plek (hoofsaaklik m.a.w.) oor God se eer?  Jakobus sê in dieselfde gedeelte (v.4), dat indien ons vriende van die wêreld is, ons vyande van God is en in 4:8 sê hy dat ons, ons moet bekeer en slegs dan, sal God na ons luister – dan sal gebeur wat Paulus in Rom.15:33 sê sal gebeur, nl. ~ God wat vrede gee, sal by julle almal wees! Amen.


Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 13 Februarie 2011